Markus 9:24 - Kom my ongeloof te hulp!
Markus 9:24 - Kom my ongeloof te hulp!
Ek glo," roep die seun se pa dadelik uit.
Help my waar ek nog ongelowig is."Markus 9:24
Lees: Markus 9:2-8 en 14–29
Wat 'n teenstrydigheid!⤒🔗
Die ou vertaling stel dit nog sterker: "Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!" Kán dit by die gelowige: geloof én ongeloof? Tegelyk?
Tog staan dit daar so. Ons geloofslewe slinger tussen geloof en ongeloof. Nie net soms 'n bietjie twyfel nie. Nee, ek glo – kom my ongeloof te hulp!
Sekerheid←⤒🔗
Die een oomblik die heerlike sekerheid, die volle oortuiging: Ek glo! Veral binne die atmosfeer van 'n erediens, binne die warme omarming van God se volk, waar die beloftes van God in oorvloed voor ons oopgevou word, waar ons kan sien hoe die Verbondsteken van die Doop en die Heilige Nagmaal bedien word. Ons word opgeneem in sulke heerlikheid. Christus word voor ons oë geskilder as die gekruisigde en verheerlikte Messias.
Ons staan as 't ware saam met die apostels op die berg van verheerliking. Elia en Moses – die Wet en die profete – spreek van Jesus. Hyself praat met ons vanaf die regterhand van God. Ons hoor die stem: Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom!
Die erediens word deurstraal met hemelse lig. Ons raak subjektief betrokke. Ons belewe hierdie ontmoeting as 'n uitlig bokant die daaglikse bestaan. Ons ervaar in die erediens iets van die verheerliking op die berg. Net maar iets. Tog wel!
Daarom voel mens soos Petrus by die aanskoue van soveel heerlikheid: Hier wil ons nie weg nie; laat ons hutte bou; laat ons dit vasgryp; laat ons die hemel vashou!
Gebrokenheid←⤒🔗
Helaas, hulle moet dadelik weer terug, terug die werklike lewe in … die gewone, nugtere lewe, sonder glans, sonder heerlikheid; waar moeite en kommer heers.
En wat vind hulle heel eerste? – mense wat twis. Skrifgeleerdes redeneer met die dissipels van die Here, en 'n skare mense staan nuuskierig rond... Wat 'n geweldige teenstelling tussen dit wat bo-op die berg gebeur het en nou onder aan die voet van die berg gebeur! Al die getwis vertoon die gebrokenheid van hierdie lewe.
Die vader met sy siek kind is beeld van veel meer as net twee mense. Dit is soos 'n skildery waarin die kommer, die pyn, die hartseer en vrees van 'n moedelose mensheid uitgebeeld word: die kind met vallende siekte, van 'n gees besete, wat hom wil doodmaak!
Sien u die kind in hierdie skildery? Vrees vir nog 'n aanval. Gespanne treë, verwilderde oë, onsekere bewegings. Hy is nie wat hy moet wees nie. Die gebroke wêreld – in een mens.
En die vader: die mens op soek na verlossing, na uitkoms. Nie net vir homself of vir die kind nie, maar vir die gesin...
Nood←⤒🔗
Help ons — want ons is álmal hierdeur geraak! In hierdie vaderfiguur sien ons die smagting en soeke van die mens na verlossing.
Jesus vra: Van wanneer af is dit so? En die antwoord gee aan hierdie skildery 'n diepte-dimensie: Van kleins af.
In die agtergrond sien u die slingerpad van hierdie gesin. Daarom is die agtergrond donker geskilder – swart en rooi. Ons sien angs en sorg. Nagte se waak by die kind. Hoop wanneer hulle hoor van iets wat kan help... teleurstelling as dit op niks uitloop nie. Skaamte oor wat in hulle huis gebeur – waarom hierdie gees in ons seun? En skrik – vir die brute geweld van die gees!
Toevlug←⤒🔗
Dan hoor hy van Jesus – en hy neem sy toevlug tot Hom. Tot Hom wat van die berg van verheerliking af kom, wat van God af kom.
Hier aan die linkerkant van die skildery verrys die berg. Sy top is reeds toe met wolke. Maar hier onder – tussen die mense – tussen hulle wat twis, tussen verbysterde dissipels by die soekende vader en die siek kind, staan Jesus. Hy vra uit na die omstandighede. Uit die mond van hierdie man wil Hy alles hoor, al weet Hy alles. Hy het juis gekom vir mense soos hierdie, of liewers: vir die mensheid wat hier afgebeeld word in sy angstige soeke na redding.
En dan hoor Hy: As U tog miskien iets daaraan kan doen, help ons... O, Here, help ons! Is dit onbekend aan u? Hoeveel keer het u dit nie al gebid nie?
Belofte←⤒🔗
Jesus kom met die evangelieboodskap: Vir die een wat glo, kan alles. Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word.
Hierdie skildery het die grootheid van ons eie ellende getoon, die nagevolge van die sonde waaraan óns niks kan doen nie. En dan hoor ons: Glo in God, glo ook in My!
Die vader neem sy toevlug tot die Here. Dit is sy enigste hoop! En daarom dadelik: Ek glo, Here. Hier stop ons gewoonlik, nie waar nie? Ek glo. Ek het belydenis van my geloof afgelê. Nou is alles reg.
Afhanklikheid←⤒🔗
Maar hierdie vader besef dadelik iets anders: Ek sal nie staande kan bly in hierdie geloof nie! Hy skrik wanneer hy sê: Ek glo. Want dit beteken alles. Jy kan berge versit! Gaan die geloof dit van hom vra?
Dit is net soos by Petrus. So lank hy Jesus onder oë het, kon hy op die water loop, maar enkele treë verder sien hy net die see en die golwe – en dan sink hy. As die klem te sterk val op die ek, in die 'Ek glo' – dan misluk dit.
Daarom eindig dit nie daar nie, maar onmiddellik: Kom my ongeloof te hulp!
Nie uit onsself nie←⤒🔗
Hierdie verskynsel kom telkens voor in die lewe van gelowiges. Dit was deel van die geskiedenis van die Kerk, en van Petrus, en van Elia, en Luther; daardie sterk en kragtige eerste fase: Ek glo! En dan: die teruggly.
O, wanneer mens jonk is, kan die belydenis van geloof so maklik kom. En wanneer mens oud is, kan dit so onnadenkend kom. Totdat ons plotseling besef: ek kan nie – ek kan nie bybly nie, ek het my mond verbygepraat. Ek het meer afgebyt as wat ek kan sluk: te vinnig bely, sonder besinning bely!
Hierdie man glo dat iets wonderliks gaan gebeur, maar hy dink ook onmiddellik aan die toekoms. Daarom: Help my waar ek nog ongelowig is! Ook my geloof is in God se hand, dit is nie uit myself nie.
Só 'n geloof aanskou hoe Jesus die verheerliking op die berg met 'n wonder bevestig: Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou: Gaan uit hom uit en moet nooit weer in hom invaar nie! Nooit weer nie. Sodat die Heilige Gees in ons kan woning maak, en ons kan help om waarlik te glo. Amen.