2 bladsye.

Lukas 5:12-16 - Ek Wil, word Gereinig

melaatsheid

Die lot van melaatses was dat hulle uitgesluit was van die gemeenskap met die Here en sy volk. Hulle moes buite die stede bly en enige kontak met mense was uitgesluit. Hulle melaatsheid was ’n teken van hulle onreinheid.

In Israel was iets rein of heilig, wanneer dit in verhouding tot die Here gestaan het. Vir die hele Skrif bestaan daar geen heilige plekke of mense of tye of voorwerpe los van hierdie band met die Here God nie. Los van die lewende band met die Here, is alles onheilig en moet dit ook so gesien en hanteer word. Niemand en niks in hierdie wêreld is heilig los van die Here nie. Dit was die vreeslike lot van die melaatses.

Dikwels dink ons dat die melaatse buite die stad moes woon en alle kontak met mense van die volk moes vermy, omdat die melaatsheid so aansteeklik sou wees. Dit is egter nie waar nie. Die band tussen mense was deurgesny as houding van respek vir die Here wat sy band met die melaatse tot niet gemaak het. Hulle kon nie naby die heilige stad, die heilige tempel, of ook nie naby heilige mense kom nie. Hoe sou dit ooit kon gebeur dat jy rein ag wat God onrein verklaar het? Jy sal tog nie eenheid opsoek met hulle van wie die Here afstand geneem het nie?! Die afstand wat met die melaatses gehandhaaf is, was dus nie omdat mense bang vir ’n besmettingsgevaar was nie. Mense het eerbied gehad vir God wat afstand geneem het van hierdie mense wat sy oordeel oor hulle wakker gemaak het.

U sal nou kan verstaan dat hier iets heel uitsonderlik gebeur wanneer ’n man “vol van melaatsheid” voor Jesus kom neerval toe hy vir Jesus sien (5:12). Hierdie man moes eintlik buite die stad gebly het en vir enigeen wat naby hom sou kom waarsku met die uitroep: “Onrein! Onrein!”. Sy klere moes geskeur wees en sy hare moes los hang – vir almal moes dit as waarskuwing dien: “Bly vêr weg!”.

Hy was vol melaatsheid – iemand wat behoorlik swaar deur God se straf getref is. Hierdie man het geen hoop gehad dat enige geneesheer hom kan gesond maak nie. Die enigste hoop vir ’n melaatse was dat die Here God self sy tugtiging tot ’n einde bring.

Hierdie man (en dit is die wonder!) kom vra nou vir só ’n genesing by Jesus. Hy smeek vir Jesus: “Here, as U wil, kan U my reinig!”. U sal nog onthou hoe die koning van Israel gereageer het toe die koning van Aram hom gevra het om sy soldaat, Naäman, se melaatsheid te genees? “Die koning van Israel het sy klere geskeur en gesê: ‘Is ek dan God … dat hierdie man na my gestuur word om sy melaatsheid weg te neem?’” (2 Kon. 5:5-7). Die man kom vra nou by Jesus nie maar ’n aalmoes of verligting van sy plaag nie. Van Jesus verwag hy reiniging! Hy vra nie maar net genesing van ’n ernstige siekte nie. By Jesus wil hy reiniging kry. By Jesus kom vra hy dat God se hand wat straf, teruggetrek sal word…

Hierdie man kom vra wat selfs geen priester kon doen nie. Volgens die voorskrifte in Levitikus kon ’n priester die melaatse wat klaar genees is ondersoek en uitspreek dat die voormalige melaatse rein gemaak is. Priesters kon alleen maar ingeskakel word as getuies van die werk wat die Here reeds in iemand se lewe gedoen het. Nou vra die melaatse vir Jesus: “Reinig my!” Dit is vir die man duidelik – Jesus kan my reinig. Die vraag is nog maar net – sal Hy ook werklik wil? “As U wil, kan U...”

Dan doen Jesus wat geen mens sou waag nie. Hy raak aan die man. Hy laat sien en hoor … Ek wil, word gereinig! In Israel kon daar net reiniging en heiliging wees vir enigiemand of enigiets wanneer dit in noue band met God self gestaan het. Daardie rol vervul Jesus nou. Hy is nie bang om met ’n melaatse in aanraking te kom nie. Hy word nie besmet met die sondes van ander nie. Hy maak wel rein wanneer Hy in aanraking kom met mense. Dit doen Jesus gewillig. Só is Hy. Hy wíl dat mense wat onder God se oordeel leef, by Hom bevryding kry. Mense word gereinig en geheilig wanneer hulle aan Jesus verbind word.