Lukas 22:31-34 - Jesus se Gebed om die Geloofsvolharding van Sy Kerk
Lukas 22:31-34 - Jesus se Gebed om die Geloofsvolharding van Sy Kerk
En die Here sê: Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk. En hy het vir Hom gesê: Here, ek is gereed om saam met U selfs in die gevangenis en in die dood te gaan. Maar Hy antwoord: Ek sê vir jou, Petrus, die haan sal vannag nie kraai voordat jy drie maal geloën het dat jy My ken nie.
Lukas 22:31-34
Met aflegging van geloofsbelydenis neem ons ons voor om deur die genade van God in die leer van die Bybel te volhard (vraag 4 – Formulier vir die aflegging van geloof). Aan sy genadetafel skenk God ons die genade om in hierdie geloof te volhard. Daar word immers ons geloof deur God self versterk. Ons het dit ook so nodig, want elke oomblik is die duiwel besig om ons geloof te ondermyn.
In ons teksgedeelte hoor ons van Satan se versoek, maar ook van Christus se gebed. In beide, in die versoek van die duiwel en in die gebed van Jesus, gaan dit om hierdie een saak: ons geloof.
Satan se Versoek⤒🔗
Die heel eerste nagmaal van die wêreldgeskiedenis is pas agter die rug. Op die pad vorentoe lê Getsémané, die gevangeneming van Jesus, sy verhoor en die kruis.
Dit is dus net nadat ons Here Jesus die nagmaal, die maaltyd van geloofsversterking, ingestel het, dat Hy hierdie ernstige woorde uitspreek: ‘Simon, Simon, kyk’. Deur Simon se naam te herhaal, wil Jesus die groot gewig van wat hy nou gaan sê, beklemtoon. Die ‘Simon, Simon’ word boonop nog gevolg deur ‘n ‘kyk’: Gee goed aandag, let wel.
Daarop volg die hoogs gewigtige uitspraak van Jesus: ‘Die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif’. Eintlik staan daar: ‘Die Satan het gevra om julle soos koring te sif’.
In daardie tyd is op hierdie manier die kaf van die koring geskei: Dit is in ‘n sif gegooi, wat kragtig heen en weer geskud is. Na die skudproses het die kaf bo gelê en is dit weggegooi.
Wat Satan vra, is dat die dissipels en ook ons in die sif van swaar versoeking gegooi mag word. Daarmee beoog die Satan hierdie een ding: Dat die kerk se geloof sal ophou. Pas was hulle by die eerste maaltyd van geloofsversterking en dan kom die duiwel met sy versoek: Versoeking van die kerk, sodat hulle geloof sal ophou.
In Matteus 3 vers 12 lees ons ook van so ‘n skeiding tussen kaf en koring. Daar is dit egter die Here Jesus wat met die skop in sy hand staan en sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand. Die koring is die gelowiges en die kaf die ongelowiges.
In ons teks is dit die Satan wat met die sif in die hand staan. Iemand het eenmaal gesê: Satan is die aap van God. Hy na-aap God. Maar met ‘n ander bedoeling. Vir Jesus gaan dit om die behoud van die koring. Die duiwel daarenteen beoog die val van die gelowige. Ook die koring moet kaf word. Ook die koring moet met onuitbluslike vuur verbrand word. Dáár wil die duiwel ons hê: nie in die skuur nie, maar in die vuur. Ons geloof moet ophou. Daarom moet ons in die sif van versoeking kom.
Die Gebed van Jesus←⤒🔗
Satan sif, maar Jesus bid. Satan is die aap van God. In ‘n sekere sin ‘bid’ hy ook, maar dit is ‘n sataniese gebed. Dit is ‘n versoek dat ons geloof sal ophou, dat hy ons geloof in die sif van versoeking mag gooi.
Daarteenoor staan die gebed van Jesus: dat jou geloof nie ophou nie. Ons moet goed luister wat Jesus bid. Hy vra nie dat ons nie versoek sal word nie. Wat Hy wel bid, is dat ons in die geloof sal staande bly, ook wanneer die Satan aan ons geloofslewe skud.
Wat is Petrus se reaksie dan op die woorde van Jesus? ‘Here, ek is gereed om saam met U selfs in die gevangenis en in die dood te gaan’. Dit is nie geloof nie. Dit is self-vertroue. Maar geloof is nie selfvertroue nie. Wat is geloof dan wel? Dit is Gods-vertroue. Dit is presies wat die nagmaalsformulier leer. As ons na die tafel toe kom, bely ons ons geloof, dan sê ons dat ons ons lewe buite onsself in Christus soek. Buite onsself — dus geen selfvertroue nie. Wel in Christus — dus Godsvertroue. Dít is wat geloof is: om met die ganse gewig van jou bestaan te steun op Jesus alleen. Omdat Petrus juis dit nie gedoen het nie, het hy in daardie selfde nag geval.
Gebedsverhoring←⤒🔗
Drie maal het Petrus geloën dat hy Jesus ken. Was dit toe die einde van Petrus se geloof? Nee, want direk na die verloëning hoor ons dat Jesus Petrus aangekyk het en ‘Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik geween’ (Lukas 22:62). Dit was trane van berou, maar trane van berou is ook geloofstrane. Egte trane treur oor ons sondes — dit het alles met geloof te make. Na Jesus se opstanding bely Petrus sy liefde vir Hom (Johannes 21) — die vrug van ‘n ware geloof. Nog later, op Pinksterdag (Handelinge 2), hoor ons die bang Petrus onverskrokke Jesus preek en dan hoor ons ook dat Petrus wel, ter wille van sy geloof, in die gevangenis gaan (Handelinge 12). Dan deins hy nie terug vir die lyding soos in die nag van die verloëning nie, maar in die geloof hou hy vol. Dan is daar nie selfvertroue nie, maar Godsvertroue.
Wat is die geheim van Petrus en die kerk se geloofsvolharding? Die biddende Jesus. Sy gevoude hande. Deur sy gebed neem Hy ons in sy almagtige hande en sy hande lê ons in die almagtige hande van sy Vader. En deur die eeue heen, dag vir dag, weerklink die Middelaarsgebed van Jesus, die gebed van Johannes 17:11: ‘(Vader) bewaar in u Naam die wat U My gegee het’.
Volhard ons in die geloof, omdat onsself so sterk is? Nee, ons is self nie so sterk nie, maar Hy is so sterk. Selfs ons gebed is nie sterk nie, maar ons Here Jesus se gebed is so sterk. Hy bly vir ons bid, ook wanneer daar dae kom dat die Satan so aan ons ruk en skud dat ons geen gebed oor ons lippe kan kry nie.
In Lukas 22 sê Jesus vir Petrus: ‘As jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk’. Jare later skryf Petrus sy eerste sendbrief aan mense wat in die sif van Satan geskud word: ‘Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof…’ (1 Petrus 5:8-9). Dan versterk Petrus inderdaad sy broeders. Dit is niks anders as vrug van die gebed van Jesus nie.
Die nagmaal mag ons sien as verhoring van Jesus se gebed dat ons geloof nie sal ophou nie. In antwoord op Jesus se gebed om geloofsvolharding van sy volk, skenk God aan ons die tafel van geloofsversterking. As ons opstaan van die tafel, sal ons eweneens die siftende hande van die Satan ontmoet. Maar daar is ook ander hande: die biddende hande van Jesus. Dit is daar om ons te dra en op te dra aan die bewarende hande van ‘God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde’.
En bid-sing dan maar met blydskap:
HEER, in u hande is my tye;
ek steun in al my leed op U alleen wat weet
die maat en einde van my lye.
Red my, o sielsverblyder,
van vyand en bestryder. Psalm 31:12, berymd