Krag krisis
Krag krisis
Krág, dit is ’n sleutelbegrip vir die mense van Afrika. Amandla is die strydkreet wat ook baie in Suid-Afrika gehoor word. Sendingkundiges wys daarop dat krag en lewenskrag vir die Afrikaan van lewensbelang is, en dat die motief om lewenskrag te beskerm, te versterk en te vergroot ten grondslag lê aan byna alle praktyke van die Afrikaner.
Daarom sit daar ’n stuk ironie in die onlangse gebeure toe die krag van Eskom skielik begin minder raak en beurtkrag ingestel moes word – in een van Afrika se voorste state.
Aardkrag⤒🔗
Nie net vir die mense van Afrika is krag belangrik nie (al het dit ’n besondere betekenis vir die Afrikaner), maar vir elke aardbewoner is dit ’n onmisbare element van die lewe. Die mensdom het gou uitgevind dat spierkrag alleen nie voldoende is nie, en daarom is stelselmatig allerhande ander kragte ontwikkel, soos dierkrag, steenkoolkrag, aardgaskrag, oliekrag, waterkrag, sonkrag en windkrag.
Met die splyting van die atoom het kernkrag op die toneel verskyn, een van die belangrikste maar tegelykertyd ook een van die gevaarlikste vorms van krag. Belangrik, omdat dit veral in ontwikkelde lande ’n groot bron van energie verskaf. En gevaarlik, nie alleen vanweë die gevare van radioaktiewe afval en hittestraling nie, maar ook omdat dit in oorlogstyd groot gevare vir die (wêreld)samelewing inhou indien kernkragsentrales aangeval en opgeblaas sou word.
Juis daarom is dit uiters belangrik dat sulke kernkragsentrales sover moontlik nie naby digbevolkte gebiede opgerig sal word nie. Dink maar net aan die tragedies by Harrisburg (VSA, 1979) en Tsjernobil (Rusland, 1986) toe hierdie sentrales “ontplof” het. Wat dit betref, is die ligging van Koeberg misplaas – indien dáár 'n ramp plaasvind, is die hele Boland geruïneer.
Breinkrag←⤒🔗
Een van die wonderlikste gawes wat die goeie Vader aan die mens gegee het, is die menslike verstand. Dink net aan wat die menslike brein al tot op hede ontdek het! Hier moet egter teen twee gevare gewaak word. Die een is oorskatting van die menslike verstand (ook rasionalisme genoem), waar die verstand die hoogste maatstaf en norm vir alles word. In hierdie geval is daar geen ruimte vir die openbaring van God nie. Wanneer die Bybelse boodskap egter deur die filter van die menslike verstand gespoel word om te sien wat die filtraat is, bly daar weinig oor wat die moeite werd is om aan vas te hou.
Die ander gevaar is onderskatting van die verstand en wel op so ’n wyse dat dit, ook by Bybellees en verklaring, op non-aktiwiteit geplaas word. Maar sowel in ons alledaagse lewe as in ons omgang met die Bybel mag en moet ons ons volle verstand gebruik, in afhanklikheid van die Here.
Wat nodig is, is ’n korrekte gebruikmaking van ons verstand – iets wat in die Bybel dikwels met “wysheid” verbind word. Wysheid is meer as slimheid. ’n Mens kry baie (intellektueel) slim mense wat soms die domste dinge doen, en jy kry “dom” mense wat baie verstandige dinge doen.
Dink maar aan die onlangse kragonderbrekings in ons land. Op watter dóm manier is beurtkrag nie aanvanklik toegepas nie! Om krag na plekke wat noodsaaklike dienste nodig het (soos hospitale) af te skakel, is ’n ongelooflike dom ding om te doen. En om nie vooruit te beplan vir voldoende krag (en water) nie, en om nie die bestaande kragsentrales (en damme) deurentyd in stand te hou nie, is net so dom. Maar elke ideologie hou altyd die gevaar in om mense dom (en blind) te maak.
Met vindingryke beplanning en verstandige optrede kan Suid-Afrika se huidige kragkrisis opgelos word as almal saamwerk en daar goed beplan word.
Wilskrag←⤒🔗
Die vraag is egter: Beskik ons oor die wilskrag om dit te doen? Mense beskik dikwels oor die nodige kennis van wat belangrik en noodsaaklik is, maar dit ontbreek hulle aan die wil om dit te doen. Mens dink hier aan die woorde van Paulus in Romeine 7 (wat natuurlik veral gefokus is op geestelike nood): “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.”
Die mens wéét (dikwels), maar hy wil nie. Hy ontdek telkens dat sy wil geknak, ja, gebreek is deur ’n mag groter as hyself – die Bybel noem dit sonde.
Keer op keer staan ’n mens self verstom vir hierdie werklikheid, in jou geloofslewe, in jou persoonlike optrede, in die kerk en in die samelewing: ek wéét wat is reg en wat is waar, maar ek dóén wat verkeerd en kwaad is. Iets moet met my gebeur om my wilskrag in dáádkrag om te sit. Die Bybel vertel ons die geheim: ons denke moet vernuwe word en Christus moet meer in ons gestalte aanneem. En dit kan net gedoen word deur die werk van die Gees van God in ons.
Nié dat ongelowige mense net dom dinge doen nie. Die Here God het ook in sy algemene goedheid aan hulle wonderlike gawes gegee. Trouens, wêreldlinge kan soms baie verstandiger as gelowiges optree, sê Jesus (Luk 16:8).
Geloofskrag←⤒🔗
Wat in die Christelike lewe onmisbaar is, is geloofskrag. Die woordjie krag neem in die Bybel ’n sentrale plek in. In die Psalms, byvoorbeeld, word God herhaaldelik besing as die bron van alle krag. In die Nuwe Testament word hierdie motief verder uitgewerk en verbind met Jesus Christus (Fil 4:13) en die Heilige Gees (Rom 15:13) wat ons krag gee.
Geloofskrag is die sterkste denkbare krag op aarde. Deur die geloof het gewone gelowiges “koninkryke verower” (Heb 11:33) – of soms ook laat val. Dink aan die kragdadige optrede van ’n man soos Moses, van ’n vrou soos Ester, van iemand soos Dawid, soos Daniël, soos Paulus. Soos Augustinus en Luther. Deur hulle optrede is die wêreldgeskiedenis verlê. “Die oorwinning wat ons oor die (sondige) wêreld behaal het, is deur ons geloof,” sê die Woord (1 Joh 5:4).
En dan is daar die unieke optrede van Jesus Christus. Sy oorwinning oor sonde en dood. Watter ontsaglike troos is dit nie om te weet dat aan die gekruisigde en opgestane Christus álle mag in hemel en op aarde gegee is nie!
Gebedskrag←⤒🔗
Geloofskrag hang direk saam met gebedskrag. Die geloofshelde in die wêreldgeskiedenis was almal groot bidders. Die Bybel is daaroor duidelik dat die gebed van ’n gelowige ’n kragtige uitwerking het – dit kan selfs ’n uitwerking op die natuurelemente uitoefen (Jak 5:16-18). Hóé weet ons nie, maar tóg, dit het God belowe.
Bid ons dalk te min oor die huidige probleme in Suid-Afrika – die misdaad, die vigs, armoede, kragkrisis? Natuurlik moet ons ook dóén, oorgaan tot die daad; maar groot dade rus altyd op vurige gebede. Dis wat die Here vandag van ons vra.