4 bladsye. Vertaal deur Nic Coetzee.

Koninkrykslewe

wolke en huis

Jesus het belowe dat die koninkryk van God met krag sal kom voordat sommige van sy hoorders sterwe (Mark. 9:1). Na Sy opstanding het Hy weer met Sy dissipels oor die koninkryk van God gepraat (Hand. 13). Op Pinksterdag het Petrus aangekondig dat Jesus aan die regterhand van God in die hemel sit, en dus God se ou belofte dat ʼn afstammeling van Dawid op die koninklike troon sou sit, vervul het (Hand. 2:30-35). Hierdie teks, net soos baie ander, druk die Nuwe Testament se eenparige getuienis uit dat God se langverwagte verlossende heerskappy begin het met die prediking, wonders, dood, opstanding, hemelvaart en hemelse troonbestyging deur Jesus Christus die Messias.

Maar die lewe in die Romeinse Ryk het aangegaan. Keisers het nog regeer, partykeer met genadelose geweld en walglike dekadensie. Christene het nog steeds siektes, tronkstraf, lyfstraf, en selfs martelaarskap verduur. Storms het steeds op die Mediterreense see gewoed, skepe het steeds gesink en lewens geëis. Hongersnood, plae, armoede, verdrukking: as God se vreedsame koninkryk waar die roofdier en prooi in vrede saamleef (Jes. 11:6-9) sou aangebreek het, het die fisiese en politieke omstandighede in die wêreld geen aanduiding daarvan gegee nie. In tweeduisend jaar het min verander. Dit lyk asof bloedbaddens in Baghdad, in Darfur, op Amerika se stedelike strate en voorstedelike kampusse die aanspraak dat die Vredevors nou oor die wêreld heers, weerspreek. Walglike skandale en verdeeldheid in die kerk werp twyfel op Sy heerskappy, selfs by dié wat Hom bely as koning.

Die Nuwe-Testamentiese skrywers dra egter die Heilige Gees se onfeilbare bevestiging oor dat Jesus se seëvierende offer en regverdige opstanding werklik God se verlossende koninkryk ingelui het. Nog meer, hulle wys hoe die koms van die koninkryk ʼn verskil maak in die lewens van nog steeds sondige en steeds lydende gelowiges vandag.

Die kern van Jesus se Openbaring aan Johannes bevat twee visioene wat die beslissende draaipunt in die kosmiese konflik van al die eeue uitbeeld (Openb. 12). Johannes sien eers dat die vrou se Seun deur die Draak gedreig word maar die Seun word weggeruk na God se troon toe om al die nasies te regeer (Openb. 12:5), en daardeur word Psalm 2 vervul. Daarna sien Johannes ʼn oorlog in die hemel, maar die Draak is verslaan en uit die hemel gegooi; en Johannes hoor die betekenis van daardie oorwinning: “Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde! Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel gegooi ... Hulle het self die oorwinning behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het” (Openb. 12:10-11). Die koms van God se koninkryk deur die dood en verhoging van Christus het vir Satan, ons aanklaer,  die hemelse hof gesluit. Sy aanklagte teen ons is ten volle beantwoord deur die lyding en geregtigheid van Jesus, ons advokaat.

hamer hof

Omdat Jesus die priester-koning is wat aan God se regterhand regeer (Heb. 8:1; 10:12-14), maak sy tussentrede vanuit die troon alle aanklagte wat ons gewetes pla, dood (Rom. 8:33-34). Om in koninkryk te lewe beteken om te rus in die volmaakte geregtigheid van Jesus, die koning: “Wanneer Satan my tot wanhoop verlei en my wys op die skuld in my, kyk ek opwaarts en sien Hom wat ʼn einde aan al my sondes gemaak het” (Charitie Lees Bancroft, “Before the throne of God above,” 1863).

Maar al is dit bemoedigend om te weet dat Jesus, ons koning, op die troon in die hemel sit, en daardeur ons regverdiging bevestig deur sy bloed en geregtigheid, kan ons tog wonder of sy inwyding van die koninkryk van God enige verskil maak aan ons huidige stryd teen sonde op aarde. Die Bybel se antwoord is ʼn dawerende ja!

God “het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy lief het” (Kol. 1:13, beklemtoning bygesit). Ons oorplasing na die ryk waar Jesus heers het werklik invloed op ons daaglikse strewe na heiligheid. Wanneer die Heilige Gees ons tot geloof bring, en ons verenig met Christus in Sy dood en opstanding, breek Hy sonde se dodelike, titaniese greep op ons harte en stel Hy ons vry om te lewe as blye en dankbare onderdane van die Koning van konings.

Natuurlik beteken hierdie bevrydende uittog nie die einde van Satan se pogings om ons weer in sy mag te kry nie. Versoeking bestaan steeds, en gelowiges struikel dikwels en gee toe aan Satan se aanslae op ons geloof en trou. Maar ons is nie meer sy hulpelose onderdane, gekneg aan die magte van die duisternis nie. Omdat sonde nie meer oor ons heers nie, moet ons nie toelaat dat sonde heerskappy oor ons sterflike liggame voer nie (Rom. 6:12-14).

Omdat ons saam met Christus, ons verteenwoordiger, op sy koninklike troon in die hemel sit (Ef. 2:6; Kol. 3:1-4), kan ons deur die krag van Sy Heilige Gees die aardse gewoontes van ons hart doodmaak (Kol. 3:5-9), en in plek daarvan onsself beklee met die heerlike eienskappe van ons koning: “meelewendheid, goedgesindheid, nederigheid, sagmoedigheid, verdraagsaamheid” (Kol. 3:12). Die eienskappe wat God se koninkryk onderskei van die domein van duisternis – “gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde wat die Heilige Gees ons gee” (Rom. 14:17) – is nie gereserveer vir die toekoms nie. Dit moet nou reeds die kenmerke van Christene se lewens en verhoudings wees.

Net so duidelik as wat die Nuwe Testament is dat Christus se bediening, dood en opstanding die inwyding was van God se koninkryk, is die nadruk ook dat slegs Sy tweede koms dit sal volvoer. Ons het die koninkryk gesien en daar ingegaan deur ons geboorte van bo deur die Gees (Joh. 3:3-5). Maar God roep gelowiges steeds op om Sy komende koninkryk binne te gaan (2 Tim. 4:1, 18; 2 Pet. 1:11). Die koninkryk wat ons huidige stryd teen sonde rig en stukrag gee, is ook ons toekomstige erfenis (1 Kor. 6:9–1015:50Gal. 5:21Ef. 5:5Jak. 2:5).

testament

Christus se apostels waarsku ons duidelik dat lyde volop is op die pad wat koningskinders na ons finale erfenis van die koninkryk lei. Toe Paulus en Barnabas op hul spore teruggeloop het na die nuwe kerke in Klein-Asië, het hulle nie hierdie ontnugterende werklikheid vir die nuwe bekeerdes weggesteek nie, maar “hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om getrou te bly in die geloof: ‘ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom’  het hulle gesê” (Hand. 14:22). As die gesalfde Koning self deur lyding in die heerlikheid van Sy messiaanse heerskappy moes ingaan (Luk. 24:26; 1 Pet. 1:11), hoe kan dit anders wees vir ons wat deur God se genade deel in hierdie koninklike erfenis? Trouens, om vir Jesus te ly is ʼn kenmerk van die erfgename aan wie die Vader die koninkryk van die hemel belowe (Mat. 5:10; sien ook 2 Tes. 1:5). Om ʼn deel te hê aan beproewings loop hand-aan-hand met deel hê aan die koninkryk (Openb. 1:9).

Met die koms van Christus die koning, het God se koninkryk gekom en dit het diepgaande implikasies op ons aanbidding as die nuwe verbondsvolk van God. Enersyds is ons ook, soos Israel in die woestyn, op pad na die koninklike erfenis, op pad na die stad wat kom (Heb. 13:14), die nuwe Jerusalem wat in sy geheel net tempel sal wees (Openb. 22:1-5). Aan die ander kant het ons, as pelgrims in die woestyn reeds “gekom by die Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem” en sy vreugdevolle aanbiddende vergadering (Heb. 12:22-24, beklemtoning bygevoeg), en ontvang ons “ ʼn onwankelbare koninkryk” (Heb. 12:28).

Omdat ons verlos is om as ʼn koninkryk en priesters gevorm te word vir ons God (Openb. 1:6; Eks. 19:6), is ons weeklikse geloofsbyeenkoms op die eerste dag – nou gewy as “die dag van die Here”  deur Sy opstanding – in werklikheid  ʼn koninklike oudiënsie. Deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees vergader ons voor die troon van ons seëvierende koning om Sy heerlikheid te loof, Sy oorwinning te vier, en uit sy hand die oorlogsbuit te ontvang: dienaars met Geestesgawes – apostels, profete, evangeliste, herders en leraars – deur wie Christus elke lid van sy liggaam toerus (Ef. 4:8-16). Elke aanbiddingsdiens is ʼn teken dat Jesus nou regeer in soewereine genade en sal terugkeer in glorieryke glans.

Selfs na Jesus se dood en opstanding het Sy dissipels steeds die herstel van Israel tot ʼn koninklike heerskappy verwag (Hand. 1:6); maar die Koning het vir hulle gewys dat hulle op te min hoop, Hy het hul oë opgehef om die uitgestrektheid van Sy koninkryk te sien “tot in die uithoeke van die aarde” (Hand. 1:8, verwysend na Jes. 49:5-6; sien ook Hand. 13: 47). Van toe af is hul verkondiging van die koms van die koninkryk onlosmaakbaar verbind met Jesus en wat Hy vermag het met Sy dood en opstanding (Hand. 8:1219:820:2528:2331). 

Johannes se visioen van priesters wat losgekoop is “uit elke stam en taal en volk en nasie (Openb. 5:9-10) herinner ons dat die eerste aardse bewys van Jesus se hemelse troonbestyging die aankondiging was van die “groot dinge wat God gedoen het” ... "in die tale van elke nasie onder die son” (Hand.2:5-11). Hierdie uitbarsting van internasionale evangelisasie was die werk van Jesus die Messias, nou op die troon aan God se regterhand, “Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor” (Hand. 2:33). Die kroning van hierdie koning het ʼn wêreldwye uitbreiding van die grense van Christus se verlossings-domein aan die gang gesit, om al die nasies van die aarde in te sluit.

Omdat die koninkryk onder die uitstraling van die koning se opofferende genade gekom het, kan ons dus sy opdrag wyd verkondig: “Kom na My toe dat julle gered kan word, almal op die aarde!” (Jes. 45:22), met vreugdevolle vertroue dat Sy Gees mense van alle soorte roep om berou te hê en deur die koninklike Woord te glo. Aangesien die koninkryk nog nie in die finale openbaring van die koning se regverdige toorn gekom het nie, moet ons hierdie opdrag uitdra na alle mense, naby en ver, met ʼn vreugdevolle dringendheid soos dit koninklike ambassadeurs betaam.