Kaethe von Bora: Steunpilaar in die Reformasie
Kaethe von Bora: Steunpilaar in die Reformasie
Inleiding⤒🔗
Stel jou voor dat jy, ʼn jong getroude swanger vrou, besig is om vleis te koop by die slaghuis. Daar is nog meer vroue wat hulle beurt afwag. Jy raak bewus daarvan dat daar agter jou rug gefluister en vingers na jou gewys word. En dan, duidelik hoorbaar: “O, dié baba wat gaan kom, sal ʼn monster of ʼn duiwel wees; sal verseker met twee koppe gebore word…” Onvoorstelbaar! Maar as jy in die Middeleeue geleef het en jou naam was Katharina von Bora, ʼn gewese non, en jy was getroud met Maarten Luther, ʼn gewese monnik, kon jy maar reken op sulke bygelowige en haatlike onsin. Ai, dit het baie seergemaak. Die jong vrou skraap haar moed bymekaar en stap vinnig verby die vroue huis toe. Dit is die jaar 1526. Toe Maarten en Kaethe in die huwelik getree het, was Luther al ʼn beroemde en omstrede man in Europa. Die 95 stellings is reeds in 1517 gepubliseer. Luther se verdediging op die Ryksdag van Worms lê al ses jaar agter die rug. Behalwe die smaad wat op Maarten en Kaethe gelê word weens hul huwelik, leef by Kaethe ook steeds die vraag: het Maarten my regtig lief? Hy het sterk beklemtoon dat hy oor verstandsredes met haar getrou het. Maar die liefde sou groei… deur voorspoed en teëspoed! Kaethe sou uiteindelik die “Koningin van die Reformasie” genoem word as gevolg van die geweldige rol wat sy in Wittenberg en in Luther se lewe gespeel het.
Jeug←⤒🔗
Kaethe is op 5-jarige leeftyd deur haar pa in ʼn klooster gesit nadat haar ma oorlede is en haar stiefmoeder haar verwerp het. Sy is uit ʼn ou adellike geslag gebore. Dit was bitter moeilik vir haar om daar haar voetjies te vind. Voorheen was sy ʼn buitekind, lief vir alles wat daar op die plaas geleef en gebeur het. Nou moet sy stadig loop en nie huppel nie! In die kloosterskool leer sy lees en skryf met behulp van houtletters. Sy is intelligent en leergierig.
Die klooster is soos ʼn selfonderhoudende klein stadjie. Kaethe stel belang in al die bedrywighede: boerdery, bierbrouery, visteelt, kruieversameling vir medisinale doeleindes. Aanvanklik moet sy eenvoudige skoonmaakwerk doen. Altyd met ʼn geboë hoof deur die gange “skry”. Op koue teëls haar gebede doen en streng vastye handhaaf. Soos sy ouer word, hoor sy dat daar gruwelike strawwe is vir misstappe. Op 16-jarige leeftyd lê sy die kloostergelofte af. Haar hare word afgesny.
Intussen kry sy ʼn deeglike opvoeding. Sy moet ontelbare lesings bywoon, manuskripte vervaardig, borduur, in die koor sing. Daar is 40 kloostersusters, almal van adellike afkoms. Kaethe se belangstelling in kruie en geneeskunde word opgemerk. Sy mag help om plante te versamel en verdiep haar in die geneeskunde. In die kloosterapteek met al sy potte en mengsels voel sy tuis. Sy word dan ook “siekemoeder” van die klooster.
ʼn Nuwe geluid←⤒🔗
Die lewe buite die klooster het intussen baie verander. Nuus oor Maarten Luther dring die klooster binne deur geheime boekies en briefies. Dit laat Kaethe nie ongeroerd nie. Wanneer sy met nonnevriendinne buite kruie versamel, kan hulle ʼn bietjie gedagtes wissel. Ook in die nag besoek die nonne mekaar onder groot geheimhouding. Hulle hoor dat Luther die Bybel in Duits vertaal. Kaethe lees sy publikasie “Oor die Vryheid van ʼn Christen”. Dit raak haar diep, dié nuwe verlossende manier van dink. Die verlange groei by nege van die meisies om die klooster te verlaat.
Op ʼn nag vlug hulle deur die kloostertuin. ʼn Perdewa vol haringvate staan gereed om hulle op te laai. Hulle moet tussen die vate wegkruip. Die eerste stopplek is Torgau, (suid-oos van Wittenberg), waar ʼn hele paar van die nonne aan familielede toegewys word. Kaethe reis verder op die wa tot in Wittenberg. Onder al die mense wat hulle daar inwag, is ook Luther self. Kaethe is dadelik onder die indruk van sy persoon: vriendelik, kragtig, met ʼn oop en moedige gesig. Die bruin oë is diepliggend, lewendig en stralend.
Wittenberg←⤒🔗
In die weelderige huis van Lucas Cranach, bekende skilder, apteker en wynhandelaar, word die nonne hartlik ontvang. Barbara, Lucas se vrou, voorsien hulle van gepaste klere. Hulle sit aan by ʼn feesmaal. Luther is daar, asook Melanchton, ds Bugenhagen, Spalatin. Na die ete word by luitspel gesing en Luther doen die dankgebed. Kaethe is oorstelp. Uit die drukkery van Cranach ontvang sy ʼn kopie van die Nuwe Testament in Duits.
Voorlopig word sy in ʼn eenvoudige gesin “geplaas” waar sy gewoond raak aan die lewe in Wittenberg. Sy werk in die tuintjie, gaan graag mark toe en help oral waar sy kan met haar kruiemedisyne. Sy help ook by bevallings. Sy kom nog gereeld by die Cranachs aan huis. Barbara word haar vriendin. Deur die gesprekke tussen Luther se strydmakkers ter wille van die suiwere Evangelie wat sy rondom die tafel hoor, kom sy goed op hoogte van die hele situasie in Europa. Haar hart staan wawyd oop vir die ryke eenvoud van God se Woord.
Hier ontmoet sy Hieronymus Baumgartner, ʼn vermoënde man uit Neurnberg wat in Wittenberg gestudeer het en bekend is met al die geloofsgenote. Hulle raak verlief op mekaar. Hieronymus maak beloftes en vertrek kort daarna tydelik na Neurnberg. Hy is ontrou aan haar. Kaethe wag vir maande en maande, maar hoor niks meer van hom nie. Dit is vir haar ʼn bittere teleurstelling. Sy werk nou in Cranach se apteek en kry steeds groter verantwoordelikhede, wat sy met graagte aanvaar.
Huwelik←⤒🔗
Kaethe is nog steeds nie aan iemand “toegewys” nie. Von Amsdorf, Luther se boesemvriend, probeer bemiddel dat sy met ʼn sekere predikant, dr Glatz, sal trou. Kaethe ken hom goed. Maar sy weier beslis. Sy hou nie van dr Glatz nie. Op Von Amsdorf se vraag of daar enigiemand in Wittenberg is met wie sy sou wou trou, antwoord sy openhartig en direk: “Ja, twee! Hulle is albei belangrike persone”. “En wie is dié twee dan?” vra Von Amsdorf. “U of doktor Luther”, is die antwoord. Dit laat Von Amsdorf skater van die lag. Hy sien haar trots raak en bewonder haar daarvoor. Von Amsdorf het egter besluit om ongetroud te bly. Von Amsdorf vertel dit aan Luther. Hy dink ook sy is trots en ʼn bietjie koppig. Hy hou Kaethe nou fyn dop. Kaethe wag in spanning.
Toe die huweliksaansoek kom, is Luther saaklik, eerlik en nederig. Sy moet besef hy is steeds in doodsgevaar. Om in die huwelik te tree, is vir hom ʼn openbare daad. In die situasie waarin hy staan, sal daar baie teëstand wees. Hy is 42 jaar oud en sy 26, albei afkomstig uit ʼn klooster. Luther sê dat hy respek vir haar het. Hy hoop ook dat hy haar altyd sal eer en haar in haar waarde sal laat. Bowendien dring sy pa aan dat hy in die huwelik tree. Hy vra dat sy daaroor moet nadink. Sy sê egter dadelik dat sy dit goedvind. Sy weet dat hy eerlik is en sal doen wat hy sê. Haar hart word warm en vol toegeneentheid. Sou sy in staat wees om vir hierdie man, met sy geweldige werkkrag, te sorg, liggaamlik en geestelik? Ter wille van die Evangelie val roem en smaad hom te beurt vanuit die hele Europa. Met Gods hulp steier hy nie. Kaethe bid dat God haar die krag sal gee. Luther maak haas met die saak. Weens lasterpraat wil hy almal voor ʼn voldonge feit stel. Hulle trou in beslote kring op 13 Junie 1525. Twee weke later is daar ʼn bruilof waarheen Luther sy familie en vriende uit wetenskaplike, politieke en kerklike kring uitnooi. Hy wil dit nou publiek bekendmaak dat hy en Kaethe in die heilige huwelikstaat verbind is. Van heinde en ver kom die gaste om die kerkdiens by te woon, die feesmaal te geniet en die openbare begeleiding van die jong bruid na haar huis mee te maak. Daar is baie blomme en musiek. Die gaste oorlaai hulle met geskenke. Die keurvors, die universiteit, die stad Wittenberg en die vriende skenk huisraad, kosbaarhede, ʼn toesegging van wyn vir twee jaar se gebruik… Die bruidspaar het dit bitter nodig. Luther het maar ʼn karige inkomste. Hy wil geen honorarium vir sy lesings by die universiteit of enige geld vir enige van sy publikasies ontvang nie. Sy mening is dat die Here die Evangelie gratis aan hom geskenk het. Hy wil dit ook gratis uitdeel.
Afgesien van die nabye omgewing, kom daar van heinde en ver kritiek en smaad op hierdie huwelik. Hendrik VIII van Engeland, Erasmus, die pous en selfs Melanchton keur dit openlik af.
Die Swart Klooster, hulle woning←⤒🔗
Luther woon in die sogenaamde “Swart Klooster” in Wittenberg. Op dié stadium ʼn verwaarloosde plek naby die stadspoort en die Elbe-rivier. Daar staan ʼn drieverdiepinggebou waarin die monnike gewoon het. Dan is daar die gewese prior se woning, en dis waar Luther tot nog toe met twee metgeselle onderdak gevind het. Die plek is vol stof en spinnerakke. Daar is geen meubels nie, in die kombuis is daar net die allernodigste. Luther-hulle slaap op strooisakke. Met ʼn wenteltrap op bereik ʼn mens ʼn toringkamer waar Luther skryf, studeer, vertaal en lesings voorberei. Kaethe kan nou met vernuf die kloosterwoning inrig. Vriende van Luther wat met die toestand van die woning op hoogte is, stuur nog in oorvloed wat nodig is. Met die hulp van Lucas Cranach, wat ʼn plattegrond van die kloostererf het, beplan sy stalle vir vee, ʼn bierbrouery, badhuis en slaapvertrekke vir studente en leerlinge in die drieverdiepinggebou. Verder lê sy ʼn groente- en kruietuin aan en plant vrugtebome. Kaethe is gelukkig, van kleins af wou sy graag ʼn groot huishouding hê.
Sy pak haar taak met toewyding aan. Luther word met liefde versorg. Sy moet haar draaie ken om by te bly met wat alles in die klooster gebeur. Maar sy is bekwaam; het ʼn skerp verstand. Sy leer haar man ken: aan die een kant onverskrokke, maar aan die ander kant kinderlik afhanklik van God. Vrolikheid, sang en luitspel moet plek maak vir depressiewe periodes waar die duiwel en sy trawante vir hom te veel word. Duiseligheid, gal- of nierstene, ja, selfs hartprobleme, kniehalter hom dikwels. Kaethe is altyd gereed met haar kruiemengsels, warm lappe, lekkernye en raad. Sy haal Bybeltekste aan om hom op te beur. Hoe duidelik sien sy dat hy haar nodig het. Luther vertel haar dat hy haar sorg waardeer en kry haar innig lief.
Die werk in die toringkamer is nimmereindigend. Traktate, briewe, kommentare moet geskryf word. Die Ou Testament word uit Hebreeus vertaal. Besoekers is aan die orde van die dag. Luther ontvang koninklikes, edeles, gesantskappe, studente wat hom dringend moet spreek. Koeriers bring daagliks posstukke en moet dadelik weer ander saamvat. Kaethe sorg steeds vir goeie maaltye vir die gaste. Haar selfgebroude bier word geprys. Aan tafel word daar gesprekke gevoer. Luther se mening word gevra oor alle moontlike sake. Sy antwoorde is gewoonlik direk, kleurryk, lewendig. Hy neem ook nie altyd ʼn blad voor sy mond as dit oor teëstanders gaan nie.
Die deur staan altyd oop vir enigiemand wat onderdak soek. Dikwels is die klooster boordevol, veral op Luther se aanbeveling. Kaethe staan soggens om vieruur op. Soms is daar 120 mense om voor kos te maak. Kaethe moet goed toesien dat die bediendes dit presies voorberei soos sy dit wil hê.
Kinderseën←⤒🔗
In Junie 1526 word Johannes (na Johannes die Doper vernoem) gebore. Welgeskape seun. Hans bring vir Luther en Kaethe ongekende blydskap. Luther vind dat die Here hom deur hierdie kindjie baie wysheid leer. Kaethe geniet die moederskap intens. Haar eie tante Lene wat ook die klooster verlaat het, kom woon by hulle in en help met die versorging van Hans en die latere kinders. Elisabeth (vernoem na Johannes die Doper se moeder), die tweede baba, sterf jonk as gevolg van swak gesondheid. In 1529 word daar weer ʼn dogter gebore, Magdalena. Luther stap graag met die kleintjie in sy arms rond en sing met sy diep baritonstem allerhande liedjies wat hy self uitdink. Soos wat die kinders groter word, kry hulle privaat onderwys. Die gesin kom elke dag saam om Bybel te lees, te bid en te sing. Later word daar nog twee seuns en ʼn dogter gebore: Maarten, Paul(us) en Margaretha. By die doop word daar vir elke kind ʼn hele paar peetouers aangewys, gewoonlik van hoë aansien en edeles. Die kinders ontvang geskenke en silwer doopbekers.
Die tye is swaar. In Duitsland heers daar een en al onrus. Eers was dit die Duitse boere-opstande. Die Wederdopers sorg vir groot verwarring en baie van hulle word om die lewe gebring. In vele gevalle word die oorsaak van dié toestande aan Luther toegewys. Die Turke dreig vanuit die Ooste. Luther moet dikwels op reis na Ryksdae of om versoeningsgesprekke te voer. Dit is vir hom lewensgevaarlik. Die Here is sy “vaste burg” en hy word bewaar. Onder al hierdie omstandighede kan hy geweldig depressief raak, en hom grof en hard uitdruk oor die vyande. Hy ly ook enorme pyn. Hy bid dat hy mag sterwe. Om hom weer perspektief te gee, het Kaethe haarself op ʼn dag in swart rouklere geklee. Toe Luther haar so sien, vra hy: “Wie is dood?” “God is dood”, was Kaethe se antwoord. Luther sien toe sy kleingeloof raak en durf die lewe tog weer aan.
Die pes in Wittenberg←⤒🔗
In 1527 word Wittenberg deur ʼn pesepidemie getref. Die keurvors vra dat die professore van die Universiteit van Wittenberg tydelik na Jena verskuif. Luther weier egter. Hy wil in Wittenberg bly en sy skape nie in die steek laat nie. Die keurvors en meerdere Protestantse leiers vra hom persoonlik om die stad te verlaat, omdat hy ter wille van die Reformasie nie gemis kan word nie. Hy het egter gebly.
Die simptome van pes is groot septiese bulte wat in die okselholtes verskyn. Saam met Lucas Cranach berei Kaethe kruiemengsels wat hulle met asyn en water meng. Dié vloeistof moet in elke vertrek waar ʼn pasiënt lê, aan die kook gehou word. Die hande moet ook gereeld met asynwater gewas word. Die Swart Klooster word oorvol met siekes. Luther is aktief en besoek siekes in hul huise. Sommige Wittenbergers het gevlug en hulle siek naasbestaandes aan hul lot oorgelaat. Daar was groot nood in die stad. Baie mense sterf, ook plaasdiere. Kaethe is gedurig op die been met haar medisyne, skoon linne en salf. Deur God se hulp en genade was die Swart Klooster ongedeerd toe die pes na ʼn paar maande van Wittenberg gewyk het. Wittenberg is gedurende die Luthers se lewe nog drie maal deur die pes getref.
Die finansies bly maar knyp. Die studente betaal nie altyd so gereeld hul kosgeld nie. Terwyl hulle skuld het, sal Luther vir ʼn bedelaar wat aan die deur klop, ʼn silwerbeker uit hulle huis gee om die man te help. Dit het Kaethe ontstel. Sy raas dan met Luther, maar hy het altyd ʼn vrolike antwoord. En ja, daar is inderdaad baie keer weer uitkoms. Die koning van Denemarke voorsien hulle gereeld van botter en heuning. Soms stuur hy vleis, vis, vrugte of geld. Die keurvors is ook vrygewig. Kaethe het haar oog op ʼn stukkie grond buite Wittenberg waar sy kan plant en saai en vis teel. Haar wens word ook vervul. Dit het in heelwat behoeftes voorsien.
In 1542 sterf Magdalena op 13-jarige leeftyd aan ʼn onbekende siekte. Dit was ʼn baie groot slag vir die hele gesin.
Luther se dood en Katie se weduweeskap←⤒🔗
Luther se gesondheid het agteruitgegaan. Tog verhoed dit hom nie om die stryd voort te sit nie. Keiser Karel V maak oorlog teen die Protestante. Kaethe vind Luther baie somber en hy praat dikwels oor die dood. Hy gaan weer op reis om in Mansfeld twee Grawe met mekaar te versoen. Kaethe is wanhopig. Die feit dat Luther sy oudste twee seuns, wat alreeds steunpilare is, saamvat, gee haar effense gemoedsrus. Sy kry gereeld briewe van hom. Hy spreek haar altyd aan met speelse titels soos: My liewe Herr Kaethe, Frau Doktorin Katherin Lutherin. Dit neem egter nie haar sorg weg nie. Sy doen alles wat sy kan om hom te help, stuur medisyne en raad saam met die koeriers. Wanneer sy haar man aan die Here opdra, word sy rustig. Op die terugpad van hierdie reis sterf Luther in Eisleben (18 Februarie 1546), waarskynlik aan ʼn hartaanval. Sy liggaam word met groot eerbewys in ʼn loodkis na Wittenberg teruggebring. Haar seuns kan haar presies vertel hoe alles gebeur het. Dit beteken vir Kaethe baie. Luther word in die slotkerk begrawe. Kaethe word nie gevrywaar van dreigemente dat vyande Luther se liggaam nie met rus sal laat nie. Hulle sal hom uit sy graf haal en sy liggaam verbrand. God het dit egter verhoed.
Kaethe se weduweeskap was nie geheel en al sorgeloos nie. Daar was probleme met die testament. Luther wou nie juriste betrek by die opstelling van sy testament nie en het dit deur sy vriende laat onderteken. Die testament is ongeldig verklaar. Kaethe moes ʼn bittere stryd voer om haar eiendomme te behou. Die kanselier wou ook haar kinders aan voogde toeken, wat op die ou end nie gerealiseer het nie.
Sy moes meermale uit Wittenberg vlug vanweë die godsdiensoorloë en het tot drie keer toe weer teruggekom om die Swart Klooster geplunder te vind. Op een van haar vlugtelingreise probeer sy die koning van Denemarke bereik, maar sy moes onverrigter sake omdraai. Elke keer probeer sy met God se hulp weer ʼn begin maak. Met die vierde pesepidemie wat Wittenberg getref het, het sy nie meer krag nie en vlug vir die laaste keer met die kinders op ʼn perdewa na die suide. Die perde het op pad onrustig geraak oor iets. Kaethe het van die wa afgespring om hulle te probeer kalmeer. Sy het baie sleg geval en in ʼn riviertjie beland. ʼn Boer het haar te hulp gesnel en haar uit die water getrek. Die kinders het haar met komberse toegemaak en weer op die wa gekry. Haar inwendige beserings was baie ernstig. Daar was vriende in die nabyheid in die dorpie Torgau, die Grünewalds. ʼn Dokter is haastig ontbied. Die beserings was van so ʼn aard dat hy nie veel kon doen nie. Die Grünewalds het Kaethe vir ʼn paar maande liefderyk versorg. Haar kragte het gaandeweg verswak.
Kaethe het nou tyd gehad om oor haar lewe na te dink. Baie ure word bestee aan Bybellees. Psalm 139 is vir haar besonder versterkend. Tydens haar lewe het daar baie golwe oor haar heengegaan, maar God het haar altyd gehelp. Sy mog ʼn hulp wees vir haar man. Hoe het God hom nie gebruik om reformasie in die versteende Rooms-Katolieke kerk te bring nie! Sy dink terug aan die tyd in die klooster. Hoe sy deur Luther se geskrifte mog leer dat die regverdige deur die geloof alleen sal lewe. Daar was baie stryd nodig om hierdie waarheid neerslag te laat vind. Haar man was onverskrokke. Met God se hulp mog sy hom in dié stryd ondersteun.
Toe die sterwensuur aanbreek, was Kaethe se kinders om haar bed. Die laaste woorde wat sy duidelik gesê het, was: “Ek wil aan Christus vasklou soos wat ʼn grassaad aan ʼn jas vassit”.
God is ʼn toevlug in die nood,
ʼn rots wat altyd vas bly staan,
al dreig die vyand met die dood,
al storm sy leërbendes aan.
Laat dan maar buig en beef
al wat ons hier omgeef;
laat berge uit hul stee
wegwankel in die see –
ons sal nie beef of rugwaarts gaan.
Gebruikte literatuur:←⤒🔗
- Het laatste Geheim, deur Ursula Sachau. Houten, Den Hertog, 2000. (Uit Duits vertaal).
- Katie van Bora, de vrouw van Luther, deur Charles Ludwig. Leiden, Groen en Zoon, 1990. (Uit Engels vertaal).