Jou Belydenisaflegging en sy Implikasies
Jou Belydenisaflegging en sy Implikasies
Wanneer lê jy belydenis af? So ’n vraag kan heel verskillende antwoorde uitlok soos:
- “Ek lê belydenis af as ek agttien is.”
- “Ek dink dat ek daarmee wag tot ek Nagmaal durf gebruik.”
- “Ek sal eers belydenis aflê as ek dit eens is met wat die kerk leer.”
- “Ek wil graag belydenis aflê voor ek uit die skool gaan.”
- “Ek wil dit liefs saam met my vriende aflê.”
- “Ek lê my belydenis af as ek seker is van my geloof.”
Daar is dus baie verskillende redes wat ’n rol speel. Ek herken hier in elk geval die volgende elemente:
- Belydenis aflê beteken ’n keuse vir God oor jou toekoms.
- Dit hou ’n sterk sosiale element in.
- Jy moet daarvan seker wees.
- Dit het met die viering van die Nagmaal te doen.
- Dit hou in dat jy met die leer van die kerk instem (dit sluit dus ook ’n kerkkeuse in).
Sonder om dit uitvoerig te bespreek, lyk dit almal na belangrike redes.
Die antwoord van die kerk⤒🔗
Wanneer besluit die kerk dat jy gereed is om belydenis af te lê? Jy sou kon sê dat die kerk in die belydenisformulier die antwoord gee. As jy belydenis aflê, gee jy antwoord op vyf vrae. Die derde een is die kern. “Glo en bely jy dat die leer wat in die Ou en Nuwe Testament vervat en in die drie Formuliere van Eenheid van die Gereformeerde kerk uitgedruk is en in die Christelike kerk alhier geleer word, die waaragtige en volkome leer van die saligheid is?”
Soos gesê is daar nog twee vrae oor God se belofte, oor lewenswandel en oor tug. Maar die temas pas ook volledig onder dit wat die eerste vraag aansny. Die derde vraag is dan ook die fundamentele vraag. Hoe fundamenteel die kerk die vraag beskou, blyk wel hieruit, dat die vraag weer terugkom as jy ’n kind laat doop en as ampsdraers bevestig word. Dit is wel ’n ander situasie, maar daar is ’n duidelike verband!
As jy na die derde vraag kyk, dan val die klem op die leer. Daar word gevra na die leer van die Skrif en na die leer van die kerk. Ek konstateer dat die kerk aan haar jong lidmate sê: “Jy lê belydenis af wanneer jy instem met die leer van die kerk as die skriftuurlike leer.”
←⤒🔗
Wat beteken instemming?←⤒🔗
Die vraag is nou wat dit beteken as jy instem met die leer van die kerk. Self is ek op katkisasie met ’n baie streng opvatting oor dié punt opgevoed. In feite gaan ons daarvan uit dat dit beteken dat jy die Drie Formuliere van Eenheid onderskryf as jy belydenis aflê. In die tyd wat ek belydenis afgelê het (1967) was dit ook ’n algemene beskouing.
Hierdie beskouing het ’n hele paar aspekte. Allereers word die mondigheid van die kerklidmate hier uiters ernstig beskou. Daar word nie sommer van uit gegaan dat jy glo wat die kerk glo nie. Jy is as belydende Christen self aanspreekbaar vir die inhoud van die belydenis.
Daarnaas is hierdie beskouing baie duidelik. Jy mag die belydende lede hou aan die belydenis van die kerk. Die geloofseenheid kry daardeur ’n sterk sprekende inkleding. Hierdie beskouing het ongetwyfeld baie bygedra tot die karakter van die Gereformeerde kerke as ware belydeniskerke. Myns insiens is dit nie te veel gesê nie. Die belydenis van die kerk het ’n heel wesenlike, sentrale funksie vir die identiteit van ons kerke.
Natuurlik het hierdie siening baie gevolge vir die kategese. Dit beteken onder meer dat jy op katkisasie ook al drie die Formuliere van Eenheid grondig moet deurwerk (dus ook die Dordtse Leerreëls). Anders kan jy moeilik eerlik “ja” sê op die derde vraag. En verder stel so ’n uitgangspunt heelwat eise aan die leerproses op katkisasie. Daar moet geleer word!
Saamgevat het hierdie beskouing ’n duidelike uitgangspunt. Dit kan baie vir die karakter van ’n ware belydeniskerk beteken. Dit skep duidelikheid binne die kerk en dit stel baie hoë eise aan die kategese. Tog is daar in die praktyk heelwat besware teen hierdie siening. Ek noem ’n paar hieronder:
Reëling van die kategese←⤒🔗
Soos gesê stel hierdie beskouing hoë eise aan die kategese. Van ouds het ons gereformeerdes altyd gesê dat dit ’n gesamentlike taak van gesin, kerk en skool is. Maar die drie sal dan ook onderling optimaal moet saamwerk as jy hierdie standpunt waar kan maak. Ek dink nie dat die huidige situasie optimaal daaraan voldoen nie. Dit kan al aangetoon word uit die behandelde leerstof.
In 1985 is in Nederland ’n kongres gehou, wat ten doel gehad het om te besin oor die onderlinge verhouding tussen kategese, onderwys en jeugwerk. Op die kongres was baie die mening toegedaan dat die kategese veral moes konsentreer op die kategismus. Daarnaas sou die NGB en die Dordtse Leerreëls meer in die godsdiensonderwys ter sprake kon kom. Die kongres was egter nie korrek nie. Maar daar is natuurlik dikwels in die rigting gewerk. Die kategismusmetode “Ek glo” het gekonsentreer op die kategismus (maar het wel gereeld elemente uit die ander belydenisskrifte daarby betrek). Vir die godsdiensonderwys het ds C. Bijl ’n leerboek oor die NGB (Leren geloven) geskryf. En op een skoolgemeenskap het hulle selfs ’n werkboekie by die Dordtse Leerreëls gebruik.
Maar van ’n ware toepassing is in die praktyk weinig sprake. Die gevolg is dat baie belydeniskatkisante nog met heelwat blindekolle in hulle kursus rondloop. Na die geloofsbelydenis word vanuit die kerk nie meer opbouend aan die tekort gewerk nie.
Didaktiek←⤒🔗
Nou kan gevra word of laasgenoemde wel so nuttig of effektief is. Wie op katkisasie al drie belydenisskrifte wil deurwerk, sal dit feitlik net kan klaarkry deur dit vanaf die teks te doen. Dit is natuurlik die klassieke manier van katkiseer. Jy werk die teks deur met die leerlinge en al verklarende gee jy van daaruit onderrig. Maar tereg het daar teen dié didaktiek veel besware ingekom.
Daar is nog ’n ander didaktiese beswaar. Wie werklik die tekste van die Formuliere van Eenheid wil deurwerk en daarin ook die doel van die kategese soek, sal baie hoë eise aan die kennis en insig van die katkisante moet stel. Daar word nogal konklusies in die belydenisskrifte getrek wat om ’n behoorlike insig vra. As die katkisant min of meer in staat wil wees om ’n verantwoordelike “ja” daarop uit te spreek, dan sal die kategeet nouliks verder kan kom as om aan die kennis en insig te werk. Maar uit die didaktiek het ons nou juis geleer dat daar ook ’n doel is met die vorming en ontwikkeling van gesindheid. En ons stem tog saam dat ons dit nie by die kategese mag verwaarloos nie? Dit is juis noodsaaklik om die kinders te help ook om daarvolgens te lewe. Daar kom nog ’n ander element by. As ons na die katkisante kyk, is daar ook heelwat kinders van wie dit eenvoudig te veel gevra is om waarlik bekend te wees met die belydenisskrifte. Dit lê eenvoudig nie in hul vermoë nie. En tog glo ons, dat hulle ook ’n volwaardige plek in die gemeente moet inneem.
Kortom: ook didakties gesien kan ons dit nie waarmaak dat die kategese lei na die onderskrywing van die drie Formuliere van Eenheid nie.
Die belydenis jou eie maak←⤒🔗
Ek wil vanuit die kerklike praktyk nog ’n ander beswaar noem. Dit kom nogal voor dat mense na hul geloofsbelydenis plotseling voor ingrypende vrae te staan kom, waarvoor hulle nie antwoorde het nie.
Dit het onder andere met die leeftyd waarop belydenis gedoen word, te make. Vir baie is dit rondom 18 jaar. En dikwels vind die geloofsbelydenis aan die einde van die skooltyd plaas. Dit beteken dat baie jongmense kort na (of vlak voor) hulle geloofsbelydenis uit die huis uit gaan. Die vertroude omgewing van skool en huis val weg. Daarmee val soms ook ’n belangrike gedeelte van die geloofsomgewing weg.
In die tyd kom jy dikwels voor allerlei nuwe dinge te staan. Jou studie konfronteer jou met kritiese vrae en twyfel maar ook wanneer jy as werkende jongmens jou plek in die samelewing soek, kan die ontmoeting met ongeloof en teenstand soms baie direk wees. Daar kan ’n bedreiging van uitgaan, maar ook ’n baie aantreklike uitnodiging. Beide kan jou in ’n krisis bring.
In sulke situasies kan daar vrae opkom wat dieper reik as waar jy tydens jou katkisasieperiode aan gedink het. Vrae wat ook die kerkleer raak.
Maar juis in dié situasies ervaar kritiese jongmense dit nog dat die ampsdraers hulle aanspreek op grond van hulle belydenis. “Jy het tog belydenis afgelê?” As jou ouderling of dominee dit sê, is dit natuurlik waar. En ons mag mekaar daaroor aanspreek. Maar dit blyk dikwels dat elkeen iets anders daarby voorgestel het. Vir baie jongmense is dit dikwels ’n ontnugtering.
Hulle het hul geloofsbelydenis glad nie beleef as ’n definitiewe “ja” op die belydenis van die kerk nie. Maar sommige ampsdraers gaan daarvan uit (soms stilswyend), dat jy tog werklik die belydenis van die kerk onderskryf het en dat jy daarmee moet saamstem. Geloofsbelydenis is immers die afsluiting van die kategese.
In die praktyk blyk dit dus dat daar ook na jou geloofsbelydenis dikwels nog ruimte nodig is om jou die belydenis “eie te maak”. Jy is nog nie gereed om die drie Formuliere waarlik van harte en bewus te onderskryf nie.
Geloofsbelydenis is geen afronding nie←⤒🔗
Vanuit hierdie probleme kom ek tot die gevolgtrekking dat ons dit nie meer waarmaak dat die openbare geloofsbelydenis ’n volmondige onderskrywing van die drie Formuliere van Eenheid beteken nie. Nou dink ek, die meeste mense het in die praktyk al lankal tot dié gevolgtrekking gekom. Menige ouderling sê ook met soveel woorde aan die katkisant wat belydenis wil doen: “Dink maar goed daaraan dat jy nie hiermee klaar is nie. Nee dit begin slegs.” Dit is ’n wyse woord by die geloofsbelydenis. Jou geloofsbelydenis is nie ’n diploma aan ’n volleerde gelowige nie.
En tog is dit vreemd dat ons in die praktyk die geloofsbelydenis beskou as ’n afsluiting. Eerstens word die kategese afgesluit (met ’n soort eksamen). Menige belydeniskatkisant bevestig dat hy vervolgens in ’n diep gat val as die werklike onderwys wegval. Maar buitendien gaan elkeen daarvan uit dat jy as belydende lidmaat voor die keuse wat jy gemaak het, staan en kan staan. Kennelik is dit nodig dat die kerk, met soveel woorde, duidelik sê: geloofsbelydenis is nie ’n afronding nie. Maar dan moet ons daaruit verdere gevolgtrekkinge maak.
Belydenis aflê in ’n leerlingsituasie←⤒🔗
Geloofsbelydenis aflê is geen diploma aan ’n volleerde gelowige nie. Maar dan moet ons ook erken dat ons belydenis aflê in ’n leerlingsituasie. Dit het gevolge vir jou instemming met die leer van die kerk. Die katkisasie is in dié opsig slegs ’n eerste kennismaking met die leer van die kerk. Openbare geloofsbelydenis wil dan sê dat die kategismus daarop vertrou dat die kerk se leer in ooreenstemming met die Bybel is.
Hierdie siening is nie nuut nie. In feite is dit deur alle eeue reëlmatig in verband met die kerklike kategese verdedig. Hierdeur word die kategese van ’n groot las verlos. Jy hoef nie die volledige leer van die kerk op daardie stadium al te deurgrond nie. Dit is ’n grondige kennismaking met die hoofsake. Die keersy daarvan is wel dat hierdie siening nogal heelwat verpligtinge skep. ’n Ware belydeniskerk moet ook volgens die openbare geloofsbelydenis waarborge bied vir ’n hartlike instemming met die leer van die kerk. As jy belydenis aflê, spreek jy jou vertroue uit dat die leer van die kerk in ooreenstemming is met die Bybel. Maar dié vertroue moet natuurlik nog bevestig word. Dit vra in die eerste plek om voortgesette kategese. En uiteraard speel die kategismusprediking hier ook ’n rol.