Hierdie hoofstuk bespreek gesag in die kerk, onder andere die posisie van konsilies, benienaars, herders en leeraars, asook die gesag van die Skrif en leiding van die Heilige Gees in kerklike regering. Misbruike wat in die Roomse kerk wortel geskiet het, word ontbloot.

1984. 16 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 4 Hoofstuk 9 Konsilies en hulle gesag

1. Inleiding en omlyning van die ware gesag van kerklike vergaderings.🔗

Gestel nou dat ek hulle alles oor hulle opvattings oor die kerk sou toegee, dan sal hulle nogtans selfs nie eens soveel in wat hulle hulle voorgeneem het, vordering maak nie. Hulle dra immers alles wat oor die kerk gesê word, dadelik op konsilies oor omdat konsilies na hulle mening die kerk verteenwoordig.1 Ja, die feit dat hulle so hardnekkig oor die mag van die kerk stry, doen hulle met geen ander doel as om alles wat hulle met geweld van ons afdwing, aan die Roomse pous en sy trawante te gee nie. Voordat ek egter begin om hierdie vraag te behandel, is hier twee aspekte waaroor ek eers kortliks vooraf moet praat.

Die rede dat ek hier hardvogtiger sal wees, is nie toe te skryf daaraan dat ek die konsilies van ouds van geringer waarde skat as wat dit hoort nie. Ek eerbiedig hulle trouens van harte en ek wens dat hulle onder almal die eer moet hê wat hulle toekom,2 maar daar is 'n bepaalde perk hieraan, naamlik dat Christus hierin nie tekort gedoen moet word nie. Verder is dit Christus se reg om die Voorsitter van alle kerklike vergaderings te wees en geen mens in hierdie waardigheid te laat deel nie. Ek verklaar egter dat Hy eers Voorsitter is wanneer die hele vergadering deur sy Woord en Gees regeer word.

Ten tweede, dat ek aan die konsilies minder (mag) verleen as wat my teenstanders van my vereis, doen ek nie om hierdie rede dat ek dan iets van die konsilies se kant af sou vrees asof konsilies hulle saak sou steun maar ons saak inderdaad sou teenstaan nie. Ons is trouens deur die Woord van die Here voldoende toegerus om ons leer ten volle te bewys en die hele pousdom te vernietig sodat daarbenewens niks verder meer nodig sal wees nie. So voorsien die konsilies van ouds ons grootliks voldoende van bewyse vir albei as omstandighede dit sou vereis.

2. Ware en valse konsilies.🔗

Laat ons nou oor die onderwerp self praat. As ons uit die Skrif vra watter gesag konsilies het, is daar nie 'n duideliker belofte as in die volgende uitspraak van Christus nie: "Waar twee of drie in my Naam vergader is, daar is Ek in hulle midde''.3 Dit het inderdaad eweveel betrekking op enige besondere vergadering as op 'n algemene konsilie. En tog is die kern van die vraagstuk nie hierin geleë nie maar in die voorwaarde wat bygevoeg is, naamlik dat Christus eers dan in die midde van 'n kerklike vergadering sal wees as dit in sy Naam vergader. Al sou ons teenstanders daarom 'n duisend konsilies van biskoppe opnoem, sal hulle weinig vordering maak om ons te laat glo in hulle bewering dat dit deur die Heilige Gees regeer word voordat hulle nie bewys het dat dit in Christus se Naam vergader is nie. Goddelose en onregskape biskoppe kan trouens net so wel teen Christus saamsweer as wat goeie en regskape biskoppe in sy Naam byeen kan kom. Veelvuldige beslissings wat uit sulke konsilies voortgespruit het, is vir ons duidelike bewys hiervan. Maar dit sal later duidelik word.4

Nou is my antwoord kortweg dat Christus geen belofte maak nie behalwe aan diegene wat in sy Naam vergader is. Laat ons derhalwe beskryf wat dit beteken. Ek ontken dat mense in Christus se Naam vergader is wat God se gebod verwerp waarvolgens Hy gebied dat niks by sy Woord gevoeg of daarvan weggeneem mag word nie,5 en wat na eie goeddunke enige besluit neem wat hulle wil. Dit is mense wat nie met die Godsprake van die Skrif tevrede is nie, terwyl dit die enigste rigsnoer van die volmaakte wysheid is, en wat uit hulle kop enigiets nuuts uitdink. Aangesien Christus in elk geval nie beloof het dat Hy by elke konsilie aanwesig sal wees nie, maar daaraan 'n besondere teken verleen het waarvolgens Hy ware en wettige konsilies van ander onderskei het, betaam dit ons om hierdie onderskeid hoegenaamd nie te versmaai nie. Die verbond wat God eertyds met die Levitiese priesters gemaak het, is dat hulle uit sy mond moes onderwys.6 Hy het dit ook altyd van die profete vereis en ons sien dat hierdie wet ook die apostels opgelê was. Diegene wat hierdie verbond skend, ag God nie die eer van 'n priester of enige gesag waardig nie. Laat ons teenstanders nou vir my hierdie probleem oplos as hulle my geloof sonder die Woord van God aan besluite van mense wil verpand.

3. Voorbeelde uit die Ou Testament ter weerlegging van die opvatting dat die waarheid slegs in die kerk bly as daar eenstemmigheid onder bedienaars is en die kerk sigbaar word in die kerklike vergaderings.🔗

Verre sy dit daarvan dat hulle mening dat die waarheid nie in die kerk bly nie tensy daar eenstemmigheid onder die herders is en dat die kerk self nie bestaan nie tensy dit in algemene konsilies sigbaar is,7 altyd die waarheid was - dit is, as die profete waaragtige getuienis oor hulle eie tye vir ons nagelaat het!

In Jesaja se tyd was die kerk in Jerusalem toe God dit nog nie verlaat het nie. Van die herders (van hierdie kerk) praat hy inderdaad soos volg: "Al die wagters van die kerk is blind, en hulle weet niks nie, hulle is almal stom honde en kan nie blaf nie. Hulle lê en droom en is lief vir slaap. Hulle is herders wat niks weet en niks verstaan nie en hulle almal sien net om na hulle eie belange.''8 Hosea sê in dieselfde trant: "Efraim is 'n verspieder teen God, 'n net van die voëlvanger, vyandskap in die huis van God''.9 Wanneer hy die priesters spottend met God verbind, leer hy dat die voorwendsel van hulle priesterskap sinloos is. Die kerk het ook bly voortduur in die tyd van Jeremia. Laat ons dus hoor wat hy van die herders daarvan sê: "Van die profeet tot die priester pleeg elkeen bedrog".10 Net so: "Die profete profeteer bedrog in my Naam want Ek het hulle nie gestuur nie en Ek het hulle nie beveel nie".11 Maar om nou nie te langdradig te, wees in die aanhaling van sy woorde nie, lees maar wat hy in die hele drie en twintigste12 en veertigste13 hoofstukke geskryf het. Destyds was Esegiël nie sagter in sy woede teenoor hulle nie. Hy sê: '''n Sameswering van die profete is in die midde daarvan soos 'n brullende leeu wat sy prooi gryp. Die priesters daarvan het my wet geskend en my heiligdom verontreinig; hulle het geen onderskeid gemaak tussen dit wat heilig en onheilig is nie,"14 en dergelike uitsprake wat hy in dieselfde sin byvoeg. Soortgelyke klagtes kom oral in die profete voor sodat niks meer dikwels daar voorkom nie.15

4. Voorbeelde van afvalligheid van herders en leraars in die Nuwe Testament.🔗

"Maar", sal iemand opmerk, "dit het miskien onder die Jode gegeld. Ons tyd is egter sonder so 'n groot euwel." Was dit tog maar die geval! Die Heilige Gees het trouens verkondig dat dit anders sal wees. Petrus se woorde is immers duidelik wanneer hy sê: "Soos daar valse profete onder die volk van ouds was, so sal daar onder julle ook valse leraars wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer.''16 Sien jy dat hy nie verkondig dat die gevaar van die kant van die gewone kerkvolk af ons bedreig nie maar van diegene wat met die titel van leraars en herders te koop loop? Hoe dikwels is daarbenewens nie deur Christus en sy dissipels voorspel dat die grootste gevaar die kerk van die kant van die herders daarvan bedreig nie?17 Ja, Paulus het oop en bloot aangetoon dat die Antichris nie elders as in God se kerk sal sit nie.18 Daarmee gee hy te kenne dat daardie vreeslike ramp waarvan hy daar praat, nie elders vandaan sal kom as van diegene wat as herders in die kerk sal sit nie. En elders toon hy aan dat die begin van so 'n groot ramp reeds naby is. Want wanneer hy met die biskoppe19 van Efese praat, sê hy: "Ek weet dat daar na my vertrek roofsugtige wolwe onder hulle sal inkom wat die kudde nie sal spaar nie. Uit julle self sal daar mense wees wat verkeerde dinge spreek om die dissipels agter hulle aan te trek.''20 Hoe 'n groot bedorwenheid kon so 'n lang reeks jare dan nie onder herders teweeggebring het terwyl hulle in so 'n kort tydjie so kon ontaard nie? Maar om te voorkom dat ek baie bladsye sou volmaak deur dit op te noem: ons word deur voorbeelde van amper alle tydperke vermaan, nog dat die waarheid altyd in die boesem van die herders gekoester word, nog dat die behoud van die kerk van herders se status afhanklik is. Hulle moes inderdaad voorstanders en bewakers van die kerk se vrede en welvaart gewees het. Dit is egter een ding om te betaal wat jy verskuldig is, maar 'n ander ding om verskuldig te wees wat jy nie kan betaal nie.

5. 'n Vermaning om onderskeiding aan die dag te lê in die beoordeling van herders.🔗

Niemand moet nogtans my woorde hierbo in so 'n sin opneem asof ek die gesag van herders oral en ondeurdag en sonder onderskeid wou verswak nie. Ek rig slegs die vermaning dat ons tussen hulle onderskeid moet maak om te voorkom dat ons dadelik dink dat diegene wat herders genoem word, dit inderdaad ook is. Maar die pous met sy hele trop biskoppe het gehoorsaamheid aan die Woord van God van hulle afgeskud en draai en keer alles na hartelus om op grond van geen ander rede as net omdat hulle herders genoem word nie. Intussen span hulle hulle in om ons te oorreed dat hulle nie deur die lig van die waarheid in die steek gelaat kan word nie; dat die Gees van God altyd in hulle is, en dat die kerk in hulle bestaan en met hulle uitsterf. Net asof die Here nou inderdaad nie meer oordele het om die wêreld vandag met dieselfde soort strawwe te straf as waarmee Hy Hom eertyds op die ondankbaarheid van sy volk van ouds gewreek het nie! Dit was naamlik om die herders met blindheid en stomheid te slaan.21 Hierdie uiters stompsinnige mense verstaan ook nie dat hulle dieselfde liedjie sing as wat mense eertyds gesing het toe hulle teen die Woord van God oorlog gemaak het nie. Die vyande van Jeremia het hulle trouens soos volg teen die waarheid bewapen: "Kom, laat ons planne teen Jeremia beraam want die wet sal nie van die priester vergaan nie, nòg raad van die wyse, nòg die woord van die profeer."22

6. Weerlegging uit die Ou Testament van die tweede opvatting, naamlik dat algemene konsilies die kerk verteenwoordig.🔗

Na aanleiding hiervan is dit maklik om op die tweede stelling oor algemene konsilies te antwoord. Dat die Jode die ware kerk onder die profete gehad het, kan nie ontken word nie. Maar as 'n algemene konsilie destyds uit die priesters byeengebring is, watter indruk sou die kerk toe geskep het? Ons hoor wat God nie een of twee van hulle aansê nie, maar wat Hy die hele priesterorde gebied: "Die priesters sal verslae wees en die profete sal verskrik wees."23 Net so: "Die wet sal van die priesters vergaan en raad van die oudstes."24 Net so: "Julle sal nag hê in plaas van 'n gesig, duisternis in plaas van profesie, en die son sal oor die profete ondergaan en die dag sal vir hulle donker word,''25 ensovoorts. Kom nou, gestel almal diesulkes was destyds in een konsilie byeengebring, watter gees sou dan in hulle byeenkoms regeer het? Ons het 'n treffende voorbeeld hiervan in die vergadering wat Agab byeengeroep het.26 Daar was vierhonderd profete aanwesig. Omdat hulle egter geen ander bedoeling gehad het as, om die koning te vlei nie, word die Satan deur die Here gestuur om 'n leuenagtige gees in hulle almal se mond te wees. Volgens hulle almal se stemming word die waarheid daar veroordeel; Miga word as 'n ketter verdoem, geslaan en in die tronk gegooi.27 So het dit met Jeremia,28 en so ook met die ander profete gebeur.29

7. Weerlegging van hierdie opvatting uit die Nuwe Testament.🔗

Maar laat net een voorbeeld wat meer gedenkwaardig as die ander is, vir almal voldoende wees. Wat kon jy in die raad wat die priesters en die Fariseërs in Jerusalem teen Christus versamel het,30 vereis sover dit die uiterlike gestalte daarvan aangaan? As die kerk immers destyds nie in Jerusalem was nie, sou Christus nooit aan die offerandes en ander seremonies daar deelgeneem het nie. Daar vind 'n plegtige oproep plaas, die hoëpriester was voorsitter; die hele priesterorde het hulle plekke ingeneem. Nogtans word Christus daar verdoem en sy leer verwerp.31 Hierdie daad is 'n bewys daarvan dat die kerk glad nie in daardie raad aanwesig was nie.

"Maar", (sê iemand), "daar is geen gevaar dat so iets met ons kan gebeur nie." Wie het ons daarvan verseker? Want om in so 'n belangrike saak te onbesorgd te wees, beteken om skuldig te wees aan agtelosigheid. Ja, wanneer die Gees deur Paulus se mond in duidelike woorde profeteer dat afvalligheid sal kom32 - iets wat nie kan gebeur sonder dat herders God eers verlaat nie -, waarom is ons hier moedswillig tot ons eie verderf blind? Daarom moet ons geensins toegee dat die kerk in 'n vergadering van herders bestaan nie omdat die Here nêrens aanvaar het dat hulle altyd goed sal wees nie, maar verklaar het dat hulle soms sleg sal wees. Wanneer Hy ons egter op die gevaar wys, doen Hy dit om ons versigtiger te maak.

8. Konsilies moet egter nie reëlreg verdoem word nie maar wel aanvaar word in soverre dit nie met die Woord in stryd is nie.🔗

"Hoe dan nou?" sal jy vra, "sal konsilies dan geen gesag hê om besluite te neem nie?" Ja, inderdaad; ek redeneer hier trouens nie dat ons alle konsilies moet verdoem of almal se handelinge tot niet moet maak en, soos die uitdrukking lui, 'n streep deur hulle moet trek nie. "Maar," sal jy opmerk, "jy maak alle konsilies ondergeskik sodat dit in enigiemand se midde gelaat word om besluite wat konsilies geneem het, te aanvaar of te verwerp." Hoegenaamd nie; maar so dikwels 'n besluit van die een of ander konsilie die lig sien, sou ek graag wou hê dat eers deeglike oorweging geskenk word aan die tyd waarop, om watter rede, en met watter doel die konsilie plaasgevind het en watter soort mense daar aanwesig was. Ten tweede sou ek graag wou hê dat die besluit waaroor gehandel word, nou keurig aan die Skrif getoets moet word - en dit op so 'n manier dat die besluit van die konsilie sy eie gewig moet dra en as't ware 'n voorwaardelike oordeel moet wees sonder om die ondersoek waarvan ek gepraat het, te belemmer. Het almal tog maar by die maat gehou waarvan Augustinus in sy derde boek teen Maximinus skryf. Want toe hierdie ketter oor die besluite van die sinodes gestry het, en hy sy mond kort en klaar wou snoer, het hy gesê: "Ek behoort jou nie die sinode van Nicea teen te werp en jy my ook nie die sinode van Ariminum asof jy die saak vooraf beoordeel nie. Ek word nie deur die gesag van laasgenoemde (Ariminum) en jy nie deur die gesag van eersgenoemde gebind nie. Laat onderwerp vir onderwerp, saak vir saak, en rede vir rede die geskil aan die hand van die gesaghebbende uitsprake van die Skrifte besleg - nie die wat ons standpunte elkeen steun nie, maar wat albei ons standpunte gemeenskaplik het".33

So sou dit geskied dat konsilies die majesteit wat daaraan verskuldig is, het en tog sou die Skrif intussen 'n hoër plek inneem, sodat daar niks sou wees wat nie aan die rigsnoer daarvan onderwerp sou wees nie. Ons omhels met graagte die sinodes van ouds soos die van Nicéa, Konstantinopel, die eerste sinode van Efese, Chalcedon34 en dergelikes wat belê is om dwalings te weerlê, en ons eerbiedig dit as heilige vergaderings so ver dit leerstellings van die geloof aangaan. Hulle bevat immers niks anders as 'n suiwer en egte vertolking van die Skrif wat die heilige vaders met geestelike wysheid aangewend het om die vyande van die godsdiens wat destyds na vore getree het, te verbrysel nie. Ook in sommige daaropvolgende sinodes sien ons ware ywer vir godsvrug skitter, en daarbenewens ook duidelike tekens van verstand, geleerdheid en wysheid. Maar soos dit gewoonlik gaan, het die toedrag van sake oor die algemeen versleg en na aanleiding van baie onlangse konsilies kan ons merk hoeveel die kerk kort-kort van die suiwerheid van daardie goue tydperk afgewyk het. Ek twyfel nie dat konsilies ook in die bedorwer tye goeie biskoppe gehad het nie, maar met hulle het gebeur waaroor senatore self gekla het dat dit nie in die Romeinse senaatsvergaderings reg toegaan nie. Want wanneer menings bloot getel en nie oorweeg word nie,35 moes die beter groep noodwendig baie dikwels deur die meerderheid oorweldig word. Hulle het beslis baie goddelose opvattings die lig laat sien. Maar dit is nie nodig om hier voorbeelde daarvan bymekaar te maak nie, omdat dit of te lank sou neem, of omdat ander dit met so 'n groot deeglikheid gedoen het dat ons weinig daaraan kan toevoeg.36

9. Teenstrydige konsilies moet aan die maatstaf van die Woord getoets word om vas te stel watter een aanvaar kan word.🔗

Waarom moet ek voorts konsilies opnoem wat met mekaar bots? En daar is geen rede waarom iemand teen my moet mor dat een van die twee botsende konsilies nie wettig is nie.37 Na aanleiding waarvan sal ons dit immers beoordeel? As ek my nie misgis nie, slegs maar op grond daarvan dat ons uit die Skrif sal oordeel dat een van hulle se besluite nie regsinnig is nie. Dit is immers die enigste seker wet om konsilies te onderskei. Daar het nou alreeds amper negehonderd jaar verloop sedert die sinode van Konstantinopel wat onder keiser Leo byeengeroep is, besluit het dat beelde wat in tempels geplaas is, omgegooi en stukkend gebreek moes word.38 'n Bietjie later het die konsilie van Nicéa wat Irene byeengeroep het uit haat teen die voorgaande konsilie, besluit dat beelde in ere herstel moes word.39 Watter een van die twee besluite sal ons dan as wettig erken? Laasgenoemde besluit wat plek vir beelde in tempels ingeruim het, het oor die algemeen die oorhand gekry. Maar Augustinus verklaar dat so iets nie kan gebeur sonder die wesentlikste gevaar van afgodery nie.40 Epiphanius wat vroeër as hy geleef het, praat nog baie heftiger daaroor. Hy leer trouens dat dit sonde en 'n gruwel is dat beelde in kerke van Christene te sien is.41 As diegene wat so praat vandag nog geleef het, sou hulle daardie konsilie goedgekeur het? Maar as geskiedkundiges die waarheid praat,42 en as die handelinge van die konsilie geloofwaardig is,43 is nie net die beelde self nie, maar ook hulle verering daar aanvaar. Dit is duidelik dat so 'n besluit uit die duiwel gekom het. Maar wat daarvan dat hulle deur die hele Skrif te onteer en te verskeur bewys dat dit vir hulle tot 'n bespotting was? Maar dit het ek reeds tevore voldoende verduldelik.44 Hoe dit ook al sy, ons sal nie op 'n ander manier tussen teenstrydige en botsende konsilies - en daar was baie daarvan - onderskeid kan maak nie tensy ons alles in daardie weegskaal van alle mense en engele waarvan ek gepraat het, dit is aan die Woord van God toets. So aanvaar ons die konsilie van Chalcedon maar verwerp die tweede konsilie van Efese omdat Eutyches se goddeloosheid hierin bekragtig is terwyl die eerste konsilie dit verdoem het.45 Heiliges het so 'n onderwerp slegs aan die hand van die Skrif beoordeel en ons volg hulle in hulle oordeel so dat God se Woord wat sy lig vir hulle laat skyn het, nou ook vir ons sy lig laat skyn.

Laat die Roomsgesindes gerus nou maar begaan en hulle na gewoonte daarop beroem dat die Heilige Gees aan hulle konsilies geheg en gebind is.

10. Gebreke wat in wettige konsilies voorkom, kan aan vier redes toegeskryf word.🔗

Daar kom egter ook in daardie konsilies van ouds wat suiwerder was, dinge voor wat jy tereg sou kon weglaat. Dit kan daaraan toegeskryf word dat manne wat andersins geleerd, verstandig en daar aanwesig was, se aandag deur drukkende besigheid afgetrek is en hulle baie ander dinge nie raakgesien het nie, of omdat sommige besluite van geringer belang hulle aandag ontgaan het terwyl hulle deur gewigtiger en ernstiger sake in beslag geneem is, of doodeenvoudig net omdat hulle as mense deur onervarendheid om die bos gelei kon word, of omdat hulle vanweë uitermatige emosie halsoorkop meegevoer is. 'n Pragtige voorbeeld van laasgenoemde wat op die oog af die ergste van almal lyk, kom in die sinode van Nicéa voor hoewel die aansien daarvan eenstemmig met die hoogste eerbied soos dit verdien het, aangeneem is. Toe die belangrikste artikel van ons geloofsbelydenis immers daar in gevaar verkeer het en die vyand Arius, met wie hulle handgemeen moes raak, gereed vir die stryd daar teenwoordig was, was dit inderdaad van die grootste belang dat daar eensgesindheid onder diegene moes wees wat voorberei gekom het om Arius se dwaling aan te val. Hulle was nietemin onbesorg oor sulke groot gevare - ja, dit is asof hulle alle erns, beskeidenheid en beskaafdheid vergeet het, asof hulle die stryd wat voor hande was, gewonne gegee het, en asof hulle doelbewus daarheen gekom het om aan Arius guns te bewys, het hulle begin om mekaar met onderlinge twiste uitmekaar te skeur en om die pen wat hulle teen Arius moes rig, teen hulleself te rig. Afstootlike aanklagte kon daar gehoor word; klagskrifte het heen en weer gevlie. En daar sou geen einde aan hulle struwelinge gekom het totdat hulle mekaar met wedersydse wonde deurboor het as dit nie was dat keiser Konstantyn vir hulle in die bres getree en verklaar het dat 'n ondersoek na hulle lewe buite sy veld van kennis is, en hy sulke gebrek aan selfbeheersing met lotbetuiging eerder as met teregwysing bestraf het nie.46

Hoe waarskynlik is dit dan nie dat ook ander konsilies wat daarna gevolg het, nie ook in vele opsigte gestruikel het nie? Hierdie onderwerp het ook nie 'n lang betoog nodig nie. As iemand trouens die handelinge van die konsilies deurlees, sal hy baie swakhede daarin opmerk om nou nie eens van erger dinge te praat nie.

11. Die Heilige Gees het konsilies so bestier dat daarin nogtans iets menslikes aanwesig was.🔗

Ook pous Leo Romanus aarsel nie om die sinode van Chalcedon wat hy erken in leerstellige aangeleenthede regsinnig was, van eersugtigheid en ondeurdagte onbesonnenheid aan te kla nie nie. Hy ontken weliswaar nie dat dit 'n wettige vergadering is nie maar hy verklaar oop en bloot dat die vergadering kon gedwaal het.47

Miskien sou ek vir iemand dwaas lyk omdat ek so swoeg om dwalings van hierdie aard aan te wys terwyl ons teenstanders erken dat konsilies wel kan dwaal in sake wat nie vir ons saligheid noodsaaklik is nie.48  Maar hierdie inspanning is nie oorbodig nie. Hoewel hulle dit weliswaar onder druk met hulle woorde erken, eis hulle nogtans meer van ons as wat hulle hulle aanvanklik toegeëien het toe hulle sonder onderskeid in enige saak die besluit van alle konsilies as 'n Godspraak van die Heilige Gees aan ons opgedring het. Waarvoor span hulle hulle in deur so op te tree anders as (om die toegewing te verkry) dat konsilies nie kan dwaal nie, of, as hulle nog dwaal, dat dit ons nogtans nie geoorloof is om die waarheid te soek of nie met hulle dwalings in te stem nie?

My bedoeling is slegs dat daaruit afgelei kan word dat die Heilige Gees sinodes wat andersins vroom en heilig was, so regeer het dat Hy intussen toegelaat het dat daarmee iets mensliks gebeur sodat ons ons vertroue nie te veel in mense moet stel nie. Dit is 'n veel beter opvatting as dié van Gregorius van Nazianze, naamlik dat hy nog nooit 'n goeie doel vir 'n konsilie gesien het nie.49 Iemand wat immers beweer dat alle onsilies sonder uitsondering sleg verloop het, laat nie veel gesag vir hulle oor nie. Nou is dit nie meer nodig om provinsiale sinodes in besonder te vermeld nie want na aanleiding van algemene sinodes is dit maklik om te oordeel hoeveel gesag hulle behoort te hê om geloofsartikels op te stel en enige soort leer na goeddunke te aanvaar.

12. 'n Weerlegging van die pousgesindes se opvatting dat opsieners van die kerk ten spyte van dwalings gehoorsaam moet word.🔗

Maar wanneer ons Roomsgesindes merk dat al die hulp van hulle rede in die verdediging van hulle saak kwyn, wend hulle hulle tot die laaste jammerlike uitvlug dat, selfs al sou hulle (herders) in verstand en insig onnosel wees, en in gemoed en wil uiters goddeloos, die Woord van die Here nogtans bly wat ons gebied om owerstes te gehoorsaam.50 Is dit inderdaad so? Wat daarvan as ek sou ontken dat diegene wat so is, opsieners is? Hulle behoort hulleself immers nie meer toe te eien as wat Josua wat 'n profeet van die Here en uitnemende herder was, gehad het nie. Laat ons egter hoor met watter woorde hy deur die Here in sy amp bevestig word. Hy sê: "Laat die Boek van wet nie van jou mond wyk nie maar oordink dit dag en nag. Jv moet nie na regs of na links daarvan afwyk nie, dan sal jy jou pad reguit hou en dit verstaan".51 Ons geestelike leiers sal dus diegene wees wat nie rond en bont van die wet van die Here afwyk nie. Maar as ons die leer van enige herder sonder enige huiwering moet aanvaar, wat is dan die doel daarvan dat ons so dikwels en so sorgvuldig deur die stem van die Here vermaan word om nie na die woorde van die valse profete te luister nie? Deur sy profeet Jeremia sê Hy: "Moenie na die woorde van die profete wat vir julle profeteer luister nie want hulle leer julle ydelheid en nie uit die mond van die Here nie".52 Net so: "Pasop vir die valse profete wat in skaapklere na julle kom maar binne-in roofsugtige wolwe is".53 Johannes sou ons ook sonder rede aangespoor het om die geeste op die proef te stel of hulle uit God is.54 Selfs nie eens die engele word van hierdie beoordeling vrygestel nie nog minder die Satan met sy leuens.55 Wat beteken die volgende uitspraak dan: "As een blinde 'n ander blinde lei, val albei in die sloot"?56 Dui dit nie voldoende aan hoedanig die herders behoort te wees na wie geluister moet word nie, en dat ons nie ondeurdag na almal moet luister nie? Daarom is daar geen rede waarom hulle ons met hulle titels die skrik op die lyf sou jaag om ons te sleep om aan hulle blindheid deel te hê nie. Ons sien trouens daarenteen dat die Here besondere sorg gedra het om ons af te skrik daarvan om toe te laat dat ons deur iemand anders se dwaling verlei word onder watter titel en dekmantel dit ook al verskuil is. Want as Christus se antwoord waar is, kan alle blinde leiers, of hulle ook al voorstanders, of owerstes, of pouse genoem word, nie anders as om hulle metgeselle in dieselfde afgrond in te sleep nie. Laat geen name van konsilies of herders of biskoppe wat net sowel vals as waar gebruik kan word, ons dus verhinder om al die geeste van alle mense aan die Woord van God te toets om te beproef of dit uit God is nie omdat ons deur die bewyse in woord en daad vermaan is om dit te doen.

13. Die mag van die kerk in die vertolking van die Skrif.🔗

Aangesien ons bewys het dat die mag nie aan die kerk gegee is om 'n nuwe leer te skep nie, laat ons dan nou praat oor die mag wat hulle in die vertolking van die Skrif daaraan toeken. Ons gee beslis met graagte toe dat, as daar 'n geskil oor die een of ander leerstelling ontstaan, daar nie 'n beter of sekerder geneesmiddel is as wanneer 'n sinode van opregte biskoppe bymekaarkom om die leerstelling waaroor daar verskil is, te ondersoek nie. 'n Besluit van hierdie aard sal trouens baie meer gewig dra as herders van kerke saam die Gees van Christus aanroep en tot eenstemmigheid kom eerder as wanneer elkeen op sy eie tuis 'n besluit daaroor neem en dit aan die (kerk)volk leer, of wanneer 'n klompie mense in hulle persoonlike hoedanigheid so 'n besluit neem. Ten tweede, wanneer biskoppe in een vergadering byeengebring is, beraadslaag hulle gemakliker saam oor wat hulle moet leer en in watter vorm om te voorkom dat verskille hierin struikelblokke voortbring. Ten derde skryf Paulus ook hierdie metode in die beoordeling van leerstellings aan ons voor. Want wanneer hy aan elke kerk die beoordeling daarvan toeken, dui hy aan watter orde in ernstiger sake gevolg moet word, naamlik dat kerke onderling saam daarvan kennis moet neem.57 En juis ons gevoel van godsvrug het ons so geleer dat as iemand die kerk met 'n ongewone leerstelling versteur, en die saak sover vorder dat die gevaar van ernstiger tweedrag ontstaan, kerke eers bymekaar moet kom; na voorlegging van die vraagstuk moet hulle dit ondersoek en nadat 'n grondige debat daaroor gevoer is, moet hulle uitsluitsel wat uit die Skrif geput is, daaroor voorlê om enersyds twyfel daaroor onder die (kerk) volk uit die weg te ruim en andersyds ook om goddelose en gierige mense se monde toe te stop sodat hulle nie kan waag om daarmee verder te gaan nie. So is die sinode van Nicéa byeengebring toe Arius opgestaan het en die sinode het met sy gesag die goddelose planne van hierdie goddelose man verpletter asook die vrede in die kerke wat hy geteister het, herstel en die ewige Godheid van Christus teen sy heiligskennige leerstelling gehandhaaf.58

Toe Eunomius en Macedonius daarna nuwe steurnisse veroorsaak het, is hulle waansinnigheid met 'n soortgelyke geneesmiddel deur die sinode van Konstantinopel voorkom.59 Nestorius se goddeloosheid is deur die sinode van Efese platgeslaan.60 Kortom: van die begin af was dit gewoonlik die metode om die eenheid in die kerk te handhaaf so dikwels as wat die Satan begin het om iets teen die kerk in werking te stel.

Maar ons moet daaraan dink dat daar nie te alle tye en in alle plekke manne soos Athanasius, Basilius, Cyrillus en dergelike verdedigers van die ware leer voorkom wat die Here destyds laat lewe het nie. Ja, ons moet nadink oor wat in die tweede sinode van Efese gebeur het waar die kettery van Eutyches die oorhand gekry het.61 Daar is Flavianus, 'n man met 'n heilige nagedagtenis, saam met sommige vromes verban en baie misdrywe van dieselfde aard is daar gepleeg. Dioscorus, 'n oproerige man met 'n uiters slegte inbors, was die voorsitter daarvan, en nie die Gees van die Here nie. "Maar die kerk was tog nie daar nie!" Ek erken dit; my mening is immers volstrek dat die waarheid nie in die kerk te gronde gaan selfs as dit deur een konsilie onderdruk word nie, maar dat dit wonderbaarlik deur die Here bewaar word om weer eens op sy tyd te voorskyn te tree en die oorhand te kry. Ek ontken egter dat die vertolking van die Skrif wat deur die stemme van 'n konsilie aanvaar is, altyd waar en seker is.

14. Misbruike wat deur die vestiging van die mag van konsilies in die Roomse kerk wortelgeskiet het.🔗

Maar die Roomsgesindes het 'n ander doel wanneer hulle leer dat die mag van Skrifuitleg by hulle konsilies berus - en dit sonder appèl!62 Hulle maak immers van hierdie dekmantel misbruik om alles wat in konsilies bepaal is, Skrifuitleg te noem. Nie een enkele lettergreep sal in die Skrifte gevind word oor die vagevuur,63 oor die voorbidding van heiliges,64 oor die oorbieg65 en dergelike leerstellings nie. Maar omdat dit alles op gesag van die kerk ingestel is, dit beteken - om met groter waarheid daaroor te praat -, deur indrukke en gebruik aanvaar is, moet elkeen daarvan as Skrifuitleg beskou word! En nie alleen dit nie, maar as 'n konsilie iets besluit ten spyte daarvan dat die Skrif daarmee bots, moet dit as uitleg bekendstaan!

Christus beveel dat almal van die beker wat Hy in die nagmaal aanbied, moet drink.66 Die konsilie van Konstanz verbied egter dat die beker aan die (kerk)volk gegee mag word, maar bepaal dat die priester alleen daaruit mag drink.67 Hulle wil dat iets wat so lynreg in stryd is met Christus se instelling, as sy uitleg beskou moet word. Paulus noem die verbod op 'n huwelik 'n geveins van die duiwels.68 Elders verklaar die Heilige Gees inderdaad dat die huwelik heilig en eerbaar onder alle mense is.69 Dat hulle egter later hulle priesters verbied het om in die huwelik te tree,70 eis hulle, moet as die ware en egte Skrifuitleg beskou word71 hoewel niks vreemder versin kan word nie. As iemand sou waag om net sy mond daaroor oop te maak, sal hy as 'n ketter veroordeel word want teen die kerk se beslissing is daar geen appèl nie en dit is sonde om te twyfel of die kerk se uitleg waar is! Maar waarom sou ek so 'n groot skaamteloosheid aanval? Om dit immers aan te toon beteken om reeds die oorwinning te behaal!

Ek laat hulle leer oor die mag van die kerk om die Skrifte goed te keur, doelbewus agterweë. Om die uitsprake van God op so 'n wyse aan die oordeel van mense te onderwerp dat dit vas en seker is bloot omdat dit mense aangestaan het, is trouens laster wat nie verdien om in die herinnering opgeroep te word nie. Ek het hierdie onderwerp vroeër reeds aangeroer.72 Ek vra hulle nogtans net die een vraag: As die Skrifgesag op die goedkeuring van die kerk gegrond is, watter konsilie se besluit sal hulle dan in verband hiermee aanvoer? Na my mening het hulle geen besluit (van hierdie aard nie). Waarom het Arius hom dan in Nicéa deur getuienisse wat uit die Evangelie van Johannes aangevoer is, laat oorwin?73 Volgens hulle kon hy die boek verwerp omdat dit toe nog nie deur die goedkeuring van 'n algemene konsilie voorafgegaan is nie. Hulle voer 'n lys uit die ou tyd aan wat as die kanon bekendstaan en waarvan hulle beweer dat dit uit die kerk se beoordeling van die saak ontstaan het.74 Maar nou vra ek weer eens: Op watter konsilie het daardie kanon die lig gesien? Nou moet hulle swyg. Hierbenewens wil ek ook weet wat hulle meen die aard van daardie kanon is. Want ek sien dat daar weinig ooreenstemming hieroor onder die ou skrywers is. En as Hieronymus se verklaring geldig moet wees, moet die boeke van die Makkabeërs, Tobias, die Ekklesiastikus en dergelikes onder die groep apokriewe boeke gegooi word.75 Maar dit is iets wat hulle geensins duld nie!76

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. Eck, Eneb. 1 A6a; 2 B2b (Battles 1978:18 e.v.) en De Castro, Adv. baereses 1.6 fo. 13 e.v.
  2. ^ Vgl. Calvyn se antwoord aan Sadoletus (OC 5:415).
  3. ^ Marg. Matt. 18c.20. Vgl. OC 5:415.
  4. ^ Vgl. Inst. 4.7.9 en 4.9.9.
  5. ^ Marg. Deut. 4.a.2. Apoc. 22.d18. Vgl. ook Deur 12:32; Spr. 30:6 en Openb. 22:19.
  6. ^ Marg. Malac. 2.b. 7 (Maleagi 2:7).
  7. ^ Vgl. Eck, Ench. 2 B2a e.v. (1533: 2fo. 7b).
  8. ^ Marg. Iesa. 56.d.l0. Vgl. ook vers 11 en OC 37:302 e.v.
  9. ^ Marg. Oseae 9. b.8. Vgl. OC 42:394.
  10. ^ Marg. Iere. 6.c.13. Vgl. OC 37:655 e.v.
  11. ^ Marg. Idem 14.c.14. Jer. 14:14. Vgl. OC 38:191 e.v
  12. ^ Vgl. Jer. 23:1 e.v. en OC 38:402 e.v.
  13. ^ Calvyn severwysing na Jer. 40 is klaarblyklik verkeerd. Benoit meen dat hy Jer.50:6 (Benoit 4:173) en Cadier (Inst. 4:159) dat hy jer.44 bedoel. Vgl. egter ook Jer.10:21; 22:22; 25:34 -36 (OC38:85; 394; 507 e.v.).
  14. ^ Marg. Ezech. 22.e.25. Vgl. ook vers 26.
  15. ^ Vgl. Jes. 9:14; 28:7; 29:10; Jer. 2:8, 26; 5:13, 31; 6:13; 8:10; 13:13; 14:14; 23:1; 27:9.
  16. ^ Marg. 2. Pet 2.a.l. Vgl. OC 55:459 . 460.
  17. ^ Marg. Matt. 24.a.ll, &24. Vgl. OC 45:655, 663 e.v. asook Hand. 20:29 - 30; 1 Tim. 4:1; 2 Tim. 3:1 e.v., 4:3.
  18. ^ Marg. 2. Thess. 2.a.4. Vgl. OC 52:198 - 199.
  19. ^ Episcopos. Vgl. Inst. 4.3.8 en ealvyn se kommentaar oor Hand. 20:28 (OC 48:467 . 470).
  20. ^ Marg. Act. 20.f29. Vgl. ook Hand. 20:30 en OC 48:470 - 471.
  21. ^ Marg. Zach. 12.b.4 (recte: Sago 11:17)
  22. ^ Marg. Iere. 18.c.18. Vgl.OC 38:308 e.v.
  23. ^ Marg. Ierem. 4.c.9. Vgl. OC 37:581.
  24. ^ Marg. Ezech. 7.8.26. Vgl. OC 40:173 . 176.
  25. ^ Marg. Mich. 3.b.6.
  26. ^ Marg. 1. Reg. 22.a.53 & d22 (recte: 1 Kon. 22:6, 22).
  27. ^ Vgl. 1 Kon. 22:26 . 27.
  28. ^ Vgl. Jer. 20:2; 32:2; 37:15 (OC 38:333; 39:1 e.v., 149 e.v.).
  29. ^ Vgl. Matt. 21:35; 23:29 e.v. (OC 45:593; 635 e.v.).
  30. ^ Marg. Iohan. 11.f.47. Vgl. OC 47:271.
  31. ^ Vgl. Matt. 26:57 e.v, (OC 45:736).
  32. ^ Marg. 2. Thess. 2.a.3. Vgl. OC 52:196 . 198.
  33. ^ Vgl. Augustinus, Contra Maximinum 2.14.3 (MPL 42:772). Vir Calvyn se gebruik van nierene aanhaling, vgl. ook OC 7:379. Kyk ook die Conc. Arlminense (359) (Mansi 3:293 e.v.): Theodoritus, Hist. eccl. 2.16 (MPG 82:1049).
  34. ^ Dit is opvallend dat Calvynbesonderlik aan hierdie sinodes geldigheid verleen op grond van hulle Skriftuurlike weerlegging van bepaalde dwalings. Hierdie sinodes het immers hulle gesag aan die keiser ontleen wat hierdie algemene sinodes byeengeroep het en aan die besluite daarvan gesag as rykswette verleen het. Vanaf die Lateraanse konsilie van 1123 het konsilies hulle gesag aan die pous ontleen. Die Reformasie het daarom slegs die vier konsilies wat Calvyn hier vermeld erken.
  35. ^ Vgl. Plinius, Ep.2.12. Dat 'n konsilie se aansten na aanleiding van die getal afgevaardigdes geskat moet word, kom o.a. voor in die Decr. Grat. 1.16.9, 10, 11. Vgl. ook Friedberg 1:45 e.v.
  36. ^ Vgl. Luther, Von den Konziliis und Ktrchen (WA 50:509 - 653)
  37. ^ Vgl. Eck, Eneh. 2 B3b.
  38. ^ Die sinode van Konstantinopel in 754, ook bekend as die sinode van die Ikonoklaste (beeldstormers), het nie onder Leo III plaasgevind nie, maar wel onder sy seun, Konstantyn die Vyfde (Mansi 12:578).
  39. ^ Die tweede konsilie van Nicea (787) onder keiserin Irene (Fr. 1560:+ mère de l'Empereur- Benoit 4:178) het die gebruik van heelde in Roomse kerke weer goedgekeur (Mansi 13:491,374 e.v.), Denzinger, Ench. symb. no. 302, p. 146 . 148. Vgl. ook Bettenson, Documents. p. 130 en Inst. 1.11.14 (Afr. vert. 1:201 e.v.).
  40. ^ Vgl. Augustinus, Enar. in Ps. 113.2.5 (MPL 37:1484; CCSL 40:1644 . 1645)
  41. ^ Epiphanius, Ad Iob. episcop. Ierosolym. 9 apud Hieron. Ep. 51.9 (MPG 43:390; MPL22:526; CSEL 54:411); Augustinus, Enar. in Ps. 113.2.3 . 6 (MPL 37:1483 . 1484; CCSL 40:1643 . 1645).
  42. ^ Niesel meen dat Calvyn hier waarskynlik verwys na die diaken Ignatius se biografie van Nikeforos (OS 157, n. 6).
  43. ^ Vgl. die tweede konsilie van Nieea (787) se sewende sessie (Mansi 13:368).
  44. ^ Vgl. Inst. 1.11.14 . 16 (Afr. ven. 1:201 e.v.).
  45. ^ Vgl. Inst. 4.7.1, 2 en Eck, Ench. 2.2 (Battles 1978:22).
  46. ^ Theodoretus vertel. dat Konstantyn 'n hele reeks wedersydse klagtes van die biskoppe ontvang het, dat hy dit aanvanklik verseël en laat bewaar het, maar later laat verbrand het (Hist eccl. 1.11 (MPG 82:937 e.v.).
  47. ^ Vgl. Leo I, Ep. 104.2 . 4; 105; 106 (MPL 54:993 e.v.).
  48. ^ Vg1. Eck, Ench. 2 B4a.
  49. ^  Vgl. Gregorius, Ep. 130 (MPG 37:226).
  50. ^ Vg1. Hebr. 13:17 (OC 55:194 . 195) en Cliehtoveus, Antilutberus (1525) fo. 23b.
  51. ^ Marg. Iosue. 1.b. 7.8.
  52. ^ Marg. Iere. 23.d 16. Vgl. OC 38:424 e.v
  53. ^ Marg. Matth. 7.b.15. Vgl. OC 45:224 - 225.
  54. ^ Marg. 1. Iohan. 4.a.1. Vgl. OC 55:346 - 348.
  55. ^ Vgl. Gal. 1:8 (OC 50:173 ·174).
  56. ^ Marg. Matth. 15.b.14. Vgl. OC 45:453 - 454.
  57. ^ Marg. 1. Cor. 14.f29. Vgl. OC 49:529.
  58. ^ Vir die Ariaanse kettery vgl. Inst. 1.13.4 e.v. (Afr. ven. 1:215 e.v.).
  59. ^ Vgl. die konsilie van Konstantinopel (381) (Mansi 3:557 e.v.). Ten tyde van hierdie sinode was Eunomius die leiervan die Anomeërs maar hy het nie 'n biskopamp beklee nie. Unst. 1.13.21 Afr. ven. 1:241, n. 178) Die seml-Arlaanse Macedonius wastoe biskop van Konstantinopel. Vgl. Inst. 1.13.16 (Afr. ven. 1:235, n. 153)
  60. ^ Vgl. die konsilievan Efese (431) (Mansi 4:567 e.v., 1211). Vgl. Inst. 1.13.25; 2.14.4 (Afr. ven. 1:250, n. 237; 2:639, n. 44).
  61. ^ Eutyches se kettery is by die tweede konsilie van Efese (449) - die sogenaamde 'Rowersinode' . onder leiding van Dioscorus van Alexandrië goedgekeur (Mansi 6:503 e.v.). Terselfdertyd is Flavianus van Konstantinopel so erg aangerand dat hy spoedig daarna gesterf het. Vgl. Inst. 2.14.4 (Afr: vert. 2:640, n. 47).
  62. ^ Battles (2:1177, n. 22) meen dat Calvyn waarskynlik Clichtoveus se Compendium ueritatum ad fidem pertinentium contra erroneas Lutheranorum assertiones (1529) in die bestryding van hierdie Roomse dwalings in gedagte gehad het. Vgl. ook Cochlaeus, De auth. eccl. 1.3 (De auth. Rom. Pont en conc.); 1.9 E2a; De Castro, Adv. haer. 1.4 8E e.v., 4 (Coneilium) 79C.
  63. ^ Vgl. die Conc. Lugdunense 2 (1274: Profess. fidei Micbaelis Palaeologi) (Mansi 24:67 e.v.; Denzinger, Ench. nr. 464, p. 215); die Florentynse konsilie (1539) (Bulla 'Laetentur coelt - 6JuIie 1539) (Mansi 31A:1026e.v.; Denzinger, Eneh. no. 693, p. 252); die 25ste sessie van die konsilie van Trente (1563), Deer. de purgatorio (Mansi 33; Denzinger, Ench. no. 983, p. 342).
  64. ^ Vgl. die Conc. Rom. (993) (Mansi 19:170 e.v., Denzinger, Ench. no. 342, p. 168); die konsilie van Trente (1563) se 25ste sessie (Mansi 33; Denzinger, Ench. no. 983, p. 342).
  65. ^ Vgl. die vierde Lateraanse konsilie (1215) hoofstuk 21 (Mansi 22:1007 e.v., Denzinger, Eneh. no. 437, p. 204 e.v.), die 14de sessie van die konsilie van Trente (1551), De sacr. poenitenttae c. 5 (Mansi 33; Denzinger, Ench. no. 901).
  66. ^ Marg. Matt. 26.c.26. Vgl. ook verse 27 - 28 en OC 45:704 . 708.
  67. ^ Vgl. die konsilie van Konstanz (1415), sessie 13 (Sub una specie - 15 junle 1415) (Mansi 27:727; Denzinger, Ench. no. 626).
  68. ^ Marg. 1. Tim. 4.a.1. Vgl. ook verse 2 - 3 en OC 48:291 . 297
  69. ^ Marg. Heb. 13.a.4. Vgl. OC 55:187 ·188
  70. ^ Vgl. die konsilie van Elvira (ca. 305), canon 33 (Mansi 2:11); Siricius, Ep. ad Himerium (385) e. 7.8 (MPL 13:1138 e.v.; Denzinger, Ench. no, 89, p. 44). Kyk ook die eerste Lateraanse konsilie (1123) kanon 3 en 21 (Mansi 21:282; 286; Denzinger, Ench. no. 360, p. 176).
  71. ^ Vgl. De Castro, Adv. haer. 13 fo. 194D.
  72. ^ Vgl. Inst. 1.7; 1.8.9 (Mr. vert. 1:154 e.v.; 170 e.v.). Kyk ook Cochlaeus, De auth. eccl. 1.9 E4b; 2.1 H4a; Eek, Ench. 1 A6a e.v.
  73. ^ Vgl. Theodoretus, Hist. eccl. 1.7 (MPG 82:923).
  74. ^ Kyk Coehlaeus, De auth. eccl. 1.9 E4b; 2.1 H4a; De Castro, Adv. haer. 1.2 6b e.v.
  75. ^ Vgl. Hieronymus, Praefatio in ttbros Samuelis et Malacbim (MPL 28:566 e.v.).
  76. ^ Vgl. Cochlaeus, De auth. eccl. 2.2 J1a.