Ampsdraers moet na behore ondersoek word voor hul kiesbaar gestel word. Verkiesing moet dan deur die kerkvolk gebeur, en nie deur ‘n paar ‘belangrike’ mense of aardse regeerders aangewys word nie. Calvyn ontbloot die wanpraktyke, korrupsie en sedelike verval van die ampsdraers (priesters, monnike, diakens, ens.) in die Roomse kerk.

1984. 21 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 4 Hoofstuk 5 Die ou regeringsvorm is heeltemal deur die tirannie van die pousdom vernietig

1. Verwaarlosing van die ondersoek na die bevoegdheid van ampsdraers.🔗

Nou moet ons die orde van die kerkregering wat die Roomse setel en al sy trawante vandag handhaaf, skets en 'n volledige beeld gee van daardie hiërargie waarvan hulle die mond vol het. Dan moet ons dit met daardie beeld van die eerste kerk van ouds wat ons beskryf het, vergelyk. Die doel daarmee is dat uit hierdie vergelyking aan die lig moet kom watter soort kerk diegene het wat slegs met die naam daarvan woedend te kere gaan om ons te onderdruk, of eerder, te vernietig.

Dit is egter beter om met die roeping te begin sodat ons kan sien wie en hoedanig die mense is en om watter rede hulle tot hierdie diens geroep word. Daarna sal ons oorweeg hoe getrou hulle hulle diens verrig. Ons sal in die eerste plek aan die biskoppe aandag gee1 - was dit tog maar tot hulle eer om die eerste plek in hierdie bespreking te beklee! Die onderwerp laat my egter nie toe om hierdie redenasie selfs oppervlakkig aan te roer sonder dat dit vir hulle tot die grootste skande strek nie. Ek sal nogtans onthou met watter soort skrywe ek nou besig is en nie toelaat dat my betoog wat op die eenvoudige leer gerig behoort te wees, sy perke te buite gaan nie.

Maar laat enigeen van hulle wat nie sy skaamte heeltemal verloor het nie, my antwoord watter soort biskoppe vandag oral gekies word. Dat 'n behoorlike ondersoek na die leer ingestel word, het te outyds geword; en as die leer nog in ag geneem word, kies hulle die een of ander regsgeleerde wat kennis dra van hofgedinge eerder as daarvan om in die kerk te preek. Dit staan in elk geval vas dat vir honderd jaar skaars een uit 'n honderd gekies is wat iets van die heilige leer begryp het. Ek spaar die vorige eeue nie omdat hulle veel beter was nie, maar omdat ons vraag nou slegs oor die huidige kerk handel. As ons hulle sedes onder die loep neem, sal ons weinig of amper geeneen van hulle vind wat nie deur  die eertydse kanons as onwaardig beoordeel sou word nie. Iemand wat nie 'n dronklap was nie, was 'n hoereerder; en as hy nog sonder hierdie misdaad was, was hy 'n dobbelaar of 'n jagter of in een of ander opsig in sy lewe losbandig. Die gebreke wat iemand volgens die eertydse kanons van die episkopaat uitgesluit het, is trouens ligter as dié. Maar dit is by verre die ongerymdste dat kinders wat skaars tien jaar oud is, met die toestemming van die pous biskoppe word. Hulle het in verwaandheid en stompsinnigheid so ver gevorder dat hulle nie van hierdie uiterste oortreding en daarom ook monsteragtige vergryp terugdeins nie terwyl dit selfs vir die natuurlike gevoel afstootlik is. Hieruit is dit duidelik hoe bedenklik die verkiesings was waar daar so 'n onverskillige agtelosigheid was.

2. Die verlies van die stemreg deur die kerkvolk.🔗

Die reg van die kerkvolk om 'n biskop te verkies is nou heeltemal weggeneem. Stemming, instemming, ondertekenings en al sulke dinge het verdwyn. Die volle mag is op die kanunnike2 alleen oorgedra. Hulle ken die biskopamp toe aan wie hulle wil en bring hom dadelik voor die volk - nie om ondersoek te word nie maar om geëer te word. En tog skreeu Leo dat geen redelikheid dit toelaat nie en hy verklaar dat dit 'n gewelddadige misbruik is.3 Wanneer Cyprianus getuig dat dit uit die Goddelike reg ontstaan dat die verkiesing van 'n biskop nie sonder instemming van die (kerk)volk mag gebeur nie, dui hy aan dat 'n gewoonte wat hiervan verskil, strydig is met God se Woord.4 Soveel sinodebesluite plaas die strengste verbod daarop dat dit anders mag  gebeur, en as dit wel gebeur het, verklaar hulle dat dit ongeldig is.5 As dit waar is, is daar vandag nòg volgens die goddelike reg nòg volgens die kerklike reg enige verkiesing in die hele pousdom oor wat geldig is. Maar selfs al was dit die enigste euwel, hoe sal hulle dit kan verskoon dat hulle die kerk so van sy reg beroof het? "Maar", sê hulle, "die bedorwenheid van die tyd het tog vereis dat die oordeel oor hierdie aangeleentheid aan 'n paar mense toegewys moet word omdat vyandskap en naywer in die aanwysing van biskoppe onder die (kerk)volk en die amptenary meer krag as opregte gesonde oordeel gewen het."6 Gestel dat dit in elk geval onder hierdie jammerlike omstandighede die beste medisyne teen hierdie euwel was. Toe dit egter duidelik geword het dat die medisyne skadeliker as die kwaal self is, waarom word hierdie nuwe euwel dan nie ook teengegaan nie? "Maar," sê hulle, "juis aan die kanunnike is presies voorgeskryf wat hulle in die verkiesing behoort te volg."7 Of twyfel ons dat die (kerk)volk eertyds besef het dat hulle deur die heiligste bepalings gebind is aangesien hulle kon sien dat 'n reël uit God se Woord aan hulle voorgehou is wanneer hulle bymekaar gekom het om 'n biskop te kies? Daardie een enkele uitspraak van God waarmee Hy 'n ware beeld van 'n biskop teken, moes weliswaar tereg swaarder geweeg het as eindelose duisende reëls, Diemense is nietemin deur die slegste gesindheid so bedorwe dat hulle geen wet of billikheid in ag geneem het nie. Selfs al sou die heel beste wette vandag aangeneem word, bly hulle in dokumente verborge.

Intussen is dit meesal as gewoonte aanvaar en, asof dit met goeie rede gebeur, goedgekeur dat dronklappe, hoereerders en dobbelaars oral tot hierdie ereamp bevorder word. Ek stel dit nog te sag: eerder dat die biskopamp 'n beloning vir owerspeliges en koppelaars is! Wanneer hierdie ampte trouens aan jagters en voëlvangers gegee word, moet ons reken dat sake pragtig verloop het! Om sulke onwaardigheid enigsins te verskoon is alte brutaal! Ek herhaal: eertyds het die (kerk)volk die heel beste reël gehad omdat die Woord van God aan hulle voorgeskryf het dat 'n biskop onberispelik, 'n leraar, een wat nie veglustig is nie, ensovoorts, moet wees.8 Waarom is die verkiesingsbevoegdheid dan van die volk af na die kanunnieke oorgedra? Natuurlik omdat die Woord van God nie te midde van die oproer en faksies van die (kerk)volk gehoor is nie! En waarom word dit nie vandag weer van hulle af (na die kerkvolk) oorgedra nie aangesien hulle nie alleen alle reëls skend nie maar ook alle skaamte laat vaar het en wellustig, gierig en ambisieus dinge van die mens met dinge wat God aangaan, vermeng en verwar?

3. Die verontagsaming van God se Woord het tot die tussenkoms van aardse regeerders aanleiding gegee.🔗

Maar hulle lieg wanneer hulle sê dat dit onder hierdie omstandighede as 'n geneesmiddel aangewend is. Ons lees dat stede eertyds dikwels in oproer was met die verkiesing van biskoppe.9 Niemand het egter ooit gewaag om te dink dat hierdie reg van die burgers af weggeneem moet word nie. Hulle het trouens ander middels gehad om hierdie foute teen te gaan of as dit reeds begaan is, dit reg te stel. Ek sal sê wat die waarheid is. Toe die (kerk)volk begin het om nalatiger te word in die hou van verkiesings en hulle hierdie taak asof dit hulle geensins aangaan nie, op die presbiters afgeskuif het, het hulle hierdie geleentheid misbruik om vir hulle 'n tirannie tot stand te bring.10 Deur nuwe reëls daaroor uit te vaardig, het hulle dit later bekragtig.

Bevestiging is nou niks anders as 'n louter bespotting nie. Die soort ondersoek wat hulle daar voorhou, is so skynheilig en skraal dat dit selfs van alle valse vertoon ontbloot is. Gevolglik het dit wat owerhede elders deur ooreenkoms van Roomse pouse verkry het, naamlik om self hulle eie biskoppe te benoem, geen nuwe skade vir die kerk teweeggebring nie11 want die verkiesing is slegs van die kanunnike weggeneem terwyl hulle dit (op hulle beurt) sonder enige reg geroof of in elk geval gesteel het. Dit is in elk geval die afstootlikste voorbeeld hiervan dat biskoppe (van die owerheid se hof af) gestuur word om op kerke beslag te lê terwyl dit godvrugtige keisers se plig is om hulle van so 'n bedorwenheid te weerhou. Want elke keer wanneer 'n biskop op 'n kerk afgedwing word wat hulle nie gevra of ten minste met 'n vrye stem goedgekeur het nie, is dit goddelose roof van die kerk. Maar hierdie onordelike gewoonte wat lank reeds in die kerk bestaan het, het aan keisers die geleentheid gegee om vir hulle (die taak) om biskoppe aan te wys, toe te eien. Hulle het trouens verkies dat dit 'n weldaad van hulle moes wees liewer as van diegene aan wie dit ewe min toegekom het en wat dit daarom nie minder verkeerd misbruik het nie.

4. Die aanwysing van presbiters en diakens.🔗

Dit is voorwaar 'n voortreflike roeping op grond waarvan biskoppe spog dat hulle die apostels se opvolgers is.12 Hulle beweer egter dat die reg om presbiters aan te wys, hulle alleen toekom.13 Maar juis hierin bederf hulle die ou orde omdat hulle deur hulle bevestiging nie ouderlinge (presbiters) maak om die (kerk)volk te regeer en te laat wei nie, maar priesters om offers te bring. Net so wanneer hulle diakens bevestig, doen hulle niks vir hulle ware en eintlike amp nie, maar hulle bevestig hulle met die oog op sekere seremonies in verband met die beker en die skottel.14 Maar op die sinode van Chalcedon is daarenteen besluit dat bevestigings nie losstaande van amptelike pligte mag plaasvind nie; dit beteken dat 'n standplaas terselfdertyd aan diegene wat bevestig word, toegewys moes word om daar hulle diens te verrig.15 Hierdie besluit is om twee redes uiters nuttig, naamlik dat die kerk nie met oorbodige onkoste belas moet word nie en dat dit wat aan die armes gegee moet word, nie op luiaards verkwis moet word nie. Ten tweede dat diegene wat bevestig word, daaraan gedagtig moet wees dat hulle nie tot 'n ereposisie bevorder word nie, maar dat 'n plig hulle opgedra word en dat hulle met 'n plegtige verklaring gebind word om dit te vervul.

Maar die Roomse here wat meen dat hulle hulle in die godsdiens oor niks anders as hulle maag hoef te bekommer nie, vertolk hierdie titel16 in die eerste plek as inkomste wat vir hulle onderhoud voldoende is, of dit ook al uit hulle persoonlike besittings of uit die priesteramp is.17 Wanneer hulle dus 'n diaken of 'n presbiter bevestig, bekommer hulle hulle nie oor die standplaas waar hulle moet dien nie, en hulle ken die ordening aan hulle toe as hulle maar net ryk genoeg is om hulleself te onderhou. Maar wie kan aanvaar dat die benoeming wat die konsilie se besluit vereis, uit die jaarlikse inkomste vir onderhoud bestaan? Om hulle uitspattig maklike toekenning daarvan aan bande te lê, het onlangser reëls biskoppe veroordeel om diegene wat hulle sonder gepaste aanwysing georden het, se onderhoud te dra.18 Om hierdie straf te ontwyk, is 'n voorsorgmaatreël egter uitgedink. Want een wat bevestig word, belowe uitdruklik dat hy met die genoemde besoldiging tevrede sal wees. Volgens hierdie ooreenkoms word hy dan verhinder om 'n saak vir sy onderhoud in te stel. Ek verswyg maar die duisende bedrieërye wat hier plaasvind, soos byvoorbeeld wanneer hulle lieg oor leë benoemings van priesters waaruit hulle jaarliks nie vyf sent19 kan maak nie! Ander weer gaan geheime ooreenkomste aan en leen priesterskappe wat hulle belowe hulle spoedig weer sal teruggee, maar soms gee hulle dit nie terug nie.20 En daar is ook ander geheime ooreenkomste van dieselfde aard.

5. Die Roomse bevestiging in die ampte kom neer op versmading van God.🔗

Maar selfs al sou daardie growwer misbruike uit die weg geruim wees, is dit dan nie nog altyd ongerymd dat hulle 'n presbiter aanwys sonder om 'n standplaas aan hom toe te ken nie?21 Hulle bevestig mense trouens slegs om te offer. Maar die wettige bevestiging van 'n presbiter is tog dat hy geroep word om die kerk te regeer en 'n diaken om liefdesgawes te in. Hulle klee hulle handelswyse weliswaar met veel praal om met so 'n vertoon die eerbied van eenvoudiges te behou. Maar watter waarde kan sulke vertoonsug onder mense met gesonde verstand hê terwyl daarin geen vastigheid of waarheid aanwesig is nie? Hulle gebruik trouens seremonies wat hulle of aan die Jodedom ontleen het of uit hulle eie verbeelding saamgeflans het. Dit sou beter gewees het as hulle hulle daarvan weerhou het.

Oor die ware ondersoek - ek hou my nou nie op met die skadu wat hulle nog daarvan oor het nie -, oor die instemming van die (kerk)volk en oor ander noodsaaklikhede is daar egter geen vermelding nie. Ek noem daardie belaglike gebare wat ingestel is as 'n sinlose en koue nabootsing van die ou tyd, 'n skadu. Biskoppe het hulle eie plekbekleërs22 wat hulle voor hulle bevestiging oor die leer ondervra. Maar watter vrae vra hulle? Of hulle hulle Misse kan lees; of hulle een of ander gewone naamwoord wat hulle in hulle voorlesings teenkom, kan verbuig; of hulle 'n werkwoord kan vervoeg en of hulle die betekenis van een woord ken! Dit is trouens nie eens nodig dat hulle hoef te weet hoe om die betekenis van een sin weer te gee nie! En tog word diegene wat selfs in hierdie kinderagtige beginsels tekortskiet, nog nie van die priesteramp weerhou nie mits hulle een of ander aanbeveling - geld of populariteit kan aanvoer.

Dit kenmerk dieselfde mengelmoes dat, wanneer die wat bevestig gaan word, na die altaar beweeg, hulle driemaal in 'n onverstaanbare stem gevra word of hulle die eer waardig is. Daarop antwoord een wat hulle nog nooit gesien het nie, maar wat hierdie rol in die fabel speel ten einde te voorkom dat iets aan hierdie formaliteit ontbreek: "Ja, hulle is waardig". Waarvoor sou jy sulke eerbiedwaardige vaders kon verkwalik behalwe dat hulle deur in sulke openlike heiligskennis die spot te dryf, sonder om hulle te skaam, God en die mense uitlag? Maar omdat hulle reeds lank hierdie gebruik het, meen hulle dat dit hulle nou geoorloof is. Wie ook al trouens waag om sy mond teen sulke duidelike en sulke verskriklike oortredings oop te maak, word dadelik deur hulle weggeneem om die doodstraf te ondergaan soos iemand wat in die ou tyd die heilige seremonies van Ceres aan die lig gebring het.23 Sou hulle dit gedoen het as hulle daaroor nagedink het dat daar 'n God bestaan?

6. Onderduimsheid in die toewysing van geestelike voordele.🔗

Hoeveel beter gedra hulle hulle in die toewysing van geestelike voordele24 - iets wat eertyds aan bevestiging verbind is maar nou heeltemal daarvan losgemaak is? Die manier waarop hulle dit doen, is veelvuldig. Dit is trouens nie die biskoppe alleen wat priesterskappe verleen nie. Selfs in die ampte waarvan hulle aanwysers genoem word, het hulle nie altyd die volle bevoegdheid nie. Ander het die uitreikingsreg maar hulle (die biskoppe) behou die eretitel aanwysers. Hierby kom daar nog benoemings uit die skole, bedankings - soms doodeenvoudig of ingedien ter wille van uitruiling; edikte, aanbevelings, beletsels en dergelike dinge. Hulle gedra hulle almal inderdaad so dat geeneen van hulle 'n ander iets kan verkwalik nie.

My standpunt is soos volg: onder die pousdom word daar vandag skaars een uit elke honderd geestelike voordele sonder simonie toegeken, en  dit dan soos die skrywers van ouds simonie beskryf het.25 Ek sê nie dat almal hulle amp teen 'n vasgestelde prys koop nie, maar wys my een uit twintig wat sonder die een of ander sydelingse aanbeveling die priesterskap bereik. Familiebande of verwantskap bring vir sommige bevordering; vir ander is dit die gesag van hulle ouers, ander behaal guns deur hulle kruipery. Kortom: priesterskappe word toegeken, nie om na kerke om te sien nie, maar om te sorg vir diegene wat dit ontvang. Gevolglik noem hulle dit weldade. Met hierdie woord dui hulle genoegsaam aan dat hulle dit in dieselfde lig sien as die geskenke van die keisers26 waarmee hulle guns van die soldate werf of vir hulle arbeid beloon word. Ek laat dit maar agterweë dat hierdie belonings ook aan haarkappers, kokke, staljongens en dergelike uitvaagsels toegeken word. Vandag dreun die howe inderdaad met meer hofsake oor priesterskappe as feitlik enige ander geding sodat jy kan sê dat dit niks anders is as buit wat vir die honde gegooi is om op jag te maak nie. Kan 'n mens verdra om te hoor dat diegene herders genoem word wat in besit van 'n kerk gekom het deur dit as't ware binne te val asof dit vyandelike gebied is? wat dit met hofgedinge gewen het? wat dit teen 'n prys aangekoop het? wat dit met afstootlike kruipery verdien het? wat dit as kinders wat skaars kan stamel, as erflating van hulle ooms en verwante, en soms as onwettige kinders van hulle vaders ontvang het?

7. Blatante miskenning van God se Woord in die aanwysing van die ampte.🔗

Sou die teuelloosheid van die (kerk)volk, bedorwe en wetteloos soos hulle is, ooit so ver gegaan het? Maar dit is nog 'n groter gedrag dat een man - ek sê nie wat sy geaardheid is nie, maar in elk geval is hy 'n man wat homself nie in bedwang kan hou nie -, aangestel word om vyf of ses kerke gelyk te regeer. In die howe van keisers kan ons vandag jongelinge sien wat drie abdye, twee bisdomme en 'n aartsbisdom het.27 Oral is daar trouens kanunnike wat met vyf, ses, of sewe priesterskappe oorlaai is waaroor hulle hulle hoegenaamd niks bekommer nie behalwe om inkomste daaruit te ontvang. Ek sal nie die beswaar opper dat die Woord van God oral daarteen skreeu nie want dit het lankal reeds opgehou om die geringste invloed onder hulle te hê. Ek sal nie die beswaar opper dat baie van die strengste strafmaatreëls in verskeie konsilies teen hierdie onbeskaamde optrede aangeneem is nie28 want hulle versmaai dit ook so dikwels hulle wil. Maar ek sê dat beide monsteragtige misbruike is wat ten volle teen God, die natuur en die kerkregering stry - dat een rower tegelyk verskeie kerke beset; en dat iemand 'n herder genoem word terwyl hy nie in staat is om by sy kudde te wees nie selfs al wou hy!29 En so groot is hulle skaamteloosheid -, hulle beklee sulke afstootlike afgryslikhede nogtans met die woord kerk om hulle van alle teregwysing te vrywaar. Ja, as dit God behaag, word hulle heilige opvolging in sulke boewery opgesluit terwyl hulle daarop roem dat dit hierdie opvolging se verdienste is dat die kerk nie te gronde gegaan het nie!

8. Die ampsvervulling deur monnike.🔗

Laat ons nou kyk hoe getrou hulle hulle amp beoefen wat die tweede eienskap in die beoordeling van 'n wettige herder is. Van die priesters wat daar gemaak word, is sommiges monnike, en ander noem hulle wêreldlike priesters.

Eersgenoemde groep was onbekend in die kerk van ouds en om so 'n posisie in die kerk te hê is so strydig met die kloosternering dat, toe hulIe eertyds uit die kloosters in die geestelikheid opgeneem is, hulle opgehou het om monnike te wees. En daarom het Gregorius in wie se tyd daar baie gemors was, nogtans nie toegelaat dat hierdie verwarring plaasvind nie. Hy wil trouens hê dat diegene wat abte gemaak is, van hulle geestelike amp afstand moet doen omdat niemand tereg 'n monnik en 'n geestelike kan wees nie aangesien die een vir die ander 'n struikelblok is.30 As ek nou sou vra hoe iemand wat hulle reëls verklaar nie daarvoor geskik is nie, sy amp goed kan vervul, wat, vra ek jou, sal hulle antwoord dan wees? Natuurlik sal hulle vir my daardie onrydige besluite van Innocentius en Bonifacius opsê waarvolgens monnike so in die ereposisie en die bevoegdheid van die priesteramp opgeneem word dat hulle nog in hulle kloosters mag aanbly.31 Maar watter gronde is daar  dat die een of ander ongeleerde esel die hele ou ryd met een enkele woordjie omver kan werp sodra hy die Roomse setel in die hande kry? Maar hieroor later meer. Vir die huidige moet dit voldoende wees dat dit in die suiwerder kerk as 'n groot ongerymdheid beskou is as 'n monnik 'n priesteramp vervul het. Want wanneer Hieronymus onder monnike leef, verklaar hy dat hy nie 'n priester se funksie vervul nie en hy stel hom as een van die (kerk)volk voor wat deur die priesters regeer word.32 Maar - om dit nou ook maar vir hulle toe te gee -, watter ampspligte kom hulle wel na? Sommige bedelmonnike preek wel, maar al die ander monnike sing eentonig of prewel hulle liedjies in hulle skuilplekke. Net asof dit Christus se bedoeling was en die aard van die amp toelaat dat presbiters hiervoor aangewys word! Aangesien die Skrif openlik getuig dat dit 'n presbiter se plig is om sy eie kerk te regeer,33 is dit dan nie goddelose heiligskennis om dit op iets anders oor te dra nie, of liewer, om God se heilige instelling heeltemal te verander nie? Wanneer monikke trouens georden word, word hulle uitdruklik verbied om die dinge te doen wat God alle presbiters oplê. Want hierdie liedjie word vir hulle gesing: 'Laat die monnik met sy klooster tevrede wees en hom nie aanmatig om die sakramente te bedien of iets wat op 'n openbare amp van toepassing is, verrig nie.'34 Laat hulle ontken, as hulle kan, dat dit openlike bespotting van God is wanneer iemand 'n presbiter gemaak word om hom van sy ware en egte ampsplig te weerhou en wanneer iemand wat die naam dra, dit nie in werklikheid kan hê nie.

9. Ampsvervulling deur wêreldse priesters.🔗

Nou kom ek by die wêreldlike priesters. Hulle is gedeeltelik begunstigdes (benefisiante) soos hulle dit noem; dit beteken dat hulle priesterskappe het waarmee hulle hulleself kan onderhou.35 Gedeeltelik is hulle mense wat elke dag hulle arbeid uithuur vir die voorlees van die Mis of deur te sing, en met die geld wat hulle so in, lewe. Kerklike voordele hou of die versorging van siele soos bisdomme of parogieë in; of dit is die salarisse van verwyfde mense wat hulle lewe maak deur te sing soos prebendes, kannunike, pastorieë, waardighede, kappelaanskappe en dergelikes. Aangesien hulle alles reeds klaar omgekeer het, ken hulle abbaatskappe en kloosterhoofskappe nie slegs aan wêreldse presbiters toe nie, maar ook aan kinders - volgens privilegie; dit beteken, volgens die alledaagse gebruiklike gewoonte.

Sover dit die bedelpriesters aangaan wat daagliks lewensonderhoud soek, wat kan hulle doen anders as wat hulle wel doen? Dit is naamlik om hulleself op 'n onbeskaafde en skaamtelose wyse met die oog op winsbejag te onteer - veral in so 'n groot menigte as wat tans op die wêreld wemel. Aangesien hulle dus nie oop en bloot durf bedel nie, of dink dat hulle met hierdie weg te weinig voordeel sal behaal, loop hulle soos honger honde rond en met hulle opdringerigheid wat soos 'n geblaf is, wring hulle iets uit teensinnige mense om hulle dor mae te voer. As ek hier sou poog om in woorde uitdrukking te gee aan die skande vir die kerk dat die eer en die amp van 'n presbiter so 'n vlak bereik het, sal daar geen einde aan wees nie. Daar is dus geen rede dat my lesers van my 'n betoog moet verwag wat met so 'n skandelike onwaardigheid ooreenstem nie. Ek sê kortweg: As dit 'n presbiter se plig is om, soos die Woord van God voorskryf36 en die kanons van die ou tyd vereis, die kerk te voed en die geestelike koninkryk van Christus te bedien, versuim al sulke offerpriesters wat geen werk of loon het anders as om met die Mis handel te dryf nie, nie alleen hulle plig nie maar hulle het geen wettige plig om na te kom nie. Geen geleentheid om te onderrig word aan hulle gegee nie en hulle het geen (kerk)volk om te regeer nie. Kortom: hulle het niks anders oor as die altaar waarop hulle Christus offer nie - en dit is, soos ons elders sal sien,37 nie 'n offer aan God nie maar 'n offer aan die duiwels.38

10. Die ander 'ampte' in die Roomse kerk.🔗

Ek raak nou nie aan hulle uiterlike ondeugde nie, maar slegs aan die inwendige kwaad wat in hulle eie instelling wortel geskiet het. Ek sal nog 'n verklaring byvoeg wat in hulle ore sleg sal klink. Omdat dit egter waar is, moet ek dit sê, naamlik dat kanunnike, dekane, kapelane, opsieners en almal wat deur ledige priesterskappe onderhou word, in dieselfde lig beskou moet word. Watter diens kan hulle immers vir die kerk lewer? Hulle het trouens die verkondiging van die Woord, die versorging van die dissipline en die bediening van die sakramente as laste wat te lasting is, van hulle afgewerp. Wat het hulle dus nog oor waarop hulle kan roem dat hulle ware presbiters is? Natuurlik is dit sang en die seremoniële pronkery. Maar wat het dit met die saak te doen? As hulle die gewoonte, gebruik en die voorskrif van lang tydsverloop daarvoor aanvoer, sal ek daarenteen Christus se beskrywing voorhou waarin Hy enersyds vir ons uitgedruk het wat ware presbiters is en andersyds wat diegene wat as sodanig beskou wil word, moet hê.

Maar as hulle so 'n hardvogtige voorwaarde nie kan verdra nie, naamlik om hulle aan die reël van Christus te onderwerp, moet hulle ten minste toelaat dat hierdie saak op gesag van die eerste kerk besleg word. Hulle toestand sal egter niks beter wees as dit volgens die reëls van ouds beoordeel word nie. Diegene wat in kanunnike ontaard het, moes presbiters gewees het soos diegene eertyds was wat die kerk saam met 'n biskop regeer het en sy kollegas in die herdersamp was.39 Die ereposisies wat hulle kapittels noem, is hoegenaamd nie op ware kerkregering  van toepassing nie, nog minder die kapelane en al die ander gemors met dergelike name. In watter lig moet ons hulle almal beskou? Sowel die Woord van Christus as die handhawing daarvan deur die kerk van ouds sluit hulle beslis van die amp van 'n presbiter uit. Hulle hou nogtans vol dat hulle presbiters is maar ons moet hierdie masker van hulle afruk. Ons sal vind dat hulle hele beroep heeltemal vreemd en ver verwyder is van daardie amp van die presbiters wat sowel die apostels vir ons beskryf asook in die eerste kerk vereis is. Al sulke ordes, met watter titels hulle ook al beskryf word, is derhalwe nuwighede wat beslis nie deur die instelling van God of die handhawing deur die kerk van ouds ondersteun word nie. Dit behoort daarom geen plek in te neem in 'n beskrywing van die geestelike regering wat deur die Here se eie woorde geheilig is en wat die kerk ontvang het nie. Of, as hulle verkies dat ek onbeskaafder en growwer praat, omdat kapelane, kanunnike, dekane, kloosterhoofde en ledige mae van dieselfde soort selfs nie eens met hulle vingerpunte 'n deeltjie van die ampsplig aanraak wat noodwendig in die geval van die presbitersamp vereis word nie, moet ons nie verdra dat hulle die ereposisie valslik misbruik en die heilige instelling van Christus geweld aandoen nie.

11. Die korrupsie van biskoppe en hulle plaasvervangers.🔗

Nou bly biskoppe en gemeenteleiers oor. Het hulle hulle maar ingespan om hulle ampsplig te handhaaf! Ons sou hulle dit trouens met graagte toegee dat hulle 'n vroom en uitsonderlike amp het, as hulle dit maar net uitvoer! Maar deur die kerke wat aan hulle toevertrou is te verlaat en die versorging daarvan op ander af te skuif, terwyl hulle as herders beskou wil word, tree hulle op asof die herdersamp beteken dat hulle niks moet doen nie. As 'n geldskieter wat nog nooit 'n voet uit die stad verroer het nie, verkondig dat hy 'n boer of 'n wynbouer is; as 'n soldaat wat nog altyd in die slaglinie of die kamp was en nog nooit 'n hof of boeke gesien het nie, hom as 'n regsgeleerde voordoen, wie sou sulke afstootlike sinneloosheid kon verduur? En tog tree hulle 'n bietjie sinneloser op omdat hulle graag na wettige herders van die kerk wil lyk en ook so bekend wil staan, en tog wil hulle dit nie wees nie! Want hoe weinig is daar van hulle wat selfs in skyn die regering van sy kerk verrig? Die meeste van hulle verslind hulle hele lewe lank die inkomste van hulle kerke sonder om ooit daarheen te gaan om dit te inspekteer. Party kom self eenmaal per jaar daarheen of hulle stuur 'n invorderaar om te voorkom dat iets van hulle inkomste verlore gaan. Toe hierdie korrupsie eers eenmaal ingesluip het, het diegene wat hierdie soort vakansie wou geniet, hulle met privilegies gevrywaar. Nou kom daar selde 'n voorbeeld voor van iemand wat in sy kerk bly. Hulle ag dit trouens as plattelandse tuistes waaroor hulle plaasvervangers soos bestuurders of bywoners aanstel. Maar juis ons natuurlike aanvoeling verwerp ook die opvatting dat iemand wat nog nooit 'n skaap gesien het nie, herder van 'n kudde is.40

12. Die ontstaan van hierdie euwel in die tyd van Gregorius en Bernardus.🔗

Dit is duidelik dat daar reeds in die tyd van Gregorius sekere sade van hierdie euwel bestaan het met die gevolg dat kerkleiers begin het om onverskilliger in hulle onderrig te wees. Iewers kla hy trouens baie ernstig daaroor. Hy sê: "Die wêreld is vol priesters maar tog is daar selde 'n werker in die oesland te vinde. Ons neem weliswaar die priesterlike plig op ons, maar ons verrig nie die werk van ons amp nie".41 Net so: "Omdat hulle nie 'n hart van liefde het nie, wil hulle na menere lyk; hulle ken hulleself nie as vaders nie. Hulle verander 'n geleentheid vir nederigheid tot die verheffing van oorheersing".42 Verder ook: "Maar ons, herders, wat doen ons? Ons kry die loon, maar ons is nie werkers nie".43 "Ons het in besigheid daar buite verval en ons onderneem een ding, maar doen iets anders. Ons laat die bediening van die (Woord)verkondiging agterweë en, soos ek dit sien, word ons tot ons straf nog biskoppe genoem omdat ons wel hierdie erenaam maar nie die mag daarvan het nie".44 Aangesien hy sulke streng woorde teen diegene besig wat slegs minder toegewy en noulettend op hulle ampsplig was, wat, vra ek jou, sou hy gesê het as hy gesien het dat skaars een van die biskoppe, of in elk geval 'n baie geringe getal, en beswaarlik een uit 'n honderd van die res ooit eenmaal in hulle lewe die kansel bestyg? Ons het trouens so 'n vlak van waansinnigheid bereik dat dit iets benede die waardigheid van 'n biskop is om voor die (kerk)volk te preek!

In die tyd van Bernardus het sake nog 'n bietjie meer agteruitgegaan maar ons sien ook met watter skerp teregwysings hy die hele orde uitskel en ons kan nogtans glo dat hierdie orde destyds baie suiwerder was as wat dit nou is.45

13. Roomse aansprake dat die amp nog suiwer is, is vals.🔗

Maar as iemand hierdie hele vorm van kerkregering wat vandag onder die pousdom geld, behoorlik oorweeg en ondersoek, sal hy vind dat daar geen rowersnes is waarin rowers met groter losbandigheid sonder wet of maat woed nie. Alles is daar beslis so andersoortig, ja, so vreemd aan die instelling van Christus, en het so van die instellinge en die gewoontes van die kerk van ouds ontaard, ja, is so strydig teen die natuur en die rede dat geen groter onreg Christus aangedoen kan word as wanneer hulle sy Naam voorhou om so 'n ordelose regering te verdedig nie. Hulle sê: "Ons is die pilare van die kerk, die voorvegters van die godsdiens, plaasvervangers van Christus en hoofde van die gelowiges omdat die apostoltese mag deur opvolging tot ons gekom het". Hulle pronk altyd met sulke dwaashede asof hulle met stompe praat! Maar so dikwels hulle hierop roem, sal ek hulle op my beurt vra wat hulle met die apostels gemeen het. Dit handel hier trouens nie oor die een of ander oorerflike ereposisie wat maar aan slapers toegeken kan word nie. Nee, dit handel oor die verkondigingsamp wat hulle soveel as moontlik ontwyk.

Net so wanneer ons verklaar dat hulle koninkryk 'n tirannie van die Antichris is, maak hulle dadelik beswaar dat dit 'n eerwaardige hiërargie is wat dikwels deur belangrike en heilige manne geprys is.46 Net asof die heilige kerkvaders, toe hulle die kerklike hiërargie of die geestelike regering soos dit deur die apostels aan hulle oorgedra is, opgehemel het, van hierdie misvormde regering vol chaos en verwoesting gedroom  het waar die biskoppe meesal ongeleerde esels is wat selfs nie eens die eerste en gewone grondbeginsels van die geloof ken nie of soms kinders is wat nog maar onlangs van hulle voedsters af gekom het! En as iemand nog 'n bietjie geleerder is - dit is egter iets wat seldsaam is - dink hulle dat die biskopamp niks anders as 'n titel van prag en praal is nie; waar kerkleiers net so min daaraan dink om hulle kudde te laat wei as 'n skoenmaker om te ploeg; waar alles meer as in die Babelse verstrooiing47 so verward is dat daar geen heel spoor van die instellings van die vaders duidelik is nie.

14. Sedelike gedrag onder Roomse ampsdraers.🔗

Maar wat daarvan as ons na hulle sedes oorgaan? Waar is daardie lig van die wêreld wat Christus as vereiste stel? Waar is die sout van die aarde?48 Waar is daardie heiligheid wat as voortdurende maatstaf van selfkritiek kan dien? Vandag is daar nie 'n stand van mense wat berugter is vir sy uitspattigheid, verwyfdheid, pronkery - kortom, elke soort wellustigheid nie. In geen orde is daar meesters wat deskundiger of bekwamer in elke soort misleiding, bedrog, verraad en ontrouheid is nie. Nêrens is daar so 'n groot geslepenheid of oormoedigheid om skade te berokken nie. Ek verswyg maar hulle vermetelheid, hulle hooghartigheid, hebsug en wreedheid. Ek bly stil oor die ligsinnige losbandigheid van elke aspek van hulle lewe. Die wêreld is so moeg om dit te verdra dat dat daar geen vrees kan bestaan dat dit sou lyk asof ek dit uitermatig oordryf nie. Ek sê slegs een ding wat nie eens hulle kan ontken nie, naamlik dat daar feitlik geeneen van die biskoppe en nie een uit 'n honderd gemeentelike hoofde is wat nie òf uitgeban moet word òf ten minste van sy amp onthef moet word as sy sedes volgens die reëls van ouds beoordeel sou word nie. Dit lyk asof ek iets ongeloofliks sê - so het daardie dissipline van ouds wat voorgeskryf het dat 'n presieser beoordeling van geestelikes se sedes moet plaasvind, in onbruik geraak; maar dit is heeltemal die toedrag van sake. Laat diegene nou maar begaan wat onder die vaandel van die Roomse setel en onder sy beskerming veg en onder mekaar oor hulle priesterorde roem! Die orde wat hulle het, kom beslis nie van Christus of van sy apostels of van die kerkvaders of van die kerk van ouds nie.

15. Die diakens in die Roomse bestel.🔗

Laat die diakens en hulle allerheilige verdeling van kerkgoed nou in die kalklig kom. Tog benoem hulle rans glad nie diakens met die oog hierop nie. Hulle lê trouens geen ander taak op hulle as net om by die altar diens te doen, die evangelie voor te lees of te sing en allerlei onbenullighede te doen nie.49 Daar is niks oor van die liefdesgawes, niks van die versorging van die armes en niks van die hele bedieningsamp wat hulle eertyds gehad het nie. Ek praat nou van die instelling self50 want as ons ondersoek sou instel na wat hulle doen, het hulle in werklikheid geen amp nie. Dit is vir hulle slegs 'n trap na die presbiteramp! In een opsig gee diegene wat die posisie van diakens in die Mis beklee, 'n leë beeld van die ou tyd weer - hulle ontvang die offers trouens voor die wyding. In die kerk van ouds het die gelowiges voor deelname aan die nagmaal mekaar gewoonlik gesoen en hulle liefdesgawes na die altaar gebring. So het hulle hulle liefde eers simbolies en daarna juis met hulle weldaad verklaar. Die diaken wat 'n versorger van die armes was, het ontvang wat daar gegee is, om dit uit te deel.51 Vandag kom daar van hierdie liefdesgawes niks meer by die armes uit as wanneer dit in die see gegooi sou word nie. Met so 'n bedrieglike diakensamp dryf hulle dus die spot met die kerk. Hulle het daarin beslis niks soortgelyks aan die instelling van die apostels of die eertydse reël nie. Die verdeling van (kerk)goed het hulle trouens elders heen oorgedra en dinge so gereël dat niks onordelikers bedink kan word nie. Want soos rowers mense se kele afsny en die buit onder mekaar verdeel, so dink hulle dat, nadat die lig van God se Woord uitgedoof is, asof die kerk se keel afgesny is, alles wat aan heilige gebruike toegesê is, tot buit en plundering vir hulle blootgestel is. Nadat hulle dit dus verdeel het, raap elkeen vir homself soveel daarvan as wat hy kan, bymekaar.

16. Die verdeling van kerkgoed.🔗

Al daardie eertydse beginsels wat ons hier uiteengesit het,52 is nie alleen versteur nie maar volledig uitgewis en vernietig. Die biskoppe en stedelike presbiters wat ryk geword het van hierdie buit en in kanunikke verander is, het die grootste deel (van die buit) onder hulle uitrnekaar geskeur. Dat dit egter 'n oproerige verdeling was, blyk daaruit dat hulle tot vandag toe nog oor die grense twis. Hoe dit ook al sy, met hierdie besluit is gesorg dat nie een enkele stuiwer van al die kerkgoed na die armes terugkeer aan wie ten minste die helfte daarvan behoort het nie. Die kanons ken immers uitdruklik 'n kwart daarvan aan hulle toe en die ander kwart wys hulle aan die biskoppe toe om dit aan gasvryheid en ander weldadigheidspligte te bestee. Ek swyg oor wat die geestelikes met hulle deel moes doen en vir watter doel hulle dit moes aanwend want ons het genoegsaam aangetoon dat die res wat aan die tempels, geboue en ander uitgawes toegewys word, in nood tot die beskikking van die armes moet wees.

Nou vra ek jou: as hulle maar net 'n vonkie vrees vir God in hulle harte gehad het, sou hulle hierdie gewetensvraag kon verdra dat wat hulle ook al eet en aantrek, uit diefstal, of liewer uit heiligskennis tot hulle kom? Maar omdat hulle hulle weinig aan God se oordeel steur, moes hulle ten minste daaraan gedink het dat dit mense met insig en rede is wat hulle wil oortuig dat hulle so 'n pragtige en goedingerigte orde in hulle kerk het as waarop hulle gewoonlik roem. Laat hulle my kortweg antwoord of die diakenamp 'n lisensie is om te steel en te roof. As hulle dit ontken, sal hulle ook gedwing word om te erken dat hulle geen diakenamp oor het nie want die hele hantering van kerklike eiendom is in heiligskennis en plundering omskep.

17. Die standpunt dat die Roomse hiërargie die kerk se grootsheid verseker, is vals.🔗

Maar hier gebruik hulle die pragtigste streek. Hulle sê dat die waardigheid van die kerk paslik deur hierdie grootsheid ondersteun word. En uit hulle sekte het hulle ook sekere mense wat so onbeskaamd is dat hulIe waag om openlik daarop te roem dat die profesieë uiteindelik so vervul sal word. Hiermee het die eertydse profete die glans van die koninkryk van Christus beskryf wanneer daardie koninklike prag in die priesterorde raakgesien kan word. Hulle sê: "God het nie verniet die volgende beloftes aan sy kerk gemaak nie: 'Die konings sal kom; hulle sal voor jou aanbid en vir jou geskenke aanbied'.53 'Ontwaak, ontwaak, O Sion, en beklee jou met sterkte. Jerusalem trek jou sierlike klere aan. Almal sal van Skeba af kom; hulle sal goud en wierook bring en lof aan die Here verkondig: 'Al die vee van Kedar sal vir U versamel word'.54 Ek vrees dat ek onnosel sal lyk as ek te veel daarop staan om hierdie goddeloosheid te weerlê. Ek verkies daarom om nie onbesonne woorde te mors nie. My vraag is nogtans: As 'n Jood dieselfde getuienisse sou misbruik, watter oplossing sal hulle hom gee? Hulle sou hom naamlik vir sy stompsinnigheid teregwys omdat hy iets wat geestelik oor die geestelike koninkryk van Christus gesê is, op die vlees en die wêreld oordra. Ons weet trouens dat die profete die hemelse heerlikheid van God wat in die kerk behoort te skitter, met 'n beeld van aardse dinge vir ons geskets het. Die kerk het immers nooit minder oorvloed aan hierdie seëninge wat die profete se woorde uitdruk, gehad as onder die apostels nie en tog erken almal dat die krag van die koninkryk van Christus toe op sy meeste geblom het. Wat beteken daardie uitsprake dan? Dit naamlik dat alles wat iewers kosbaar, verhewe en voortreflik is, aan die Here onderwerp moet word. Daar word uitdruklik van konings gesê dat hulle hulle septers aan Christus sal onderwerp, dat hulle hulle krone voor sy voete sal neergooi en hulle rykdomme aan die kerk sal wy. Wanneer sal hulle sê, is dit met groter waarheid en duideliker getoon as toe Theodosius sy purperkleed afgegooi, sy regeringsimbole gelos het en hom soos een van die volk in plegtige berou voor God en die kerk onderwerp het?55 Wat daarvan toe hy self en ander dergelike vroom keisers hulle ingespan en hulle aandag daaraan verleen het om die suiwer leer in die kerk te handhaaf en leraars met gesonde verstand aan te moedig en te beskerm? Net een enkele uitspraak van die sinode van Aquileia waarvan Ambrosius voorsitter was, verklaar voldoende dat die priesters destyds nie 'n oormaat oorbodige besittings gehad het nie. Dit lui: 'Heerlik is armoede onder die priesters van die Here!'56 Biskoppe het beslis toe ook sekere besittings gehad waarmee hulle uiterlike eer aan die kerk kon bewys as hulle gereken het dat dit die ware versiering van die kerk is. Aangesien hulle egter daarvan bewus was dat niks strydiger met die herdersamp is as om te skitter met en trots te wees op die smulgeregte van hulle tafels, die glans van hulle kleding, 'n horde slawe en manjifieke paleise nie, het hulle nederigheid en beskeidenheid, ja, juis die armoede wat Christus onder sy diensknegte geheilig het, gevolg en beoefen.

18. Die verkwisting van kerkgelde in die Roomse kerk.🔗

Maar om ons nie langer hiermee besig te hou nie: laat ons weer eens kortliks saamvat hoe ver daardie verdeling, of eerder verkwisting, van kerkeiendom wat tans in swang is, weg is van die ware diakonaat wat die Woord van God ons enersyds beveel en die kerk van ouds andersyds gehandhaaf het. Ek verklaar dat die uitgawes wat aan die versiering van tempels uitgegee word, verkeerd bestee word as daar nie by die maat gehou word wat sowel die aard van die heilige dinge voorskryf, asook die perk wat die apostels en ander heilige vaders in leer sowel as in voorbeeld voorgeskryf het nie. Maar wat kan vandag hieraan gelyk in tempels gesien word? Alles wat - ek sê nie op die spaarsamigheid van ouds nie -, maar op eerlike beskeidenheid gerig is, word vandag verwerp. Niks geval hulle behalwe as dit na oordadigheid en die korrupsie van ons tydsgewrig smaak nie! Intussen is dit verre daarvan dat hulle lewende tempels opreg versorg - in so 'n mate dat hulle baie duisende armes van honger sal laat sterf liewer as om die kleinste bekertjie of kruikie te breek om hulle nood te verlig.

Maar om te voorkom dat ek van my kant af te ernstig daaroor oordeel, sou ek graag wou hê dat godvrugtige lesers moet nadink oor wat Exuperius, die biskop van Toulouse van wie ek reeds melding gemaak het, of Acatius, of Ambrosius of een soos hulle, sou gesê het as dit nou kon gebeur dat hulle uit die dood opgewek kon word.57 Hulle sou dit in elk geval nie goedkeur dat fondse te midde van so 'n groot nood van die armes na iets anders oorgedra word asof dit oortollige fondse is nie. Om maar stil te bly daaroor dat die doelstellings waarop hulle dit bestee - selfs al sou daar geen arm mense wees nie -, in baie opsigte skadelik is, maar in elk geval in geen opsig voordelig nie. Maar ek laat mense maar daar. Hierdie goed is aan Christus toegesê en dit moet gevolglik ooreenkomstig sy wil uitgedeel word. Hulle sal hierdie deel egter tevergeefs as uitgawe vir Christus aangaan as hulle dit buite sy opdrag verkwis. En om die waarheid te sê, word nogtans nie veel van die gewone inkomste van die kerk deur hierdie uitgawes weggesny nie. Geen biskopdom is egter so ryk, geen abdy so welgesteld, en verder geen priesterdom nog so groot en nog so luisterryk dat hulle voldoende is om aan die gulsigheid van die priesters te voldoen nie. Maar wanneer hulle hulleself wil spaar, mislei hulle die (kerk)volk met bygelowigheid om dit wat aan die armes bestee moes word, aan te wend om kerke te bou, standbeelde op te rig, vaatwerk aan te koop en kosbare kledingstukke in die hande te kry. So word die daaglikse liefdesgawes in hierdie afgrond verteer.

19. Slotsom: die diakenamp in die Roomse kerk het so ontaard dat dit nie as sodanig beskou kan word nie.🔗

Wat moet ek sê van die inkomste wat hulle uit huurpag en besittings ontvang anders as wat ek reeds gesê het en wat almal kan sien? Ons sien met watter getrouheid diegene wat biskoppe en abte genoem word, die grootste deel daarvan bestuur. Watter waansinnigheid om hierin kerklike orde te soek! Of was dit betaamlik dat diegene wie se lewe 'n sonderlinge voorbeeld van spaarsamigheid, gematigheid, selfbeheersing en nederigheid moes wees, die weelderige lewenswyse van keisers in die getal lyfwagte, die skoonheid van hulle wonings, kleredrag en die smulgeregte van hulle eetmale moes naboots? En hoe vreemd is dit nie aan die ampsplig van diegene wat die ewige en onskendbare bevel van God verbied om skandelike winsbejag na te jaag en met eenvoudige voedsel tevrede te wees nie?58 Inteendeel, hulle slaan hulle hande nie alleen aan dorpe en vestings nie maar val ook die rykste state aan en beset uiteindelik ryke! As hulle God se Woord verag, wat sal hulle antwoord op die eertydse bevele van sinodes waarvolgens bepaal word dat 'n biskop 'n klein gasvrye woning nie ver van die kerk af nie, goedkoop voedsel en meubels moet hê?59 Wat van die lof van die sinode van Aquileia waarvolgens armoede onder priesters van die Here glorieryk genoem word?60 Want miskien sal hulle Hieronymus se voorskrif aan Nepotianus dat armes sowel as vreemdelinge en met hulle Christus as gas, sy tafeltjie moet ken,61 as uitermatig streng verwerp. Maar hulle sal hulle skaam om dit wat hy dadelik daarna byvoeg, te ontken, naamlik dat dit die heerlikheid van 'n biskop is om in die behoeftes van die armes te voorsien, maar dat dit alle priesters tot skande is om eie rykdom na te streef.62 Tog kan hulle dit nie aanvaar sonder om hulleself almal tot hulle skande te veroordeel nie.

Maar dit is nie nodig om hulle hier te streng aan te val nie aangesien my bedoeling slegs was om aan te dui dat die wettige diakenorde lankal reeds uit hulle midde weggeneem is sodat hulle nie meer daarop kan roem dat dit 'n aanbeveling van hulle kerk is nie. Na my mening het ek dit oorvloedig gedoen.

Endnotes🔗

  1. ^ Waarskynlik'n sinspeling op 'n besluit van die 23ste sessie van die Konsilie van Trente waarin die plek van die biskop bo alle twyfel bo dié van die presbiter gestel is en volgens canon 7 bekragtig is (Mansi 33: 139 - 140). Vgl. ook Thomas, Summa Theol. 2,2.184.6 en 2,2.185 (Marietti 3:858 e.v.) en Lombardus, Sent. 4.24. Die Roomse kerk was deeglik bewus van die gebreke en misbruike in die ampte en kritiek daarop is reeds van Wycliffe en Huss af daarteen uitgespreek. Pous Paulus III het trouens op 4 Junie 1536 en weer op 8 Oktober 1537 aan die kardinale van die Roomse hof opdrag gegee om hierdie misbruike te ondersoek. Die resultaat daarvan was die Consilium delectorum Cardinalium de emendenda ecclesia wat in 1538 verskyn het. Hierdie dokument gee voor dat dit 'n ernstige poging is om veral die sedelike verval in die Roomse kerk aan te spreek en woorde soos hervorming, herstel en verbetering kom baie pertinent daarin voor. Die pous se amp word egter uitdruklik uitgesluit van die ondersoek en dit is beperk tot die priesteramp en enkele aspekte wat betrekking het op die biskopamp. Die 26 aanbevelings daarvan bevat egter ook kritiek teen die ampsvervulling van die kardinale maar dit spreek nie die struktuur van die Roomse hiërargie aan nie. Dit is onder andere deur Contarini en Sadoletus onderteken. Vgl. Kidd, Documents 307 -318.
  2. ^ Die woord canonicus het verskillende betekenisse. Hier dui dit op daardie geestelikes wat onder die jurisdiksie van die biskop geval het en wie se name op die amptelike dienslys (kanon) van permanent aangestelde geestelikes van 'n biskopsetel verskyn het (TRE 4:723; EW5:582. Vgl. ook ML9:464 en RPTK 10:35 e.v.).
  3. ^ Leo I, Ep. 167 (MPL 54:1203).
  4. ^ Cyprianus, 67.4 (CSEL 3,2: 738). Hy verwys dikwels na die gebruik dat die kerkvolk aan die verkiesing deelgeneem het, bv. in Ep.55.8; 59.6; 67.5 (CSEL3,2:629; 673; 739) - 'n gebruik wat hy selfby uitsonderingverbygegaan het (Ep. 38: CSEL3,2:579; MPL(Ep. 33) 4:317 e.v.). Vgl. ook MPL Ep. 68; Ep. 52; Ep. 55; 3:1062; 787; 830.
  5. ^ Decret. Graf. 1.67.1 (MPL 187:351; Friedberg 1:253). Vgl. ook Inst. 4.4.11.
  6. ^ Vgl.die Conc. Laodic. (363) c. 13 (Mansi 2:565); die Decret. Grat. 1.63.6 (MPL187:329; Friedberg 1:236) en Inst. 4.4.12.
  7. ^ Die derde Lateraanse konsilie (1179) het inderdaad voorskrifte vir verkiesings afgekondig en strafmaatreels vir oortredings hiervan bepaal- vgl. hierdie konsilie se kanons 1 en 3 (Mansi 22:217 e.v.)
  8. ^ Marg. 1. Tim. 3.a.1. Vgl.ook 1Tim. 3:2 -7 en (1536 - 1539) Titus 1:7 -9 asook OC 52:279 - 285; 410· 412.
  9. ^ Vgl. Socrates, Hist. eccles. 4.29, 30 (MPG 67:541 - 544).
  10. ^ Fr. 1561: + laquelle ttsont confirmëe par nouveaux Canons (Benoit 4:91). Vgl. die Decret. Grat. 63.8 (Friedberg·1:237).
  11. ^ Calvyn wil dieklem laat val opdiekerkvolk se bevoegdheid om mense totdieampte te verkies. Die feit dat vorste vanaf 865 in Duitsland, Frankryk en Engeland die pous se investituur van biskoppe 'oorgeneem' het, hetdaarom 'geen nuwe skade vir diekerk' veroorsaak nieomdat die pous in elkgeval niehierdie bevoegdheid op Skriftuurlike gronde gehad het nie.
  12. ^ Vgl.Irenaeus, Adv. baer. 3.3.2 (MPG 7,1:848 e.v.), Tertullianus, De praescript. baer. 32 (MPL2:52 e.v., CCSL 1:212 e.v.); Augustinus, Contra ep. Manich. fundament. 4.5 (MPL42:175; CSEL25:196).
  13. ^ Vgl. die derde Lateraanse konsilie (1179) canon 1 -(Mansi 22:217 e.v.) asook die Decret. Grat. 1.67.1, 2 (MPL 187:351; Friedberg 1:253).
  14. ^ Patina verwys hier nie na die nagmaalsbord waarin die brood bedien is nie, maar na die skottel waarin die aalmoese ingesamel is (CCCM, Lexicon lat. med. aevi 661)
  15. ^ Marg. Distinct. 70. cap. 1. Vgl. die Decret. Grat. 1.70.1,2 (MPL 187:355; Friedberg 1:257) en die Konsilie van Chalcedon (451) canon 6 (Mansi 7:362).
  16. ^ Die woord titulus kan onder andere beteken 'n titel, benoeming, ampsbenoeming, amp, reg (CCCM, Lexicon lat. med. aevi 916).
  17. ^ Vgl. die sinode van Piacenza onder Urbanus 11 (1095) canon 15 (Mansi 20:806 e.v.)· - d.i. onderhoud uit kerkfondse.
  18. ^ Vgl. die Decret. Greg. 9.3.5.6 (Friedberg 2:469).
  19. ^ Die Romeinse kopermuntstuk. 'n as, het geringe waarde gehad en kan omtrent weergegee word met 'n stuiwer. Vgl. REW2,2:1499 e.v. 'n Leë benoeming verwys na 'n benoeming waaraan wel 'n inkomste maar geen opdrag nie verbind is.
  20. ^ Die uitdrukking sub arcana stipulatione commodato stam uit die Romeinse reg en beteken'n geheime ooreenkoms om later iets terug te gee. In hierdie sin beteken die uitdrukking hier dat iemand die pous versoek het om hom as priester te orden nadat hy geld van 'n derde party geleen het om op grond daarvan te kan verklaar dat hy voldoende bronne vir sy lewensonderhoud het.
    Nadat hy dan as priester georden is, weier hyom die lening terug te betaal.
  21. ^ Vgl. Inst. 4.4.3 -5 en vir die wyse warop dit in Gèneve hanteer is, die Ordonnances Ecclessiastiques (1541) (OC 10,1:17 - 25).
  22. ^ vicarios. In die R.-K. kerkreg is 'n vicarius 'n plaasvervanger van 'n kerklike ampsdraer wie se volmag en funksie hy deels of geheel op 'n tydelike of permanente grondslag verrig. Die Kardinaal-Vikaris vir die bestuur van die bisdom van Rome tree byvoorbeeld as plaasvervanger van die pous op terwyl die Vikaris-generaal die algemene plaasvervanger van 'n biskop is (CE 6:489; EW 10:312).
  23. ^ Vir Ceres vgl. Kleine Pauly 1:113 e.v.; REW 3:1970 e.v., Horatlus, 3.2.26 - 28 (LeL 176 e.v.) en Suetonius, Augustus 93 (LCL 1:263).
  24. ^ Collatio beneficierum is die toekenning van 'n vaste kerklike inkomste deur die pous of 'n biskop aan wie hierdie reg verleen is. 'n Bekleër van 'n amp . officium - het dit gewoonlik ontvang en daarom dui hierdie woord ook op 'n amp met 'n vaste inkomste. Vgl. die voormelde De emendenda ecclesia se identifikasie van hierdie misbruik as een van die belangrikste oorwegings om hervorming in die Roomse kerk aan te bring. (Kidd, Documents 310). Vgl. CE 1:556. Calvyn het self op 19 Mei 1521 in Noyon op twaalfjarige ouderdom so 'n toekenning ontvang en dit op 4 Mei 1534 beëindig. Vgl. Afr. vert. 1:4.
  25. ^ Die woord simonie het ontstaan na aanleiding van Simon die towenaar se versoek dat Petrus en Johannes teen betaling die gawe om die Heilige Gees aan ander oor te dra, ook aan hom moes verleen. Vgl. Hand. 8:9 - 24. Die verkryging van geestelike volmag teen betaling oor wêreldse goed, is reeds vanaf 1000 n.C. teengestaan. In art. 80 K.O. is simonie een van die growwe sondes wat skorsing of afsetting uit die diens verdien. Dit word ook gesuggereer in art. 31 NGB. Vgl. Calvyn se kommentaar oor Hand. 8:20 - 21 (OC 48:178 e.v.) waar hy Simon die towenaar se dwaling toeskryf aan 'n gebrek aan selfverloëning en geldgierigheid asook die Konsilie van Chalcedon (451) canon 2 (Mansi 7:373), Gregorius, Ep. 9.218 (MGH Ep. 2:206 e.v.) en die De emendenda ecclesia (Kidd, Documents 311,316).
  26. ^ Die verwysing is na die geskenke wat die Romeinse keisers gewoonlik na oorwinnlngs aan hulle soldate gegee het. Vgl. REW5,2:1542.
  27. ^ Vgl. die De emendenda ecclesia abusus 1 (Kiddt Documents 310).
  28. ^ Vgl. o.a. die Konsilie van Chalcedon (451) canon 10 (Mansi 7:362); die sestiende Konsilie van Toledo (693) canon 5 (Mansi 12:72); die tweede Konsilie van Nicéa (787) canon 15 (Mansi 13:753) en die Konsilie van Plaisance (1095) canon 15 (Mansi 20:806 e.v.).
  29. ^ Die afwesigheid van biskoppe van hulle ampsgebied het in Calvyn se tyd ontstellende afmetings aangeneem en word heftig aangeval in die De emendenda art. 8: Die ampsplig van 'n kardinaal is om u hoogheid (die pous) in die regering van die universele kerk byte staan, maar dit is die biskop se plig om sy kudde te laat wei; hy kan dit egter nie na behore doen tensy hy saam met sy skape woon soos 'n herder saam met sy kudde nie (Kidd, Documents 312).
  30. ^ Marg. Epist. 11. lib. 3. Gregorius, Ep. 4.11 (MPL 77:680). Vgl. die Decret. Grat. 2.16.1.38 (MPL 187:1003; Friedberg 1:771).
  31. ^ Vgl. die Decret. Grat. 2.16.1.22, 25 (MPL 187:997 e.v.; Friedberg 1:766, 767).
  32. ^ Hieronymus, Ep. 51.1 - 'n aanhaling in Latyn uit 'n Griekse brief van Epiphanius aan Johannes van Jerusalem (MPL 22;518; CSEL 54:396).
  33. ^ Marg. Act. 20.f28. Vgl. OC 48:467 - 470.
  34. ^ Vgl. Basilius, Constit. monastic.9 (MPG 31:1370).
  35. ^ Vgl. Inst. 4.5.6 n. 19 hierbo.
  36. ^ Marg. 1. Cor. 4.a.l. Vgl. ook Joh. 10:1 e.v. en OC 49:362; 47:236 e.v,
  37. ^ Inst. 4.18.3, 7.
  38. ^ Vgl. 1 Kor. 10:20.
  39. ^ Vgl. Inst. 4.4.3.
  40. ^ Vgl. Inst. 4.5.7 hierbo.
  41. ^ Marg. Homil l7. Gregorius, Homil. in ev. 1.17.3 (MPL 76:1139).
  42. ^ Ibidem, 1.17.4 (MPL 76:1140).
  43. ^ Ibidem, 1.17.8 (MPL 76:1142).
  44. ^ Ibidem, 1.17.14 (MPL 76:1146).
  45. ^ Bernardus van Clairvaux, De mortbus et officio episcop. 2.4 - 5; 8.25, 27 - 29 (MPL 182:812 e.v.; 825 e.v.).
  46. ^ Vgl. Pighius, Hierarcbiae eccl. assertic (1538) en Clichtovius, Antilutberus, 2.2 fo. 57a . b; 65a 67b asook Hand. 17:34 en Inst. 1.14.4 n.19 (Afr. ven. 1:263).
  47. ^ Gen. 11:6 - 9.
  48. ^ Marg. Matth. 5.b.14. Vgl. ook Matt. 5:13 en oe 45:167 - 169.
  49. ^ Vgl. Lombardus, Sent. 4.24.8 (MPL 192:903).
  50. ^ Fr. 1545 - 1561: + qu 'ils tiennent comme leur vraye reigle (Benoit 4:100).
  51. ^ Vgl. Inst. 4.5.5; 4.19.32.
  52. ^ Vgl. Inst. 4.4.7.
  53. ^ Marg. Psal. 72.c.l0. Vgl. ook die daaropvolgende verse en OC 31:668 e.v.
  54. ^ Marg. Iesa. 52.a.1 & 60.a.6. Vgl. ook die volgende verse en OC 37:243 e.v.; 357.
  55. ^ Vgl. Cassiodorus, Hist. tripartita 9.30 (MPL69:1145).
  56. ^ Ambrosius was nie die voorsitter van hierdie Konsilie nie, maar Valerius van Aquileia en Calvyn se aanhaling kom ook nie uit die handelinge van hierdie Konsilie nie maar uit Ambroslus, Ep. 10.2 (MPL 16:940).
  57. ^ Vgl. Inst. 4.4.8.
  58. ^ Marg. Tit. 1.b. 7.
  59. ^ Marg. Concil. Cartbag. 4. cap. 14 &15. Vgl. die versameling van die werke van Pseudo-Isidorus by MPL84:201 e.v. wat ooreenstem met die Statuta eecles. antiqua c. 14,15 (Mansi 3:952). Vgl. ook Inst. 4.4.2
  60. ^ Vgl. Inst. 4.5.17, n. 51 hierbo
  61. ^ Hieronymus, Ep. 52.5 (ad Nepotianum) (MPL 22:531)
  62. ^ Ibidem, MPL 22:533.