Calvyn vergelyk die ware kerk en die valse kerk, met spesifieke verwysing na die Jode/Israeliete en die Roomse kerk.
Die kerk is gevestig op die leer van die apostels en die profete en strek wêreldwyd onder die een Hoof Christus. Tog kan daar afgodsdiens in ‘n kerk bestaan, maar die individuele gelowige mag nie gedwing word om daaraan deel te neem nie. In ‘n dwalende kerk kan daar steeds spore van die ware kerk wees.

1984. 15 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 4 Hoofstuk 2 ‘n Vergelyking tussen die valse kerk en die ware kerk

1. 'n Herbeklemtoning van die eienskappe van die ware kerk.🔗

Ons het reeds verduidelik hoeveel krag die bediening van die Woord en die sakramente onder ons behoort te hê en hoe ver die eerbied hiervoor behoort te strek om voortdurend vir ons 'n teken te wees om die kerk te onderskei.1 Dit is naamlik dat, oral waar hierdie bediening ongeskonde en onbedorwe bestaan, dit deur geen sedelike gebreke of foute verhinder word om die naam kerk te dra nie. Vervolgens het ons verduidelik dat dit nie deur onbeduidende foute in die bediening so geskend word dat dit as onwettig geag moet word nie. Verder is aangetoon dat foute wat vergiffenis verdien, sodanig is dat die belangrikste aspekte van die leer van ons godsdiens nie daardeur geskaad en die hoofpunte van die godsdiens waaroor alle gelowiges ooreen behoort te stem, nie daardeur onderdruk word nie.2 In die geval van die sakramente is dit foute wat nie die wettige instelling van die Skepper daarvan tot niet maak en verwoes nie.

Sodra 'n leuen egter in die vesting van die godsdiens inbars, sodra die somtotaal van die noodsaaklike leer vernietig is en die gebruik van die sakramente in duie stort, volg die ondergang van die kerk tog sekerlik soos wanneer dit klaarpraat is met iemand se lewe as sy keel deurboor en sy hart 'n dodelike wond opgedoen het. En dit kan ook duidelik uit Paulus se woorde bewys word wanneer hy leer dat die kerk op die leer van die profete en apostels gebou is, terwyl Christus self die belangrikste hoeksteen daarvan is.3 As die fondament van die kerk die leer van die apostels en profete is waarvolgens gelowiges gebied word om hulle saligheid in Christus alleen te stel, hoe sal die gebou dan staande bly as jy die leer wegneem? Die kerk moet dus noodwendig ineentuimel wanneer daardie somtotaal van die godsdiens wat dit alleen staande kan hou, in duie stort. Verder, as die kerk dan die pilaar en grondslag van waarheid is,4 is daar beslis geen kerk waar die leuen en valsheid regeer nie.

2. Die Roomse kerk.🔗

Aangesien dit die toedrag van sake onder die pousdom5 is, kan ons verstaan wat van die kerk daar oorgebly het.6 In plaas van die bediening van die Woord regeer 'n verwronge regering daar wat uit leuens aanmekaar gelap is, en dit het die suiwer lig gedeeltelik uitgedoof en gedeeltelik versmoor. In die plek van die nagmaal van die Here het die afstootlikste heiligskennis gekom. Die diens van God is met 'n uiteenlopende en ondraaglike hoop bygelowe misvorm. Die leer waarsonder die Christendom nie kan bestaan nie, is heeltemal begrawe en verwerp. Openbare kerkbyeenkomste het skole van afgodery en goddeloosheid geword. Daarom is daar geen gevaar dat ons van die kerk van Christus afgeskeur word as ons ons aan die dodelike deelname aan soveel oortredings onttrek nie. Die gemeenskap van die kerk is nie ingestel met die verstandhouding dat dit ons in afgodery, goddeloosheid, onkunde oor God en ander soorte euwels moet verstrik nie, maar eerder om ons aan die vrees vir God en gehoorsaamheid aan die waarheid te hou.

Hulle7 swaai hulle kerk weliswaar grootse lof toe sodat dit vir ons lyk asof daar geen ander kerk op die wêreld bestaan nie. Asof die saak dan afgehandel is, bepaal hulle daarna dat almal skeurders is wat hulle van gehoorsaamheid aan hierdie kerk wat hulle skilder, onttrek; en dat almal ketters is wat teen die leer van daardie kerk durf fluister. Maar op watter gronde verklaar hulle dat hulle kerk die ware kerk is? Uit die ou geskiedenisse8 voer hulle aan wat eenmaal in Italië, Frankryk en Spanje gebeur het; hulle verklaar dat hulle ontstaan het uit daardie heilige manne wat kerke op 'n gesonde leer gevestig en opgerig het, en wat juis hierdie leer en die stigting van die kerk met hulle bloed bekragtig het. Hulle verklaar verder dat die kerk onder hulle inderdaad sowel deur geestelike gawes as die bloed van martelare geheilig is en deur die aaneenlopende opvolging van biskoppe bewaar is sodat dit nie ten gronde moes gaan nie. Hulle herinner ons aan hoe hoog Irenaeus, Tertullianus, Origenes, Augustinus en ander9 hierdie opeenvolging aangeslaan het.

Ek sal sonder moeite sorg dat mense wat daardie redes vir 'n klein rukkie saam met my wil oorweeg, kan begryp hoe ligsinnig en duidelik belaglik voorstanders van die pousdom is. Ek sou my lesers weliswaar ook aanspoor om ernstig hieraan aandag te gee aangesien ek vertrou dat ek hulle miskien deur my onderwysing tot voordeel kan strek. Maar aangesien die pousgesindes slegs een doel het, naamlik om sonder inagneming van die waarheid met elke moontlike weg hulle saak te verdedig, sal ek slegs 'n paar dinge sê waarmee goeie manne en yweraars vir die waarheid hulle uit hulle skelmstreke kan loswikkel.

My eerste vraag aan die pousgesindes is waarom hulle nie Afrika, Egipte en die hele Asië vermeld nie. Dit is naamlik omdat hierdie heilige opvolging van biskoppe - 'n weldaad waarop hulle roem dat hulle die kerk daarmee behou het -, opgehou het om in al hierdie streke te bestaan. Nou val hulle derhalwe daarop terug dat hulle die ware kerk het omdat dit sedert sy ontstaan nooit sonder biskoppe was nie, want die een het die ander in 'n onafgebroke reeks opgevolg. Maar wat daarvan as ek Griekeland aan hulle voorhou? Ek vra hulle dus weer eens waarom hulle beweer dat die kerk onder die Grieke tot niet gegaan het terwyl die opvolging van die biskoppe - in hulle opvatting die enigste bewaker en bewaarder van die kerk -, nooit daar onder hulle onderbreek is nie. Hulle maak van die Grieke skeurders; volgens watter reg?10 "Omdat hulle die voorreg verloor het deur van die apostoliese setel weg te skeur." Hoe dan nou? Mense wat van Christus afvallig word, verdien dit tog baie meer, of hoe? Daaruit volg dus dat die voorwendsel van opvolging verdwyn tensy die nageslag die waarheid van Christus wat hulle van hulle vaders se hand ontvang het, ongeskonde en onbedorwe hou en daarin bly.

3. Die ooreenkoms tussen die Jode en die Roomse kerk.🔗

Gevolglik hou die Romaniste vandag nie 'n ander dekmantel voor as wat die Jode eertyds skynbaar voorgehou het toe hulle deur die profete van die Here van blindheid, goddeloosheid en afgodediens beskuldig is nie.11 Want soos hulle het die Jode ook grootpraterig oor hulle tempel, hulle seremonies en hulle priesterampte geroem en die kerk, soos dit vir hulle gelyk het, met groot stelligheid aan die hand van hierdie dinge gemeet. Net so word in plaas van die kerk sekere uitwendige skimme deur die Romaniste voorgehou wat dikwels ver van die kerk af is en waarsonder die kerk nog baie goed staande kan bly. Daarom hoef ons hulle nie met 'n ander bewys te weerspreek as dié waarmee Jeremia teen die dwase selfvertroue van die Jode gestry het nie. Hy sê naamlik dat hulle nie op leuenagtige woorde moes roem en sê: 'Dit is tempel van die Here, die tempel van die Here, dit is die tempel van die Here' nie.12 Want die Here erken nêrens 'n tempel as syne nie tensy sy Woord daar aangehoor en eerbiedig onderhou word. Hoewel die heerlikheid van God dus in die heiligdom onder die gérubs gesit het13 en Hy beloof het dat dit sy vaste troon sou wees, gaan Hy na 'n ander plek en laat Hy hierdie plek sonder heiligheid wanneer die priesters sy diens met goddelose bygelowe bederf. As daardie tempel wat klaarblyklik as ewige woonplek van God gewy is, deur God verlaat en onrein kon word,14 is daar geen grond waarom hulle vir ons die versinsel skep dat God so aan persone en plekke gebind, en so aan uiterlike instellings vasgebind is dat Hy onder mense moet bly wat slegs die titel en skyn van 'n kerk het nie.

En dit is juis die standpunt wat Paulus van hoofstuk nege tot twaalf van sy brief aan die Romeine huldig.15 Dit het swak gewetens trouens heftig ontstel dat, terwyl dit gelyk het asof die Jode God se volk is, hulle nie alleen die leer van die evangelie verwerp het nie, maar dit ook vervolg het. Nadat hy die leer dus verduidelik het, ruim hy die probleem uit die weg en hy verklaar dat die Jode wat vyande van die waarheid is, nie die kerk is nie, ofskoon niks hulle andersins ontbreek het wat nodig kon wees vir die uiterlike gestalte van die kerk nie. Hy ontken dat hulle die kerk is omdat hulle Christus nie omhels het nie.16

Hy stel dit iet wat uitdrukliker in sy brief aan die Galasiërs. Wanneer hy Ismael met Isak vergelyk, sê hy dat baie mense in die kerk plek het maar dat die erfdeel hulle nie toekom nie omdat hulle nie die nasate van 'n vry moeder is nie.17 Daarna gaan hy ook oor tot 'n vergelyking van die twee Jerusalems want soos die wet op die berg Sinai gegee is, so het die evangelie inderdaad uit Jerusalem gekom.18 So spog baie mense wat as slawe gebore is en opgegroei het, sonder aarseling dat hulle kinders van  God en die kerk is. Ja, hulle sien hooghartig neer op die egte kinders van God hoewel hulle self basters is. So ver dit ons aan die ander kant aangaan: wanneer ons hoor dat daar een keer uit die hemel aangekondig is: "Jaag hierdie slavin en haar seun weg",19 steun ons op hierdie onskendbare besluit en verwerp hulle onverstandige geroem. Want as hulle op uiterlike gegewens roem: Ismael was ook besny,20 as hulle met oudheid stry: hy was die eersgeborene en nogtans merk ons dat hy verstoot word.21 As daar na die oorsaak daarvan gevra word, skryf Paulus dit daaraan toe dat diegene wat nie uit die suiwer en wettige saad van die leer gebore is nie, nie as kinders (van God) gereken word nie.22

Volgens hierdie verklaring ontken God dat Hy aan goddelose priesters gebind is omdat Hy met hulle vader Levi 'n verbond gesluit het dat dat hy sy engel of vertolker sal wees; inteendeel, Hy keer die valse roem, waarmee hulle gewoonlik teen die profete opgestaan het, teen hulle om, naamlik dat die aansien van die priesteramp besonder waardevol geag moes word.23 God gee dit geredelik toe en stry met hulle daaroor dat Hy bereid is om sy verbond te bewaar, maar wanneer hulle nie op hulle beurt daaraan beantwoord nie, verdien hulle om verwerp te word. Kyk net watter waarde hulle opvolging het as navolging en 'n gelykmatige voortgang nie daarmee verbind is nie! Sodra bewys word dat die nageslag van hulle oorsprong afgewyk het, word alle eer hulle immers ontneem.24 Behalwe miskien dat daardie goddelose vergadering die titel kerk waardig was omdat Kajafas25 baie vroom priesters opgevolg het; ja, van Aaron af tot by hom was daar 'n aaneenlopende reeks. Maar selfs nie eens in 'n aardse regering sou dit geduld kon word dat die tirannie van Caligula, Nero, Heliogabalus en dergelikes as 'n ware staat van 'n republiek aangesien is bloot omdat hulle 'n Brutus, 'n Scipio en 'n Camillus26 opgevolg het nie.27 Maar veral in die kerkregering is niks ligsinniger as om die leer buite rekening te laat en die opvolging (slegs) in persone te stel nie. Die heilige geleerdes wat hulle valslik aan ons opdring,28 het niks minder bedoel as om kort en klaar as't ware aan die hand van die erfreg te bewys dat die kerk oral bestaan waar een biskop 'n ander opgevolg het nie. Maar aangesien daar geen geskil daaroor bestaan het dat van die begin af tot in daardie tyd niks in die leer verander is nie,29 het hulle vir hulle die beginsel aangeneem - en dit was voldoende om alle nuwe dwalings tot niet te maak, dat die leer wat van die apostels af bestendig en eenstemmig gehandhaaf is, die stryd vir hulle moes voer. Daar is dus geen rede waarom hulle moet voortgaan om ons langer met die naam kerk te bedrieg30 wat ons eerbiedig eer soos dit hoort nie. Maar wanneer hulle by 'n definisie (van die kerk) kom, kleef die water nie alleen aan hulle,31 soos die spreekwoord lui nie, maar hulle sit ook in hulle eie modder vas omdat hulle 'n stinkende hoer in die plek van Christus se heilige bruid stel. Om egter te voorkom dat hierdie plaasvervanger ons mislei, moet behalwe ander waarskuwings die volgende vermaning van Augustinus ons te binne skiet. Wanneer hy oor die kerk praat, sê hy: "Die kerk is soms verduister, asof dit deur 'n menigte struikelblokke soos deur 'n wolk benewel is; in 'n ryd van rustigheid lyk dit soms rustig en vry, soms word dit onder 'n vlaag beproewings en versoekings begrawe en in beroering gebring".32 Dan haal hy voorbeelde aan om aan te toon dat die stewigste pilare (van die kerk) baie dikwels moedig verbanning vir hulle geloof moes verduur of  hulle vir die hele wêreld moes versteek.33

4. 'Elkeen wat uit die waarbeid is, luister na my stem'🔗

Dit is hoe die Romaniste34 ons vandag treiter en onervare mense die skrik op die lyf jaag met die woord kerk 35 hoewel hulle self dodelike vyande van Christus is.36 Al sou hulle dus die tempel, die priesteramp en al die ander soortgelyke skimme voorhou, behoort hierdie leë glans waarmee hulle die oë van eenvoudiges verblind, ons glad nie te beïnvloed om te aanvaar dat 'n kerk (iewers) bestaan waar die Woord van God nie is nie. Want die volgende is 'n blywende teken waarmee ons Here diegene wat aan Hom behoort, verseël het toe Hy gesê het: "Iemand wat uit die waarheid is, luister na my stem".37 Net so: "Ek is die goeie herder en Ek ken my skape en Ek word deur myne geken".38 "My skape luister na my stem en Ek ken hulle en hulle volg My".39 'n Bietjie vroeër het Hy gesê: "Die skape volg hulle herder omdat hulle sy stem ken; maar hulle volg nie 'n vreemdeling nie maar vlug van hom af weg omdat hulle nie die stem van vreemdelinge ken nie"40 Maar waarom gaan ons self so waansirmig te kere in ons poging om te bepaal wat die kerk is, terwyl Christus dit met 'n teken waaroor daar geen twyfel kan bestaan nie, beseël het? Waar hierdie teken ook al te sien is, kan dit nie anders as om die kerk daar aan te wys nie, maar as dit ontbreek, bly daar niks oor om 'n ware aanduiding van die kerk te gee nie. Paulus herinner ons daaraan dat die kerk nie op die oordeel van mense en ook nie op die priesteramp gevestig is nie, maar op die leer van die apostels en die profete.41 Nee, Jerusalem moet eerder met hierdie toetssteen van Babilon, en die kerk van Christus van die sameswering van die Satan onderskei word waarmee Christus tussen hulle onderskeid gemaak het toe Hy gesê het: "Hy wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie".42

Samevattend kom dit hierop neer: aangesien die kerk die koninkryk van Christus is en Hy slegs met sy Woord daaroor regeer, sal dit dan vir enigeen onduidelik wees dat dit leuenagtige woorde is waarmee die ryk van Christus sonder sy septer - dit is, sonder sy heilige Woord43 -, versin word?

5. 'n Weerlegging van die Roomse klag dat die Protestante skeurders en ketters is.🔗

Dit is inderdaad 'n uiters ernstige beskuldiging dat hulle ons van skeurmakery en kettery beskuldig44 omdat ons 'n leer verkondig wat van hulle s'n verskil; dat ons hulle wette nie gehoorsaam nie en dat ons afsonderlik vergader om te bid, te doop, die nagmaal te bedien en ander heilige handelinge te beoefen.45 Dit het egter glad nie 'n lang en inspannende verdediging nodig nie.

Mense wat skeiding maak en die gemeenskap van die kerk verskeur, word ketters en skeurders genoem. Hierdie gemeenskap word verder deur twee bande aanmekaar gehou, naamlik instemming met die gesonde leer en broederliefde. Daarom poneer Augustinus die volgende onderskeid tussen ketters en skeurders, naamlik dat ketters die opregtheid van die geloof met valse leerstellings verdraai, maar dat skeurders die gemeenskapsband verbreek hoewel hulle soms dieselfde geloof het.46 Maar ons moet ook daarop let dat hierdie liefdesverbintenis so van geloofseenheid afhanklik is dat hierdie liefdesband die begin, die einde en ten slotte die enigste maatstaf van hierdie eenheid behoort te wees.

Laat ons dus daaraan gedagtig wees dat, so dikwels as wat kerkeenheid by ons aangeprys word, die vereiste dit is dat, terwyl ons verstand in Christus eenstemmig is, ons wil ook met wedersydse welwillendheid in Christus aan mekaar verbonde moet wees. Wanneer Paulus ons derhalwe daartoe aanspoor, neem hy as grondslag daarvoor dat daar een God, een geloof en een doop is.47 Ja, oral waar hy ons leer om een van gevoel en een van wil te wees, voeg hy dadelik by: "In Christus", of "Volgens Christus".48 Daarmee gee hy te kenne dat iets wat sonder die Woord van die Here gebeur, nie die eensgesindheid van gelowiges is nie maar 'n kliek van goddeloses.

6. Cyprianus se opvatting oor die eenheid van die kerk.🔗

Cyprianus lei ook in navolging van Paulus die bron van eensgesindheid van die hele kerk uit Christus se biskopamp alleen af.49 Daarna voeg hy by: "Die kerk is een en is wyd uitgesprei tot 'n menigte deur die groei in vrugbaarheid - soos die son baie strale het, maar net een lig; soos 'n boom baie takke het maar net een stam wat met 'n taai wortel (in die grond) gewortel is. En wanneer verskeie strome uit een bron afvloei, sou dit kon lyk asof die talrykheid (van die strome) as gevolg van die milddadigheid van die oorstromende oorvloed verspreid wegloop, en tog bly daar eenheid in hulle oorsprong. Skeur maar 'n straal weg van die liggaam van die son: die eenheid ondergaan geen skeiding nie. Breek 'n tak van 'n boom af: die gebreekte tak kan nie uitspruit nie. Sny 'n stroom van die bron af: wanneer dit afgesny is, droog dit weg. So strek die kerk van die Here, deurdring met lig, oor die hele wêreld, en tog is dit net een lig wat oral uitgesprei is".50 Niks smaakvoller kan gesê word om daardie ondeelbare verbintenis wat al die lidmate van Christus onderling het, uit te druk nie. Ons sien hoe hy ons herhaaldelik na die Hoof self terugroep.51 Daarom verklaar hy dat kettery en skeuring daaruit ontstaan dat mense nie na die oorsprong van die waarheid terugkeer, hulle Hoof nie soek nie en die leer van hulle hemelse Meester nie bewaar nie.52

Laat hulle53 nou gaan en uitroep dat ons ketters is omdat ons ons van hulIe kerk onttrek het hoewel die enigste rede vir ons vervreemding dit was dat hulle die suiwer belydenis van die waarheid hoegenaamd nie kan duld nie. Ek verswyg maar die feit dat hulle ons met banvloeke en dreigemente uit die kerk verdryf het54 - en dit is meer as 'genoeg rede om ons vry te spreek - behalwe miskien as hulle die apostels met wie ons een en dieselfde saak het, ook vir skeuring wou verdoem! Ek sê: Christus het vir sy apostels voorspel dat hulle ter wille van sy Naam uit die sinagoges uitgegooi sou word.55 Verder was die sinagoges waarvan Hy praat, toe as wettige kerke beskou. Aangesien dit dus vas en seker is dat ons uit die kerk uitgegooi is, en ons gereed is om te bewys dat dit ter wille van Christus se Naam gebeur het, moet ons saak beslis eers ondersoek word voordat na die een of na die ander kant oor ons besluit word. Maar as hulle dit so wil, vergeef ek hulle met graagte want dit is vir my ruimskoots duidelik dat ons ons van hulle moes onttrek om na Christus te gaan.

7. 'n Vergelyking tussen die Roomse kerk en die Israeliete in die tyd van die profete.🔗

Maar dit sal selfs nog duideliker blyk hoe ons al die kerke wat die tirannie van daardie Roomse afgod ingeneem het, moet beskou as ons dit met die Israelitiese kerk van ouds vergelyk soos dit onder die profete vir ons afgeteken is. Destyds was daar 'n ware kerk onder die Jode en Israeliete toe hulle die voorwaardes van die verbond nagekom het natuurlik omdat hulle deur God se weldadigheid die dinge gekry het waardeur die kerk aanmekaar gehou word. In die wet het hulle die leer van die waarheid gehad en die bediening daarvan was in die hande van die priesters en die profete. Deur die teken van die besnydenis is hulle in die godsdiens ingelei en met ander sakramente geoefen om hulle  geloof te versterk. Daar kan geen twyfel daaroor bestaan dat die lofbetuigings waarmee die Here sy kerk vereer het, hulle gemeenskap toegekom het nie. Maar toe hulle die wet van die Here verlaat en in afgodediens en bygeloof ontaard het, het hulle daardie voorreg gel deeltelik verbeur. Wie sou immers waag om die titel kerkweg te skeur van mense aan wie God die verkondiging van sy Woord en die onderhouding van sy sakramente toevertrou het? Wie sou aan die ander kant waag om 'n vergadering sonder voorbehoud kerk te noem waar die Woord van die Here oop en bloot en straffeloos vertrap word; waar die Woordbediening - die belangrikste senuwee en daarom ook die siel van die kerk -, verwoes is?

8. Ten spyte van hulle afgodediens het die kerk nogtans onder die Jode bly bestaan.🔗

"Hoe dan nou?" sal iemand vra. "Was daar dan sedert die tyd waarop hulle in afgodediens verval het, dan geen deeltjie van die kerk onder die Jode oor nie?" Die antwoord hierop is maklik. Ten eerste sê ek dat daar juis in hulle verval sekere trappe was want ons sal nie sê dat Juda en Israel se val dieselfde was sedert die tyd waarop beide eerste van God se suiwer diens afgewyk het nie. Toe Jerobeam strydig met God se uitdruklike gebod, kalwers gemaak het en 'n ongeoorloofde plek vir aanbidding gewy het, het hy die godsdiens heeltemal vermink.56 Die mense van Juda het hulle eers met goddelose en bygelowige lewensgewoontes besmet voordat hulle veranderings aan die uitwendige vorms van die godsdiens aangebring het. Want hoewel hulle oor die algemeen reeds onder Rehabeam baie bedorwe seremonies vir hulle aangeneem het,57 het die godvrugtiges daar nogtans draaglike kerkstatus gehad omdat die leer van die wet, die priesteramp sowel as die ritusse soos God dit ingestel het, nog in jerusalem bly bestaan het. Die toestand in Israel tot by die ryk van Agab was glad nie beter nie en het toe inderdaad nog slegter geword.58 Die konings wat daarna tot by die val van die koninkryk gevolg het, was gedeeltelik soos Agab, en gedeeltelik het hulle Jerobeam se voorbeeld gevolg wanneer hulle 'n bietjie beter wou wees. Hulle was egter een en almal goddeloos en afgode aanbidders. In Juda is daar af en toe verskeie veranderings aangebring. Sommige konings het die diens van God met valse en versonne bygelowe verwring en ander het die vernietigde godsdiens herstel totdat selfs die priesters uiteindelik die tempel van God met onheilige en afstootlike ritusse verontreinig het.59

9. Die Roomse kerk stel twee eise aan Protestante: eerbiediging van die Roomse sakramente en erkenning van die Roomse jurisdiksie: die eerste eis.🔗

Kom, laat die aanhangers van die pousdom nou ontken as hulle kan, dat die toestand van die godsdiens onder hulle so bedorwe en vermink is as wat dit in die koninkryk van Israel onder Jerobeam was - al sou hulle hulle gebreke ook grootliks vergoelik. En tog het hulle 'n grower afgodediens en in hulle leer is hulle nie 'n enkele druppeltjie suiwerder nie maar juis hierin miskien nog onsuiwerder! God, ja, almal wat maar net 'n effense oordeel het, sal my getuies wees en die toedrag van sake self bevestig ook dat ek hier niks vergroot nie. Wanneer hulle ons nou tot gemeenskap met hulle kerk wil dwing, vereis hulle twee dinge van ons: ten eerste, dat ons in al hulle gebede, sakramente en seremonies met hulle moet deelneem; ten tweede, dat ons aan hulle kerk dieselfde eer, mag en jurisdiksie moet verleen as wat Christus aan sy kerk gegee het.60

Sover dit hulle eerste eis aangaan, erken ek dat al die profete wat in Jerusalem was toe sake daar reeds baie bedorwe was, nie hulle offers afsonderlik gebring het nie en ook dat hulle nie afsonderlik van die res byeengekom het om te bid nie. Hulle het trouens 'n gebod van God gehad waarvolgens hulle gebied is om in Salomo se tempel bymekaar te kom.61 Hulle het ook geweet dat die Levitiese priesters regtens hierdie posisie beklee het en dat hulle nog nie verstoot is nie hoewel hulle hierdie eer nie waardig was nie, omdat priesters van heilige ritusse deur die Here ingestel is.62 Maar - en dit is inderdaad die kern van hierdie hele vraagstuk -, hulle is na geen bygelowige diens gedwing nie, inteendeel, hulle het niks onderneem wat nie deur God ingestel is nie. Is daar onder hierdie mense - nou praat ek van die pousdom -, iets soortgelyks? Ons kan beswaarlik saam met hulle vergader sonder om ons met openlike afgodediens te besoedel. Die belangrikste band van hulle gemeenskap is beslis in die Mis wat ons as die grootste heiligskennis verafsku. En ons sal elders63 ondersoek daarna instel of ons dit met reg of onbesonne doen.

Nou is dit voldoende om aan te toon dat ons ten opsigte van hierdie aspek 'n ander rede as die profete het. Hoewel hulle by die seremonies van die goddeloses aanwesig was, is hulle nie gedwing om enigeen daarvan te aanskou of te gebruik behalwe die wat deur God ingestel is nie. Maar as ons 'n voorbeeld wil hê wat volkome gelyk is, laat ons dan een uit die koninkryk van Israel neem. Volgens Jerobeam se bepalings het die besnydenis gebly, die offers is gebring. die wet is as heilig beskou en die God is aangeroep wat hulle van hulle vaders ontvang het. God het dit egter afgekeur en verdoem omdat alles wat daar gedoen is, versonne en verbode diens was.64 Wys my een profeet, of een vroom man wat een keer in Betel aanbid of geoffer het. Hulle was immers bewus daarvan dat hulle dit nie sou doen sonder om hulle met die een of ander heiligskennis te besoedel nie. Ons weet dus nou dat die gemeenskap van die kerk nie onder godvrugtiges soveel krag behoort te hê dat hulle dit noodwendig moet volg as dit in onheilige en besoedelde ritusse verval nie.

10. 'n Behandeling van die tweede eis: erkenning van die Roomse jurisdiksie.🔗

Maar oor die tweede deel van hulle eis stry ons selfs nog meer. As ons trouens so aan die kerk dink dat ons die oordeel daarvan moet eerbiedig, ons aan die gesag daarvan moet onderwerp, die teregwysings daarvan moet gehoorsaam, deur die tug daarvan gestraf moet word en die gemeenskap daarvan in alles sorgvuldig moet eerbiedig, kan ons nie toegee dat hulle 'n kerk het as ons verplig word om ons daaraan te onderwerp en dit te gehoorsaam nie. Ons sal hulle nogtans met graagte toegee wat die profete Juda en Israel in hulle tyd gegun het hoewel toestande daar òf op gelyke voet òf selfs beter was. Ons sien egter dat die profete oral uitroep dat hulle vergaderings onheilig is65 en hulle mag hulle instemming net so min daarmee betuig as om God te verloën. En as hulle kerke was, volg daaruit beslis dat Elia, Miga en sulke profete onder Israel en in Juda ook Jesaja, Jeremia, Hosea en dergelikes, vreemdelinge in die kerk van God was terwyl hulle die profete, priesters en die volk in hulle tyd meer gehaat en vervloek het as onbesnydenes. As dit kerke was, is die kerk derhalwe nie 'n pilaar van die waarheid nie66 maar die grondslag van die leuen, dan is dit nie 'n tabernakel van die lewende God nie maar 'n houer van afgode. Hierdie profete het dit dus as noodsaaklik beskou om van eensgesindheid met hulle vergaderings af te sien omdat dit niks anders was as 'n goddelose sameswering teen God nie. Om dieselfde rede sal iemand erg dwaal as hy die huidige vergaderings wat besmet is met afgodediens, bygeloof en 'n goddelose leer, as kerke erken - en 'n Christen moet in volle gemeenskap met so 'n kerk staan selfs tot op die punt van instemming met die leer daarvan! Want as hulle kerke is, is die sleutelmag in hulle hande, en tog het die sleutels 'n ondeelbare band met die Woord en hierdie Woord is daar by hulle heeltemal verwoes. Verder, as hulle kerke is, dra Christus se belofte by hulle krag: "Wat julle ook al bind," ensovoorts.67 Hulle verwerp daarenteen almal uit hulle gemeenskap wat ongeveins bely dat hulle Christus se diensknegte is. Christus se belofte is dus òf niksseggend, òf hulle is ten minste in hierdie opsig nie kerke nie.

Ten slotte het hulle in plaas van die bediening van die Woord skole van goddeloosheid en 'n rioolsloot vol van elke soort dwaling. Volgens hierdie redenasie is hulle daarom nie kerke nie of daar sal geen teken oorblywaarmee wettige vergaderings van gelowiges van die byeenkomste van Turke onderskei kan word nie.

11. Ten spyte van hulle dwaling, bly daar nog spore oor van die ware kerk onder die pousdom.🔗

Soos daar egter eertyds besondere kerklike voorregte onder die Jode oorgebly het, so ontneem ons die pousdom ook nie vandag die spore van 'n kerk wat die Here uit die verwoesting daarvan onder hulle wou laat oorbly nie. God het een maal 'n verbond met die Jode gesluit; dit het voortbestaan omdat dit in die stryd teen hulle goddeloosheid op eie krag gesteun het eerder as dat dit deur hulle bewaar is. Die Here se verbond het egter daar bly bestaan vanweë die sekerheid en die bestendigheid van God se goedertierenheid; sy trou kon nie deur hulle ontrou uitgewis word nie en die besnydenis kon nie so deur hulle onrein hande ontheilig word dat dit nie tegelyk 'n waaragtige teken en 'n sakrament van sy verbond is nie. Daarom het die Here die kinders wat vir hulle gebore is, sy kinders genoem,68 en was dit nie vir sy besondere seën nie, sou hulle Hom niks aangegaan het nie.

Toe Hy sy verbond in Frankryk, Italië, Duitsland, Spanje en Engeland gevestig het, en hierdie lande deur die tirannie van die Antichris onderdruk is, het Hy met die doel dat sy verbond nogtans ongeskonde daar sou bly, ten eerste die doop daar be hou as 'n getuienis van sy verbond en Hy het dit met sy eie mond geheilig en die krag daarvan behou ten spyte daarvan dat dit teen die sin van die mens se goddeloosheid was. Ten tweede het Hy dit deur sy voorsienigheid so bewerkstellig dat daar ook ander oorblyfsels sou bestaan om te voorkom dat die kerk heeltemal ten gronde gaan. En net soos geboue dikwels afgetakel word maar dit nogtans gebeur dat die fondamente en die bouvalle nog bly staan, so het Hy ook nie toegelaat dat sy kerk deur die Antichris tot op die fondament verwoes of met die grond gelyk gemaak word nie. Hy het nogtans toegelaat dat dit verskriklik geskud en versplinter word om diegene vir hulle ondankbaarheid te straf wat sy Woord verag het, maar dit was sy wil dat die halfgesloopte gebou ook na hierdie verwoesting moes oorbly.69

12. Die Antichris sal in die tempel van God sit.🔗

Wanneer ons dus nie doodeenvoudig die titel kerk aan die pousgesindes wil toestaan nie, ontken ons tog nie daarom dat daar nie kerke onder hulle is nie.70 Ons stryd gaan om die ware en wettige instelling van die kerk wat in die gemeenskap nie alleen van die sakramente wat tekens van 'n belydenis is nie, maar inderdaad besonderlik in die gemeenskap van die leer vereis word. Daniël71 en Paulus72 het al voorspel dat die Antichris in die tempel van God sal sit. Onder ons hou ons die Roomse pous as die leier en vaandeldraer van daardie goddelose en afstootlike ryk voor. Met die stelling dat sy sitplek in die tempel van God geplaas word, word te kenne gegee dat sy ryk van so 'n aard sal wees dat dit nóg die Naam van Christus nóg van die kerk kan uitwis. Hieruit is dit dus duidelik dat ons glad nie ontken dat kerke ook onder sy tirannie nog kerke bly nie. Hy het hulle egter met sy heiligskennige goddeloosheid ontheilig; hulle met sy onmenslike oorheersing platgeslaan; hulle met base en dodelike leerstellings soos met giftige drank vermink en amper verrnoor. In hierdie kerke is Christus half begrawe en verborge; die evangelie is verduister en godsvrug verwees, die diens van God is amper uitgewis. Kortom: in hierdie kerke is alles so versteur dat 'n beeld van Babilon eerder as van die heilige staat van God daarin te voorskyn tree.73

Samevattend kom dit hierop neer: ek sê dat hulle wel kerke is in soverre die Here daar wonderbaarlik reste van sy volk bewaar al is hulle jammerlik versprei en versplinter en in soverre sommige tekens van die kerk nog daar bestaan - en dit veral daardie tekens waarvan die kragdadigheid nog deur die duiwel se skelmstreke nog deur die mens se verwrongenheid vernietig kan word. Maar omdat aan die ander kant die tekens daar uitgewis is waarop ons besonderlik in hierdie bespreking moet let, sê ek dat elkeen van hulle vergaderings en die hele liggaam daarvan sonder die wettige vorm van 'n kerk is.

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. Inst. 4.1.9 - 12 hierbo.
  2. ^ Vgl. Inst. 4.1.12 hierbo
  3. ^ Marg. Ephes. 2.d.20. Vgl. OC 51:174 - 176.
  4. ^ Marg. 1. Tim. 3.d.15. Vgl. OC 52:287 . 289.
  5. ^ Sub Papisme (Fr. 1560: en toute la Papauté) . Calvyn praat hier na aanleiding van eerstehandse inligting. Tydens sy vlug uit Frankryk in 1536 het hy Italië be soek en daarna twee werke in Maart 1537 in Basel gepubliseer, naam lik die De fugiendis impiorum illicitis sacris et puritate christianae religionis obseruanda (oorspronklik 'n brief geskryf aan Nicolas Duchemin) en De Christiani hominis officio in sacerdotiis papalis ecclesiae vel administrandis vel abiiciendis (geskryf aan Gerardus Rufus d.i. Roussel). Vgl. OC 5:239 - 278; 279 - 312.
  6. ^ Vgl. kardinaal Sadoletus se brief aan die Senaat van Genève en Calvyn se antwoord daarop (Oe 5:385 - 416) wat vir hierdie hele boek van die grootste belang is, asook Pighius, De libero arbitrio (1542) fo. 20 en 21 en Contronersiae 92.
  7. ^ Fr. 1560: fesflateurs du Pape (Benoit 4:40).
  8. ^ Die redenasie op grond van antiquitas kom. o.a. voor in Pighius, Controuersiae 90, Ratio componendorum dissidiorum Cvi; Eck, Ench. 22v. - 40v. (Battles vert.: 28 - 44); Bellarminus, De Controv. 2.3.1.97 e.v.
  9. ^ Fr. 156U:+ anciens Docteurs (Benoit 4:41). Die beroep op die gesag van beide die Griekse en Larynse kerkvaders vir die opvolging van biskoppe as grondslag vir die ware kerk kom o.a. voor in Bellarminus, controv. De Romani Pontificis Ecclesiastica Hierarcbia, 2.12 e.v
  10. ^ Luther het reeds in 1519 Eek (en die Roomse) se standpunt dat die Griekse ortodokse kerk vanweë afskeiding van Rome afvallig geword het en daarom verdoem is, weerlê. Vgl. sy Disputatie I Eecii et M. Lutheri Lipsiae babita 1519 (WA 2:262.276) asook Eek. a.w. 31v. (Battles 1978:37).
  11. ^ Vgl. Jer. 7:8 -10 en Eseg. 5:7 e.v.
  12. ^ Marg. Iere. 7.a.4. Vgl. OC 37:673 en Bellarminus, Controuersiae t.2.3.16:140.
  13. ^ Marg. Ezech. 10.a.4. Vgl. OC 40:211 - 212.
  14. ^ Vgl. Eseg. 8:4 - 6; 10:4, 18 - 19; 11:22 - 23.
  15. ^ Vgl. Rom. 9 tot 11. Vgl. OC 49:168 . 232.
  16. ^ Vgl. Rom. 9:30 - 33; 10:3 - 4 (OC 49:231).
  17. ^ Marg. Galat. 4.c.22. Vgl. OC 50:236 - 237.
  18. ^ Vgl. Gal. 4:24 - 26.
  19. ^ Marg. Gene. 21.a.l0. Vgl. OC 23:301; 1 Petr. 3:6 en Gal. 4:30.
  20. ^ Vgl. Gen. 17:23 en OC 23:247 e.v.
  21. ^ Vgl Gen. 21:8 e.v.
  22. ^ Marg. Rom. 9.b.6. Vgl. OC 49:174 - 176 en Gal. 4:28,31.
  23. ^ Vgl. Mal. 2:4 - 7.
  24. ^ Vgl. Mal. 2:2 . 3, 8 . 9.
  25. ^ Vgl. Joh. 11:49; 18:13 e.v.; Malt. 26:37 e.v.
  26. ^ Vir Caligula vgl. Inst. 1.3.2 (Afr. vert. 1:122, n.4); vir Nero Inst. 3.14.2 (Afr. vert. 3:981, n.7) en vir Heliogabatus Kleine Pauly 2.230 (s.v. Elagabalus imp. Caes. M.Aurelius Antoninus, Romeinse Keiservan 218 tot.222). Vir Scipio vgl. Inst. 3.24.10 (Afr. vert. 3:1226, n.88) en vit Camillus vgl. Inst. 2.3.4 (Afr, vert. 2:411,0. 29).
  27. ^ Fr. 1560: ... soit le oray estat de la ciré de Rom me, pource qu 'ilsont succëdë aux bons gouuerneurs qui estoyent establis par le peuple (Benoit 4:43).
  28. ^ Vgl. afdeling 2 hierbo.
  29. ^ Fr. 1560: + ny à Romme, ny aux autres villes (Benoit 4:44).
  30. ^ Fr. 1560: Ces brouillons donc ne profiteront rlen en fardant leur synagogue du tiltre d'Eglise (Benoit 4:44).
  31. ^ Vir hierdie spreekwoord vgl. Cicero, De officiis 3.33.117 (LCL, 398).
  32. ^ Marg. Ad Vincent. epist. 48. Augustinus, Ep. 93.9.30 e.v. (MPL 33:336 e.v.; CSEL 34,2:476 e.v.).
  33. ^ Ibidem, 93.9.31 (MPL 33:337; CSEL 34,2:476 . 477
  34. ^ Fr. 1545 e.v.: les défenseurs dil siège Romain (Benoit 4:44).
  35. ^ Vgl. Eck, Ench. Ir., 4v e.v. (Battles 1978:2,11); Coehlaeus, De autboritate ecclesiae (524) 1.2:B 2a - b.
  36. ^ Fr. 1545 e.v.: ... comme ainst soit que Jesus Christ n 'ai! point de plus grans ennemis que le Pape et tous les siens (Benolt 4:44).
  37. ^ Marg. Ioban. 18.g.37. Vgl. OC 47:404 . 405.
  38. ^ Marg. Ioban. 10.b.14. Vgl. OC 47:243.
  39. ^ Marg. Ibidem, a.4 (Joh. 10:4). Vgl. ook Joh. 10:27 en OC 47:237, 249.
  40. ^ .Vgl. Joh. 10:4 - 5.
  41. ^ Marg. Ephes. 2.d.20.
  42. ^ Marg. Ioban. 8f47. Vgl. OC 47:210.
  43. ^ Fr. 1545: + ... parolle par laquelle seulle il gouverne (Benoit 4:45).
  44. ^ Vgl. Sadoletus se brief waarna hierbo verwys is (n. 6) en Pighius se brief aan die leser in sy Controuersiae en 'n duidelike uiteensetting van sy siening van die verskil tussen baeretici (ketters) en schismatici (skeurders) in sy Ratio comp. diss. B. Vgl. ook Bellarminus, ·Controv.2.3.4 en 5 (oor die plek van ketters en skeurders in die strydende kerk p. 102 - 107).
  45. ^ Vgl. Eck, Ench. 1r., 5ve.v. (Battles 1978:2, 3); Coehlaeus, a.w. 1,1: B1a; 6:D3a.
  46. ^ Marg. Lib. quaest. Evang. sec. Matth. Augustinus, Quaest. septemdecim in Matt. 11:1 - 2 (MPL 35:1367 e.v.), vgl. ook Bellarminus, Disp. de controu. Christ. fidei 3.4, 5, 2:102 - 107.
  47. ^ Marg. Epbes. 4.a.5. Vgl. OC 51:191
  48. ^ Marg. Philip. 2.a.2 & 5. Vgl. ook Fil. 2:1 en OC 52:23 - 24.
  49. ^ Calvyn gebruik hierdie gedagte wat hyaan Cyprianus ontleen het, naamlik dat Christus die enigste 'biskop' is, dikwels in sy werke; vgl. o.a. Inst. 4.17 en sy Supplex exbortatto ad Caesarem de necessitate reformandae ecclesiae (1543 - OC 6:522 e.v.).
  50. ^ Marg. De simplicitate Praelatorum. Cyprianus, De unitate catb. eccl. 5 (MPL 4:501 e.v.; CSEL 3,1:213 e.v.). Vgl. ook Inst. 4.6.17 hieronder.
  51. ^ Fr. 1545 e.v.: ... et l'unité du corps n 'est point sëparëe. Après aVoir dit cela ... (Benoit 4:46).
  52. ^ Cyprianus, a.w. 3 (MPL 4:512).
  53. ^ Fr. 1545 e.v.: les advocats du Pape (Benoit 4:47).
  54. ^ In pous Leo X se bul Exsurge Domine (15 junte 1520) staan daar o.a.: "Ons verklaar dat hulle berugte en hardnekkige ketters was en verdoem hulle." Vgl. Mansi, 32:1051; Denzinger, Ench. 741 e.v. (p. 275 e.v.), Kidd, Documents 79. Vgl. ook die canonesvan die Konsilie van Trente (Mansi 33:40 e.v.),
  55. ^ Marg. Iohan. 16.a.2. Vgl. OC 47:355 - 357.
  56. ^ Fr. 1545 . 1551: + Marg. 1. Reg. 12( 1 Kon. 12:28 e.v.).
  57. ^ Vgl 1. Kon. 14:23 e.v.
  58. ^ Vgl. o.a. 1 Kon. 16:29 - 34; 21 e.v
  59. ^ Vgl. Jes. 28:7; Jer. 5:31; 6:13; 23:11; 33:34.
  60. ^ Dit is o.a. Pighius se voorwaardes in sy reedsvermelde Ratio F.
  61. ^ Vgl. Deut. 12:11, 13.
  62. ^ Marg. Exod. 29.b.9.
  63. ^ Vgl. Inst. 2.15.6; 4.18.15 (Afr. vert. 2:656 e.v.)
  64. ^ Marg. 1. Reg. 12.g.31.
  65. ^ Marg. Iesa. 1.d.14. Vgl. OC 36:40 - 41.
  66. ^ Marg. 1. Tim. 3.d.15.
  67. ^ Marg. Mat. 16.c.19, & 18.c.18. Iohan. 10.e.23. Vgl. OC 45:474 e.v., 515 e.v.
  68. ^ Marg. Ezech. 16.c.20. Vgl. ook vers 21 en OC 40:352 e.v
  69. ^ Fr. 1545 e.v.: ... toutesfois il a voulu qu'il y demeurast encore quelque portion de reste, pourmonument et enseigne que le tout n 'estoit point aboly (Benoit 4:52).
  70. ^ Calvyn ontken nie dat daar in die Roomse kerk wel aspekte is wat Skriftuurlik juis is nie. Sybeswaar gaan teen die misbruike en verdraaiings wat deur die tradisie van die Roomse kerk 'n valse kerk gemaak het. Vgl. Inst. 4.8.11, 12 hieronder.
  71. ^ Marg. Dan. 9.8.27. Vgl.OC 41:187 e.v.
  72. ^ Marg.2. Thes. 2.b.4. Vgl. OC 52:198 - 199. soos ander Reformatore verwys ealvyn dikwels na die pousdom as die Antlchris, vgl. o.a. Inst. 3.20.42j 4.7.4, 25j 4.17.1 (Afr. ven. 3:1141). Vgl. ook sy kommentaar oor 1 Joh. 2:18 (OC 55:320 - 322) en Luther se Adversus execrabilem Anticbristi bullam 1520 (WA 6:597 - 612).
  73. ^ Vgl. Luther, De captioitate Babylontea ecclesiae praeludium (WA 6:497 - 573).