Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 4 Hoofstuk 14 Die Sakramente
Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 4 Hoofstuk 14 Die Sakramente
1. Die betekenis van die sakramente.⤒🔗
Nou verwant aan die verkondiging van die evangelie het ons geloof ook 'n hulpmiddel in die sakramente. Dit is vir ons van groot belang om 'n bepaalde leer in verband daarmee oor te dra sodat ons daaruit kan leer met watter doel hulle ingestel is en wat die huidige gebruik daarvan is. Ten eerste moet ons aandag gee aan wat 'n sakrament is. Dit lyk vir my of dit 'n eenvoudige en egte definisie daarvan sal wees as ons sê dat dit 'n uitwendige teken is waarmee die Here sy beloftes van goedgunstigheid jeens ons aan ons gewetens beseël om die swakheid van ons geloof te onderskraag. Op ons beurt betuig ons (daarmee) ons godsvrug sowel teenoor Hom en die engele as teenoor mense. Ons kan dit ook bondiger anders definieer, naamlik dat dit die getuienis van God se genade jeens ons genoem word wat deur 'n uitwendige teken bekragtig is en hand aan hand gaan met wedersydse getuienis van ons godsvrug jeens Hom. Watter een van beide definisies jy ook al kies - in betekenis verskil dit niks van Augustinus s'n wat leer dat 'n sakrament 'n sigbare teken van 'n heilige saak is of 'n sigbare gestalte van (God se) onsigbare genade nie.1 Augustinus verduidelik die onderwerp egter beter en sekerder. Aangesien daar immers in 'n bondige samevatting tog 'n mate van onduidelikheid is waaroor baie onervare mense vertwyfeld is, was my bedoeling om die betekenis daarvan vollediger in meer waarde weer te gee sodat daar geen twyfel meer daaroor kan bestaan nie.
2. Die betekenis van die woord 'sakrament'.←⤒🔗
Dit is nie onbekend waarom die skrywers van ouds hierdie woord in daardie betekenis gebruik het nie. Wanneer 'n vertaler van ouds die Griekse woord misterie in Latyn wou weergee, het hy dit met sakrament vertaal veral wanneer dit oor Goddelike sake handel. So vertaal hy dit byvoorbeeld in die brief aan die Efesiërs: "om die sakrament van sy wil aan ons bekend te maak".2 Net so: "As julle egter gehoor het van die bediening van die genade van God wat in julle aan my verleen is, dat die sakrament volgens openbaring aan my bekend gemaak is".3 En in die brief aan die Kolossensers: "Die verborgenheid wat van eeue en geslagte af verborge was, maar nou aan sy heiliges geopenbaar is, aan wie die Here die rykdom van hierdie sakrament bekend wou maak",4 ensovoorts. Net so in die brief aan Timoteus: "Die sakrament van die godsaligheid is groot: God is in die vlees geopenbaar."5 Die vertaler wou nie die woord geheimenis gebruik nie om te voorkom dat hy iets sê wat onbelangriker is as wat die omvang van die sake vereis. Hy het dus die woord verborgenheid in die plek van geheimenis gestel, maar dan die verborgenheid van 'n heilige saak.
In hierdie betekenis kom dit oral by die kerklike skrywers voor. En dit is bekend genoeg dat dit wat Latynsprekendes sakramente noem, onder Grieksprekendes as misteries bekendstaan. Die woorde is dus sinonieme en ruim alle geskille daaroor uit die weg. En so het dit gebeur dat hierdie woord gebruik is om daardie tekens wat 'n verhewe weergawe van hemelse en geestelike sake is, aan te dui. Augustinus dui dit ook iewers aan wanneer hy sê: "Dit sou lank neem om 'n bespreking van die verskillende tekens te gee. Wanneer sulke tekens op Goddelike sake betrekking het, word hulle sakramente genoem".6
3. 'n Verklaring van hierdie definisie: Waarom God sy beloftes deur sakramente beseël.←⤒🔗
Verder kan ons uit die definisie wat ons hierbo geponeer het, aflei dat 'n sakrament nooit sonder 'n belofte wat daaraan voorafgaan, is nie, maar dat dit as't ware as 'n aanhangsel daaraan toegevoeg word om juis die belofte te bekragtig en te beseël en dit vir ons sekerder, ja, selfs vaster te maak.7 So voorsien God dat ten eerste ons onkunde en traagheid, en ten tweede ons swakheid hulp benodig. En om die waarheid te sê, doen Hy dit nie om sy heilige Woord te bekragtig nie, maar om ons in ons geloof in sy Woord te versterk. Want die waarheid van God is op sigself vas en seker genoeg en dit kan nie van elders beter bekragtiging as uit Homself ontvang nie. Aangesien ons geloof trouens baie gering en swak is, stort dit dadelik in duie, dit bly vertwyfeld en wankelmoedig en dit kwyn tensy dit van alle kante ondersteun en op elke moontlike manier onderskraag word.
En in sy barmhartigheid pas die Here Hom na sy ontsaglike goedertierenheid so by ons begripsvermoë aan dat Hy geen beswaar het om ons ook met hierdie aardse elemente na Hom toe te lei en juis in die vlees 'n spieël van die geestelike goedere aan ons voor te hou nie8 hoewel ons diere is wat altyd op die grond rondkruip, aan die vlees verknog bly, en niks geesteliks bedink, of selfs begryp nie.
"As ons immers onliggaamlik is," soos Chrysostomos sê, "sou Hy hierdie dinge onbedek en liggaamlik aan ons gegee het. Omdat ons nou siele in ons liggame het, dra Hy die geestelike dinge in sigbare dinge aan ons oor".9 Dit beteken nie dat sulke gawes aan die geaardheid van die dinge wat in die sakramente aan ons voorgesit word, gegee is nie, maar dat dit deur God in hierdie betekenis afgeteken is.
4. Die verkondiging van die Woord en sakramente.←⤒🔗
En die mense sê oor die algemeen dat 'n sakrament uit die woord en uit 'n uitwendige teken bestaan. Onder die woord moet ons immers nie iets verstaan wat sonder betekenis en geloof ingefluister is en slegs deur die geluid soos deur 'n towerformule die krag het om die sakrament te heilig nie, maar die verkondigde woord wat ons laat begryp wat die sigbare teken bedoel.10 Wat sou dan die doel van die gebruik van die sakramente wees as daar geen belofte is wat dit beseël nie? In die sakramente word getuienis van God se guns jeens ons gesoek en daarvan is God die enigste bekwame getuie. Soos die publiek egte geld van vervalsde geld onderskei, sal ek oral waar ek nie kan sien dat die Woord van God daarop ingegraveer is nie, beswaar maak dat daar valslik geroem word dat dit 'n sakrament is. Wat dus onder die tirannie van die pousdom gebeur, was nie sonder groot ontheiliging van die sakramente nie. Hulle was trouens van mening dat dit voldoende is as 'n priester die wydingsformule mompel terwyl die kerkvolk geen begrip daarvan het nie en oorbluf staan. Ja, hulle het opsetlik daarteen gewaak dat niks van die leer by die volk uitkom nie. Hulle het trouens alles in Latyn voor ongeletterdes afgekondig. Die bygeloof het naderhand sover uitgebars dat hulle geglo het dat hierdie wyding nie na behore verrig word tensy dit met 'n hees gemompel wat slegs vir 'n paar mense hoorbaar is, gedoen word nie.
Augustinus leer egter iets heeltemal anders van die woorde van die sakramente. Hy sê: "Laat die Woord by die element kom en dit sal 'n sakrament word. Waarvandaan kry water immers sulke groot krag dat dit die liggaam kan aanraak en die hart skoon kan was tensy dit deur die toedoen van die Woord is? En dit nie omdat die Woord verkondig word nie, maar omdat dit geglo word. Want juis in die Woord is die verbygaande geluid een ding, maar die blywende krag daarvan 'n ander ding. 'Dit is die Woord van die geloof wat ons verkondig',11 sê die apostel. Daarom staan daar in die Handelinge van die apostels: 'Terwyl Hy deur die geloof hulle harte rein maak'.12 Daarom sê die apostel Petrus ook: 'So red die doop ons ook, nie deur die aflegging van die vuilheid van ons vlees nie, maar as 'n versoek vir 'n goeie gewete'.13 Dit is die Woord van die geloof wat ons verkondig14 waardeur ook die doop sonder twyfel geheilig word om in staat te wees om te reinig".15
Jy sien dat hy die verkondiging van die Woord vereis sodat die geloof daaruit kan ontstaan. Ons hoef ons ook nie oor hierdie bewys te vermoei nie want dit is glad nie onbekend wat Christus gedoen het, wat Hy ons gebied het om te doen, wat die apostels gevolg het en wat die suiwerder kerk nagekom het nie. Ja, dit is van die begin van die wêreld af bekend dat, so dikwels God die een of ander teken aan die heilige aartsvaders voorgehou het, die een of ander onafskeibare band van onderwysing daaraan verbind is omdat ons sinne, wanneer dit bloot die teken waargeneem het, daarsonder oorbluf sou word. Wanneer ons derhalwe hoor dat van die Woord van die sakramente melding gemaak word, moet ons daaronder die belofte verstaan wat met 'n duidelike stem deur die woordverkondiger verkondig is en hy moet die kerkvolk aan die hand vat en lei na waarheen die teken strek en waarheen dit ons stuur.16
5. Diegene wat poog om die woord of die belofte van 'n sakrament weg te neem, verkondig dwaalleer.←⤒🔗
Ons moet ook nie luister na diegene wat eerder met spitsvondige as grondige redenasies poog om hierdie leer te bestry nie. Hulle sê: "Ons weet, of ons weet nie dat die Woord van God wat die sakrament voorafgaan, die ware wil van God is. As ons dit weet, leer ons niks nuuts uit die sakrament wat daarna volg nie. As ons dit nie weet nie, sal die sacrament waarvan die volle krag in die Woord geleë is, ons dit ook nie leer nie!''17
Ons antwoord hulle bondig soos volg: Die seëls wat aan staatsdokumente en ander staatsaktes geheg word, is, as hulle op sigself geneem word, van geen waarde nie aangesien sulke seëls verniet daaraan geheg sou wees as die papier niks het wat daarop geskryf is nie. En tog bekragtig en beseël sulke seëls dit wat geskryf is wanneer dit by die skrif gevoeg word.
Hulle kan nie spog dat hierdie vergelyking onlangs nog deur ons versin is nie omdat Paulus dit self ook gebruik wanneer hy die besnydenis 'n seël noem.18 Daar voer hy uitdruklik aan dat die besnydenis nie aan Abraham gegee is tot geregtigheid nie maar om die verbond te verseël, en omdat hy daarin geglo het, is hy reeds vroeër regverdig gemaak. En watter rede, vra ek jou, is daar dat iemand hom bitterlik kan vererg as ons leer dat (God se) belofte deur die sakramente beseël word aangesien dit juis uit sy beloftes duidelik is dat die een die ander bekragtig? Dit beteken naamlik dat, namate elke belofte duideliker is, dit ook meer geskik is om die geloof te onderskraag. Die sakramente bring inderdaad die beloftes die duidelikste na vore en het in vergelyking met die Woord dit as besondere eienskap dat hulle die beloftes soos op 'n skildery lewendig vir ons uitbeeld.
Die beswaar wat gewoonlik teen die vergelyking tussen die sakramente en die seëls op staatsdokumente geopper word, behoort ook geen invloed op ons te hê nie.19 Dit is naamlik dat, aangesien beide uit die vleeslike elemente van hierdie wêreld bestaan, die sakramente nie voldoende of sterk genoeg kan wees om die beloftes van God te beseël nie omdat sy beloftes geestelik en ewig is. Net so: dat seëls gewoonlik aan verganklike en tydelike dinge geheg word om die edikte van vorste te beseël. Want wanneer die sakramente 'n gelowige voor oë kom, steek hy nie in die vleeslike aanskouing daarvan vas nie, maar wanneer hy godvrugtig daaroor nagedink het, styg hy met die ooreenstemmende trappe wat ek aangedui het, op tot die verhewe geheimenis wat in die sakramente verskuil is.
6. Die sakramente as seëls van die verbond.←⤒🔗
En omdat die Here sy beloftes verbonde noem,20 en die sakramente die tekens van sy verbonde, kan dit met die verbonde van mense vergelyk word.21 Watter krag sou dit immers gehad het om 'n sog te slag as die woorde (van die verbond) nie bygekom, ja, daaraan voorafgegaan het nie? Sôe word trouens baie dikwels geslag sonder dat daaraan 'n dieper of verhewener geheimenis geheg word. Wat sou dit beteken om die regterhand te gee terwyl hande dikwels uit vyandskap gegryp word? Maar wanneer woorde daaraan voorafgaan, word die bepalings van verbonde deur sulke tekens bekragtig hoewel die voorwaardes eers in woorde uitgedruk, gemaak en besluit is.
Sakramente is dus oefeninge wat ons geloof in die Woord van God sekerder maak en omdat ons vleeslik is, word hulle onder vleeslike dinge aan ons getoon om ons vanweë ons trae bevatlikheid te onderwys en ons soos kinders aan die hand van 'n onderwyser te lei.
Augustinus noem 'n sakrament die sigbare woord22 omrede dit die beloftes van God soos op 'n skildery weergee en dit hierdie beloftes grafies en lewendig uitgedruk voor oë stel. Ook ander vergelykings kan aangevoer word waardeur die sakramente nog duideliker beskryf word, byvoorbeeld as ons hulle die pilare van ons geloof noem. Soos 'n gebou trouens op sy eie fondament staan en rus, maar nogtans vaster geanker is as pilare onder die gebou opgerig is, so rus geloof op die Woord van God soos op 'n fondament. Maar wanneer die sakramente daarby kom, steun dit nog vaster daarop soos op pilare. Of as ons byvoorbeeld sê dat die sakramente spieëls is waarin ons die rykdom van die genade van God wat Hy aan ons skenk, kan waarneem.23 Want, soos ons reeds gesê het,24 openbaar Hy Hom in die sakramente aan ons in soverre dit ons afgestompte verstand gegun is om Hom te leer ken en dit betuig uitdrukliker as die Woord sy goedgunstigheid en sy liefde jeens ons.
7. 'n Weerlegging van die bewering dat die sakramente nie getuies van die genade van God kan wees nie omdat goddelose mense ook daaraan deelneem.←⤒🔗
Hulle redeneer ook nie paslik genoeg wanneer hulle na aanleiding hiervan volhou dat die sakramente nie getuienisse van die genade van God is nie omdat dit ook aan goddelose mense uitgedeel word en hulle gevoel God nogtans daarom niks genadiger teenoor hulle nie maar haal hulle eerder 'n swaarder verdoemenis op die hals.25 Volgens hierdie redenasie sou nóg die evangelie getuienis van die genade van God bied omdat dit deur baie mense gehoor en (nogtans) verag word, nóg Christus self uiteindelik wat deur baie mense gesien en erken is maar 'n uiters klein getal van hulle het Hom aangeneem. Ons kan ook iets soortgelyk in die geval van staatsdokumente sien. Hoewel 'n groot deel van 'n volk weet dat 'n outentieke seël van 'n vors af kom om sy wil te beseël, dryf hulle nogtans die spot daarmee en maak dit belaglik. Sommiges staan onverskillig daarteenoor asof dit 'n saak is wat hulle nie aangaan nie, en ander vervloek dit selfs. Die gevolg is dat, aangesien die toedrag van sake in beide gevalle (sakramente en seëls) so opsigtelik is, die vergelyking wat ek tevore gebruik het, ons al hoe meer en meer behoort aan te staan.
Dit is derhalwe seker dat die Here sy barmhartigheid en die pand van sy genade sowel in sy Woord as in die sakramente vir ons aanbied. Dit word egter slegs aangegryp deur diegene wat sy Woord en die sakramente met 'n vaste geloof aanneem, net soos Christus deur die Vader vir alle mense tot hulle saligheid aangebied en voorgehou word, maar Hy nogtans nie deur almal erken en aanvaar is nie.
Toe Augustinus dit elders wou aantoon, het hy gesê dat die krag van die Woord in die sakrament aan die lig gebring word - nie omdat dit uitgespreek word nie, maar omdat dit geglo word.26 Wanneer Paulus die gelowiges toespreek, bespreek hy die sakramente daarom so dat hy die gemeenskap met Christus daarby insluit. Hy sê byvoorbeeld: "Julle almal wat gedoop is, het julle met Christus beklee".27 Net so: "Ons wat gedoop is, is almal een liggaam en een gees".28 Wanneer hy trouens van die verkeerde gebruik van die sakramente praat, ken hy daaraan niks meer toe as aan koue sinlose gestaltes nie. Daarmee dui hy aan dat, al sou goddelose mense en veinsers deur hulle verwrongenheid die werking van God se genade in die sakramente òf onderdruk, òf verduister of belemmer, dit nogtans nie verhinder dat, wanneer en so dikwels dit God behaag, hulle ook ware getuienis van die gemeenskap met Christus lewer nie, en dat die Gees van God self ook getuig en lewer wat die sakramente beloof.
Ons stel dus vas dat die sakramente tereg getuienisse van die genade van God genoem word en soos sekere seëls van sy goedgunstigheid is wat Hy jeens ons bewys het. Juis deur ons geloof te beseël, ondersteun die sakramente ons geloof, voed dit, versterk dit en laat dit toeneem. Die redenasies wat gewoonlik deur sommiges teen hierdie opvatting geopper word, is alte ligsinnig en kragteloos. Hulle sê dat ons geloof nie beter kan word as dit reeds goed is nie. Hulle beweer dat daar trouens geen geloof is tensy dit onbeweeglik, standvastig en onafskeidelik op God se barmhartigheid berus nie.29 Dit sou vir hulle beter gewees het om saam met die apostels te bid dat die Here hulle geloof meer moet laat word30 eerder as om onbekommerd so 'n geloofsvolmaaktheid voor te hou as wat geen mensekind nog ooit bereik het of ooit in hierdie lewe sal bereik nie. Laat hulle antwoord watter soort geloof die een gehad het wat uitgeroep het: "Ek glo Here, kom my ongeloof te hulp".31 Want hoewel sy geloof maar net begin het, was dit ook goeie geloof, en dit kon nogtans beter word deur die ongelowigheid uit die weg te ruim. Maar hulle word deur geen beslister bewys as hulle eie gewetens weerlê nie. Want as hulle erken dat hulle sondaars is - en dit moet hulle teen wil en dank -, moet hulle noodwendig die skuld daarvoor aan die onvolmaaktheid van hulle geloof gee.
8. 'n Weerlegging van die besware wat teen hierdie leer ingebring word.←⤒🔗
"Maar", sê hulle, "Filippus het dan die ontmande (Etiopiër) geantwoord dat hy gedoop mag word as hy van ganser harte geglo het.32 Watter plek is daar hier vir versterking deur die doop wanneer die geloof die hele hart vul?''33
Aan die ander kant is my vraag aan hulle of hulle die gevoel het dat 'n groot deel van hulle harte sonder geloof is en of hulle erken dat daarin daagliks nuwe groei is? 'n Bekende heiden roem daarop dat hy al lerende oud word.34 Ons Christene is derhalwe driekeer bejammerenswaardig as ons oud word sonder om enige vordering te maak terwyl ons geloof deur al die trappe van ons ouderdom behoort te vorder totdat dit in 'n volmaakte man gegroei het.35 Die 'van ganser harte glo' in hierdie aanhaling beteken dus nie om volmaak in Christus te glo nie maar slegs om Hom van harte en met 'n opregte gemoed te omhels, om nie van Hom versadig te wees nie, maar met brandende begeerte na Hom te honger, na Hom te dors en na Hom te streef. Dit is 'n gebruik van die Skrif om te sê dat iets van ganser harte gebeur en dit dui aan dat iets opreg en van harte gedoen word. Die volgende dien as bewys hiervan: "Ek het U van ganser harte gesoek", "Ek sal van ganser harte aan U bely", en dergelike voorbeelde.36 Net so verwyt die Skrif bedrieglike en geveinsdes aan die ander kant dat hulle twee harte het as dit hulle bestraf.37 Hulle voeg verder by dat, as geloof deur die sakramente vermeerder word, is die Heilige Gees verniet aan ons gegee aangesien dit die Heilige Gees se werk is om die geloof te begin, te beskerm en te volbring. Dit erken ek weliswaar, naamlik dat geloof die Heilige Gecs se werk is. As ons deur Hom verlig is, herken ons God en die skatte van sy goedgunstigheid. Sonder sy verligting is ons verstand so blind dat dit niks kan raaksien nie, so onnosel dat: dit geen reuk van die geestelike dinge kan kry nie. Maar in plaas van een gawe van God soos hulle verkondig, ag ons drie gawes ter oorweging. In die eerste plek leer en onderrig die Here ons immers deur sy ten tweede versterk ons deur sy sakramente, en ten slotte verlig ons verstand met die van sy Heilige Gees en Hy maak vir die Woord en die sakramente 'n toegang tot ons harte oop. Andersins sou dit slegs maar teen ons ore vasgeslaan het en voor ons oë rondgesweef het sonder om ons innerlike gemoed hoegenaamd te ontroer.38
9. Die geloof word deur die sakramente vanweë die kragtige werking van die Heilige Gees versterk.←⤒🔗
Daarom sou ek graag wou hê dat die leser oor die versterking en die toename in die geloof gewaarsku moet wees - en dit lyk vir my asof ek dit reeds in ondubbelsinnige woorde uitdruklik gestel het39 -, dat ek nie so 'n diens aan die sakramente toeskryf asof ek reken dat daarin die een of ander geheime krag ingesluit is waardeur dit op sigself by magte is om die geloof te bevorder of te versterk nie, maar omdat hulle deur die Here ingestel is om te dien om die geloof te versterk en te laat toeneem. Verder verrig hulle hulle taak eers dan na behore wanneer die innerlike Leermeester,40 naamlik die Gees, bykom. Deur sy krag alleen dring dit ons harte binne, word ons gevoelens ontroer en maak Hy vir die sakramente 'n toegang tot ons gemoedere oop. As die Gees ontbreek, kan die sakramente nie meer in ons harte doen as wanneer die son sy glans op die blinde oë van 'n blinde laat skyn nie, of wanneer 'n stem op die dowe ore van 'n dowe weerklink nie.
Ek maak dus so onderskeid tussen die Gees en die sakramente dat die krag om te werk by die Gees is, en dat vir die sakramente slegs diens gelaat word wat sonder die werk van die Gees nutteloos en ydel is,41 maar vol van baie krag is wanneer die Gees innerlik werk en sy krag uitoefen.42
Nou is dit duidelik hoe 'n godvrugtige gemoed volgens hierdie opvatting deur die sakramente in die geloof versterk word, naamlik soos die oë deur die glans van die son kan sien en die ore deur die klank van 'n stem kan hoor. Hiervan sou die oë deur geen lig hoegenaamd gevul kon word as hulle nie 'n aangebore gesigsvermoë gehad het wat vanself verlig kan word nie; en die ore sou deur geen klank hoegenaamd getref kon word as dit nie was dat hulle ontstaan het en die vermoë het om te hoor nie. En as dit waar is - en dit behoort nou eenmaal onder ons bepaald te wees -, dat die gesigsvermoë in ons oë veroorsaak dat ons lig kan sien, en dat die gehoorvermoë in ons ore veroorsaak dat ons 'n stem kan hoor, so is dit ook die werk van die Heilige Gees in ons harte om die geloof te begin, dit te onderhou, te koester en te versterk.
Hieruit volg ook die volgende twee stellings, naamlik dat die sakramente geen haarbreedte voordeel inhou sonder die krag van die Heilige Gees nie, en dat dit nie verhinder dat hulle die geloof in ons harte wat tevore reeds deur die Heilige Gees as Onderwyser daarin onderrig is, kragtiger kan maak en laat groei nie. Daar is slegs hierdie verskil, naamlik dat die vermoë om te hoor en te sien van nature in ons ore en ons oë ingeskape is, maar Christus werk sonder beperking van die natuur deur sy besondere genade in ons harte.
10. 'n Weerlegging van die beswaar dat die Gees veronreg word as aardse dinge wasdom in die geloof veroorsaak.←⤒🔗
Hierdeur word terselfdertyd ook die besware wat sommiges besorg hou, uit die weg geruim. Hulle sê dat as ons die groei of die toename van die geloof aan skepsels toeskryf, die Gees van God veronreg word omdat ons Hom alleen as die Skepper daarvan moet erken. Ons neem intussen egter nie die lof van die Gees dat Hy die geloof versterk en vermeerder, van Hom weg nie. Ons betoog eerder dat juis die feit dat Hy die geloof laat toeneem en versterk, niks anders is as om ons harte deur sy innerlike verligting voor te berei om die versterking (van die geloof) wat in die sakramente aan ons voorgesit word, op te neem nie.
As dit nog te onduidelik gestel is, sal dit aan die hand van die volgende vergelyking wat ek sal voorhou, baie duidelik word. As jy van plan is om iemand met woorde te oorreed om iets te doen, sal jy al jou planne uitdink om hom na jou raad te trek en byna daartoe te dwing om jou raad te gehoorsaam. Dit sou inderdaad vrugteloos wees as hy nie op sy beurt 'n skrander en skerpsinnige oordeelsvermoë het om in staat te wees om te oorweeg hoeveel gewig daar in jou redenasies aanwesig is nie, as hy verder 'n leergierige geaardheid het wat gereed is om na jou onderrig te luister, en as hy ten slotte so 'n opvatting van jou betroubaarheid en jou verstandigheid het dat hy as't ware vooraf oordeel om jou raad te aanvaar. Daar is trouens uiters baie koppige mense wat jy nooit met enige redenasie kan beïnvloed nie. En wanneer jou geloofwaardigheid onder verdenking is, wanneer jou gesag geminag word, maak jy weinig vordering selfs by leergierige mense.
Maar gestel nou dat dit alles wel by hom aanwesig is; dan sal dit inderdaad veroorsaak dat iemand wat jy van raad bedien, hom by jou raadgewings sal berus terwyl hy andersins die spot daarmee sou dryf. Die werk doen die Heilige Gees ook in ons. Om immers te voorkom dat die Woord tevergeefs in ons ore weerklink, en om te voorkom dat die sakramente ons oë verniet tref, toon Hy dat dit God is wat daar met ons praat, en Hy versag die hardnekkigheid van ons hart en rig dit in vir die gehoorsaamheid wat aan die Woord van God verskuldig is. Kortom: Hy voer sowel die uiterlike waarde as die sakramente deur ons are tot in ons siele. Sowel die Woord as die sakramente versterk derhalwe ons geloof wanneer hulle die goeie wil van ons hemelse Vader ons voor oë stel en die volle bestendigheid van ons geloof berus daarop om Hom te ken en die krag van ons geloof neem daardeur toe. Die Heilige Gees versterk ons geloof wanneer Hy die versterking in ons harte ingraveer en dit kragtig maak. Intussen kan die Vader van die ligte43 nie verhinder word om ons gemoedere met die sakramente soos met 'n glans wat tussenbeide kom, te verlig nie, netsoos ons liggaamlike oë deur die son se strale.
11. Woordverkondiging en die werk van die Heilige Gees moet egter onderskei word.←⤒🔗
Die Here het ons geleer dat hierdie eienskap in die uiterlike word aanwesig is toe Hy die Woord in 'n gelykenis saad genoem het.44 Want as saad op 'n woeste verwaarloosde deel van die land val, kan dit nie anders as om te sterf nie. Maar as dit op 'n gepas bewerkte en versorgde koringland gegooi word, sal dit sy vrug met die beste wins oplewer. Net so sal die Woord van God onvrugbaar wees as dit op 'n stroewe hardnekkige mens val asof dit op die sand gegooi is. Maar as dit 'n siel gevind het wat deur die hand45 van die hemelse Gees geskool is, sal dit uiters vrugbaar wees. Maar as die verhouding tussen saad en die Woord dieselfde is, waarom sou ons dan nie, net soos ons verklaar dat koring uit die saad spruit, daaruit groei en tot rypheid kom, kon sê dat die geloof ook uit die Woord sy begin, sy wasdom en sy volmaaktheid kry nie?
Op verskillende plekke (in die Skrif) verklaar Paulus beide hierdie aspekte die beste. Want wanneer hy die Korintiërs daaraan wil herinner hoe kragdadig God sy werk gebruik het,46 roem hy dat hy die bediening van die Gees het47 asof die krag van die Heilige Gees met 'n onverbreekbare band met sy prediking verbind was om harte innerlik te verlig en te ontroer. Maar wanneer hy ons elders wil leer waartoe die Woord van God in staat is as dit deur 'n mens verkondig word, vergelyk hy bedienaars (van die Woord) met boere wat, wanneer hulle hulle arbeid en inspanning daaraan bestee het om die grond te bewerk, niks meer het om te doen nie.48 Wat sou ploeg, saai en natmaak egter gebaat het, as die gesaaides nie deur die hemelse seën aan die groei gehou is nie? Hy kom gevolglik tot die slotsom dat hy wat plant en hy wat natmaak, niks is nie, maar dat dit alles aan God toegeskryf moet word wat alleen wasdom daaraan gee.49 Die apostels bewys dus die krag van die Gees in hulle prediking in soverre God van hulle as instrumente gebruik maak wat bestem is om sy geestelike genade te verklaar. Nogtans moet ons hierdie onderskeid altyd in gedagte hou sodat ons kan onthou wat die mens op sigself vermag, en wat God toekom.
12. In hoeverre die sakramente 'n versterking van ons geloof is.←⤒🔗
Die sakramente is egter net in soverre versterkings van ons geloof dat die Here soms die sakramente self wegneem wanneer Hy die vertroue juis op die dinge wat Hy in die sakramente aan ons beloof het, wil wegneem. Wanneer Hy Adam die gawe van onsterflikheid ontneem en hom dit ontsê, verklaar Hy dat hy nie van die vrug van die lewe mag neem nie sodat hy nie vir ewig mag leef nie.50 Wat hoor ons? Kon die vrug Adam se onbedorwenheid waarvan hy reeds afvallig geraak het, weer in ere herstel? Hoegenaamd nie! Dit is immers asof Hy gesê het: "Hy mag nie ydel vertroue (op onsterflikheid) aan die dag lê as hy die teken van My belofte hou nie. Laat daarom ook dit wat hom enigsins hoop op onsterflikheid kan laat koester, van hom weggeneem word". Wanneer die apostel die Efesiërs daarom wil vermaan om daaraan te dink dat hulle eertyds vreemdelinge aan die verbonde was, en vreemd aan die geselskap van Israel, sonder God en sonder Christus,51 het hy gesê dat hulle geen deel in die besnydenis gehad het nie.52 Daarmee gee hy by wyse van metonimia te kenne dat diegene van die belofte self uitgesluit is wat nie die teken van die belofte ontvang het nie.
Dit is maklik om te antwoord op hulle tweede beswaar, naamlik dat die heerlikheid van God na skepsels afgelei word omdat aan hulle soveel mag toegeken word, en dat sy heerlikheid so verminder word.53 Ons stel naamlik geen krag in skepsels nie. Ons sê slegs dat God middele en instrumente gebruik wat Hy voorsien doelmatig is sodat alles sy heerlikheid kan dien omdat Hy die Here en Regter van alle dinge is. Soos Hy ons liggame dus deur brood en ander voedsel voed, soos Hy die wêreld deur die son verlig; soos Hy ons deur vuur verwarm, en nòg brood, nòg die son, nòg vuur, iets anders as instrumente is waardeur Hy sy seëninge aan ons uitdeel, net so voed Hy ons geloof geestelik deur die sakramente. Die enigste taak daarvan is om sy beloftes ons voor oë te stel; ja, dat dit vir ons pande van sy beloftes is. En soos ons in ander skepsels wat deur die milddadigheid en goedertierenheid van God bestem is om deur ons gebruik te word, en deur die diens waarvan Hy ons die gawes van sy goedertierenheid skenk, geen vertroue moet stel en hulle as oorsake van ons eiendom moet bewonder en verhef nie, so moet ons ook geen vertroue op die sakramente stel en die heerlikheid van God op hulle oordra nie. Ons moet alle ander dinge laat vaar en ons geloof en belydenis moet tot Hom as die Skepper van soweldie sakramente as van alle dinge opstyg.
13. 'n Verwerping van die opvatting dat die oorspronklike betekenis van die woord 'sakrament' as 'n soldate-eed die inhoud van die sakramente bepaal.←⤒🔗
Die feit dat party mense juis uit die betekenis van die woord sakrament 'n bewys hiervoor aanvoer, staan glad nie op vaste grond nie. Hulle sê: "Hoewel die woord sakrament baie betekenisse onder vooraanstaande skrywers het, het dit nogtans net een aanduiding wat met tekens ooreenstem, naamlik die betekenis waarvolgens dit die plegtige eed aandui wat 'n soldaat aan die keiser aflê wanneer hy met militêre diens begin. Soos nuwe soldate hulle trou aan die keiser verbind deur daardie militêre eed, so erken ons Christus ook as ons Leier en ons getuig dat ons onder sy vaandel veg".54 Om die onderwerp nog duideliker te maak, voeg hulle ook vergelykings daarmee by, byvoorbeeld dat 'n toga die Romeine van die Grieke wat in mantels geklee was, onderskei het; dat stande onder die Romeine deur hulle eie tekens onderskei is; dat die senatorestand van die ridderorde onderskei is deur purperklere en maanvormige skoene, dat die ridderorde weer van die gewone mense onderskei is deur 'n ring. Net so dra ons ons eie tekens wat ons van onheilige mense onderskei.
Maar uit die voorgaande uiteensetting is dit oorvloedig duidelik dat die skrywers van ouds wat die betekenis tekens aan die woord sakramente gegee het, hoegenaamd nie die betekenis wat die woord onder Latynse skrywers gehad het, in aanmerking geneem het nie. Dit is ook duidelik dat hulle na goeddunke 'n nuwe betekenis aan die woord geheg het om doodeenvoudig heilige tekens aan te dui.55 Maar as ons ernstiger daaroor wil redeneer, kan gesien word dat hulle na aanleiding van dieselfde analogie die woord sakrament op so 'n betekenis oorgedra het as waarmee hulle die woord geloof in die betekenis misbruik waarin dit tans misbruik word. Want hoewel geloof die trou in die uitvoer van beloftes beteken, beweer hulle nogtans dat geloof die sekerheid, of 'n sekere oortuiging is juis oor die waarheid. Hoewel 'n sakrament 'n soldaat se eed is waarmee hy hom aan sy keiser wy, het hulle dit so omskep in die eed van ons Keiser waarvolgens Hy sy soldate in sy rangordes opneem. Die Here beloof immers deur die sakramente dat Hy vir ons 'n God en ons vir Hom 'n volk sal wees.56
Maar ons laat sulke spitsvondighede daar. Dit lyk immers vir my asof ek met redenasies wat duidelik genoeg is, bewys het dat die skrywers van ouds geen ander doel gehad het as om aan te dui dat die sakramente tekens van heilige en geestelike dinge is nie.57
Die vergelykings wat hulle oor die uitwendige onderskeidingstekens aanvoer, aanvaar ons wel, maar ons verdra nie dat hulle dit wat laaste in die sakramente is, as die belangrikste en as sodanig as die enigste aspek daarvan poneer nie. Die belangrikste aspek daarvan is naamlik dat die sakramente ons geloof voor God moet dien en die onbelangrikste aspek daarvan is dat dit van ons belydenis by die mense moet getuig. Hulle vergelykings is wel geldig ten opsigte van die laaste betekenis. Intussen moet die voorgaande betekenis egter vas bly staan want die sakramente sou andersins verstyf soos ons gesien het, tensy hulle hulpmiddels vir ons geloof is en aanhangsels by die leer wat vir dieselfde gebruik en doel bestem is.
14. Ons moet egter daarteen waak om nie aan die sakramente meer toe te dig as wat in die Skrif daaraan toegeskryf word nie.←⤒🔗
Aan die ander kant moet ons egter vermaan word dat, soos die bogenoemde mense die krag van die sakramente verswak en die nut daarvan heeltemal wegneem, daarteenoor ander staan wat die een of ander geheime mag aan die sakramente toedig waarvan ons nêrens lees dat dit deur God aan die sakramente gegee is nie. Eenvoudiges en ongeleerdes word deur hierdie dwaling gevaarlik mislei en geleidelik van God af weggetrek wanneer hulle geleer word om God se gawes te soek waar dit volstrek nie te vinde is nie sodat hulle in plaas van God se waarheid louter ydelheid omhels. Die skole van die Sofiste het trouens eendragtig geleer dat die sakramente van die nuwe wet, dit is die sakramente wat tans in die Christelike kerk in gebruik is, ons regverdig kan maak en aan ons genade kan gee, mits ons nie 'n versperring in die weg daarvan plaas deur 'n doodsonde te begaan nie.58 Ons kan nie sê hoe dodelik en verderflik hierdie opvatting is nie, des te meer omdat dit vir baie eeue lank tot groot skade van die kerk in 'n groot deel van die wêreld vastrapplek gekry het. Dit is beslis duidellk 'n duiwelse opvatting. Wanneer dit trouens geregtigheid sonder die geloof beloof, dryf dit ons siele halsoorkop die verderf in. Omdat dit verder die oorsaak van die geregtigheid van die sakramente weglei,59 verstrik dit met hierdie bygeloof die arme siele van mense wat alreeds meer as genoeg vanself na die aarde neig, sodat hulle eerder op die aanskouing van die aardse saak as op God self steun.
Het ons tog maar nie hierdie twee dinge so aangetref nie - dan sou hulle nie 'n lang bewys nodig gehad het nie. Wat is 'n sakrament wat sonder die geloof ontvang word, anders as die baie besliste ondergang van die kerk? Aangesien ons immers niks moet verwag wat buite die belofte daarvan geleë is nie, en die belofte ongelowiges nie minder met sy toorn dreig as wat dit die gelowiges genade aanbied nie, kom iemand bedroë daarvan af as hy reken dat iets meer deur die sakramente vir hom aangebied word as wat deur die Woord van God aangebied word en wat hy met 'n opregte geloof aanneem.
Na aanleiding hiervan word ook 'n tweede dwaling weerlê, naamlik dat die vertroue op saligheid nie van deelname aan die sakramente afhang asof regverdigmaking daarin geleë is nie. Ons weet trouens dat die regverdigmaking in Christus alleen weggelê is en dat ons nie minder deur die verkondiging van die evangelie daarin deel as deur die beseëling van die sakrament nie, en dat die regverdigmaking sonder hierdie beseëling nog ten volle kan bestaan. Wat ook deur Augustinus geskryf word, is tog so waar, naamlik dat die onsigbare heiligmaking sonder die sigbare teken kan bestaan, en die sigbare teken op sy beurt sonder die ware heiligmaking.60 Want, soos hy elders skryf, beklee mense hulle soms so met Christus dat hulle die sakrament, en soms so dat hulle heiligmaking van die lewe ontvang. En sowel goeie as slegte mense kan in die eerste hiervan deel. Maar die tweede hiervan kom slegs goeie en godvrugtige mense toe.61
15. Die onderskeid tussen die sakrament en die saak van die sakrament.←⤒🔗
As ons dit na behore begryp, ontstaan hieruit die onderskeid tussen 'n sakrament en die saak van die sakrament wat baie dikwels deur dieselfde Augustinus gemaak word.62 Hy gee immers te kenne nie alleen dat die beeld en die werklike inhoud in die sakrament saamgevat word nie, maar ook dat hulle so met mekaar saamhang dat hulle nie geskei kan word nie. Hy sê egter dat juis in die samevoeging daarvan altyd tussen die saak en die teken onderskei moet word om te voorkom dat ons iets wat die een toekom, aan die ander een toeskryf. Hy praat van skeiding wanneer hy skryf dat die sakramente slegs in die uitverkorenes verrig wat hulle beteken.63 Net so wanneer hy van die Jode skryf: "Hoewel die sakramente aan almal gemeenskaplik is, was die genade wat die krag van die sakramente is, nie gemeenskaplik nie, so is die afwassing van die wedergeboortes64 aan almal gemeenskaplik, maar juis die genade waarmee die lede van Christus met hulle Hoofwederbaar word, is nie aan almal gemeenskaplik nie".65 Aan die ander kant skryf hy elders van die nagmaal van die Here: "Ons ontvang ook vandag sigbare voedsel, maar die sakrament is een ding en die krag van die sakrament iets anders. Wat beteken dit dat baie mense iets van die altaar af ontvang en sterf, en juis sterf omdat hulle dit ontvang? Die ete van die Here was trouens ook vir Judas gif, maar omdat hy sleg was het hy iets wat goed was, sleg ontvang''.66
'n Bietjie later skryf hy: "Die sakrament van hierdie saak, dit is van die eenheid van die liggaam en die bloed van Christus, word op sommige plekke daagliks, en op ander plekke met bepaalde tussenposes op die tafel van die Here voorberei. Sommige mense neem daarvan tot die lewe en sommiges tot die verderf. Maar juis die saak waarvan dit 'n sakrament is, dien vir almal wat daaraan deelneem, tot die lewe en vir geeneen tot verderf nie". En 'n rukkie vroeër het hy gesê: "Wie daarvan eet, sal nie sterf nie, maar dit is slegs hy wat deel in die krag van die sakrament en nie in die sigbare sakrament nie: dit is hy wat inwendig daarvan eet, en nie uitwendig nie, dit is hy wat met sy hart eet en nie met sy tande daaraan kou nie".67 Hier hoor jy oral dat die sakrament vanweë onwaardigheid van die een wat dit neem, so van die ware inhoud daarvan losgemaak word dat niks anders as 'n leë nuttelose teken daarvan oorbly nie. Om dus nie die teken sonder die ware inhoud te hê nie, maar om die ware saak en die teken tesame te hê, moet jy die Woord wat daarby ingesluit is, in die geloof aangryp. So sal jy deur die sakramente in die gemeenskap van Christus soveel vordering daarin maak as wat jy voordeel daaruit put.
16. 'n Vollediger uiteensetting van hierdie standpunt.←⤒🔗
As dit vanweë die bondigheid daarvan nog baie onduidelik is, sal ek dit breedvoeriger verduidelik. Ek sê dat Christus die stof, of as jy dit liewer wil, die wese van al die sakramente is omdat hulle in Hom volle bestendigheid het en omdat hulle sonder Hom niks beloof nie.68 Daarom is Petrus Lombardus se dwaling des te ondraagliker wanneer hy die sakramente uitdruklik die oorsaak van die geregtigheid en saligheid maak terwyl hulle net dele daarvan is,69 Ons moet dus alle oorsake wat die verstand van die mens versin, laat vaar en aan Christus as die enigste oorsaak daarvan hou. Ons word dus deur hulle diens soveel gehelp om enersyds die ware kennis van Christus in ons te koester, te versterk en te laat toeneem, en Hom andersyds vollediger in besit te neem en sy rykdom te geniet as wat hulle krag onder ons het. Dit gebeur egter wanneer ons dit wat in die sakramente aangebied word, met 'n waaragtige geloof aanneem.
Nou sal jy vra: "Veroorsaak goddelose mense dan deur hulle ondankbaarheid dat God se instelling tot niet gaan en tot 'n einde kom?" My antwoord daarop is dat dit wat ek gesê het, nie so verstaan moet word asof die krag en waarheid van die sakrament van die toestand of die oordeel van die een wat dit ontvang, afhang nie. Wat God trouens ingestel het, bly vas staan en behou sy aard al sou mense ook hoe verander. Aangesien dit egter een ding is om iets aan te bied en 'n ander ding om dit te ontvang, verhinder niks dat die teken wat deur die Woord van God geheilig is, in werklikheid is wat dit genoem word en sy krag handhaaf nie, maar dat geen voordeel daarvan 'n misdadiger en goddelose mens bereik nie. Maar Augustinus los hierdie vraagstuk goed op met 'n paar waarde. Hy sê: "As jy dit vleeslik ontvang, hou dit nie op om geestelik te wees nie. Maar dit is nie vir jou geestelik nie".70 En soos Augustinus in die voorgaande aanhalings bewys het dat 'n sakrament iets van geen belang is as dit van die werklike inhoud daarvan losgemaak word nie,71 so vermaan hy ons ook elders dat ons, ook waar hulle saamgevoeg is, tussen hulle moet onderskei om te voorkom dat ons alte veel aan die uiterlike teken daarvan bly kleef. Hy sê: "Soos dit kenmerkend van slaafse swakheid is om die letter te volg en die teken in plaas van die saak self te ontvang, so is dit 'n kenmerk van onbeheerde dwaling om die tekens nutteloos te vertolk".72 Hy poneer twee gebreke waarteen ons hier moet waak: die een is wanneer ons die tekens so verstaan asof dit tevergeefs gegee is, en deur ons kwaadwilligheid die verborge betekenisse daarvan uit die weg ruim of verswak, en sodoende veroorsaak dat dit geen vrug vir ons dra nie. Die tweede gebrek is wanneer ons deur nie ons verstand bo die sigbare teken te verhef nie, die lof vir die goeie juis op die sakrament oordra terwyl dit slegs deur Christus alleen aan ons verleen word - en dit deur die Heilige Gees wat ons deelgenote aan Christus self maak. Dit gebeur ook met die hulp van uiterlike tekens en as hulle ons na Christus uitnooi maar elders heen weggedraai word, word die hele voordeel daarvan onwaardig vernietig.
17. As die sakramente na behore bedien word, gaan die saak en die inhoud van die sakramente hand aan hand.←⤒🔗
Laat dit daarom vas bly staan dat die funksie van die sakramente nie verskil van dié van die Woord van God nie, naamlik om Christus, en in Hom die skatte van die hemelse genade, vir ons aan te bied en aan ons voor te hou nie. Dit hou egter geen wins of voordeel in tensy ons dit deur die geloof ontvang nie. Dit is netsoos in die geval van wyn of olie of enige ander vloeistof wat sal afloop en verlore sal gaan as die vat se opening nie oop is nie al giet jy dit ook vrylik. Al sou dit oral teen die vat afloep, sal die vat egter hol en leeg bly.
Hierbenewens moet ons ook waak dat die dinge wat deur die skrywers van ouds ietwat grootser beskryf is om die aansien van die sakramente te vergroot, ons nie tot 'n dwaling wat hieraan grens, verlei nie. Dit is naamlik dat ons nie moet dink dat daar die een of ander verskuilde krag aan die sakramente verbind en geheg is waardeur hulle vanself die genade van die Heilige Gees aan ons verleen, en soos wyn in 'n beker te drinke aan ons voorgesit word nie. Van Godsweë is slegs hierdie taak op die sakramente gelê om God se welwillendheid jeens ons te betuig en te bekragtig. En hulle hou geen verdere voordeel in nie tensy die Heilige Gees bykom om ons verstand en ons harte oop te maak en ons vir hierdie getuienis ontvanklik te maak. Hierin kom die verskeie en onderskeie gawes van God ook duidelik na vore. Want, soos ons hierbo daaraan geraak het,73 is hulle vir ons van God af soos boodskappers van blye nuus van mense, of soos 'n borg wanneer 'n ooreenkoms bekragtig word. Hoewel dit inderdaad nie op sigself iets van die genade aan ons skenk nie, maar die boodskap daarvan bring en aantoon, en, aangesien hulle die borge en pande daarvan is, maak hulle die dinge wat deur God se milddadigheid aan ons gegee is, by ons vas en seker. Die Heilige Gees wat die sakramente nie sonder onderskeid aan almal bring nie, maar wat die Here besonderlik net aan die wat aan Hom behoort, gee, is die een wat God se genadegawes met Hom meebring, en ons die geleentheid vir die sakramente bied en veroorsaak dat hulle vrug dra. Ons ontken nogtans nie dat God self met die uiterste nabyheid van die krag van sy Gees by sy instelling aanwesig is nie. Om egter te voorkom dat die bediening van die sakramente wat Hy daarvoor bestem het, nie vrugteloos en leeg sou wees nie, verklaar ons nogtans dat ons die innerlike genade van sy Gees afsonderlik moet oordink en oorweeg.
God volbring dus werklik alles wat Hy met tekens beloof en uitbeeld. Hierdie tekens is ook nie sonder gevolg nie sodat dit bewys dat Hy die waaragtige en getroue Insteller daarvan is. Hier ontstaan slegs die vraag of God deur sy eie en inwendige krag soos die mense dit uitdruk, werk, en of Hy sy werk aan uiterlike tekens oorgee. Ons opvatting is inderdaad dat, al sou Hy van watter instrumente ookal gebruik maak, dit geen afbreuk aan sy primêre werkverrigting maak nie.74 Wanneer dit van die sakramente geleer word, word sowel die aansien daarvan voortreflik aangeprys, en die gebruik daarvan oop en bloot aangedui as die voordeel daarvan oorvloedig verkondig en die beste maatstaf in dit alles behou word sodat niks daaraan toegeken word wat nie daaraan toegeken moet word nie, en aan die ander kant, dat niks daarvan weggeneem word wat daarby hoort nie. Intussen word die verdigsel uit die weg geruim waarvolgens die oorsaak van die regverdigmaking en die krag van die Heilige Gees enersyds in die elemente soos in vaatjies en waentjies75 ingesluit word, en andersyds word die belangrikste krag daarvan wat deur ander skrywers buite rekening gelaat is,76 uitdruklik verduidelik. Hier moet ons ook daarop let dat God inwendig volbring wat sy dienaar deur 'n uitwendige handeling uitbeeld en getuig,77 sodat niks wat God vir Hom self opeis, op 'n sterflike mens oorgedra mag word nie.
Augustinus se vermaning hieroor is verstandig. Hy vra: "Hoe maak Moses sowel as God heilig? Moses maak nie heilig in God se plek nie, maar Moses heilig deur die sigbare sakramente deur sy diens, maar God maak heilig deur sy onsigbare genade deur die Heilige Gees en daarin is ook die volle vrug van die sigbare sakramente. Watter voordeel hou daardie sigbare sakramente trouens sonder die heiligmaking van die onsigbare genade in?"78
18. Voorbeelde van buitengewone tekens wat God die mens gegee het om hom te verseker van die waarheid van sy beloftes.←⤒🔗
Soos ons tot dusver oor die betekenis van die woord sakrament geredeneer het, vat die woord oor die algemeen al die tekens saam wat God ooit aan mense opgedra het om hulle sekerder en geruster oor die waarheid van sy beloftes te maak. Sulke tekens wou Hy soms in natuurlike dinge na vore bring, en soms het Hy dit in wonderwerke aan die lig gebring. Voorbeelde van die eerste groep is byvoorbeeld toe Hy die boom van die lewe as 'n borg vir onsterflikheid aan Adam en Eva gegee het om onsterflikheid vir hulleself te beloof solank hulle van die vrug daarvan geëet het.79 So ook toe Hy die reënboog as 'n gedenkteken vir Noag en sy nageslag ingestel het om hierna nie die aarde met 'n sondvloed uit te wis nie.80 Adam en Noag het dit as sakramente beskou. Dit beteken nie dat die boom die onsterflikheid wat hy nie aan homself kon bied, aan hulle kon lewer nie, of dat die reënboog wat slegs 'n weerkaatsing is van sonstrale teen die wolke wat daarteenoor staan, die krag sou hê om die water in bedwang te hou nie, maar omdat hulle dit as 'n teken beskou het wat deur God se Woord ingegrif is om as bewyse en tekens van sy verbonde te dien. Vooraf was die boom net 'n boom en die reënboog net 'n reënboog, toe hulle egter deur God se Woord opgeteken is, is nuwe gestalte aan hulle verleen sodat hulle begin het om iets te wees wat hulle tevore nie was nie.
Om te voorkom dat iemand sou dink dat dit verniet gesê word: die reënboog is vandag nog ook vir ons 'n getuie van die verbond wat die Here met Noag gesluit het. So dikwels as wat ons dit sien, lees ons daarin hierdie belofte van God dat die aarde nooit as gevolg van 'n sondvloed sal vergaan nie. As die een of ander wysneus om die eenvoud van ons geloof te bespot, dus aanvoer dat so 'n verskeidenheid kleure van nature vanweë die weerkaatsing van die sonstrale en die wolke daarteenoor ontstaan, erken ons dit weliswaar, maar ons sou oor sy stompsinnigheid lag omdat hy God nie as die Here en Regeerder van die natuur erken wat al die elemente na sy goeddunke in diens van sy heerlikheid gebruik nie.81
Maar as Hy sulke gedenktekens op die son, die sterre, die aarde en op klippe sou afgedruk het, sou dit alles vir ons sakramente gewees het. Waarom het ru silwer en gemunte silwer nie dieselfde waarde nie terwyl hulle volkome een en dieselfde metaal is? Dit is natuurlik omdat ru silwer niks anders as die aard van silwer het nie maar wanneer dit in algemene vorm gemunt is, word dit geld en ontvang nuwe waarde. En sal God sy skepsels nie deur sy Woord kan teken sodat hulle sakramente word terwyl hulle tevore blote elemente was nie?
Voorbeelde van die tweede groep is toe Hy 'n lig in 'n rokende oond aan Abraham getoon het;82 toe Hy die vel met dou natgemaak het maar die grond droog laat bly het; en toe weer die grond natgemaak, maar die vel nie aangeraak het nie om aan Gideon die oorwinning te beloof;83 toe Hy die skadu van die sonhorlosie tien grade teruggetrek het om aan Hiskia gesondheid te beloof.84 Omdat hierdie dinge gebeur het om hulle swak geloof te hulp te kom en dit te versterk, was dit ook sakramente.
19. Die behoefte aan gewone sakramente in die kerk.←⤒🔗
Maar die doel van my huidige onderneming is om besonderlik oor die sakramente te praat wat die Here gewoonlik in sy kerk wou laat bestaan om diegene wat hom aanbid en dien, tot een geloof en tot die belydenis van een geloof te voed. Want, om Augustinus se woorde te gebruik, mense kan in geen godsdiens, of dit nou waar of vals is, saamgebind word tensy hulle deur die een of ander deelname in tekens of sakramente bymekaargebring word nie.85 Aangesien ons beste Vader dus hierdie noodsaaklikheid voorsien het, het Hy in die begin bepaalde oefeninge in godvrugtigheid vir sy diensknegte ingestel. Die Satan het dit later op baie maniere op goddelose en bygelowige godsdienste oorgedra en dit onteer en bederf.86 Hieruit het die inwydings van die heidene in hulle godsdienste en ander ontaarde seremonies ontstaan. En hoewel hulle vol dwaling en bygeloof was, was hulle nogtans tegelyk 'n aanduiding daarvan dat mense in hulle beoefening van die godsdiens nie sonder sulke uitwendige tekens kan klaarkom nie. Omdat hulle egter nie op God se Woord gesteun het en hulle nie op die waarheid wat in alle tekens voorgehou behoort te word, gerig was nie, verdien hulle nie om vermeld te word wanneer heilige tekens vermeld word wat deur God ingestel is om hulpmiddels vir ware godsvrug te wees wat nie van hulle fondament afgewyk het nie.
Sakramente bestaan egter nie uit eenvoudige tekens soos die reënboog en die boom (van die lewe) nie, maar uit seremonies of, as jy dit verkies: die tekens wat hier gegee word, is seremonies. Soos egter vroeër gesê is,87 is hulle van die kant van die Here getuienisse van sy genade en ons saligheid, en van ons kant is hulle tekens van ons roeping waarvolgens ons in die openbaar by God se Naam sweer en ons trou aan Hom verbind. Iewers noem Chrysostomos dit derhalwe verstandig kontrakte waarmee God ons aan Hom verbind en ons ons verplig tot 'n suiwer en heilige lewe omdat hierdie bepaling onderling tussen God en ons gestel word.88 Soos die Here trouens daar beloof om ons skuld en straf te skrap en uit te wis as ons deur te sondig ons dit op die hals gehaal het, en Hy ons in sy eniggebore Seun met Hom versoen, so stel ons ons deur hierdie belydenis onder verpligting om ons vir godsvrug en onskuld te beywer. Gevolglik sou jy tereg kon sê dat die sakramente sulke seremonies is waardeur God sy volk wil oefen ten eerste om die geloof binne-in te voed, op te wek en te versterk, en ten tweede, om ons godsdiens voor die mense te bely.
20. Sakramente van die Ou Testament en sakramente van die Nuwe Testament.←⤒🔗
Hierdie sakramente was self ook verskillend na gelang die verskil in die tydsgewrig volgens die bedeling waarin die Here dit goedgevind het om Hom op hierdie of daardie manier aan die mense te openbaar. Vir Abraham en sy nageslag is die besnydenis opgedra.89 Later is volgens die Mosaïese wet hierby die reinigingsoffers, bloedoffers en ander seremonies gevoeg.90 Dit was die sakramente van die Jode tot Christus se koms. Van die tyd af is hulle afgeskaf en slegs twee sakramente is ingestel, naamlik die doop en die nagmaal van die Here en hiervan maak die Christelike kerk tans nog gebruik.91
Ek praat nou van daardie sakramente wat ingestel is om in die hele kerk gebruik te word. Handoplegging waarvolgens bedienaars in hulle amp bevestig word,92 tel ek nie onder die gewone sakramente nie hoewel dit nie teen my sin is dat dit ook 'n sakrament genoem word nie. Ons sal weldra sien hoe ons die res wat algemeen as sakramente beskou word, moet ag.93 En tog was daardie sakramente van ouds op dieselfde doel gerig as waarop ons sakramente tans gerig is, naamlik om ons na Christus te stuur en ons byna aan die hand na Hom toe te lei; of eerder om Hom in beelde weer te gee en Hom na vore te bring sodat ons Hom kan leer ken. Aangesien ons trouens vroeër reeds geleer het94 dat die sakramente sekere seëls is waarmee die beloftes van God beseël word, en dit baie beslis seker is dat geen belofte van God ooit die mense aangebied is anders as in Christus nie,95 moet hulle Christus noodwendig vir ons aantoon om ons iets oor die een of ander belofte van God te leer.96 Hierop sien daardie hemelse voorbeeld van die tabernakel en die diens van die wet wat op die berg aan Moses getoon is.97 Tussen hulle is daar slegs die een onderskeid, naamlik dat die beloftes van die Ou Testament die beloofde Christus afgeskadu het terwyl Hy nog afgewag is, maar dat die huidige sakramente getuig dat Hy reeds gestuur en geopenbaar is.
21. 'n Vertolking van die sakramente van die Ou Testament.←⤒🔗
Hierdie stellings sal baie duideliker word wanneer hulle deeltjie vir deeltjie en stukkie vir stukkie behandel is. Die besnydenis was vir die Jode 'n teken waardeur hulle vermaan is dat alles wat uit die saad van die mens voortkom, dit is die hele natuur van die mens, bedorwe is en dat dit afgesny moet word. Daarbenewens was dit ook 'n bewys en gedenkteken waardeur hulle hulle kon versterk in die belofte wat aan Abraham gegee is, naamlik oor die geseënde saad waarin al die volke van die aarde geseën is,98 en waaruit hulle ook hulle seën moes verwag. Soos Paulus leer, was hierdie heilsame saad Christus99 op wie alleen hulle vertrou het dat hulle weer sal terugkry wat hulle in Adam verloor het. Daarom was die besnydenis vir hulle wat dit vir Abraham was, soos Paulus ook leer, naamlik 'n seël van die geregtigheid van die geloof.100 Dit beteken 'n seël waardeur hulle met groter sekerheid verseker kon word dat hulle geloof waarmee hulle hierdie saad verwag het, hulle deur God tot geregtigheid toegereken sal word. Maar ons sal 'n vergelyking tussen die besnydenis en die doop by geleentheid elders breedvoeriger en beter behandel.101
Die wassing- en reinigingseremonies het hulle vuilheid, onreinheid en besmetting waarmee hulle in hulle natuur besmet was, hulle voor oë gestel. Dit het hulle 'n ander afwassing beloof waardeur al hulle vuilheid afgewas en weggespoel sou word.102 Hierdie afwassing was Christus deur wie se bloed ons gewas is103 en deur wie se bloed ons sy reinheid voor die aangesig van God bring om al ons smette te bedek.104 Die bloedoffers het hulle aangekla van hulle ongeregtigheid en hulle tegelyk geleer dat die een of ander voldoening daarvoor nodig was om die oordeel van God te betaal.105 Dit het beloof dat daar 'n Hoëpriester sal wees as Middelaar tussen God en die mense om aan God voldaan te gee deur die vergieting van sy bloed en die offerande van sy offer om voldoening te gee tot vergiffenis van sondes. Hierdie Hoëpriester was Christus.106 Hy het sy eie bloed gestort en Hy was self die offerande. Hy het Homself uit gehoorsaamheid aan die Vader in die dood geoffer107 en deur sy gehoorsaamheid die ongehoorsaamheid van die mens wat die gramskap van God verwek het, tot niet gemaak.108
22. Die sakramente van die Nuwe Testament.←⤒🔗
Sover dit ons sakramente aangaan, hou hulle Christus duideliker aan ons voor namate Hy nader aan die mens geopenbaar is sedert die tyd waarop Hy waarlik deur die Vader geopenbaar is soos Hy beloof is. Die doop getuig trouens vir ons dat ons gereinig en gewas is. Die nagmaal getuig vir ons dat ons verlos is. In die water word die afwassing en in die bloed voldoening uitgebeeld. Hierdie twee word in Christus aangetref wat soos Johannes sê, in water en bloed gekom het.109 Dit beteken om ons te reinig en te verlos. Die Gees van God is ook hiervan 'n getuie. Ja, hierdie drie: water, bloed en Gees getuig saam daarvan.110 In die water en die bloed het ons getuienis van ons reiniging en verlossing, maar die Gees wat die belangrikste getuie is, maak ons geloof in hierdie getuienis vas en seker. Hierdie verhewe geheimenis is in Christus se kruis voortrefIik vir ons aangetoon toe water en bloed uit sy heilige sy gevloei het.111 En om hierdie rede het Augustinus dit met reg die oorsprong van ons sakramente genoem.112
Hieroor sal ek nogtans 'n bietjie breedvoeriger praat. As jy tyd met tyd vergelyk, bestaan daar geen twyfel daaroor dat die genade van die Gees Hom hier oorvloediger openbaar nie. Dit sien trouens op die heerlikheid van die ryk van Christus soos ons uit verskeie skrifverwysings, en veral uit die sewende hoofstuk van Johannes kan aflei.113 In hierdie betekenis moet ons ook Paulus se verklaring opneem, naamlik dat daar onder die wet skadu's was, maar die liggaam in Christus.114 Hy is nie van plan om die getuienisse van die genade hulle krag te ontneem waarin God Hom eertyds aan die aartsvaders as waaragtige God wou bewys nie. So bewys Hy Hom vandag ook aan ons in die doop en die heilige nagmaal. Hy doen dit egter vergelykenderwys om dit wat ons gegee is, groot te maak sodat dit vir niemand meer 'n wonder is dat die seremonies van die wet deur die koms van Christus afgeskaf is nie.
23. Die Skolastici se leer dat die sakramente van die Ou en die Nuwe Testament van mekaar verskil, is daarom verkeerd.←⤒🔗
En om dit ook maar terloops aan te roer, moet ons die leerstelling van die Skolastici volstrek verwerp. Daarvolgens word so 'n groot onderskeid tussen die sakramente van die Ou en die Nuwe Testament gemaak asof die sakramente van die Ou Testament niks anders as die genade van God afgeskadu het nie, maar dat die sakramente van die Nuwe Testament die genade nou aan ons verleen.115 Die apostel praat trouens niks voortrefliker van eersgenoemdes as van laasgenoemdes wanneer hy leer dat die aartsvaders dieselfde geestelike voedsel as ons geëet het nie en hy vertolk hierdie geestelike voedsel as Christus.116 Wie sou waag om dit as 'n niksseggende teken voor te stel terwyl dit die ware gemeenskap met Christus vir die Jode aangebied het? En die kern van die saak wat die apostel daar behandel, stry ook duidelik vir ons. Want om te voorkom dat iemand wat steun op 'n lou kennis van Christus, op 'n niksseggende titel van Christelikheid en op uiterlike tekens, sou waag om God se oordeel te verag, gee hy voorbeelde van God se strengheid teenoor die Jode sodat ons kan weet dat dieselfde strawwe waarmee Hy hulle gestraf het, ook oor ons hang as ons aan dieselfde sondes vrye teuels gee. Om nou sy vergelyking paslik te laat wees, moes hy aantoon dat daar geen ongelykheid tussen ons en hulle is ten opsigte van daardie goed waarop hy ons verbied het om valslik te roem nie. In die eerste plek stel hy hulle in die sakramente aan ons gelyk en hy laat ons geen deeltjie van die voordeel sodat ons gemoedere kan hoop dat ons ongestraf sal bly nie.
En ons mag inderdaad nie aan ons doop meer toeskryf as wat hy elders aan die besnydenis toeken wanneer hy dit 'n seël van die geregtigheid van die geloof noem nie.117 Alles wat derhalwe vandag in die sakramente aan ons voorgesit word, het die Jode ook eertyds in hulle sakramente ontvang, dit is naamlik Christus met al sy geestelike rykdomme. Die krag wat ons sakramente het, het hulle ook in hulle s'n ervaar, naamlik dat hulle vir hulle seëls van God se goedgunstigheid jeens hulle was om te hoop op die ewige lewe. As hulle vaardige vertolkers van die brief aan die Hebreërs was, sou hulle nie so in die duister rondgetas het nie. Aangesien hulle egter daar gelees het dat geen versoening vir sondes deur die seremonies van die wet gedoen is nie, ja, dat die skadu's van ouds van geen belang vir geregtigheid was nie,118 het hulle die vergelyking wat daar behandel word, in die wind geslaan. Terwyl hulle slegs hierdie een aspek aangryp, naamlik dat die wet geen voordeel ingehou het vir die wat dit onderhou het nie,119 het hulle eenvoudig gedink dat die gestaltes van die waarheid ontbloot was.120 Die apostel se voorneme is egter om die seremoniële wet tot niet te maak sodat die mens by Christus kan kom van wie alleen die hele krag daarvan afhang.
24. 'n Weerlegging van die Skolastici se opvatting dat die 'besnydenis van die letter' van geen waarde is nie.←⤒🔗
Maar hulle sal beswaar maak dat dit wat by Paulus gelees kan word oor die besnydenis van die letter,121 van geen belang is voor God nie, dat dit geen voordeel inhou nie en dat dit sinloos is. Want op die oog af druk sulke verklarings die besnydenis ver onder ons doop af.122 Hoegenaamd nie! Want dit sou ook met reg van die doop gesê kon word. Ja, dit word ook van ons doop gesê, ten eerste deur Paulus self wanneer hy aantoon dat God Hom nie laat ophou deur die uiterlike afwassing waardeur ons in die godsdiens ingelyf word nie tensy ons gemoed ook innerlik gereinig word en tot die einde toe in reinheid volhard.123 Ten tweede deur Petrus wanneer hy getuig dat die waarheid van die doop nie in die uitwendige afwassing geleë is nie, maar in die goeie getuienis van die gewete.124
"Maar dit lyk asof hy ook elders die besnydenis wat met die hand gedoen word, heeltemal minag wanneer hy dit vergelyk met die besnydenis van Christus."125 My antwoord daarop is dat ook in hierdie verwysing geen afbreuk aan die aansien daarvan gedoen word nie. Paulus redeneer daar teen mense wat die besnydenis vereis het asof dit noodsaaklik was hoewel dit reeds afgeskaf is. Hy vermaan die gelowiges dus om al die skadu's van ouds te laat vaar en op die waarheid aan te dring. Hy sê byna: "Julle meesters dring daarop aan dat julle liggame besny moet word. En tog is julle na siel en liggaam geestelik besny. Julle het dus die openbaring van die werklikheid wat baie beter is as die skadu daarvan". Iemand sou hierteen die beswaar kon opper dat die beeld nie daarom geminag moet word nie omdat hulle die werklike saak gehad het. Want die aflegging van die oue mens waarvan hy praat, het ook onder die aartsvaders gegeld en die uiterlike besnydenis was tog nie vir hulle oorbodig nie. Die apostel verydel hierdie beswaar wanneer hyonmiddellik byvoeg dat die Kolossensers deur die doop saam met Christus begrawe is.126 Daarmee gee hy te kenne dat die doop vandag vir Christene is wat die besnydenis vir die mense van ouds was en dat die besnydenis daarom nie Christene opgelë kan word sonder om die doop te verontreg nie.
25. 'n Verklaring van Skrifgedeeltes wat die hele wet en die seremonies skynbaar wegneem.←⤒🔗
Maar wat daarop volg, en wat ek reeds onlangs aangehaal het,127 is 'n probleem wat moeiliker is om op te los. Dit is naamlik dat al die Jode se seremonies skadu's van toekomstige dinge was, maar dat die beliggaming daarvan in Christus was.128 Maar dit wat in baie hoofstukke van die brief aan die Hebreërs behandel word, is verreweg die moeilikste, naamlik dat die bloed van diere nie tot die Jode se gewetens gereik het nie;129 dat die wet 'n skadu van die toekomstige seëninge gehad het, en nie 'n beeld van die dinge self nie;130 dat die onderhouers van die wet geen volmaaktheid uit die Mosaïese seremonies verkry het nie,131 en dergelike besware. Ek herhaal wat ek reeds aangeroer het,132 naamlik dat Paulus nie die seremonies skadu's noem omdat hulle geen vastigheid gehad het nie, maar omdat hulle vervulling in 'n sekere sin opgeskort is totdat Christus geopenbaar is. Verder verklaar ek dat dit nie van hulle werking verstaan moet word nie, maar eerder van die wyse van tekening. Want al die tekens het Christus afgeskadu asof hy afwesig was totdat Hy in die vlees geopenbaar is hoewel Hy die nabyheid van sy krag en daarom sy eie nabyheid innerlik aan die gelowiges bewys het. Ons moet egter besonderlik daarop let dat Paulus in al hierdie aanhalings nie eenvoudig praat nie maar wel by wyse van polemiek. Hy was trouens in 'n stryd gewikkel met valse apostels wat die opvatting gehuldig het dat godsvrug sonder inagneming van Christus in seremonies alleen geleë was. Om hulle te weerlë, was dit vir hom voldoende om 'n behandeling te gee van wat die seremonies op sigself kon vermag.
Die skrywer van die brief aan die Hebreërs het ook hierdie doelstelling gevolg. Ons moet derhalwe in gedagte hou dat hier oor die seremonies, wat nie in hulle ware en egte betekenis opgeneem is nie, maar in 'n vals en verkeerde vertolking verdraai is, nie oor die wettige gebruik daarvan nie, maar oor die misbruik van bygeloof, geredeneer word. Wat is dan wonderlik daaraan dat die seremonies van al hulle krag gestroop word as hulle van Christus losgemaak word? Alle tekens gaan immers tot niet wanneer die getekende saak weggeneem word. Toe Christus te doen gehad het met mense wat gedink het dat manna niks anders as kos vir die maag was nie, het Hy sy redenasie so by hulle growwe opvatting aangepas en gesê dat Hy beter voedsel voorsit om siele in die hoop op onsterflikheid te voed.133
As jy 'n duideliker oplossing verlang, het dit alles kortliks die volgende strekking: Ten eerste: die volle toerusting van die seremonies wat in die Mosaïese wet opgeteken is, is iets vaag en van geen waarde nie tensy dit op Christus gerig word. Ten tweede: die seremonies het so op Christus gesien dat hulle eers vervul is toe Hy in die vlees geopenbaar is. Ten slotte: die seremonies moes deur sy koms afgeskaf word netsoos 'n skadu in helder sonlig verdwyn. Omdat ek egter 'n langer bespreking van hierdie onderwerp uitstel tot die geleentheid waar ek my voorgeneem het om die doop met die besnydenis te vergelyk,134 roer ek dit nou kortliks aan.
26. 'n Weerlegging van getuienis uit die werke van die skrywers van ouds waarmee die Sofiste hulle opvatting bewys.←⤒🔗
Miskien het die onmatige lof vir die sakramente wat oor ons tekens by die skrywers van ouds te lees is, die arme Sofiste mislei. Augustinus verklaar byvoorbeeld dat die sakramente van die wet van ouds slegs die Verlosser beloof het, maar dat ons sakramente waarlik saligheid gee.135 Aangesien hulle nie daarop let dat hierdie en soortgelyke stellings 'n stylfiguur van oordrywing is nie, het hulle self hulle oordrewe leerstellings bekend gestel, maar in 'n betekenis wat heeltemal vreemd is aan die geskrifte van die skrywers van ouds. Augustinus bedoel trouens niks anders as wat hy elders skryf nie, naamlik dat die sakramente van die Mosaïese wet Christus verkondig het, maar dat ons sakrament Hom aankondig. 136 En teen Faustus sê hy dat die sakramente beloftes was van dinge wat nog vervul moes word, maar dat ons sakramente tekens is van beloftes wat reeds vervul is.137 Dit is asof hy gesê het dat die ou sakramente Hom afgeskadu het terwyl daar nog op Hom gewag is, maar dat ons sakramente Hom openbaar asof Hy teenwoordig is omdat Hy reeds gegee is.
Verder praat hy ook van die manier waarop hulle Hom afgeteken het, soos hy ook elders aandui. Hy sê: "Die wet en die profete het sakramente gehad wat die toekoms aangekondig het, maar die sakramente van ons tyd getuig dat. Hy gekom het terwyl hulle verkondig het dat Hy nog sal kom".138 Hy verklaar op baie plekke wat sy gevoel oor die werklike saak en die krag (van die ou sakramente) was soos wanneer hy sê dat die sakramente van die Jode in tekens van ons s'n verskil het, maar in die werklike inhoud wat geteken word, met ons s'n gelyk was; dat hulle verskil het in sigbare gestalte, maar dat hulle in geestelike krag gelyk was.139 Net so: "In tekens wat (van ons s'n) verskil, het (die Jode) dieselfde geloof gehad; soos hulle dit in verskillende tekens gehad het, ook in verskillende woorde, want die woorde het in (verskillende) tye van klank verander, en die woorde is niks anders as die tekens nie. Die aartsvaders het dieselfde geestelike drank (as ons) gedrink maar nie dieselfde liggaamlike drank nie. Let dus daarop dat die geloof gebly het al het die tekens verskil. Daar was die rots Christus;140 nou is Christus vir ons dit wat op die altaar gelê word; hulle het as 'n belangrike sakrament die water wat uit die rots vloei, gedrink; as gelowiges weet ons wat ons nou drink. As jy jou oë vestig op die sigbare gestalte daarvan, is dit anders (as ons s'n): as jy egter op die betekenis wat daaronder verstaan word, let, het hulle dieselfde geestelike drank (as ons) gedrink".141 Elders sê hy: "In die geheimenis was hulle voedsel en drank dieselfde as wat ons het; maar hulle was in betekenis dieselfde en nie in gestalte nie want dieselfde Christus is vir hulle in'n rots afgeteken, maarvir ons is Hy in die vlees geopenbaar".142
Ons gee nogtans toe dat hierin ook 'n mate van verskil is. Want beide (Testamente) getuig dat die vaderlike goedgunstigheid van God en die genade van die Heilige Gees in Christus ons aangebied word, maar ons s'n betuig dit voortrefliker en duideliker. In beide word Christus aan ons getoon,143 maar in ons sakramente is hy oorvloediger en vollediger, naamlik in soverre die Ou en die Nuwe Testamente verskil waaroor ons vroeër gepraat het.144 En dit is wat dieselfde Augustinus vir wie ons as die heel beste en betroubaarste getuie uit die hele ou tyd baie dikwels aangehaal het, bedoel het toe hy geleer het dat die sakramente ingestel is nadat Christus geopenbaar is; hoewel hulle in getal minder was, was hulle grootser in betekenis en uitnemender in krag.145
My lesers moet ook kortliks oor hierdie onderwerp gewaarsku wees, dat al die onsin wat die Sofiste oor 'n gewerkte werk146 kwytgeraak het, nie alleen vals is nie, maar dat dit ook strydig is met die aard van die sakramente wat God ingestel het sodat gelowiges wat reeds sonder alle goeie dinge en hulpeloos is, niks anders as 'n bedelaar daarheen moet bring nie. Daaruit volg dat hulle deur die sakrament te ontvang niks doen op grond waarvan hulle lof verdien nie, of dat aan hulle in hierdie handeling wat ten opsigte van hulleself bloot passief is, geen werk toegeskryf kan word nie.