Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 4 Hoofstuk 11 Die Jurisdiksie van die kerk en die misbruik daarvan soos dit onder die pousdom merkbaar is
Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 4 Hoofstuk 11 Die Jurisdiksie van die kerk en die misbruik daarvan soos dit onder die pousdom merkbaar is
1. Die derde aspek van kerklike mag: die sleutelmag.⤒🔗
Nou bly die derde aspek van kerklike mag oor wat weliswaar in 'n goed geordende toestand die belangrikste is en soos ons gesê het, in die regspraak geleë is.1 Regspleging van die kerk het egter volledig betrekking op die dissipline oor die sedes. Ons sal dit weldra behandel.2 Soos geen stad en geen dorp trouens sonder 'n owerheid of regeringsbestel kan bestaan nie, so het die kerk van God sy eie bepaalde geestelike bestel nodig soos ek reeds geleer het3 maar nou gedwing word om weer eens te herhaal. Dit verskil egter heeltemal van 'n burgerlike bestel hoewel dit die burgerlike bestel nie verhinder of verswak nie, maar eerder bystaan en bevorder. Die regsprekende mag is samevattend dus niks anders as die orde wat geskep is om die geestelike bestel te handhaaf nie.
Met hierdie doel voor oë is daar van die begin af howe in kerke ingestel om sensuur oor die sedes uit te oefen, gebreke te ondersoek en verantwoordelik te wees vir die uitoefening van die sleutelamp.4 Paulus dui op hierdie orde in sy brief aan die Korintiërs wanneer hy hulle regerings noem.5 Net so in sy brief aan die Romeine wanneer hy sê: "Laat hy wat regeer, met sorgvuldigheid regeer''.6 Hy praat trouens nie daar met (burgerlike) owerhede nie - daar was toe nog geen Christelike Owerhede nie -, maar met dié wat by die herders gevoeg is om die geestelike regering van die kerk waar te neem. In sy brief aan Timoteus onderskei hy ook twee soorte presbiters, naamlik sommiges wat in die Woordbediening werk en sommiges wat nie die verkondiging van die Woord verrig nie en nogtans goed regeer.7 Daar bestaan geen twyfel daaroor dat hy onder laasgenoemde groep diegene verstaan wat aangestel was om die sedes te ondersoek en ten volle van die sleutels gebruik te maak nie. Want hierdie mag waarvan ons praat, hang ten volle af van die sleutels wat Christus volgens Matteus agtien aan die kerk gegee het. Daar gelas Hy dat diegene wat persoonlike vermanings geminag het, ernstig in die openbaar vermaan moet word, maar hy leer ook dat, as hulle in hulle hardnekkigheid volhard, hulle die gemeenskap van die gelowiges ontsê moet word.8
Voorts kan sulke vermanings en bestrawwings nie sonder 'n ondersoek plaasvind nie. Daarom is daar sowel 'n hof as die een of ander prosedure nodig. As ons die belofte van die sleutels daarom nie tot niet wil maak en afsnyding, plegtige vermanings en dergelike dinge wil ophef nie, moet ons aan die kerk 'n sekere regspraak vergun.
My lesers moet daarop let dat dit in die verwysing hierbo nie gaan om die algemene gesag van die leer soos in Matteus sestien en Johannes een-en-twintig9 nie, maar dat die reg van die sanhedrin in die toekoms na die kudde van Christus oorgedra word. Tot daardie dag toe was dit die regeringsvorm onder die Jode maar Christus het dit as instelling in sy kerk gevestig in soverre dit suiwer was, en dit ook met 'n ernstige strafbepaling. Dit moes trouens ook so wees aangesien die oordeel van 'n onbekende en veragte kerk andersins deur roekelose hooghartige mense geminag kon word.
En om te voorkom dat dit my lesers hinder dat Christus dinge wat effens van mekaar verskil, met dieselfde woorde beskryf, sal dit nuttig wees om hierdie probleem op te los. Daar is dus twee Skrifverwysings wat oor vasmaak en losmaak praat. Die een is in Matteus sestien waar Christus dadelik nadat Hy beloof het dat Hy die sleutels van die koninkryk van die hemel aan Petrus sal gee, byvoeg dat alles wat hy op die aarde bind of losmaak, in die hemel bekragtig sal wees.10 Met hierdie woorde dui Hy niks anders aan nie as wat ons in Johannes in ander woorde aantref toe Hy sy dissipels wou uitstuur om die evangelie te verkondig. Nadat Hy oor hulle geblaas het, het Hy gesê: "As julle hulle sondes vergeef, sal dit vergewe wees; en as julle hulle sondes hou, sal dit in die hemel gehou word".11 Ek sal 'n verklaring daarvan gee wat nie spitsvondig, nie gedwonge en nie verwronge is nie, maar opreg, vloeiend en voor die hand liggend.12 Laasgenoemde se opdrag om sondes te vergewe en te hou en eersgenoemde se belofte aan Petrus oor die bind en losmaak daarvan, behoort slegs betrek te word op die bediening van die Woord want terwyl die Here dit aan die apostels opgedra het, het Hy hulle tegelyk vir die amp om los te maak en vas te maak toegerus. Wat is die somtotaal van die evangelie trouens anders as dat ons almal wat slawe van die sonde en die dood is, deur die verlossing wat in Christus Jesus is, daarvan losgemaak en vrygemaak word?13 Maar dat diegene wat Christus nie waarlik as hulle Bevryder en Verlosser aanneem en erken nie, tot die ewige gevangenis verdoem en daaraan toegesê is?14
Toe die Here sy apostels opgedra het om hierdie boodskap aan alle nasies te bring, het Hy dit met hierdie pragtige getuigskrif vereer om te bewys dat dit sy boodskap is en dat dit van Hom af kom - en dit tot uitnemende versterking van sowel sy apostels as van almal tot wie hierdie boodskap sou kom.15 Dit was van belang dat die apostels bestendige en vaste versekering vir hulle verkondiging sou hê omdat hulle dit nie alleen met eindelose moeite, bekommernis, ergernisse en gevare tegemoet gegaan het nie maar dit ook uiteindelik met hulle bloed sou verseël. Ek herhaal: sodat hulle kon weet dat hulle prediking nie leeg en ydel is nie maar vol mag en krag, was dit vir hulle belangrik om in so 'n groot besorgheid en in so 'n groot moeilikheid en in sulke groot gevare, oortuig te wees dat hulle God se werk doen; dat hulle verder sou weet dat God langs hulle staan al staan die hele wêreld hulle teen en al beveg die hele wêreld hulle: dat hulle moes besef dat Christus die Skepper van hulle leer was en hoewel hulle Hom nie op die aarde naby hulle kon sien nie, dat Hy nogtans in die hemel is om die waarheid van die leer wat Hy aan hulle oorgedra het, te bekragtig.
Aan die ander kant moes dit ook vir hulle luisteraars baie besliste getuienis lewer dat die leer van die evangelie nie die waarde van die apostels was nie, maar van God self;16 dat dit nie waarde was wat op aarde ontstaan het nie, maar waarde wat uit die hemel gekom het. Vergiffenis van sondes, die belofte van die ewige lewe en die boodskap van saligheid kan tag nie in die mag van 'n mens wees nie. Christus het dus getuig dat die apostels in die prediking van die evangelie met uitsondering van die bediening daarvan niks het nie, en dat dit Hy is wat deur hulle monde soos deur instrumente alles sê en beloof; dat die vergiffenis van sondes wat hulle verkondig het, waarlik 'n belofte van God is, en dat die verdoemenis wat hulle verkondig het, met sekerheid God se oordeel is. Hierdie getuienis is egter aan alle tye gegee en dit bly onwrikbaar om almal te verseker en onbesorg te laat dat die Woord van die evangelie, deur watter mens dit ook al verkondig word, juis die uitspraak van God is wat voor die hoogste regbank aangekondig, in die boek van die lewe opgeskryf, in die hemel bekragtig, vas en seker is. Nou weet ons dat die sleutelmag in die bovermelde verwysings doodeenvoudig die prediking van die evangelie is, en dat dit nie soseer mag is nie, maar diens as ons dit op mense van toepassing maak. Christus het hierdie mag trouens nie eintlik aan mense gegee nie maar aan sy Woord en mense bedienaars daarvan gemaak.17
2. 'n Verklaring van Matteus 18.←⤒🔗
Die tweede verwysing waarvan ons gesê het dat dit oor die mag om te bind en los te maak handel, tref ons in Matteus agtien aan waar Christus sê: "As 'n broeder nie na die kerk luister nie, laat hyvir jou wees soos 'n heiden en 'n tollenaar. Voorwaar, ek sê vir julle, wat julle ook al op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat julle ook al losmaak, sal losgemaak wees."18 Hierdie aanhaling kom nie heeltemal met die voorgaande ooreen nie maar moet ietwat anders verstaan word.19 Ek maak hulle egter nie so verskillend dat hulle nie onderling nog veel in gemeen het nie. Ten eerste is beide in die volgende aspek gelyk, naamlik dat albei 'n algemene uitspraak is; die mag om te bind en los te maak - naamlik deur die Woord van God -, is altyd dieselfde opdrag, en die belofte is dieselfde. Hulle verskil egter daarin dat die eerste aanhaling besonderlik oor die prediking handel wat bedienaars van die Woord verrig. Die laaste aanhaling het egter met die tug van die ban te doen en dit is aan die kerk oorgelaat. Die kerk bind iemand wat hy afsny - nie omdat hy so 'n man in die ewige verderf en wanhoop werp nie, maar omdat hy sy lewe en sy sedes verdoem. Tensy hy hom bekeer, waarsku die kerk hom reeds teen sy verdoeming. Die kerk maak iemand los wat hy in sy gemeenskap opneem omdat hy hom 'n deelgenoot maak in die eenheid wat die kerk in Christus Jesus het.
Niemand mag die oordeel van die kerk dus hardnekkig verag of dit van geringe waarde ag dat hy deur die stemme van gelowiges veroordeel is nie. Die Here getuig dat so 'n oordeel van gelowiges niks anders is as die bekendstelling van sy eie uitspraak nie, en dat dit wat hulle op die aarde doen, in die hemel bekragtig word. Hulle het immers die Woord van God na aanleiding waarvan hulle bedorwenes veroordeel; hulle het sy Woord waarvolgens hulle dié wat hulle bekeer, weer in die genade ontvang. Hulle kan egter nie dwaal nie en hulle kan ook nie van God se oordeel verskil nie omdat hulle slegs volgens die wet van God oordeel wat nie 'n onseker aardse opvatting is nie, maar God se heilige wil en sy hemelse Godspraak.
Namare waansinnige pousgesindes deur ylhoofdigheid getref word, probeer hulle sonder onderskeid uit die twee aanhalings wat ek, soos dit vir my lyk, sowel bondig as opreg en waarweergegee het, nou die bieg,20 dan die ban, dan weer die regspleging, dan die reg om wette te maak, en dan die aflaat vas te stel. Die eerste aanhaling voer hulle trouens aan om die opperheerskappy (primaat) van die Roomse setel te vestig.21 Hulle weet so goed hoe om hulle sleutels by enige slot en deur wat hulle wil, te laat pas, dat jy sou kon sê dat hulle hulle hele lewe die smidsambag beoefen het.
3. 'n Christelike burgerlike regering hef nie die kerk se plig om te regeer op nie.←⤒🔗
Sommige mense verbeel hulle dat alles hierbo slegs tydelike maatreëls was solank burgerlike amptenare nog vreemd was aan die belydenis van ons godsdiens.22 Maar hulle misgis hulle omdat hulle nie opmerk hoeveel kerklike mag en burgerlike mag verskil en hoeveel dit nie met mekaar ooreenkom nie. Die kerk het immers nie die swaardmag om te straf of in bedwang te hou nie: ook nie die mag om te dwing nie: dit het geen gevangenis of die ander strawwe wat gewoonlik deur die owerheid opgelê word nie. Verder gaan dit nie daaroor dat iemand wat gesondig het, teen sy sin gestraf word nie, maar dat hy deur vrywillige tug bely dat hy berou het. Daar is dus 'n groot verskil; die kerk eien hom immers niks toe wat by burgerlike owerhede hoort nie en 'n owerheid kan ook nie iets doen wat deur die kerk gedoen word nie.
Maar dit is makliker om dit met 'n voorbeeld te verduidelik. Is iemand besope? Dan sal hy in 'n goedgeordende stad tronkstraf kry. Het hy gehoereer? Dan 'n soortgelyke of eerder 'n swaarder straf. So sal die wette, die owerheid en die uiterlike vonnis bevredig word. Maar dit kan gebeur dat hy geen teken van berou toon nie, ja, eerder dat hy daaroor mor en brom. Sal die kerk dan daarmee volstaan? Maar sulke mense kan tog nie in die nagmaal aanvaar word sonder om Christus sowel as sy oe heilige instelling 'n onreg aan te doen nie. En redelikheid vereis dat iemand wat die kerk deur sy slegte voorbeeld aanstoot gegee het, die struikelblok wat hy veroorsaak het, met 'n plegtige verklaring van sy berou uit die weg moet ruim.
Die rede wat diegene aanvoer wat die teendeel voel, is te flou. Hulle sê: "Christus het hierdie funksie aan die kerk gegee toe daar nog nie 'n owerheid was om daaraan uitvoering te gee nie". Maar dit gebeur dikwels dat die owerheid baie nalatig is; ja, dit gebeur miskien soms dat die owerheid self getug moet word soos in die geval van keiser Theodosius gebeur het.23 Hierbenewens sal dieselfde van byna die hele Woordbediening gesê kan word. Volgens hulle moet herders nou ophou om openbare sondes te bestraf; hulle moet dus ophou om hulle te berispe, aan te kla en te bestraf want daar is Christelike amptenare wat hierdie oortredings met die wette en die swaard moet regmaak. Maar soos die owerheid deur straf en dwang die kerk teen ergernisse moet vrywaar, so moet 'n bedienaar van die Woord op sy beurt die owerheid se taak verlig sodat nie soveel mense sonde doen nie. Hulle werk behoort so verbind te wees dat die een die ander tot hulp en nie tot verydeling is nie.
4. 'n Christelike amptenaar behoort in die kerk te wees, nie oor die kerk nie.←⤒🔗
En as iemand Christus se woorde noukeuriger opweeg, sal hy in elk geval maklik raaksien dat 'n vaste en voortgesette kerklike orde daar beskryf word en nie 'n tydelike een nie.24 Dit is immers tog nie paslik dat ons mense wat nie aan ons vermanings gehoor wil gee nie, by die owerheid aankla nie - iets wat nogtans noodwendig sou gebeur as die owerheid in die plek van die kerk gekom het. Maar wat van die belofte: "Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle: wat julle ook al op die aarde bind...",25 moet ons sê dat dit 'n belofte van net een jaar of van 'n klein aantal jare is? Hierbenewens het Christus niks nuuts hier ingestel nie, maar 'n gewoonte gevolg wat altyd in die kerk van die volk van ouds gehandhaaf is. Daarmee het Hy aangedui dat die kerk nie sonder die geestelike regspraak wat dit van die begin af gehad het, kan klaarkom nie.
Dit is ook deur die instemming van alle rye bevestig. Toe die keisers en owerhede Christus trouens begin bely het, is die geestelike regspraak tag nie dadelik afgeskaf nie, maar sa gereël dat dit die burgerlike regering nie inkort of daarmee verwar word nie. En tereg ook. Want as 'n amptenaar godvrugtig is, sal hy hom nie van die algemene onderworpenheid van God se kinders wil vrystel nie en om hom aan die kerk wat na aanleiding van God se Woord oor hom oordeel, te onderwerp, vorm 'n belangrike deel daarvan. Verre sy dit daarvan dat hy so 'n oordeel ophef! "Want," vra Ambrosius, "wat is eervoller as dat die keiser 'n kind van die kerk genoem word? Want 'n goeie keiser is in die kerk en nie oor die kerk nie".26 Diegene wat die kerk daarom van hierdie mag beroof om die owerheid daarmee toe te rus, vervals Christus se uitspraak nie alleen met 'n vervalste vertolking daarvan nie, maar hulle verdoem ook erg al die heilige biskoppe wat sedert die tyd van die apostels geleef het omdat hulle dan die eer en plig van die owerheid onder 'n valse voorwendsel vir hulleself toegeëien het.
5. Jurisdiksie in die kerk van ouds en die vertolking daarvan as geestelike mag.←⤒🔗
Maar aan die ander kant moet ons ook ondersoek instel na wat die ware toepassing van kerklike jurisdiksie eertyds was en hoeveel misbruike daarvan ingesluip het sodat ons kan weet wat ons moet herroep en wat ons volgens die ou tyd in ere moet herstel as ons die ryk van die Antichris wil vernietig en die ware koninkryk van Christus weer wil ophef.
Die doel van kerklike jurisdiksie is ten eerste om struikelblokke teen te gaan en as daar enige vorm van 'n struikelblok ontstaan het, dit uit te roei. Twee aspekte moet in die toepassing hiervan in aanmerking geneem word: dat hierdie geestelike mag heeltemal van die swaardmag geskei is en ten tweede dat dit nie op die oordeel van een mens nie, maar deur 'n wettige vergadering toegepas moet word.27 Beide hierdie aspekte is in die kerk gehandhaaf toe dit nog baie suiwer was.28 Die heilige biskoppe het trouens nie hulle mag deur strawwe of gevangenis of ander burgerlike strawwe uitgeoefen nie, maar dit slegs ooreenkomstig die Here se Woord toegepas soos dit hoort. Die strengste straf van die kerk, en as't ware die laaste weerligstraal, is die ban, wat slegs in 'n noodgeval toegepas is. Dit vereis voorts nie geweld of om handgemeen te raak nie, maar is tevrede met die mag van God se Woord.
Kortom: die regspraak van die eertydse kerk was niks anders as 'n praktiese verklaring - om dit so te stel -, van dit wat Paulus in verband met die geestelike mag van herders leer nie. Hy sê: "Mag is aan ons gegee om skanse te vernietig, om alle hooghartigheid wat hom teen die kennis van God verhef, te verneder; om elke gedagte te onderwerp en gevange te neem tot gehoorsaamheid aan Christus. Ons is gereed om elke ongehoorsaamheid te straf".29 Soos dit deur die prediking van die leer van Christus gebeur, so moet oor diegene wat bely dat hulle huisgenote van die geloof is, juis ook volgens dit wat geleer word, geoordeel word om te voorkom dat die leer 'n bron van bespotting is. Dit is egter nie moontlik nie tensy die reg om diegene wat persoonlik vermaan, of ernstiger berispe moet word, voor 'n vergadering te daag met die bedieningsamp verbind is, asook die reg om diegene wat nie in staat is om sonder ontheiliging van so 'n groot geheimenis opgeneem te word nle, van deelname aan die nagmaal te weerhou. Wanneer hy dus elders verklaar dat dit nie ons taak is om diegene wat buite is, te oordeel nie,30 onderwerp hy die kinders van die kerk aan sensuur om hulle gebreke te straf, en hy gee te kenne dat verhore destyds bestaan het waarvan geeneen van die gelowiges vrygestel was nie.
6. Die oorspronklike vorm van kerklike jurisdiksie en die geleidelike veranderings in die toepassing daarvan.←⤒🔗
Maar mag van so 'n aard soos ons verduidelik het, het nie net by een mens berus sodat hy na willekeur kon doen wat hy wou nie, maar by 'n vergadering van ouderlinge - 'n vergadering wat in die kerk dieselfde funksie vervul as 'n senaat in 'n stad.31 Wanneer Cyprianus vermeld deur wie die mag in sy tyd uitgeoefen is, voeg hy gewoonlik die hele geestelike amp by die biskop, maar hy toon ook elders aan dat die geestelike amp dit self so gereël het dat die gewone (kerk)volk intussen nie van 'n ondersoek uitgesluit is nie. Hy skrywe soos volg: "Sedert die begin van my amp as biskop het ek besluit om niks sonder die raad van die geestelikes en die instemming van die (kerk)volk te doen nie".32 Dit was immers die gewone en gebruiklike metode om die jurisdiksie van die kerk deur 'n vergadering van ouderlinge (presbiters) uit te oefen. Daarvan was daar, soos ek gesê het, twee soorte. Sommige van hulle was trouens bestem om te onderrig, en ander slegs om oor die sedes te oordeel.33 Hierdie instelling het egter geleidelik van die eerste begin daarvan ontaard sodat reeds in die tyd van Ambrosius die geestelikes alleen in kerklike verhore as ondersoekers opgetree het. Hy kla egter self soos volg daaroor: "Die sinagoge van ouds, en later ook die kerk, het ouderlinge gehad en niks is sonder hulle advies gedoen nie. Ek weet nie as gevolg van watter nalatigheid dit in onbruik verval het nie, behalwe miskien vanweë die luiheid of eerder die hooghartigheid van leraars omdat hulle alleen begeer om gesien te word".34 Ons sien hoe verontwaardig hierdie heilige man was dat iets van 'n beter toestand af verval, hoewel hulle toe nog ten minste 'n draaglike toestand gehad het. Wat sou hy dan gedoen het as hy hierdie misvormde bouvalle kon sien wat bykans geen spoor van die gebou van ouds meer het nie? Hoe sou hy daaroor geweeklag het? Ten eerste is dit strydig met die menslike reg en ook sonde dat die biskop vir hom alleen iets toegeëien het wat aan die kerk gegee is. Dit is trouens asof die senaat verdryf is en die konsul alleen die regering in die hande gekry het. En hoewel hy in eer die meerdere van die res is, is daar juis in 'n vergadering meer gesag as in een mens. Dit was dus 'n uiters laakbare daad dat een mens die gesag wat aan almal behoort, op hom oorgedra, die deur vir tirannieke willekeurigheid oopgemaak, die kerk beroof het van iets wat daaraan behoort, en dat hy 'n toegewing wat deur die Gees van Christus ingestel is, onderdruk en afgeskaf het.
7. Kerklike jurisdiksie in die Roomse kerk is geleidelik gesekulariseer.←⤒🔗
Maar soos een euwel altyd uit 'n ander een ontstaan, het die biskoppe 'n afkeer in hierdie jurisdiksie ontwikkel as iets wat nie hulle aandag verdien het nie, en dit op ander oorgedra. Daarna is beamptes35 aangewys om hierdie pos te beklee. Ek praat nou nog nie van die sort mense wat dit beklee het nie, maar sê slegs dat daar geen onderskeid tussen hulle en wêreldlike regters is nie. En hulle noem dit nogtans nou nog geestelike jurisdiksie terwyl daar niks anders as wêreldse sake bepleit word nie! Al sou daarin geen ander euwel wees nie, met watter vrypostigheid durf hulle 'n geregshof 'n hof van die kerk noem?
"Maar daar is dan vermanings en die ban!" Natuurlik dryf hulle so met God die spot. As 'n arm man geld skuld, word hy voor hierdie hof gedaag, as hy verskyn, word hy skuldig bevind. As hy nie betaal nadat hy skuldig bevind is nie, word hy gewaarsku. Na die tweede waarskuwing is die volgende stap die ban. As hy dan nie gehoor gee nie, word hy gewaarsku om voor die hof te verskyn; as hy dan in gebreke bly, word hy gewaarsku en weldra in die ban gedoen. Nou vra ek jou: Watter ooreenkoms het dit hoegenaamd of met die instelling van Christus, of met die eertydse gebruik, of met die kerklike weg?
"Maar daar vind tog sensuur van die sedes plaas!" Hulle verdra naamlik nie alleen hoerery, uitspattigheid, dronkenskap en dergelike oortredings nie, maar deur dit op een of ander wyse stilswyend goed te keur, voed en versterk hulle dit - en dit nie alleen onder die gewone (kerk)volk nie maar juis ook onder die geestelikes! Van die baie (oortreders) daag hulle slegs 'n paar voor hulle om te voorkom of dat hulle te nalatig lyk deur dit oogluikend toe te laat, òf om geld uit hulle uit te suig. Ek verswyg die roof, plundering, die verduistering en die ontheiliging wat daaruit ontstaan. Ek verswyg watter soort mense meesal vir hierdie amp verkies word. Dit is meer as voldoende dat dit maklik is om te bewys dat niks strydiger is met die manier (van regspraak) wat deur Christus ingestel is, as die geestelike jurisdiksie waarop die pousgesindes roem nie, en dat dit net so min met die eertydse gebruik ooreenstem as duisternis met lig.
8. 'Die konings van die nasies heers oor hulle, maar julle moet nie so wees nie'; die swaardmag en die kerk.←⤒🔗
Hoewel ons nie alles gesê het wat op hierdie onderwerp betrekking kan hê nie, en dit wat ons gesê het, ook so kortliks saamgevat is, vertrou ek nogtans dat ons die stryd so gestry het dat daar geen rede is waarom iemand nog hoef te twyfel dat die geestelike mag waarmee die pous met sy hele ryk pronk, 'n goddelose tirannie teen die Woord van God en 'n onregverdige dwingelandy teen sy volk is nie. Onder die benaming geestelike mag vat ek sowel die brutaliteit om nuwe leerstellings te smee waarmee hulle die arme kerkvolk van die egte suiwerheid van God se Woord af wegkeer, asook hulle onregverdige tradisies waarmee hulle die kerk verstrik, en die valse kerklike jurisdiksie wat hulle deur aanhangers en beamptes uitoefen, saam. Want as ons Christus toelaat om onder ons te regeer, kan dit nie anders as dat hierdie soort oorheersing dadelik platgeslaan word en in duie stort nie. Om egter die swaardmag wat hulle hulle ook toe-eien,36 hier te behandel val nie binne die bestek van die huidige onderwerp nie omdat dit nie teen gewetens uitgeoefen word nie.37 Tog is dit die moeite werd om daarop te let dat hulle ook in hierdie opsig is soos hulle altyd is, naamlik dat hulle ook hierin niks minder as herders van die kerk beskou wil word nie. Ek val nie die besandere gebreke van mense aan nie, maar die algemene sonde van hulle hele orde en daarom ook die verderf van die orde want hulle glo dat dit 'n gebrekkige orde sal wees as dit nie met rykdom en hooghartige titels kan spog nie!
As ons Christus se gesag oor hierdie onderwerp soek, bestaan daar geen twyfel dat dit sy wil was om bedienaars van sy Woord van burgerlike regering en aardse heerskappy weg te keer toe Hy gesê het: "Die konings van die nasies heers oor hulle, maar julle moet nie so wees nie".38 Hy toon trouens aan dat die plig van 'n herder nie alleen van die plig van 'n vors verskil nie, maar dat dit sulke uiteenlopende dinge is dat dit nie in een mens kan saamtrek nie. Dat Moses albei pligte tegelyk beklee het, het ten eerste vanweë 'n seldsame wonderwerk gebeur en ten tweede was dit net tydelik totdat sake beter georden is. Wanneer die Here egter 'n bepaalde vorm daarvan voorskryf, word die burgerlike regering vir Moses gelaat en hy word beveel om die priesteramp aan sy broer af te staan.39 Dit was ook reg omdat dit onnatuurlik is dat een mens vir beide laste opgewasse is. Dit is ook te alle tye noulettend in die kerk gehandhaaf. So lank die een of ander gedaante van die ware kerk bly bestaan het, het daar geen biskop geleef wat daaraan gedink het om op die swaardmag aanspraak te maak nie, sodat dit 'n algemene spreuk in Ambrosius se tyd was dat die keisers die priesterskap begeer het eerder as die priesters die keiserskap.40 Want wat hy later sê, was op almal se verstande ingeprent, naamlik dat paleise by die keiser hoort, en kerke by die priester.41
9. Misbruik van die swaardmag in kerklike sake.←⤒🔗
Nadat 'n manier egter uitgedink is waarvolgens biskoppe die titel, eer en rykdom van hulle amp sonder die las en bekommernis daarvan kon behou, is die swaardmag aan hulle gegee, of eerder, hulle het dit vir hulleself toegeëien om te voorkom dat hulle heeltemal ledig gelaat sou word. Onder watter voorwendsel kan hulle hierdie verwaandheid egter verdedig? Was dit biskoppe se taak om hulle met die ondersoek van hofgedinge, met die administrasie van state en provinsies te bemoei en hulle op die breedste vlak besig te hou met sake wat vir hulle so vreemd was? Is dit biskoppe se werk wie se taak en besigheid in hulle eie amp so groot is dat hulle skaars by magte is om dit bevredigend te doen selfs al sou hulle voortdurend daarmee besig wees en hulle aandag deur geen afleidings daarvan afgetrek word nie? Maar hulle is inderdaad so hardnekkig dat hulle nie aarsel om daarop te roem dat die heerlikheid van Christus se koninkryk so na waarde bloei en dat hulle intussen tog nie veel van die bediening van hulle roeping weggetrek word nie!
So ver dit die eerste aspek aangaan: as dit 'n betaamlike versiering van hulle heilige amp is dat hulle tot so 'n vlak gevoer is dat hulle vir al die hoogste vorste 'n bron van vrees is, dan het hulle rede om by Christus te kla omdat hulle eer so erg deur Hom gekrenk is. Want wat beledigender kon volgens hulle opvatting gesê word as toe Christus gesê het: "Die konings en vorste van die heidene heers oor hulle, maar julle is nie so nie".42 En tog het Hy nie 'n strenger wet op sy knegte gelê as wat Hy self eerste gedra en aanvaar het nie. Hy sê: "Wie het My as Regter of Deler oor julle aangestel?"43 Ons sien dat Hy doodeenvoudig die amp van beoordeling verwerp het - iets wat Hy nie sou gedoen het as dit iets was wat in ooreenstemming met sy amp was nie. Sal sy diensknegte hulle dan nie in dieselfde orde dwing waaraan die Here Hom onderwerp het nie?
So ver dit die tweede aspek aangaan, wens ek dat hulle dit net so maklik uit ervaring moet bewys as wat dit is om dit herhaaldelik te sê! En aangesien die apostels dit nie goed gedink het om die Woord van God te verwaarloos en net aan die tafels aandag te gee nie,44 word die pousgesindes daardeur ontmasker omdat hulle nie geleer wil word dat een mens nie by magte is om sowel 'n goeie biskop as 'n goeie vors te wees nie. Want as die apostels wat volgens die omvang van die genadegawes waarmee hulle toegerus was, in staat was om ver meer en ernstiger bekommernisse te dra as enige mens wat na hulle gebore is, nogtans erken het dat hulle nie in staat was om tegelyk die bediening van die Woord en die tafels te verrig sonder om onder die las daarvan te swig nie, hoe sou die pousgesindes, - in vergelyking met die apostels nikswerd mensies -, hulle ywer honderdmaal kon oortref? Dat hulle dit weliswaar aangedurf het, was 'n kenmerk van hulle uiterste verwaandheid en uitermatig vermetele selfvertroue. Maar tog sien ons dat dit gebeur het en dit is duidelik dat hulle geslaag het. Dit kon trouens nie anders verloop as dat hulle hulle amp moes verlaat en na 'n vreemde kamp moes verhuis nie!
10. Die geleidelike vordering in die opbou van die Roomse tirannie.←⤒🔗
Daar bestaan geen twyfel daaroor dat hulle van 'n beskeie begin af langsamerhand sulke groot vordering gemaak het nie.45 Hulle kon trouens nie met een enkele tree so hoog klim nie. Nou het hulle hulle egter met lis en skelmstreke stilletjies so hoog verhef dat niemand die einde daarvan kon sien totdat dit gebeur het nie. Dan weer het hulle by geleentheid deur vrees en dreigemente 'n vermeerdering in hulle mag van vorste afgepers. Dan weer het hulle vorste se dwase en onoorwoë bereidwilligheid misbruik wanneer hulle bemerk het dat hulle nie onwillig was om aan hulle geskenke te gee nie. As godvrugtiges eertyds in 'n geskil betrokke geraak het, het hulle dit aan die oordeel van die biskop oorgelaat om self die noodsaaklikheid van 'n hofgeding te ontwyk, omdat hulle geen rwyfel oor die biskop se opregtheid gehad het nie. Biskoppe van ouds is dikwels in sulke sake betrek hoewel dit hulle glad nie aangestaan het nie soos Augustinus iewers getuig46 Hulle het hierdie ergernis teen hulle sin verrig om te voorkom dat die partye na 'n hof waar hulle met mekaar moes stry, sou storm. Biskoppe het gewone regspraak beoefen in sake wat vrywillig (aan hulle voorgelê is) en dit het heeltemal van die rumoer van 'n wêreldse hof verskil. Toe stede en landstreke 'n rukkie later deur verskeie probleme geteister is, het hulle hulle vir beskerming na die biskoppe gewend om deur hulle betroubaarheid beskerm te word. Die biskoppe het hulleself egter met wonderbaarlike listigheid hulle base in plaas van hulle beskermers gemaak. Ja, dit kan nie ontken word dat hulle 'n groot deel (van hulle mag) deur geweld en oproer verkry het niet Die vorste wat vrywillig aan biskoppe (wêreldse) jurisdiksie verleen het, is deur verskeie listige planne daartoe gedryf. Hoewel sulke vorste se toegeeflikheid die indruk van godsvrug gehad het, het hulle tog nie die kerk se be lange deur hulle uitspattige vrygewigheid ter harte geneem nie, maar die eertydse en ware dissiplîne van die kerk so ondergrawe; ja, om die waarheid te sê, hulle het dit heeltemal vernietig. Die biskoppe wat sulke goedhartigheid van vorste tot hulle eie gewin misbruik het, het deur slegs die een voorbeeld daarvan te gee, meer as genoeg getuig dat hulle glad nie biskoppe was nie. As hulle immers net 'n vonkie van die gees van die apostels gehad het, sou hulle sonder twyfel uit Paulus se mond geantwoord het: "Die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar geestelik".47 Maar hulle is deur blinde hebsug meegesleur en het hulleself sowel as hulle nageslag en die kerk die verderf laat ingaan.
11. Die Roomse pous het uiteindelik volle gesag oor die kerklike en wêreldse regering in die hande gekry.←⤒🔗
Uiteindelik was die Roomse pous nie meer met middelmatige trawante tevrede nie en het hy sy hande eers aan koninkryke en daarna ook aan die keiserryk geslaan. En om die besitting wat hy deur louter roof in die hande gekry het, met 'n mate van listigheid te behou, roem hy nou daarop dat hy dit kragtens Goddelike reg besit, en dan weer gee hy voor dat dit 'n geskenk van Konstantyn aan hom was48 en dan weer een of ander titelakte. Op die eerste aspek antwoord ek saam met Bernardus: "Laat dit so wees dat daar enige ander rede is op grond waarvan hy hom dit toe-eien: maar dan tog nie volgens apostoliese reg nie! Petrus kon tog nie iets wat hy nie gehad het, aan hom gegee het nie: hy het egter wel die versorging van die kerke aan sy opvolgers gegee - en dit het hy wel gehad!"49 Aangesien ons Here en Meester trouens sê dat Hy nie as Regter tussen twee mense aangestel is nie,50 behoort dit vir 'n dienskneg en dissipel nie onwaardig te lyk as hy nie regter oor almal is nie".51 Bernardus praat egter van burgerlike howe want hy voeg by: "U mag is dus oor sondes en nie oor besittings nie want u het die sleutels van die koninkryk van die hemel ter wille van sondes en nie ter wille van besittings nie, ontvang. Wat het volgens u nou eintlik meer waarde: vergiffenis van sonde of verdeling van buit? Daar is geen vergelyking tussen hulle nie. Hierdie laer aardse dinge het ook hulle eie regters, die konings en vorste van die aarde. Waarom val u dan 'n ander se gebied binne?"52 ensovoorts. Net so: "U het owerste geword, maar met watter doel? (Hy praat met paus Eugenius.) Na my mening, nie om te heers nie! Al sou ons baie van onsself dink, moet ons onthou dat die bediening samp op ons gelê is en dat die regeringsamp nie aan ons gegee is nie. Leer dus dat u 'n skoffel nodig het om die werk van 'n profeet te doen, en nie 'n septer nie!"53 Net so: "Dit is duidelik dat die apostels verbied word om te regeer. Gaan u dus, en waag, of om die apostelamp deur heerskappy, of heerskappy deur die apostelamp vir uself toe te eien!"54 En dadelik daarna sê hy: "Die apostoliese vorm is so dat hulle verbied word om te regeer maar gebied word om te dien."55 Hoewel hy dit op so 'n manier gesê het dat dit vir almal duidelik kan wees dat hy die waarheid gepraat het; ja, hoewel die saak sonder om daaroor te praat, duidelik is, het die Roomse pous hom nogtans nie geskaam om op die Konsilie van Arles te besluit dat die hoogste reg van kerklike en wêreldse swaardmag hom kragtens die goddelike reg toekom nie!56
12. Weerlegging van die opvatting dat die wêreldse gesag 'n geskenk van Konstantyn aan die Roomse pous was.←⤒🔗
Sover dit die skenking van Konstanryn aangaan: mense wat hulle maar net effens met die geskiedenis van daardie tyd besig gehou het, het nie nodig om geleer te word, nie alleen hoe 'n fabelagtige maar ooK hoe 'n belaglike storie dit is nie.57 Maar laat ons die geskiedenis maar daar laat. Net een man, naamlik Gregorius, is 'n bekwame en uiters volledige getuie van hierdie onderwerp. Want so dikwels as wat hy van die keiser praat, noem hy hom 'n baie kalm heerser en sê dat hy nie verdien om sy dienskneg te wees nie.58 Net so sê hy elders: "Ons heerser vererg hom nie te vinnig vir die priesters vanweë sy aardse mag oor hulle nie, maar eers nadat hy Hom wie se diensknegte hulle is, uitnemend in ag geneem het en hy heers so oor hulle dat hy ook aan hulle die eerbied wat hulle verskuldig is, betoon".59 Ons sien dat hy in die algemene ondergeskiktheid as een van die kerkvolk beskou wil word. Want dit gaan nie daar oor enigiemand anders se saak nie, maar oor sy eie. Elders sê hy: "Ek vertrou op die almagtige God dat Hy godvrugtige heersers 'n lang lewe sal gun, en ons onder u hand volgens sy barmhartigheid sal bestier".60
Ek het hierdie getuienis nie aangehaal omdat ek van voorneme is om die vraagstuk in verband met Konstantyn se skenking61 grondig te ondersoek nie maar slegs dat my lesers terloops kan sien hoe kinderagtig die pousgesindes lieg wanneer hulle probeer om die wêreldse regering vir hulle pous op te eis.
Hoeveel afstootliker was Augustinus Steuchus se skaamteloosheid nie toe hy gewaag het om in so 'n betreurenswaardige saak sy werk en sy tong aan die Roomse pous te verkwansel nie? Valla het hierdie fable kragtig weerlê - iets wat vir hierdie geleerde man met sy skerpsinnige brein nie moeilik was nie. Aangesien hy egter weinig ervaring in kerklike aangeleenthede gehad het, het hy nogtans nie alles gesê wat tot die onderwerp kon bydra nie.62 Steuchus kom ingestorm en strooi sy stinkende gemors om die helder lig uit te doof. Hy hanteer die saak van sy baas beslis net so kil asof 'n spitsvondige mens wat voorgee dat hy dieselfde as Steuchus doen, Valla te hulp gesnel het. Maar die saak verdien dat die pous daarvoor sulke advokate teen 'n prys moet huur; en die gehuurde boewe wat in hulle hoop op winsbejag geflous word, verdien eweveel, soos met Eugubinus gebeur.63
13. Die manier waarop die pous die keiserlike gesag ingepalm het.←⤒🔗
As iemand verder na die tydstip vra waarop hierdie fiktiewe gesag na vore begin tree het: daar het nog nie vyfhonderd jaar verloop sedert die tyd waarop pouse nog aan hulle vorste onderhorig was en geen pous sonder die gesag van die keiser aangewys is nie.
Keiser Hendrik, die vierde een met hierdie naam,64 'n ligsinnige en roekelose man wat geen oordeel nie, maar groot vermetelheid aan die dag gelê het en 'n losbandige lewe gevoer het, het aan Gregorius die sewende die geleentheid gebied om teen hierdie toestand in opstand te kom. Want toe hierdie keiser die biskopampte van die hele Duitsland gedeeltelik in sy hof te koop aangebied en gedeeltelik aan roof blootgestel het, het Hildebrand (Gregorius) wat deur hom uitgetart is, 'n aanneemlike dekmantel aangegryp om hom op die keiser te wreek. Omdat dit egter gelyk het asof hy 'n eerlike en godvrugtige saak hanteer, is hy deur die guns van baie mense gehelp. En Hendrik was andersins vanweë sy baie vermetele ryksbestuur deur die meeste vorste uiters gehaat. Onrein en goddelose mens soos hy was, het Hildebrand wat homself Gregorius die sewende genoem het, die goddeloosheid van sy geaardheid aan die lig gebring. Dit was die rede waarom dat hy deur baie wat met hom teen die keiser saamgesweer het, in die steek gelaat is. Hy het egter bewerkstellig dat sy opvolgers nie alleen straffeloos die juk (van die keiser) kon afwerp nie maar ook dat hulle die keisers aan hulle onderhorig kon maak.65 Hierby kom ook die feit dat daarna baie keisers gekom het wat meer soos Hendrik as soos Julius Caesar was.66 Daarom was dit nie moeilik om hulle onderhorig te maak nie aangesien hulle onbesorg oor alles en lui tuis bly sit het terwyl dit besonderlik noodsaaklik was om die gierigheid van die pouse met krag en wettige maniere te onderdruk. Nou kan ons sien met watter listigheid daardie voortreflike skenking van Konstantyn waarvolgens die pous hom verbeel dat die Westelike (Romeinse) ryk aan hom oorgedra is, ingeklee is!
14. Die vestiging van Rome as hoofstad van die kerk.←⤒🔗
Intussen het die pouse nie opgehou om nou met bedrog, dan weer met verraad, en dan met wapengeweld ander se gebiede binne te val nie. Hulle het Rome self wat destyds 'n vry stad was, ook omtrent 'n honderd en dertig jaar gelede aan hulle mag onderwerp totdat hulle die magtige posisie bereik het wat hulle vandag het. Om dit te behou of te laat toeneem, het hulle die Christelike wêreld tweehonderd jaar lank – hulle het trouens daarmee begin nog voordat hulle beheer oor Rome vir hulleself geroof het -, so in beroering gebring dat hulle dit amper verlore laat gaan het. Destyds onder Gregorius het die bewakers van die kerk se besittings sekere eiendomme met geweld oorgeneem omdat hulle van mening was dat dit aan die kerk behoort, en volgens gebruik van die staatskas het hulle die titelakte as 'n teken van die verkoop daarvan daarop afgedruk. Daarop het Gregorius 'n vergadering van die biskoppe belê, heftig teen hierdie onheilige optrede te velde getrek en gevra of hulle nie een van die geestelikes wat probeer het om uit eie beweging deur die aantekening van die titelakte die een of ander besitting in die hande te kry, as vervloek moes beskou nie, en net so ook in die geval van 'n biskop wat gelas het dat so iets moet gebeur, en as dit gebeur het sonder dat hy dit beveel het, dat hy die oortreder moes straf. Almal het verklaar: "Dit is vervloek".67 As dit dan 'n misdaad is wat in die geval van die geestelikes die banvloek verdien om 'n stuk grond bloot deur die aantekening van die titelakte aan te koop, watter banvloek kan voldoen om die volgende soort voorbeelde te straf: wanneer pouse vir 'n hele tweehonderd jaar lank oor niks anders gedink het as oorloë, bloedvergieting, die dood van leërs, plundering van stede en ander vorms van verwoesting, rampe van volkere, en vernietiging van koninkryke so lank huIle net hulle hande aan die eiendom van ander kon slaan nie? Dit is beslis glad nie duister dat hulle nie Christus se heerlikheid soek nie! As hulle immers vrywillig van al die wêreldse mag wat hulle het, afstand sou doen, verkeer God se heerlikheid, die gesonde leer en die saligheid van die kerk in geen gevaar nie. Hulle word egter blindelings en hals oor kop deur een begeerte, naamlik om te heers, meegesleur. Hulle dink trouens dat niks veilig is tensy hulle met strengheid (soos die profeet sê) en met mag heers nie.68
15. Die Roomse aanspraak op immuniteit van die wêreldse reg is ongegrond.←⤒🔗
Aan die jurisdiksie is ook die vrystelling van die reg wat die Roomse geestelikes hulle aanmatig, verbind. Hulle dink trouens dat dit iets is wat hulle onwaardig is om in persoonlike sake voor 'n burgerlike regter te verskyn en hulle meen dat sowel die vryheid as die waardigheid van die kerk daarin geleë is as hulle van die gewone regbanke en wette vrygestel is.69 En tog het die biskoppe van ouds wat andersins uiters ontoegeeflik was in die toe-eiening van die kerk se reg, nie geoordeel dat hulle self of hulle orde enige skade berokken sou word as hulle daaraan onderwerp sou word nie. So dikwels dit nodig was, het godvrugtige keisers ook altyd geestelikes voor hulle regbanke gedaag sonder dat iemand daarteen beswaar gemaak het. In 'n brief aan die inwoners van Nicomedië skryf Konstantyn byvoorbeeld: "As enigeen van die biskoppe onbesonne oproer veroorsaak, sal hulle deur die dienaar van God, dit is deur my, vervolg en hulle vermetelheid aan bande gelê word".70 En Valentinianus sê: "Goeie biskoppe is nie die mag van die keiser ongehoorsaam nie, hulle gehoorsaam sowel die gebooie van God, die magtige Koning, as ons wette".71 Dit was destyds sonder teenspraak almal se oortuiging. Kerklike sake is weliswaar aan die regbank van biskoppe voorgelê. As 'n geestelike byvoorbeeld geen oortreding teen die wet begaan het nie, maar net skuldig was aan oortreding van die kanons, is hy nie voor die gewone regbank gedaag nie maar in die saak het 'n biskop as regter opgetree. Net so as 'n vraagstuk oor die geloof behandel is, of 'n saak wat besonderlik op die kerk betrekking gehad het, is die ondersoek daarvan aan die kerk oorgelaat. So moet ons Ambrosius se skrywe aan Valentinianus verstaan: "Jou Vader van verhewe heugenis het nie alleen skriftelik geantwoord nie, maar dit ook met wette bekragtig dat iemand wat nie in amp onopgewasse en in reg onbevoeg is nie, in geloofsake behoort te oordeel".72 Net so. "As ons die Skrifte of dokumente van ouds ondersoek, wie is daar dan wat kan ontken dat in geloofsake, ek herhaal, in geloofsake.biskoppe gewoonlik oor Christelike keisers oordeel en nie die keisers oor die biskoppe nie".73 Net so: Geagte keiser, ek sou na u hof gekom het as die biskoppe en die (kerk-)volk my toegelaat het om te gaan; hulle het egter gesê dat 'n geloofsaak in die kerk voor die (kerk-) volk behandel behoort te word''.74 Hy hou vol dat 'n geestelike aangeleentheid, dit is 'n saak van die godsdiens, nie voor 'n burgerlike regbank gesleep moet word nie omdat profane geskille daar besleg word. Hierin swaai almal sy standvastigheid met reg lof toe. Nogtans gaan hy in sy goeie saak so ver dat hy kan sê dat hy sal toegee indien geweld en mag gebruik word. Hy sê: "Ek sal die taak wat aan my opgedra is, nie vrywillig verlaat nie, as ek egter gedwing word, weet ek nie hoe om weerstand te bied nie, want my wapens is gebede en trane".75
Let op die heilige man se sonderlinge selfbeheersing en verstandigheid wat met grootgeestigheid en selfvertroue gepaard gaan. Die keiser se moeder, Justina, het haar naamlik ingespan om hom uit die kerkregering te verdryf omdat sy hom nie in die party van die Arianers kon intrek nie. Sy sou dit ook reggekry het as hy na die paleis gekom het toe hy daarheen ontbied is om sy saak te stel. Hy sê egter dat die keiser nie bevoeg is om so 'n belangrike geskilpunt te ondersoek nie.76 Die nood van die tyd sowel as die voortgesette aard van die saak het dit ook vereis. Hy was trouens van mening dat dit vir hom beter sou wees om te sterf as om so 'n voorbeeld met sy instemming aan die nageslag oor te dra. En tog het hy geen oorweging daaraan gegee om weerstand te bied indien geweld teen hom gebruik sou word nie. Hy ontken trouens dat dit biskoppe se plig is om die geloof en die kerkreg met wapens te beskerm. Verder het hy getoon dat hy bereid was om in ander sake enigiets wat die keiser beveel, te doen. Hy sê: "As hy belasting van ons vra, weier ons dit nie. Die grond van die kerk betaal belasting. As hy ons grond vra, het hy die mag om dit op te koop; geeneen van ons tree tussenbeide nie".77 Gregorius praat ook in dieselfde trant wanneer hy sê: "Ek is welbekend met die gesindheid van ons uiters vriendelike heerser, naamlik dat hy gewoonlik nie in sake wat die priesters aangaan, inmeng nie om te voorkom dat hy in een of ander opsig deur ons sondes beswaar sou word".78 Hy sluit die keiser nie oor die algemeen van die beoordeling van priesters uit nie maar hy sê dat daar bepaalde sake is wat hy aan die oordeel van die kerk behoort oor te laat.
16. Die owerheid se plig teenoor die kerk.←⤒🔗
En juis met hierdie uitsondering het hierdie heilige manne niks anders gesoek as dat minder godsdienstige vorste nie met tirannieke geweld en willekeurigheid die kerk in die uitvoering van syamp in die wiele moes ry nie. Hulle het dit immers nie afgekeur as vorste soms hulle gesag in kerklike sake laat geld het nie mits dit was om orde in die kerk te handhaaf en nie te versteur nie, en mits dit bygedra het om die dissipline te bekragtig en nie te vernietig nie. Aangesien die kerk immers nie dwangmag het nie, en dit ook nie behoort te hê nie - ek praat nou van burgerlike dwang -, is dit godvrugtige konings en vorste se funksie om die godsdiens met wette, edikte en hulle regbanke te ondersteun. Toe keiser Mauritius sekere biskoppe gelas het om hulle naburige kollegas wat deur die barbare verdryf is, te ontvang, het Gregorius hierdie bevel bevestig en hulle aangespoor om daaraan gehoorsaam te wees."79 Maar toe hy deur dieselfde keiser vermaan is om hom met Johannes, biskop van Konstantinopel, te versoen, het hy die rede gegee waarom hy nie daarvoor beskuldig moet word nie, hy roem egter nie op vrystelling van die wêreldse hof nie: ja, hy beloof eerder dat hy dit sal gehoorsaam sover sy gewete hom dit toelaat en hy sê terselfdertyd dat Mauritius gedoen het soos dit 'n godsdienstige vors betaam het toe hy sulke voorskrifte aan die priesters gegee het.80