Alle beproewing het ten doel dat gelowiges hulle liefde vir die wêreld sal afsterf en lewe om aan Christus gelykvormig te word. Hul doen en late moet op die hiernamaals gerig wees. In die lig hiervan is daar geen vrees vir die dood nie.

1984. 9 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 3 Hoofstuk 9 Oordenking van die toekomstige lewe

1. Alles wat die mens bedink en doen, is wêreldgerig.🔗

Deur watter soort verdrukking ons ook al geknel word, ons moet ons oë altyd rig op hierdie doel, naamlik dat ons daaraan gewoond moet word om die teenswoordige lewe te verag en daardeur tot nadenke oor die toekomstige lewe opgewek te word. Want God weet baie goed hoe geneig ons van nature is tot dierlike liefde vir hierdie wêreld, Daarom wend hy die geskikste middel aan om ons daarvan weg te trek en ons traagheid te verdryf om te voorkom dat ons te vas aan hierdie liefde verknog raak. Daar is wel niemand onder ons wat nie graag die indruk wil skep dat hy in sy hele lewensloop na die hemelse onsterflikheid strewe en hom daarvoor inspan nie. Ons skaam ons trouens dat ons stomme diere in niks oortref nie. Hulle toestand sou niks slegter as ons s'n gewees het as ons nie die hoop op ewigheid na die dood gehad het nie. As jy trouens enigiemand se planne, sy belangstellings en dade ondersoek, sal jy daarin niks anders as die wêreld sien nie. Hieruit ontstaan egter die onnoselheid dat ons verstand deur 'n ydele glans van rykdom, mag en ereposisies vasgevang en afgestomp word sodat dit nie verder kan kyk nie. Ook ons hart word so deur gierigheid, eersug en wellus beetgepak en verswaar dat dit nie hoër kan opstyg nie.

Kortom: die mens se siel is ten volle deur die verlokking van syvlees verstrik en soek sy geluk op die aarde. Om hierdie euwel teen te gaan leer die Here sy kinders voortdurend met waarskuwings van ellendes oor die ydelheid van die teenswoordige lewe. Om dus te verhoed dat hulle vir hulleself 'n diep en rustige vrede op aarde belowe, laat Hy toe dat hulle telkens of deur oorloë, oproer of roof of ander onregte verontrus of aangeval word. Om te voorkom dat hulle met 'n te heftige begeerte na onbestendige en verganklike rykdom smag of 'n behae skep in rykdom wat hulle reeds besit, bring Hy hulle nou deur ballingskap, dan weer deur onvrugbaarheid van die grond, dan deur brand en dan op ander maniere tot gebrek of Hy hou hulle in elk geval in middelmatige rykdom. Om te voorkom dat hulle die voordele van 'n huwelik te vreedsaam geniet, sorg Hy dat hulle deur die gemeenheid van hulle vrouens gekwel word of deur 'n goddelose nageslag verneder word of deur kinderloosheid getref word.1 As Hy hulle dan nog in al hierdie dinge genadiger is, stel Hy met siektes en gevare voor hulle oë hoe onbestendig en verganklik al die goed is wat aan sterflikheld onderworpe is, sodat hulle nogtans nie met dwase eer opswel of van selfvertroue jubel nie.

Ons baat dus eers dan na behore by die tug van die kruis2 wanneer ons leer dat hierdie lewe onrustig, onstuimig, op ontelbare maniere bejammerenswaardig en duidelik in geen opsig gelukkig is as dit op sigself geweeg word nie. Ons moet leer dat alles wat as voordele van hierdie lewe beskou word, onseker, kragteloos, ydel en vanweë baie kwaad wat daarmee vermeng is, bedorwe is. Terselfdertyd stel ons daaruit vas dat ons hier niks anders moet soek of ons hoop op niks anders as stryd moet vestig nie;3 dat ons ons oë na die hemel moet ophef wanneer ons aan die kroon dink. Ons moet dit immers so beskou: ons siel kan nooit ernstig die toekomstige lewe begeer en oordink tensy dit vooraf met veragting vir hierdie lewe deurtrek is nie.

2. As God ons roep, moet ons die wêreld afskud en van harte oor die lewe hierna nadink.🔗

Want tussen hierdie twee is daar nie 'n middeweg nie: of hierdie wêreld moet vir ons waardeloos word of dit moet ons met onbeheerste liefde daarvoor omknel en vashou. As ons daarom oor die ewigheid bekommerd is, moet ons ons noulettend daarop toelê om ons uit hierdie goddelose boeie los te woel. Omdat die teenswoordige lewe uiters baie verlokkinge het om ons te verlei en groot aanskoulikheid van bekoorlikheid, guns en aangenaamheid waarmee dit ons streel, is dit grootliks vir ons van belang dat ons herhaaldelik daarvan weggeroep word om nie deur sulke verleidings betower te word nie. Want wat, vra ek jou, sal gebeur as ons hier 'n onophoudelike toeloop van seëninge en geluk geniet, aangesien ons as gevolg van voortdurende prikkels van die kwaad nie in staat is om genoeg opgewek te word om oor die ellende van die lewe na te dink nie?

Dit is nie net aan geleerdes bekend dat die mens se lewe soos rook of soos 'n skadu is nie,4 maar dit is ook vir die gewone mense 'n holruggeryde uitdrukking, en omdat hulle gesien het dat dit 'n tema is wat besonder nuttig is om te ken, het hulle dit met baie uitsonderlike uitdrukkings 'n geliefde onderwerp gemaak. Oor die algemeen is daar egter nie 'n onderwerp wat ons sorgeloser ondersoek of waaraan ons minder gedagtig is nie. Want ons pak alles aan asof ons ons onsterflikheid hier op aarde beplan. As iemand begrawe word of as ons tussen grafte wandel, erken ek, filosofeer ons pragtig oor die ydelheid van hierdie lewe, omdat 'n beeld van die dood dan voor ons oë opdoem. En tog doen ons dit nie eens altyd nie, want al die dinge gaan ons meesal geen snars aan nie. Maar wanneer dit wel gebeur, duur ons filosofie net vir 'n oogwenk, en sodra ons wegdraai, verdwyn dit en laat selfs nie eens die geringste spoor dat ons daaraan gedink het nie.

Kortom: dit gaan verby soos applous in 'n teater wanneer mense iets aangenaams sien. Want ons vergeet nie alleen die dood nie maar ook dat ons sterflik is, en net asof geen gerug in verband daarmee ons ooit bereik het nie, verval ons in 'n trae onbesorgdheid asof die wêreld onsterflik is. As iemand intussen vir ons die spreekwoord aframmel dat die mens 'n wese van net een dag is,5 erken ek dit wel, maar so dat ek nie die aandag daarop vestig dat die gedagte aan die ewigheid nietemin in ons gemoedere gevestig bly nie. Wie sou dus ontken dat dit vir ons almal die moeite werd is, sê ek, nie om met woorde vermaan te word nie maar om met elke moontlike beproewing oortuig te word van die droewige toestand van ons lewe op aarde. Selfs as ons daarvan oortuig is, sien ons immers beswaarlik daarvan af om van 'n verdraaide en dwase bewondering vir hierdie wêreld te verstom net asof dit die laaste grens van alle seëninge inhou! As God dit nodig ag om ons te onderrig, is dit op ons beurt ons plig om na Hom te luister wanneer Hy ons roep, en om ons slapheid wakker te pluk om die wêreld te verag en ons van ganser harte in te span om oor die toekomstige lewe na te dink.

3. Lewe op aarde getuig van God se goedheid en is bestem om gelowiges se saligheid te bevorder.🔗

Gelowiges moet hulle egter daaraan gewoond maak om die huidige lewe op sa 'n manier te verag dat hulle nie 'n afsku daarvan of ondankbaarheid teenoor God verwek nie. Want al sou hierdie lewe ook vol eindelose ellendes wees, moet dit nogtans tereg onder die seëninge van God gereken word wat ons nie mag minag nie. As ons God se milddadigheid nie daarin herken nie, is ons alreeds skuldig aan groot ondankbaarheid teenoor God. Dit behoort trouens veral vir gelowiges 'n getuienis van God se goedgesindheid te wees, want dit is ten volle bestem om hulle saligheid te bevorder. Want voordat Hy die erfdeel van die ewige heerlikheid openlik aan ons toon, wil Hy met kleiner bewyse verklaar dat Hy ons Vader is. Die bewyse is die seëninge wat elke dag deur Hom aan ons gegee word. Aangesien hierdie lewe ons dus dien om God se goedertierenheid te verstaan, sal ons dan 'n afkeer daarin ontwikkel net asof dit g'n greintjie goeds inhou nie? Ons moet dus die gevoel en gesindheid aankweek om die lewe self onder die gawes van God se goedertierenheid te stel, wat ons glad nie mag weier nie. Want as Skrifgetuienis daarvoor nog sou ontbreek - en daarvan is daar baie en baie duidelike getuienisse -, spoor die natuur self ons aan om die Here te dank dat Hy ons in die lewenslig gebring het, dat Hy ons veroorloof om dit te gebruik en dat Hy ons al die hulp skenk wat nodig is om dit te bewaar. En 'n baie belangriker rede is as ons daaroor nadink dat ons in 'n sekere sin in die lewe vir die heerlikheid van sy hemelse koninkryk voorberei word. Want die Here het dit so beskik dat die wat eenmaal in die hemel bekroon moet word, eers op die aarde moet stry, sodat hulle nie kan triomfeer as hulle nie die moeilikhede van die stryd oorwin het  en die oorwinning behaal het nie.

Verder is daar 'n tweede rede, naamlik dat ons in hierdie lewe deur verskeie weldade die soetheid van God se goedertierenheid begin smaak, sodat ons hoop en verlange om die volle openbaring daarvan te begeer opgeskerp kan word. Wanneer dit vasgestel is dat die lewe op aarde 'n gawe van God se goedertierenheid is waaraan ons gedagtig en waarvoor ons dankbaar moet wees omdat ons so aan Hom verbind is, dan salons, soos dit hoort, so ver kom om oor die uiters ellendige toestand van hierdie wêreld na te dink om ons van die uitermatige begeerte na die wêreld los te maak. Soos ons gesê het, is ons spontaan en van nature tot hierdie begeerte geneig.

4. Gelowiges se dink en doen moet eerder op die lewe hierna toegespits wees.🔗

Verder moet alles wat uit ons verdraaide liefde vir die wêreld weggeneem word, by ons verlange na 'n beter lewe bykom. Ek erken in elk geval dat die mense wat die opvatting gehuldig het dat dit die beste is om nie gebore te word nie en dat die naasbeste is om so gou moontlik te sterf,6 'n baie ware gevoel gehad het.7 Want wat kon hulle8 in die lewe raaksien anders as onheil en walglikheid, omdat hulle van God se lig en die ware godsdiens verstoke was? Die mense wat oor die geboorte van hulle geliefdes gerou en getreur het maar hulle feestelik en metnblydskap ter aarde bestel het,9 het ook nie redeloos gehandel nie. Maar hulle het dit gedoen sonder om voordeel daaruit te put. Hulle was immers van die egte geloofsleer verstoke, en daarom kon hulle nie sien hoedat iets wat op sigself nie gelukkig en ook nie gewens is nie, vir godvrugtige mense ten goede verloop nie. Gevolglik het hulle beoordeling hiervan in wanhoop geëindig.

Wanneer gelowiges hulle sterflike lewe takseer, moet hulle dus altyd hierdie doel voor oë hou, naamlik om hulle ten volle des te yweriger en vryer daarop toe te lê om na te dink oor die toekomstige en ewige lewe terwyl hulle besef dat die sterflikelewe op sigself niks anders as ellende is nie. Wanneer hulle sover kom om (die twee) te vergelyk, kan hulle die sterflike lewe nie alleen onbesorg minag nie maar as dit met die ewige lewe vergelyk word, dit volkome verag en verwerp. Want as die hemel ons vaderland is, wat is (die lewe) op aarde anders as ballingskap?10 As die verhuising uit die wêreld toetrede tot die lewe is, wat is die wêreld dan anders as 'n graf? Wat beteken ons verblyf op die wêreld anders as om in die dood gedompel te wees? As die bevryding uit ons liggaam beteken om volle vryheid te bekom, wat is ons liggaam dan anders as 'n tronk? As dit die hoogste geluksaligheid is om God se teenwoordigheid te geniet, is dit tog seker ellendig om daarsonder te wees of hoe? Totdat ons uit die wêreld uitgaan, woon ons tog van die Here uit.11

As ons lewe op aarde dus met die lewe in die hemel vergelyk word, kan daar geen twyfel daaroor wees dat ons dit maklik moet verag en vertrap nie.12 Ons moet die lewe op aarde sekerlik nooit haat nie, behalwe in soverre dit ons aan die sonde onderhewig hou, hoewel ons selfs nie eens die haat op die lewe self moet omkeer nie. Hoe dit ook al daarmee gesteld is, betaam dit ons nogtans om so 'n afkeer daarin te hê en dit so te haat dat ons ook bereid is om na die goeddunke van die Here daarin te bly ten spyte daarvan dat ons na die einde daarvan smag, sodat ons afkeer daarin ver weg van 'n gemor en ongeduld af is. Want dié lewe is soos 'n wagpos waarin die Here ons geplaas het, en ons moet dit oppas totdat Hy ons terugroep. Paulus betreur wel sy lot omdat hy langer as wat hy gewens het, deur die bande van sy liggaam vasgeknel is, en hy slaak 'n versugting van vurige verlange om daarvan verlos te word.13 Hy verklaar egter nietemin dat hy gereed is vir beide om God se bevel te gehoorsaam,14 want hy erken dat hy dit aan God verskuldig is om sy Naam of deur sy dood of sy lewe te verheerlik15 en dat dit God toekom om te besluit wat die meeste tot sy heerlikheid bydra. As ons dus vir die Here moet lewe en sterwe, moet ons die perk van ons dood en lewe aan sy oordeel oorlaat, maar dan so dat ons die dood hartstogtelik sal begeer en voortdurend besig sal wees om daaroor na te dink; dat ons hierdie lewe sal verag as ons dit met die toekomstige onsterflikheid vergelyk en dat ons ook daarna sal smag om dit vanweë die slawerny daarvan aan die sonde te laat vaar wanneer dit die Here behaag.

5. In die lig hiervan is daar geen grond vir die vrees vir die dood nie.🔗

Dit is egter monsteragtig dat baie mense wat daarop roem dat hulle Christene is, in plaas daarvan om na die dood te verlang deur so 'n groot vrees daarvoor vasgevang is dat hulle sidder sodra die dood vermeld word - net asof dit 'n algeheel onheilspellende ongelukkige gebeurtenis is. Dit is wel nie verbasend as die natuurlike gevoel in ons terugdeins as ons van ons ontbinding hoor nie. Maar dit is ondraaglik dat daar in 'n Christen se hart geen lig van godsvrug voorkom om hierdie vrees, wat dit ook al is, met groter vertroosting te oorwin en te onderdruk nie. Want as ons daaroor nadink dat hierdie onstandvastige, gebrekkige, bedorwe, verganklike, uitgeteerde en verrotte tentwoning van ons liggaam ontbind word om in die stewige, volmaakte, onbederfbare - kortom: uiteindelik in die hemelse heerlikheid verander te word, salons geloof ons dan nie dwing om vurig iets te begeer wat ons natuur vrees nie? As ons daaroor nadink dat ons deur die dood uit ballingskap teruggeroep word om ons vaderland - en dit 'n hemelse vaderland - te bewoon, sal ons dan geen troos daaruit haal nie?16

"Maar daar is niks wat nie streef om te bly voortbestaan nie," sou iemand beswaar kon aanteken.17 Ek erken dit inderdaad, en ek verklaar dat ons daarom na die toekomstige onsterflikheid moet uitsien omdat 'n bestendige toestand ons daar te beurt kan val wat nêrens op die aarde te sien is nie.

Paulus leer tewens uitstekend dat gelowiges vurig die dood tegemoet moet gaan, nie omdat hulle ontklee wil word nie maar omdat hulle oorklee wil word.18 Of sal stom diere en so ook lewelose skepsels soos hout en klippe, wanneer hulle bewus word van die doelloosheid van die huidige lewe, daarop toegespits wees om op die laaste dag van die wederopstanding saam met God se kinders van hulle ydelheid verlos te word?19 Maar sal ons wat ook met die lig van verstand begaaf is en bo die verstand deur God se Gees verlig is, nie ons harte bo die verrotting van hierdie wêreld verhef wanneer dit oor ons wese handel nie?

Dit is egter nie hierdie onderwysing se doel of nou die geleentheid om hierdie groot bedorwenheid te behandel nie, en ek het alreeds in die begin verklaar dat ek glad nie hier 'n baie breedvoerige behandeling van die dogmatiek wil onderneem nie. Ek sou sulke vreesagtige siele aanraai om Cyprianus se boekie Oor sterflikbeid 20 te lees, as hulle nie verdien om op die filosowe afgelaai te word nie, sodat hulle van skaamte kan begin bloos as hulle sien watter doodsveragting mense destyds aan die dag gelê het.

Ons moet nogtans onthou dat niemand goeie vordering in Christus se skool kan maak tensy hy die dag van sy dood en die laaste opstanding met blydskap afwag nie. Want Paulus beskryf ook al die gelowiges met hierdie kenmerk,21 en dit is ook die Skrifgebruik wanneer dit 'n rede vir volle vreugde aan ons wil voorhou, om ons daaraan te herinner. Die Here sê byvoorbeeld: "Verbly julle en hef op julle hoofde, want julle verlossing is naby".22 Nou vra ek jou: Is dit redelik dat iets waarvan Hy wou hê dat dit soveel moes bydra om blydskap en vuur in ons aan te wakker, niks anders as droefheid en verslaenheid sou voortbring nie? As dit die geval is, waarom roem ons nog in Hom as ons Meester? Ons moet dus gesonder verstand kry en, al sou die blinde en stompsinnige begeerte van ons vlees daarmee in stryd wees, moet ons nie aarsel om die koms van die Here nie alleen in ons gebede nie maar ook met versugting en hartstogtelik as die gelukkigste gebeurtenis van almal te begeer nie. Want Hy sal kom as ons Verlosser om ons uit hierdie onmeetlike maalstroom van alle euwels en ellendes uit te trek en ons in die geluksalige erfenis van sy lewe en sy heerlikheid in te lei.

6. Gelowiges moet soos skape wat geslag gaan word, lewe om aan Christus gelykvormig te word.🔗

Dit is inderdaad so: solank hulle op die aarde woon, moet alle gelowiges soos skape wees wat bestem is om geslag te word, om aan Christus, hulle Hoof, gelykvormig te word.23 Hulle sou dus uiters bejammerenswaardig wees as hulle hulle harte nie na die hemel ophef, alles wat op die wêreld is, te bowe kom en die huidige voorkoms van dinge oorsteek nie.24 Wanneer hulle aan die ander kant eenmaal hulle koppe bo al die dinge van die wêreld uitgesteek het, selfs al sou hulle bemerk dat goddelose mense se rykdom en ereposisies van krag tot krag gaan en dat hulle groot vrede geniet; as hulle bemerk dat die goddelose oor die prag en praal van al hulle besittings pronk; as hulle sien dat hulle oorloop van alle genietinge, as hulle daarby nog deur hulle goddeloosheid mishandel word, as hulle deur hulle hooghartigheid beledigings moet verduur, as hulle verder deur hulle gierigheid geplunder word, as hulle deur enige moedswilligheid van die mense getreiter word, sal hulle ook onder sulke euwels gemaklik stand hou. Want hulle sal daardie dag voor oë hou waarop die Here sy gelowiges in die rus van sy koninkryk sal opneem, al die trane van hulle oë sal afvee, hulle met 'n kleed van heerlikheid en blydskap sal beklee, hulle met die onuitspreeklike soetheid van sy genietinge sal voed, hulle tot gemeenskap van sy hoogheid sal verhef - kortom: die dag waarop die Here hulle waardig sal ag om in die geluksaligheid te deel.25 Maar Hy sal die goddelose mense wat op aarde van krag tot krag gegaan het, in die grootste skande verwerp. Hy sal hulle genietinge in foltering, hulle gelag en vrolikheid in gehuil en 'n gekners van tande verander. Hy sal hulle vrede met verskriklike gewetenswroeging onrustig maak en hulle wellustigheid met 'n onuitblusbare vuur straf. Hy sal hulle lewens aan die vromes, wie se lydsaamheid hulle misbruik het, onderwerp. Want dit is volgens Paulus geregtigheid om aan ellendiges en die wat onregverdig verdruk word, verligting te gee en om goddelose mense wat vromes verdruk, te verdruk wanneer die Here Jesus uit die hemel geopenbaar sal word.26 Dit is inderdaad ons enigste troos. As hierdie verligting ons ontneem word, moet ons noodwendig of moed verloor of deur die ydele vertroostinge van (hierdie) wêreld tot ons verderf betower word. Want ook die profeet erken dat sy voete gewankel het toe hy hom te lank daarmee besig ge hou het om die teenswoordige voorspoed van die goddelose te oordink, en dat hy slegs staande kon bly toe hy die heiligdom van God betree het en sy oë op die uiteinde van die vromes en die goddelose gerig het.27 Om dit saam te vat en af te sluit: die kruis van Christus sal eers uiteindelik in die harte van die gelowiges oor die duiwel, hulle vlees, die sonde en die goddelose seëvier as hulle hulle oë op die mag van sy wederopstanding rig.

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. Augustinus, De bono conjugali (MPL 40:373 - 391; eSEL 41:187 - 221).
  2. ^ Vgl. Inst. 3.8.3 (Afr. vert. 3:899).
  3. ^ Calvyn maak feitlik deurgaans van die beeld van 'n soldaat gebruik om die stryd van gelowiges teen die aanslae van versoekings te skets. Vgl. o.a. sy briewe aan die hertog van Somerset Ep. 1085 (OC 13:65 e.v.), aan die hertogin van Navarre Ep. 3748 (OC 19:347 e.v.): aan Budé Ep. 919 (OC 12:541 e.v.): aan Franse gelowiges Ep. 931 (OC 12:560 e.v.): en aan de Falais Ep. 979 (OC 12:635 e.v.).
  4. ^ Vgl. Ps. 102:4, 12 (OC 32:62 - 63, 65 - 66).
  5. ^ hominem animal esse. Vgl. Plato, Nomoi 11.923 (LCL Laws 2:420); Politeia 10.617 (LCL Republic 2:506); Cicero, Tusc. Disp. 1.39.94 (LCL 112).
  6. ^ Vgl. Theognis, Eleg. 425 - 428 (LCLGriekse elegleë 1:280 e.v.), Cicero, Tusc. disp. 1.47 - 48.113 e.v. (LCL 136 e.v.), Herodotus, Hist. 1.31 (LCl 1:34 e.v.): Sophokles, Oedip. Col.Jebb 1903:44; Eccl. 4:2 e.v. (Vg. 2:989) en Seneca, De consolatione ad Marciam 22.4 (LCL Moral essays 2:78).
  7. ^ Fr. 1541 e.v.: + selon leur sens bumain (Benoit 3:193).
  8. ^ Fr. 1541 e.v.: Car veu qu 'ils estoyent Payens (Benoit 3:193).
  9. ^ Vgl. Cicero, Tusc. disp. 1.48.115 (LCL 138 e.v.) wat Euripides se In Crespbonte, fragm. 449 in Latyn weergee.
  10. ^ Fr. 1551 e.v.: qu 'un passage en terre estrange? et selon qu 'elle nous est maudite pour le pëché, un exil mesme et bannissement (Benoit 3:193).
  11. ^ Marg. 2. Cor. 5.b.6. Vgl. ook verse 7 . 9 en OC 50:62 - 65.
  12. ^ Fr. 1541 e.v.: quasi estimëe comme fiente (Benoit 3:193).
  13. ^ Marg. Rom. 7.d.24. vgl. OC 49:134 - 135.
  14. ^ Marg. Philip. 1.d.23. Vgl. OC 52:18 - 19.
  15. ^ Vgl. Rom. 14:7 - 9 (OC 49:261 - 262).
  16. ^ Vgl. Calvyn se kommentaar oor 2 Kor. 5:8 en sy brief aan Richebourg by geleentheld van die afsterwe van sy seun Ep. 295 (Oe 11:191, 193).
  17. ^ Fr. 1541 e.v.: Mais quelcun obiettera (Benoit 3:194).
  18. ^ Marg. 2. Cor. 5.a.2. Vgl. ook vers 3 en OC 50:61.
  19. ^ Marg. Rom. 8.d.19, Vgl. OC 49:151 - 152.
  20. ^ Vgl. Cyprianus, De mortalitate (CSEL 3,1:297 e.v.).
  21. ^ Marg. Tit. 2.d.13. 1561: + Marg. 2. Tim. 4.b.8. Vgl. oe 52:389 - 391, 423 - 424.
  22. ^ Marg. Luc. 21.f28. Vgl. OC 45:668 - 669.
  23. ^ Marg. Rom. 8.g.36. Vgl. OC 49:166 - 167.
  24. ^ Marg. 1. Cor. 15.c.19. Vgl. OC 49:543 - 545.
  25. ^ Marg. Iesa. 25.c.18 (recte 1553: Iesa. 25:8); Apoc. 7.d.17. Vgl. OC 36:419 - 420.
  26. ^ Marg. 2. Thess. 1.c.6. Vgl. ook die daarvolgende verse en OC 52:190 e.v.
  27. ^ Marg. Psal. 73.a.2. Vgl. ook vers 3 - 20 en OC 31:675 - 685.