Die mens word nie regverdig gemaak deur goeie werke nie. Slegs Christus se verdienste, en nie die mens s’n nie, is genoegsaam vir ons verlossing. Calvyn weerlê die Roomse kerk, Sofiste en Skolastici se verkeerde leer hieromtrent.

1984. 11 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 3 Hoofstuk 15 Roem op die verdienste van werke vernietig nie alleen die lof aan God dat Hy aan ons geregtigheid gegee het nie, maar ook die sekerheid oor ons saligheid

1. 'n Samevatting van die voorgaande bespreking in verband met regverdigmaking.🔗

Ons het reeds die belangrikste aspek in hierdie saak afgehandel, naamlik dat as geregtigheid op die mens se werke steun, dit noodwendig onmiddellik voor God se aangesig in duie moet stort, en dat geregtigheid in God se barmhartigheid alleen, alleen in die gemeenskap met Christus en daarom alleen in die geloof saamgevat word. Ons moet egter deeglik daarop let dat dit die skarnier van die saak is om nie in die wanvoorstelling van nie alleen die gewone mense nie maar ook van geleerdes verstrengel te raak nie. Want sodra regverdigmaking deur die geloof of die werke ondersoek word, hardloop hulle na Skrifverwysings wat oënskynlik die een of ander verdienste voor die aangesig van God aan hulle werke toeken, net asof die regverdigmaking deur die werke bewys is wanneer bewys is dat hulle 'n mate van waarde by God het! Ons het trouens hierbo duidelik aangetoon dat geregtigheid van die werke slegs in volmaakte en absolute onderhouding van die wet geleë is.1 Daaruit volg dat niemand deur sy werke regverdig gemaak word nie tensy hy die hoogste trap van volmaaktheid bereik het en van geen oortreding, selfs nie die geringste een, beskuldig kan word nie. Daar is dus 'n tweede vraag, afsonderlik van hierdie een, naamlik of ons werke genade by God verdien al is hulle glad nie genoegsaam om die mens regverdig te maak nie.

2. Die woord 'verdienste' is onskriftuurlik en gevaarlik.🔗

Ter inleiding moet ek die volgende opmerkings in verband met die woord verdienste maak: Wie ook al eerste die woord verdienste aan die mens se werke in hulle verhouding tot God se oordeel toegepas het,2 het die opregtheid van die geloof baie swak in aanmerking geneem. Ek weerhou my wel met graagte van 'n woordestryd, maar ek sou tog graag wou hê dat die nugterheid altyd onder Christelike skrywers behou moes word dat hulle hulle moet voorneem om nie wanneer dit onnodig is, woorde te gebruik wat vreemd aan die Skrifte is nie omdat dit baie aanstoot en weinig voordeel teweegbring. Want watter behoefte was daar, vra ek jou, om die woord verdienste in te sleep terwyl die loon vir goeie werke betekenisvol sonder ergernis met 'n ander woord verduidelik kon word? Die groot skade wat die woord verdienste in die wêreld veroorsaak het, toon duidelik hoeveel ergernis die woord inhou. Aangesien dit 'n baie hooghartige woord is, kan dit tot niks anders aanleiding gee as om die genade van God te verduister en die mens met verwronge hoogmoed te deurtrek nie.

Ek erken wel dat die kerklike skrywers van die ou tyd dit gebruik het het hulle hulle nageslag tog maar nie stof tot dwaling gebied deur een ou woordjie so te misbruik nie! Nogtans getuig hulle self ook op verskeie plekke dat hulle nie die waarheid wou bevooroordeel nie. Augustinus praat byvoorbeeld iewers soos volg: "Laat die mens se verdienstes wat deur Adam tot niet gegaan het, hier swyg en laat die genade van God deur Jesus Christus heers",3 Net so: "Die heiliges skryf aan eie verdienstes niks toe nie, hulle sal alles slegs aan u barmhartigheid toeskryf, o God!''4 En elders skryf hy: "En wanneer die mens sien dat hy al die goeie wat hy het, nie uit homself het nie maar van sy God, sien hy dat alles wat in hom geloof word, nie uit sy verdienste is nie maar uit die barmhartigheid van God".5 'n Mens kan sien dat hy die mens sy vermoë om goed te doen ontneem en dat hy ook die aansien van sy werke platvee. Chrysostomos sê weer: "As enige van ons werke op die onverdiende roeping van God volg, is dit vereffenning en skuld; maar dit is tog God se gawes, sy genade en sy weldadigheid en sy groot  milddadigheid".6

Ek laat die benaming maar daar; laat ons eerder die saak ondersoek. Ek het wel tevore hierdie uitspraak uit Bernardus se werk aangehaal.7 "Soos dit vir verdienste voldoende is om niks oor verdienstes te veronderstel nie, so is dit vir die oordeel voldoende om sonder verdienstes te wees".8 Maar hy voeg onmiddellik 'n verklaring daarby en versag sodoende die kilheid van sy stelling voldoende wanneer hy sê: "Sorg dus dat jy verdienstes het; en as jy dit het, weet dan dat dit aan jou gegee is; hoop dat die vrug daarvan die barmhartigheid van God sal wees, en jy het alle gevaar van hulpeloosheid, ondankbaarheid en veronderstelling misgeloop. Gelukkig die kerk waarvoor dit nie aan verdienstes sonder voorveronderstellings ontbreek nie en ook nie aan voorveronderstellings sonder verdienstes nie".9 En 'n rukkie tevore het hy in ruim mate aangetoon in watter vroom betekenis hy die woord gebruik. Hy sê: "Waarom moet die kerk hom bekommer oor verdienstes as hy 'n vaster en sekerder rede het om oor God se voorneme te roem? God kan Homself nie verloën nie: Hy sal doen wat Hy beloof het. Jy het dus geen rede om te vra: 'Met watter verdienstes moet ons op sy seën hoop?' nie veral aangesien jy hoor: 'Nie ter wille van julle nie maar ter wille van My'.10 Vir verdienste is dit genoeg om te weet dat verdienstes nie genoeg is nie".11

3. 'n Weerlegging van die getuienis wat teen hierdie opvatting aangevoer word.🔗

Wanneer die Skrif verklaar dat God se aangesig nie iets kan verdra wat vol onreinheid is nie, toon dit vir ons watter verdienstes al ons werke het. Wanneer dit ons beveel om ons as nuttelose diensknegte te beskou wanneer ons alles gedoen het wat ons gebied word,12 toon dit vir ons wat volmaakte gehoorsaamheid aan die wet sal verdien - as so iets te vinde is. Ons sal dan immers nie aan die Here betaal wat ons nie skuldig is nie, maar ons het dan slegs die diens wat ons verskuldig is, nagekom en daarvoor hoef geen dank aan ons betuig te word nie. Tog noem die Here die goeie werke wat Hy aan ons gegee het, enersyds ons werke, en andersyds getuig Hy dat Hy dit nie alleen sal aannneem nie maar dat hulIe ook beloon sal word. Op ons beurt is dit ons plig om deur so 'n groot belofte begeester te word en moed bymekaar te skraap, om nie moeg te word om goed te doen nie en so 'n groot welwillendheid van God met opregte dankbaarheid te ontvang. Alles wat in ons werke verdien om geroem te word, is ongetwyfeld God se genade, en geen druppeltjie daarvan moet ons as ons eie aan onsself toeskryf nie. As ons dit waarlik en ernstig erken, verdwyn nie alleen ons vertroue op die verdienste daarvan nie maar ook ons illusies daaroor.

Ek herhaal: ons verdeel nie die lof vir ons goeie werke tussen God en die mens soos die Sofiste doen nie,13 maar ons hou dit volledig en onverminderd vir die Here. Aan die mens skryf ons slegs dit toe dat hy juis die werke wat goed was, deur sy onreinheid besoedel en bemors het.14 Want uit 'n mens kom niks wat nie met een of ander vlek besmet is nie, al is hy ook hoe volmaak. Laat die Here dus al die beste werke van die mens voor sy oordeel daag - daarin sal Hy weliswaar sy eie geregtigheid herken maar die mens se oneer en skande.

Goeie werke is dus vir God aangenaam en ook nie sonder vrugte vir die daders daarvan nie, ja, hulle ontvang selfs nog die grootste weldade van God as beloning - nie omdat hulle so iets verdien nie maar omdat God se goedertierenheid dit vanself as loon vir hulle bepaal. Hoe groot is die kwaadwilligheid dan nie van diegene wat nie tevrede is met so 'n vrygewigheid van God, wat werke wat so iets nie verdien nie, nogtans met belonings wat nie daaraan verskuldig is nie, vergoed om dan nog met onheilige eersug daarna te streef dat iets wat uit God se milddadigheid kom, oënskynlik deur die verdienste van hulle werke aan hulle betaal word.

Hier beroep ek my op die algemene gevoel van elke mens. As iemand deur 'n ander se toegeeflikheid vruggebruik oor 'n stuk grond het en hy ook die reg om dit te besit vir homself toe-eien, verdien hy dan nie om vanweë sulke ondankbaarheid juis die besit wat hy daarvan gehad het, te verloor nie? Dit is net soos wanneer 'n slaaf deur sy eienaar vrygelaat word, die nederigheid van sy staat as vrygelatene verbloem en himself as 'n vrygebore man voordoen. Verdien so 'n man dan nie om na sy vroeëre staat as slaaf teruggebring te word nie? Die enigste gegronde aanwending van die genieting van 'n weldaad is per slot van rekening as ons nie vir ons meer toe-eien as wat aan ons gegee is nie, en as ons die gewer van die seën nie van die lof daarvan beroof nie. Ons moet ons eerder so gedra dat die seën wat hy op ons oorgedra het, op die oog af nog by hom is. As ons dan so 'n selfbeheersing jeens ons medemens aan die dag moet lê, moet elkeen oplet en nadink hoeveel selfbeheersing hy aan God verskuldig is.

4. 'n Weerlegging van die Sofiste se besware teen hierdie leer.🔗

Ek weet dat die Sofiste sekere verwysings misbruik om te bewys dat die woord verdienste jeens God in die Skrifte aangetref word. Hulle haal uit Ecclesiasticus die volgende uitspraak aan: "Barmhartigheid sal vir elkeen plek inruim volgens die verdienstes van sy werke.''15 En uit die brief aan die Hebreërs: "Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie want met sulke offers word die mens verdienstelik by God."16

Ek doen nou afstand van my reg om die Ecclesiasticus se gesag te verwerp. Ek verklaar nogtans dat hulle nie dit wat die Ecclesiasticus geskryf het, getrou aanhaal nie. Want in die Griekse teks staan daar: "Hy sal vir alle barmhartigheid plek maak; want elkeen sal vind volgens sy werke". En dat dit die egte lesing is wat in die Latynse weergawe verdraai is, blyk sowel uit die konstruksie van die woorde alleen as uit die groter verband van die betoog wat daaraan voorafgaan. Sover dit die brief aan die Hebreërs aangaan, is daar geen rede waarom hulle met een woordjie vir ons 'n wip hoef te stel nie. In die Grieks van die apostel staan daar trouens niks anders as dat sulke offers God behaag en Hom geval nie. Dit alleen behoort oorgenoeg te wees om ons hoogmoedige verwaandheid te beteuel en te bedwing om nie aan ons werke 'n waarde los van die Skrifformulering daarvan te versin nie.

Verder leer die Skrif dat ons goeie werke altyd met baie vuiligheid bespat is en dat God met reg daardeur gekrenk en toornig op ons word. Goeie werke kan ons dus glad nie met Hom versoen of sy weldadigheid jeens ons teweegbring nie. Omdat Hy egter ons werke volgens sy toegeeflikheid en nie volgens sy hoogste reg nie ondersoek, aanvaar Hy hulle nogtans asof hulle baie skoon is, en daarom word hulle, al verdien hulle dit nie, met eindelose weldade sowel in hierdie lewe as in die toekomende beloon. Ek aanvaar trouens nie die onderskeid wat deur geleerde manne wat andersins vroom was, gemaak is nie, naamlik dat ons goeie werke die genadebetonings wat in hierdie lewe aan ons gegee word, verdien maar dat die ewige geluksaligheid die loon van die geloof alleen is.17 Die Here stel die loon vir ons arbeid en die kroon vir ons stryd feitlik altyd in die hemel. Aan die ander kant is dit strydig met die leer van die Skrif om iets op so 'n wyse aan die verdienste van ons arbeid toe te ken dat dit uit die genade weggeneem word wat as genadegawe op genadegawe deur die Here op ons gelaai word. Want hoewel Christus sê dat aan iemand wat het, gegee sal word en dat die getroue en goeie dienskneg wat in die klein dingetjies getrou was, oor baie aangestel sal word,18 toon Hy tog terselfdertyd elders aan dat die toename van die gelowiges 'n gawe van sy onverdiende goedertierenheid is. Hy sê: "Almal wat dors het, kom na die waters; en wie nie geld het nie, kom, koop sonder geld en sonder prys wyn en melk".19 Alles wat dus nou aan godvrugtiges gegee word om hulle saligheid, en selfs geluksaligheid te help, is louter weldadigheid van God. Tog getuig Hy dat Hy sowel in hierdie geluksaligheid as in sy genadegawes die mens se werke in berekening bring, want ter betuiging van die grootte van sy liefde jeens ons ag hy ons nie alleen so 'n groot eer waardig nie maar ook die gawes wat Hy aan ons geskenk het.

5. Alleen in Christus is die begin en die einde van ons verlossing.🔗

As hierdie onderwerpe in die verlede in die volgorde waarin dit hoort, behandel en ondersoek is, sou daar nooit soveel verwarring en onenigheid ontstaan het nie. Paulus sê dat ons in die opbou van die Christelike leer die fondament moet behou wat hy self gelê het, waarbenewens geen ander fondament gelê kan word nie, dit is Jesus Christus.20 Watter  soort fondament het ons in Christus? Is dit dat Hy ons saligheid begin het sodat dit net deur ons volbring moet word? Of het Hy net vir ons die pad gebaan sodat ons op eie krag daarop verder kan gaan? Glad nie, maar soos hy dit 'n rukkie vantevore gestel het: wanneer ons erken dat Hy tot geregtigheid aan ons gegee is.21 Niemand is dus deeglik in Christus gefundeer tensy hy volkome geregtigheid in Hom het nie. Die apostel sê immers nie dat Hy gestuur is om ons te help om geregtigheid te bekom  nie maar dat Hy self ons geregtigheid is,22 dit is dat ons van ewigheid af voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitverkies is – sonder enige verdienste van ons kant maar volgens die voorneme van God se welbehae;23 dat ons deur sy dood self van die vloek van die dood verlos en van die verderf bevry is;24 dat ons in Hom deur ons hemelse Vader as sy kinders en erfgename aangeneem is;25 dat ons deur sy bloed met die Vader versoen is; dat ons aan sy bewaring oorgegee is en van ondergang en verderf gevrywaar is; dat ons so in Hom ingelyf is en reeds in 'n sekere sin in die ewige lewe deel het26 en deur hoop tot die koninkryk van God toegetree het. Daarmee is ons nog nie klaar nie: dat Hy, wanneer ons so deelname in Hom verkry het, vir ons wysheid voor God is al sou ons nog in onsself dwase wees; dat, al sou ons nog sondaars wees, Hy vir ons geregtigheid is; dat, al sou ons nog onrein wees, Hy vir ons reinheid is; dat, al sou ons swak wees en sonder wapens en blootgestel aan die Satan, ons die mag het wat in die hemel en op die aarde aan Hom gegee is27 waarmee Hy die Satan vir ons verbrysel en die poorte van die hel vir ons verbreek, en al sou ons nog 'n liggaam van die dood met ons ronddra, is Hy nogtans vir ons die lewe. Kortom: omdat alles wat syne is, ons s'n is, besit ons alles in Hom en niks in ons nie. Ek herhaal: op hierdie fondament moet ons gebou word as ons tot 'n heilige tempel vir die Here wil groei.

6. Die Skrif weerspreek die Skolastici se leer wat Christus se mag en eer aan bande lê.🔗

Maar dit is nou reeds 'n geruime tyd dat die wêreld heeltemal anders geleer is. Allerlei goeie sedelike werke is uitgevind waardeur mense vir God welgevallig word nog voordat hulle in Christus ingelyf is. Net asof die Skrif lieg wanneer dit verklaar dat almal wat die Seun nie het nie, in die dood is.28 As hulle dan in die dood is, hoe kan hulle stof om te lewe voortbring? Net asof dit niks beteken dat alles wat sonder die geloof is, sonde is nie!29 Net asof 'n slegte boom goeie vrugte kon voortbring!30 Maar wat het die verpestelike Sofiste vir Christus oorgelaat waarin Hy sy krag kan openbaar? Hulle beweer dat Hy vir ons die eerste genade verdien het, dit is die geleentheid om verdienstelik te wees, en dat dit nou ons taak is om die geleentheld wat ons gebied is, waar te neem.31 Veragtelike onbeskaamdheid en goddeloosheid! Wie sou ooit kon verwag dat mense wat Christus se Naam bely, Hom so van sy krag sou stroop en sou waag om Hom amper te vertrap? Oral word van Hom getuig dat almal wat in Hom glo, geregverdig is. Hulle32 leer dat geen ander weldaad van Hom kom nie as net dat vir elkeen die pad oopgemaak is om homself te regverdig! Het hulle tog maar die betekenis gesmaak van die volgende uitsprake: dat almal wat die Seun van God het, die lewe het;33 dat elkeen wat glo, van die dood na die lewe oorgegaan het.34 Dat ons deur sy genade geregverdig is om erfgename van die ewige lewe te word35 dat die gelowiges Christus het wat in hulle woon,36 deur wie hulle aan God verbind is; dat hulle in sy lewe deel en saam met Hom in die hemel sit;37 dat hulle in die koninkryk van God oorgebring is en saligheid verkry het,38 en ontelbare soortgelyke uitsprake. Hulle gee trouens te kenne nie alleen dat ons deur die geloof in Christus die vermoë te beurt val om geregtigheid te verwerf of saligheid te verkry nie maar ook dat albei hiervan aan ons geskenk word. Sodra jy dus deur die geloof in Christus ingelyf is, het jy reeds 'n kind van God, erfgenaam van die hemel, deelgenoot in sy geregtigheid en besitter van die lewe geword. Maar om hulle leuens nog beter aan die kaak te stel: Jy het nie die geleentheid gekry om verdienstelik te wees nie maar al Christus se verdienstes omdat hulle met jou gedeel word.

7. Die Skolastici se leer van verdienste is gebou op Lombardus se verkeerde vertolking van Augustinus en die Skrif se stellings in verband daarmee.🔗

So het die skole van die Sorbonne,39 die moeders van al die dwalings, die regverdigmaking deur die geloof, wat die kern van ons hele godvrugtigheid is, van ons weggeneem. Met hulle woorde verklaar hulle wel dat die mens deur 'n gevormde geloof regverdig gemaak word, maar later vertolk hulle dit so dat goeie werke deur die geloof die verrnoë het om tot geregtigheid by te dra.40 Die gevolg daarvan is dat dit amper lyk asof hulle die geloof spottend vermeld omdat hulle dit nie sonder groot verleentheid kon verswyg nie aangesien dit so dikwels in die Skrif  herhaal word. Maar hiermee selfs nog nie tevrede nie beroof hulle God van iets van die lof vir goeie werke om dit op die mens oor te dra. Omdat hulle sien dat goeie werke weinig daartoe bydra om die mens te verhef en dat dit inderdaad nie eintlik verdienstes genoem kan word as dit as die vrug van God se genade beskou word nie,41 wil hulle dit te voorskyn laat kom uit die krag van die vrye wil,42 dit is: hulle wil olie uit 'n klip tap. Hulle ontken weliswaar nie dat die belangrikste oorsaak in die genade is nie,43 maar hulle beweer nogtans dat die vrye wil waardeur alle verdienste ontstaan, nie daardeur uitgesluit word nie.44 En dit leer nie alleen die latere Sofiste nie maar ook Lombardus,45 hulle Pythagoras.46 As jy hom egter met hulle vergelyk, sou jy sê dat hy verstandig en nugter is. Dit is inderdaad kensketsend van sy verbasende blindheid dat, hoewel hy so dikwels 'n mondvol oor Augustinus te sê gehad het,47 hy nogtans nie gesien het hoe versigtig hy daarteen gewaak het dat nie 'n krieseltjie roem vir goeie werke op die mens oorgedra word nie. Toe die bespreking hierbo oor die vrye oordeel gehandel het, het ons enkele van sy stellings oor hierdie onderwerp weergegee,48 en soortgelyke verklarings kom herhaaldelik in sy geskrifte voor. Hy verbied ons byvoorbeeld om iewers op ons verdienstes te roem omdat ook dit gawes van God is.49 Hy skryf ook dat al ons verdienste slegs uit genade is, dat dit nie deur ons selfgenoegsaamheid verwerf word nie maar slegs deur genade tot stand kom.50

Dit is minder verbasend dat Lombardus blind was vir die Skriflig. Dit is trouens duidelik dat hy nie so ryklik hierin bedrewe was nie. 'n Mens kan tewens niks duideliker as die volgende woorde van die apostel teen hom en sy volgelinge verlang nie, want nadat hy Christene alle roem verbied het, voeg hy die rede waarom roem verkeerd is, by: "Want ons is sy maaksel, geskep tot goeie werke wat God voorberei het sodat ons daarin kan wandel".51 Aangesien daar uit onsself niks goeds te voorskyn kom nie, behalwe in soverre ons wedergebore is en ons wedergeboorte sonder uitsondering God ten volle toekom, het ons geen rede om 'n krieseltjie van ons goeie werke vir onsself toe te eien nie.

Ten slotte: wanneer hulle onophoudelik goeie werke aan ons opdring, onderrig hulle ons gewetens intussen so dat hulle nooit kan waag om te vertrou dat God hulle werke gunstig en goedgesind is nie.52 Aan die ander kant beur ons egter met ons leer die gemoedere van gelowiges met die sonderlinge troos op wanneer ons hulle leer dat hulle in hulle werke God behaag en ongetwyfeld vir Hom aanvaarbaar is. Ja, hier vereis ons selfs dat niemand enige werk sonder die geloof aandurf of van stapel  stuur nie, dit is as hy nie eers met vaste vertroue van sy gemoed vasstel dat dit God sal behaag nie.

8. Vermaning, vertroosting en samevatting van die regsinnige leer.🔗

Laat ons daarom glad nie toelaat dat ons selfs 'n vingerbreedte van daardie enige fondament weggeneem word nie.53 As dit eenmaal gelê is, bou verstandige bouers reg en ordelik daarop voort.54 As ons trouens onderwysing en vermaning nodig het, vermaan hulle ons dat die Seun van God vir hierdie doel verskyn het om die werke van die duiwel te verbreek sodat die wat uit God is, nie mag sondig nie;55 dat die verlede genoeg was om aan die begertes van die heidene te voldoen;56 dat God se uitverkorenes houers van sy barmhartigheid is wat tot sy eer gekies is en van die vuilheid van die wêreld gereinig moet word.57

Maar alles word vir eens en altyd gesê wanneer aangetoon word dat Christus sulke dissipels wil hê wat hulleself verloën, hulle kruis opneem en Hom volg.58 Iemand wat homself verloën het, het die wortel van al die kwaad afgesny sodat hy nie meer hoef te soek na dinge wat aan hom behoort nie. Iemand wat sy kruis opgeneem het, het hom vir alle lydsaamheid en sagmoedigheid voorberei. En Christus se voorbeeld sluit hierdie en al die ander pligte van godsvrug en heiligheid in. Hy het Hom tot die dood toe gehoorsaam betoon teenoor die Vader.59 Hy het Hom ten volle daarop toegelê om die werke van God te voltooi.60 Hy het van ganser harte die heerlikheid van die Vader nagestreef.61 Hy het sy lewe vir sy broers neergelê.62 Hy het aan sy vyande goed gedoen en vir hulle gebid.63

Maar as ons vertroosting nodig het, sal die volgende heerlike vertroosting bring: ons word verdruk maar nie benoud nie, ons swoeg maar word nie verlaat nie, ons word verneder maar nie vertwyfeld nie, ons word neergewerp maar gaan nie te gronde nie en dra altyd Jesus Christus se sterwe in ons liggaam sodat Christus se lewe in ons geopenbaar kan word.64 Want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe, as ons met Hom gely het, sal ons ook met Hom regeer.65 En so word ons met sy lyde saam gevorm totdat ons gelykheid met sy opstanding bereik,66 want die Vader het die wat Hy tevore uitverkies het, bestem om gelykvormig te word aan die beeld van sy Seun sodat Hy die Eersgeborene onder al sy broers kon wees.67 Daarom sal nog die dood nog teenwoordige nog toekomende dinge ons skei van die liefde van God wat daar in Christus is nie.68 Ja, alles sal eerder ten goede en tot ons saligheid verloop.69

Kyk, ons stel die mens nie deur sy werke regverdig voor God nie, maar ons verklaar dat almal wat uit God is, wedergebore en 'n nuwe skepsel word70 sodat hulle van die ryk van die sonde in die ryk van geregtigheid oorgaan. Ons verklaar dat hulle hulle roeping met hierdie getuienis vas en seker maak71 en dat hulle soos borne aan hulle vrugte geoordeel word.72

Endnotes🔗

  1. ^ Inst. 2.7.3 (Afr. vert. 2:480).
  2. ^ Vgl. Tertullianus, De ieiuniis 3 (MPL 2:1008; eSEL 20:277); De carnis resurrectione 15 (MPL 2:859; CSEL 47,3:44); Apologeticum 18 (MPL 1:433); De poenitentia 6 (MPL 1:1346; eest 1:118, 329): De exhort. castitatis 1 (MPL 2:963)
  3. ^ Marg. De praedest. sanct. Augustinus, De praedest. sanct. 15.31 (MPL 44:983).
  4. ^ Marg. In Psal. 139. Augustinus, Enar. in Psal. 139.18 (MPL 37:1814).
  5. ^ Marg. In Psal. 88 (recte: 1543 - 1545: 84). Augustinus, Enar. in Psal. 84:9 (MPL 37:1073).
  6. ^ Marg. Homil. 33. in Gene. Chrysostornos, In Gen. hom. 34.6 (MPG 53:321).
  7. ^ Inst. 3.12.3 (Afr. vert. 3:965).
  8. ^ Marg. Supra canti. sermo. 68. Bernardus, In cant. canticarum sermo 68.6 (MPL 183:1111).
  9. ^ Ibidem (MPL 183:1111).
  10. ^ Marg. Ezech. 36.e.22, f32.
  11. ^ Bernardus, In cant. canticorum sermo 68.6 (MPL 183:1111).
  12. ^ Marg. Luc. 17.c.l0. Vgl. ook OC 45:415.
  13. ^ Vgl. Lombardus, Sent. 2.27.5 (MPL 192:715).
  14. ^ Fr. 1560: + comme venantes de Dieu (Benoit 3:267).
  15. ^ Marg. Eccli. l6.b.14. Vg.: Liber Iesu filit Sirach 16:15. Vgl. Eck, Ench. 5.e7a e.v.; vir Iesu Siraeh vgl. Afr. vert. 1:221, n.51.
  16. ^ Marg. Hebr. l3.a.2 (recte. Hebr. 13:16). Vgl. ook OC 55:193 - 194.
  17. ^ Vgl.Inst. 3.11.19; 3.17.7, 8,9(Afr. vert. 3:954; 1029,1030,1032) en Melanehthon, Loci com. 1535 (CR 21:441 e.v.)
  18. ^ Marg. Mat. 25.b.2l et c.29, 1553 - 1554: + Marg. Luc. 8.c.18.
  19. ^ Marg. Iesa. 55.a.1. Vgl. ook OC 37:281 - 283.
  20. ^ Marg. 1. Cor. 3.b.11. Vgl. ook vers 10 e.v. en OC 49:352 - 354.
  21. ^ Marg. 1. Cor. 1.d.30. Vgl. ook OC 49:330 - 332.
  22. ^ Marg. 1. Cor. 1.d.30.
  23. ^ Marg. Ephes. 1.a.4 e.v. Vgl. ook die daaropvolgende verse en OC 51:147 e.v.
  24. ^ Marg. colos. 1.b.14 et c.20. Vgl. OC 52:84,88 - 89.
  25. ^ Vgl. Rom. 8:17; Gal. 4:5 - 7 en Oc 49:150 - 151; 50:227 - 229.
  26. ^ Marg. Iohan. 10.e.28. Vgl. OC 47:249 e.v.
  27. ^ Marg. Mat. 28.d.18. Vgl. oe 45:820 - 821.
  28. ^ Marg. 1. Iohan. 5. c.12. Vgl. ook OC 55:368 - 369.
  29. ^ Marg. Rom. 14.d.23. Vgl. ook OC 49:268 - 269.
  30. ^ Vgl. Matt. 7:16 - 18; Luk. 6:43 (OC 45:224 - 227).
  31. ^ Vgl. Duns Scotus, In sent. 3.19.1.8 (000 7,1:418 - 420).
  32. ^ Fr. 1541 e.v.: ... ces canailles (Benoit 3:270).
  33. ^ Marg. 1. Iohan. 5. c.12.
  34. ^ Marg. Iohan. 5.d.24; 1545 - 1554: + et 6.e.40.
  35. ^ 1539 - 1554: + Marg. Tit. 3.b.5; 1559 . 1561: Rom. 3.c.24. Vgl. ook OC 52:429 - 431; 49:61 - 62 asook Rom. 5:1 e.v. en OC 49:88 e.v.
  36. ^ Marg. 1. Iohan. 3.d.23 (recte: 1 Joh. 3:24). Vgl. ook OC 55:345.
  37. ^ Marg, Ephes. 2.b.6; 1545 - 1554: + Ephes. 1.a.3. Vgl. ook OC 51:164, 145 - 147.
  38. ^ Marg. Colos. l.b.13. Vgl. OC 52:83 - 84.
  39. ^ Fr. 1541 e.v.: ... les Sophistes des eseoles Sorboniques (Benoit 3:271).
  40. ^ Vgl.Thomas, Summa Theol. 2,1.113.4; 2,1.114.3, 4, 8 (Marietti 2:584 e.v., 594 e.v.), Cochlaeus, Phil. 3.10 (OC 52:50); Eck, Ench. 5, D2ab.
  41. ^ Vgl. Thomas, Summa Theol. 2,1.114.3 (Marietti 2:594 e.v.).
  42. ^ Vgl. Thomas, Summa Theol. 2,1.113.3 (Marietti 2:582 e.v.).
  43. ^ Vgl. Thomas, Summa Theol. 2,1.114.2 (Marietti 2:593 e.v.).
  44. ^ Vgl. Thomas, Ibid.
  45. ^ Marg. Lib. 2. Sent. dist. 28 (recte: 1539 - 1543; 1553 - 1554: dist. 21). Vgl. Lombardus, Sent. 2.27.4 (MPL 192:715).
  46. ^ Fr.: ... mais leur grand maistre (Benoit 3:271). Pythagoras: Griekse wysgeer van Samos wat in Metapontion in 497/6 V.e. gesterf het. Hoewel hy geen geskrifte nagelaat het nie en aantekeninge tydens sy lesse trouens afgekeur het om die geheue van sy leerlinge op te skerp, het hyvanweë sy ideaal van lewensreinheid en askese groot aansien onder sy aanhangers geniet en ook groot invloed op die ontwikkeling van die Westerse denke uitgeoefen (Kleine Pauly 4:1264 e.v.; REW24:172 e.v.).
  47. ^ Vgl. Lombardus, a.w. 2.25.12 . 16; 2.26.1 - 3 (MPL 192:709 e.v.).
  48. ^ Vgl. Inst. 2.2.8 (Afr. vert. 2:377).
  49. ^ Marg. In Psal. 144. Vgl. Augustinus, Enar. in Psal. 144.11 (MPL 37:1876 - 1877).
  50. ^ Marg. Epist. 105. Vg!. Augustinus, Ep. 194.5.19 (MPL 33:880; CSEL 57.1.4:190 - 191).
  51. ^ Marg. Ephes. 2.b.10. Vgl. ook OC 51:166 - 167.
  52. ^ Vgl. Thomas, Summa Theol. 2,1.112.5 (Marietti 2:575 e.v.).
  53. ^ Fr. 1541 e.v.: + car sur iceluy doit reposer tout ce qui appartient à l'édification de l'Egiise (Benoit 3:272).
  54. ^ Fr.: Ainsi tous les serviteurs de Dieu, ausquels il a donné la charge d'édifier son régne, après auoir mis ce fondement (Benoit 3:272)
  55. ^ Marg. 1. Iohan. 3.b.8. Vgl. die ook daaropvolgende verse en OC 55:334 - 336.
  56. ^ Marg. 1. Pet. 4.a.3. Vgl. ook OC 55:271 - 272.
  57. ^ Marg. 2. Tim. 2. c.20. Vgl. ook die daaropvolgende verse en OC 52:371 e.v.
  58. ^ Marg. Luc. 9.c.23; 1536: Marg. Matth. 16. Vgl. ook Matt. 16:24 en OC 45:478 - 450, 481 - 482.
  59. ^ 1536: + Marg. Phil. 2. Vgl. veral verse 7 - 8 en oe 52:26 - 27.
  60. ^ 1536: + Marg. Luc. 2. Vgl. ook vers 49 en OC 45:106. 107
  61. ^ 1536: + Marg. Ioan. 4. 7. 8. 17. Vgl. ook Joh. 4:34; 7:16 - 18; 8:49 e.v.; en OC 47:78 e.v.
  62. ^ 1536: + Marg. Ioan. 10. 15. Vgl. ook Joh. 15:13 en OC 47:243.
  63. ^ 1536:+ Marg. Luc. 23.Vgl. ook vers 34 en oe 45:765·766. Fr. 1541 e.v.: il a rendu le bienpour le mal à ses ennemis (Benoit 3:273). Die nabootsing van Christus is 'n belangrike tema in ealvyn se werk. Dit hou in dat diegene wat in Christus glo, deur die geloof sekerheid van God se genadige sondevergiffenis verkry en alle vertroue op hulle werke van hulle afskud. Verder berus die nabootsing daarop dat daar nie 'n beter voorbeeld bestaan om na te volg nie omdat Christus die enigeSeun van God is. Calvyn verwys trouens telkens na Christus as model of toonbeeld wat in een of ander opsig nagevolg moet word. 50 skets hy Christus as toonbeeld van vaste vertroue in God (Com. in Hebr. 2:13 - oe 55:29 e.v.): as voorbeeld van gehoorsaamheid (Com in Hebr. 5:8 - OC 55:63 e.v.): as toonbeeld van ootmoed en nederigheid (Com. in Colos. 3:13 - OC 47:122); as voorbeeld vir gebed (Com. in loh. 6:11 -OC47:108) en as voorbeeld van vaste vertroue in die Skrif (Harm. in ev. in Matth. 4:4 - OC 45:132). Ware nabootsing van Christus bestaan in sterwe met Hom, inwoning deur Hom en opstanding saam met Hom. Vgl. Inst. 3.3, 7, 8 (Afr. vert. 3:768, 883, 897).
  64. ^ Marg. 2. Cor. 4.d.8; 1536: + Marg. Philip. 2. Vgl. ook 2 Kor. 4:10 en OC 50:54 - 56.
  65. ^ Marg. 2. Tim. 2. b.ll. Vgl. ook verse 12 - 13 en oc 52:364 - 366.
  66. ^ Marg. Philip. 3.b.10. Vgl. ook die daaropvolgende verse en OC 52:50 e.v.
  67. ^ Marg. Rom. 8.f29. Vgl. ook OC 49:159 - 160.
  68. ^ Marg. Rom. 8.f29. Vgl. ook OC 49:159 - 160.
  69. ^ Vgl. Rom. 8:28 (OC 49:158 - 159).
  70. ^ 1553 - 1554: + Marg. 2. Petr. l.a.4. Vgl. ook OC 55:446 - 447.
  71. ^ Marg. 2. Pet. l.b.l0. Vgl. OC 55:449 - 451.
  72. ^ Vgl. Matt, 7:17 - 20; 12:33; Luk. 6:44 (OC 45:224 - 227,342 - 343); Melanchthon, Loci com. 1521; De iustificatione et fide (CR 21:159 - 181).