Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 3 Hoofstuk 1 Die manier waarop ons die genade van Christus ontvang, die voordeel wat dit vir ons inhou, en die resultaat daarvan
Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 3 Hoofstuk 1 Die manier waarop ons die genade van Christus ontvang, die voordeel wat dit vir ons inhou, en die resultaat daarvan
1. Die Heilige Gees is die band wat ons Christus deelagtig maak.⤒🔗
Nou moet ons ondersoek instel na die wyse waarop die seëninge wat die Vader aan sy eniggebore Seun gegee het - nie vir sy persoonlike voordeel nie maar om hulpelose en behoeftige mense ryk te maak1 - by ons uitkom. En in die eerste plek moet ons weet dat alles wat Christus vir die saligheid van die mensdom gely en gedoen het, vir ons nutteloos en van geen waarde is solank ons sonder Hom is en solank ons van Hom geskei is nie.2 Om dus die dinge wat Hy van sy Vader ontvang het, met ons te deel moes Hy ons eie word en in ons inwoon. Daarom word Hy enersyds ons Hoof3 en andersyds ook die Eersgeborene onder baie broers genoem.4 Op ons beurt word van ons gesê dat ons in Hom ingelyf word5 en dat ons ons met Hom beklee.6 Soos ek trouens gesê het, gaan alles wat syne is, ons niks aan nie, totdat ons met Hom saamgroei. Hoewel dit waar is dat ons dit deur die geloof bereik, leer ons rede ons tog juis om hoër uit te styg en die verborge werking van die Gees te ondersoek omdat ons sien dat nie almal sonder onderskeid die deelname in Christus wat hulle deur die evangelie aangebied word, aanneem nie. Dit is tag deur die werking van die Geesdat ons Christus en al sy seëninge kan geniet.7
Ek het tevore alreeds oor die ewige Godheid en Wese van die Gees gepraat.8 Nou moet ons dit in hierdie besondere hoofstuk vir lief neem dat Christus so in water en bloed gekom het dat die Gees van Hom kan getuig9 om te voorkom dat die saligheid wat ons deur Hom verkry het, ons ontglip. Want soos daar in die hemel drie getuies opgeroep word, naamlik Vader, Woord en Gees, so is daar ook drie getuies op die aarde, naamlik water, bloed en Gees.10 Daar word ook nie verniet by herhaling vermeld dat die getuienis van die Gees wat ons ervaar, soos 'n seël in ons harte afgedruk is nie. Dit verseël dus die afwassing deur en die offer van Christus. Daarom sê Petrus ook dat die gelowiges uitverkies is in die heiligmaking deur die Gees en in die gehoorsaamheid en besprinkeling met die bloed van Christus.11 Met hierdie woorde wys hy ons daarop dat ons siele deur die verborge besprinkeling van die Gees gereinig word sodat die uitstorting van sy heilige bloed nie tevergeefs sou wees nie. Wanneer Paulus oor ons reiniging en regverdigmaking praat, sê hy daarom ook dat ons in die Naam van Jesus Christus en in die Gees van ons God albei deelagtig word.12 Dit kom kortliks hierop neer: Die Heilige Gees is die band waarmee Christus ons kragdadig aan Hom verbind. Dit wat ons in verband met sy salwing in die laaste boek geleer het, het ook hierdie strekking.13
2. Die Gees word die 'Gees van Heiligmaking' genoem, omdat Hy die saad van die hemelse lewe in ons is.←⤒🔗
Omdat dit 'n onderwerp is wat ons kennisname besonderlik verdien, moet dit bo alle twyfel duidelik wees. Daarom moet ons weet dat Christus op 'n besondere manier met die Heilige Gees toegerus is toe Hy gekom het. Die doel daarvan was naamlik dat die Heilige Gees ons van die wêreld moes afsonder en in die verwagting op 'n ewige erfenis moes versamel. Om hierdie rede word Hy die Gees van heiligmaking genoern,14 omdat Hy ons nie slegs met die algemene krag wat in die geval van die mensdom sowel as ander lewende wesens waargeneem kan word, voed en koester nie maar omdat Hy ook die wortel en saad van die hemelse lewe in ons is. Daarom loof die profete die koninkryk van Christus besonderlik met die lofbetuiging dat die oorvloed van die Gees dan ryker sal blom. 'n Aanhaling uit Joël staan bo ander uit. Hy sê: "Op dié dag sal Ek uit my Gees oor alle vlees uitgiet".15 Want al lyk dit asof die profeet die gawes van die Gees tot die gawe van profesie beperk, gee hy tog met die beeld te kenne dat God deur die verligting van sy Gees vir Homself dissipels sal maak van mense wat tevore glad geen deel in die hemelse leer gehad het nie.
Verder het God die Vader die Heilige Gees ter wille van sy Seun aan ons gegee en nogtans die volheid daarvan volkome by Hom gelaat om self Bedienaar en Uitdeler van sy eie milddadigheid te wees. Daarom word Hy nou die Gees van die Vader en dan weer die Gees van die Seun genoem.16 Paulus sê: "Julle is nie in die vlees nie maar in die Gees, want die Gees van God woon in julle. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Hom nie."17 Daarmee skep hy inderdaad die hoop op volle vernuwing, omdat Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ons sterflike liggame lewend sal maak vanweë sy Gees wat in ons woon.18 Daar sit niks ongerymds daarin dat ons die lof vir sy gawes aan die Vader toeskryf nie omdat Hy die oorsprong daarvan is. Tog skryf ons aan Christus by wie die gawes van die Gees gelaat is om dit aan die wat aan Hom behoort, uit te deel,19 dieselfde werking toe. Daarom nooi Hy almal wat dors het na Hom toe om te drink.20 Paulus leer ook dat die Gees aan elkeen na die maat van die gawe van Christus uitgedeel word.21 Ons moet ook weet dat Hy die Gees van Christus genoem word, nie alleen in soverre Hy die ewige Woord van God is wat deur dieselfde Gees met die Vader verbind is nie, maar ook na sy Persoon as Middelaar. As Hy trouens nie met hierdie krag bedeeld was nie, sou Hy tevergeefs na ons toe gekom het. In hierdie sin word Hyook die tweede Adam genoem omdat Hyas 'n lewendmakende Gees uit die hemel aan ons gegee is.22 Paulus vergelyk hier die sonderlinge lewe wat die Seun van God in die wat aan Hom behoort23 ingee, sodat hulle een met Hom kan wees, met die gewone lewe24 waaraan verworpenes ook deel het. Wanneer hy byvoorbeeld die gelowiges die genade van Christus en die liefde van God toebid, verbind hy terselfdertyd die gemeenskap van die Heilige Gees daarmee.25 Daarsonder sal niemand die vaderlike guns van God, nog die weldadigheid van Christus smaak nie. Elders sê hy byvoorbeeld: "Die liefde van God is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is".26
3. Name waarmee die Skrif die Heilige Gees teken.←⤒🔗
Waar dit hier oor die begin en die hele herstel van ons saligheid handel, betaam dit ons om te let op die lofbetuigings waarmee die Skrif die Heilige Gees teken.
Ten eerste word Hy die Gees van aanneming genoem. Hy is trouens vir ons 'n getuie van die onverdiende welwillendheid van God waardeur God die Vader ons in sy geliefde eniggebore Seun omhels het, sodat Hy vir ons 'n Vader kan wees en ons kan opwek om met vertroue tot Hom te bid. Ja, Hy sê selfs die woorde aan ons voor, sodat ons onbevrees kan uitroep: "Abba, Vader!"27 Om dieselfde rede word daar gesê dat Hy 'n pand en seël van ons erfenis is.28 Terwyl ons immers vreemdelinge op die wêreld en net soos dooies is, maak Hy ons uit die hemel op so 'n wyse lewend dat ons daarvan verseker kan wees dat ons saligheid deur die troue beskerming van God vas en seker is. Daarom word daar ook gesê dat Hy die lewe ter wille van geregtigheid is.29 Omdat Hy ons deur sy verborge besprinkeling30 inderdaad vrugbaar maak om spruite van geregtigheid voort te bring,31 word Hy baie dikwels water genoem, soos by Jesaja: "Almal wat dors het, kom na die waters".32 Net so sê hy: "Ek sal my Gees giet op die dorstige en strome oor die droë land".33 Daarmee strook Christus se uitspraak wat ek 'n rukkie tevore aangehaal het.34 Hy sê: "As iemand dors het, laat hy na My toekom."35 Tog word Hy soms vanweë sy krag om te reinig en te suiwer ook so genoem, byvoorbeeld in Esegiël waar die Here skoon water belowe om die vuilheid van sy volk af te was.36 Hy word ook olie en salwing genoem,37 omdat Hy die wat Hy met 'n stroom van sy genade oorgiet, inderdaad weer in lewenskrag herstel en koester.
Omdat Hy verder voortdurend die ondeugde van begeerte in ons verteer en verbrand, en ons harte met die liefde vir God en ywer vir godsvrug laat ontbrand,38 word Hy as gevolg van hierdie werk tereg ook vuur genoern.39
Kortom: Hy word vir ons geteken as 'n fontein40 waaruit alle hemelse rykdomme na ons toe vloei, of as die hand van God,41 waardeur Hy sy mag uitoefen omdat Hy deur die aanblasing van sy krag op so 'n wyse 'n goddelike lewe in ons inblaas dat ons nie meer deur onsself aangedryf word nie maar deur sy werking en beweging geregeer word, sodat, as daar nog iets goeds in ons is, dit die vrug van sy genade is en ons eie gawes sonder Hom duisternis van ons verstand en verwrongenheid van ons hart is.42 Ons het trouens alreeds duidelik uiteengesit dat Christus in 'n sekere sin niks doen nie totdat ons gemoedere op sy Gees gerig is, want ons sien Hom buite ons dof en daarom ver van ons af.43 Ons weet egter dat Hy slegs die mense bevoordeel wie se Hoof Hy is44 en vir wie Hy die Eersgeborene onder sy broers is45- kortom, die wat hulle met Hom beklee het.46 Hierdie band alleen verseker dat, so ver dit ons aangaan, Hy nie nutteloos as Saligmaker gekom het nie. Daardie heilige huwelik47 waardeur ons vlees van sy vlees en beendere van sy beendere48 en daarom een met Hom word,49 het dieselfde strekking. Hy word egter slegs deur die Gees een met ons. Deur die genade en krag van dieselfde Gees word ons sy ledemate, sodat Hy ons onder Hom insluit en ons op ons beurt Hom besit.
4. Geloof is die belangrikste werk van die Gees.←⤒🔗
Geloof is inderdaad die belangrikste werk van die Gees. Daarom word 'n groot deel van die verwysings wat oral in die Skrif voorkom om die Gees se krag en werking uit te druk, na die geloof teruggevoer. Die Gees lei ons trouens net deur die geloof na die lig van die evangelie.50 Johannes die Doper leer byvoorbeeld dat die voorreg aan die wat in Christus glo, gegee is om kinders van God te wees; dié wat nie uit vlees en bloed nie maar uit God gebore is.51 Hy stel God teenoor vlees en bloed en verklaar dat dit 'n bonatuurlike gawe is, omdat mense wat andersins aan hulle ongeloof uitgelewer sou bly, Christus deur die geloof aanneem. Christus se bekende antwoord strook hiermee. Hy sê: "Vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie maar my Vader wat in die hemel is".52 Ek roer dit nou maar bondig aan, omdat ek dit alreeds elders breedvoerig behandel het.53 Paulus se verklaring is op 'n haar na dieselfde. Hy sê dat die Efesiërs deur die Heilige Gees van die belofte verseël is.54 Hy toon tewens aan dat die Heilige Gees 'n inwendige Leermeester is deur wie se werk die belofte van saligheid tot binne-in ons verstand indring, terwyl dit andersins slegs maar teen die lug of teen ons ore sou vasslaan.55 Net so wanneer hy sê dat die Tessalonisensers in die heiligmaking van die Gees en in die geloof van die waarheid deur God uitverkies is.56 In hierdie samehang wys hy ons bondig daarop dat geloof self nie 'n ander oorsprong as die Gees het nie.
Johannes maak dit nog duideliker: "Uit die Gees wat Hy aan ons gegee het, weet ons dat Hy in ons bly".57 Net so sê hy. "Hieruit weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons omdat Hy van sy Gees aan ons gegee het".58 Christus het derhalwe aan sy dissipels 'n Gees van waarheid belowe wat die wêreld nie kon ontvang om hulle vir die hemelse wysheid ontvanklik te maak nie.59
Hy het dit ook as 'n besondere amp aan die Gees gegee om al die woorde wat Hy met sy eie mond geleer het, te voorsien. Die lig sou trouens tevergeefs aan blindes verskyn het as die Gees van die verstand60 nie die oë van hulle verstand61 oopgemaak het nie. Gevolglik kan 'n mens Hom met reg 'n sleutel noem waardeur die skatte van die koninkryk van die hemel en skerpsinnigheid van ons verstand vir ons ontsluit word om sy verligting te sien.62 Daarom swaai Paulus die bediening van die Gees soveel lof toe,63 want leraars sou mense sonder vordering geroep het as Christus, wat self die innerlike Leermeester is, nie die wat deur die Vader aan Hom gegee is, met sy Gees na Hom toe getrek het nie.64 Soos ons dus gesê het, kan volmaakte saligheid in die Persoon van Christus gevind word. Om ons dus in Hom te laat deel doop Hy ons net so in die Heilige Gees en in vuur,65 terwyl Hy ons verlig om in sy evangelie te glo en ons weergebore laat word, sodat ons nuwe skepsels66 kan wees. Hy reinig ons van al ons wêreldse vuilheid en wy ons as heilige tempels aan God.67