Omdat die hele mensdom in Adam verlore gegaan het, is ‘n Middelaar nodig om hul met God te versoen. Reeds in die ou Verbond is belowe dat die Messias gebore sal word. Slegs deur Christus, wat die beeld is van die onsienlike God, kan ons God tot ons saligheid leer ken.

1984. 9 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 2 Hoofstuk 6 Die verlore mens moet sy verlossing in Christus soek

1. Die in sonde vervalle mens het 'n Middelaar nodig om hom met God te versoen.🔗

Aangesien die hele mensdom in die persoon van Adam verlore gegaan het, sou die voortreflikheid en adel van ons oorsprong waarvan ons melding gemaak het,1 geen voordeel vir ons ingehou het nie. Dit sou ons eerder tot groter skande strek, omdat God die mens wat deur sonde besmet en bedorwe is, nie as sy eie werk erken nie, totdat Hy as Verlosser in die Persoon van sy eniggebore Seun verskyn. Ons het dus van die lewe in die dood verval. Dan sou al die kennis van God, die Skepper, waaroor ons reeds gepraat het,2 nutteloos gewees het as dit nie was dat die geloofwat God die Vader in Christus vir ons aanbied, vir ons beskikbaar was nie. Dit was wel sy ware beskikking dat die gebou van die wêreld3 vir ons 'n skool sou wees waarin ons godsvrug kan leer, en dat ons van daar af 'n oorgang na die ewige lewe en volmaakte geluksaligheid sou verkry. Maar waarheen ons ook al na die val ons oë wend, na bo of na onder - orals doem God se vloek voor ons op. Terwyl dit onskuldige skepsels deur ons toedoen oorrompel en verstrik het, moet dit ons siele noodwendig in wanhoop verswelg. Want hoewel God sy vaderlike guns jeens ons nog op baie wyses wil toon, kan ons tog nie uit 'n aanskouing van die wêreld aflei dat Hy ons Vader is nie,4 wanneer ons gewete ons binneste aankla en bewys dat daar vir Hom in die sonde gegronde rede is om ons te verwerp en ons nie as sy kinders te reken of te beskou nie. Hierby kom ons onverstandigheid en ondankbaarheid. Met ons verstand kan ons immers nie sien wat die waarheid is nie verblind soos ons is! En bedorwe soos wat ons sinne is, beroof ons God kwaadwillig van die heerlikheid wat Hom toekom.

Ons moet derhalwe by Paulus se verklaring kom: "Aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking dié wat glo, te red".5 Hy noem hierdie wonderbare skouburg van hemel en aarde die wysheid van God. Dié skouburg is propvol ontelbare wonders waaruit ons God moes leer ken deur dit met wysheid te aanskou.6 Omdat ons vordering daarin egter so sleg was, roep Hy ons op tot die geloof in Christus. Asgevolg van die skyn van dwaasheid het die ongelowige egter 'n afkeer daarin. Hoewel die prediking van die kruis dus nie aan die mens se vernuf beantwoord nie, moet ons dit tog ootmoedig aanvaar as ons begeer om na God, ons Skepper en ons Maker, van wie ons vervreemd is, terug te keer, sodat Hy weer vir ons 'n Vader kan begin wees. In elk geval het geen kennis van God na die val van die eerste mens sonder die Middelaar krag gehad om die mens se saligheid te verkry nie. Christus praat immers nie net van sy eie tyd nie, maar Hy vat daarin alle eeue en tye saam wanneer Hy sê dat dit die ewige lewe is om die een God en waaragtige Vader te ken en jesus Christus, wat Hy gestuur het.7

Daarom is die onverstandigheid van die mense wat die hemel sonder die genade van Christus vir al die onheiliges en ongelowiges oopstel,8 des te skandeliker omdat die Skrif oral leer dat Hy die enigste deur is waardeur ons tot ons saligheid kan toetree.9 As iemand die uitspraak van Christus tot die bekendmaking van die evangelie sou wou beperk, is die voor die hand liggende weerlegging daarvan dat dit op alle tye en volkere betrekking gehad het; dat dié wat van Hom vervreem is,10 en van wie verklaar word dat hulle vervloek en kinders van die toorn is,11 God nie sonder versoening kan behaag nie. Hierby kom ook nog Christus se antwoord aan die Samaritaanse vrou, naamlik: "Julle aanbid wat julle nie ken nie, maar óns aanbid wat ons ken, want die saligheid is uit die Jode".12 Met hierdie woorde verdoem Hyal die godsdienste van die heidene op grond van valsheid, en Hy voer as rede daarvoor aan dat die Verlosser onder die wet slegs aan sy uitverkore volk belowe is. Daaruit volg dat God nooit 'n welgevalle gehad het in enige diens wat nie op Christus gerig was nie. Daarom bevestig Paulus ook dat al die heidene sonder God was en dat hulle van die hoop op die ewige lewe verstoke was.13

Aangesien  Johannes leer dat die lewe van die begin af in Christus was14 en dat die hele wêreld daarvan afgewyk het,15 Is dit nodig dat ons na daardie bron terugkeer. Daarom verklaar Christus dat Hy die lewe is in soverre as wat Hy ook ons Versoener is.16 Die erfdeel van die hemele kom in elk geval net die kinders van God toe.17 Om te reken dat die mense wat nie in die liggaam van die eniggebore Seun ingelyf is nie, ook die plek en rang van sy kinders het, is glad nie aanvaarbaar nie.Johannes getuig ook duidelik dat dié wat in sy Naam glo, kinders van God word.18 Maar omdat ek nie die voorneme het om nou al uitdruklik van die geloof in Christus te praat nie;19 sal dit voldoende wees dat ek die onderwerp net terloops aangeroer het.

2. Selfs in die ou Verbond het God Sy volk sonder 'n Middelaar nie op sy genade laat hoop nie.🔗

En soos God Hom nooit gunstig betoon het teenoor sy volk van ouds nie, het Hy eweneens nooit by hulle die hoop op genade sonder die Middelaar gewek nie. Ek laat die offers van die wet agterweë. Die gelowiges is openlik en duidelik daardeur geleer dat hulle hulle saligheid nie elders moet soek nie as net in die versoening wat alleen deur Christus volbring is. Ek sê slegs dat die gelukkige en salige staat van die kerk altyd in die Persoon van Christus gegrond was. Hoewel God die hele nageslag van Abraham in sy verbond ingesluit het,20 redeneer Paulus tog verstandig wanneer hy sê dat Christus eintlik die saad is waarin al die volke geseën sal wees,21 want ons weet dat nie almal wat na die vlees uit Hom gebore is, onder sy saad gereken is nie.22 Want - om  Ismael en ander nou maar te verswyg -, hoe het dit dan gebeur dat van die twee seuns van Isak, naamlik die tweelingbroers Esau en Jakob, die een uitverkies en die ander een verwerp is toe hulle nog in die moederskoot was?23 Ja, hoe het dit gebeur dat die eersgebore seun verwerp is en die jongere alleen die posisie beklee het? Hoe het dit  gebeur dat die grootste deel weggewys is? Dit is dus duidelik dat Abraham se saad in die besonder onder een hoof gereken word. Dit is ook duidelik dat die beloofde saligheid nie tot stand kom voordat ons tot Christus kom nie, omdat dit sy amp is om die volk wat verstrooi was, te versameI. Die eerste aanneming van die uitverkore volk het dus van die genade van die Middelaar afgehang. En hoewel dit nie by Moses in soveel woorde uitgedruk word nie, is dit duidelik genoeg dat dit nogtans oor die algemeen aan al die godvrugtiges bekend was. Want voordat 'n koning onder die volk aangewys is, het Hanna, Samuel se moeder, in haar lofsang oor die geluksaligheid van die godvrugtiges melding gemaak en soos volg gepraat: "God sal sterkte gee aan sy koning en die horing van sy Gesalfde verhef".24 Met hierdie woorde gee sy te kenne dat God sy kerk sal seën. Die godspraak wat 'n rukkie later volg, stem daarmee ooreen: "Die priester wat Ek sal instel, sal voor my Gesalfde wandel.''25 Daar kan inderdaad geen twyfel daaroor wees dat die hemelse Vader in Dawid en sy nageslag 'n lewende beeld van sy Gesalfde wou laat sien nie. Wanneer Hy daarom die godvrugtiges wil vermaan om God te vrees, gebied Hy hulle om sy Seun te kus.26 Hierdie uitspraak van die evangelie stem trouens daarmee ooreen: "Wie die Seun nie eer nie, eer ook nie die Vader nie".27

Hoewel die koningskap as gevolg van die afval van die tien stamme in duie gestort het, moes die verbond wat God gesluit het, nogtans in Dawid en sy opvolgers bly bestaan, soos Hy ook deur die profete gespreek het: "Ek sal nie die hele koningskap afskeur nie ter wille van my kneg, Dawid, en ter wille van Jerusalem, wat Ek verkies het, maar vir jou Seun sal een stam oorbly."28 Dieselfde woorde word twee of drie keer herhaal. Daar staan ook uitdruklik geskrywe: "Ek sal die saad van Dawid verneder maar nie vir altyd nie".29 'n Klein rukkie later word daar gesê: "Ter wille van Dawid, sy kneg, het God 'n lamp in Jerusalem gegee om vir hom 'n seun te verwek en Ierusalem veilig te hou".30 Wanneer die sake van die ryk reeds op ondergang afstuur, word daar weer eens gesê: "Maar God wou Juda nie verstrooi nie ter wille van sy kneg Dawid omdat Hy gesê het dat Hyaan hom en aan sy seuns vir altyd 'n lamp sou gee".Marg. 31 Dit kom kortliks hierop neer: al die ander is verbygegaan en Dawid alleen is uitverkies, omdat God se welbehae in hom gevestig sou wees. So word daar elders gesê: "Hy het die tabernakel in Silo en die tent van Josef verwerp en die stam van Efraim nie uitverkies nie, maar Hy het die stam van Juda uitverkies, die berg Sion, wat Hy liefgehad het. Hy het sy kneg, Dawid, uitverkies om Jakob, sy volk, op te pas en Israel, sy erfdeel".32

Kortom: dit was die wil van God om sy kerk so te bewaar dat die veiligheid en heil daarvan van Hom as Hoof afhanklik sou wees. Daarom roep Dawid uit: "Die Here is die sterkte van sy volk, die krag van die verlossing van sy Gesalfde."33 Weldra voeg hy ook die gebed by. "Bewaar u volk en seën u erfdeel".34 Daarmee gee hy te kenne dat die welstand van die kerk met 'n onverdeelbare band aan die heerskappy van Christus verbonde is. Met dieselfde betekenis sê Hy elders: "O Here, red ons! Mag die Koning ons verhoor op die dag waarop ons Hom aanroep''35 Met hierdie woorde leer Hy ons duidelik dat gelowiges met geen ander vertroue hulle toevlug tot die hulp van God geneem het nie as omdat hulle onder die Koning se beskerming kon skuil. Ons kan dit ook uit 'n  ander psalm aflei: "Here, red ons; geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here".36 Daaruit blyk duidelik genoeg dat die gelowiges na Christus teruggeroep word sodat hulle kan hoop dat hulle deur die hand van God salig kan word. 'n Ander gebed het dieselfde strekking. Daar bid hy vir die hele kerk om die barmhartigheid van God: "Laat u hand wees oor die man van u regterhand, oor die menseseun. wat U self bewaar het".37 Hoewel die Psalmdigter ween oor die verstrooiing van die hele volk, bid hy tog dat dit in die enigste Hoof daarvan herstel mag word. Wanneer die volk egter in ballingskap weggevoer, hulle land verwoes en alles skynbaar verlore is, treurJeremia oor die teenspoed van die kerk, en hy kla in die besonder daaroor dat die gelowiges se hoop van' hulle weggeneem is omdat die ryk ondergegaan het.38 Hy sê: "Die asem van ons neus, die Gesalfde, is in ons sondes gevang. In u skadu sal ons onder die nasies lewe".39

Hieruit blyk dit duidelik genoeg dat, omdat God die mensdom nie sonder die Middelaar kan begenadig nie, Christus altyd onder die wet aan die heilige aartsvaders voorgehou is om hulle geloof op Hom te rig.

3. Die Vaandel van Vertroue en Hoop in die Ou Verbond berus op die beloftes dat die Messias gebore sal word.🔗

Wanneer daar verder in teenspoed vertroosting belowe word, en in die besonder wanneer die verlossing van die kerk beskrywe word, word die vaandel van vertroue en hoop juis in Christus voorgestel. Habakuk sê: "God het saam met sy Gesalfde uitgetrek tot heil van sy volk".40 En elke keer wanneer daar in die profete van die herstel van die kerk melding gemaak word, herinner hulle die volk aan wat in verband met die ewigheid van die koninkryk aan Dawid belowe is.41 Geen wonder nie, want die verbond sou andersins geen bestendigheid gehad het nie. Jesaja se treffende antwoord het dieselfde strekking. Want toe hy gesien het dat sy getuienis in verband met die verbreking van die beleg van Jerusalem en hulle vinnige verlossing deur die ongelowige koning Agas verwerp word, gaan hy byna kortaf oor na die Messias en sê: "Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar".42 Hoewel die koning en die volk vanweë hulle boosheid die belofte wat aan hulle gegee is, verwerp het net asof hulle hulle opsetlik daarop toegelê het om die geloof in God te laat wankel, gee hy nogtans bedektelik te kenne dat die verbond nie tot niet sou gaan nie maar dat die Verlosser op sy eie tyd sou kom. Kortom: al die profete sorg daarvoor dat hulle altyd die koninkryk van Dawid in die midde stel om aan te toon dat God versoen kan word. Hulle verlossing en ewige saligheid was tewens van die huis van Dawid afhanklik. So sê Jesaja: "Ek sal my verbond met julle oprig, my betroubare barmhartighede; kyk, Ek het Hom as 'n getuie vir al die volke gegee".43 In hulle verlore toestand sou gelowiges immers geen hoop kon koester dat God lankmoedig sal wees nie, tensy Hy as getuie tussenbeide kom. Om die wanhopiges op te hef praat Jeremia in dieselfde trant: "Kyk, daar kom dae waarin ek 'n regverdige saad vir Dawid sal verwek. Dan sal Juda verlos word en Israel veilig woon". 44 So sê ook Esegiël: "Ek sal een herder oor my skape verwek, naamlik my kneg Dawid. En Ek, die Here, sal vir hulle 'n God wees, en my kneg Dawid sal hulle herder wees. En Ek sal 'n verbond van vrede met hulle sluit".45 Nadat hy elders van die ongelooflike herstel gepraat het, sê hy: "My kneg Dawid sal hulle koning wees en hulle sal almal een herder hê en Ek sal 'n ewige verbond met hulle sluit".46

Uit vele getuienisse haal ek maar enkele voorbeelde aan, omdat ek wil hê dat my lesers gewaarsku moet wees dat die hoop van al die godvrugtiges nooit elders as in Christus geleë was nie. Al die ander profete stem ook daarin ooreen, soos wanneer daar in Hosea gesê word: "Die kinders van juda en die kinders van Israel sal saam vergader en 'hulle sal een hoof oor hulle aanstel".47 Dit verduidelik hy later nog uitvoeriger: "Die kinders van Israel sal hulle bekeer en die Here hulle God soek en Dawid hulle koning".48 Ook Miga druk dit duidelik uit wanneer hy oor die terugkeer van die volk praat: "Hulle koning sal voor hulle uit gaan en die Here aan hulle hoof".49 Wanneer Amos die herstel van die volk wil belowe, sê hy. "Op dié dag sal Ek die tent van Dawid wat geval het, weer oprig, en Ek sal sy skeure toebou en sy puinhope herstel".50 Dit was naamlik die enigste vaandel van hulle heil dat die koninklike heerlikheid in die huis van Dawid weer omhoog rys soos dit in Christus volbring is. So roep Sagaria des te duideliker uit namate sy tyd nader gekom het aan die openbaring van Christus: "Verheug jou, O dogter van Sion! juig, O dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou, regverdig en behoue".51 Daarmee stem die aanhaling uit die Psalm wat ons tevore gebruik het, ook ooreen: "Die Here is die sterkte van die verlossing van sy Gesalfde; red ons, O Here".52 Hierin word die saligheid van die Hoof af oor die hele liggaam uitgebrei.

4. Ons kan God nie tot ons saligheid leer ken nie, tensy Hy in Christus, wat die beeld van die onsienlike God is, aan ons verskyn.🔗

Dit was God se wil dat die Jode met hierdie profesieë so deurdrenk moes word om hulle oë lynreg na Christus te wend ter wille daarvan dat hulle om hulle verlossing kan vra. En hoewel hulle skandelik ontaard het, kon die algemene herinnering aan die volgende beginsel nie uitgewis word nie, naamlik dat God deur die hand van sy Gesalfde die kerk sou verlos soos Hy aan Dawid belowe het, en dat die genadeverbond waarvolgens God sy uitverkorenes aangeneem het, eers dan op hierdie wyse bestendig sou word. Die gevolg hiervan was dat die loflied uit die mond van die jongelinge weerklink het toe Christus 'n rukkie voor sy dood Jerusalem binnegegaan het: "Hosanna vir die Seun van Dawid".53 Want dit is duidelik dat hulle loflied algemeen bekend, gevierd en uit die algemene gebruik geput was, naamlik dat die enigste borg vir die barmhartighede van God in die koms van die Verlosser geleë was. Daarom gebied Christus self sy dissipels om in Hom te glo om met onderskeiding en volmaaktheid in God te kan glo. Hy sê: "Julle glo in God; glo ook in My".54 Hoewel die geloof egter, om dit reg uit te druk, van Christus na die Vader opklim, gee hy nogtans te kenne dat die geloof, selfs al steun dit op God, geleidelik verdwyn as Hy nie as Middelaar tussenbeide kom om die geloof onwankelbaar en bestendig te hou nie. Andersins is God se majesteit ook te hoog vir sterflike mense om daartoe deur te dring, omdat hulle soos wurmpies op die aarde rondkruip. Daarom aanvaar ek die algemene uitdrukking dat God die voorwerp van die geloof is55 slegs op voorwaarde dat dit verbeter word. Christus word immers nie sonder rede die beeld van die onsienlike God genoem nie.56 Met hierdie beskrywing word ons egter vermaan dat ons God nie tot ons saligheid kan leer ken tensy Hy in Christus aan ons verskyn nie.57 Hoewel die skrifgeleerdes dit wat die profete in verband met die Verlosser geleer het, onder die Jode met valse verdigsels verduister het, het Christus dit uitdruklik aangeneem asof dit algemeen aanvaar is dat die geopenbaarde Middelaar die enigste hulpmiddel in verlore sake is en die enigste manier om die kerk te verlos. Dit wat Paulus leer, was weliswaar nie algemeen bekend soos dit hoort nie,  naamlik dat Christus die einde van die wet is.58 Juis uit die wet en die profete blyk dit hoe waar en seker dit is.

Ek praat nog nie van die geloof nie, omdat daar elders 'n geskikter geleentheid daarvoor sal wees.59 Dit moet egter by my lesers onwrikbaar vas wees: die eerste trap tot godvrugtigheid is om te erken dat God ons Vader is om ons te beskerm, te regeer en te koester totdat Hy ons as ewige erfgename van sy koninkryk versamel. Dit word dan duidelik wat ons so pas gesê het,60 naamlik dat die saligmakende kennis van God nie sonder Christus kan bestaan nie. Ons moet onthou dat Hy van die begin van die wêreld af aan al die uitverkorenes voorgehou is sodat hulle na Hom kon opsien en sodat hulle vertroue in Hom kon berus. In hierdie betekenis skryf Irenaeus dat die Vader, wat onmeetlik is, in die Seun voleindig is, omdat Hy Hom by ons maat aangepas het om te verhoed dat Hy ons verstand deur die onmeetlikheid van sy heerlikheid sou verswelg.61 Besete mense dink nie daaroor na nie en verdraai die voordelige uitspraak tot 'n goddelose fantasie net asof 'n deeltjie van die Godheid wat uit die volmaakte Godheid afvloei, in Christus was. Gentilis verwys na gedeeltes uit Irenaeus om sy beskouing dat die Vader die Essentiatorvan die Seun is, te ondersteun.62  Die uitspraak beteken net dat God net in Christus begryp kan word. Johannes se woorde was trouens altyd volkome waar. Hy sê. "Wie die Seun nie het nie, het ook nie die Vader nie".63 Want hoewel baie mense hulle eenmaal daarop beroem het dat hulle die allerhoogste Godheid en Maker van die hemel en die aarde eerbiedig, kon hulle tog nie die barmhartigheid van God waarlik smaak en daarvan oortuig wees dat Hy hulle Vader is nie, omdat hulle geen Middelaar gehad het nie. Omdat hulle dus nie die Hoof, dit is Christus, gehad het nie, was hulle kennis van God verganklik. Daarom het dit gebeur dat hulle uiteindelik in growwe afstootlike bygelowe verval het en hulle onkunde geopenbaar het. Die Turke is vandag 'n voorbeeld hiervan. Hoewel hulle met vol kieste verkondig dat die Skepper van die hemel en die aarde hulle God is, plaas hulle 'n afgod in die plek van die ware God terwyl hulle afkerig is van Christus.

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. Inst. 1.15.1-3,8 (Afr. vert. 1:285-292; 299-301). Calvyn vat in hierdie onderafdeling inderdaad die hoofpunte van sy vorige redenasies saam.
  2. ^ Kyk Inst. 1.
  3. ^ Mundi fabrica. Vgl. Inst. 1.10.1 (Afr. vert. 1:181, n. 1 - mundi machina).
  4. ^ Vgl. Inst. 2.6.4; 2.9.1 (Afr. vert. 2:473; 2:563).
  5. ^ Marg. 1 Cor. l.c.21. 1984 Afr. vert.: Dit was die bedoeling van God in sywysheid dat die wëreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wëreld onsin is, dié te red wat glo.
  6. ^ Vgl. Inst. 1.5.8; 1.6.2; 1.14.20 (Afr. vert. 1:139-140; 150-152; 281-282).
  7. ^ Marg. Iohan. 17.a.3.
  8. ^ Onder andere het Erasmus en Zwingli dit gedoen. Erasmus laat bekende heidene en Christene by'n eetmaal aansit waartydens een van die gaste, Nephilus, in ekstase wil uitskree. Sancte Soerates, ora pro nobis (Heilige Sokrates, bid vir ons! - Erasmus EOO 1:6830). In sy kort samevatting van die Christelike geloof (Christianae fidei breuis et clara expositie, hfst. 12) stel Zwingli weer die letterkundige meesters en helde uit die Klassieke aan die geloofshelde van die Ou Testament gelyk
  9. ^ (Joh. 10:9.)
  10. ^ (Ef. 4:18.)
  11. ^ (Gal. 3:10; Ef. 2:3.)
  12. ^ Marg. Iohan. 4.e.22.
  13. ^ Marg. Ephes. 2.C.12.
  14. ^ Marg. Johan. 1.a.4.
  15. ^ (Joh. 1:10.)
  16. ^ (Joh. 11:25; 14:6.)
  17. ^ (Matt. 5:9-10.)
  18. ^ Marg. Johan. 1.b.12.
  19. ^ Dit is die onderwerp wat in boek 3.2 behandel word.
  20. ^ (Gen. 17:4.)
  21. ^ Marg. Galat. 5.c.16 (recte: Gal. 5:14).
  22. ^ (Rom. 9:6-8; Gal. 3:16.)
  23. ^ (Rorn. 9:11.)
  24. ^ Marg. 1 Sam. 2.b.l0.
  25. ^ (1 Sam. 2:35.)
  26. ^ Marg. Psal. 2. c.12. 1984· Afr. vert.: En Hom onderdanig wees ...
  27. ^ Marg. Iohan. 5.d.23.
  28. ^ Marg. 1 Reg. 11.b.12.f34. Vgl. ook 1 Kon. 11:13, 32.
  29. ^ Marg. Ibidem g.39. 1 Kon. 11:39.
  30. ^ Marg. 1 Reg. 15.a.4.
  31. ^ 1 Reg. 11.f34 (recte: 2 Kon. 8:19).
  32. ^ Marg. Psal. 78.f60.g.67. Vgl. ook Ps. 78:70-71.
  33. ^ Marg. Psal. 28. c. 8.
  34. ^ (Ps. 28:9.)
  35. ^ Marg. Psal. 20.b.10. In sy Psalmkommentaar behandel Calvyn die tema breedvoeriger. Calvyn, Com. in Ps. 20:10 (OC 31:211-212)
  36. ^ Marg. Psal. 118.d.25.26.
  37. ^ Marg. Psal. 80. d.18. 1957 Afr. vert.: Laat u hand wees oor die man van u regterhand, oor die menseseun wat U vir Uself grootgemaak het. 1984 Afr. vert.: Hou u hand oor die mense wat deur U uitgekles is, oor die volk wat U vir U grootgemaak het. Calvyn, Com. in Ps. 80:18 (Oe 31:759).
  38. ^ (Jer. 4:20.)
  39. ^ Marg. Thre. 4.d.20. Klaagliedere 4:20.
  40. ^ Marg. Habac. 3.c.13.
  41. ^ (2 Kon. 8:19.)
  42. ^ Marg. Jesa. 7.c.14.
  43. ^ Marg. Jesa. 55.a.3.
  44. ^ Marg. Jerem. 23.a.6
  45. ^ Marg. Ezech. 34.f23. Vgl. ook Eseg. 34:25.
  46. ^ Marg. Ezec. 37.g.25.26. Vgl. ook Eseg. 37:24.
  47. ^ Marg. Oseae 1.d.ll.
  48. ^ Marg. Oseae 3.b.5.
  49. ^ Marg. Mich. 2.d.13.
  50. ^ Marg. Amos 9.c.12. Vgl. ook Amos 9:11.
  51. ^ Marg. Zach. 9. b.9. In sy kommentaar op Sagaria 9:9 (OC 44:271) dui Calvyn aan dat die woorde iustus et seruatus (regverdig en behoue) aktief in betekenis is omdat Christus nie persoonlike verlossing nodig het nie.
  52. ^ Marg. Psal. 28. c.8. Vgl. ook Ps. 28:9.
  53. ^ Marg. Matth. 21.a.9, 1984 Afr. vert.: Prys die Seun van Dawid.
  54. ^ Marg. Johan. 14.a.l
  55. ^ Vgl. Inst. 3.2.1-7.
  56. ^ Marg. Colos. 1. b.15.
  57. ^ In 'n preek oor Ef. 1:1-3 sê Calvyn dieselfde: ... et sans ce Mediateur, il est eertam que nous en sommes tous forclos, et la maiesté de Dieu nous äottfaire dresser les cheveux en la teste ... (OC 52:256). So ook in sy kommentaar op Hosea 3:5: Ostendit (sc. propbeta) enim nunc Deum a nobis quaeri non posse, nisi in mediatere Christo (Die profeet toon immers aan dat ons God nou nie sonder Christus as Middelaar kan soek nie - OC 42:264).
  58. ^ Marg. Rom. 10.a. 4. Christus word ook as die einde van die wet aangedui in Inst. 1.6.2 (Afr. vert. 1:151, n.d): 2.7.2; 2.8.7 (Afr. vert. 2:478; 506); 3.2.6.
  59. ^ Inst. 3.2.
  60. ^ Inst. 2.6.1 (Afr. vert. 2:467).
  61. ^ Inst. 2.6.1 (Afr. vert. 2:467).
  62. ^ Vgl. o.a. Fazy, Procès de Vatentin Gentilis et de Nicolas Gallo, 70. Vgl. ook die antwoord an die predikante van Genève daarop, ibid., 79-80 en verder oe 9:394 e.v
  63. ^ Marg. 1 Johan. 2.d.32 (recte: 1 Joh. 2:23).