Christus is in God se ewige raadsplan bestem om die vervalle wêreld te herstel en verlore mense te hulp te kom. Hy moes ware God en ware mens wees om sy amp as Middelaar te volbring: Immanuel, dit is: God met ons. God het uit goedertierenheid Homself in die Persoon van sy eniggebore Seun ons Verlosser gemaak en só Sy gehoorsaamheid in die plek van ons ongehoorsaamheid gestel.

Vervolgens weerlê Calvyn ‘n aantal opvattings van Osiander.

1984. 12 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 2 Hoofstuk 12 Christus moes mens word om Sy amp as Middelaar te volbring

1. Ons Middelaar moes waarlik God en waarlik mens wees.🔗

Nou was dit vir ons van groot belang dat Hy wat ons Middelaar sou wees, sowel ware God as ware mens moes wees.1 As ons vra waarom dit noodsaaklik was, is die antwoord dat dit nie, soos algemeen gesê word, 'n eenvoudige of absolute noodsaaklikheid was nie2 maar dat dit uit God se hemelse besluit kom waarvan die mens se saligheid afhanklik was. Verder het die barmhartige Vader die besluit geneem wat tot ons beswil dien.

Aangesien ons ongeregtighede ons soos 'n wolk wat tussen ons en Hom lê, volkome van die koninkryk van die hemele vervreem het,3 Kon niemand as middelaar optree om die vrede te herstel nie behalwe een wat Hom kon bereik het. Wie sou Hom dan kon bereik? Een van Adam se kinders? Hulle was tog almal saam met hulle vader verskrik by die aanskouing van God4 'n Engel dan? Maar hulle het dan 'n hoof nodig gehad deur wie hulle met God verbind kon word en ten volle en onafskeidbaar aan Hom kon hang.5

Hoe dan nou? Ons saak sou waarlik verlore gewees het as die majesteit n van God self nie na ons neergedaal het terwyl ons nie die vermoë gehad het om tot Hom op te styg nie. Die Seun van God moes dus vir ons Immanuel word, dit is God met ons,6 en dit wel deur hierdie wet om sy Goddelikheid en die mens se natuur met 'n onderlinge verbondenheid met mekaar te verenig. Andersins sou sy nabyheid nie naby genoeg en ons verwantskap nie sterk genoeg gewees het dat ons na aanleiding daarvan die verwagting sou kon koester dat God by ons woon nie. So groot was die verskil tussen ons eie vuilheid en die hoogste reinheid van God. Al sou die mens onbevlek in sy oorspronklike toestand gebly het,  was hy nogtans te gering om sonder 'n Middelaar tot God deur te dring. Hoe sou hydit dan nog kon doen nadat hy deur sy verderflike val in die dood en die hel versink het, nadat hy deur soveel smette verontreinig is en deur sy eie bedorwenheid afstootlik geword het - kortom: deur elke vorm van vervloeking begrawe is? Wanneer Paulus Christus dus as Middelaar aan ons wil voorhou, verklaar hy nie sonder rede uitdruklik dat Hy 'n mens was nie. Hy sê: "Daar is een Middelaar tussen God en die  mense, die Mens Jesus Christus".7 Hy kon gesê het "God"; of hy kon die woord "mens" soos die woord "God" in elk geval weggelaat het. Omdat die Gees egter deur sy mond praat en Hy ons swakheid geken het, het Hy 'n baie gepaste middel aangewend om ons op paslike wyse tegemoet te kom, naamlik om die Seun van God soos een van ons in ons midde bekend te stel. Sodat niemand hom dus hoef te kwel oor die plek waar hy sy Middelaar moet soek, of oor die weg waarlangs hy Hom moet bereik nie, noem Hy Hom "mens" en Hy leer ons dat Hy naby ons is, ja, selfs binne ons bereik is, want Hy is ons vlees. Hy dui in elk geval aan wat elders met baie woorde verduidelik word, naamlik dat ons nie 'n Hoëpriester het wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat soos ons deur alles versoek is met uitsondering van slegs die sonde.8

2. God het uit goedertierenheid Homself in die Persoon van Sy Eniggebore Seun ons Verlosser gemaak.9🔗

Dit sal nog duideliker word as ons daaroor nadink dat dit nie maar 'n alledaagse taak was wat ons Middelaar moes volbring nie, naamlik om ons in God se genade te herstel; om van ons as kinders van mense sy kinders te maak; om van ons as erfgename van die hel erfgename van die koninkryk van die hemele te maak. Wie kon dit doen as die Seun van God nie Seun van die mens geword het en so dit wat aan ons behoort het, aangeneem het om dit wat aan Hom behoort het, aan ons oor te dra, en dit wat van nature aan Hom behoort het, deur die genade tot ons eiendom te maak nie? Ons steun dus op hierdie pand en vertrou dat ons kinders van God is, omdat die natuurlike Seun van God vir Hom 'n liggaam uit ons liggaam, vlees uit ons vlees en been uit ons gebeente aangeneem het om dieselfde as ons te wees.10 Hy het geen beswaar gehad om dit wat ons eie was, op Hom te neem, sodat dit wat sy eie was, weer ons kon toekom nie, en dat Hy in so 'n gemeenskap met ons sou wees as Seun van God en as Seun van die mens. Hieruit spruit die heilige broederskap wat Hy met sy eie mond by ons aanprys wanneer Hy sê: "Ek vaar op na my Vader en na julle Vader, na my God en na julle God".11 Om hierdie rede is ons seker van ons erfdeel in die koninkryk van die hemele, omdat die enige Seun van God, wie se besitting dit ten volle was, ons as sy broers aangeneem het. As ons dan sy broers is, is ons ook deelgenote in sy erfdeel.12 Hierbenewens was dit besonder voordelig dat Hy ook om hierdie rede waarlik God en waarlik mens moes wees om ons Verlosser te wees.13 Hy moes die dood tot niet maak. Wie kon dit doen behalwe Hy wat die lewe is? Hy moes die sonde oorwin. Wie kon dit doen behalwe Hy wat self die geregtigheid is? Hy moes die magte van die wêreld en die lug verslaan. Wie kon dit doen behalwe 'n krag wat groter as die wêreld en die lug is? In wie se hande is die lewe, die geregtigheid, die heerskappy van die hemel en die mag anders as net in die hande van God? So het God dus in sy goedertierenheid Homself in die Persoon van sy eniggebore Seun ons Verlosser gemaak toe Hy ons wou verlos.14

3. Die Tweede hoofpunt van ons verlossing: Christus se gehoorsaamheid moes in die plek van ons eie ongehoorsaamheid gestel word.🔗

Die tweede hoofpunt van ons versoening met God was dat die mens wat homself deur sy eie ongehoorsaamheid verlore laat gaan het as teenmiddel sy gehoorsaamheid daarteenoor moes stel, aan die oordeel van God moes voldoen en die straf vir sy sonde moes betaal. Gevolglik het ons Here as ware mens verskyn, die persoon en naam van Adam aangeneem om in sy plek aan die Vader gehoorsaam te wees, om ons vlees as prys vir ons voldoening voor die regverdige oordeel van God te stel en om in  dieselfde vlees die straf wat ons verdien het, te betaal. Kortom: aangesien Hyas God alleen die dood nie kon voel nie, en as mens alleen dit nie kon oorwin nie, het Hy sy menslike natuur met sy Goddelike natuur verenig om met die swakheid van die een die dood te ondergaan om vir ons sondes versoening te doen en met die krag van die ander met die dood te worstel en vir ons die oorwinning te verkry.15

Die mense wat Christus dus van of sy Goddelikheid óf sy menslikheid beroof, verminder wel sy majesteit en sy heerlikheid, of hulle verduister sy goedertierenheid. Maar aan die ander kant doen hulle die mense self nie minder onreg aan nie, omdat hulle hulle geloof so verswak en vernietig, terwyl dit net staande kan bly as dit op hierdie fundament steun. Hierby kom nog dat die seun van Abraham en Dawid, wat God in die wet en die profete belowe het, as Verlosser verwag moes word. Daaruit pluk godvrugtige gemoedere ook die verdere vrug dat hulle deur sy geslagsregister, wat na Dawid en Abraham teruggevoer word, Hom baie gewis as die Gesalfde kan herken wat in soveel profesieë verkondig is.

Maar ons moet dit wat ek so pas verduidelik het, veral onthou, naamlik dat ons gemeenskaplike natuur die borg is van ons gemeenskap met die Seun van God; dat Hy met ons vlees beklee was en die dood en die sonde oorwin het om ons oorwinning en triomf te wees; dat Hy die vlees wat Hy van ons aangeneem het, geoffer het om vir ons versoening te doen, ons skuld uit te wis en die regverdige toorn van die Vader tot bedaring te bring.

4. Christus is van die begin af belowe om die vervalle wêreld te herstel en verlore mense te hulp te kom.🔗

Iemand wat na behore nougeset aandag aan die oorweging van hierdie dinge gee, sal maklik die leë spekulasles in die wind slaan wat ligsinnige en nuuskierige geeste meesleur. 'n Voorbeeld van hulle spekulasie is dat Christus nogtans 'n mens sou wees al sou die mens nie 'n middel nodig gehad het om hom te verlos nie.16 Ek erken wel dat Hy heel in die begin van die skepping, toe die natuur nog ongeskonde was, as Hoof oor die engele en mense gestel is. Daarom word Hy deur Paulus die Eersgeborene van die hele skepping genoem.17 Aangesien die hele Skrif egter luid uitroep dat Hy met ons vlees beklee is om Verlosser te word, is dit 'n kenmerk van uitermatige onbesonnenheid om 'n ander oorsaak of 'n ander doel hiervoor te versin. Die doel waarvoor Christus van die begin af belowe is, is bekend genoeg, naamlik om die vervalle wêreld te herstel en verlore mense te hulp te kom. Sy beeld was gevolglik onder die wet in offerandes voorgehou, sodat die gelowiges kon hoop dat God hulle goedgesind sou wees nadat Hy deur die uitwissing van hulle sondes versoen sou wees. Aangesien die Middelaar in elk geval in al die eeue, selfs toe die wet nog nie afgekondig was nie,  nooit sonder bloedvergieting belowe is nie, lei ons daaruit af dat Hy in die ewige raadsplan van God bestem was om die mens se onreinheid tereinig, want bloedvergieting is 'n teken van versoening.18 Die profete het byvoorbeeld van Hom verkondig en belowe dat Hy die Versoener van God en die mense sou wees. In plaas van al die uitsprake daaroor sal die gevierde verklaring van Jesaja in besonder genoeg wees. Hy profiteer daar dat Hy ter wille van die oortreding van sy volk deur die hand van God geslaan moes word sodat die straf vir ons vrede op Hom sou wees en dat Hy die Hoëpriester sal wees wat Homself as offerdier sou offer,19 sodat ander deur sy slae genees sou word. Omdat almal gedwaal het en verstrooi was soos skape, het dit God behaag om Hom te verbrysel om almal se ongeregtighede te dra. Wanneer ons verneem dat Christus eintlik deur God daarop aangewese was om hulp aan ellendige sondaars te bied, is dit duidelik dat elkeen wat hierdie perke oorskry, te  veel aan sy dwase nuuskierigheid toegee.

Toe Hy alreeds verskyn het, het Hy verklaar dat die rede vir sy koms was om God te versoen en ons uit die dood tot die lewe te versameI. Die apostels het dieselfde getuienis van Hom gelewer. Voordat Johannes byvoorbeeld leer dat die Woord vlees geword het, vertel hy van die mens se val.20 Maar ons moet veral na hom luister wanneer hy oor sy eie amp praat. Hy sê: "So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sou gaan nie maar die ewige lewe mag hê".21 Net so: "Daar kom 'n uur wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en die wat daaraan gehoor gee, sal lewe".22 "Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe".23 Net so: "Die Seun van die mens het gekom om te red wat verlore is".24 Net so: "Die wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie".25 As ek al die getuienis sou aanhaal, sou daar geen einde aan wees nie. Die apostels roep ons eenstemmig na hierdie bron terug. In elk geval, as Hy nie gekom het om ons met God te versoen nie, sou die eer van sy priesterskap in duie gestort het, omdat 'n priester tussen God en die mense gestel word om vir hulle te bid.26 Hy sou ook nie ons geregtigheid gewees het nie, want Hy het vir ons 'n slagoffer geword sodat God ons sondes ons nie sou toereken nie.27

Kortom: Hy sal van al die lof waarin die Skrif Hom tooi, beroof word. Ook Paulus se verklaring dat God dit wat vir die wet onmoontlik was, gedoen het deur sy eie Seun te stuur om in die gelykheid van die sondige vlees vir ons te voldoen, sal in duie stort.28 Dit wat hy elders leer, sal ook  nie stand kan hou nie, naamlik dat die goedertierenheid en onmeetlike liefde van God jeens die mense in hierdie skouspel verskyn het toe Christus as Verlosser aan ons gegee is.29

Kortom: die Skrif voer oral geen ander doel aan waarom die Seun van God ons vlees wou aanneem en ook die bevel van sy Vader ontvang het as net dat Hy 'n offer sou word om ons met die Vader te versoen nie. So is daar geskrywe en so moes Christus ly en berou in sy Naam verkondig word.30 "Daarom het die Vader My lief omdat ek my lewe ter wille van die skape neerlê; hierdie bevel het Ek van my Vader ontvang".31 "Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word".32 Elders staan daar: "Vader, red my uit hierdie uur! Maar hierom het Ek in hierdie uur gekom. Vader, verheerlik u Seun".33 Daar dui Hy duidelik op die doel van die aanneming van die vlees, naamlik om 'n offer en versoening te word om ons sondes te vernietig. Om dieselfde rede verklaar Sagaria dat Hy gekom het volgens die belofte wat aan die Vaders gegee is, om te skyn oor die wat in die skaduwee van die dood gesit het.34 Ons moet onthou dat al hierdie dinge oor die Seun van God verkondig word. Paulus getuig elders dat al die skatte van kennis en wysheid in Hom verborge is,35 en hy roem dat hy buiten Hom niks weet nie.36

5. 'n Weerlegging van Osiander se beswaar teen die opvatting dat Christus nie gebore sou word as Adam nie gesondig het nie.🔗

As iemand die beswaar sou opper dat niks hiervan verhinder dat dieselfde Christus wat die verdoemde mense verlos het, ook sy liefde kon betuig teenoor die wat reeds verlos en ongeskonde was deur hulle vlees aan te neem nie,37 is my antwoord kortliks soos volg: Aangesien die Gees verklaar dat hierdie twee aspekte, dat Christus ons Verlosser moes word en dat Hy in dieselfde natuur as ons moes deel, in die ewige  raadsplan van God so verbind is, mag ons dit nie verder ondersoek nie. Want as die begeerte om nog meer te wete te kom iemand prikkel en hy nie met die onveranderlike verordening van God tevrede is nie, toon hy dat hy ook nie tevrede is met hierdie Christus wat as losprys vir ons gegee is nie. Paulus vertel trouens nie alleen waarom Hy gestuur is nie, maar hy styg ook op tot die hoë geheimenis van die predestinasie en lê al die buitensporigheid en nuuskierigheid van die mens se verstand paslik aan bande. Hy sê: "Die Vader het ons in Christus voor die skepping van die wêreld uitverkies om ons volgens die welbehae van sy wil as sy kinders aan te neem, en Hy het ons in sy geliefde Seun aangeneem, in wie ons die verlossing deur sy bloed hef''.38 Hier word die val van Adam in elk geval nie vooraf gestel asof dit die tyd voorafgaan nie, maar hier word aangetoon wat God voor die tyd verorden het, toe Hy die ellende van die mensdom wou heel.39

As 'n teenstander hierteen die beswaar opper dat hierdie raadsplan van God van die val van die mens wat Hy voorsien het, afhanklik was, is dit vir my meer as genoeg dat al die mense met goddelose vermetelheid uitbars om 'n nuwe Christus te versin wat hulle veroorloof om meer oor Christus te vra of strewe om meer van Hom te weet as wat God in sy verborge besluit verorden het. Wanneer Paulus oor die eintlike amp van Christus praat, bid hy tereg vir die Efesiërs om 'n Gees van verstand sodat hullekon begryp wat die lengte, die hoogte, die breedte en diepte daarvan is, naamlik die liefde van Christus, wat alle kennis te bowe gaan.40 Dit is asof hy hom daarop toelê om ons verstand met 'n traliewerk te omhein, sodat dit selfs nie eens in die geringste mate van die genade van die versoening sou afwyk wanneer Christus vermeld word nie. Aangesien dit volgens Paulus se getuienis 'n betroubare woord is dat Christus gekom het om sondaars te red,41 berus ek met graagte daarby. En aangesien dieselfde apostel elders leer dat die genade wat nou deur die evangelie geopenbaar is, van ewigheid af in Christus aan ons gegee is,42 stel ek dat ons tot die einde toe standvastig daarin moet bly.

Osiander verhef sy stem ten onregte teen so 'n beheerstheid. Hy het hierdie vraagstuk, wat tevore deur 'n paar mense oppervlakkig aangeroer is, in ons tyd ongelukkig weer opgerakel.43 Hy beskuldig die mense wat sê dat die Seun van God nie in die vlees sou verskyn het as Adam nie tot 'n val gekom het nie, van ootmoedigheid, omdat hierdie verdigsel deur geen Skrifgetuienis weerlê word nie. Net asof Paulus so 'n verwronge nuuskierigheid nie beteuel wanneer hy oor die verlossing deur Christus praat en dadelik daarna beveel dat ons sulke dwase vraagstukke moet onrwyk nie!44 Terwyl sommige mense hulle aanmatig om skerpsinnig te lyk, het hulle waansinnigheid so uitgebars dat hulle kon vra of die Seun van God 'n esel se natuur kon aanneem. Hierdie gedrog, waarvan alle godvrugtiges tereg as 'n afstootlike monster terugdeins, verontskuldig Osiander onder hierdie dekmantel dat dit nêrens uitdruklik in die Skrif weerlê word nie. Net asof Paulus toegee dat 'n esel die bewerker van saligheid kan wees terwyl hy geen kennis kosbaar of waardig ag nie behalwe die gekruisigde Christus.45 Aangesien hy elders verkondig dat Christus volgens die ewige raadsplan van die Vader as Hoof verorden is om alles te versamel,46 sal hy dus geen ander Verlosser erken aan wie die amp van verlossing opgedra is nie.

6. 'n Verwerping van Osiander se opvatting in verband met die mens as beeld van God.🔗

Die beginsel waarop Osiander roem, is heeltemal waardeloos. Sy opvatting is dat die mens na die beeld van God geskep is omdat hy dan  na die voorbeeld van die toekomstige Christus gevorm sou wees, sodat die mens Hom kon uitbeeld wat die Vader reeds besluit het om met vlees te beklee. Daaruit maak hy die afleiding dat, as Adam nooit van sy eerste ongeskonde oorsprong afvallig sou geword het nie, Christus tog 'n mens sou gewees het. Almal wat gesonde oordeel het, kan verstaan hoe onsinnig en verwronge sy opvatting is. Intussen dink hy dat hy eerste gesien het wat die beeld van God nou eintlik is, naamlik dat die heerlikheid van God nie alleen in die uitnemende gawes waarmee die mens versier was, geskitter het nie maar dat God ook wesenlik in hom gewoon het.

Sover dit my aangaan: hoewel ek toegee dat Adam die beeld van God gedra het in soverre as wat hy met God verbind was - wat die ware en hoogste volmaaktheid van sy waardigheid was -, hou ek tog vol dat die gelykenis van God nie elders gesoek moet word as in die kenmerke van uitnemendheid waarmee God Adam van ander lewende wesens onderskei het nie. Almal erken eendragtig dat Christus weliswaar destyds reeds die beeld van God was en dat al die voortreflikheid wat op Adam afgestempel was, daaruit voortgekom het dat hy deur die eniggebore Seun tot die heerlikheid van sy Skepper kon nader. Die mens is dus na die beeld van God geskep,47 omdat die Skepper sy eie heerlikheid soos in 'n spieël in hom wou laat sien. Hy is deur die weldaad van die eniggebore Seun tot hierdie ereposisie verhef, maar ek voeg by dat die Seun self gemeenskaplike Hoof oor die engele en die mense was, sodat die aansien wat aan die mens gegee is, ook op die engele van toepassing was. Want wanneer ons verneem dat hulle kinders van God genome word,48 sou dit onbetaamlik wees om te ontken dat aan hulle nie iets gegee is waardeur hulle die Vader uitbeeld nie. Maar as dit sy wil was dat sy heerlikheid in engele sowel as in mense weergegee en in albei sy nature raakgesien moes word, praat Osiander onverstandig en onsinnig wanneer hy sê dat die engele toe minder as die mense geag is omdat hulle dan nog nie die gestalte van Christus sou gedra het nie. Want hulle sou dan nog nie die werklike aanskoue van God voortdurend kon geniet het nie, tensy hulle soos Hy was. Net so leer Paulus dat die mens weer nuut gemaak word na die beeld van God49 wanneer hulle met die engele verenig word sodat hulle saam onder een Hoof aan mekaar verbind kan wees.50

Kortom: As ons in Christus glo, sal dit ons hoogste geluksaligheid wees wanneer ons in die hemele opgeneem en aan die engele gelykvormig is.51 Maar as Osiander daaruit die afleiding mag maak dat die belangrikste voorbeeld van die beeld van God in Christus as mens was, sal enigiemand met dieselfde reg kan volhou dat Christus die natuur van die engele moes deel, omdat die beeld van God ook op hulle van toepassing is.

7. 'n Verdere weerlegging van Osiander se leer dat Christus na die beeld van Adam geskep is.🔗

Osiander het dus nie rede om te vrees dat God as 'n leuenaar betrap sou word as Hy nie vooraf vas en onveranderlik oor die vleeswording van die Seun besluit het nie. Want as Adam nie van sy ongeskonde toestand afvallig sou geword het nie, sou hy en die engele soos God gewees het. Tog sou dit nie daarom noodsaaklik gewees het dat die Seun van God 'n mens of 'n engel moes word nie. Hy vrees ook verniet dat Christus sy voorreg sou verloor as Hy nie volgens die onveranderlike raadsplan van God voor die skepping van die mens gebore sou word nie - nie as Verlosser nie maar as die eerste mens, want dan sou Hy bloot toevallig gebore word om naamlik die verlore mensdom te herstel. Die gevolg is dat hy daaruit aflei dat Christus dus na die beeld van Adam geskep is. Waarom sal hy skrikbevange vir die duidelike leer van die Skrif terugdeins? Volgens die Skrif is Christus in alle opsigte aan ons gelyk gemaak met uitsondering van die sonde.52 Daarom aarsel Lukas nie om Hom in sy geslagsregister as seun van Adam in te voeg nie.53 Ek sou graag wil weet waarom Christus deur Paulus die tweede Adam genoem word54 as dit nie was dat die menslike staat vir Hom bestem was om die nageslag van Adam uit hulle val op te rig nie. Want as hierdie besluit in orde aan die skepping voorafgegaan het, moet Hy die eerste Adam genome word.55

Osiander verklaar onbesorg dat die mens na Christus se voorbeeld gemaak is, omdat Hy reeds vooraf in die gedagtes van God bekend was. Wanneer Paulus Hom egter die tweede Adam noem, stel hy die val, waaruit die noodsaaklikheid spruit om die natuur in sy eertydse staat te herstel, tussen die eerste oorsprong van die mens en die herstel wat ons deur Christus verkry. Daaruit volg dat die rede waarom die Seun van God gebore moes word, dieselfde is, naamlik dat Hy mens moes word. Intussen redeneer Osiander swak en onsinnig dat Adam so lank as wat hy in sy ongeskonde staat sou bly staan het, die beeld van homself sou gehad het en nie die van Christus nie. My antwoord daarop is dat die beeld van God nie minder in liggaam en gees in Adam geskitter het nie, al sou die Seun van God nooit ons vlees aangeneem het nie. In die strale daarvan was dit altyd duidelik dat Christus waarlik die Hoof is en die oppergesag oor alle dinge het. So word Osiander se ydele skerpsinnigheid weerlê waarvolgens hy voorgee dat die engele nie 'n Hoof sou gehad het as God nie van voorneme was om sy Seun met vlees te beklee nie, selfs al sou dit sonder Adam se skuld gewees het. Want hy gryp te ondeurdag iets aan wat geen mens met gesonde verstand hom sou toegee nie, naamlik dat die oppergesag oor die engele Christus nie toekom sodat hulle Hom as hulle vors kan geniet nie, behalwe in soverre Hy mens is. Tog word uit die woorde van Paulus maklik afgelei dat, in soverre Hy die ewige Woord van God is, Christus die Eersgeborene van die hele skepping is,56 nie omdat Hy geskep sou wees of onder die skepsels gereken moet word nie maar omdat die ongeskonde staat van die wêreld soos wat dit van die begin af in die grootste skoonheid uitgemunt het, geen ander begin gehad het nie: en verder dat Hy die Eersgeborene uit  die dooies is in soverre as wat Hy mens geword het.57 Want die apostel stel albei die aspekte bondig in samehang ter oorweging teenoor mekaar, naamlik dat alle dinge deur die Seun geskep is, sodat Hy oor die engele sou heers;58 en dat Hy mens geword het om Verlosser te begin wees.59 Dit is kenmerkend van Osiander se onverstandigheid dat hy sê dat die mens Christus nie as Koning sou gehad het as Hy nie mens was nie. Net asof die koninkryk van God nie sou kon bestàan as die ewige Seun van God die oppergesag sou gehad het al sou Hy nie die vlees van 'n mens aangeneem het nie, nadat Hy mense en engele versamel het om in sy hemelse heerlikheid en sy lewe te deel nie. Maar hy dwaal en bedrieg homself altyd met hierdie valse beginsel dat die kerk dan sonder 'n Hoof sou gewees het as Christus nie in die vlees sou verskyn het nie. Net asof Hy nie, soos die engele Hom as hulle Hoof geniet het, ook met sy Goddelike mag oor mense kon heers en hulle soos syeie liggaam met die verborge krag van sy Gees kon voed en koester totdat hulle in die hemel versamel is en dieselfde lewe as die engele kon geniet nie! Al hierdie treurmares wat ek tot dusver weerlê het, beskou Osiander as onomstootlike profesieë, net asof hy deur die soetheid van sy spekulasies beskonke geword het en sy belaglike lofliedere uitgeblaas oor iets wat geen waarde het nie. Later sê hy inderdaad dat hy 'n baie vaster bewys sal aanvoer, naamlik die profesie van Adam toe hy sy vrou gesien en gesê het: "Dit is nou been van my bene en vlees van my vlees".60 Maar waaruit bewys hy dat dit 'n profesie was? Daaruit dat Christus in Mattheüs dieselfde woorde aan God toeskryf. Net asof alles wat God deur mense gespreek het, die een of ander profeste inhou. Laat Osiander maar die profesieë in elkeen van die gebooie van die wet afsonderlik ondersoek, omdat daar geen twyfel daaroor is dat dit uit God ontstaan het nie! Bowendien sou Christus grof en aards gewees het as Hy net op die letterlike betekenis sou aandring. Want Hy praat nie van die mistieke vereniging wat Hy die kerk waardig geag het nie, maar slegs van huwelikstrou. Hy leer dat God om hierdie rede verklaar het dat die man en vrou een vlees sal wees, sodat niemand sou waag om die onlosmaaklike band daarvan deur egskeiding te skend nie.61As die eenvoud hiervan Osiander nie aanstaan nie, moet hy Christus teregwys, omdat Hy sy dissipels hierdie geheimenis nie geleer het deur die woorde van sy Vader baie noukeuriger te verklaar nie. Paulus bied trouens geen ondersteuning vir sy waansin nie. Wanneer hy sê dat ons vlees is van Christus se vlees, voeg hy dadelik by dat dit 'n groot verborgenheid is.62Want hy wou nie weergee in watter betekenis Adam dit gesê het nie, maar hy wou onder die gedaante en ooreenkoms van die huwelik die heilige verbondenheid voorhou wat ons een met Christus maak. Dit is die betekenis wat sy woorde weergee want wanneer hy ons vermaan dat hy dit van Christus en sy kerk sê, onderskei hy by wyse van verbetering die geestelike verbondenheid van Christus en die kerk van die huwelikswet. So verdwyn Osiander se onsinnigheid.

Ek dink nie dat dit nodig is dat ek sy ander dergelike onsin hoef te ondersoek nie, want uit hierdie bondige weerlegging kan die ydelheid van al sy ander bewerings ook aan die kaak gestel word, Hierdie nugterheid sal wel heeltemal genoeg wees om die kinders van God ten volle te voed naamlik dat die Seun van God gestuur is, toe die volheid van die tyd gekom het, gebore uit 'n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop.63

Endnotes🔗

  1. ^ Calvyn aanvaar ten volle die kerklike tradisie insake die Christologie, wat die dogma oor die twee nature van Christus insluit, soos dit saamgevat is in die Twaalf Artikels en die geloofsbelydenis van Nicea (vgl. Mansi 2:666). Die eie aksente wat hy lê, tas nooit die fundamentele Uitsprake van die ou kerklike konsilies aan nie, bv. dlë van Chalcedon (Mansi 7:115) en dië van Athanasius (vgl. Schaff, Creeds 2:66 e.v.).
  2. ^ Vgl. Thomas, Summa Tbeol. 1.19.3 (Marietti 1:109), waar hy absolute en veronderstelde noodsaaklikheid onderskei. Kyk ook Luther, De serv. arb. (WA 18: 616-617 en n.2 op hierdie bladsye).
  3. ^ (Jes. 59:2: Ef. 2:12.)
  4. ^ (Gen. 3:8). Vgl. vir die geringheid van die mens en sy magteloosheid om God te bereik Inst. 2.6.4 (Afr. ven. 2:473); Calvyn, In Hoseam 3:5 (OC 42:264); Sermon I sur l'Epttre aux Bpbesiens (OC 51:256).
  5. ^ (Ef. 1:22; Kol 2:10). Calvyn, Responsum adfratres Polonos (OC9:338); Com. in ep Pauli adCol. 1:20 (OC 52:88·89).
  6. ^ (Jes. 7:14; Malt. 1:23.)
  7. ^ Marg. 1 Tim. 2.b.5.
  8. ^ Marg. Hebr. 4.d.15. Calvyn, Com. in ep ad. Heb. 4:15 (OC 55:53-55).
  9. ^ Vgl. Calvyn, Com. in Acta Apost. 17:17 e.v. (OC 48:404 e.v.).
  10. ^ (Vgl. Gen. 2:23; Hebr. 2:14, 17.)
  11. ^ Marg. Iohan. 20.d.17.
  12. ^ Marg. Rom. 8.c.l7.
  13. ^ Vgl. Heidelbergse Kategismus, Sondag 5, vraag 15-18 (Bakhuizen van den Brink, 154).
  14. ^ (Vgl. Rom. 5:8.)
  15. ^ Hier het ons 'n klassieke formulering van die leer van genoegdoening soos dit sedert Anselmus gangbaar word. Anselmus, Cur Deusbomo1.11, 1.19, en in besonder 2.6 (MPL158:376,389 e.v., 405 e.v.).
  16. ^ Vgl. Osiander: Anfilius Deifuerit incarnandus (1550), K2a, 2b. Calvyn weerlë Osiander se opvatting ook in Inst. 3.11.5-12. Niesel verwys ook na Servet, Christ. Rest.: De regeneratione superna I, 370, 382 (OS 3:440). Dat die vleeswording van Christus in Calvyn se tyd 'n brandende vraagstuk was, blyk daaruit dat Ambrosius Blaurer, 'n predikant van Biel (vanaf 1550 tot 1559), in 'n brief (Ep. 2770 - OC 16:723) Calvyn se advies vra oor die vraag of Christus as Seun van God gebore sou word as die eerste Adam nie gesondig het nie. Calvyn se antwoord hierop is nie bekend nie, maar in 'n ander brief van Blaurer (Ep. 2805 -OC 17:42) is dit duidelik dat hy dit wel beantwoord het. Ambrosius Blaurer of Blarer (* 1492 te Konstanz, t 1564 in Winterthur) was 'n hervormer in Switserland en Suid-Duitsland. Hy was 'n studiegenoot en vriend van Melanchthon en het veral in Konstanz gewerk. Hiervandaan het hy die Reformasie ook uitgedra na Ulm, Esslingen, Augsburg en Lindau (ML 2:1006; Baum, Christoffel e.a. (reds.) Leben und ausgewlJhlte Schriften der VlJter und Begrunder der reformirten Kircbe 9 (Suppl.): 1 e.v.
  17. ^ Marg. Coloss. 1.b.15.
  18. ^ (Hebr. 9:22.)
  19. ^ Marg. Iesa. 53.b.45 (recte: jes. 53:4, 5).
  20. ^ Marg. Ioban. 1.c.9, Ibidem 10.b.14 (recte: joh. 1:10-11, 14).
  21. ^ Marg. Ibidem. 3.b.16 Joh. 3:16.
  22. ^ Marg. Ibidem 5.d.25. Joh. 5:25.
  23. ^ Marg. Ibidem 11.c.25. Joh. 11:25.
  24. ^ Marg. Matth. 18.b.ll. 1984 Afr. vert.: "In die gebruikte grondteks kom nie 'n vers 11 voor nie".
  25. ^ Marg. Ibidem 9.b.12. Matt. 9:12.
  26. ^ Marg. Heb. 5.a.1.
  27. ^ Marg, 2 Cor. 5.d.19.
  28. ^ Marg. Rom. 8.a.3.
  29. ^ Marg. Tit. 2.c.l1.
  30. ^ Marg. Luc. 24.d.26. Vgl. Luk 24:46-47.
  31. ^ Marg.Ioban. 10.d.17. Vgl. Joh. 10:15, 18.
  32. ^ Marg. Ibidem 3.b.14. Joh. 3:14.
  33. ^ Marg. Ibidem 12.d.27.28. Joh. 12:27, 28. Vgl. ook Joh. 12:23.
  34. ^ Marg. Luc. l.g. 79.
  35. ^ Marg. colos. 2.a.3.
  36. ^ Marg. 1 Cor. 2.a.2.
  37. ^ Dit was Oslanderse redenaste. Vgl. Inst, 1.15.3 (Afr. vert. 1:289-290, n. 32); 2.12.4 (Afr. vert. 2:616, n.16).
  38. ^ Marg. Ephes. 1.a. 4.5. Vgl. ook Ef. 1:6-7.
  39. ^ Calvyn verwys hier na die ewige raad van God waarvolgens Hy na sy welbehae handel. Hy waarsku voortdurend dat ons nie nuuskierig in die raad van God kan en mag indring nie. Hy het self nie 'n dekreteleer van syeie uitgewerk nie. Die latere geskil in verband met die dekreteleer sentreer in dieorde van God se besluite; vgl. CE 3~609-610; RPTK 15:598-602).
  40. ^ Marg. Ephes. 3.c.16.17.18. Vgl. ook Ef. 3:19.
  41. ^ Marg. 1 Tim. 1.c.15.
  42. ^ Marg. 2. Tim. 1.c.9.
  43. ^ Osiander haal Alexander van Hales, Duns Scotus en Pico della Mirandola as ondersteuners vir sy standpunt aan (vgl. os 3:443, n. 2).
  44. ^ Marg. Tit. 3.c.9.
  45. ^ Marg. 1 Cor. 2.a.2.
  46. ^ Marg. Ephes. 1.d.22. Vgl. ook Ef. 1:10.
  47. ^ Marg. Gen. l.d.27.
  48. ^ Marg. Psal. 82.a.6.
  49. ^ Marg. Colos. 3. b.10. Vgl. ook Ef. 4:24.
  50. ^ (Er. 1:10; Kol. 1:20.)
  51. ^ (Matt. 22:30.)
  52. ^ Marg. Heb. 4.d.15.
  53. ^ Marg. Luc. 3.g.38.
  54. ^ Marg. 1 Cor. 15.f47.
  55. ^ Fr. (+): Car si Ie conseil de Dieu, de luy donnerforme bumaine ... (Benoit 2:240). Vgl. n. 39 hierbo.
  56. ^ Marg. colos. 1.b.15.
  57. ^ Marg. Colos. 1.c. 18.
  58. ^ Marg. Ibidem. c.l6. Kol. 1:16.
  59. ^ (Kol. 1:14.)
  60. ^ Marg. Gen. 2.d.23.
  61. ^ (Man. 19:4-6.)
  62. ^ Marg. Ephes. 5.g.30. Vgl. ook sr. 5:32.
  63. ^ Marg. Galat. 4.a.4.Vgl. ook Gal. 4:5.