God se voorsienigheid geld vir die hede, die verlede en die toekoms en moet deur ons met vrees en eerbied ondersoek word. Dit is egter geen verontskuldiging vir ons oortredinge nie, en sluit nie uit dat ons moet nadink oor en voorsiening maak vir die toekoms nie. God se wil is in Sy Woord geopenbaar en daarom moet ons in alle sake ons oë nét daarop rig. God se voorsienigheid vir die gelowiges is baie duidelik. Dit lei tot dankbaarheid in voorspoed, geduld in teenspoed en onbesorgdeid vir die toekoms.

Voorts bespreek Calvyn die betekenis van die berou van God, omdat sommige mense beweer dat nie alles volgens Sy ewige raadsplan bepaal is nie.

1984. 21 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 1 Hoofstuk 17 Die rigting en doel waarop ons hierdie leer moet rig om vir ons tot nut te wees

1. Die Voorsienigheid van God geld Hede, Verlede en Toekoms🔗

Aangesien die mens se vernuf maklik tot leë spitsvondigheid neig, kan dit voorts beswaarlik anders as dat al die mense wat hierdie leer nie eerlik en opreg gebruik nie, hulle in verwarrende probleme kan verstrik. Dit sal dus nuttig wees om hier bondig die doel aan te roer waarvoor alle dinge volgens die leer van die Skrif deur God verorden word. In die eerste plek moet ons daarop let dat daar oor die voorsienigheid van God in die toekoms sowel as in die verlede gedink moet word. In die tweede plek moet ons daarop let dat sy voorsienigheid alle dinge op so 'n wyse bestier dat dit nou deur tussenmiddele en dan weer sonder middele en dan weer teen alle middele in werk. Ten slotte moet ons daarop let dat sy voorsienigheid daartoe dien dat God kan toon dat Hy vir die hele mensdom sorg - en dat Hy dan in besonder oor die regering van die kerk waak wat Hy sy eie beskerming waardig ag.

Hierby moet ons ook voeg dat hoewel die vaderlike guns en weldadigheid van God of die strengheid van sy oordeel dikwels in die hele verloop van sy voorsienigheid uitblink, die oorsake van gebeurtenisse tog soms verborge is. Die gevolg is dat die gedagte ons oorrompel dat sake van die mens deur 'n blinde drif van die noodlot rondgetol en gedraai word of dat ons vlees ons onrustig maak om daarteen te stribbel, net asof God 'n spel met die mens speel deur hom soos 'n bal rond te gooi.1 Dit is inderdaad waar dat as ons bereid is om met rustige en bedaarde verstand daaruit te leer, dit tog uit die resultaat duidelik word dat die rede vir God se raadsplan baie goed is. Sy doel daarmee kan wees of om die wat aan Hom behoort, in lydsaamheid te onderrig of om hulle verkeerde drange reg te stel en hulle teuelloosheid aan bande te lê of om hulle tot selfverloëning aan te dryf of om hulle uit hulle verdowing wakker te skud. Aan die ander kant kan sy doel daarmee wees om hooghartiges neer te slaan, om die listigheid van goddelose mense te verbrysel en om hulle streke te vernietig. Hoewel die oorsake vir ons verborge en onbekend is, moet ons daarvan seker wees dat dit by Hom verborge is en nogtans saam met Dawid uitroep: "O God, U het groot dinge gedoen - u wonders en gedagtes oor ons laat hulle nie in volgorde vermeld nie. As ek dit wil uitspreek, is dit te veel om te vertel."2 Want hoewel ons sondes altyd in ons ellende voor ons moet opdoem sodat juis die straf daarvoor ons tot berou kan opwek, sien ons tog hoe Christus meer reg aan die verborge raadsplan van sy Vader toeken as dat Hy elkeen volgens sy verdienste sou straf. Want van die man wat blind gebore is, sê Hy. "Hy het nie gesondig nie en sy ouers ook nie, maar dit het geskied sodat die heerlikheid van God in hom geopenbaar kan word".3 Want die mens se gevoel druis hierteen in wanneer die ellende mense selfs voor hulle geboorte te beurt val - net asof God mense wat dit nie verdien nie, sonder genade so verdruk. En tog getuig Christus dat die heerlikheid van die Vader in hierdie skouspel uitblink - mits ons oë maar suiwer is. Maar ons moet ingetoënheid aan die dag lê om nie by God aan te dring om 'n rede vir sy optrede te gee nie maar om sy verborge oordele so te eerbiedig dat sy wil vir ons die mees gegronde oorsaak van alle dinge is.

Wanneer digte wolke die hemel oortrek; wanneer 'n geweldige storm opkom en 'n somber duisternis voor ons oë opdoem en donderweer ons ore tref; wanneer al ons sinne in vrees verstar, lyk dit vir ons asof alles in verwarring en beroering gebring is. Intussen bly dieselfde rus en kalmte altyd nog in die hemel. Wanneer beroeringe op die wêreld ons ons oordeel ontneem, moet ons dus vasstel dat God uit die suiwer lig van sy geregtigheid en wysheid al hierdie beroeringe volgens die bes saamgestelde orde met die oog op 'n gegronde doelstelling beheer en stuur. Ja, die waansin van baie mense is in hierdie opsig verbasend. Hulle waag om die werke van God tot rekenskap te roep, sy verborge raadsplanne te ondersoek en met groter vrypostigheid halsoorkop 'n oordeel te vel oor dinge wat vir hulle onbekend is, as oor die dade van sterflike mense. Want wat is voorbariger as om jeens ons gelykes so 'n beskeidenheid aan die dag te lê dat ons sou verkies om ons oordeel oor hulle terug te hou eerder as om vir onbesonnenheid gebrandmerk te word; maar dan onbeskaamd te spot met die verborge oordele van God, waarna ons met eerbied moet opsien?

2. Ons moet die Voorsienigheid van God met Vrese, Eerbied en Ootmoed ondersoek🔗

Niemand sal God se voorsienigheid dus na behore en tot sy voordeel  oorweeg nie behalwe as hy daaroor nadink dat hy met sy Skepper en die Maker van die aarde besig is, en as hy hom met die vrees en eerbied wat sy ootmoedigheid betaam, aan Hom onderwerp.

Die gevolg hiervan is dat so baie honde vandag hierdie leer met hulle giftige byt of ten minste met hulle geblaf aanval, omdat hulle aan God  niks meer wil toestaan as wat hulle eie rede aan hulle voorsê nie.4 Hulle vervolg ons ook met die grootste moedswilligheid moontlik, omdat ons dan nie tevrede sou wees met die gebooie van die wet waarin die wil van God vervat is nie, maar omdat ons dan ook sou beweer dat die wêreld deur sy verborge raadsplanne geregeer word - net asof ons leer 'n hersenskim is en die heilige Gees dit nie oral uitdruklik verkondig en met talryke uitdrukkingswyses herhaal nie.5 Maar omdat 'n mate van skaamte hulle nog daarvan weerhou om te waag om hulle laster teen die hemel uit te braak, verbeel hulle hulle dat hulle met ons twis, sodat hulle met groter vrymoedigheid te kere kan gaan.

Maar as hulle nie sou toegee dat alles wat op die wêreld gebeur, deur die onbegryplike raadsplan van God bestier word nie, moet hulle antwoord waarom die Skrif sê dat sy oordele 'n diep afgrond is.6 Want wanneer Moses uitroep7 dat God se wil nie ver in die wolke of in 'n afgrond gesoek moet word nie omdat dit naby8 ons in die wet uiteengesit is, volg daaruit dat daar 'n ander verborge wil van God is wat met 'n diep afgrond vergelyk word.9 Daarvan sê Paulus ook: "O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman geweess?"10

Dit is wel waar dat sy geheimenisse, wat die maat van ons verstand ver te bowe gaan, in die wet en die evangelie saamgevat word. Omdat God egter die verstand van dié wat aan Hom behoort, met die Gees van begrip verlig11 om hierdie geheimenisse te begryp wat Hy waardig geag het om deur sy Woord te openbaar, is daarin nou nie meer 'n afgrond nie maar 'n weg waarop ons veilig moet wandel, 'n lamp om ons voete te rig, 'n lig vir ons lewe en 'n skool van die sekere en duidelike waarheid.12 Maar die merkwaardige wyse waarop God die wêreld bestier, word tereg 'n afgrond genoem, omdat ons dit eerbiedig moet respekteer, terwyl dit vir ons verborge is. Moses het albei die aspekte pragtig met 'n paar woorde uitgedruk. Hy sê. "Die verborge dinge is vir ons God, maar wat hier geskrywe is, raak julle en julle kinders".13 Want ons sien dat hy hulle nie soseer gebied om ywerig te wees in die oordenking van die wet nie maar om die verborge voorsienigheid van God met eerbied te bejeën. In die boek Job word daar ook 'n loflied van hierdie hoogte weergegee om ons gedagtes te verootmoedig. Nadat die skrywer sy oë oor die uitspansel van die wêreld na bo en na onder laat gaan en groots oor die werke van God gepraat het, voeg hy ten slotte by: "Kyk, dit is die grense van sy  weë, en hoe weinig word daarin van Hom gehoor!"14 Daarom maak hy elders onderskeid tussen die wysheid wat by God is, en die perk op die wysheid wat hy aan die mens toegeskrywe het.15 Want toe hy oor die verborgenhede van die natuur gepraat het, sê hy dat die wysheid aan God alleen bekend is en dat dit die oë van almal wat lewe, ontwyk. Maar 'n rukkie later voeg hy daaraan toe dat die wysheid geopenbaar is sodat dit deurvors kan word. Want vir die mens is daar gesê: "Kyk, die vrees van God is wysheid".16

Augustinus se verklaring het dieselfde strekking: "Omdat ons nie van alles weet wat God in die heel beste orde vir ons doen nie, handel ons slegs ter goeder wille in sekere gevalle volgens die wet, maar in ander gevalle word ons volgens die wet gedryf omdat sy voorsienigheid 'n onveranderlike wet is".17

Aangesien God dus vir die regering van die wêreld 'n reg wat aan ons onbekend is, vir Homself opeis, moet dit vir ons 'n reël van nugterheid en beskeidenheid wees om in sy oppergesag te berus sodat sy wil vir ons die enigste maatstaf vir geregtigheid en die mees gegronde oorsaak van alle dinge kan wees. Maar dan is dit nie die volstrekte wil waaroor die filosowe babbel wanneer hulle in hulle goddelose bose getwis sy geregtigheid van sy mag skei nie."18 Dit is die wil wat alle dinge bestier; dit is sy voorsienigheid waaruit slegs dit wat reg is, voortkom, hoewel sy redes daarvoor vir ons verborge is.

3. God se Voorsienigheid is egter geen verontskuldiging vir ons oortredinge nie🔗

Almal wat op so 'n beskeidenheid ingestel is, sal nie hulle stemme teen God oor die teenspoed van die verlede verhef nie, en ook sal hulle nie die skuld vir hulle oortredinge op Hom lê nie. Dit is wat Homeros se Agamemnon doen wanneer hy sê: "Ek is nie die oorsaak daarvan nie maar wel Jupiter en die noodlot".19 Ook sal hulle self nie uit wanhoop in die verderf instort asof hulle deur die noodlot daartoe gedrywe is soos die jongman in Plautus nie. Hy sê: "Die lotsbeskikking oor alles is onbestendig; die noodlot dryf die mens na willekeur; ek sal my na 'n rots begewe om daar my goed en my lewe te vernietig".20

Ook sal hulle nie na die voorbeeld van iemand anders God se Naam as 'n dekmantel vir hulle oortredinge voorhou nie. Want so sê Lykonides in 'n ander komedie: "God was die aanstigter daarvan. Ek glo dat dit die wil van die gode was. Want ek weet dat dit nie sou gebeur het as dit nie hulle wil was nie".21

Ja, hulle sal eerder uit die Skrif soek en leer wat God behaag, om onder leiding van die Gees daarna te strewe. Tegelyk sal hulle bereid wees om God te volg waarheen Hy hulle ook al roep, en inderdaad sal hulle toon dat niks nuttiger is as die kennis van hierdie leer nie. Onheiliges22 rumoer soos dwase met hulle onsinnighede, sodat hulle byna hemel en aarde omwoel, soos die spreekwoord lui.23 Hulle sê dat as die Here die tydstip van ons dood bepaal het, niemand dit kan ontvlug nie, die inspanning om daarteen voorsorg te tref is dus tevergeefs. Die een waag nie om op reis te gaan nie, omdat hy hoor dat die pad gevaarlik is, sodat hy nie miskien deur rowers om die lewe gebring word nie. 'n Ander weer ontbied dokters en sloof hom af met hulle medisyne om sy lewe te onderskraag. 'n Ander een weerhou hom van growwe kos om nie sy swak gesondheid skade aan te doen nie. En nog 'n ander vrees om in 'n bouvallige huis te woon - kortom: hulle almal dink weë uit en skep met groot geestesinspanning middele om iets waarna hulle smag, te verkry. Al hierdie middels wat aangewend word om God se wil te verander, sê hulle, is tevergeefs; of anders word lewe of dood, gesondheid en siekte, vrede en oorlog of alles wat die mens najaag of onrwyk en waarvoor hulle hulle met inspanning beywer om dit te verkry of te ontvlug, volgens hulle nie deur 'n beslissing van God bepaal nie.

Hulle kom ook tot die gevolgtrekking dat die gebede van gelowiges nie alleen verkeerd is nie maar ook oorbodig, omdat die Here daarin versoek word om voorsiening te maak vir iets wat Hy alreeds van ewigheid af verorden het. Samevattend dus doen hulle alle besluite wat oor die toekoms geneem word, in die ban net asof dit strydig is met die voorsienigheid van God, wat alreeds besluit het wat moet geskied, sonder om dié besluite daarvoor in ag te neem. Voorts reken hulle alles wat alreeds gebeur het, so aan die voorsienigheid van God toe dat hulle hulle oë sluit vir die mens aan wie hulle dit moes toeskrywe. Het 'n sluipmoordenaar 'n eerbare burger vermoor? Hy het maar net die raadsplan van God uitgevoer, sê hulie. Het iemand diefstal gepleeg of gehoereer? Dit is maar net omdat hy gedoen het wat die Here voorsien en verorden het, en hy is maar net dienskneg van God se voorsienigheid! Wag 'n seun onbesorg op die dood van sy vader sonder om geneesmiddels aan te wend? Hy kan God nie teenstaan nie, omdat Hy dit van ewigheid af so bestem het!24 So noem hulle al hulle wandade deugde, omdat hulle dan aan die verordening van God gehoorsaam sou wees!

4. Die Voorsienigheid van God sluit nie uit dat ons moet nadink oor en voorsiening moet maak vir die toekoms nie🔗

En tog versoen Salomo die oordenkinge van die mens oor die toekoms  gemaklik met die voorsienigheid van God. Want hy lag vir die dwaasheid van die mense wat iets met vermetelheid sonder God onderneem net asof hulle nie deur sy hand geregeer word nie. Elders praat hy so daaroor: "Die hart van die mens dink sy eie weg uit, maar die Here sal sy voetstappe rig".25 Daarmee gee hy te kenne dat ons hoegenaamd nie deur die ewige besluite van God aan bande gelê word om onder sy wil vir onsself voorsiening te maak en al ons sake te behartig nie. Dit is ook nie sonder 'n duidelike rede nie. Want God, wat ons lewe met grense beperk het, het terselfdertyd ook die versorging van die lewe aan ons toevertrou. Hy het ons ook toegerus met die middele en die hulpbronne om dit te bewaar. Hy het ons ook voorafvan die gevare bewus gemaak en voorsorgmiddels aan ons verskaf, sodat dit ons nie onverhoeds sou oorval nie.

Nou is dit duidelik wat ons plig is, naamlik dat ons ons lewe moet beskerm as die Here dit aan ons beskerming toevertrou het; om die hulpbronne daarvoor te gebruik as Hy dit vir ons aanbied; dat ons nie onoordeelkundig in gevare in moet storm as Hy dit vooraf vir ons aantoon nie, en dat ons nie geneesmiddels moet versrnaai as Hy dit aan ons voorsien nie. En tog, sou iemand sê, sou geen gevaar ons te beurt val as dit nie ons lot is nie - en dit kan deur geen geneesmiddels ontwyk word nie! Maar wat dan as die gevare nie jou lot is nie, omdat die Here die middele vir jou aangedui het om dit af te weer en te oorwin? Let net op hoe weinig jou redenasie met die verordening van God se beskikking ooreenstem! Jy lei af dat ons nie teen die gevaar hoef te waak nie, omdat ons dit in elk geval sonder voorsorg sou kon ontwyk omdat dit nie ons lot is nie. Maar die Here gebied jou juis daarom om vir die gevaar op jou hoede te wees omdat Hy nie wil hê dat dit vir jou onvermydelik26 moet wees nie.

Sulke dwase skenk geen oorweging aan iets wat voor hulle oë is nie, naamlik dat die vermoë om te beraadslaag en behoedsaam te wees deur die Here in die mens ingeblaas is27 om God se voorsienigheid deur die behoud van sy eie lewe te dien nie. So haal hulle hulle deur hulle eie versuim en onverskilligheid die kwaad op die hals wat Hy op hulle gelê het. Want hoe gebeur dit dat 'n versigtige man hom uit dreigende onheil red terwyl hy na homself omsien, maar dat 'n dwaas as gevolg van ondeurdagte onoordeelkundigheid ten gronde gaan, behalwe as dwaasheid en verstandigheid in beide gevalle instrumente van God se beskikking is? Dit was daarom God se wil om alles van die toekoms vir ons te verberg, sodat ons dit as 'n onsekerheid tegemoet kan gaan en nie sou ophou om die beskikbare middels daarteen te gebruik nie totdat dit oorwin is of totdat dit al ons voorsorg oorwin het.28

Daarom het ek tevore gewaarsku dat die voorsienigheid van God nie altyd oop en bloot op ons pad kom nie, maar op die een of ander wyse klee God dit in namate Hy sy middels daarvoor aanwend.29

5. Die Wil van God is in Sy Woord geopenbaar; in die verrigting van ons sake moet ons daarom ons oë net daarop rig🔗

Dieselfde mense trek verkeerdelik en ondeurdag die gebeure van die verlede deur na die blote voorsienigheid van God. Omdat alles wat gebeur, van sy voorsienigheid afhanklik is, sê hulle: "Geen diefstal, owerspel of moord word dus gepleeg sonder dat God se wil daarin aanwesig is nie. Waarom sal 'n dief dan gestraf word wanneer hy iemand beroof het vir wie die Here met armoede wou beproef? Waarom sal 'n moordenaar gestraf word wanneer hy iemand om die lewe gebring het wie se lewe die Here in elk geval beëindig het? As sulke mense die wil van God dien, waarom moet hulle dan nog gestraf word?''30

Maar ek verklaar dat hulle nie die wil van God dien nie. Want ons sal nie sê dat iemand wat deur kwaadwilligheid aangedryf word, op God se bevel aan Hom diensbaar is nie, aangesien hy slegs maar aan sy eie bose begeerte gehoorsaam is. Net iemand wat in verband met sy wil onderwys is, gehoorsaam God, en hy strewe in die rigting waarheen hy deur God se wil geroep word.

Maar waaruit kan ons in sy wil geleer word anders as net uit sy Woord? Daarom moet ons in die verrigting van ons sake ons oë rig op die wil van God wat Hy in sy Woord openbaar. God stel slegs die een eis aan ons, naamlik dit wat Hy ons gebied. As ons iets in stryd met sy gebod bedryf, is dit nie gehoorsaamheid nie maar hardkoppige oortreding.

Maar, sou iemand sê, ons sou dit nie gedoen het as dit nie sy wil was nie. Ja, dit erken ek. Maar doen ons kwaad om Hom gehoorsaam te wees? Maar Hy gebied ons tog nooit om kwaad te doen nie. Ja, ons storm eerder in die kwaad in sonder om aan sy wil te dink, maar as gevolg van die teuelloosheid van ons luste gaan ons so te kere dat ons Hom met voorbedagte rade teen gaan. En deur kwaad te doen dien ons so sy regverdige verordening, omdat Hy na die onmeetlike grootheid van sy wysheid weet hoe om slegte instrumente goed en na behore te gebruik. Kyk net hoe dwaas hulle redenasie is. Hulle wil hê dat oortredings vir die bedrywers daarvan ongestraf moet wees, omdat hulle die oortredings dan slegs volgens die beskikking van God sou gepleeg het! Sover dit my aangaan, gee ek nog meer toe, naamlik dat diewe, moordenaars en ander boosdoeners ook instrumente van God se voorsienigheid is waarvan die Here gebruik maak om sy beskikking ten uitvoer te bring. Maar ek ontken dat hulle bose dade daarom verskoon moet word. Waarom dan so? Sal hulle God dan saam met hulle in hulle boosheid verstrengel of hulle boosheid met sy geregtigheid bedek? Hulle is nie tot een van die twee in staat nie! Hulle word deur hulle eie gewete aangekla, sodat hulle hulle nie kan verontskuldig nie. Hulle stel die kwaad in hulleself aan die kaak, sodat hulle God kan aankla, maar by Hom vind hulle niks anders as die wettige aanwending van hulle boosheid nie.

Maar, sê iemand, Hy werk tog deur hulle. Nou is my vraag: Waarvandaan kom die stank in 'n lyk wat deur die hitte van die son verrot en ontbind is? Almal kan sien dat die stank deur die strale van die son verwek word. Tog sê niemand dat die strale daarom stink nie! Aangesien die stof en skuld vir sy boosheid in 'n slegte mens aanwesig is, wat is dan die rede waarom hulle meen dat God enigsins besmet word as Hy na sy goeddunke van die mens se diens gebruik maak? Weg dus met so 'n hondse voortvarendheid wat wel van ver af oor die geregtigheid van God kan staan en blaf maar dit nie kan aanraak nie.

6. Duidelike Beloftes getuig dat die besondere Voorsienigheid van God oor die Heil van gelowiges waak🔗

Maar vrome en heilige oordenking van sy voorsienigheid sal gemaklik die laster of eerder die waansin van hierdie kranksinniges die nek inslaan. Die reël van godsaligheid skrywe so 'n oordenking aan ons voor, sodat die heel beste en aangenaamste vrugte daaruit vir ons kan voortkom. Aangesien die hart van 'n Christen dus vas oortuig is daarvan  dat alle dinge volgens die beskikking van God gebeur en dat niks toevallig plaasvind nie, moet hy sy oë altyd op Hom as die belangrikste oorsaak van gebeurtenisse rig. Tog sal 'n Christen op die regte plek ook sy oë op die onbelangriker oorsake daarvan vestig. Voorts sal hy nie daaroor twyfel nie dat die besondere voorsienigheid van God vir sy behoud waak, sodat dit nie sal toelaat dat iets met hom kan gebeur wat nie op sy voordeel en heil gerig is nie. En omdat Hy Hom in die eerste plek met die mens, en daarna ook met die ander skepsele bemoei, sal hy glo dat die voorsienigheid van God oor albei regeer. Sover dit die mens aangaan - of hulle nou ook al goed of sleg is - sal hy erken dat hulle planne, hulle begeertes, pogings en vermoëns in God se hand is, sodat dit in sy goeddunke geleë is om dit te draai waarheen Hy wil, en hulle aan bande te lê so dikwels as wat Hy wil.

Daar is verskeie baie duidelike beloftes wat getuig dat die besondere voorsienigheid van God oor die heil van gelowiges waak. "Werp jou sorge op die Here, en Hy sal jou onderhou. Hy sal die regverdige nooit laat wankel nie",31 "Want Hy sorg vir ons",32 "Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vertoef in die beskerming van die God van die hemel?"33 "Wie julle aanraak, raak my oogappel aan,''34 "Ek sal jou skild wees,''35 "Ek sal vir jou 'n muur van koper wees,"36 "Ek sal dié bestry wat jou bestry,''37 Ja, die belangrikste doel in die Bybelse geskiedenis is nie vergeet nie".38 Ja, die belangrikste doel in die Bybelse geskiedenis is om ons te leer dat die weë van die heiliges met so 'n groot sorgvuldigheid deur die Here bewaak word dat hulle hulle voete selfs nie teen 'n klip stamp nie.39

Soos ons met reg 'n rukkie tevore die opvatting verwerp het van die mense wat die versinsel skep dat die voorsienigheid van God algemeen is, sodat die voorsienigheid hom nie verneder om in besonder vir elke afsonderlik te sorg nie, is dit tog uiters belangrik om hierdie besondere sorg jeens ons te erken. Toe Christus dus verklaar het dat selfs nie eens die nietigste mossie sonder die wil van die Vader op die aarde sal val nie, het Hy dadelik daaraan toegevoeg dat ons daaraan gedagtig moet wees dat, aangesien ons meer werd is as mossies, God met groter sorg na ons omsien. Hy brei sy sorg oor ons so ver uit dat ons kan vertrou dat selfs die hare op ons kop getel is.40

Wat kan ons nog meer begeer as selfs nie een enkele haar van ons kop af kan val as dit nie die wil van God is nie? Nou praat ek slegs van die mensdom, maar omdat God die kerk as woonplek vir Hom uitgekies het, kan daar geen twyfel daaroor bestaan dat Hy sy vaderlike sorg in die regering daarvan met besondere bewyse aandui nie.

7. God se Algemene Voorsienigbeid bring ons tot Dankbaarheid in Voorspoed, Lydsaambeid in teenspoed en onbesorgdheid oor die toekoms🔗

Wanneer 'n dienskneg van God deur hierdie beloftes en voorbeeld versterk is, sal hy die getuienis byvoeg wat leer dat alle mense onder God se mag is - of hulle gemoedere nou ook al gekalmeer en of hulle boosheid aan bande gelê moet word sodat hulle geen skade veroorsaak nie. Want dit is die Here wat ons genade skenk - nie alleen by dié wat ons goedgesind is nie, maar ook in die oë van die Egiptenare.41 Dit is ook Hy wat weet hoe om die boosheid van ons vyande op 'n verskeidenheid wyses te verbreek. Want soms neem Hy hulle verstand van hulle weg sodat hulle niks gesond of verstandig kan begryp nie - soos Hy die Satan wegstuur om die monde van al die profete met leuentaal te vul om Agab te bedrieg.42 Deur die raad van jongmanne verdwaas Hy Jeróbeam sodat hy deur sy eie dwaasheid van die koninkryk beroof word.43 Soms wanneer Hy hulle hulle verstand laat behou, maak Hy hulle so verskrik en benoud dat hulle dit wat hulle hulle voorgeneem het, nie wil of durf uitvoer nie. Soms wanneer Hy hulle toelaat om die oorreding van hulle begeertes en waansin aan te durf, breek Hy hulle voortvarendheid op die regte tyd af, en Hy laat hulle nie toe om met hulle voorneme tot op die einde daarvan te vorder nie. So het Hy die raad van Agitofel voor die tyd tot niet gemaak, omdat dit tot Dawid se verderf sou lei.44 So is Hy ook besorg daaroor om alle skepsele tot voordeel en heil van die wat aan Hom behoort, te beheer. Hy het ook daarvoor gesorg dat die duiwel, soos ons sien, niks sonder sy toestemming en bevel teen Job kon vermag nie.45 Op hierdie kennis volg daar noodwendig dankbaarheid van gees in voorspoed, lydsaamheid in teenspoed en ongelooflike onbesorgdheid oor die toekoms. Daarom sal hy alle voorspoed wat volgens sy hartewens verloop, aan God toeskrywe, of hy God se milddadigheid nou ook al  deur bemiddeling van sy medemens ervaar het en of hy daarin deur  siellose skepsels gehelp is. Want hy sal in sy hart soos volg daaroor nadink: "Waarlik, dit is die Here wat hulle gemoedere tot my geneig het; dit is Hy wat hulle aan my verbind het sodat hulle instrumente van sy goedertierendheid jeens my kon wees". Wanneer sy oeste oorvloedig is, sal hy dink dat dit die Here is wat die hemel verhoor sodat die hemel die aarde kan verhoor en sodat die aarde sy vrugte kan verhoor.46  Andersins sal hy nie daaroor twyfel dat dit slegs die seën van die Here is waardeur alles voorspoedig verloop nie. Wanneer hy deur soveel sake daarop gewys is, sal hy nie ondankbaar kan wees nie.

8. God se Voorsienigheid is in Teenspoed vir ons 'n Vertroosting🔗

As teenspoed hom oorval, sal hy ook hier sy gemoed dadelik tot die Here ophef, omdat sy hand kragtig is om lydsaamheid en 'n onverstoorbare gemoedsrus op ons af te stempel. As josef in die herkenning van sy broers se verraad bly vassteek het, sou hy nooit 'n broederlike gesindheid teenoor hulle kon aanneem nie. Maar omdat hy sy gemoed tot die Here gewend het, het hy hulle onreg vergeet en is tot sagmoedigheid en toegeeflikheid beweeg sodat hy sy broers selfs kon vertroos en kon sê: "Dit is nie julle wat my in Egipte verkoop het nie, maar ek is deur die wil van God voor julle uitgestuur om julle lewens te red".47 "Julle het wel kwaad teen my bedink, maar die Here het dit in goed verander."48

As Job hom sou verset het teen die Galdeërs wat hom geteister het, sou hy dadelik in toorn ontbrand het, maar omdat hy daarin ook die werk van die Here herken, vertroos hy homself met die volgende pragtige verklaring: "Die Here het gegee, die Here het geneern, geseënd sy die Naam van die Here".49 As Dawid op Simeï ag sou geslaan het toe hy Dawid met vervloeking en klippe aangeval het, sou hy sy manskappe tot weerwraak op hom aangehits het. Omdat hy besef het dat Simeï dit nie sonder toedoen van die Here doen nie, kalmeer hy hulle eerder. Hy sê aan hulle: "Laat hom begaan, omdat die Here hom beveel het om my te vloek".50 Elders bedwing hy sy onbeheerste smart met dieselfde teuels wanneer hy sê: "Ek was stil en stom, omdat U, o Here, dit gedoen het".51 As daar dan geen doeltreffender middel teen toorn en onverdraagsaamheid is nie, het iemand waarlik baie vordering gemaak as hy geleer het om oor die voorsienigheid van God só na te dink dat hy altyd kan onthou: "Dit was die wil van die Here; daarom moet ek dit verdra – nie alleen omdat ek sy wil nie mag weerstrewe nie, maar omdat Hy niks wil wat nie regverdig en voordelig is nie."

Kortom kom dit hierop neer: Wanneer ons onregverdig deur ons medemense skade aangedoen is, moet ons hulle boosheid buite rekening laat omdat hulle boosheid niks anders bereik as om ons smarte te verhoog en ons tot wraak op te skerp nie. Verder moet ons daaraan gedagtig wees om tot God op te klim, en ons moet leer om vas en seker aan te neem dat alles wat ons vyande uit goddeloosheid teen ons gepleeg het, deur sy regverdige beskikking toegelaat en oor ons gestuur is.

Met die oog daarop om ons daarvan te weerhou om onreg teen ons te vergeld, vermaan Paulus ons met groot wysheid dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie maar teen 'n geestelike vyand, die duiwel, sodat ons ons vir die stryd kan voorberei.52 Maar dit is ook 'n baie nuttige vermaning om al die drifte van ons toorn te laat bedaar, dat God die duiwel sowel as al die goddeloses vir die stryd bewapen en dat Hy soos 'n skeidsregter sit om ons lydsaamheid te beproef. As rampe en ellendes wat ons neerdruk, ons dan sonder toedoen van mense te beurt val, moet die leer van die wet ons te binne skiet, naamlik dat alle voorspoed uit die bron van God se seën voortvloei en dat al ons teenspoed sy vervloekinge is.53 Dan moet ons skrik vir hierdie verskriklike oordeel: "As julle julle roekeloos teen my verset, sal Ek My ook roekeloos teen julle verset."54 Deur hierdie woorde word ons traagheid bestraf wanneer ons volgens algemene vleeslike opvatting alle voor- of teenspoed as toevallig beskou en nie deur die weldade van God tot sy diens aangespoor of deur sy roede tot inkeer gedryf word nie. Dit is die rede waarom Jeremia en Amos bitterlik kla omdat die Jode gedink het dat goed sowel as kwaad geskied het sonder dat God dit beveel het.55 Die prediking van Jesaja het dieselfde strekking: "Ek is God wat die lig formeer en die duisternis skep. Ek maak die vrede en Ek skep die kwaad. Ek is God en doen al hierdie dinge".56

9. 'n Godvresende man sal in gedagte hou dat God ook van mense gebruik maak om Sy Raadsplan uit te voer🔗

En tog sal 'n godvresende man sy oë intussen nie vir die minder belangrike oorsake57 sluit nie.

Omdat hy mense van wie hy 'n weldaad ontvang het, as dienaars van die goedheid van God beskou, sal hy nie een van hulle oor die hoof sien nie - asof hulle nie sy dankbaarheid deur hulle beleefdheid verdien het nie. Maar hy sal van harte die gevoel hê dat hy 'n verpligting teenoor hulle het. Hy sal sy verpligting geredelik erken en hom na sy vermoë en omstandighede inspan om teenoor hulle dankbaar te wees. Kortom: hy sal God vir die seëninge wat hy ontvang, eerbiedig en Hom loof as die besondere Gewer daarvan. Hy sal sulke mense as dienaars van God eer, en soos dit in werklikheid is, sal hy besef dat hy deur die wil van God aan daardie mense, deur wie se hande God hom wou seën, verbind is. As hy deur sy nalatigheid of onversigtigheid skade sou ly, sal hy vir himself besluit dat dit ook plaasgevind het volgens die wil van die Here, maar hy sal dit ook homself toereken. As iemand wat hy pligshalwe moes versorg en nalatig behandel het, deur siekte te sterwe sou kom sal hy tog nie sy sonde ligter maak nie, hoewel hy weet dat die afgestorwene 'n perk bereik het waarby hy nie kon verbygaan nie. Omdat hy egter nie sy plig teenoor hom getrou nagekom het nie, sal hy sy afsterwe aanvaar asof sy nalatigheid die oorsaak daarvan was. Wanneer bedrog en voorbedagte kwaadwilligheid voorkom, wanneer 'n moord of diefstal gepleeg word, sal hy nog veel minder onder die dekmantel van die voorsienigheid van God daarvoor verskoning maak. Hy sal egter duidelik in die misdaad God se geregtigheid en die boosheid van die mens waarneem namate elk hiervan openlik daarin aan die lig kom. Maar veral in die toekoms sal hy rekening hou met onbelangriker oorsake van hierdie aard. Want hy sal dit onder die seëninge van God reken as hy nie van die bystand van sy medemens wat hyvir sy eie behoud kan aanwend, verstoke is nie. Hy sal dus nie daarvan afsien om planne te maak nie, en ook sal hy nie traag wees om die bystand in te roep van mense van wie hy sien dat hulle die middele het om hom te help nie. Maar hy sal dink dat al die voordele wat skepsele aan hom besorg, deur God in sy hand geplaas word, en hy sal hulle as wettige instrumente van God se voorsienigheid tot sy voordeel aanwend. En al sou hy nie seker wees oor die resultaat van die onderneming wat hy aanpak nie - behalwe net dat hy weet dat die Here in alles vir sy voordeel sal sorg - sal hy hom ywerig toelë op dit wat hyas voordelig beskou in soverre hy dit met sy verstand en kennis kan bereik. Tog sal hy in sy besluitneming nie deur sy eie goeddunke aangedryf word nie maar hom aan die wysheid van God oorgee en toevertrou, sodat hy onder God se leiding na sy ware doel gelei kan word. Verder sal sy vertroue nie so op uiterlike hulpmiddels steun dat hy onbesorg daarin berus as hulle wel aanwesig is nie, maar dat hy bewe asof hy in die steek gelaat is as dit nie aanwesig is nie. Want hy sal sy gemoed altyd op die voorsienigheid van God alleen vasgenael hou en nie toelaat dat die oorweging van teenwoordige dinge hom verhinder om standvastig daarna te kyk nie.

So het Joab hom tog nie aan onverskilligheid oorgegee nie, hoewel hy daarvan bewus was dat die verloop van die oorlog in die oordeel en die hand van God geleë was, maar hy het sy roeping ywerig volbring. Hy laat die beheer oor die verloop daarvan egter aan die Here oor en sê: "Ons sal sterk wees vir ons volk en vir die stede van ons God. Mag die Here dan doen wat goed is in sy oë".58 Wanneer ons van roekeloosheid en verkeerde vertroue bevry is, sal dieselfde kennis ons aandryf om God voortdurend aan te roep. Dan sal Hy ons met goeie hoop onderskraag, sodat ons nie sal aarsel om die gevare wat ons omring, onbesorg en moedig te verag nie.

10. "Al val daar duisend aan jou sy . . ."59🔗

In hierdie opsig kom die onskatbare geluk van 'n godvrugtige gemoed aan die lig. Die kwaad wat die mens se lewe beleër, is onberekenbaar en dit bedreig hom met soveel dode. Om ons nou maar tot onsself te beperk: aangesien 'n mens se liggaam 'n vergaderplek vir duisend kwale is, ja, die oorsake van sy siektes binne in hom ingeslote hou en daar vertroetel, kan die mens nie beweeg sonder om baie vorms van sy eie verderf met hom saam te sleur en 'n lewe te voer wat op die een of ander wyse met die dood verbind is nie.

Want wat sou 'n mens anders kon sê as 'n mens nie koud of warm kon kry sonder gevaar nie? Waarheen jy jou ook al wend, is alles wat jou omring, nie alleen onbetroubaar nie, maar alles is feitlik oop en bloot 'n bedreiging en lyk asof dit onmiddellike dood wil veroorsaak. Gaan aan boord van 'n skip, en jy is maar net 'n voet van die dood af. Sit op 'n perd, en jou lewe is dan in gevaar as net een van sy voete struikel. Loop deur die strate van 'n stad: soveel dakpanne as wat daar is, soveel keer is jyaan gevaar blootgestel. As jy of jou vriend 'n stuk ystergereedskap ter hand neem, is julle skade naby. Al die wilde diere wat jy sien, is toegerus om jou ondergang te bewerkstellig. Maar as jy nog sou poog om jou in 'n goed omheinde tuin af te sonder waar net skoonheid jou omring, sal ook daar soms 'n slang skuil. JOu huis wat voortdurend aan brand onderhewig is, bedreig jou bedags met armoede en snags met neerslagtigheid. Aangesien jou landerye aan hael, ryp, droogte en onweer blootgestel is, hou dit vir jou net misoeste en uiteindelike hongersnood in. Ek laat vergiftiging, hinderlae, sluipmoord en aanranding, waarvan sommige ons in ons eie huise beleër en waarvan andere ons op ons reise agtervolg, maar agterweë.

Moet 'n mens dan nie te midde van hierdie probleme die grootste ellende ervaar omdat hy in sy lewe halfdood, benoud en flou met moeite asemhaal, net asof 'n swaard voortdurend dreigend oor sy nek hang nie? Jy sal sê dat die kwaad selde voorval of in elk geval nie altyd of vir almal nie, inderdaad nêrens al die euwels tegelyk nie. Dit erken ek wel, maar aangesien ons deur die voorbeeld van ander mense daaraan herinner word dat dit ook met ons kan gebeur en dat ons lewens net so min daarvan uitgesonder moet word as hulle s'n, kan ons nie anders as om dit te vrees en daarvoor terug te deins asof dit ook met ons gaan gebeur nie. Kan 'n mens jou iets rampspoedigers as so 'n verskrikking voorstel? Daarby kom nog dat dit nie van die versmading van God vry is as beweer sou word dat Hy die mens, die edelste van sy skepsels, aan die blinde en roekelose slae van 'n noodlot blootgestel het nie.

Maar my doel is om nou slegs te praat oor die ellende wat die mens gaan ervaar as hy aan die oorheersing van die noodlot onderwerp word.

11. "Hy sal jou red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes ... "🔗

Maar wanneer die lig van die voorsienigheid van God eenmaal oor die godvresende mens gebreek het, word hy nie alleen van die uiterste angs en vrees waardeur hy tevore terneergedruk is nie, maar ook van al sy bekommernis verlig en verlos. Want al sou hy dan nog vir die noodlot terugdeins, waag hy dan om hom onbesorg aan God toe te vertrou. Ek herhaal: dit is sy troos dat hy besef dat sy hemelse Vader alle dinge so met sy mag beheer, so met sy heerskappy en sy goeddunke regeer en so met sy wysheid bestier dat niks sonder sy beskikking kan gebeur nie, en verder dat hy in sy beskerming opgeneem en aan die sorge van die engele toevertrou is en deur geen skade van water, vuur of swaard getref kan word behalwe in soverre dit God, wat dit bestier, behaag om dit te laat plaasvind nie.

Want so profeteer die Psalmis: "Want Hy sal jou red uit die net van die voëlvanger, en van die verderflike pes. Hy sal jou dek met sy vlerke, en op sy vleuels sal jy vertrou; sy waarheid sal vir jou 'n skild wees. Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, vir die pes wat in die donker wandel of vir die verderf wat in die middag verwoes nie," ens.60

Daaruit spruit ook die vertroue by die heiliges om daarop te roem: "Die Here is vir my 'n helper";61 "Ek sal nie vrees oor wat vlees my kan aandoen nie";62 "Die Here is my beskermer - wat sal ek vrees? Al word 'n laer teen my opgeslaan, al sou ek in die middel van 'n doodskaduwee wandel, sal ek nie op hou om goeie hoop te koester nie.63

Waarvandaan, vra ek jou, het hulle die vertroue dat hulle rustigheid nooit van hulle weggeneem sal word nie, anders as net omdat hulle weet dat God oral werk terwyl dit lyk asof die wêreld skynbaar rondtol, en omdat hulle vertrou dat sy werk vir hulle tot heil sal wees? As hulle saligheid dan of deur die duiwel of deur bose mense geweld aangedoen word, sou hulle noodwendig dadelik voor hulle aanslae ineen moet stort as dit nie was dat hulle versterk word deur sy voorsienigheid in herinnering te roep en daaroor na te dink nie. Hulle sal in gedagte roep dat die duiwel en sy hele leërskare goddelose mense in alle opsigte soos met 'n toom deur die hand van God beteuel word. Gevolglik kan hulle geen wandaad teen ons bedink of hulle voorneme uitvoer of selfs 'n vinger versit om dit ten uitvoer te bring nie. Hoe hulle hulle ook al daarvoor inspan, sal hulle dit nie kan doen nie, behalwe in soverre as wat Hy hulle toelaat, ja, behalwe in soverre as wat Hy hulle gebied om dit te doen. Hulle sal dan ook daaroor nadink dat hulle nie alleen deur sy boeie vasgekluister gehou word nie maar dat hulle ook deur sy torn gedwing word om aan God Behoorsaam te wees. Dit sal vir hulle oorvloedige rede wees om hulle self te vertroos. Want soos dit die Here se werk is om hulle raserny te bewapen en dit te draai of te rig op die doel wat Hom behaag, so is dit ook sy reg om 'n maat en perk te stel sodat hulle nie na hartelus en in losbandigheid uitspattig mag wees nie.

Paulus is ook deur dié oortuiging versterk. Hy verklaar iewers dat sy vertrek waarvan hy in een plek gesê het dat dit deur Satan verhinder is, deur God vir hom veroorloof is.64 As hy slegs sou gesê het dat die verhindering uit die Satan gespruit het, sou dit gelyk het asof hy te veel mag aan Satan toeken - net asof dit ook in die Satan se hande sou wees om die raadsplanne van God te verander. Maar wanneer hy vasstel dat God die Regter is van wie se toestemming alle reise afhang, toon hy tegelyk aan dat die Satan niks sonder die goedkeuring van God kan bereik nie, wat hy ook al in die skild voer. Omdat Dawid vanweë die verskeidenheid veranderinge waardeur die mens se lewe voortdurend wentel en as't ware gerol word, hom tot hierdie vesting teruggetrek het, sê hy dat sy tye in die hand van die Here is.65 Hy kon dit ook gestel het as 'lewensloop' of 'tyd' in die enkelvoud, maar met die woord tye wou hy uitdrukking gee daaraan dat al die veranderinge wat van tyd tot tyd in die mens se toestand voorkom, deur God bestier word, al sou sy toestand ook onbestendig wees. Daarom word Resin en die koning van Israel deur die profeet rokende stukke brandhout genoem, omdat hulle hulle kragte saamgesnoer het om Juda uit te wis en omdat hulle soos fakkels gelyk het wat aan die brand gesteek is om die land te verwoes en te verteer. En tog kon hulle net 'n klein bietjie rook uitasem.66 Toe Farao deur sy mag en sy krag en die menigte van sy troepemagte vir almal 'n bron van vrees was, is hy self met 'n seemonster en sy troepemagte met visse vergelyk. Daarom verkondig die Here dat Hy die leier en sy leër met sy haak sal vang en hulle sal trek waarheen Hy wil.67

Maar om nie langer op hierdie onderwerp stil te staan nie: as jy oplet, sal jy maklik opmerk dat dit die toppunt van alle ellende is om nie die voorsienigheid van God te ken nie maar dat daar die hoogste geluk in die kennis daarvan aanwesig is.

12. Sommige mense redeneer na aanleiding van die 'berou ' van God dat Hy nie die sake van die mens volgens Sy Ewige Raadsplan bepaal het nie🔗

Oor die voorsienigheid van God sou ons nou al genoeg gesê het in soverre as wat dit tot die grondige onderwys en vertroosting van gelowiges bydra. Niks kan immers ooit genoegsaam wees om aan die nuuskierigheid van ydel mense te voldoen nie, en ons moet ook nie die begeerte koester om wel daaraan te voldoen nie. Dit sou genoegsaam gewees het as dit nie was dat enkele Skrifverwysings in die weg daarvan gestaan het nie, omdat dit skynbaar strydig met ons uiteensetting hierbo suggereer dat God se raadsplan nie onwrikbaar vas bly staan nie, maar dat dit kan verander na gelang van die ordening van onbelangrike dinge. In die eerste plek word soms melding gemaak van God se berou asof Hy berou gehad het daaroor dat Hy die mens geskep het,68 dat Hy Saul tot koning verhef het,69 dat Hy berou sou hê oor die onheil wat Hy Hom voorgeneem het om sy volk aan te doen, sodra Hy agtergekom het dat hulle hulle bekeer.70 Verder verwys die mense na die herroeping van sekere van sy besluite. Deur Jona het Hy aan die inwoners van Ninevé bekend gemaak dat Ninevé na verloop van veertig dae sou vergaan. En tog is Hy weldra deur hulle berou tot 'n genadiger uitspraak beweeg.71 Deur die mond van Jesaja het Hy die dood oor Hiskia uitgespreek, maar Hy is deur sy trane en sy gebede beïnvloed om sy dood uit te stel.72

Na aanleiding hiervan redeneer baie mense dat God nie die sake van die mens volgens 'n ewige besluit bepaal het nie maar dat Hy van jaar tot jaar, van dag tot dag en van uur tot uur nou dit en dan weer dat bepaal na gelang van elkeen se verdienste of na gelang Hy dit as reg en billik beskou.73 Hulle opvatting is ook dat berou net so min in God voorkom as onkunde of dwaling of magteloosheid. Want as niemand himself willens en wetens in 'n situasie sou werp waaroor hy later noodwendig berou sou hê nie, sal ons aan God geen berou kon toeskrywe sonder om ook te sê dat Hy nie weet wat in die toekoms gaan gebeur of daaraan kan ontkom nie of dat Hy halsoorkop en ondeurdag in 'n besluit instorm waaroor Hy dadelik berou sou hê.

Maar dit verskil heeltemal van die bedoeling van die Heilige Gees. Wanneer Hy van berou melding maak, verklaar Hy dat God nie deur berou gelei word nie, omdat Hy nie 'n mens is wat berou kan hê nie.74 In dieselfde hoofstuk moet ons daarop let dat albei so aan mekaar verbind word dat 'n vergelyking tussen hulle die skynbare teenstrydigheid uitstekend versoen. Wanneer God berou het daaroor dat Hy Saul koning gemaak het, word die verandering figuurlik aan ons oorgedra. 'n Bietjie later word die volgende bygevoeg. "Die sterkte van Israel sal nie lieg of deur berou afgewend word nie, want Hy is geen mens dat Hy berou sou kry nie".75 Met hierdie woorde word sy onveranderlikheid openlik sonder beeldspraak betuig. Dit is dus seker dat die verordening van God en die beheer oor die sake van die mens ewig en bo alle berou verhewe is.

Maar ook sy teenstanders is gedwing om daarvan te getuig, sodat daar geen twyfel oor sy bestendigheid gelaat sou word nie. Want Bileam moes selfs teen sy sin in die volgende woorde uitbars: "God is nie soos 'n mens dat Hy sou lieg nie, of soos 'n mensekind dat Hy sou verander nie. Dit is onmoontlik dat Hy nie doen wat Hy gesê het of dat Hy nie sal vervul wat Hy gespreek het nie".76

13. Die Betekenis van die 'berou ' van God🔗

Wat beteken die woord berou dan? Dit naamlik wat alle ander spreekwyses beteken wat God menslikerwys vir ons beskrywe. Omdat ons swakheid nie sy hoogheid kan bereik nie, moet 'n beskrywing wat van Hom aan ons gegee word, tot ons bevatlikheid vereenvoudig word, sodat Hy deur ons begryp kan word. Voorts is die wyse van vereenvoudiging so dat God Homself so aan ons voorstel - nie soos Hy werklik is nie maar soos Hy deur ons begryp word. Hoewel Hy sonder enige gemoedsaandoening is, getuig Hy nogtans dat Hy Hom vir sondaars vertoorn. Ons moet ons dus nie verbeel dat daar die een of ander emosie in God is wanneer ons hoor dat Hy toornig is nie. Ons moet eerder dink dat hierdie spreekwyse aan ons sintuie ontleen is, omdat God dan die gelaatstrekke van 'n driftige en vertoornde mens sou hê wanneer Hy sy oordeel uitoefen. Gevolglik moet ons onder die woord berou niks anders verstaan as 'n verandering van sy werke nie. Want mense het ook die gewoonte om deur 'n verandering van hulle werke te betuig dat dit hulle nie behaag nie. Omdat elke verandering onder mense dus 'n verbetering beteken van iets wat hulle nie behaag nie, en verbetering weer uit berou voortkom, word deur die woord berou iets aangedui wat God in sy werke verander.

Intussen word sy raadsplan en sy wil nie gewysig nie en ook sy gesindheid verander nie, maar dit wat Hy van ewigheid af voorsien, goedgekeur en besluit het, voer Hy voortdurend onafgebroke uit, al sou dit in die oë van die mens na 'n plotselinge verandering lyk.

14. Oordeelsaankondiginge wat God weens bekering van die mens nie uitvoer nie, impliseer nie dat Hy Sy Raadsplan verander nie🔗

Ook wanneer die heilige geskiedenis vertel dat die inwoners van Ninevé kwytgeskeld is van die verwoesting wat alreeds oor hulle afgekondig is,77 en dat Hiskia se lewe verleng is nadat sy dood aan hom bekend gemaak is, dui dit nie aan dat God se besluite herroep is nie.78 Mense wat so daaroor voel, ly aan 'n wanvoorstelling van sulke aankondigings. Hoewel suike aankondigings doodeenvoudig 'n stelling poneer, kan uit die resultaat afgelei word dat dit nogtans 'n versweë voorwaarde insluit. Want waarom het die Here Jona na die inwoners van Ninevé gestuur om die verwoesting van hulle stad aan hulle te verkondig? Waarom het hy deur Jesaja vir Hiskia 'n aanduiding van sy dood gegee? Want Hy kon hulle en hom tog vernietig sonder 'n aankondiging van hulle onheil. Hy het dus iets anders in die oog gehad as dat hulle vooraf van hulle dood sou kennis dra en dit van ver af sou kon sien kom. Wonderbaarlik was dit nie sy wil dat hulle verlore moes gaan nie maar dat hulle hulle moes verbeter sodat hulle nie verlore gaan nie. Die feit dat Jona profeteer dat Ninevé na veertig dae sal vergaan, geskied juis sodat die stad nie moet vergaan nie. Die feit dat Hiskia sy hoop op 'n langer lewe ontneem word, geskied juis sodat hy 'n langer lewe kan verkry.

Wie kan nou nie sien dat die Here met sulke dreigemente die mense wat Hy verskrik het, tot inkeer wou opwek sodat hulle sy oordeel wat hulle deur hulle sondes verdien het, kon ontwyk nie? As dit dan wel so is, lei die aard van die dinge ons daartoe om in 'n eenvoudige aankondiging van God 'n versweë voorwaarde te hoor.

Dit kan ook met soortgelyke voorbeelde bevestig word. Wanneer die Here koning Abimeleg bestraf omdat hy Abraham se vrou tot sy eie geneem het, gebruik Hy die volgende woorde: "Kyk, jy sal sterwe vanweë die vrou wat jy geneem het; want sy is aan 'n man verbonde".79 Nadat hy egter sy onskuld bepleit het, spreek Hy soos volg: "Gee die vrou aan haar man terug; want hy is 'n profeet, en hy sal vir jou bid dat jy kan lewe. Maar as jy haar nie teruggee nie, weet dan dat jy sekerlik die dood sal sterwe, jy en alles wat joue is."80

Sien u hoe God met sy eerste uitspraak sy gemoed heftig skok om hom gretig te maak om daaraan te voldoen, en dat Hy met die tweede uitspraak sy wil duidelik te kenne gee?

Omdat daar 'n soortgelyke rede vir ander Skrifverwysings is, moet 'n mens nie daaruit aflei dat iets in die vorige besluit van God herroep is omdat Hy 'n besluit wat Hy reeds afgekondig het, tot niet gemaak het nie. Want wanneer die Here die mense wat Hy wil spaar, tot inkeer maan deur 'n straf oor hulle af te kondig, baan Hy eerder daarmee 'n weg vir sy ewige beskikking as dat Hy die geringste verandering in sy wil of selfs in sy woorde aanbring - behalwe dat Hy nie van lettergreep tot lettergreep uitdruk wat geredelik verstaanbaar is nie.

Want die profesie van Jesaja moet waaragtig bly, naamlik: "Die Here van die leërskare het so besluit, en wie sal dit kan verydel? En sy hand is uitgestrek, en wie sal dit kan afkeer?81

Endnotes🔗

  1. ^ Inst. 1.5.11; Calvyn, Commentarii in Ps. 36:6; 73:1 (OC 31:361; 674-675).
  2. ^ Ps. 40:6.
  3. ^ Joh. 9:3.
  4. ^ Calvyn verwys hier waarskynlik na die Libertyne en na Pighius. Vgl. Contre la secte phantastique et furieuse des Libertins, hfst. 14: Comment il nous conment considerer la providenee de Dieu, par laquelle il faict toutes choses . . . (OC 7:186). Oor Pighius kyk OC 8:347 e.v.
  5. ^ Quod Deus suo consilio dirigat (OC 8:353). Niesel (OS 3:204, n. 1) meen dat Calvyn hier na Castellio verwys. Dit sou die meervoud canes (honde) egter nie bevredigend verklaar nie. Dit lyk eerder of Calvyn hier na die Libertyne, Pighius en (of) die Sorbonniste - van wie hy dikwels as 'honde' praat - verwys.
  6. ^ Ps. 36:7 (35: Vg.: Iudicia tua abyssus multa...).
  7. ^ (Deut. 30:11-14).
  8. ^ Familiariter.
  9. ^ Calvyn, De aeterna Dei praedestinatione (1552): Acutus sibi Pighius videtur, quum iudicia Dei profundam abyssum fore negat . . . (OC 8:311) 347). Uit Inst. 1.18.3 is dit duidelik dat ealvyn nie 'n tweeledige wil vir God bedirik Die: "Hoewel God se wil enkel en eenvoudig is, lyk dit vir ons veelvuldig, omdat ons vanweë die swakheid van ons verstand nie kan begryp hoe Hy nie wil hë dat iets moet gebeur nie of wel wil hê dat iets moet gebeur."
  10. ^ Rom. 11:33 (11:33-34; Jes. 40:13).
  11. ^ (Job 20:3; Jes. 11:2). Vgl. Inst. 1.16.1 en 3.2.14.
  12. ^ (PS. 119:105).
  13. ^ Deut. 29:29.
  14. ^ Job 26:14.
  15. ^ Job 28(28:28).
  16. ^ (Job 28:28).
  17. ^ Marg. lib. 83. quaest. cap. 27. Augustinus, De diversis quaestionibus octoginta tribus 1:27 (MPL40:18).
  18. ^ In sy De aeterna Dei praedestinatione së Calvyn dat hy die leer van die absolute mag van God soos deur die leraars van die Sorbonne voorgestaan, verfoei, omdat dit makliker sal wees om hitte van vuur weg te neem as om die mag van God van sy geregtigheid teskei: Itaque Serbonicum illud dogma, in quo sibi plaudunt papales theologastri, detestor: quod potentiam absolutam Deo affingit. Solis enim lucem a calore auellere, imo suum ab igne calorem, facilius erit, quam Dei potentiam separare a iustitia (OC 8:361). Ook in Calvyn se preke oorJob 23:1-7 tipeer hydie leer van die absolute mag van God as 'n duiwelse laster wat in die hel versin is: Et de fait, quand ces docteurs Sorboniques disent. que Dieu a une puissance absoiuë, c 'est un blaspbeme diabolique qui a esté forgë aux enfers" ... (OC 34:339).
  19. ^ Homeros, Ilias 19.86 e.v.
  20. ^ Plautus, Bacchides 1.1.
  21. ^ Plautus, Aulularia, 737, 742.
  22. ^ Calvyn verwys hier na die Libertyne (Kyk OC 7:183-198).
  23. ^ Vergilius, Aeneïs.
  24. ^ vgl. egter hierteenoor Inst. 3.6.1-2.
  25. ^ Spr. 16:9.
  26. ^ Fatale (noodlottig).
  27. ^ Inspiratas!
  28. ^ Calvyn se uiteensetting hierbo stem feitlik woordeliks ooreen met sy uiteensetting in die 1539-uitgawe van die Institusie (p. 266) en ook woordeliks met sy verdediging teen die laster van Pighius, nl. Defensie adversus calumnias Pighii (OC 6:256).
  29. ^ Inst. 1.16.4; 1.16.7.
  30. ^ Kyk p. 321, n. 22.
  31. ^ Ps. 55:23.
  32. ^ 1 Petr. 5:9
  33. ^ Ps. 91:1.
  34. ^ Sag. 2:8.
  35. ^ (Gen. 15:1).
  36. ^ (Jer. 1:18; 15:20) .
  37. ^ (Jes, 49:25).
  38. ^ Jes. 29:15; 26:2 (49:15).
  39. ^ (Ps. 91: 12).
  40. ^ Matt. 10:29,30.
  41. ^ Ex. 3:21.
  42. ^ 1 Kon. 22:22.
  43. ^ 1 Kon. 12:10, 15.
  44. ^ 2 Sam. 17:7, 14.
  45. ^ Job 1:12.
  46. ^ (Hos. 2:20, 21).
  47. ^ Gen. 45:8 (45:5, 7).
  48. ^ (Gen. 50:20).
  49. ^ Job 1:21.
  50. ^ 2 Sam. 16:10.
  51. ^ Ps. 38:10 Vg. (Afr.: 39:10).
  52. ^ Ef. 6:12.
  53. ^ Deut. 28 (28:2).
  54. ^ Lev. 26:23 (26:24).
  55. ^ Klaagl. 3:38 (3:37); Amos 3:6.
  56. ^ Jes. 45:7
  57. ^ Inferiores causae, wat ons liefs nie, soos dikwels gebeur, met 'sekondêre of tweede oorsake' vertaal nie, net asof God nie sy raadsplan sonder die mens kan uitvoer nie.
  58. ^ 2 Sam. 10:12.
  59. ^ (PS. 91 :7).
  60. ^ Ps. 91:3-6). Calvyn se woorde stem byna letterlik ooreen met dié van die Münster-Bybel (Munsteriana, 1236).
  61. ^ Ps. 118:6.
  62. ^ Ps. 56:5 en elders
  63. ^ Ps. 27:3 (27:1).
  64. ^ 1 Thess. 2:18; 1 Kor. 16:7.
  65. ^ Ps. 31:16.
  66. ^ Jes. 7:4.
  67. ^ Eseg. 29:4 (29:3).
  68. ^ Gen. 6:6.
  69. ^ 1 Sam. 15:11.
  70. ^ Jer. 18:8.
  71. ^ Jona 3:4, 10.
  72. ^ Jes. 38:1, 5; 2 Kon. 20:1, 5 (2 Kron. 32:24).
  73. ^ Joannes Damascenus, De fide orthodoxa 2.29 (MPG 94:963); Origenes, 3.17 (MPG 11:283 e.v.), Thomas, Summa Theol. 1,1.22.
  74. ^ Sam. 15:29.
  75. ^ (1 Sam. 15:11,29).
  76. ^ Num. 23:19.
  77. ^ Jona 3:10; Jes. 35:5 (38:5).
  78. ^ (Jes. 38:9-20); Calvyn, Sermons sur Ie cantique du roi Ezekias (OC 35:525-580); Comm. in Isaiam proph. 38:5 (OC 36:651).
  79. ^ Gen. 20:3.
  80. ^ (Gen. 20:7).
  81. ^ Jes. 14:27.