Deur die geloof weet ons dat God die wêreld nie net geskape het nie, maar steeds onderhou, voed en versorg. Niks is aan die “noodlot” oorgelaat of gebeur toevallig  nie, maar alles word deur die verborge raadsplan van God van die begin af regeer. Hy is aktief en betrokke en niks kan gebeur sonder Sy wil en wete, sonder Sy toestemming of los van Sy plan nie.

God se voorsienigheid is nie net algemeen nie (natuurorde), maar ook spesifiek (gebeurtenisse).

1984. 15 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 1 Hoofstuk 16 Deur Sy krag onderhou en voed God die wêreld wat Hy geskep het, en met Sy voorsienigheid regeer Hy oor elke deel daarvan

1. Deur die Geloof weet ons dat God die Skepper van alle dinge is en dat Hy dit deur Sy voorsienigheid onderhou en versorg🔗

Om God verder net as Skepper in die skeppings oomblik voor te stel wat sy werk vir eens en vir altyd volbring het, sou 'n koue en uitgeteerde beeld wees. En hierin moet ons in besonder van die onheiliges verskil dat die teenwoordigheid van die krag van God vir ons ewe veel in die voortdurende bestaan van die wêreld as in die eerste skepping daarvan uitmunt. Want hoewel die gemoedere van die goddeloses ook gedwing word om hulle harte slegs maar deur die aanskouing van die aarde en die hemel tot die Skepper daarvan te verhef, het die geloof nogtans 'n besondere wyse waarvolgens dit die volle lof vir sy skepping aan God toeskrywe.

Die verklaring van die apostel wat ons al tevore aangehaal het, is ook hierop van toepassing, naamlik dat ons deur die geloof verstaan dat die wêreld deur die Woord van God toeberei is.1 Want as ons nie tot sy voorsienigheid oorgaan nie, kan ons nog nie na behore begryp wat dit beteken dat God die Skepper is nie, al sou dit ook lyk of ons dit met die verstand begryp en met die tong bely. Wanneer die vleeslike gevoel juis in die skepping eenmaal vir homself 'n beeld van die krag van God voorgestel het, volstaan dit daarmee, en wanneer dit nog op sy verste vorder, weeg en oorweeg dit slegs die Skepper se wysheid, sy mag en sy goedertierenheid, wat hulleself spontaan bekend stel en hulle in die voortbringing van so 'n kunswerk selfs aan onwillige mense opdring. In die onderhouding en regering daarvan oorweeg die mens se gevoel slegs 'n algemene werking waarvan die bewegingskrag afhanklik is. Kortom: die vleeslike gevoel het die opvatting dat die krag wat deur God van die begin af daaraan gegee is, genoegsaam is om alle dinge te onderhou.

Maar die geloof moet dit dieper binne dring, naamlik om sodra dit agtergekom het wie die Skepper van alles is, dadelik ook die gevolgtrekking te maak dat Hy die regeerder en onderhouer van dit alles is, en dit nie alleen deur sowel die wêrelduitspansel as elke deel daarvan afsonderlik met 'n algemene beweging aan te dryf nie maar ook deur elkeen van sy skepsele, selfs tot die kleinste mossie toe, met sy buitengewone voorsienigheid te onderhou, te voed en te versorg.

So het Dawid vooraf bondig gesê dat die wêreld deur God geskep is, en onmiddellik daarop gaan hy oor tot die ononderbroke voortgang van.sy voorsienigheid: "Deur die Woord van die Here is die hemele gevestig en deur die Gees van sy mond al hulle krag."2 Dan voeg hy by: "Die Here het neergekyk op die mensekinders,"3 en woorde van dieselfde betekenis. Want hoewel almal nog nie so verstandig redeneer nie, omdat niemand sou glo dat God vir die mensdom sou sorg tensy Hy ook die Skepper van die wêreld was nie, en niemand ernstig glo dat die wêreld deur God geskep is sonder dat hy daarvan oortuig is dat Hy ook vir sy werke sorg nie, lei Dawid ons nie sonder rede in die beste volgorde van die een tot die ander nie.

Oor die algemeen leer filosowe - en die mens se verstand begryp dit ook so - dat al die dele van die wêreld deur die verborge inspirasie4 van God gevoed word.

Maar intussen bereik hulle nie die hoogtes waarheen Dawid opgehef word en alle vromes saam met hom ophef nie wanneer hy sê: "Alles wag op U sodat U hulle voedsel aan hulle kan gee op die regte tyd. Wanneer U dit aan hulle gee, maak hulle dit bymekaar; U maak u hand oop en versadig hulle met die goeie. Sodra U u aangesig van hulle af wegdraai, word hulle verskrik; Wanneer U u Gees wegneem, sterwe hulle, en hulle keer weer tot die aarde terug. As U u gees weer uitstuur, word hulle geskep, en U maak die gelaat van die aarde weer nuut."5 Ja, hoewal hulle Paulus se opvatting onderskryf, naamlik dat ons in God lewe, beweeg en is,6 is hulle nogtans nog ver van die ernstige gevoel van genade wat Hy by hulle aanbeveel omdat hulle nog glad nie die besondere sorg van God waaruit sy vaderlike guns alleen geken word, smaak nie.

2. Alles in die Natuur dui daarop dat nie toeval of noodlot nie maar die Voorsienigheid van God hier werksaam is🔗

Om hierdie onderskeid nog duideliker te laat blyk moet ons weet dat die voorsienigheid van God soos dit in die Skrif geleer word, teenoor die noodlot en toevallige gebeure gestel word.7 Oor die algemeen het almal oor alle eeue heen die oortuiging gehad en alle sterflikes huldig ook vandag nog die opvatting dat alle dinge toevallig gebeur. Die leer in verband met die voorsienigheid waaraan ons moet hou, is nie alleen deur hierdie bedorwe opvatting benewel nie maar amper begrawe.

As iemand onder rowers verval of onder wilde diere, of as daar onverwags 'n wind opkom en hy skipbreuk ly, of as iemand se huis of 'n boom omval en hy gedood word, of as iemand in die woestyn ronddwaal en hy vind uitkoms in sy nood, of as iemand wat op die golwe rondgeslinger is, 'n hawe bereik en die dood wonderbaarlik net met 'n vingerbreedte ontduik, sal die mens se vleeslike rede alle voorspoed en teenspoed aan die noodlot toeskryf. Maar elkeen wat uit die mond van Christus geleer het dat al die hare van sy hoof getel is,8 sal verder gaan soek na 'n rede daarvoor en besluit dat alles wat gebeur, deur die verborge raadsplan van God geregeer word. Ons opvatting in verband met lewelose voorwerpe moet so wees dat hoewel daar van nature aan elkeen daarvan 'n eienskap van sy eie gegee is, hulle nie hulle eie krag  kan uitoefen nie behalwe in soverre as wat hulle deur die alomteenwoordige hand van God bestier word. Dit is dus slegs maar instrumente waardeur God soveel effek as wat Hy wil hê, bereik en na sy goeddunke na die een of die ander werk afbuig of afwend.

Geen skepsel se krag is wonderliker of voortrefliker as dié van die son nie. Want behalwe dat dit die hele wêreld met sy glans verlig, hoe 'n groot seën is dit nie dat dit alle wesens met sy hitte koester en voed en dat dit met sy strale die aarde vrugbaar maak nie? En wanneer saad in die skoot van die aarde verwarm is, ontlok die son daaruit grasgroen spruite, en met nuwe voeding ondersteun die son dit, laat dit groei en maak dit sterk totdat dit in halms uitbot. Hoe seënryk is dit nie dat die son dit met voortdurende damp voed totdat dit in 'n blom en die blom tot 'n vrug uitgroei en dit dan deur sy verwarming tot ryping gebring word nie? En net so word borne en wynstokke deur die son verwarm en bot hulle eers en bring blare voort; dan blom hulle, en uit die blom bring hulle hulle vrug voort.

Maar dit was die wil van die Here dat daar eers lig moes wees en dat die aarde vol van alle soorte struike en vrugte moes wees9 voordat Hy die  son geskep het, sodat Hy ten volle die lof daarvoor vir Homself kan opeis. 'n Vroom mens sal die son dus nie as 'n belangrike of 'n noodsaaklike oorsaak vir die dinge wat alreeds voor die skepping van die son bestaan het, beskou nie, maar slegs as 'n instrument waarvan  God gebruik maak, omdat Hy dit so wil, aangesien Hy sonder die son baie maklik daartoe in staat is om dit te doen.

Wanneer ons verder lees dat die son op die gebed van Josua twee dae lank in een graad stilgestaan het10 en dat die skadu daarvan ten behoewe van koning Hiskia tien grade teruggegaan het,11 getuig God met hierdie enkele wonders dat die son nie elke dag deur 'n blinde instink van die natuur opkom en ondergaan nie, maar dat Hy self die baan van die son bestier om ons opnuut aan sy vaderlike guns jeens ons te herinner.

Daar is niks wat natuurliker is as dat beurtelings lente op winter, somer op lente en herfs op somer volg nie. En tog kan daar in hierdie volgorde so 'n groot en so 'n ongelyke verskeidenheid bespeur word dat dit maklik blyk dat elke jaar, maand en dag deur 'n nuwe en besondere voorsienigheid van God beheer word.

3. Alles word so deur die Verborge Raadsplan van God geregeer dat niks sonder Sy Wete en Wil met die mens kan gebeur nie🔗

God eis inderdaad almag vir Homself, en Hy wil ook hê dat ons dit aan Hom moet oorlaat - maar dan nie 'n almag soos wat die sofiste12 hulle verbeel nie, naamlik een wat leeg, onbelangstellend en byna bedwelmd is nie, maar 'n wakker, doeltreffende, werksame almag wat voortdurend aktief is.13 Maar ook nie 'n almag wat maar net 'n algemene beginsel van verwarde beweging is net asof dit 'n rivier sou gebied om deur sy beddings wat eenmaal vasgestel is, te vloei nie, maar 'n almag wat op afsonderlike en bepaalde bewegings ingestel is.

Want Hy word almagtig genoem - nie omdat Hy in staat is om alles te doen maar tog intussen daarvan sou afsien en dan ledig sou wees nie, of omdat Hy die natuurordewat Hy eenmaal vasgestel het, met 'n algemene impuls voortsit nie, maar omdat Hy die hemel en die aarde met sy voorsienigheid regeer en alle dinge so bestier dat niks sonder sy raadsplan gebeur nie. Want wanneer daar in die Psalm14 gesê word dat Hy doen wat Hy wil, word daarmee 'n bepaalde en voorbedagte wil aangedui. Want dit sou dwaas wees om die woorde van die profeet soos die filosowe uit te lê, naamlik dat God die eerste handelende mag is, omdat Hy die beginsel en oorsaak van alle beweging is.15 Want in teenspoed vertroos gelowiges hulle eerder daarmee dat hulle geen lyding ondergaan nie behalwe as God dit verorden en beveel omdat hulle onder sy hand is.

Maar as God se regering so oor al sy werke uitgebrei word, is dit 'n kinderagtige drogredenasie om dit tot 'n instroming van die natuur te beperk. Die mense wat die voorsienigheid van God binne sulke eng perke indwing net asof Hy alle dinge sou toelaat om met 'n vrye loop volgens die ewige wet van die natuur te verloop, ontneem God nie alleen sy eer nie maar hulleself ook 'n baie waardevolle leer.16 Want niks sou ellendiger as die mens gewees het as hy aan elke beweging van die hemel, die lug, die aarde en water blootgestel sou wees nie. Hierbenewens sou die buitengewone goedheid van God jeens elke mens uitermatig onwaardig vereng word.

Dawid roep uit dat kinders wat nog aan die borste van hulle moeders hang, welsprekend genoeg is om die heerlikheid van God te verkondig,17 want dadelik wanneer hulle uit die moederskoot uitgegaan het, vind hulle spyse wat deur sy hemelse sorg vir hulle toeberei is. Mits dit wat die ervaring ons duidelik toon, nie ons oë en ons sintuie ontgaan nie, is dit oor die algemeen ook waar dat sekere moeders vol en oorvloedige maar ander weer feitlik droë borste het namate dit God se wil is om die een milder en die ander kariger te voed.

 Die mense wat die lof wat daaraan verskuldig is, aan die almag van God betoon, pluk dubbele vrug daaruit. God wat die hemel en die aarde besit en op wie se wenk alle skepsele hulle oë vestig om Hom te gehoorsaam, het genoeg mag om goed te doen. Tweedens kan hulle onbesorg in sy beskerming berus, omdat al die skadelike dinge wat ons van elders kan vrees, aan sy wil onderworpe is. Die Satan met al sy base geeste en sy hele toerusting word deur sy gesag soos met 'n toom in bedwang gehou. Alles wat ons saligheid teenstaan, is van sy wil afhanklik. Die onbeheerste bygelowige vrees wat ons voortdurend versin wanneer gevare op ons pad kom, kan ook op geen ander wyse reggestel of tot rus gebring word nie. Ek bedoel dat ons 'n bygelowige vrees het as ons, so dikwels as wat skepsele ons bedreig of die een of ander vrees by ons inboesem, so beangs word net asof hulle die vermoë en mag het om ons skade aan te doen of ons blindelings of toevallig te kwets - asof ons nie in God genoeg hulp teen hulle leed het nie.18

Die profeet verbied die kinders van God byvoorbeeld om sterre en hemeltekens te vrees soos ongelowiges gewoonlik doen.19 Hy verdoem stellig nie elke soort vrees nie. Maar wanneer ongelowiges die regering van die aarde van God af na die sterre oordra en hulle verbeel dat hulle geluksaligheid of hulle ellende van die beslissing en voorspelling van sterre en nie van die wil van God afhang nie, is die gevolg daarvan dat hulle vrese van die enige God, na wie hulle behoort op te sien, na sterre en komete afgetrek word.20

Iemand wat dus teen hierdie ongeloof voorsorg wil tref, moet altyd in gedagte hou dat skepsele selfs geen wisselvallige mag, werking of beweging het nie maar dat hulle so deur die verborge raadsplan van God geregeer word dat niks sonder sy medewete en sy wil met hulle kan gebeur nie.

4. Die Aard van die Algemene en Besondere Voorsienigheid van God🔗

In die eerste plek moet my lesers dus begryp dat dit nie voorsienigheid genoem word waarmee God onverskillig uit die hemel kyk wat op die aarde gebeur nie, maar dit waardeur Hy die sleutel in sy hande het en alle gebeure beheer.21 Gevolglikhet sy voorslenigheid betrekking op sy hande sowel as op sy oë. Want toe Abraham vir sy seun gesê het: "God sal voorsien",22  wou hy daarmee nie maar net te kenne gee dat God vooraf met die toekoms bekend is nie, maar hy wou ook sy kommer oor 'n onbekende saak aan God se wil onderwerp, omdat Hy gewoonlik in moeilikheid en verwarring uitkoms gee. Die gevolgtrekking daaruit is dat sy voorsienigheid in handeling geleë is. Want baie mense klets onverstandig bloot oor syvoorkennis van die toekorns.23 Tog is hulle fout nie so grof as die dwaling van mense wat regering aan God toeskrywe maar dan, soos ek gesê het, 'n verwarde en gewone regering wat die uitspansel en sy afsonderlike dele met 'n algemene dryfkrag laat wentel en aandryf maar nie die optrede van elke skepsel afsonderlik bestier nie.24 Tog moet hierdie dwaling van hulle nie geduld word nie. Want hulle leer dat hierdie voorsienigheid, wat hulle universele voorsienigheid noem, geen beletsel is daarvoor öf dat alle skepsele hulleself willekeurig kan beweeg öf dat die mens homself na die vrye oordeel van sy wil hierheen of daarheen kan wend nie. En hulle verdeel die beheer daaroor so tussen God en die mens dat God deur sy krag beweging gee waarvolgens die mens ooreenkomstig die aard van sy natuur wat aan hom gegee is, kan optree, maar dat die mens sy handelinge volgens sy willekeurige beslissing beheer. Bondig saamgevat is hulle opvatting dat die wêreld, die mense se sake en die mens self deur God se mag maar nie deur sy beskikking nie, geregeer word. Ek swyg van die Epikuriste - 'n verpesting waarvan die wêreld nog altyd tot 'oorlopens toe vol was - wat hulle verbeel dat God ledig en onaktief is.25 Ek swyg ook van ander wat niks verstandiger as hulle is nie en eenmaal die verdigsel versin het dat God so oor 'n gebied tussen hemel en aarde heers dat Hy alles wat onder hierdie gebied lê, aan die noodlot oorgelaat het.26 Juis die stomme skepsels verhef hulle stemme genoegsaam teen so 'n ooglopende waansinnigheid!

My voorneme is om nou 'n opvatting wat byna oral inslag gevind het, te weerlê. Daarvolgens word wel aan God die een of ander blinde en wisselvallige beweging toegestaan, maar dit ontneem Hom die belangrikste eienskap, naamlik dat Hy alles met sy onbegryplike wysheid bestier en vir sy eie doel orden. So stel dit God slegs in woorde maar nie in werklikheid nie as die Heerser van die wêreld voor, omdat dit sy beheer van Hom af wegneem. Want, is my vraag, wat beteken beheer tog anders as om op so 'n wyse aan die hoof van dinge te staan dat 'n mens die dinge waaroor jy hoof is, volgens 'n vasgestelde orde kan regeer? En tog verwerp ek nie volkome alles wat in verband met God se algemene voorsienigheid gesê word nie, mits hulle maar op hulle beurt aan my sou toegee dat die wêreld deur God geregeer word - nie alleen omdat Hy die orde van die natuur wat deur Hom neergelê is, bewaar nie, maar ook omdat Hy vir elkeen van sy werke 'n besondere sorg het. Dit is wel waar dat afsonderlike soorte voorwerpe deur 'n geheime impuls van die natuur in beweging gestel word net asof hulle 'n ewige gebod van God gehoorsaam, en dat iets wat God eenmaal verorden het, spontaan voortvloei.

Hier kan verwys word na Christus se woorde dat Hy en die Vader van die begin af nog altyd werk,27 asook na Paulus se onderwysing dat ons in Hom lewe, beweeg en is.28 Dit is ook wat dieskrywer van die brief aan die Hebreërs bedoel wanneer hy die Goddelikheid van Christus wil bewys en sê dat alles deur sy magtige wil onderhou word.29 Maar sommige mense verskuil en verduister onder hierdie dekmantel verkeerdelik sy besondere voorsienigheid, wat dermate deur sekere en duidelike getuienisse van die Skrif bewys word dat dit verbasend is dat enigiemand nog daaroor kon twyfel. En mense wat die dekmantel waarvan ek gepraat het, voorhou, word in elk geval gedwing om ter verbetering by te voeg dat baie dinge onder die besondere sorg van God plaasvind. Maar hulle beperk dit verkeerdelik slegs tot sy besondere handelinge. Daarom moet ons bewys dat God Hom so daarop toelê om elke afsonderlike gebeurtenis te reël en dat alle gebeure in so 'n mate uit sy bepaalde raadsplan voortspruit dat niks per toeval kan gebeur nie.

5. Ons kan die Voorsienigheid van God ook in die Natuurorde waarneem🔗

Gestel nou dat ons sou toegee dat die beginsel van beweging by God is maar dat alle dinge spontaan of per toeval in 'n rigting gevoer word waarin die neiging van die natuur hulle dryf. Dan sou die wisseling van dag en nag, van winter en van somer God se werk wees in soverre as wat Hy aan elke ding sy eie rol toeken en 'n vasgestelde wet daarvoor neergelê het, naamlik as die dag wat op die nag volg, die een maand op die ander maand en die een jaar op die ander jaar altyd gelykstemmig dieselfde reëlmaat bewaar. Maar dat onmatige hitte gepaard met droogte soms al die oeste verskroei en dat by ander geleenthede weer ontydige reën die oes bederf en dat daar onverwagte rampe as gevolg van hael en donderstorms voorval - dit sal nie God se werk wees nie, behalwe miskien omdat onweer of mooiweer of koue en hitte uit 'n botsing van sterre of uit ander natuurlike oorsake ontstaan.

En tog word daar so geen plek gelaat vir God se vaderlike guns of sy oordele nie. As hulle sou sê dat God sy milddadigheid alreeds genoegsaam aan die mensdom betoon het omdat Hy gewone mag aan die hemel en die aarde gun om vir die mens voedsel te voorsien, is dit 'n uitermatige flou en onheilige versinsel - net asof die vrugbaarheid van een jaarnie ook 'n besondere seën van God was maar die gebrek en hongersnood van 'n ander jaar weer sy vloek en wraak niet Maar omdat dit te lank sou duur om al die redes hier te versamei, moet die gesag van God self vir ons genoeg wees.

In die Wet en die Profete verklaar Hy baie dikwels dat Hy sy genade betuig wanneer Hy die aarde met dou en reën bevogtig, maar wanneer die hemel op sy bevel hard soos yster word, wanneer die oeste deur roes en ander peste verteer word en wanneer die landerye deur hael en donderstorms getref word, is dit 'n teken van sy gewisse en besondere wraak. As ons dit aanvaar, is dit seker dat daar nie 'n enkele reëndruppel sonder 'n bepaalde bevel van God val nie.

Dawid loofwel die algemene voorsienigheid van God omdat Hyvoedsel aan jong kraaie gee wanneer hulle Hom aanroep.30 Maar wanneer God diere met hongersnood dreig, dui Hy nie genoegsaam daarmee aan dat Hy alle lewende wesens nou in 'n skraler en dan weer in 'n ryker maat volgens sy welbehae voed nie? Soos ek alreeds gesê het, is dit kinderagtig om dit tot besondere handelinge te beperk, aangesien Christus sonder uitsondering verklaar dat selfs nie eens 'n waardelose mossie sonder die wil van die Vader op die aarde val nie.31 As voëlvlug dan ook volgens die vaste raadsplan van God beheer word, moet ons noodwendig saam met die profeet bely dat Hy so in die hemel woon dat Hy Homself verneder om na alles wat in die hemel en op die aarde geskied, te kyk.32

6. Die Voorsienigheid van God blyk in besonder uit die wyse waarop Hy die mens se lewe bestier🔗

Maar omdat ons weet dat die wêreld veral ter wille van die mensdom geskep is,33 moet ons ook hierdie doelstelling in die regering daarvan raaksien. Die profeet Jeremia verkondig dit luid: "Ek weet, Here, dat die weë van die mens nie sy eie is nie en dat dit nie vir 'n man beskore is om sy voetstappe te rig nie."34 Ook Salomo sê: "Die skrede van die mens is van die Here, en hoe sal die mens sy weg verstaan?"35

Laat hulle dan nou nog sê dat die mens volgens die neiging van sy natuur deur God beweeg word maar dat die mens die beweging na sy eie goeddunke stuur in watter rigting hy wil. Maar as die bewering waar sou wees, dan sou die oordeel oor sy weë ook by die mens berus het. Miskien sal hulle sê dat dit nie so is nie, omdat hy sonder die krag van God tot niks in staat is nie. Maar hiermee kom hulle nie los nie, omdat dit duidelik is dat die profeet sowel as Salomo nie alleen die mag nie, maar ook die keuse en beskikking aan God toeskrywe. Elders spot Salomo fyn met hierdie onbesonnenheid van die mens wat vir himself 'n doel voor oë stel sonder om God in ag te neem, net asof hy nie deur sy hand gelei word nie. Hy sê: "Die planne van die hart is van die mens, maar die voorbereiding van die tong is van die Here".36

Dit is belaglike dwaasheid dat die ellendige mens hom voorneem om iets sonder God te doen, terwyl hy nie eens in staat is om te praat as God dit nie wil nie! Om dit verder nog uitdrukliker te stel dat hoegenaamd niks op die wêreld sonder God se beskikking geskied nie, dui die Skrif aan dat ook alles wat skynbaar toevallig gebeur, aan God onderworpe is. Want wat sou 'n mens meer aan die toeval kon toeskrywe as wanneer 'n tak wat van 'n boom afgeskeur is, 'n reisiger wat daar verbygaan, om die lewe bring? Maar die Here praat heeltemal anders daarvan wanneer Hy verklaar dat Hy hom in die hand van sy doder oorgelewer het.37 Wie sou die lot nie net so aan die blindheid van die noodlot oorlaat nie? Maar God laat dit nie toe nie, omdat Hy die oordeel daaroor vir Homself voorbehou. Hy leer ons nie dat dit deur sy mag geskied dat geluksteentjies in ons skoot gegooi of daaruit weggeneem word nie, maar Hy getuig dat elke gebeurtenis wat aan toeval toegeskrywe kan word, uit  Hom ontstaan.38 Die volgende bekende opmerking van Salomo het dieselfde strekking: "Rykes en armes ontmoet mekaar: God verlig albei se Oë.39 Want hoewel armes en rykes saam op die wêreld is, waar aan elkeen na sy omstandighede deur God 'n plek gegun word, wys hy ons daarop dat die God wat alle mense verlig, nie blind is nie, en so maan hy arm mense tot verdraagsaamheld. Want almal wat poog om die las wat God hulle opgelê het, af te werp, is nie met hulle lot tevrede nie.

So berispe ook 'n ander profeet die onheiliges omdat hulle die feit dat sommige mense in die gemors lê en ander tot ereposisies uitstyg, aan die ywer van die mens of die lot toeskrywe.40 Want hulle verhoging ontstaan nie uit die ooste of die weste of uit die woestyn nie, omdat God die Regter is. Hy verneder die een en verhoog die ander. Omdat God nie sy amp as Regter kan laat vaar nie, redeneer hy dat Hy volgens sy verborge raadsplan sommige mense verhoog maar ander verlaag.

7. Die Skrif getuig dat God ook die Natuur in Sy besondere Voorsienigheid gebruik🔗

Ja, ek verklaar selfs dat bepaalde gebeurtenisse oor die algemeen getuienis bied van God se besondere voorsienigheid. In die woestyn het God 'n suidewind laat waai om vir sy volk 'n oorvloed voëls te bring.41 Toe Hy Jona in die see wou laat gooi, het Hy 'n wind uitgestuur om 'n storm te laat opkom.42 Mense wat dink dat God nie aan die stuur van die wêreld staan nie, sal sê dat dit 'n buitengewone gebeurtenis was. En tog lei ek daaruit af dat geen wind ooit opkom of gaan lê sonder dat God dit in bes onder beveel nie. Anders sou dit ook nie waar wees dat Hy van die winde sy boodskappers, van vuurvlamme sy diensknegte en van wolke sy rytuie maak en dat Hyop die vleuels van die wind ry nie, behalwe as Hy die wolke en winde na sy goeddunke ronddrywe en die besondere aanwesigheid van sy mag daarin sou aantoon.43

So word ons elders geleer dat wanneer die gewaai van die winde die see onstuimig maak, die geweld daarvan van die besondere teenwoordigheid van God getuig.44 Hy gebied en verwek die geblaas van 'n storm, en Hy hef die golwe van die see omhoog. Daarop laat Hy 'n storm in stilte tot bedaring kom, sodat die golwe vir skeepvaarders gaan lê. So verkondig Hy elders dat Hy sy volk met brandende winde gegésel het.45 Hoewel die vermoë om voort te plant van nature aan die mens gegee is, wil God tog hê dat ons dit as deel van sy besondere genade moet beskou dat Hy sommige mense kinderloos laat maar ander 'n nageslag waardig ag. Want die vrug van die buik is ook 'n gawe van God. Daarom het Jakob vir sy vrou gesê. "Is ek in God se plek dat ek vir jou kinders sou gee?'' 46 Om vir eens en vir altyd 'n einde daaraan te maak: daar is niks in die natuur wat alledaagser is as die feit dat ons met brood gevoed word nie. En tog verklaar die Gees dat nie alleen die voortbrengsels van die aarde 'n besondere gawe van God is nie, maar ook dat die mens nie van brood al leen lewe nie, want dit is nie die versadiging nie maar die verborge seen van God wat die mens laat groei.47 So dreig Hy aan die ander kant dat Hy die stut van brood sal breek.48 Ook sou ons nie ernstig vir ons daaglikse brood kon bid as God nie uit sy vaderhand spyse aan ons voorsien het nie. Om gelowiges dus te oortuig dat God in hulle onderhoud die rol van die beste Vader vervul, herinner die profeet ons daaraan dat Hy aan alle vlees spyse gee.49 Wanneer ons voorts aan die een kant hoor: "Die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore is geneig tot hulle gebede",50 en aan die ander kant: "Die oë van die Here is op die goddelose om hulle gedagtenis van die aarde af uit te roei",51 moet ons weet dat alle skepsele in die hemel en op die aarde gereed is om Hom te gehoorsaam, sodat Hy hulle vir enige doel waarvoor Hywil, kan gebruik. Daaruit kan die afleiding gemaak word dat sy algemene voorsienigheid nie soseer in sy skepsele werk om die natuurorde te bewaar nie maar dat dit ook volgens sy wonderbare raadsplan op 'n bepaalde en besondere doelstelling gerig word.

8. Die Stoïsynse Opvatting van 'n noodlot52 het geen plek in die Christen se Voorsienigheidsgeloof nie🔗

Mense wat hierdie leer gehaat wil maak, laster dat dit 'n leerstuk van die Stoïsyne in verband met die noodlot is. Augustinus is ook eenmaal daarvoor verwyt.53 Hoewel ons ons teen ons sin in 'n woordestryd waag, aanvaar ons tog nie die woerd noodlot nie, want dit is enersyds een van daardie woorde wat ons, soos Paulus ons leer, as 'n onheilige nuwigheid moet ontwyk,54 en andersyds ook omdat hulle poog om deur die haat daarvoor die waarheid van God te beswaar. Juis hierdie leerstuk word valslik en kwaadwillig teen ons ingebring. Want ons flans nie met die Stoïsyne 'n noodsaak saam uit 'n ewige verband en 'n ingewikkelde reeks van oorsake wat in die natuur ingesluit sou wees nie, maar ons stel God as Beskikker en Bestierder van alle dinge wat volgens sy wysheid van die verste ewigheid af besluit het wat Hy sou doen en nou volgens sy mag aan sy besluit gevolg gee. Daarom verklaar ons dat nie alleen die  hemel en die aarde en lewelose skeppinge nie maar ook die voornems mens en wil van die mens so bestier word dat dit reëlreg deur sy voorstenigheld op sy bestemde doel afgestuur word.

"Hoe dan so?'' sal jy vra. "Geskied daar dan niks toevallig en per abuis nie?" My antwoord daarop is dat Basilius die Grote tereg gesê het dat die woorde noodlot en toeval heidense woorde is en dat die gedagtes van vroom mense hulle nie met die betekenis daarvan besig moet hou nie.55 Want as alle voorspoed die seën van God is en alle rampe en teenspoed sy vervloeking, bly daar in die sake van die mens nie vir die noodlot of die toeval 'n plek oor nie. Die volgende bekende opmerking van Augustinus behoort ons ook te beïnvloed. In sy boeke Teen die Akademici sê hy: "Dit is nie vir my lekker dat ek my so dikwels op die noodlot beroep het nie, hoewel ek nie onder hierdie woord die een of ander godin sou wil verstaan nie maar bloot die toevallige verloop van gebeure in ulterlike goed of kwaad. Hieruit ontstaan ook die bekende woorde waarvan geen godsdiens die gebruik verbied nie, naamlik per toeval, moontlik, miskien, wellig en toevallig.56 En tog moet dit geheel en al aan die voorsienigheid van God toegeskrywe word. En ook dit het ek nie verswyg nie toe ek gesê het: Ja, moontlik word dit wat algemeen as die noodlot bekend staan, ook deur 'n verborge orde geregeer, en ons noem in die gebeure net iets waarvan die rede en oorsaak vir ons verborge is, die toeval. Ek het dit wel gesê, maar ek is spyt daaroor dat ek in die boeke die woord toeval gebruik het, aangesien ek bemerk dat dit 'n slegte gewoonte van die mens is om te sê: 'Dit is die wil van die noodlot', wanneer hulle behoort te sê: 'Dit is God se wil',57 Kortom: hy leer oral dat die wêreld sonder plan voortwentel as iets aan die noodlot oorgelaat word. En hoewel hy dit êrens anders so beskrywe dat alle  dinge deels deur die vrye oordeel van die mens en deels deur die voorsienigheid van God gedra word, dui hy tog 'n bietjie later genoegsaam aan dat die mens aan die voorsienigheid van God onderworpe is en daardeur geregeer word. As beginsel hiervoor neem hy aan .dat daar niks dwaser is as om te dink dat iets sonder die verordening van God kan geskied nie, omdat dit dan doelloos sou gebeur. Om hierdie rede sluit hy ook die moontlikheid uit dat 'n gebeurtenis van die mens se wil afhanklik kan wees, en 'n wyle later maak hy dit nog duideliker wanneer hy sê dat die mens nie na die oorsaak mag soek van die wil van God nie. Maar hoe ons sy vermelding van die toelating daarvan moet begryp, sal die beste blyk uit een verwysing waar hy bewys dat die wil van God die belangrikste en eerste oorsaak van alle dinge is, omdat niks kan gebeur as Hy dit nie beveel en toelaat nie.58 Hy versin gewis nie 'n God wat ledig sit wanneer Hy iets wil toelaat wanneer daar, om dit so uit te druk, 'n werksame wil tussenbeide tree wat andersins nie as oorsaak beskou sou kon word nie.

9. Gebeurtenisse wat vir ons toevallig lyk, is inderdaad in die Raadsplan van God so voorsien🔗

Omdat die traagheid van ons verstand egter ver onder die verhewenheid van God se voorsienigheid geleë is, moet ons 'n onderskeid gebruik om ons verstand te verlig. Laat ek dan sê dat hoewel alle dinge volgens die raadsplan en volgens 'n vaste orde van God gereël word, sulke gebeurtenisse nogtans vir ons toevallig is - nie omdat ons reken dat die noodlot oor die wêreld en die mens heers en alles doelloos hot en haar laat voortrol nie (so 'n dwaasheid behoort trouens ver van 'n Christen se hart af te wees), maar omdat die orde, die rede, die doel en die noodsaaklikheid van gebeurtenisse meestal in die raadsplan van God verskuil is en nie deur die mens se denke begryp kan word nie, daarom is gebeure wat bepaald uit die wil van God spruit, vir ons toevallig. Want of ons hulle nou ook al volgens hulle aard oordink of volgens ons kennis en oordeel opweeg, beeld hulle niks anders by ons in nie. Kom ons gestel nou byvoorbeeld dat 'n handelaar wat in geselskap van getroue mense in 'n bos ingaan en onversigtig van sy kamerade afdwaal, deur sy eie fout op 'n rowersnes afkom en dat die rowers hom verwurg en hom om die lewe bring. Sy dood was dan nie alleen deur die oog van God voorsien nie maar ook deur sy besluit bekragtig. Want daar word nie gesê dat God voorsien het hoe lank elkeen se lewe sou strek nie, maar wel dat Hy perke gestel en bepaal het wat nie verbygesteek kan word nie.59 Sover die bevatlikheid van ons verstand dit egter kan begryp, lyk dit alles na toevallige gebeurtenisse.

Hoe moet 'n Christen dan daaroor voel? Hy sal naamlik dink dat wat ook al in 'n dood van so 'n aard voorgeval het, natuurlik toevallig was, soos dit ook is; maar tog sal daar by hom geen twyfel daaroor bestaan dat die voorsienigheid van God dit tog so bestier het om die toeval tot sy doel te rig nie. Dieselfde redenasie geld ook van gebeurlikhede van die toekoms. Aangesien alles in die toekoms vir ons onseker is, bly ons oordeel daaroor onbeslis, na watter kant toe dit ook al sou neig. Dit bly nietemin nogtans in ons harte ingeprent dat niks sal gebeur wat God nie voorsien het nie. In hierdie betekenis word die woord lot dikwels in Prediker herhaal.Eventus.60 Die rede hiervoor is dat die mens nie met sy eerste ondersoek daarvan kan deurdring tot die eerste oorsaak, wat ver verborge is nie.

En tog was die openbaring van die Skrif in verband met die verborge voorsienigheid van God nooit so in die harte van mense uitgewis dat  daar tog nie iets van 'n vonkie in die duisternis geglinster het nie. So was dit met die waarsëers61 van die Filistyne. Hoewel hulle onseker is, skryf hulle teenspoed deels aan God en deels aan die noodlot toe. Hulle sê: "As die ark in dié rigting gaan, sal ons weet dat dit God is wat ons getref het; maar as dit met 'n ander weg opgaan, was dit die toeval oor ons".62 Wanneer hulle voorspelling hulle bedroë laat, neem hulle wel dwaas hulle toevlug tot die noodlot. Intussen sien ons dat hulle verplig word om nie te waag om te dink dat die ongelukkige gebeurtenis toevallig was nie.

Verder sal uit 'n voortreflike voorbeeld blyk hoe God met die teuels van sy voorsienigheid gebeurtenisse stuur in die rigting waarin Hy wil. Kyk, op dieselfde tydstip waarop Dawid in die woestyn van Maon vasgekeer was, het die Filistyne die land binnegeval en Saul gedwing om die aftog te blaas.63 Toe God die heil van sy dienskneg ter harte wou neem, het Hy hierdie struikelblok in Saul se weg geplaas. Hoewel die Filistyne skielik en bo verwagting hulle wapens opgeneem het, sal ons tog nie sê dat dit toevallig was nie, maar ons geloof sal die gebeurtenisse wat vir ons toevallig lyk, as 'n verborge stuwing van God erken. 'n Soortgelyke rede is weliswaar nie altyd duidelik nie, maar ons moet dit sonder twyfel so beskou dat al die veranderinge wat op die wêreld te sien is, uit die verborge werksaamheid van God se hand spruit.

Intussen moet dit wat God bepaal het, noodwendig so gebeur dat dit tog nie volstrek of na sy geaardheid noodsaaklik is nie. 'n Bekende voorbeeld hiervan kom ons in die bene van Christus teë. Aangesien Christus 'n liggaam soos ons eie aangeneem het, sal geen mens met gesonde verstand ontken dat sy bene ook gebreek kon word nie. En tog kon dit onmoontlik gebreek word.64 Daaruit sien ons weer dat. Die onderskeid wat in ons skole uitgevind is in verband met noodwendigheid in 'n sekere opsig en volstrekte noodwendigheid, tog nie so onbesonne is nie;65 so ook die onderskeid tussen gevolgtrekking en gevolg; want God het die bene van sy Seun, wat Hy van breking66 gevrywaar het, aan breekbaarheid67 onderhewig gemaak. So het Hy dit wat natuurlik kon gebeur het, aan die noodwendigheid van sy raadsplan verbind.

Endnotes🔗

  1. ^ (Hebr. 11:3).
  2. ^ Ps. 33:6 (32:6 vg.).
  3. ^ Ps.33:13 (32:13 Vg.).
  4. ^ Arcana inspiratio. Calvyn gebruik die term inspirasie in sy wydste betekenis om die werking van die Gees in die kosmos aan te dui. Hy beperk dit dus nie tot die streng tegniese inhoud van Skrifinspirasie nie.
  5. ^ Ps. 103:27,28,29,30 (Die verwysing stem hier met die nommering van die Vg. ooreen. Afr.: 104:27-30).
  6. ^ Hand. 17:28.
  7. ^ Sy uiteensetting in Inst. 1.5.11 en 1.16.8 het ook hierop betrekking. Kyk ook in die verband Calvyn, Advertissement contre l 'astrologie qu 'on appelle iudiciare, 1549 (OC 7: 509-542).
  8. ^ Matt. 10:30.
  9. ^ Gen. 1:3,11 (1:14).
  10. ^ Biduo. Jos. 10:13 Vg: spatio unius diei.
  11. ^ 2 Kon. 20:11 (Jos. 38:3).
  12. ^ Sophistae. Hier word na die Skolastici verwys.
  13. ^ Calvyn ontwikkel hierdie tema in een van sy preke in Sermons sur l'harmonie évangêlique (OC 46:91-92, 95).
  14. ^ Ps. 115:3. Vgl. Munsteriana, Psalterium 115:3: Omnia quae voluit, fecit (p. 1256).
  15. ^ Inst. 1.13.18; Thomas, Summa Theol.1,1.19.6: Cum igitur voluntas Dei sit universalis causa omnium rerum, impossibile est quod divina voluntas suum effectum non consequatur. In die Politeia van Plato en in Cicero, Tusc. Disp., kom 'n soortgelyke siening voor.
  16. ^ Seneca, De providentia 5.8. Kyk ook Pomponazzt, De fato, de libero arbitrio, et de praedestinatione, 1520. Pomponazzi het in hierdie werk gepoog om die astrologie as se lfstandige wetenskap te bevestig deur die magiese werking van die sterre as natuurwetmatigheid te erken.
  17. ^ Ps. 8:3.
  18. ^ Ep. 2715 (OC 16:629). Met die gedagte van die voorsienigheid troos Calvyn dikwels inbriewe gemeentes of enkelinge (Benoit 1:225, n. 1).
  19. ^ (Jer. 10:2).
  20. ^ Calvyn, Advertissement contre l'astrologie qu 'on appelle iudiciaire (OC 7:509-542; veral 523, 525-533); vgl. Bohatec, Budé und Calvin, 270-280, waar dit blyk dat Calvyn se opinie ooreenstem met dié van Pico della Mirandola, 'n Christen-Neo-platonis van Florence (oorlede in 1494), wat Pomponazzi se siening weerlê het. Vgl. ook Inst. 1.2.2 en 1.4.2.
  21. ^ Inst. 1.2.2; en 1.4.2; Cicero, De nat deor. 1.2.3; 1.17.45; 1.19.51; 1.40.111.
  22. ^ Gen. 22:8.
  23. ^ Augustinus, De libero arbitrio 3.2.4 (MPL 32:1272; CCSL 29:276); Pseudo-Augustinus, De praedestinatione et gratia 5 (MPL 45:1668); Petrus Lombardus, Sententiae 1.38 (MPL 192:626-629).
  24. ^ Hierdie leerstellings is ook by verskeie geleenthede uit Roomse kamp weerlê (OS 3:193, n.l ).
  25. ^ Cicero, De nat. deor. 1.2.3; 1.17.45; 1.19.51, 1.40.111.
  26. ^ Pomponazzi het ook in sy De fato hierdie opvatting, wat Calvyn weerlê, gehuldig. Vgl. Trinkaus, In our image and likeness 2: 544.
  27. ^ (Joh.5:17).
  28. ^ Hand. 17:28.
  29. ^ Hebr. 1:3; Calvyn, Comm. in Ep. ad Hebr. 1.3 (OC 55:11). Calvyn sê in die inleiding tot die kommentaar op die brief aan die Hebreërs dat ons ons nie te veel moet bekommer oor wie die skrywer van die boek was nie. Uit sy woorde kan ten minste afgelei word dat hy nie gedink het dat Paulus die skrywer was nie: Sed ipsa docendi ratio et stylus alium quam Paulum esse satis testantur (OC 55:5).
  30. ^ Ps. 146:9 Vg. (Afr.: 147:9).
  31. ^ Matt. 10:29.
  32. ^ Ps. 112:5 Vg. (Afr.: 113:5·6).
  33. ^ Inst. 1.14.22.
  34. ^ Jer. 10:23.
  35. ^ Spr. 20:24.
  36. ^ Spr. 16:1 (16:9); Die Afrikaanse Bybel het 'antwoord' in plaas van 'voorbereiding'; vgl. Munsteriana, 1301, 1302, n. a
  37. ^ (Ex. 21:13, Munsteriana, 154, n. d).
  38. ^ Spe. 16:33.
  39. ^ (Spr. 29:13; 22:2).
  40. ^ Ps. 75:7 (75:8).
  41. ^ Ex. 19:13 (16:13; Vgl. Num. 11:31).
  42. ^ Jona 1:6,4.
  43. ^ Ps. 104:4. (104:3).
  44. ^ Ps. 107:25,29.
  45. ^ (Amos 4:9 Vg.).
  46. ^ Gen. 30:2.
  47. ^ Deut. 8:3 (Matt. 4:4).
  48. ^ Jes. 3:1.
  49. ^ Ps. 136:25 (135:25 Vg.).
  50. ^ Ps. 34:16.
  51. ^ Ps. 34:17.
  52. ^ Cicero. De fato; Arnold, Roman Stoicism, REW 4A, 1:1-47 s.v. Stoa. fatum is gelyk aan die Griekse moira-begrip.
  53. ^ Augustinus, Contra duas epistolas Pelagtanorum ad Bonifacium 2.5.10-2.6.12 (MPL 44:577-579).
  54. ^ (1 Tim. 6:20 Vg.).
  55. ^ Basilius Magnus, Homilia in Psalmum 32:4 (MPG 29:329); Afr.· Ps. 33:4.
  56. ^ Die woorde waarvan Augustinus gebruik maak, nl. forte, forsan, forsitan, fortasseen fortuito. is almal afgelel van Fors of Fortuna, die godin van die noodlot (REW 7.1:12).
  57. ^ Augustinus, Retractationes 1.1.2 (MPL 32:585); Contra Academicos, 1.1; 3.2.2-4 (MPL 32:905, 934~936).
  58. ^ Augustinus, De diversis quaestionibus, 24, 27, 28 (MPL 40:17-18); De Trln. 3.4.9 (MPL 42:873).
  59. ^ Job 14:5.
  60. ^ (Pred. 2:14; 3:19; 9:2-3,11)
  61. ^ Augures. Die augures was die Romeinse collegium van priesters wat vir die voorspelling van die wil van die gode uit voëlvlug (augurium) verantwoordelik was.
  62. ^ 1 Sam. 6:9. Fortuna (Fors, Noodlotsgodin, toeval) en casus (toeval, etimologies afkomstig van cadere, om te val) is vir Calvyn sinonieme.
  63. ^ 1 Sam. 23:26,27.
  64. ^ (Ps. 34:21; Joh. 19:36; Ex. 12:46; Num. 9:12).
  65. ^ Thomas, Summa Theol. 1,1.19.3.
  66. ^ Practura.
  67. ^ Pragilitas.