‘n Belangrike kenmerk van God is sy bestaan van ewigheid af. Hierdie kenmerk kan nie aan enigiets in die wêreld – alle sienlike en onsienlike geskape dinge – toegeskryf word nie. Calvyn bespreek in hierdie hoofstuk die onsienlike dinge: die engele en die duiwels. Beide bestaan regtig en is nie blote versinsels of net gevoelens nie.

Die engele dien nie net as God se boodskappers nie, maar ook as beskermers, vertroosters en versterkers van Sy kinders. Calvyn kan nie in alle sekerheid verklaar dat individuele beskermengele aan ons toegewys is nie, maar noem ‘n groter heerlikheid: dat al die engele saam oor ons heil waak. Ons mag nie op engele vertrou of die eerbetoon wat God alleen toekom, aan hulle oordra nie.

Satan is deur God goed geskep, maar het self afvallig geword. Daarom kan ons nie enigiets wat uit hom kom (bv. boosheid), aan God toeskryf nie. Hy is nog steeds ondergeskik aan die mag van God. Hy is nie net ‘n teenstander van God nie, maar ook van ons. God voorsien ons van wapens hom en sy duiwels se pogings om die koninkryk van God te vernietig, teen te staan.

Ons word opgeroep om te volstaan by wat die Skrif ons leer en nie met ons menslike verstand God se skepping te probeer deurvors nie. Ons moet op Hom vertrou totdat die volle kennis op die laaste dag vir ons openbaar sal word!

1984. 27 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 1 Hoofstuk 14 Ook in die skepping van die wêreld en van alle dinge maak die Skrif aan die hand van sekere tekens onderskeid tussen die ware God en versonne gode

1. Ons mag nie met ons verstand die Verborgenhede van God in die Skepping van die Wêreld probeer deurvors nie🔗

Jesaja verwyt die dienaars van die valse gode met reg vir hulle onverstandigheid omdat hulle nie uit die fondamente van die aarde en die uitspansel van die hemel geleer het wie die ware God is nie.1 Vanweë die traagheid en stompsinnigheid van ons verstand is dit tog nodig dat die ware God uitdrukliker vir gelowiges afgeteken sou word om te verhoed dat hulle in die versinsels van die heidene sou verval. Aangesien die beskrywing dat God die siel van die wêreld is,2 wat onder filosowe as die draaglikste beskou word,3 ydel is, loon dit ons die moeite om Hom intiemer te leer ken sodat ons nie vir altyd in vertwyfeling ronddobber nie.

Dit was gevolglik God se wil om die geskiedenis van die skepping te openbaar sodat die geloof van die kerk daarop kon steun en hy nie na 'n ander God sou soek as dié God wat deur Moses as Skepper en Grondlegger van die wêreld voorgestel is nie. In die geskiedenis is eerstens die tyd aangeteken sodat gelowiges deur die opeenvolgende reeks jare by die heel eerste oorsprong van die mensdom en van alle dinge kan uitkom. Dit is besonder nuttige kennis - nie alleen om die wonderlike fabels wat eenmaal in Egipte en ander oorde van die wêreld die rondte gedoen het, teen te gaan nie, maar ook sodat die ewigheid van God helderder kan skitter en ons nog meer tot bewondering vir Hom kan aanvuur as ons van die begin van die wêreld kennis dra.

Die volgende onheilige honende bespotting behoort ook geen invloed op ons te hê nie. Mense sê naamlik dat dit verbasend is dat God nie vroeër daaraan gedink het om die hemel en die aarde te skep nie maar dat Hy in ledigheid toegelaat het dat 'n onmeetlike tydsverloop verby gaan voordat Hy gedoen het wat Hy baie duisend leeftye tevore reeds kon gedoen het, aangesien die duur van die wêreld wat nou sy uiteinde tegemoet gaan, nog nie om en by sesduisend jaar bereik het nie.4 Dit is ons immers nie geoorloof en dit betaam ons ook nie om ondersoek in te stel na die rede waarom God dit so lank uitgestel het nie.

As die mens se verstand sou poog om tot hierdie kennis deur te dring, sal dit onderweg 'n honderd maal beswyk. Dit sou ook nie tot ons voordeel wees om van iets kennis te dra wat God self doelbewus vir ons verborge wou laat wees om die geringheid van ons geloof te bewys nie. Toe 'n voortvarende man 'n vrome grysaard spottend gevra het wat God voor die skepping van die wêreld gedoen het, het die ou man hom raak geantwoord dat Hy die hel vir nuuskieriges gemaak het.5 Hierdie vermaning, wat nie minder gewigtig as ernstig is nie, moet die moedswilligheid wat baie mense prikkel en hulle sodoende tot verkeerde en skadelike spekulasie dryf, aan bande lê. Verder moet ons daaraan gedagtig wees dat die onsienlike God, wie se wysheid, krag en regverdigheid onbegryplik is, die geskiedenis van Moses as 'n spieël aan ons voorhou waarin sy lewende beeltenis skitter. Want net soos ons oë, wanneer hulle deur die ouderdom verdof of deur een of ander gebrek verswak is, niks meer duidelik kan waarneem nie behalwe met die bystand van 'n bril, so staan ons ook vanweë ons swakheid onmiddellik verdwaas as die Skrif ons nie in ons soeke na God lei nie.6 Omdat die mense wat vrye teuels aan hulle voortvarendheid gee, hulle nou nie aan  die vermanings steur nie, sal hulle deur hulle verskriklike ondergang te laat agterkorn hoeveel beter dit vir hulle sou gewees het om eerder die verborge raadsplanne van God eerbiedig te respekteer as om hulle laster uit te braak om daarmee die hemel te verduister. Tereg kla Augustinus dan ook daaroor dat God veronreg word wanneer die mens bo sy wil na die oorsaak van alle dinge vra.7 Elders vermaan hy ons ook verstandig dat dit ewe verkeerd is om oor die onmeetlike verloop van die tye sowel as van plekke geskille aan te stook.8 Hoewel die hemelboog wyd strek, het dit nogtans bepaalde afmetings. As iemand dan met God sou twis daaroor dat die ruimte honderd maal groter is, sou alle godvresendes dan nie sy moedswilligheid verfoei nie? Die mense wat God se ledigheid telkens oprakel omdat Hy dan nie die wêreld ontelbare eeue tevore geskep het nie, storm op dieselfde vlak van waansinnigheid af.9 Om aan hulle gierigheid sy sin te gee, streef hulle daarna om uit die wêreld uit te gaan - net asof daar in so 'n omvangryke omtrek van hemel en aarde nie genoegsame voorwerpe voorkom om deur hulle onwaardeerbare glans al ons sinne in verrukking te bring nie en net asof God nie in die verloop van sesduisend jaar genoegsame bewyse gelewer het om ons verstand met die gedurige oordenking daarvan besig te hou nie.

Laat ons ons dus gewillig ingeperk hou binne hierdie grense waarmee God ons wou omring en ons verstand wou beperk sodat dit nie vanweë ons ongebondenheid om af te dwaal geen kant of wal raak nie.

2. Die Vaderlike Liefde van God soos dit in die Skepping Geopenbaar word🔗

Dit wat Moses verhaal, het dieselfde strekking. Hy vertel naamlik dat die werk van God nie oombliklik nie maar in ses dae volbring is.10 Want ook deur hierdie omstandigheid word ons van alle versinsels weggetrek na die enige God toe omdat Hy sy werk in ses dae afgehandel het sodat dit nie vir ons 'n ergernis sou wees om ons hele lewensloop met die bepeinsing daarvan besig gehou te word nie. Want hoewel ons oë, waarheen hulle hulle ook al wend, gedwing word om met die aanskouing van die werke van God besig te wees, merk ons tog hoe ons aandag verflou en hoe vinnig godvrugtige gedagtes verbyskiet as daar nog iets van dié aard by ons opkom. Hier kom die mens se rede in opstand net asof so 'n vordering oor ses dae vreemd is aan die mag van God, totdat sy rede in geloofsgehoorsaamheid onderwerp is en leer om daardie rustigheid te eerbiedig waartoe die heiligmaking van die sewende dag ons uitnooi.

Maar juis in die ordening van alle dinge moet ons versigtig oor die vaderlike liefde van God jeens die mensdom nadink, omdat Hy Adam nie geskep het voordat Hy die wêreld nie eers met 'n oorvloed van alle goeie dinge verryk het nie. Want as Hy hom op die aarde gestel het toe dit nog onvrugbaar en leeg was, en nog voordat daar lig was, lewe gegee het, sou dit die indruk gewek het dat Hy Adam se voordeel nie ter harte neem nie. Toe Hy die son en sterrebane tot voordeel van die mens georden, die land, die water en die lug met lewende wesens gevul en 'n oorvloed van elke soort vrug voortgebring het om vir die mens genoegsaam voedsel te voorsien, het Hy die sorge van 'n versigtige en toegewyde Vader op Hom geneem en daarmee sy wonderbaarlike goedertierenheid jeens ons betoon.

As iemand die dinge wat ek hier slegs bondig aanraak, by homself met groter aandag oorweeg, sal dit blyk dat Moses bepaald 'n getuie en 'n verkondiger van God, die Skepper, was. Ek laat hierby dit wat ek alreeds verduidelik het11 agterweë, naamlik dat daar nie slegs van die blote Wese van God sprake is nie maar ook van sy ewige Wysheid en van die Gees, sodat ons nie in ons verbeelding 'n ander god moet skep as die God wat in daardie uitdruklike beeld herken wil word nie.

3. God is Skepper van Alle Sienlike en Onsienlike Dinge🔗

Maarvoordat ek begin om die mens se natuur vollediger te verduidelik,12 moet ek hier iets in verband met die engele invoeg. Omdat Moses hom na die algemene ongeletterdheid van sy tyd skik, gee hy in sy geskiedenis van die skepping slegs die werke van God weer wat vir ons oë opvallend is. Wanneer hy later die engele as diensknegte van God voorstel, kan ons geredelik aflei dat Hy ook hulle Skepper is aan wie hulle hulle diens wy en hulle pligte nakom. Hoewel Moses dus in die taal van die gewone mens praat en hy nie van die eerste begin af die engele onder die skepsels van God vermeld het nie, verhinder niks ons tog om  duidelik en uitdruklik alles wat die Skrif ons oral elders in verband met hulle leer, in ons onderwysing oor te dra nie. As ons die begeerte koester om God uit sy werke te leer ken, moet ons so 'n voortreflike en edele voorbeeld van sy werk nie agterweë laat nie. Hierby kom ook die feit dat hierdie deel van ons leer baie noodsaaklik is om menigvuldige dwalinge te weerlê.

Die uitnemendheid van die engele se natuur het baie mense se verstand so oorbluf dat hulle van mening was dat die engele veronreg word as hulle aan die heerskappyvan die enige God onderwerp en as't ware in 'n rangorde gedwing word. Daarom is goddelikheid aan hulle toegeskrywe. Ook het Manichaeus13 met sy sekte na vore gekom en hy het vir homself twee beginsels gesmee, naamlik God en die duiwel. Aan God het hy die oorsprong van alle goeie dinge toegeskrywe, maar alles van 'n bose natuur het hy na die duiwel as die skepper daarvan herlei. As hierdie waansinnigheid van ons verstand besit sou neem, sou die heerlikheid wat vanweë sy skepping van die wêreld aan God verskuldig is, nie bestaan nie.

Niks is méér 'n besondere eienskap van God nie as juis sy ewigheid en sy selfgenoegsaamheid,14 dit is, om dit so te stel, sy bestaan uit Homself. Daarom vereer die mense wat hierdie eienskap aan die duiwel toeskryf, hom tog sekerlik op die een of ander wyse met 'n eienskap van goddelikheid. Waar is God se almag dan as 'n gesag van so 'n aard aan die duiwel toegestaan word dat hy alles wat hy wil, tot uitvoer kan bring hoewel dit teen die wil en teenstand van God is?

Die enigste fondament vir die Manicheërs se opvatting, naamlik dat dit ons nie geoorloof is om die skepping van enige bose ding aan God in sy goedheid toe te skrywe nie, vorm hoegenaamd geen beletsel vir die regsinnige geloof wat nie toegee dat 'n enkele bose natuur in die ganse wêreld geskep is nie. Want die bedorwenheid en boosheid van sowel die mens as die duiwel en al die sonde wat daaruit voortspruit, is nie uit die natuur afkomstig nie maar uit die bedorwenheid van die natuur.15 En van die begin af het daar hoegenaamd niks ontstaan waarin God nie 'n voorbeeld van sy wysheid en regverdigheid gegee het nie.

Om dus hierdie verwronge versinsels teen te gaan moet ons ons harte hoër verhef as wat ons oë kan deurgrond. Dit is waarskynlik ook met hierdie doel voor oë dat die onsienlike dinge uitdruklik in die Geloofsbelydenis Nicea vermeld is waar God die Skepper van alle dinge genoem word. Tog salons sorg moet dra dat ons ons hou by die maat wat die reël van godsvrug aan ons voorskrywe, sodat my lesers nie deur te hoë spekulasie van die eenvoud van hulle geloof op 'n dwaalweg weggelei word nie. En aangesien die Gees ons altyd voordelige dinge leer of in elk geval alles waarin daar weinig geleentheid vir ons stigting is, volkome verswyg of dit slegs oppervlakkig of oorsigtellk aanvoer, is  ook ons plig om met bereidwilligheid in alles wat nie daartoe bydra nie, onkundig te bly.

4. Ons moenie oor die Engele Spekuleer nie maar by die Skrif hou🔗

Sonder teenspraak moet ten minste aanvaar word dat die engele ook God se skepsels is, aangesien hulle sy diensknegte is wat verorden is om sy bevele uit te voer. Om 'n geskil te veroorsaak oor die tyd of die orde  waarin hulle geskep is, is tog eerder 'n kenmerk van wederstrewigheid as van noukeurtgheid, of hoe?16 Moses vertel dat die aarde en die hemele met hulle hele leërskare voltooi is.17 Van watter belang is dit dan om besorg ondersoek in te stel na die dag waarop ook die ander verborgener hemelse leërskares behalwe die sterre en planete begin bestaan het?

Om nie te langdradig te wees nie: ons moet hier in gedagte hou, soos trouens in die hele leer van ons godsdiens, dat ons net aan een reël van beskeidenheid en nugterheid moet vashou, naamlik dat ons nie oor dinge wat vir ons verborge is, iets moet sê of voel of daarna strewe om meer te wete te kom as wat deur die Woord van God aan ons oorgelewer is nie. Verder moet ons in gedagte hou dat ons die Skrif moet lees en dat ons ons voortdurend besig moet hou deur die dinge te soek en te bepeins wat op ons stigting afgestem is, en dat ons nie aan nuuskierigheid of aan belangstelling in nuttelose dinge moet toegee nie. En omdat die Here ons wou onderwys - nie in ydel vraagstukke nie maar in volmaakte godsvrug, in die vrees van sy Naam, in ware vertroue en in die pligte van heiligheid - moet ons in hierdie kennis berusting vind. As ons daarom na behore wys wil wees, moet ons die nuttelose vraagstukke laat vaar wat sonder die Woord van God deur ledige mense in verband met die natuur van die engele, hulle rangorde en menigte geleer word.18 Ek is bewus daarvan dat hierdie dinge gretig deur baie mense aangegryp word en dat dit vir hulle 'n bron van groter genot is as die dinge wat alledaags gebruiklik is. As ons ons nie skaam om dissipels van Christus te wees nie, moet ons ons ook nie skaam om die leerwyse wat Hy self vir ons voorgeskrywe het, te volg nie. Die gevolg daarvan sal wees dat ons met sy onderwysing tevrede sal wees en ons nie alleen van nuttelose spekulasie waarvan Hy ons wegroep, sal weerhou nie maar ook verskrik daarvoor sal terugdeins.

Niemand sou ontken dat hierdie Dionysios, wie hy ook al was, in sy werk, Die hemelse hiërargie, baie vraagstukke met subtiliteit en spitsvondigheid bespreek het nie, maar as iemand dit van nader ondersoek, sal hy bevind dat dit grotendeels loutere geklets is. 'n Teoloog se doel is nie om deur te babbel die ore van mense te vermaak nie, maar deur hulle ware, sekere en nuttige dinge te leer, moet hy hulle gewete versterk. As 'n mens dié man se boek sou lees, sou jy dink dat hy uit die hemel geval het en van dinge vertel wat hy nie geleer het nie maar met sy eie oë gesien het. Maar Paulus, wat tot die derde hemel weggeruk is, het nie alleen niks van so 'n aard aan die lig gebring nie maar ook getuig dat dit die mens nie geoorloof is om verborgenhede wat hy gesien het, uit te spreek nie.19 Laat ons sy sinnelose wysheid dus vaarwel toeroep en uit die eenvoudige leer van die Skrif oordink wat die Here wou hê dat ons in verband met sy engele moes weet.

5. Die Eretitels waarmee die Engele in die Skrif aangedui word🔗

Oral in die Skrif lees ons dat die engele hemelse geeste is van wie se diens en gehoorsaamheid God gebruik maak om al sy besluite uit te voer.20 Daarom is hierdie naam ook aan hulle gegee, omdat God hulle soos tussenboodskappers gebruik om Homself aan die mens te openbaar. Ook ander benaminge waarmee hulle aangedui word, is om 'n soortgelyke rede aangeneem. Hulle word 'n leërskare genoem,21 omdat hulle hulle Vors soos lyfwagte omring, sy majesteit opluister en verheerlik en net soos soldate altyd op 'n teken van hulle Aanvoerder bedag is en so gereed en vaardig is om sy bevele te onderneem dat hulle hulle, sodra Hy 'n wenk gee, vir die werk omgord of eerder reeds aan die werk is.

Sowel al die ander profete as Daniël in besonder teken vir ons so 'n beeld van die troon van God om sy luister te verduidelik. Daniël stel dit so: "Duisend maal, en tienduisend maal tienduisend het hom gedien toe God op sy regterstoel gaan sit het".22 Omdat die Here sy mag en die sterkte van sy hand op wonderbaarlike wyse deur hulle openbaar en bewys het, word hulle kragte genoem. Maar omdat Hy sy heerskappy op die wêreld deur hulle beoefen en bestier, word hulle daarom ook owerhede en dan magte en heerskappye genoem.23 Omdat in die laaste plek die heerlikheid van God op die een of ander wyse ook in hulle aanwesig is, word hulle om hierdie rede ook trone genoem. Tog wil ek my oor laasgenoemde nie uitspreek nie, omdat daar 'n ander interpretasie hiervan is wat ewe veel of nog meer hiermee ooreenstern.24

Met weglating van laasgenoemde benaming maak die Heilige Gees dikwels van die voorgaande benaminge gebruik om die waardigheid van die diens van die engele aan te wys. Want dit is nie billik dat die middele waarmee God in besonder die teenwoordigheid van sy mag betoon, sonder eer verbygegaan word nie. Ja, hulle word om hierdie rede meer as een maal gode genoem, omdat hulle in hulle diens die godheid ten dele soos in 'n spieël vir ons weergee. Want hoewel ek met die skrywers van ouds saamstem wanneer hulle dit so verklaar dat die engel van wie die Skrif vermeld dat hy aan Abraham, Jakob, Moses en ander verskyn het, Christus was,25 word hierdie naam tog dikwels aan hulle toegeskryf wanneer van al die engele melding gemaak word.26 Dit behoort vir ons nie vreemd voor te kom nie. Want as dit aan vorste en owerstes ter ere nagegee word dat hulle hulle funksie in die plek van God, wat die hoogste Koning en Regter is, vervul,27 dan is daar nog 'n baie belangriker rede waarom hierdie eer aan engele betoon moet word, omdat die klaarheid van die heerlikheid van God baie oorvloediger in hulle skitter.

6. Die Wyse waarop die Engele God Dien🔗

Die Skrif lê hom meestal daarop toe om ons te onderrig in dit wat in besonder tot ons troos en tot versterking van ons geloof kan bydra, naamlik dat die engele uitdelers en bedienaars van die weldadigheid van God jeens ons is. En daarom vertel die Skrif dat hulle oor ons saligheid wag hou, ons beskerming op hulle neem, dat hulle ons weë rig en ons bekommernisse op hulle dra sodat geen teenspoed ons te beurt kan val nie.

Hierdie uitsprake wat in besonder op Christus as Hoof van die kerk en daarna ook op al die gelowiges van toepassing is, kom algemeen voor, byvoorbeeld: "Hy het sy engele aangaande jou bevel gegee om jou op al jou weë te bewaar. Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy nie miskien jou voete teen 'n klip stamp nie".28 Net so: "Die engel van die Here trek 'n laer onl die wat Hom vrees, en red hulle uit".29 Daarmee toon God dat Hy die beskerming van die mense wie se bewaking Hy onderneem het, aan sy engele oordra. Hiervolgens vertroos die Engel van die Here Hagar op haar vlug en Hy beveel haar om haar met haar meesteres te versoen.30 Abraham belowe sy dienskneg dat 'n engel hom op sy weg sal lei.31 Wanneer Jacob Efraim en Manasse seën, bid hy dat die engel van die Here, deur wie hy van alle kwaad verlos is, hulle voorspoedig moet maak32 So is 'n engel aangestel om die Israeliete te beskerm,33 en so dikwels as wat God Israel uit die hand van sy vyande wou verlos, het Hy deur die diens van engele rigters laat opstaan.34 Kortom: ons het nie nodig om meer voorbeelde aan te haal nie. So het die engele Christus gedien35 en in al sy benoudheid bygestaan.36 Hulle het sy opstanding en sy heerlike aankoms aan die vrouens en sy dissipels berig.37

Om dus hulle taak om ons te beskerm te volvoer, stry hulle teen die duiwel en teen al ons vyande, en hulle voer God se wraak uit teen die mense wat ons kwaadwillig gesind is. So lees ons dat 'n engel van God in een nag honderd-vyf-en-tagtigduisend man in die kamp van die koning van Assirië gedood het om ]erusalem van hulle besetting te bevry.38

7. Bestaan daar so iets as Beskermengele?🔗

Verder sou ek nie waag om in alle sekerheid te verklaar dat aan elke gelowige afsonderlik 'n engel toegewys is om hom te beskerm nie.39 In elk geval, wanneer Daniël 'n engel van die Perse en 'n engel van die Grieke voorstel, dui hy aan dat bepaalde engele as owerstes vir koninkryke en gebiede bestem is.40 Ook wanneer Christus sê dat die engele van kinders altyd die aangesig van die Vader sien,41 gee Hy te kenne dat daar bepaalde engele is aan wie kinders se heil toevertrou is. Maar ek weet nie of daaruit afgelei moet word dat elkeen syeie engel het nie. Ons moet egter daarvan verseker wees nie alleen dat een engel vir elkeen van ons sorg nie, maar dat al die engele saam oor ons heil waak. Want daar word van al die engele tegelyk gesê dat hulle meer verheug is oor een sondaar wat hom bekeer het en tot sy sinne gekom het, as oor nege-ennegentig regverdiges wat in geregtigheid volhard het.42 Daar word ook van baie engele gesê dat hulle Lasarus se siel in Abraham se skoot ingedra het.43 En Elisa toon ook nie sonder rede soveel vurige waens wat in besonder vir hom bestem was, aan sy dienskneg nie.44

Daar is een verwysing wat klaarblyklik bietjie duideliker as die ander is om dit te bevestig. Want toe Petrus uit die tronk uitgebring is en hy aan die deur van die huis waarin die broeders vergader was, geklop het, het hulle gesê dat dit sy engel was, aangesien hulle nie kon vermoed dat dit  hy was nie.45 Skynbaar het dit in hulle gedagtes opgekom na aanleiding van die algemene opvatting dat aan elke gelowige 'n engel as sy beskermer toegewys is. Tog kan hier ook geantwoord word dat niks ons verhinder om daaronder te verstaan dat dit een van die engele was aan wie die Here toe bevel gegee het om Petrus te beskerm en dat hy tog nie daarom voortdurend sy bewaker was nie - soos mense hulle oor die algemeen verbeel dat twee engele, die een goed en die ander sleg, as verskillende beskermgeeste46 aan elke mens toegewys is.

Tog is dit nie die moeite werd om beangs ondersoek in te stel na iets wat nie vir ons groot voordeel inhou om te weet nie. Want as dit iemand nie te vrede stel dat al die hemelse leërskares oor sy heil waak nie, kan ek nie insien watter voordeel hy daaruit kan behaal as hy weet dat een engel in besonder as sy beskermer aan hom gegee is nie. Die mense wat die versorging wat God vir elkeen van ons het, tot een engel beperk, doen hulleself en al die lidmate van die kerk 'n groot onreg aan - net asof al die hulpmagte waarmee ons van alle kante omring en beskerm word en moediger kan stry, tevergeefs aan ons beloof is.

8. Volle Kennis in Verband met die Engele sal op die Laaste dag vir ons Openbaar word, en intussen betaam dit ons nie om daaroor te spekuleer nie🔗

Die mense wat waag om die menigte en hiërargie van die engele nader te bepaal, moet gerus ondersoek instel na die basis wat hulle daarvoor het.47 Migael, erken ek, word in Daniël 'n groot vors genoem48 en in Iudas 'n aartsengel.49 En Paulus leer dat dit 'n aartsengel sal wees wat die mense met 'n basuin tot die oordeel sal daag.50 Maar wie sou nou daaruit 'n hiërargie onder die engele kon vasstel öf besondere engele afsonderlik na aanleiding van hulle onderskeidingsteken kon onderskei of aan elkeen van hulle 'n plek en wagpos kon toewys? Want ook die twee name wat in die Skrifte voorkom, naamlik Migael en Gabriël, en as 'n mens 'n derde uit die geskiedenis van Tobias daarby wil voeg,51 kan skynbaar na aanleiding van die betekenis van hulle name aan die engele gegee wees om die swakheid van ons begrip tegemoet te kom, hoewel ek dit liewer onbeslis wil laat.

Sover dit hulle getalle aangaan, hoor ons uit die mond van Christus van baie legioene52 en van Daniël weer van baie miljoene.53 Die dienskneg van Elisa het waens vol engele gesien.54 Die feit dat daar gesê word dat hulle 'n laer trek om die wat God vrees, dui ook op 'n ontsaglike menigte.55

Dit is seker dat hulle as geeste geen gestalte het nie. Tog skilder die Skrif die engele nie sonder rede nie na die maat van ons verstand vir ons as gerubs en serafyne met vleuels, sodat ons nie daaroor moet twyfel dat hulle altyd gereed is om ons met ongelooflike snelheid te hulp te snel sodra omstandighede dit vereis nie - net asof 'n bliksemstraal uit die hemel gestuur is en met die snelheid waaraan ons gewoond is, op ons afpeil.

Laat ons dan glo dat al die vrae wat verder in verband met albei hierdie aspekte gestel kan word, onder die groep geheimenisse tuishoort waarvan die volle openbaring tot op die laaste dag uitgestel word. Daarom moet ons daarop bedag wees om teen 'n oordrewe nuuskierigheid in ons vrae of 'n oordrewe vermetelheid in ons bespreking daarvan te waak.

9. Die Dwaling van die Sadduseërs oor die Engele word ook deur die Skrif weerlê🔗

Hoewel sommige onrustige mense dit in twyfel trek,56 moet ons nogtans daarvan verseker wees dat engele geeste is wat op diens aangewese is, omdat God hulle diens gebruik om die wat aan Hom behoort, te beskerm en enersyds deur hulle sy weldade onder mense verdeel en andersyds al sy ander werke ten uitvoer bring.57 Die Sadduseërs het wel eertyds die indruk gehad dat daar met die engele slegs die invloede waarmee God die mens aanwakker, of die bewyse wat Hy van sy krag gee, aangedui word.58 Maar soveel getuienis van die Skrif weerspreek hierdie onsin dat dit verbasend is dat so 'n growwe onkunde nog onder die Israeliete geduld kon word.

Want om nou maar die verwysings wat ek vroeër aangehaal het, agterweë te laat - waar naamlik verwys word na die duisende en legioene van engele; waar blydskap aan hulle toegeskrywe word; waar vertel word dat hulle gelowiges op hulle hande dra; dat hulle siele tot rus bring en dat hulle die aangesig van die Vader sien en soortgelyke verwysings - daar is ook ander verwysings waaruit baie duidelik bewys word dat die engele in werklikheid geeste is wat uit 'n natuur van hulle eie bestaan. Want wat Stéfanus en Paulus sê, naamlik dat die wet deur die beskikking van die engele ontvang is,59 en ook Christus, dat die uitverkorenes na sy opstanding aan die engele gelyk sal wees,60 dat die oordeelsdag selfs nie eens aan die engele bekend is nie en dat Hy dan saam met heilige engele sal kom,61 moet noodwendig so verstaan word, al sou dit ook hoe verdraai word. Eweneens wanneer Paulus vir Timotheus voor die aangesig van Christus en sy uitverkore engele betuig dat hy sy gebooie moet bewaar, dan wys hy nie na hulle as hoedanighede en ingewinge wat sonder selfstandigheid is nie, maar as ware geeste.62

Dit wat ons in die brief aan die Hebreërs lees, hou ook hiermee stand, naamlik dat Christus uitnemender geword het as die engele, dat die wêreld nie aan hulle onderwerp is nie en dat Christus nie hulle natuur nie maar die natuur van die mens aangeneem het.63 Dit kan ons nèt begryp van geluksalige geeste met wie Hy hier vergelyk word. En die skrywer van die brief verklaar homself wanneer hy die siele van die gelowiges en die heilige engele saam in die koninkryk van God stel.64 Daarbenewens is daar ook die verwysing wat ons reeds aangehaal het, naamlik dat die engele van kinders altyd die aangesig van God sien65, dat ons deur hulle bystand beskerm word,66 dat hulle hulle oor ons redding verbly,67 dat hulle die veelvuldige genade van God teenoor die kerk bewonder68 en dat hulle aan Christus as hulle Hoof onderworpe is.69

Die feit dat hulle so dikwels in die gedaante van die mens aan die heilige aartsvaders verskyn en met hulle gepraat het en deur hulle geherberg is, het dieselfde strekking. En Christus word self as gevolg van die voorrang wat Hy in sy Persoon as Middelaar het, 'n engel genoern.70

Ek wou hierdie onderwerp terloops aanroer met die oog daarop om eenvoudiges teen die dwase en sinnelose gedagtes wat baie eeue lank deur die Satan aangestook is en nog van tyd tot tyd uitbars, te beskerm.

10. Ons mag nie die Eer wat God alleen toekom, aan Engele betoon nie🔗

Nou bly daar nog oor dat ons moet trag om die bygeloof te voorkom wat gewoonlik meestal insluip wanneer beweer word dat engele alle goeie dinge vir ons verskaf en aanbied. Want die mens se rede laat hom onmiddellik in die gedagte verval dat hy daarom aan hulle 'n sekere eer moet betoon. Die gevolg daarvan is dat die eerbetoon wat God en Christus alleen toekom, op hulle oorgedra word. So sien ons dat die heerlikheid van Christus enkele eeue tevore op verskillende maniere verduister is toe die engele sonder inagneming van die Woord van God met uitermatige lofprysinge oorlaai is.71 En daar is onder al die sondes wat ons vandag bestry, beswaarlik een wat ouer as dié is. Want dit is duidelik dat selfs Paulus met sommige mense in 'n hewige stryd gewikkel was omdat hulle die engele so verhef het dat hulle Christus bykans tot die rang van 'n engel verneder het. Dit is om hierdie rede dat hy met so 'n groot besorgdhëid in die brief aan die Kolossense daarop aandring dat hulle Christus nie alleen bo al die engele moet stel nie maar dat Hy ook vir hulle die Gewer van alle goeie dinge moet wees.72 Ons mag Christus dus nie verontagsaam en ons na hulle wend nie, omdat hulle nie in hulle eie behoeftes kan voorsien nie maar uit dieselfde bron as ons put.

Aangesien die glans van God se mag in elk geval in hulle skyn, is daar niks makliker as dat ons deur ontsag aangegryp in aanbidding voor hulle neerval en uiteindelik alles wat aan niemand anders as aan God verskuldig is nie, aan hulle betoon. Johannes getuig in Openbaring dat dit met hom gebeur het, maar hy voeg terselfdertyd by dat aan hom die antwoord verstrek is: "Moenie dit doen nie! Ek is 'n mededienskneg van jou. Aanbid God.''73

11. God maak van die Diens van Engele gebruik om ons te Vertroos en te Versterk🔗

En tog salons deeglik teen hierdie gevaar voorsorg tref as ons oorweeg waarom God gewoonlik sy mag deur hulle eerder as deur Homself bewys, vir die welstand van die gelowiges sorg en die gawes van sy milddadigheid met hulle deel. Hy doen dit sekerlik nie onder dwang asof Hy nie sonder hulle kan klaarkom nie. Want Hy verrig sy werk so dikwels as wat Hy wil sonder hulle en slegs op sy eie wenk. So ver is dit dus daarvandaan dat hulle Hom tot hulp is om sy nood te verlig.

Hy doen dit dus ter vertroosting van ons swakheid, sodat dit ons hoegenaamd aan niks sou ontbreek wat daartoe kan bydra om ons harte of tot goeie hoop te rig öf in gerustheid te versterk nie. Hierdie een enkele feit behoort vir ons meer as genoeg te wees, naamlik dat die Here verklaar dat Hy ons Beskermer is. Maar wanneer ons sien dat ons deur soveel gevare, deur soveel dinge wat ons kan skaad, en soveel soorte vyande omring word, kan dit soms vanweë ons sagtheid en broosheid gebeur dat ons paniekbevange word of uit wanhoop ineenstort as die Here ons nie volgens die maat van ons begrip die teenwoordigheid van sy genade laat gevoel nie. Om hierdie rede beloof Hy nie alleen dat Hy vir ons sal sorg nie maar ook dat Hy ontelbare diensknegte het aan wie Hy opgedra het om na ons heil om te sien en dat ons, watter gevaar ons ook al bedreig, bo alle wispelturigheid74 van die bose gestel is so lank as wat ons deur hulle bystand en beskerming omgewe is. Ek erken wel dat ons verkeerd handel omdat ons ten spyte van die eenvoudige belofte van die enige God dat Hy ons sal beskerm, nogtans rondkyk waar ons hulp vandaan sal kom.

Maar omdat dit na sy grenslose goedertierenheid en tegemoetkomendheid die wil van die Here is om ons in hierdie gebrek by te staan, is daar geen rede waarom ons so 'n groot weldaad van Hom sou versrnaai nie. Ons het 'n voorbeeld hiervan in die dienskneg van Elisa. Toe hy sien dat die berg deur die leër van die Siriërs beleër en omsingel was en dat daar geen moontlikheid was om te ontvlug nie, is hy deur paniek verpletter, net asof dit met hom en sy meester klaarpraat was. Hierop het Elisa tot God gebid om sy oë te open.75 Onmiddellik het hy gesien dat die berg vol vurige perde en waens was - dit was natuurlik 'n menigte engele deur wie hy en die profeet beskerm moes word. Deur hierdie gesig is hy versterk en het hy weer moed geskep en hy kon die vyand onverskrokke minag, hoewel hy byna flou geword het toe hy hulle gesien het.

12. Ons mag nie op Engele vertrou nie maar op God alleen🔗

Daarom moet ons alles wat in verband met die diens van die engele gesê word, daarop rig om alle wantroue te oorwin en ons hoop sterker op God te vestig. Want hierdie hulpmiddels is juis deur die Here aan ons voorsien sodat ons nie deur die menigte van ons vyande verskrik hoef te word nie, net asof hulle kragtiger as sy hulp is, maar sodat ons ook ons toevlug tot Elisa se opmerking kan neem dat die wat by ons is, meer is as die wat teen ons is.76

Hoe verwaand is die opvatting dan nie dat ons deur die engele van God af weggeneem word, terwyl hulle juis daartoe bestem is om vir ons van die teenwoordigheid van sy hulp te getuig? En hulle neem ons van Hom af weg as hulle ons nie regstreeks na Hom toe lei om na Hom alleen as  ons Helper op te sien, Hom aan te roep en te verkondig nie. Dit sal trouens gebeur as ons hulle nie beskou as sy hande wat hulleself vir geen werk in beweging sit, tensy dit onder sy leiding is nie, en ook asnhulle ons nie aan die een Middelaar, naamlik Christus, vashou, sodat ons volkome van Hom afhanklik kan wees, op Hom alleen kan steun, tot Hom gelei kan word en in Hom berusting kan vind nie.

Want dit wat in die droom van Jakob beskrywe word,77 behoort aan ons harte vas te kleef en diep daarop ingeprent te wees, naamlik dat die engele na die mens op aarde neerdaal en van die mens af na die hemel opgaan met die leer waarop die Here van die leërskare sit. Daarmee word aangedui dat dit slegs deur die tussenkoms van Christus moontlik is dat die diens van die engele ons kan bereik, soos Hy self verklaar: "Van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God wat neerdaal na die Seun van die mens.''78 Daarom het die dienskneg van Abraham wat aan die beskerming van 'n engel toevertrou was, nie om dié rede die engel in gebed aangeroep om hom te help nie maar in sy vertroue op die opdrag sy gebede voor die aangesig van die Here uitgestort en gebid dat Hy sy barmhartigheid teenoor Abraham moes bewys.79 Want net soos God nie van hulle dienaars van sy mag en goedheid maak om sy heerlikheid met hulle te deel nie, net so belowe Hy nie sy hulp deur hulle bemiddeling aan ons sodat ons daarom ons vertroue tussen hulle en God moet verdeel nie. Vaalwel dus aan die filosofie van Plato,80 waarvolgens ons deur engele toegang tot God moet soek en hulle juis om dié rede moet vereer om God genaakbaarder teenoor ons te maak. Bygelowige en nuuskierige mense het van die begin af gepoog om hierdie filosofie in ons godsdiens in te voer, en hulle hou vandag nog daarmee vo1.81

13. God voorsien ons van die wapens om die Satan teen te staan🔗

Die dinge wat die Skrif in verband met die duiwels leer, het oor die algemeen alles die strekking om ons besorg te maak sodat ons op ons hoede kan wees vir hulle strikke en streke, maar ook om ons toe te rus met dié wapens wat sterk en kragtig genoeg is om ons magtigste vyande af te weer. Want wanneer die Satan die god82 en vors83 van hierdie wêreld genoem word; wanneer gesê word dat hy 'n sterk gewapende,84 'n gees wat oor die lug heers85 en 'n brullende leeu is,86 het hierdie beskrywings nie 'n ander doel nie as om ons versigtiger, waaksamer en parater te maak om die stryd met hom aan te knoop. Soms word dit uitdruklik aangedui. Want nadat Petrus gesê het dat die duiwel soos 'n brullende leeu rondgaan op soek na mense wat hy kan verslind,87 voeg hy dadelik die vermaning by dat ons hom met die geloof moedig moet weerstaan.88 En wanneer Paulus ons vermaan dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie maar teen die owerhede van die lug, teen die magte van die duisternis en teen die bose geeste,89 beveel hy ons onmiddellik daarna om die wapens op te neem wat vir so 'n groot en gevaarlike stryd toereikend is.90

Daarom moet ons ook alles hierop toespits om gewaarsku te wees dat 'n vyand ons voortdurend bedreig - en dit 'n vyand wat in durf uiters vasberade, in kragte baie sterk, in sy listige streke baie geslepe, in sorgvuldigheid en spoed onvermoeid, tot oorlopens toe vol van elke vorm van bedrog en in krygskennis baie vaardig. Verder mag ons nie toelaat dat ons deur onverskilligheid of lafhartigheid onderdruk word nie, maar inteendeel met verhewe en wakker harte ons voete vasplant om hom te weerstaan.91 En omdat hierdie stryd net deur die dood beëindig word, moet ons ons tot volharding hierin aanspoor.92 Omdat ons in besonder van ons swakheid en onkunde bewus is, moet ons die hulp van God inroep en niks onderneem sonder om op Hom te steun nie, omdat dit alleen in sy mag is om raad, krag, moed en wapens daarvoor aan ons te voorsien.

14. Die Ryk van die bose bestaan uit Groot Leërmagte🔗

Maar om ons op te wek en aan te dryf om dit te doen betuig die Skrif dat dit nie net een of twee of 'n handjievol vyande is wat met ons in oorlog gewikkel is nie, maar groot Ieërrnagte. Want daar word van Maria Magdalena gesê dat sy van sewe bose geeste waarvan sy besete was, verlos is.93 Christus getuig self ook dat dit gewoonlik gebeur dat as 'n bose gees uitgedryf is en 'n mens weer plek maak daarvoor, hy sewe geeste met hom saambring wat nog boser is, en dat hy dan tot dié besitting wat hy ontruim het, terugkeer.94 Ja, daar word gesê dat 'n hele legioen een man in besit geneem het.95 Hierdeur word ons dus geleer dat ons met 'n grenslose menigte van die vyand te kampe het: ons mag hulle geringe getal nie onderskat of sonder belangstelling vir die stryd word of met die gedagte dat 'n ruspouse soms in die stryd aan ons gegee word, ons aan traagheid oorgee nie. Maar met die feit dat daar dikwels in die Skrif in die enkelvoud net van een Satan of duiwel sprake is, word die heerskappy van ongeregtigheid aangedui wat die ryk van geregtigheid teenstaan.

Want soos die kerk en die gemeenskap van die heiliges Christus as hulle Hoof het, so word die gespuis van goddeloses en hulle goddeloosheid met hulle vors wat daar die hoogste gesag voer, vir ons afgeteken. Om hierdie rede is daar gesê: "Gaan weg van my, julle vervloektes, in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele berei is.96

15. Die duiwel met al sy listige streke is daarop uit om die Koninkryk van God te vernietig🔗

Die feit dat die duiwel oral 'n teenstander van God en van ons genome word, behoort ons ook tot 'n voortdurende stryd teen hom aan te vuur. Want as God se heerlikheid ons wel ter harte gaan, soos dit ons betaam, moet ons met al ons kragte teen hom stry, omdat hy die uitwissing daarvan beplan. As ons besield is om die ryk van Christus te beskerm, soos ons moet, moet ons 'n onversoenlike oorlog met hom voer, omdat hy saamsweer om dit te vernietig. As ons verder oor ons saligheid bekommerd is, moet ons nie vrede of wapenstilstand met hom sluit nie, omdat hy voortdurend sy strikke stel om dit te verwoes. Want so word hy in die derde hoofstuk van Genesis beskrywe, waar hy die mens weglei van die gehoorsaamheid wat hyaan God verskuldig is,97 om terselfdertyd God van die eer wat Hom toekom, te beroof en die mens in die verderf te laat instort. So word hy in die boeke van die evangelieskrywers beskrywe, waar hy ons vyand genoem word en waar gesê word dat hy onkruid uitstrooi om die saad van die ewige lewe te verstik.98 Opsommend: soos Christus ook van hom getuig99 dat hy van die begin af 'n moordenaar en bedrieër was, ervaar ons nou nog in al sy dade.

Want met sy leuens beveg hy die waarheid van God; hy verduister die lig met sy duisternis; hy verstrik die mens se verstand met dwaling; hy verwek haat tussen hulle: hy stook twis en oorlog aan, en die doel van dit alles is om die koninkryk van God te vernietig en die mens saam met hom die ewige verderf in te dompel. Daaruit is dit duidelik dat hy van nature sleg, kwaadwillig en boosaardig is. Want daar moet in daardie verstand, wat daarop ingestel is om die heerlikheid van God en die saligheid van die mens geweld aan te doen, die grootste bedorwenheid wees. Dit gee Johannes ook in sy brief te kenne wanneer hy skrywe dat die duiwel van die begin af gesondig het.100 Hy verstaan daaronder dat die duiwel die skepper, leier en argitek van alle boosheid en engeregtigheid is.

16. Hoewel die duiwel goed gesleep is, het hy deur sy eie toedoen bedorwe geraak🔗

Maar hoewel die duiwel deur God geskep is, moet ons daaraan gedagtig  wees dat hierdie boosheid wat ons aan sy natuur toeskrywe nie uit sy skepping nie maar uit sy bedorwenheid voortspruit. Want alles waarvoor hy doemwaardig is, het hy uit sy afvalligheid en val homself op die hals gehaal. Daarom vermaan die Skrif ons om nie te glo dat hy so uit God voortgekom het, of om iets aan God toe te skrywe wat volkome aan Hom vreemd is nie.

Om hierdie rede verklaar Christus dat die Satan uit sy eie spreek wanneer hy lieg, en Hy voer as rede daarvoor aan dat die Satan nie in die waarheid gebly het nie.101 Wanneer hyverklaar dat hy nie in die waarheid gebly het nie, gee Hy in elk geval te kenne dat die Satan eenmaal in die waarheid was. Wanneer Hy die Satan die vader van die leuen noem, ontneem Hy hom die verontskuldiging dat hy sy gebrek God kan toereken, omdat hy self die oorsaak daarvan was.

Hoewel hierdie uiteensetting bondig en minder duidelik is, is dit tog meer as genoeg om die majesteit van God van alle laster te vrywaar. En van watter belang is dit tog vir ons om of meer van die duiwel te wete te kom of met 'n ander doel? Sommige mense kla dat die Skrif nie in volgorde en duidelik sy val, die oorsaak, wyse, tyd en aard daarvan op meer plekke uiteensit nie. Maar omdat dit niks met ons te doen het nie, is dit beter om dit nie geheel en al te verswyg nie maar ten minste oppervlakkig aan te roer, want dit is die Heilige Gees nie waardig om die nuuskierigheid van die mens sonder vrug met ydel geskiedenisse te voed nie. Ons sien ook dat dit die Here se doel was om niks in sy heilige godsprake oor te dra wat ons nie tot ons stigting kon leer nie. Laat ons ons dus nie met oorbodige stof ophou nie maar laat ons tevrede wees met hierdie bondige uiteensetting in verband met die aard van die duiwels, naamlik dat hulle aan die begin van die skepping engele van God was maar dat hulle ontaard het, hulleself bedorwe gemaak en ook vir ander die middele vir hulle verderf geword het. Omdat dit nuttig is om te weet word dit ons duidelik in Petrus en Judas geleer. Hulle sê: "God het die engele wat gesondig het en hulle oorsprong nie bewaar het nie maar hulle tuiste verlaat het, nie gespaar nie.102 En wanneer Paulus sê dat sekere engele uitverkore is, stel hy ongetwyfeld stilswyend daarteenoor dat daar ook verworpe engele is.103

17. Die Satan is ondergeskik aan die Mag van God en word gedwing om God gehoorsaam te wees🔗

Sover dit die twis en stryd aangaan wat ons sê die Satan met God voer: ons moet dit so begryp dat dit intussen onwrikbaar vas bly staan dat die Satan niks kan vermag as dit nie God se wil en goedkeuring wegdra nie. Want in die geskiedenis van Job lees ons dat hy hom voor die aangesig van God gestel het om sy bevele te ontvang en dat hy nie gewaag het om daartoe oor te gaan om die een of ander daad aa.n te pak as hy nie die geleentheid daarvoor gekry het nie.104 Toe Agab oorgehaal  moes word, het hy dit byvoorbeeld op hom geneem om 'n leuengees in die mond van al die profete te wees, en toe hy so deur die Here beveel is, het hy dit uitgevoer.105 Om hierdie rede word die gees wat Saul gefolter het, 'n bose gees van die Here genoem, omdat die sondes van die goddelose koning daardeur soos met 'n gésel gestraf is.106 Elders staan daar geskrywe dat plae deur God met bemiddeling van bose engele oor die Egiptenaars gebring is.107

Volgens hierdie besondere voorbeelde getuig Paulus in 'n algemene stelling dat die verblinding van ongelowiges die werk van God is, hoewel hy dit tevore die werking van die Satan genoem het.108 Dit is dus duidelik dat die Satan aan die mag van God ondergeskik is en dat hy so gedwing word om na God se goeddunke regeer te word om Hom gehoorsaam te wees. Wanneer ons verder sê dat die Satan God weerstaan en dat sy werke met die werke van God bots, verklaar ons terselfdertyd dat hierdie botsing en stryd van die toestemming van God afhanklik is. Ek praat hier nog nie van die duiwel se wil en ook nie van – sy onderneming nie maar slegs van die resultaat daarvan. Want omdat die duiwel van nature boos is, is hy hoegenaamd nie daartoe geneë om die wil van God te gehoorsaam nie maar word hy volkome tot hardnekkigheid en opstand aangedryf. Uit homself en uit sy boosheid spruit dus sy begeerte en voorneme om God teen te staan. Deur hierdie boosheid word hy geprikkel om die dinge aan te durf wat na sy mening God in besonder teenstaan. Maar omdat God hom met die teuels van sy mag deeglik gebonde hou, verrig hy slegs die dinge wat van Godsweë aan hom vergun word. So is hy teen wil en dank aan sy Skepper gehoorsaam, omdat hy gedwing word om sy diens aan te bied waarheen God hom ook al dwing.

18. Ten spyte van die aanslae van die bose sal die Gelowiges uiteindelik oorwin🔗

Maar omdat God die onrein geeste na sy welbehae hierheen of daarheen buig, beheer Hy die mag so dat hulle die gelowiges in hulle geveg kan oefen, met listige streke kan aanval, met hulle aanvegtinge kan verontrus, met hulle geveg benoud kan maak en selfs dikwels kan vermoei, verwar of verskrik of selfs by rye kan verwond, maar nooit kan hulle die gelowiges oorwin of oorweldig nie. Hy beheer dit so dat hulle die goddeloses kan onderwerp en meesleur, dat hulle oor hulle siele en liggame gesag kan voer en hulle soos slawe vir elke oortreding kan misbruik.

Sover dit die gelowiges aangaan: hulle gee gehoor aan die volgende vermanings omdat hulle deur vyande van hierdie aard verontrus word: "Gee aan die duiwel geen plek nie",109 en: "Julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind: hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof",110 en soortgelyke verwysings. Paulus erken dat hy ook nie teen hierdie soort stryd gevrywaar was nie, wanneer hy skrywe dat 'n engel van die Satan aan hom gegee is as 'n middle om sy hoogmoedigheid te beteuel sodat hy deur hom verneder kan word.111

Al die kinders van God deel dus in hierdie stryd. Maar omdat die belofte dat Hy die kop van die Satan sal vermorsel,112 op Christus en op al sy ledemate saam met Hom betrekking het, verklaar ek daarom dat die gelowiges nooit deur hom oorwin of onderdruk kan word nie. Hulle word wel dikwels ontsteld, maar hulle word nooit so moedeloos dat hulle nie kan herstel nie, hulle val wel onder die geweld van syaanslae, maar hulle word daarna weer opgehef; hulle word wel deur hom verwond, maar nie dodelik nie. Kortom: hulle span hulle lewenslank so in dat hulle aan die einde daarvan die oorwinning behaal.

Tog beperk ek dit nie tot elke afsonderlike daad nie. Want ons weet dat Dawid volgens die regverdige wraak van God 'n tyd lank aan die Satan oorgelaat is om op sy aandrang die volk te tel.113 En Paulus laat ook die hoop op vergewing nie as tevergeefs agterweë nie - selfs al sou mense alreeds in die strikke van die duiwel verstrengel wees.114 Daarom toon dieselfde Paulus elders aan dat die belofte wat hierbo aangehaal is, alreeds in hierdie lewe, waarin ons teen die duiwel moet stry, begin. Hy verklaar dat die stryd voltrek word wanneer hy sê: "Maar die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel".115 In ons Hoof, Christus, was hierdie oorwinning altyd ten volle, omdat die vors van die wêreld geen mag oor Hom gehad het nie,116 maar wel ten dele teenoor ons, wat sy ledemate is.

Die oorwinning sal egter volvoer word wanneer ons ons vlees afgelê het, omdat ons weens die swakheid daarvan nog aan die duiwel blootgestel is, en wanneer ons vol sal wees van die krag van die Heilige Gees. Waar die koninkryk van Christus so opgewek en opgerig word, daar stort die Satan en sy mag in duie. So het die Here self gesê: "Ek het die Satan soos 'n bliksem uit die hemel sien val".117 Want met hierdie antwoord bevestig Hy dit wat die apostels in verband met die verkondiging van sy mag vertel het. Net so: "Wanneer 'n vors sy voorhowe beset, is alles wat hy het, veilig; maar wanneer daar een kom wat sterker as hy is, word hy uitgedryf", ensovoorts.118 En met hierdie doel voor oë het Christus deur te sterwe die Satan, wat die gesag oor die dood gehad het, oorwin en oor  al sy magte geseëvier sodat hulle sy kerk geen skade sou berokken nie andersins sou hy die kerk elke oomblik honderd maal oorrompel.

Want hoe sou ons vanweë ons swakheid en vanweë hulle waansinnige magte teen hulle menigvuldige en voortdurende aanslae selfs tot die geringste mate stand kon hou as ons nie op die oorwinning van ons Leidsman vertrou nie? God laat die Satan dus nie oor die siele van die gelowiges heers nie, maar Hy dra slegs die heerskappy oor die goddeloses en ongelowiges aan hom oor, omdat Hy hulle nie waardig ag om onder sy kudde gereken te word nie. Want daar word van hom gesê dat hy hierdie wêreld sonder teenstribbeling sal beset totdat hy deur Christus uitgedryf word.119 Net so: dat hy almal sal verblind wat nie in die evangelie glo nie.120 Net so: dat hy sy werk in die kinders van die ongehoorsaamheid volbring121 en tereg ook, want al die goddelose mense is kruike van sy toorn.122 Aan wie sou hulle dan eerder as aan die dienskneg van God se wraak onderwerp kon word?

Ten slotte word daar gesê dat hulle uit hulle vader, die duiwel, voortkom.123 Want net soos die gelowiges as die kinders van God herken omdat hulle sy beeld dra, net so word hulle na aanleiding van die beeld van Satan; waarin hulle ontaard het, met reg as sy kinders beskou.124

19. Die Opvatting dat die duiwels bose gevoelens of emosies is, het geen Skriftuurlike gronde nie🔗

Maar soos ons vroeër125 die sinlose filosofie in verband met die heilige engele weerlê het omdat die leer dat die engele niks anders as ingewings of goeie vermanings is wat God in die verstand van die mens verwek nie, net so moet ons die mense nou weerlê wat die onsin kwytraak dat duiwels niks anders as bose gevoelens of emosies, wat deur ons eie vlees in ons teweeggebring word, is nie.126 Dit kan ons egter baie bondig doen, omdat daar baie en genoegsaam duidelike getuienis hieroor in die Skrif bestaan.

In die eerste plek, wanneer hulle onrein geeste en afvallige engele genoem word wat van hulle oorsprong af ontaard het.127 dan druk hierdie woorde al genoegsaam uit dat hulle nie gemoedsteurnisse of emosies is nie maar dat hulle in werklikheid eerder, soos gesê word, verstande of geeste is wat met gevoel en intelligensie bedeel is.

Net so is dit wanneer die kinders van God deur Christus sowel as Johannes met die kinders van die duiwel vergelyk word.128 Sou dit dan nie 'n sinnelose vergelyking gewees het as die woord duiwel niks anders as bose ingewings sou aandui nie? Johannes voeg selfs nog ietwat duideliker daaraan toe dat die duiwel van die begin af sondig.129

Net so is dit wanneer Judas die aartsengel Migael in sy stryd met die duiwel voorstel.130 Hy stel 'n bose afvallige engel teenoor 'n goeie engel. Dit wat ons in die geskiedenis van Job lees, stem ook hiermee ooreen, naamlik dat die Satan saam met die heilige engele voor die aangesig van God verskyn het.131 Die duidelikste van al die verwysings is egter dié wat melding maak van die straf wat hulle deur die oordeel van God begin ervaar en wat hulle in besonder in die opstanding sal ervaar: "Seun van Dawid, waarom het U gekom om ons voor die tyd te pynig?"132 En net so: "Gaan weg van my, julle vervloektes, in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele berei is."133 Verder: "As Hy sy eie engele nie gespaar het nie maar hulle in kettings geboei en in die duisternis gewerp het om hulle vir die ewige verdoemenis te bewaar", ensovoorts.134

Hoe dwaas sou die uitsprake dan nie wees dat die duiwels vir die ewige oordeel bestem is, dat 'n vuur vir hulle berei is en dat hulle nou alreeds deur die heerlikheid van Christus gefolter en gepynig word, as daar dan glad geen duiwels was nie? Maar omdat die onderwerp geen bespreking nodig het onder die mense wat in die Woord van die Here glo nie, en omdat die getuienis van die Skrif weinig voordeel inhou onder mense wat ydel daaroor spekuleer omdat niks anders as nuwighede hulle vermaak nie, lyk dit tog vir my asof ek gedoen het wat ek wou, naamlik om godvrugtige verstande teen sulke waansinnighede waarmee onrustige mense hulleself en ook sommige eenvoudiges versteur, toe te rus. Dit was ook die moeite werd om hierdie onderwerp aan te roer om te verhoed dat mense wat in hierdie dwaling verstrik is, traer en onverskilliger word om teen hom weerstand te bied wanneer hulle dink dat hulle geen vyand in hom het nie.

20. Die Eerste bewys van ons Geloof is om te aanvaar dat alles in die Wêreld deur God Geskep is🔗

Intussen moet ons ons nie skaam om godvrugtige behae te skep uit die geopenbaarde werke van God wat ons in hierdie pragtige skouburg omring nie. Want hoewel dit nie die belangrikste bewys van ons geloof is nie, soos ons elders gesê het.135 is dit nogtans volgens die ordening van die natuur die eerste bewys van ons geloof om daaraan gedagtig te wees dat waarheen ons ons oë ook al wend, alles wat ons teenkom, die werke van God is. Terselfdertyd is dit 'n bewys dat ons in godvrugtige oordenking moet nadink oor die doel waarvoor God dit geskep het. Om dus in ware geloof te begryp wat belangrik is om van God te weet, is dit die moeite werd om bowenal aan die geskiedenis van die skepping van die wêreld vas te hou soos dit bondig deur Moses verduidelik is136 en daarna deur heilige manne, in besonder deur Basilius en Ambrosius, breedvoeriger toegelig is.137 Daaruit salons leer dat God met die krag van sy Woord en Gees die hemel en die aarde uit niks geskep het; dat Hy elke soort dier en onstoflike voorwerp hieruit voortgebring en met 'n wonderbaarlike orde 'n ontelbare verskeidenheid dinge van mekaar onderskei het; dat Hy aan elke soort sy eie natuur gegee, hulle pligte toegewys en aan hulle hulle plekke en wonings toegeken het, en verder dat Hy voorsorg getref het dat elke soort tot op die laaste dag ongeskonde bewaar sou word hoewel alles aan bederf blootgestel is. Ons leer verder dat Hy daarop sommige dinge op verborge wyses koester en daarna 'n nuwe krag as 't ware in hulle indrup; dat Hyaan ander die vermoë gegee het om voort te plant om te verhoed dat hulle deur hulle eie ondergang geheel en al sou vergaan. So het Hy die hemel en die aardesover dit moontlik was, wonderbaarlik met 'n volledige oorvloed, 'n verskeidenheid en skoonheid van alle dinge versier net soos 'n ruim en pragtige tuiste wat rnet 'n groot oorvloed van die keurigste meubels gevul en uitgerus is. Laastens het Hy die mens geformeer, hom met so 'n indrukwekkende skoonheid en soveel en sulke groot gawes voorsien en in hom die voortreflikste voorbeeld van sy werke gegee.

Maar omdat dit nie my voorneme is om die skepping van die wêreld hier weer te gee nie, sou dit genoegsaam wees om hierdie enkele aspekte in die verbygaan weer aan te raak. Want soos ek my lesers alreeds vermaan het, is dit beter om 'n vollediger begrip van hierdie onderwerp uit Moses en ander skrywers wat die geskiedenis van die wêreld getrou en noukeurig oorgelewer het, se werke te soek.

21. Ons kan die Grootsheid van die Skeppingswerk van God, wat Sy Mag, Goedertierenheid en Wysheid bewys, nie na behore beskryf nie🔗

Maar dit is van geen belang om met baie woorde 'n bespreking te voer oor die doel waarop die oorweging van die werke van God gerig i's en waarom dit tog vermeld moet word nie, aangesien hierdie vraagstuk ook elders grotendeels afgehandel is138 en sover dit vir die huidige onderwysing van belang is, met 'n paar woorde afgehandel kan word. As ons na waarde 'n uiteensetting sou wil gee van hoe 'n onskatbare wysheid, mag, geregtigheid en goedheid van God daar in die samestelling van die wêreld skitter, sou geen glans, geen sierlikheid van taal opgewasse wees vir 'n taak van so 'n groot omvang nie. Daar is ook geen twyfel daaroor dat dit die wil van die Here is dat ons ons voortdurend met die heilige oordenking daarvan moet besig hou nie. Sy doel daarmee is dat, wanneer ons die onmeetlike rykdom van sy wysheid, regverdigheid, goedheid en mag in al sy skepsels soos in 'n spieël aanskou, ons nie met haastige oë en, om dit so te stel, rakelings daaroor heen moet snel nie maar dat ons lank met die oordenking daarvan besig moet bly, dit ernstig en gelowig in ons gemoedere moet oordink en weer en weer in ons gedagtes daaroor moet nadink. Maar omdat ons nou met die onderwys besig is, betaam dit ons om van die onderwerpe af te sien wat lang debatte vereis.

Om my dus vir die kortste weg te beywer moet my lesers dan weet dat hulle in ware geloof begryp het wat dit beteken dat God die Skepper van die hemel en die aarde is as hulle in die eerste plek die algemene reël volg dat hulle nie die deugde wat God so opsigtelik in sy skepsels openbaar, met ondankbare onbedagsaamheid ofvergeetagtigheid verby moet gaan nie, en daarop dat hulle moet leer om dit so op hulleself toe te pas dat hulle diep in hulle harte daardeur ontroer word. 'n Voorbeeld van die eerste stelling is byvoorbeeld as ons daaroor nadink hoe 'n groot gawe van hierdie Kunstenaar dit was om die menigte sterre wat in die hemel is, op so 'n ordelike wyse te rangskik en dit aan te pas dat niks indrukwekkender bedink kan word om te aanskou as dit nie: om sommige sterre so in te voeg en vas te heg aan hulle bane dat hulle nie daarvandaan kan wegbeweeg nie, en aan ander vryer beweging te vergun, maar rog so dat hulle nie in hulle swerftogte buite hulle ruimte wegdwaal nie. om die beweging van al die sterre so te reël dat dit dae, nagte, maande, jare en seisoene kan afmeet, en ook om die ongelykheid van die dae wat ons daagliks bemerk, so in verhouding te bring dat dit geen verwarring teweegbring nie. So ook wanneer ons die mag waarneem waarmee Hy so 'n groot geheelonderhou, in sy beheer oor die snelle wenteling van die uitspansel van die hemel139 en in soortgelyke dinge.

Want hierdie paar voorbeelde dui genoegsaam aan wat dit beteken om die deugde van God in die skepping van die wêreld te herken. Andersins sou daar geen einde aan wees as ons, soos ek gesê het; die hele onderwerp met redenasies wil uiteensit nie, omdat daar soveel wonders van sy Goddelike mag, soveel tekens van sy goedheid en soveel bewyse van sy wysheid voorkom as wat daar soorte voorwerpe op die wêreld is - ja, soveel dinge, groot of klein, as wat daar is.

22. Die Goedheid van God, die Skepper, moet ons tot Danksegging en Vertroue op Hom bring🔗

Nou bly daar die tweede deel oor, wat nader op die geloof betrekking het,140 naamlik dat ons onsself tot vertroue in Hom, tot gebed, lof en liefde vir Hom moet opwek wanneer ons opmerk dat God alles tot ons voordeel en tot ons heil bestem het, en wanneer ons terselfdertyd sy mag en sy genade teenoor onsself en in sulke groot seëninge wat Hy aan ons gebied het, ervaar. Soos ek my lesers 'n rukkie vantevore vermaan het,141 het die Here juis deur die orde van die skepping bewys dat Hy alles ter wille van die mens skep. Want dit is nie sonder rede dat Hy die skepping van die wêreld oor ses dae versprei het nie.142 hoewel dit vir Hom geen moeite sou gewees het om sy hele werk in 'n oogwenk in alle opsigte te volbring as wat dit was om geleidelik sa te vorder en die voleinding daarvan te bereik nie. Maar dit was sy wil om daarin sy voorsienigheid en vaderlike sorg jeens ons aan te toon dat Hy voor die skepping van die mens alles wat vir hom nuttig en heilsaam sou wees, voorsien het en volkome vir hom voorberei het. 'n Teken van hoe 'n groot ondankbaarheid sou dit dan nie wees om te twyfel of hierdie allerbeste Vader oor ons bekommerd is, terwyl ons sien dat Hy oor ons besorg was nog voordat ons gebore was nie? Hoe goddeloos sou dit nie wees om van wantroue te bewe dat sy goedertierenheid ons soms in ons nood sou verlaat, terwyl ons sien dat die grootste oorvloed alreeds berei is vir mense wat nog nie gebore was nie?

Hierby verneem ons van Moses dat volstrek alles wat op die wêreld is, deur sy milddadigheid aan ons ondergeskik gestel is.143 Dit is gewis en seker dat Hy dit nie gedoen het om ons met 'n leë skyngeskenk te bespot nie. Sover dit ons saligheid aangaan, sal niks ons dus ooit ontbreek nie. Kortom, om nou vir eens en vir altyd 'n einde hieraan te maak: so dikwels as wat ons God die Skepper van hemel en aarde noem, moet dit ons terselfdertyd te binne skiet dat die verskaffing van al die dinge wat Hy geskep het, in sy hande en in sy mag is en dat ons waarlik sy kinders is wat Hy in sy troue beskerming aangeneem het om te voed en te onderrig. Die gevolg is dat ons 'n menigte van alle seëninge van Hom alleen moet verwag en ons hoop vas daarop moet vestig dat Hy nooit sal toelaat dat ons iets wat vir ons heil noodsaaklik is, nodig sal hê nie en dat ons ons hoop nie op iets anders moet vestig nie, dat ons gebede in alles wat ons nodig het, tot Hom gerig sal wees; dat ons die volle vrug wat ons daaruit pluk, as 'n weldaad van Hom moet erken en dit met dankbetoon moet belyen dat ons, deur so 'n groot soetheid van sy goedertierenheid en milddadigheid tot Hom aangetrokke, ons moet beywer om Hom van ganser harte lief te hê en te dien.

Endnotes🔗

  1. ^ Jes. 40:21.
  2. ^ Mentem mundi.
  3. ^ Cicero, De nat. deorum 1.13,33,35 (LCL, 34-35); Lactantius, Div. Inst. 1.5 (CSEL 19,1:10)
  4. ^ Cicero, De nat. deorum 1.9.21 (LCL, 22-25).
  5. ^ Augustlnus, Confessiones 11.12.14 (MPL 32:815).
  6. ^ Vgl. Inst. 1.6.1.
  7. ^ Augustinus, Liber de genesi contra Mantehaeos 1.2.4 (MPL 34:175).
  8. ^ Augustinus, De civ. Dei 11.5 (MPL 41:320 e.v., eest 48:325-326).
  9. ^ Cicero, De nat. deorum 1.9.21.
  10. ^ (Gen. 1:3-31).
  11. ^ Inst. 1.13.22-24.
  12. ^ Inst. 1.15 en 2.1.
  13. ^ Inst. 1.13.1 (p. 211, n.3).
  14. ^ A(,.rouaLa
  15. ^ Calvyn gebruik Augustinus se argument waarmee hy die Manicheërs weerlê het in sy De civ. Dei 19.13: ... natura, in qua nullum bonum sit, non potest (MPL 41:641; eeSL 48:679); ibid., Contra Julianum 1.5.16,17 (MPL 44:650-652). Vgl. ook ibid., Contra Jul.opus imperfectum 1.114, 115 (MPL 45:1124 e.v.).
  16. ^ Petrus Lombardus. Sententiae 2.2-11 (MPL 192:655-675). ealvyn wil juis hier Petrus Lombardus se standpunt in verband met bogenoemde aspekte teengaan. Thomas het nog 'n breedvoeriger uiteensetting in verband met die onderwerp (Summa Theol. 1.1.49-64). Vg1. ook Augustinus, De civ. Dei 11.9 (MPL 41:323-325; CCSL 48:328-33)
  17. ^ Gen. 2:1.
  18. ^ Pseudo-Dionysios Areopagitus, De coelesti hierarchta MPG 3:119-368. Vgl. Luther (WA 6:561 e.v.), waar hy ook hierdie werk verdoem. 'n Reeks werke het ongeveer die 6de eeu onder die naam van Dionysios die Areopagiet verskyn, wat waarskynlik vervals was. Van hierdie tyd af het hulle - ten spyte van hulle twyfelagtige waarde - sterk invloed op die dogma van die Christelike kerk uitgeoefen (REW 5,1:996-998).
  19. ^ 2 Kor. 12:2 (12:2-4); Calvyn, Commentarius in epistolam secundam ad Corinthios 12:2-4 (OC 50:136-138).
  20. ^ (Ps. 103:20).
  21. ^ (Luk. 2:13; Ps. 103:21).
  22. ^ Dan. 7:10.
  23. ^ Kol. 1:10 (1:16; 2:10); Er. 1:21.
  24. ^ Vgl. Calvyn, Commentarius in epistolam ad Colossenses 1:16 (OC 52:85).
  25. ^ Tertullianus, Adv. Marc. 3.9 (CSEL 47:391 e.v., CCSL 1:519-521).
  26. ^ Gen. 18:1; 32:1,28; Jas. 5:14; Rigt. 6:14; 13:22.
  27. ^ Ps. 82:6; vgl. Calvyn, Comment. in Ps. 82:6 (OC 31:771).
  28. ^ Ps. 91:11-12.
  29. ^ Ps. 34:8.
  30. ^ Gen. 16:9.
  31. ^ Gen. 24:7.
  32. ^ .Gen. 48:16.
  33. ^ Ex. 14:19; 23:20.
  34. ^ Rigt. 2:1; 6:11; 13:10 (13:3).
  35. ^ Matt. 4:11.
  36. ^ Luk. 22:43.
  37. ^ Matt. 28:5.7 (28:2); Luk. 24:5 (24:4); Hand. 1:10.
  38. ^ 2 Kon. 19:35; Jes. 37:36.
  39. ^ Vgl. hieroor ook Thomas, Summa. Tbeol, 1, 1.113.1-8.
  40. ^ Dan. 10:13,20 (10:5-6); 12:1.
  41. ^ Matt. 18:10.
  42. ^ Luk. 15:7.
  43. ^ Luk. 16:23 (16:22)
  44. ^ 2 Kon. 6:17.
  45. ^ Hand. 12:15.
  46. ^ Genios. In die Klassieke was die Genius 'n beskermgees wat met die mens as individu net so vas as sy eie siel verbonde was (REW 7,1:115; e.v.; CE 2:601)
  47. ^ Vir die hiërargie en getalle van engele kyk Petrus Lombardus, Sent. 2.9 (MPL 192:669); Thomas, Summa Theol, 1, 1.108.1-7; 1, 1.50.3. Vir hulle gestalte kyk Lombardus, Sent. 2.8 (MPL 192:667); Thomas, Summa Theol. 1, 1.50.1,2,4. In vraag 19 en 20 van die Ortodokse Konfessie van die Oosterse Kerk, Symbola graeca et russica (1643), word die aard en rangorde van die engele selfs bely (Creeds 2:294-298).
  48. ^ Dan. 12:1 (10:13).
  49. ^ Jud.:9
  50. ^ 1 Thess. 4:16.
  51. ^ vgl. Liber Tobiae 12:15, Vg.: Ego enim sum Rafahel angelus unus ex septem.
  52. ^ Matt. 26:55 (26:53).
  53. ^ Dan. 7:10.
  54. ^ (2 Kon. 6:17).
  55. ^ Ps. 34:8.
  56. ^ Calvyn, Contre la secte phantastique et furieuse des Libertins, hfst. 11 en 13 (OC 7:178- 181; 183-186).
  57. ^ (Hebr. 1:14).
  58. ^ (Hand. 23:8).
  59. ^ Hand. 7:53; Gal. 3:19.
  60. ^ Matt. 22:30.
  61. ^ Matt. 24:37 (24:36); Matt. 25:31; Luk. 9:26.
  62. ^ 1 Tim. 5:21.
  63. ^ Hebr. 1:4; 2;16 (2:5)
  64. ^ Hebr. 12:22 (12:23).
  65. ^ (Matt. 18:10)
  66. ^ (Ps. 91: 11).
  67. ^ (Luk. 15:7,10).
  68. ^ (Luk. 15:7,10).
  69. ^ Hebr. 1:4 (1:6); 2:16; 12:22. Vgl. Inst. 1.14.6, 7 hierbo.
  70. ^ Mal. 3:1.
  71. ^ Die engeleverering het reeds vroeg sy verskyning gemaak. Ons kry reeds aanduidings daarvan by Justinus Martyr in sy Apologia 1.6 (MPG 6:335-338). Die ontwikkeling vind in 'n sekere sin sy hoogtepunt by Bernard van Clairvaux (1090-1153). In die laat Middeleeue vind ons nie soseer 'n dogmatiese belangstelling nie maar 'n verdere uitbreiding van die praktyk van engeleverering.
  72. ^ Kol. 1:16,20
  73. ^ Openb. 19:10 (22:8,9).
  74. ^ Alea is oorspronklik 'n dobbelsteentjie, wat spreekwoordelik besondere bekendheid verwerf deur Julius Caesar se woorde in 149 V.C. by die Rubicon, nl.: alea iacta est (TLL 1:1521).
  75. ^ 2 Kon. 6:17 (6:15-17).
  76. ^ (2 Kon. 6:16).
  77. ^ Gen. 28:12.
  78. ^ Verwysing binne die teks. Joh. 1:51 (1:52).
  79. ^ Gen. 24:7 (24:12).
  80. ^ Marg. Plat. In Epinomide et Cratylo.Plato, Epinornis 984 E; Cratyius 398 A. Vgl. Benoit 1:196, n. 2: "Mais la mention du Craryle paraît avoir été faite par erreur".
  81. ^ Hierdie opmerking van Calvyn sien op Neoplatoniste, Skolastici en Humaniste. Vgl. o.a. Bohatec, Budé und Calvin, 106 e.v
  82. ^ (2 Kor. 4:4).
  83. ^ (Joh, 12:31).
  84. ^ (Luk. 11:20-21; Matt. 12:29).
  85. ^ (Ef. 2:2).
  86. ^ (1 Petr. 5:8).
  87. ^ 1 Petr. 5:8
  88. ^ (1 Petr. 5:9).
  89. ^ Ef. 6:12.
  90. ^ (Ef. 6:13).
  91. ^ (Jak. 4:7); Die militia Christi was in die geskrifte van die kerkvaders altyd 'n belangrike tema.
  92. ^ (Hebr. 12:4)
  93. ^ Mark. 16:9.
  94. ^ Matt. 12:42 (12:45).
  95. ^ Luk. 8:30
  96. ^ Matt. 25:41.
  97. ^ (Gen. 3:1-5).
  98. ^ Matt. 13:28 (13:25,39).
  99. ^ Joh. 8:44.
  100. ^  (1 Joh. 3:8).
  101. ^ Joh. 8:44.
  102. ^ 2 Petr. 2:4; Jud.:6.
  103. ^ 1 Tim. 5:21
  104. ^ Job 1:6; 2:1.
  105. ^ 1 Kon. 22:20 (22:21).
  106. ^ 1 Sam. 16:14; 18:10.
  107. ^ Ps. 78:49; 77:49 Vg.: per angelos malos; Afr.: '''n uitsending van ongeluksbodes..."
  108. ^ 2 Thess. 2:9,11 (2:1 - 10; 2 Kor. 4:4; Ef. 2:2).
  109. ^ Ef. 4:27.
  110. ^ 1 Petr. 5:8 (5:9).
  111. ^ 2 Kor. 12:7.
  112. ^ Gen. 3:15.
  113. ^ 2 Sam. 24:1
  114. ^ (2 Tim. 2:25,26).
  115. ^ Rom. 16:20.
  116. ^ (Joh, 14:30)
  117. ^ Luk. 10:18.
  118. ^ Luk. 11:21 (11:21-22).
  119. ^ (Joh. 12:31.)
  120. ^ 2 Kor. 4:4.
  121. ^ Ef. 2:2.
  122. ^ Vasa irae (Rom, 9:22 Vg.)
  123. ^ Joh. 8:44.
  124. ^ 1 Joh. 3:8(3:8-10).
  125. ^ Inst. 1.14.9.
  126. ^ Calvyn, Contre la secte phantastique etfurieuse des Libertins 12,23 (OC 7:181, 228).
  127. ^ (Jud.:6). Afr. vert.: " ...die engele wat hulle eie beginsels nie bewaar het nie ...''
  128. ^ Joh. 7:44 (8:44); Joh. 3:10 (1 Joh. 3:10).
  129. ^ 1 Joh. 3:8(3:8-10).
  130. ^ Jud.:9
  131. ^ Job 1:6; 2:1.
  132. ^ Matt. 8:29.
  133. ^ Matt. 25:41.
  134. ^ Matt. 25:41.
  135. ^ Inst. 1.5.1-3.
  136. ^ (Gen. 1 en 2).
  137. ^ Basilius Magnus, Homiliae 9 in Hexaemeron (MPG 29:3-207); Ambrosius, Hexaemeron (MPL 14:123-274).
  138. ^ Inst. 1.5.1.4.
  139. ^ Caelestis machinae. Vgl. Inst. 1.10.1.
  140. ^ vgl. Inst. 1.14.2. Die eerste deel van die redenasie is in die vorige seksie (1.14.21) behandel.
  141. ^ Ibid.
  142. ^ (Gen. 1:31.)
  143. ^ Gen. 1:28; 9:2.