Enige afbeelding van God onteer sy majesteit en word deur Hom verbied. Hoewel God hom self wel partykeer openbaar (bv. in wolke, rook en vlamme, in menslike gestalte of as ‘n duif), gee dit nie die mens die reg om ‘n beeld van God te maak nie. Énige gelykenis van Hom deur énige kunstenaar, word in die Skrif verbied.

Afbeeldings is tiperend van bygeloof. Dit mag ook nie as boeke van die leke beskou word nie. Die profete, sowel as die kerkvaders, bevestig dat ons God nie só kan leer ken of mag aanbid nie. Dit is altyd afgodediens wanneer die eer van God aan 'n afgod betoon word. Dit is duidelik in bv. die Roomse Kerk. Die doop en die nagmaal is die enigste lewensgetroue ‘beelde’ wat die Here deur sy Woord geheilig het.

Ons moet wel erken dat beeldhou en skilder gawes van God is. Dit moet egter tot sy heerlikheid gebruik word, en nie onbetaamlik nie.

Ten slotte verduidelik Calvyn waarom die Sinode van Nicéa (787 nC) gefouteer het in hul besluite rakende beelde in die kerk.

1984. 21 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 1 Hoofstuk 11 Dit is nie geoorloof om aan God ‘n sigbare gedaante te gee nie en oor die algemeen wyk almal wat vir hulleself afgode oprig, van die ware God af

1. Die Mens word Verbied om Enige Afbeelding van God te maak🔗

Maar soos die Skrif die onkundige en ruwe verstand van die mens in ag neem en gewoonlik in die alledaagse taal spreek wanneer dit die ware God van die valse gode wil onderskei, stel dit God ook besonderlik teenoor die afgode. Dit doen die Skrif nie omdat dit die opvattinge wat filosowe met groot subtiliteit en elegansie leer, goedkeur nie, maar om die dwaasheid van die wêreld, ja, sy waansin in sy soeke na God te ontmasker so lank as wat elkeen aan sy eie spekulasles in verband daarmee verknog is. Die uitsluitlike beskrywing van God wat oral daarin voorkom, maak dus elke vorm van godheid wat die mens uit eie opvatting vir homself skep, tot niet omdat God alleen 'n bekwame getuie van Homself is.1

'n Redelose stompsinnigheid het die hele wêreld intussen hier beetgepak om sigbare beelde van God na te jaag. Gevolglik het hulle gode van hout, klip, goud, silwer of ander dooie en bederfbare materiaal gemaak. Daarom moet ons aan hierdie beginsel vashou dat die heerlikheid van God deur goddelose leuentaal geskend word so dikwels as wat enige gestalte aan Hom toegedig word. Nadat God dus in sy wet die heerlikheid van sy Godwees vir Homself opgeëis het, en wanneer Hy ons wil leer watter vorm van aanbidding Hy goedkeur of afkeur, voeg Hy onmiddellik daarop by: "Jy mag geen gesnede beeld of enige gelykenis maak nie".2 Met hierdie woorde lê Hy ons bandeloosheid aan bande sodat ons nie mag poog om Hom in enige sigbare gestalte weer te gee nie.

Hy noem ook kortliks al die vorms op waarin die bygeloof alreeds eenmaal begin het om die waarheid in die leuen te verander. Want ons weet dat die son deur die Perse aanbid is. Die heidene het in hulle dwaasheid net soveel gode vir hulleself versin as wat hulle sterre in die hemel kon sien. Daar was feitlik nie 'n dier wat die Egiptenare nie as 'n afbeelding van 'n god beskou het nie. Vir die Grieke het dit weer gelyk asof hulle meer wysheid as al die ander het omdat hulle hulle god in die gestalte van 'n mens gedien het.3

En tog vergelyk God die beelde nie met mekaar asof die een meer en die ander minder betaamlik is nie. Maar Hy verwerp sonder uitsonderingalle beelde, skilderye an ander tekeninge waarmee bygelowiges dink dat Hy naby hulle sal wees.

2. Elke Vergestalting van God Onteer Sy Majesteit🔗

Dit kan geredelik afgelei word uit die redes wat Hy by die verbod voeg. Eerstens kom die volgende in Moses voor: "Dink daaraan dat die Here in die dal Horeb tot jou gespreek het; jy het sy stem gehoor maar sy liggaam nie gesien nie. Neem jouself dus in ag dat jy jouself nie mislei en vir jou enige gelykenis maak nie, ensovoorts".4 Hier sien ons dat God sy stem duidelik teenoor alle beelde stel sodat ons mag weet dat elkeen wat sigbare beelde van Hom najaag, van God afwyk.

Onder al die profete sal Jesaja alleen genoeg wees. Sy verduideliking leer ons breedvoerig dat die majesteit van God deur 'n onbetaamlike en sinnelose verdigsel verontreinig word wanneer Hywat geen liggaam het nie, met liggaamlike materiaal; wanneer Hy wat onsigbaar is met 'n sigbare beeld; wanneer Hy wat Gees is, met 'n lewelose voorwerp en wanneer Hy wat oneindig is, met 'n klein stukkie hout klip of goud nageboots word.5 Paulus se redenasie is dieselfde: "Aangesien ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die Godheid aan goud of silwer of klip, die beeldwerk van menslike kuns of uitvinding gelyk is nie".6 Hieruit is dit duidelik dat elke beeld wat opgerig of elke afbeelding wat geskilder word om God te vergestalt, Hom doodeenvoudig mishaag as 'n ontering van sy majesteit. Is dit dan verbasend as die Heilige Gees hierdie godsprake vanuit die hemel laat weergalm aangesien Hy ellendige en blinde afgodedienaars dwing om van die aarde af ook so 'n belydenis af te lê? Die klagte van Seneca wat ons in Augustinus kan lees, is bekend. Hy sê naamlik: "Hulle stel die heilige, onsterflike en onskendbare gode in die goedkoopste onedele materiaal voor en hulle beklee hulle met die gestalte van mense en diere. Sommige van hulle is trouens dubbelslagtig en het verskillende liggame. Hulle noem dit gode wat as hulle jou in lewende lywe sou teëkom, as gedrogte beskou sou word".7

Hieruit blyk weer baie duidelik dat die beskermers van beelde met 'n onbeduidende uitvlug probeer wegkom. Hulle voorwendsel is dat beelde vir die Jode verbode was omdat hulle tot bygeloof geneig was.8 Net asof iets wat God uit sy ewige Wese en die voortdurende orde van die natuur voortbring, net maar op een volk betrekking sou hê! Maar Paulus praat nie met die Jode nie maar met die Atheners wanneer hy die dwaling wat begaan word wanneer God afgebeeld word, weerlê.

3. Die Feit dat God Sy Goddelike Mag soms Openbaar, bied geen regverdiging daarvoor om Hom af te Beeld nie🔗

God het wel soms die teenwoordigheid van sy Goddelike mag met bepaalde tekens geopenbaar, sodat gesê kan word dat Hy van aangesig tot aangesig gesien kon word. Maar al die tekens wat Hy ooit daarvan gegee het, was voortreflik gepas om ons te onderwys en terselfdertyd het hulle die mens duidelik vermaan in verband met die onbegryplikheid van sy Wese.

Want hoewel die wolke, die rook en die vlamme simbole van sy hemelse heerlikheid was, het dit die verstand van almal aan bande gelê asof 'n teuel op hulle gelê is om nie te poog om die tekens dieper te deurgrond nie.9

Daarop het selfs nie eens Moses, aan wie Hy Hom bo ander met die grootste vertroudheid geopenbaar het, met sy gebede dit reggekry om sy aangesig te aanskou nie. Ja, hy het as antwoord daarop verneem dat 'n mens nie by magte is om so 'n groot glans te aanskou nie.10

Die Heilige Gees het in die gedaante van 'n duif verskyn.11 Maar wie kan nie sien dat toe dit weer eensklaps verdwyn het, die gelowiges deur die teken van 'n oogwenk vermaan is dat hulle moet glo dat die Gees onsienlik is nie? Die doel daarvan was dat hulle met sy krag en genade tevrede moes wees en geen uitwendige gestalte vir hulle moet soek nie. Want die feit dat God soms in die gedaante van 'n mens verskyn het, was 'n voorspel tot sy openbaring in Christus in die toekoms. Gevolglik was dit die Iode glad nie veroorloof om onder dekmantel hiervan in die gestalte van 'n mens vir hulle 'n teken van goddelikheid op te rig nie.

Die versoendeksel, vanwaar God die nabyheid van sy krag onder die wet beoefen het, was ook so saamgestel dat dit te kenne gegee het dat die beste aanskouing van sy Godheid voorgekom het wanneer hulle hulle gemoedere uit verwondering tot Hom verhef.12 Want gerubs het dit met uitgespreide vleuels bedek; die voorhangsel het dit verberg; die ver afgesonderde ligging daarvan het dit op sigself genoegsaam versteek. Daarom is dit baie duidelik dat die mense van hulle verstand af is wat beelde van God en heiliges na aanleiding van die voorbeeld van die gerubs probeer verdedig.13

Want wat, vra ek jou, is die betekenis van hierdie beeldjies anders as net dat hulle nie geskik is om die geheimenisse van God weer te gee nie? Want hulle is tog gemaak om met hulle vleuels die versoendeksel te bedek en nie alleen die oë van die mens nie maar ook al sy sintuie te verhinder om God te aanskou en sodoende die roekeloosheid van die mens reg te stel.

Hierby kom dat die profete die serafyne wat in gesigte aan hulle verskyn het, vir ons met bedekte gelaat skets.14 Daarmee dui hulle aan dat die glans van die heerlikheid van God so groot is dat ook engele self daarvan weerhou word om God regstreeks te aanskou. Die klein vonkies van sy heerlikheid wat in die engele skitter, is ook vir ons oë verborge. En tog erken almal wat dit reg beoordeel, dat die gerubs wat nou onder behandeling is, tot die ou onderwysing van die wet behoort. Dit is gevolglik onvanpas om hulle as 'n voorbeeld wat ook vir ons leeftyd kan geld, by te sleep.

Want die eeu van kindwees, om nou maar so daarvan te praat, waarvoor onderwysings van hierdie aard bedoel was, het reeds verbygegaan.15 En dit is inderdaad 'n skande dat die heidense skrywers bekwamer uitlêers van die wet van God is as die pousgesindes.

Juvenalis verwyt die Jode spottend omdat hulle suiwer net wolke en 'n godheid van die hemel aanbid.16 Hy is wel verkeerd en goddeloos, maar tog spreek hy 'n baie waar woord as hy sê dat daar by hulle nie 'n beeld van hulle God bestaan nie anders as by die pousgesindes, wat klets dat daar wel 'n sigbare gestalte van God onder hulle bestaan het.17 Maar die feit dat die volk kort-kort in hulle soektog na afgode in 'n vurige drif uitgebars het en soos water met geweldige krag uit 'n magtige fontein uitgeborrel het, moet ons eerder leer hoe groot ons neiging van nature tot afgodediens is, sodat ons nie, deur die skuld vir bierdie algemene oortreding op die jode af te skuif, onder ydele lokmiddels van die sonde in 'n dodelike slaap verval nie.

4. Die Skrif verbied Beelde en Skilderye van God🔗

Die volgende het dieselfde strekking: die afgodsbeelde van die heidene is silwer en goud - die werk van mensehande.18 Want die profeet lei nie alleen uit die materiaal daarvan af dat hulle nie gode is nie omdat hulle uit goud of silwer is, maar ook lei hy uitdruklik af dat alles wat ons na eie goeddunke in verband met God bedink, 'n dwase versinsel is.

Hy noem dit eerder goud en silwer as klei of klip, sodat die glans of waarde daarvan nie eerbied vir die afgode teweeg sou bring nie. Hy kom nogtans tot die algemene slotsom dat niks minder waarskynlik is as dat die gode uit een of ander dooie materiaal bestaan nie. Intussen dring hy aan die ander kant nie minder daarop aan nie dat die sterflike mens deur 'n uitermatige rasende onbesonnenheid in vervoering gebring word, omdat hy waag om die eer van God op afgode oor te dra hoewel hyelke oomblik van sy lewe in sy benarde toestand sy verganklike asem inhaal.

Die mens sal gedwing word om te erken dat hy 'n eendagwese is, en nogtans sal hy die begeerte koester om die metaal waaraan hy die oorsprong van sy godheid gegee het, as God te beskou. Want waaruit het afgode hulle oorsprong anders as net uit die goeddunke van die mens? Die volgende bespotting van 'n bekende heidense digter is dus deeglik gegrond:

Eenmaal was ek 'n stam van 'n wildevyeboom - 'n waardelose stuk hout; en tog was die skrynwerker onseker of hy van my 'n bank moes maak; hy het verkies dat ek liewer 'n god moes wees.19

Siedaar! 'n aardse mensie wat feitlik enige oomblik sy asem gaan uitblaas, sal die Naam en die eer van God in sy kunswerk op 'n dooie stomp oordra!20 Maar omdat hierdie aanhanger van Epikuros met sy fyn bespotting hom oor geen godsdiens bekommer het nie, moet ons van sy sarkasme en dié van mense soos hy afsien. Laat die teregwysing van die profeet ons eerder prikkel, ja, laat dit ons deurboor, naamlik dat die mense uitermatig waansinnig is wat hulle met dieselfde hout verwarm,'n oond aansteek om brood te bak en vleis te braai of te kook en dan 'n god daaruit te maak voor wie hulle hulle eerbiedig neerwerp om tot hom te bid.21 Daarom beskuldig hy hulle nie soseer na aanleiding van die wet nie, maar hy verwyt hulle elders22 omdat hulle nie uit die grondlegging van die aarde geleer het nie, naamlik dat niks minder betaamlik is as om God, wat grensloos en onbegryplik is, te verklein tot 'n afmeting van vyfvoet nie. En tog toon die gebruik aan dat hierdie gedrog wat oop en bloot met die natuurorde in stryd is, 'n natuurlike eienskap van die mens is.

Voorts moet ons in gedagte hou dat die bygelowe oral met dié wyse van spreke gebrandmerk word, naamlik dat dit werke van mensehande is wat sonder die gesag van God is.23 Die gevolg is dat dit onwrikbaar vasstaan dat elke vorm van godsdiens wat die mens uit homself uitdink, verfoeilik is. In die psalm vergroot die profeet hulle raserny omdat hulle die hulp van dooie voorwerpe wat sonder gevoel is, inroep. Hulle is nogtans juis om dié rede met verstand begaaf, om te weet dat alles deur die krag van God beweeg word. Maar omdat die bedorwenheid van hulle natuur sowel alle volkere as elke mens afsonderlik na so 'n groot waansin meesleur, donder die Heilige Gees uiteindelik hierdie verskriklike vloek oor hulle: Laatdie wat hulle maak, net soos hulle word - en elkeen wat op hulle vertrou.24

Ons moet egter daarop let dat 'n skildery sowel as 'n beeld verbied word. Hiermee word die sinnelose verskoning van die Grieke weerlê. Want hulle dink dat hulle hulle plig pragtig nagekom het as hulle God nie in beelde uitbeeld nie, terwyl hulle met groter losbandigheid as al die ander heidene in skilderye vrye teuels aan hulle luste gee.25 En tog verbied die Here nie net dat 'n beeld nie deur 'n beeldhouer vir Hom gemaak mag word nie, maar ook dat enige gelykenis van Hom deur enige kunstenaar weergegee mag word, omdat Hy verkeerdelik en tot versmading van sy majesteit so afgebeeld word.

5. Beelde kan nie as die "boeke van leke" beskou word nie, omdat die Profete elke Vorm van die Kennis van God wat so verkry word, as vals en bedrieglik verdoem het🔗

Ek weet wel dat die algemene uitdrukking dat beelde die boeke van leke is, al meer as verslete is. Gregorius het dit al gesê.26 Maar die Gees van God lê 'n heel ander verklaring af, en as hy daarin geskoold was, sou hy dit nooit gesê het nie. Want wanneer Jeremia verklaar dat hout 'n leer tot ydelheid is,27 en wanneer Habakuk leer dat 'n beeld 'n onderwyser van die leuen is,28 dan moet ons sekerlik hieruit die algemene leerstelling aflei dat alles wat die mens in verband met God uit beelde kan leer, gevaarlik en ook leuenagtig is. As iemand hierteen die beswaar sou opper dat die mense wat beelde vir goddelose bygeloof misbruik het, deur die profete bestraf word,29 erken ek dit wel. Maar dan voeg ek tog by - en dit is iets wat aan almal bekend is - dat die profete die uitdrukking dat beelde soos boeke is, wat die pousgesindes as 'n onwrikbare beginsel aanvaar, verdoem. Want die profete stel beelde teenoor God, wat as teenoorgesteldes nooit met mekaar gerym kan word nie.

Hierdie vergelyking, sê ek, word gestel in die verwysings wat ek so pas aangehaal het, naamlik dat, aangesien daar maar net een ware God is wat die jode gedien het, verkeerdelik en ook valslik sigbare beelde geskep word om God voor te stel en dat almal droewig mislei word wat probeer om kennis van God in dié bron te soek. Kortom: as dit nie die toedrag van sake was nie, sou die profete nie elke vorm van die kennis van God wat uit beelde geput word, so algemeen as vals en bedrieglik verdoem het nie.

Nou het ek dit ten minste in my guns, naamlik dat ons niks anders doen  nie as om woord vir woord weer te gee wat die profete geleer het wanneer ons leer dat dit ydel en leuenagtig is dat die mens poog om God met beelde weer te gee.

6. Getuienis uit die Kerkvaders bevestig ook dat ons God nie uit Beelde kan Leer ken nie🔗

Daarbenewens moet ook gelees word wat Lactantius30 en Eusebius31 in verband hiermee geskrywe het. Hulle aarsel nie om dit as gewis en seker te aanvaar dat almal van wie beelde gesien kan word, sterflike mense was nie. Augustinus doen dieselfde.32 Hy verklaar sonder voorbehoud dat dit sondig is nie alleen om beelde te aanbid nie maar ook om dit vir God op te rig.33 Tog sê hy dieselfde as 'n besluit wat baie jare tevore in die Konsilie van Elvira geneem is. Die ses-en-dertigste hoofstuk daarvan lui: Die kerkvergadering het besluit dat geen skilderye in ons kerke aangehou mag word  nie en dat geen skildery op die mure daarvan aangebring mag word wat gedien of aanbid word nie.34

Maar die aanhaling wat Augustinus elders uit Varro35 put, is besonder gedenkwaardig. Augustinus onderskryf en bekragtig dit ook, naamlik dat die mense wat eerste beelde van die gode ingevoer het, hulle van hulle vrees ontneem en die dwaling versterk het.36 As Varro alleen die bewering gemaak het, sou dit miskien weinig gesag gehad het. Tog sou dit ons tereg met skaamte moes vervul het dat 'n heiden wat in die duisternis rondgetas het, tot hierdie lig gekom het, naamlik dat tasbare beelde die majesteit van God nie waardig is nie omdat hulle die mens se vrees vir God verminder en hulle dwaling laat toeneem. Die werklikheid getuig sekerlik daarvan dat sy bewering waar en wys was.

Maar Augustinus bring dit wat hy aan Varro ontleen het, uit eie gevoel aan die lig. Eerstens leer hy ons dat die eerste dwalinge in verband met God waarin die mens verstrik geraak het, nie by beelde begin het nie maar dat die dwalinge toegeneem het toe nuwe materiaal daarby gevoeg is.37 Ten tweede verklaar hy dat die vrees vir God verminder of selfs tot niet gemaak word omdat sy Godheid maklik in die dwaasheid van die beelde en die onpaslike en onsinnige versinsel daarvan geminag kan word. Het ons tog maar net nie uit eie ervaring geleer dat die tweede punt so waar is nie!

Wie ook al dus die begeerte koester om na behore geleer te word, moet gevolglik van elders as van beelde leer wat hy van God moet weet.

7. Die Onwelvoeglikheid van die Pousgesindes se Beelde het tot Verwronge Onderwysing gelei🔗

As die pousgesindes dan nog enige skaamte het, moet hulle daarom hierna nie weer van die uitvlug gebruik maak dat beelde die boeke van leke is nie, omdat hulle stelling so duidelik deur baie getuienis van die Skrif weerlê word. Selfs al sou ek dit nog toegee, sou hulle nogtans nie veel in die verdediging van hulle afgode vorder nie. Dit is bekend watter soort gedrogte hulle in die plek van God aan mense opdring.

Maar wat is die skilderye of standbeelde wat hulle aan heiliges wy, anders as voorbeelde van die verderflikste praal en onwelvoeglikheid? As iemand hom daarvolgens sou wou vorm, sou hy 'n pak slae verdien. Bordele stel weliswaar hoere wat met groter kuisheid en beskeidenheid beklee is, ten toon, as wat hulle kerke die sogenaamde beelde van maagde vertoon. Vir martelare versin hulle 'n voorkoms wat ewe onpaslik is. Laat hulle dus hulle afgode ten minste met 'n matige bekeidenheid klee, sodat hulle met 'n klein bietjie meer ontsag kan lieg dat dit boeke van. die een of ander heiligheid is.

Maar dan salons antwoord daarop ook nog wees dat dit nie die wyse is waarop die gelowiges in heilige plekke onderwys moet word nie. God wil naamlik dat sy volk met 'n heeltemal ander onderwysing as hulle treurmares onderwys moet word. Hy het gebied dat die algemene leer in die verkondiging en in die heilige geheimenisse van sy Woord daar aan almal voorgehou moet word. Mense wat hulle laat mislei om met hulle oë afgode te aanskou, toon aan dat hulle weinig toewyding en ywer vir die leer het.

Maar wie noem die pousgesindes dan leke, wie se onkunde slegs deur beelde onderrig kan word? Natuurlik is dit die mense wat die Here as sy dissipels erken en wat Hy waardig ag om sy hemelse wysheid aan hulle te openbaar. Dit is mense wat Hy in die verborgenhede van sy koninkryk tot hulle heil wil laat opvoed. Ek erken inderdaad dat soos sake tans staan, daar vandag baie mense is wat nie sonder sulke boeke kan klaarkom nie. Maar van waar kom hierdie stornpsinnigheid, vra ek jou, anders as om hulle van die leer te beroofwat alleen geskik is om hulle te vorm? Want die mense wat oor die kerk gestel is, het die onderwysingsamp om geen ander rede aan afgode toegewys as net omdat hulle self stom was nie.

Paulus getuig dat Christus deur die opregte verkondiging van die evangelie afgeskilder en so voor ons oë gekruisig word.38 Wat is dan die doel daarvan dat daar oral in hulle kerke kruise van hout, klip, silwer en goud opgerig word as dit ons, soos dit hoort, getrou ingeprent word dat Christus gesterf het om ons vloek aan die kruis te dra, deur die offerande van sy liggaam vir ons sondes versoening te doen en met sy bloed af te was en ons uiteindelik met God die Vader te versoen? Hieruit alleen kon hulle meer leer as uit duisend kruise van hout of van klip want gieriges vestig miskien hulle verstand en oë vaster op hulle silwer- en goue kruise as op enige woord van God.

8. Die Mens se Verstand skep voortdurend Nuwe afgode en sy hand gee daaraan Vorm in sy Begeerte om vir hom 'n Sigbare god voor te stel🔗

Verder is die uiteensetting in verband met die oorsprong van afgode soos dit in die boek Wysheid weergegee word,39 oor die algemeen deur almal aanvaar. Daarin staan naamlik geskryf dat die eerste skeppers daarvan mense was wat aan gestorwenes hierdie eer bewys het om hulle nagedagtenis bygelowig te eerbiedig.40 Ek erken inderdaad dat hierdie verwronge gebruik baie oud is, en ek ontken ook nie dat dit 'n fakkel was waardeur die waansin van die mens aangevuur is en al hoe meer opgevlam het nie. Maar tog gee ek nie toe dat dit die eerste bron van die kwaad was nie. Want uit Moses se boeke is dit bekend dat afgode alreeds gebruik is nog voordat die gejaag daarna om beelde vir afgestorwenes op te rig, veld gewen het. In heidense skrywers word dit herhaalde kere vermeld.41 Wanneer Moses vertel dat Ragel haar vader se afgode gesteel het, praat hy daarvan as 'n algemene oortreding.42 Daaruit kan ons aflei dat die mens se verstand, om dit so te stel, voortdurend 'n fabriek van afgode is.

Na die sondvloed het daar 'n wedergeboorte van die wêreld plaasgevind, maar tog het daar nie baie jare verloop voordat die mens na sy willekeur vir hom gode versin het nie. Ons kan ook glo dat die heilige aartsvader nog gelewe het toe sy nasate hulle aan afgodediens oorgegee het, sodat hy nie sonder die bitterste smart nie met sy eie oë moes aanskou dat die aarde waarvan God die bedorwenheid nog maar so pas met sy verskriklike gerig gereinig het, met afgode verontreinig word. Want soos Josua getuig, het Tera en Nahor alreeds voor die geboorte van Abraham valse gode gedien.43 Aangesien die nageslag van Sem sa vining afgewyk het, wat salons oordeel dan oor die nageslag van Gam wees, terwyl hulle reeds vroeër in hulle vader vervloek was?44

Dit is gewis so: namate die mens se verstand met hooghartigheid en onbesonnenheid volgestop is, waag hy om God na sy bevatlikheid in sy verbeelding voor te stel; namate sy verstand onder sy stompsinnigheid swoeg, ja, onder die grofste onkunde begrawe is, versin dit ydelheid en 'n sinnelase skim in die plek van God. By hierdie euwels kom die ongekende boosheid dat die mens die durf aan die dag lê om God in sy werk voor te stel soos hy Hom in sy gemoed begryp het. Sy verstand skep dus sy afgod en sy hand gee daaraan vorm.

Die voorbeeld van die Israeliete toon dat dit die oorsprong van afgodediens is, naamlik dat die mens nie glo dat God naby hom is nie behalwe as God Hom ook vleeslik aan hom openbaar. Hulle het gesê: "Ons weet nie wat met Moses gebeur het nie - maak vir ons gade om voor ons uit te trek".45 Hulle het wel geweet dat God bestaan, omdat hulle sy krag in soveel wonderwerke ervaar het; maar hulle het nie vertrou dat Hy naby hulle is nie, tensy hulle 'n liggaamlike teken van sy aangesig kon aanskou om vir hulle te getuig dat God hulle regeer. Uit die beeld wat hulle voorgegaan het, sou hulle dus kennis neem daarvan dat God hulle op hulle reis geleide gedoen het. Daaglikse ervaring leer ons egter dat ons vlees voortdurend rusteloos is totdat dit 'n versinsel soos hyself gevind het waarin hy hom, in plaas van in die beeld van God, ydel kan vertroos. Om dus hierdie blinde begeerte te gehoorsaam het die mens in feitlik alle eeue sedert die skepping van die wêreld beelde opgerig waarin hulle geglo het dat God voor hulle vleeslike oë aanwesig is.

9. Wanneer die Eer van God aan 'n afgod betoon word, is dit altyd afgodediens🔗

Aanbidding volg onmiddellik op so 'n versinsel, want aangesien die mens gedink het dat hy God in sy beelde kon aanskou, het hy Hom ook daarin gedien. Uiteindelik het hulle hulle met hart en oë daaraan vasgenael en begin om nog stompsinniger te word, en asof iets van sy Godheid daarin aanwesig was, het hulle begin om dit in verdwasing te bewonder. Dit staan in elk geval vas dat die mens nie in beeldediens uitgebars het voordat hy nie met 'n baie growwe opvatting in verband daarmee bevange was nie - nie omdat hulle dink dat hulle beelde gode is nie, maar omdat hulle hulle verbeel dat 'n goddelike krag daarin woon.

As jy God of 'n skepsel dus vir jou in 'n beeld voorstel en as jy jou daarvoor neerbuig om dit te eerbiedig, is jy alreeds deur bygeloof betower. Daarom het die Here nie alleen verbied dat beelde opgerig word wat gemaak is om Hom af te beeld nie, maar ook dat alle inskripsies en klippe geheilig word wat tot sy aanbidding misbruik sou kon word.

Daarom word daar in die voorskrifvan die wet ook 'n tweede deel in verband met sy aanbidding bygevoeg. Want sodra 'n sigbare gestalte aan God toegedig word, word sy krag ook daaraan verbind. Die mens is so onverstandig dat hy God vasheg aan al die plekke waar hy Hom afbeeld. Daarom kan hy ook nie anders as om Hom daar te aanbid nie. Dit maak ook geen verskil of hy doodeenvoudig net 'n afgod of God in sy afgod vereer nie. Dit is altyd afgodediens wanneer die eer van God onder watter dekmantel ook al aan 'n afgod betoon word.46 En omdat God nie bygelowig gedien wil word nie, word Hy van al die eer wat aan 'n afgod betoon word, beroof. Laat almal dit dan ter harte neem wat treurige voorwendsels najaag om 'n verfoeilike afgodediens te verdedig waardeur die ware godsdiens eeue tevore alreeds ondergedompel en vernietig is.

"Maar", sê hulle, "ons beelde word tog nie as gode beskou nie.47 Die Jode was ook nie so onbesonne dat hulle nie daaraan gedink het dat dit God was deur wie se hand hulle uit Egipte gelei is voordat hulle die kalf gemaak het nie. Ja, toe Aäron vir hulle sê dat dit die gode is deur wie hulle uit Egipteland verlos is, het hulle onversaag hulle instemming daarmee betuig en sonder aarseling te kenne gegee dat hulle Hom as die God wat hulle verlos het, wil behou, mits hulle Hom kon aanskou wanneer Hy hulle in die beeld van 'n kalf vooruitgaan.48

Ons moet ook nie glo dat die heidene so onnosel was dat hulle nie kon besef dat God iets anders as hout of klippe is nie. Hulle het immers hulle beelde na willekeur verander maar altyd dieselfde gode in hulle harte behou. Een god het ook baie beelde gehad, en tog het hulle nie uit die menigte beelde van die een god meer gode versin nie. Daarbenewens het hulle elke dag nuwe beelde ingewy, maar tog het hulle nie gedink dat hulle nuwe gode skep nie. Lees maar die verskonings wat volgens  Augustinus deur die afgodedienaars van sy tyd as dekmantel gebruik is. Wanneer hulle van afgodediens aangekla is, het die gewone mense geantwoord dat hulle nie die sigbare beeld dien nie maar die godheid wat onsigbaar daarin woon. Soos Augustinus self vertel, het die mense wat 'n suiwerder godsdiens aangehang het, verklaar dat hulle nog die beeld nog 'n gees daarin gedien het, maar dat hulle deur die liggaamlike afbeelding die kenteken van die saak wat hulle moes dien, aanskou het.49

Waarom dan so? Al die afgodedienaars, of hulle nou ook al uit die Jode  of uit die heidene afkomstig was, het dieselfde gesindheid gehad as waarvan ons melding gemaak het. Hulle was nie met die geestelike kennis alleen tevrede nie maar het gedink dat 'n sekerder en nader kennis deur beelde tuisgebring word. Nadat die voorbarige gelykstelling met God hulle eenmaal behaag het, het hulle nie opgehou voordat hulle deur nuwe streke om die bos gelei is en hulle verbeel het dat God sy krag in beelde tot uiting bring nie. Nietemin was die Jode daarvan oortuig dat hulle die ewige God en enige ware Here van hemel en aarde in sulke beelde dien; die heidene het weer gedink dat hulle gode dien wat, al was hulle vals, volgens hulle in die hemel gewoon het.

10. Afgodediens word vandag nog in die Roomse Kerk voortgesit🔗

Mense wat beweer dat dit nie tevore plaasgevind het nie en selfs nou nog in ons heugenis nie plaasvind nie, lieg onbeskaamd. Want waarom buig hulle hulle voor hulle neer? Waarom wend hulle hulle tot die beelde asof dit tot die ore van God is wanneer hulle gaan bid? Want wat Augustinus gesê het, is waar, naamlik dat daar niemand is wat 'n beeld so aanskou wanneer hy bid of dit eerbiedig dat hy nie so ontroer word dat hy glo dat hy daardeur verhoor word of hoop dat aan hom gegee sal word wat hy verlang nie.50 Waarom is daar tussen die beelde van dieselfde god so 'n groot verskil dat hulle die een verbygaan of doodgewoon vereer maar 'n ander met plegtige eerbewys huldig? Waarom vermoei hulle hulle met bedevaarte om beelde te besoek waarvan hulle die gelyke in hulle eie huise het? Waarom veg hulle vandag daarvoor soos vir hulle huisaltare en hulle haard en is hulle bereid om daarvoor moord en doodslag te pleeg? Hulle sal geredeliker toelaat dat die enige God eerder as hulle afgode van hulle weggeneem word.

En tog vermeld ek nog nie die growwe dwaling van die gewone mense nie wat bykans eindeloos is en feitlik almal se harte inneem. Ek dui slegs aan wat hulle self erken wanneer hulle hulle grootliks van afgodediens wil verontskuldig. Hulle sê: "Ons noem hulle nie ons gode nie".51 Maar ook die Jode of die heidene het hulle vroeër nie hulle gode genoem nie. En tog het die profete nie opgehou om hulle oor hulle hoerery met hout en klip tereg te wys nie52 en dit weens die dinge wat elke dag nog deur mense wat as Christene beskou wil word, gedoen word, naamlik dat hulle God vleeslik in hout en klip vereer het.

Tog is ek nie onbekend daarmee nie, en dit moet ook nie weggeveins word nie, dat hulle met 'n baie skerpsinnige onderskeiding probeer  ontvlug. 'n Bietjie later sal daarvan vollediger melding gemaak word.53 Want hulle gee voor dat die diens wat hulle aan beelde bewys, beeldediens is, en hulle verklaar dat dit nie beeldeaanbidding is nie54 Want so praat hulle wanneer hulle leer dat die verering wat hulle diens noem,55 sonder om God te veronreg deur beelde en skilderye gedeel kan word. Hulle meen dat hulle onskuldig is as hulle slegs maar dienaars van die beelde en nie vereerders daarvan is nie - net asof 'n bietjle ligter sonde begaan word as hulle die beelde vereer eerder as om dit te dien. En terwyl hulle 'n skuilplek in die Griekse woord soek, is hulle erg kinderagtig in stryd met hulleself. Want aangesien die woord latreuein vir die Grieke niks anders as 'vereer' beteken nie, dra dit wat hulle sê, net soveel krag as hulle sou erken dat hulle hulle beelde vereer sonder verering. Hulle het ook geen gronde om die beswaar te opper dat ek vir hulle valstrikke met woorde stel nie. Maar hulle toon self hulle eie onkunde wanneer hulle stof in die oë van die eenvoudiges probeer strooi. Al sou hulle dus ook hoe welsprekend wees, sou hulle dit nooit met welsprekendheid kon regkry om ons wys te maak dat een en dieselfde ding twee dinge is nie.

Maar, sê ek, laat hulle dan maar vir ons aantoon dat daar in werklikheid 'n verskil is tussen hulle en die afgodedienaars van ouds. 'n Owerspeler of moordenaar ontvlug nie sy skuld as hy 'n ander woord aflei en sy misdaad daarmee benoem nie. Net so dwaas is dit om hulle op grond van die slinkse uitvinding van 'n woord vry te spreek as hulle saak geen verskil toon met afgodedienaars wat hulIe self ook gedwing word om te verdoem nie. Hulle saak kan hoegenaamd nie van die saak van die mense in die ou tyd geskei word nie. Die oorsaak van die kwaad moet eerder gesoek word in die verkeerde nabootsing waarmee hulle met die mense van die ou tyd wedywer wanneer hulle vernuftig tekens versin en dit met hulle hande vervaardig om God daarmee vir hulleself voor te stel.

12. Die Funksies en Grense van die Kuns🔗

Ek is nogtans nie so met die bygeloof behep dat ek sou meen dat ons geen beelde hoegenaamd moet verdra nie. Maar omdat beeldhou en skilder gawes van God is, vereis ek 'n suiwer en grondige gebruik daarvan, sodat die gawes wat die Here tot sy heerlikheid en tot ons seën aan ons gegun het, nie alleen nie deur die misbruik daarvan besoedel word nie maar ook nie tot ons verderf omgekeer word nie. Ons opvatting is dat dit sonde is om God in 'n sigbare gestalte af te beeld omdat Hy dit self verbied het en omdat dit nie sonder misvorming van sy heerlikheid kan geskied nie. En hulle moet nie reken dat net ons hierdie opvatting huldig nie. Die mense wat hulle met hulle geskrifte besig hou, sal trouens vind dat alle skrywers met gesonde oordeel dit nog altyd afgekeur het. As dit ons dan nie eens geoorloof is om 'n liggaamlike beeld vir God voor te stel nie, is dit des te meer ongeoorloof om dit in God se plek te stel of om God daarin te dien. Daar bly dus oor dat slegs die voorwerpe geskilder of uitgebeeld mag word wat ons oë kan sien. Maar die majesteit van God, wat ver bo ons sintuiglike waarneming verhewe is, mag nie met oneerbiedige afbeeldinge bederf word nie. Onder eersgenoemde val deels die geskiedenis en gebeure en deels beelde en liggaamlike gestaltes wat geen besondere historiese betekenis het nie. Eersgenoemde het wél net in onderwysing en vermaning voordele, maar van laasgenoemde kan ek nie sien watter voordeel dit anders as genot inhou nie. En tog staan dit vas dat byna al die beelde wat hulle tot dusver in hulle kerke ten toon gestel het, sulke beelde was. Daaruit kan ons aflei dat die beelde nie oordeelkundig of keurig nie maar uit 'n dwase en onoorwoë begeerte daar opgerig is. Ek laat maar agterweë hoe verkeerd en onbetaamlik die beelde vir die grootste deel gemaak is; hoe vrysinnig skilders en beeldhouers hulle luste laat botvier het. Ek het hierdie aspek 'n rukkie tevore reeds aangeroer.56 Ek sê slegs dat selfs al sluit dit geen gebrek in nie, dit nogtans niks het wat vir ons onderwysing van belang kan wees nie.

13. Doop en Nagmaal is die Enigste Lewensgetroue 'beelde' van die Woord wat in die Kerk toegelaat mag word🔗

Maar die onderskeid daargelaat; laat ons terloops oorweeg of dit betaamlik is om hoegenaamd enige beeld, of dit nou ook al die geskiedenis of die liggame van mense uitbeeld, in die kerke van Christene te hou.

As die gesag van die kerk van ouds enige invloed op ons het, moet ons in die eerste plek onthou dat die kerke van die Christene bykans vyfbonderd jaar waarin die godsdiens meer as tans gebloei het en die egte leer van krag tot krag gegaan het, oor die algemeen sonder beelde was.57 Beelde is gevolglik die eerste keer as versiering vir hulle kerke aangewend toe die suiwerheid van die bediening ietwat agteruitgegaan het.

Ek sal nie redeneer oor die redes wat die eerste invoerders daarvan vir hulle optrede gehad het nie, maar as 'n mens een era met 'n ander vergelyk, sal jy opmerk dat hulle ver afgewyk het van die onkreukbaarheid van die mense wat geen beelde gehad het nie. Waarom dan so? Of reken ons dat daardie heilige vaders sou toegelaat het dat die kerk so lank sonder iets sou bly as hulle van oordeel was dat dit voordelig en heilsaam was?

Maar omdat hulle sekerlik gesien het dat daarin geen of weinig voordeel is nie maar eerder baie meer gevaar, het hulle dit met insig en rede van die hand gewys eerder as uit onkunde en agtelosigheid agterweë gelaat. Daarvan getuig Augustinus ook in die volgende duidelike woorde: "Wanneer hulle met eerbiedige verhewenheid in hierdie plekke geplaas word om deur mense wat bid en offer, opgemerk te word, ontroer die beelde hulle swak gemoedere juis deur die ooreenkoms van lewende ledemate en sinne sodat, hoewel hulle sonder sintuie en lewe is, dit lyk asof hulle lewe en asem haal''.58 En elders sê hy: "Want die voorstelling van die ledemate veroorsaak en dwing die verstand, wat in die liggaam leef, om te dink dat so 'n liggaam, wat hy sien presies net soos hyself lyk, iets sintuiglik ervaar".

'n Entjie verder sê hy. "Beelde het eerder die vermoë om 'n ongelukkige siel neer te buig omdat hulle wel 'n mond, oë, ore en voete het, as die vermoë om 'n siel te verbeter omdat hulle nie kan praat of sien of hoor of loop nie".59 Skynbaar is dit inderdaad ook die rede waarom Johannes wou hê dat ons nie alleen teen die verering van beelde moes waak nie maar juis teen die beelde self.60

As gevolg van die verskriklike waansin wat tot vernietiging van feitlik alle godsvrug die wêreld vroeër reeds beetgepak het, het ons self ook meer as te veel ervaar dat as't ware 'n vaandel vir afgodediens opgerig word sodra beelde in kerke geplaas word. Want die dwaasheid van die mens kan hom nie daarvan weerhou om dadelik in 'n bygelowige verering daarvan te verval nie. Maar as daar rog nie so 'n groot gevaar ons van dié kant af bedreig nie, lyk dit tog vir my, wanneer ek nadink oor die doel waarvoor ons kerke bestem is, asof dit hulle heiligheid op die een of ander wyse nie waardig is om ander beelde as die lewende en lewensgetroue beelde61 wat die Here deur sy Woord geheilig het, te aanvaar nie. Ek bedoel natuurlik die doop en die nagnaal van die Here tesame met die ander plegtighede waardeur ons oë so ywerig besig gehou en so lewendig ontroer behoort te word dat dit nie ander beelde wat deur die vernuf van die mens gemaak is, nodig het nie. Siedaar! Die onvergelyklike seën van beelde waarteen geen vergoeding opweeg nie- ten minste as ons die pousgesindes moet glo.62

14. Die Argumente van die Afgevaardigdes na die Niceense Konsilie (787) ten gunste van beelde is belaglik🔗

In verband hiermee sou daar na my mening alreeds meer as genoeg gesê gewees het as dit nie was dat die Sinode van Nicea my enigsins geweld aangedoen het nie. Dit is nie die beroemde kerkvergadering wat Konstantyn die Grote belê het nie,63 maar die een wat op bevel en gesag van keiserin Irene64 agthonderd jaar gelede gehou is. Want die vergadering het besluit dat die mense nie alleen beelde in hulle kerke moes aanhou nie maar dit ook moes aanbid.65

Die gesag van hierdie Sinode sal teen alles wat ek ook al mag sê, groot vooroordeel teweegbring. En tog beweeg die aanhaling van die besluit my nie soseer om die waarheid te bely nie as om vir my lesers duidelik te maak hoe ver die waansin van mense wat 'n groter begeerte na beelde het as wat 'n Christen betaam, alreeds gegaan het. Maar laat ons die probleem eers uit die weg ruim.

Mense wat vandag die gebruik van beelde verdedig, voer hierdie besluit van die Sinode van Nicea as verdediging aan. Daar bestaan egter 'n weerlegging onder die naam van Karel die Grote.66 Uit die styl daarvan kan ons aflei dat dit in dieselfde tyd saamgestel is. Daarin word die opvattings van die biskoppe wat die vergadering bygewoon het, en die redenasies waarmee hulle daarvoor geveg het, weergegee. Johannes, 'n afgevaardigde van die Oosterse kerke, het gesê: "God het die mens na sy beeld geskep".67 Daaruit het hy afgelei dat hulle dus beelde moes hê. Dieselfde Johannes was ook van mening dat beelde deur die volgende sin by ons aanbeveel word: "Toon my u aangesig, want dit is skoon" .68 'n Ander afgevaardigde het die volgende getuienis aangehaal om te bewys dat beelde op die altare geplaas moes word: "Niemand steek 'n lamp aan en plaas dit onder 'n maatemmer nie" .69 Om aan te toon dat dit vir ons voordelig is om na beelde te kyk, het 'n ander afgevaardigde hierdie psalmvers aangehaal: "Here, die lig van u aangesig is oor ons beseël".70 'n Ander een het die volgende vergelyking aangegryp: "Soos die aartsvaders die offerandes van die heidene gebruik het, so moet die Christene die beelde van heiliges in die plek van die heidense afgode gebruik".71 Op dieselfde wyse het hulle die volgende verdraai: "Here, ek het die skoonheid van u huis Liefgehad."72 Maar veral die volgende is 'n vindingryke interpretasie daarvan: "Soos ons gehoor het, het ons ook gesien".73 Hulle verklaar dit so dat God geken kan word nie alleen deur na sy Woord te luister nie maar ook deur na beelde te kyk. Die skerpsinnige redenasie van biskop Theodorus was net so. Hy het gesê: "God is wonderbaarlik oor sy heiliges". En elders staan geskrywe: "Vir die heiliges wat op die aarde is".74 Daarom moet dit op beelde van toepassing wees.

Kortom: hulle lafheid is so afstootlik dat ek my ook skaam om daarna te verwys.

15. Die Afgevaardigdes by die Sinode van Nicea het die Skrif kinderagtig gehanteer en goddeloos verskeur🔗

Waar hulle oor die aanbidding redekawel, word die aanbidding van Farao,75 die staf van Josef76 en die teken wat Jakob77 opgerig het, bygesleep. Tog verdraai hulle in die laaste instansie nie alleen die betekenis van die Skrif nie, maar hulle gryp ook na dinge wat nêrens te lese is nie. Daarby kom die volgende: "Aanbid die voetbank van sy voete".78 En net so: "Aanbid op sy heilige berg".79 Verder: "Al die rykes van die volk sal U aangesig aanbid".80 Vir hulle het dit na onwrikbare en  gepaste bewyse gelyk.

As iemand uit bespotting aan die voorstanders van beelde 'n belaglike karikatuur sou wil toeskryf, sou hy dan groter en growwer dwaasheid kon aanhaal? En om geen tyfel meer daaroor te laat nie, bevestig Theodosius, die biskop van Mira, in alle erns met die drome van sy aartsdiaken dat hulle beelde moes aanbid net asof hy 'n hemelse godspraak vir sy aanbeveling gereed het.81

Laat die voorstanders van beelde nou begaan en ons met die besluit van die Sinode in 'n hoek probeer dryf - net asof hierdie geagte vaders hulle nie van alle geloofwaardigheid ontneem as hulle die Skrif so kinderagtig hanteer of so goddeloos en skandelik verskeur nie.

16. Verdere Drogredenasies van dieselfde Afgevaardigdes🔗

Ek kom nou by hulle goddelose drogredes. Dit is wonderlik dat hulle gewaag het om dit uit te braak. Maar nogwonderliker is dit dat daar niemand was wat met die grootste verfoeiing van hulle almal sy stem daarteen vehef het nie.

Dit is ook paslik dat hulle goddelose waansin aan die lig gebring word om ten minste die rookskerm van oudheid wat die pousgesindes as verskoning aanbied, van beeldediens weg te neem. Theodosius, die biskop van Mira, dreun 'n vloek uit oor almal wat weier om beelde te aanbid.82 Iemand anders weer wyt al die rampe in Griekeland en die Ooste aan hierdie sonde, naamlik dat beelde nie daar aanbid is nie.83 Watter strawwe het die profete, die apostels en martelare dan nie verdien omdat daar in hulle tyd geen beelde bestaan het nie?

Daarna voeg hulle by dat as mense die beeld van die keiser met brandwerk en wierook tegemoetgaan, hierdie eerbewys baie meer nog aan die beelde van heiliges verskuldig is.84 Maar Constantius,85 die biskop van Constantia in Cyprus, verklaar dat hy beelde met eerbied bejeën, en hy bevestig dat hy aan hulle die eerbewys sal betoon wat aan die lewendmakende Drie-eenheid verskuldig is.86 En elkeen wat weier om dieselfde te doen, vervloek hy en verban hom tesame met die Manicheërs en die Marcioniete.87 Maar moenie dink dat dit die persoonlike opvatting van net een man was nie - inteendeel, die res stem met hom saam! Ja, Johannes, die afgevaardigde van die Oostersekerke, was vuriglik daaroor in vervoering en hy vermaan hulle dat dit beter sou wees om al die hoerhuise in die stad toe te laat as om die beeldediens te verloën.88

Uiteindelik is met die instemming van hul almal tot die besluit geraak dat dié Samaritane slegter is as al die ketters, maar dat die wat daarteen stry89  slegter as Samaritane is.90 En om te verhoed dat hulle drama sonder plegtige toejuiging sou wees91 word dit soos volg afgesluit: Laat almal juig en jubel wat 'n beeld van Christus het, en daaraan hulle offers bring.92 Waar is nou die onderskeid tussen 'verering' en 'diens' waarmee hulle die gewoonte het om die oë van God en die mens te verblind? Want die vergadering skenk sonder uitsondering net soveel eerbied aan beelde as aan die lewende God.

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. Hilarius van Poitiers, De Trinitate 1.18: Idoneus enim sibi testis est, qui nisi per se cognitus non est (MPL 10:38).
  2. ^ Ex. 20:4.
  3. ^ Marg. Maximus Tyrius, Platonic. serm. 38. Maximus Tyrius, Philosopboumena 2 (uitg. H. Hobein, 18 e.v.). Maximus van Tirus was 'n filosoof wat omstreeks 150 n.C, in Rome opgetree het. Vgl. Lactantius, Div. Inst. 1.6 (MPl 6:138 e.v., csst 19,1:18-28).
  4. ^ Deut. 4:15 (4:16).
  5. ^ Jes. 40:18; 41:7, 29; 45:9 en 46:5.
  6. ^ Hand. 17:29.
  7. ^ Augustinus, De civitate Dei 6.10 (MPL 41:190). Seneca se boek, Contra Superstitiones, waaruit Augustmus hier aanhaal. het verlore gegaan. Kyk ook Inst. 3.14.1 i.v.m. idololatria.
  8. ^ Eek. Enchiridion, hfst. 16.
  9. ^ Deut. 4:15 (4:11).
  10. ^ Ex. 33:13 e.v.
  11. ^ Matt. 3:16.
  12. ^ Ex. 25:17, 18, 21.
  13. ^ Vgl..Eck, Enchiridion, hfst, 16; Coehlaeus, De sanctorum invocatione et intercessione, deque imaginibus et reliquiis eorum pie riteque colendis (1544), E 1 a.
  14. ^ Jes. 6:2.
  15. ^ (Gal. 4:3).
  16. ^ Juvenalis, Sat. 5.14.97: Nubes et caeli numen adorant.
  17. ^ Eek, Enchiridion, hfst. 16; Clichtovius, Propugnacuium ecclesiae adversus Lutberanos 1.10 (Parys, 1526); Compendium veritatum ad fidem pertinentium contra erroneas Lutberanorum assertiones (Parys, 1529), hfst. 22. Lg. werk is 'n vertolking van die besluite van die Sinode van Parys (1528) wat teen die Lutherse 'ketterye' geneem is (Vir die teks van hierdie Sinode, kyk Mansi 32:1149 e.v., veral 1178 e.v.)
  18. ^ Ps. 115:4; 135:15.
  19. ^ Horatius, Sat. 1.8.1-3.
  20. ^ Lactantius, Div. Inst. 2.4 (MPL 6:268; CSEL 19, 1:107).
  21. ^ Jes. 44:12 (44:12-17; in besonder 44:15).
  22. ^ Jes. 40:21.
  23. ^ Jes. 2:8; 31:7; Hos. 14:4; Miga 5:13 (Marg. verkeerdelik Jes. 57:10; vgl. egter 57:12-13; 37:19 en Miga 5:12).
  24. ^ Ps. 115:8.
  25. ^ Die verwysing is na die Oosters-Ortodokse Kerke, wat geen standbeeld in die erediens gebruik nie (vgl. Battles 1:104, n. 10).
  26. ^ Gregorius Magnus, Bp. 9.105; 11.13 (MPL 77:1027, 1128). Albei hierdie briewe het Gregorius die Grote aan Serenus, biskop van Marseilles, gerig. In eg.brief sê hy: Idcirco enim pictura in Ecclesiis adbibetur, ut bi qui litteras nesciunt, saltem in parietibus videndo legant quae legere in codicibus non valent (MPL 77:1027). Vgl. Eek, Enchiridion, hfst. 16; Cliehtovius, Compendium 124a.
  27. ^ Jer. 10:3 (10:8).
  28. ^ Hab. 2:18.
  29. ^ Eek, Enchiridion, hfst. 16.
  30. ^ Lactantius, Div. Inst. 1.8,15,18; 2.18 (MPL 6:153-156; 192-201; 209-214; 341-344; CSEL 19, 1:29-31; 55-61; 67-71; 172 e.v.)
  31. ^ Eusebius, Praeparatio evangelica 2.4; 3.2 (MPG 21:163, 175)
  32. ^ Augustinus, De civ. Dei 4.9,31; 6.7,8; 8.5, 26 (MPL 41:119, 138, 184, 186,229 e.v.; 253 e.v.; CSEL 40,1:173-174, 204-206, 283-289, 361 e.v., 402 e.v.).
  33. ^ Augustinus, De fide et symbolo 7.14: Tale enim simulacrum Deo nefas est christiano in templo collocare (MPl 40: 188).
  34. ^ Concilium Eliberitanum, 305 n.C., Canon 36: Placuit, picturas in ecclesia esse non debere, ne quod colitur; et adoratur, in parietibus depingatur (Mansi 2:11); vgl. Ad Canonem 36 (Mansi 2:46; 2:264).
  35. ^ Marcus Terentius Varro (*116, + 127 v.e.) 'n baie geleerde Romein, skryf 620 boeke oor Geskiedenis, Wysbegeerte, Rekeningkunde, Sterrekunde en Taalkunde. Sy teologiese leerstellings is bekend uit Augustinus se De civitate Dei (REW 8A1:415; CE 6:450).
  36. ^ Augustinus, De civ. Dei 4.9,31 (MPL 41:119,138; CSEl 40,1:173,204). Varro se werk waarna verwys word, bestaan nie meer nie.
  37. ^ Nova materia superaddita. Calvyn se bedoeling is duidelik hier dat beelde op sigself nie aanleiding tot dwaling gee nie maar wél beelde van God. Augustinus het sekere gegewens uit die eerste boek van Lactantius se Div. Inst. oorgeneem (MPL 6:111 e.v.; CSEL 19,1:1-94).
  38. ^ Gal. 3:1.
  39. ^ Calvyn verwys hier na 'n apokriewe geskrif wat deur die Septuagint vir ons bewaar gebly het en as die Wysheid van Salomo (Sapientia Salomonis) bekend staan. Die geskrif het egter na die tyd van Salomo ontstaan (waarskynlik in die eerste eeu v.C.), want daarin kom duidelik verwantskap met die denkbeelde van die Alexandrynse Jodedorn en die Platoniese en Stoïsynse Wysbegeerte na vore (o.a. die pre-eksistensie en onsterfIikheid van die siel).
  40. ^ Liber Sapientiae Salomonis 14:15 Vg. (14:15-21).
  41. ^ vgl. o.a. Lactantius, Div. Inst. 1 i.v.m. valse godsdienste (MPL 6.111 e.v.; CSEL 19,1.1 e.v.).
  42. ^ Gen. 31:1
  43. ^ Jos. 24:2.
  44. ^ (Gen. 9:18 e.v.).
  45. ^ Ex. 32:1.
  46. ^ Let op die fyn woordspeling: Deum affigant ubicunque affingunt.
  47. ^ vgl. o.a. die Tweede Konsilie van Nicea, 787 (Mansi 12:1069-1072; Eek, Enchiridion, hfst, 16.
  48. ^ (Ex. 32).
  49. ^ Marg. In Psalmum 113. Augustinus, Enarr. in Ps., Sermo 2.1-7 (MPL 37: 1481-1485; eeSL 40:1641-1645; Afk.: Ps.115).
  50. ^ Augustinus, loc. cit
  51. ^ Eek, Enchiridion, hfst. 16
  52. ^ Kyk o.a. Jee. 3:2,6:9; Eseg. 16:15-17; Hosea 4:12
  53. ^ Inst. 1.11.16; 1.12.2
  54. ^ Beeldediens en beeldeverering of aanbidding. In die Middeleeue is al onderskeid gemaak tussen die eerbiedige diens van 'n slaaf aan sy heer en die verering van 'n godheid. Cochlaeus gebruik ook hierdie onderskeid in bg. werk. Vgl. Inst. 1.11.14.
  55. ^ Cultum quem appellant duliae.
  56. ^ Inst. 1.11.7.
  57. ^ Irenaeus, Adv. haereses 1.25.6 (MPG 7,1:685); Konsilie van Elvira, 305, Canon 36 (Mansi 2:11; 2:46; 2:264); Epiphanius, Epist. ad 10. Ierosol., ab Hieron. versa; Hier., Ep. 51,9 (CSEl 54:411).
  58. ^ Marg. Epist. 49. Augustinus, De civ. Dei 4.31 (MPL 41:137 e.v.; CSEL 40,1:204-206); Ep. 102.3.18 (MPL 33:377: CSEL 34:559-560).
  59. ^ Augustinus, Enarr. in Ps. 113, Sermo 2.5.6 (MPL 37:1483).
  60. ^ 1 Joh. 5:21.
  61. ^ Iconicas, afbeelding, beeld, gelykenis.
  62. ^ Vgl. hier die Franse teks: Voilà le bien inestimable pour lequel les Papistes s'escarmouschent tant qu 'il leur semble qu 'il n y ait nulle rëcompense qui vaille un marmouset guignant de travers et faisant la mine tortue (Benoit 1:137).
  63. ^ Die eerste Konsilie van Nicea in 325 n.e. (Mansi 2:635 e.v.).
  64. ^ Sy het oor die Oosterse ryk geregeer van 780 tot 802 (Mansi 13:374; ML8:1022).
  65. ^ Die onderskeid tussen knieval en werklike verering of aanbidding word deur die tweede Konsilie van Nicea in die sewende sessie gemaak. Eersgenoemde word aanbeveel, terwyl die verering aan beelde verbied word, as slegs geskik vir die goddelike natuur (Mansi 13:377-380; Bettenson, Documents of the Christian Church, 93-94).
  66. ^ In 1549 is die Libri Carolini deur Johannes Tillet uitgegee. Hierdie vier boeke, geskryf in opdrag van Karel die Grote omstreeks 790, was gerig teen die besluit van die tweede Konsilie van Nicea en is deur die Sinode van Frankfurt in 794 aanvaar. In Inst. 1.11.141.11.16, wat in 1550 geskryf is, maak Calvyn gebruik van gegewens uit hierdie werk. Die Libri Carolini is vervat in MPL98, en Calvyn verwys na gedeeltes wat voorkom in 1022 e.v. OS se verwysings (3:103) kom uit die teks van die Libri Carolini soos gepubliseer in Monumenta Germaniae historica, p. 159.
  67. ^ Lib. Car.1.7. Die beroep is op Gen. 1:27 (MPL98:1022; vgl. ook Mansi 13:769; 12:1069).
  68. ^  Lib. Car. 2.10 (MPL98:1075; Mansi 13:769; vgl. Hoogl. 2:14). OS wys daarop dat Calvyn in albei hierdie gevalle 'n fout maak deur die woorde aan Johannes toe te skryf.
  69. ^ Lib. Car. 2.12 (MPL 98:1077; Mansi 13:776; vgl. Matt.5:15).
  70. ^  Lib. Car. 1.23 (MPL98:1055; Ps. 4:7). Die Vg. het, soos die Afr. Bybel: leva super nos lucem vultus tui Domme, terwyl Calvyn die teks aanhaal soos Lib. Car.: Signaturn est super nos lumen vultus tui Domine.
  71. ^ Lib. Car. 4.18 (MPL 98:1221).
  72. ^ Op. cit 1.29 (MPL 98:1062; Ps. 26:8).
  73. ^ Op cit 1.30 (MPL98:1065; Ps. 48:9); OS 3:103 en Battles 1:155 verwys foutiewelik na 1 1 Joh. 1.
  74. ^ op cit 3.10 (MPL 98:1131; Mansi 13:560,789; Ps. 68:36; 16:3 - Vg.: Ps. 67:36; 15:3).
  75. ^ Op. cit 1.14 (MPL 98:1035; Mansi 13:772; Gen. 47:10).
  76. ^ Op. cit. 1.13 (MPL 98:1034; Mansi 13:771,776; Gen. 47:31; Hebr. 11:21).
  77. ^ Op cit 1.10 (MPL 98:1029; Mansi 13:780; Gen. 35:14; 28:18).
  78. ^ Op cit 2.5 (MPL 98:1071; Mansi 13:775; Ps. 99:5 - Vg.: 98:5).
  79. ^ Op cit 2.6 (MPL 98:1072; Mansi 13:775; Ps. 99:9 - Vg.: 98:9).
  80. ^ Op cit 1.24 (MPL 98:1057; Ps. 45:13 - Vg.: 44:13).
  81. ^ Op. cit.3.26 (MPL 98:1170; Mansi 13:793).
  82. ^ Lib. Car. 3.7 (MPL 98:1127; Mansi 13:789)
  83. ^ Op. cit. 1.28 (MPL 98:1061; Mansi 13:779; Ps. 9:7).
  84. ^ Op. cit. 3.15 (MPL 98:1142).
  85. ^ Volgens Lib. Car. 3.17: Constantinus (MPL 98:1148).
  86. ^ Op. cit 3.17 (MPL 98:1148; Mansi 13:791).
  87. ^ Marcion, seun van 'n biskop van Klein-Asië, het ca. 140 na Rome gekom om die Christelike gemeente vir sy denkbeelde te wen. Toe hy in 144 geëkskommunikeer word, stig hy sy eie kerk, wat baie eeue lank bly voortbestaan en later in die Manicheïsme opgegaan het. Sy werke is verlore maar kan uit Tertullianus se Adversus Marcionem en uit Adamantius se De recta fide gerekonstrueer word. Hy verwerp, soos die Gnostici, die OT en sien 'n antitese tussen die wrekende geregtigheid van die God van die OT en die liefde van die God van die NT. Die God van die NT is 'n totaal ander God as dié van die OT. Marcion se optrede het die kerk gedwing om hom oor die eenheid van OT en NTuit te spreek en teenoor Marcion se eie boekelys ('n gesuiwerde Lukasevangelie en 10 briewe van Paulus) moes die kerk hom oor die omvang van die kanon uitspreek. Hoewel Constantius hulle nie by name noem nie, verwys hy duidelik na die Manicheërs en die Marcioniete (MPL98:1148; Mansi 13:791; CE 4:573; RPTI( 12:267277).
  88. ^ Op. cit. 3.31 (MPL 98:1180; Mansi 13:794).
  89. ^ ElxovoJ.LáXOL~.
  90. ^ Op cit. 4.6·(MPL 98:1197; Mansi 13:767).
  91. ^ Hier is die verwysing na die gebruiklike formele applous aan die einde van 'n toneelstuk in die Romeinse teater. Horatius, Ars Poetica 154-155: Si plausoris eges aulaea manerutis et usque Sessuri donec cantor 'Vos plaudite' dicat. Vgl. OC 6:463.
  92. ^ Lib. Car. 4.14 (MPL 98:1213).