Hoe verwag ons die wederkoms van Christus?
Hoe verwag ons die wederkoms van Christus?
By elke viering van die Heilige Nagmaal bely ons dat ons met groot verlange uitsien na Christus se verskyning in heerlikheid. Die Heilige Gees leer ons om met die kerk van alle tye uit te roep: Amen, ja kom Here Jesus (Open. 22:20). Maar kom ons kyk nou na die praktyk van ons daaglikse lewe. Verlang ons nog werklik na Christus se wederkoms? Indien wel, hoe intensief is die verlange? Sien ons met groot verlange daarna uit? Hoe wys ons die verlange in ons lewe?
Onderskatting van die toekomstige lewe⤒🔗
Dit is reeds eeue dat die kerk uitsien na die koms van die Here. Ons leef reeds in die een en twintigste eeu en alles gaan gewoon aan. Reken ons nog wel daarop dat dit moontlik is dat Christus môre kan terugkom? Is dit nie dikwels 'n saak wat ons voor ons uitskuif, na die verre toekoms nie? Hoe sou ons reageer indien ons sou weet dat Christus môre terugkom? Opgewondenheid? Teleurstelling? Wat dink u van die uitspraak van 'n kind wat pas 'n fiets vir sy verjaarsdag ontvang het: "Maar dan kan ek my fiets nie ry nie". Is dit dalk 'n afspieëling van ons houding? Ons dink miskien: Nee, liefs nog nie môre nie, ek is nog nie gereed daarvoor nie. Ek wil liefs eers dit of dat bereik. Nee, eers my finale eksamen. Eers my troudag. Eers die geboorte van ons kind. Eers die verhuising waarna ons so lank uitgesien het. Eers my promosie by die werk. So sou ons kon voortgaan.
Hoekom wil ons die toekoms dikwels voor ons uitskuif? Christus mag oor soveel jare wel kom, maar liefs nog nie nou nie. Een van die redes kan 'n onderskatting van die toekomstige heerlikheid wees. Die feit dat ons maar moeilik 'n konkrete voorstelling van die toekoms kan gee, kan maklik die hunkering daarna doof. Onbekend maak onbemind! Die Here het egter die toekoms wel aan ons bekend gemaak. Nie in besonderhede nie. Maar wel die karakter daarvan. Dit sal ongelooflik heerlik wees. Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God berei vir die wat Hom liefhet (1 Kor. 2:9). Die toekom sal al ons voorstellings oortref. Die lewe in Christus se onmiddellike nabyheid sal so vreugdevol wees dat ons teenwoordige plesier in die niet verdwyn. Dit sal so ryk wees dat alle aardse rykdom niks is in vergelyking daarmee nie.
By ons leef daar dalk vrae soos: sal ons ons geliefdes daar herken? Sal ons die dinge wat ons vandag soveel plesier gee, ook daar tref? Die toekomstige werklikheid sal egter so indrukwekkend wees dat al ons huidige vrae sal verdwyn. Daar sal geen plek vir verveling wees nie. As ek God die Vader en Jesus Christus ken, dan hoef ek nie met reserwes die toekoms tegemoet te gaan nie. As ek mooi luister na wat Hy oor die toekoms sê, dan hoef ek nie wantrouig te wees nie. Die heerlikheid wat met Christus se wederkoms aanbreek, sal so oorweldigend wees dat ek slegs met weerlose oorgawe daarop kan reageer. Wanneer ek daarvan deurdring is, dan sal ek ondanks al my vrae, met groot verlange uitsien.
Oorskatting van die teenwoordige lewe←⤒🔗
Ons ontdek dat daar dikwels maar min verlange na die wederkoms by ons is. Dit kan ook die gevolg daarvan wees dat ons te geheg aan die teenwoordige lewe is. Ons lewe in 'n tyd waarin alles sigbaar en tasbaar moet wees. Ons wil onmiddellike resultate sien. Iets moet produktief wees, anders is dit waardeloos.
Dit wat buite ons waarneming val, word dan ook van min waarde geag. So het baie mense afgereken met die bo-wêreldse werklikheid, soos hemel en hel. Alles draai om die lewe hier en nou. Hierdie tydsgees raak ook die kerk. Ons en ons kinders word hierdeur beïnvloed, sodat ons die lewe hier en nou maklik oorskat ten koste van 'n lewende toekomsverwagting. Die aardse skatte en geluk word dikwels verhef tot die doel van alles. Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees, het Christus gewaarsku in Matt. 6:21. So word mense heeltemal in beslag geneem deur wat hulle hier op aarde kan geniet, materiële en sosiale welvaart. Daarvoor leef en werk hulle.
Wat is volgens die Skrif egter die plek van die aardse skatte? Dis slegs 'n tydelike middel. ’n Middel tot bevordering van die eer van God en die koms van sy ryk. Ons mag daarom nie die gesellige speletjie, die huwelik, die kinderseën, die promosie by die werk, of 'n gerieflike lewe verhef tot 'n doel in sigself nie. Dit alles is ondergeskik aan God se koninkryk. Christus eis dat sy koninkryk die voorrang sal geniet in ons lewe. Hy beveel ons om eers die koninkryk van God te soek en sy geregtigheid, dan sal die Vader vir ons sorg en al die ander dinge gee wat ons nodig het (Matt. 6:33). Sodra die welvaart ons in sy greep kry, verdwyn die verwagting van Christus se koms egter.
Die oorskatting van hierdie lewe hang ook saam met die onderskatting van die sondeval. God het alles mooi gemaak, volmaak. Maar ons het in opstand gekom. Daardeur het ons al die ellende en die vloek oor onsself gehaal. Daar is soveel sonde en gebrokenheid, misdaad en onreg, bloedvergieting en verwoesting. Selfs ons beste werke is met sonde besmet. Ons sien en hoor die sug van die skepping, van die mensheid, selfs van God se kinders. Alles roep om die groot dag van herstel. Hoe kan 'n mens dan maak asof hierdie lewe alles is? Daarom mag ons ook nie deur die goeie dinge van hierdie aarde verswelg word nie. Ons is immers op pad na die volkome herstel van alle dinge.
Die aarde is ons werkplek←⤒🔗
Hoe moet ons dan ons werk en lewe hier op aarde beskou? Is ons nou nie met ons hele bestaan aan hierdie aarde verbind nie? Ons studeer om ons voor te berei vir ons toekoms hier op aarde. Ons trou om hier op aarde saam te geniet van die lewe wat God gee. Ons werk ywerig om ook hier vooruit te kom, nie slegs om God en die naaste daarmee te dien nie. Ons geniet bepaalde gawes wat God hier vir ons gee, ons geniet die bande wat ons met ons familie en vriende het. Ons wil nie graag hê dat die bande verbreek word nie. Daarom vind ons die skeiding wat die dood meebring verskriklik. Is dit nou alles verkeerd? Mag ons dan nie geheg wees aan mense en dinge van hierdie lewe nie?
Ons toekomsverwagting beteken nie dat ons nie aan hierdie wêreld verbonde mag wees nie. Dit sou sondig wees. Dit sou 'n belediging van God ons Skepper wees. Hy het die aarde met alles wat daarin is geskep. Hy onderhou dit nog steeds deur sy voorsienigheid. Elke mens is 'n maaksel van sy hand. Hy het die verhoudings hier op aarde gegee, die bloedband en die band van vriendskap. Hy is die Een wat die mens toegerus het met allerhande vaardighede. Daarom spreek dit vanself dat ons met oorgawe in die teenwoordige lewe betrokke moet wees. Op hierdie oomblik hoort ons hier tuis. Dit is nou ons leef en werkplek. God het ons hier geplaas, binne 'n verskeidenheid van verhoudings en situasies om hier te dien.
Ons gerigtheid←⤒🔗
In Kol. 3:1-2 leer die Here ons om die dinge wat daarbo is te soek en nie wat op die aarde is nie, Daarmee wys Hy op die gerigtheid wat ons lewe moet vertoon. Ons het inderdaad hier op aarde steeds nog ons plek. In Kol. 3 plaas Paulus die soek van wat bo is midde in die konkrete daaglikse lewe. Ons moet ons plek hier inneem as mense wat gerig is op ons hemelse Koning. Daarom sê Paulus o.a. "Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is... Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid... Laat die vrede van God... in julle harte heers, en wees dankbaar. Laat die woord van Christus ryklik in julle woon," Die Christelike hoop het 'n seënryke uitwerking op ons lewe in hierdie wêreld. Dit verander die lewenstyl ten goede. Wie seker is van 'n toekomstige heerlikheid sal sy doen en late daardeur laat bepaal "in heilige wandel en godsvrug" (2 Pet. 3:11).
Waarop is ons dan gefokus in ons werk en lewe? Waardeur laat ons ons lei? Deur ons hemelse Koning met sy hemelse wette? Soek ons om sy koninkryk te bevorder? Wanneer ons dit doen, dan soek ons wat daarbo is. Die hemelse Koning is dan die uitgangspunt en die doel van ons lewe. So wys ons dat ons met groot verlange na Christus se koms uitsien.
Vergelyk dit met 'n aanstaande bruid wat baie besig is om haar trourok klaar te maak. Niemand sal haar daarvan beskuldig dat sy te veel met haarself besig is en nie met haar bruidegom nie. Juis as sy haar rok klaarmaak gaan haar hart na haar bruidegom uit. So is daar ook vir ons geen teenstelling tussen ons daaglikse werk op aarde en die soek van wat bo is nie. Die twee moet en kan saamgaan. In Open 19:8 word die trourok van Christus se bruid die regverdige dade van die heiliges genoem. Juis in my daaglikse werk moet ek die eer van my Here soek. So berei ek my voor op die bruilof van die Lam. Christus wil sien dat die alledaagse lewe geheilig word. Dat dit op Hom gerig word. Dan gaan ek anders werk en speel, anders met my geld en goed om. Dan hanteer ek my siekte en teleurstellings anders. Christus wys my die weg. Christus gee my deur sy Gees die kragte. Ek is op pad na my volkome vereniging met Hom, na my volkome herstel. Dit maak my opgewonde en bly.