Hoe bring ek Christus by 'n Moslem?
Hoe bring ek Christus by 'n Moslem?
Ons glo dat niks by toeval gebeur nie. Ook die feit dat meer as driehonderdduisend Moslems (syfer is van 1987 – RSS) in ons land woon, is deur God so beskik en lê 'n dure verpligting op ons.
In die meeste Moslemlande is dit vir 'n Moslem deur die wet verbode om van godsdiens te verander. By ons is daar nie so 'n wet nie – daar is vryheid van godsdiens in Suid-Afrika. 'n Moslem mag 'n Christen word, en 'n hele aantal het ook al Christene geword.
Wat is ons gesindheid?⤒🔗
Daar is verskillende moontlikhede in ons benadering.
'n Dooie kerk, wat net vir homself leef en nie vir Christus en sy koninkryk nie, wat dus ook koud gelaat word deur die lot van mense sonder Christus, sal die Moslems net vanuit sy eie belang beskou: as 'n potensiële bedreiging vir sy blanke identiteit (as dit vir hom belangrik is), of as goeie kapitalistiese burgers en bondgenote teen die kommunisme (as geld vir hom belangriker as sy wit vel is). Maar nie een van die twee sal hulle sien as mense met 'n ewige bestemming nie.
'n Lewende kerk, vir wie Christus en sy koninkryk sy hoogste lojaliteit is, sal met die oë van Christus na Moslems kyk: buite, of binne sy koninkryk; verlore, of gewas in sy bloed – want so kyk 'n ware gelowige na elke mens. Dit is wat vir hom belangrik is. Alle ander dinge is vir hom ondergeskik aan die één, groot oorweging: Hoe kan ek Christus by hierdie mens bring? Wat is daar in my gedrag, my politiek, my woorde, wat hom van Christus af wegdryf, en wat is daar wat hom nadertrek?
Dis baie moeilik om Moslems met die evangelie te bereik. Die leer van die triniteit lyk vir hulle na 'n driegodedom; die twee nature van Christus, sy kruisdood, versoening deur sy dood, die aard van die Bybel wat baie mensewoorde bevat en tog God se Woord is – dit alles is vir die natuurlike mens onlogies.
Ook die Moslem is 'n natuurlike mens en al hierdie dinge is vir hom 'n struikelblok. Hy meen dat die Christendom teenoor die Islam 'n minderwaardige godsdiens is, en hy vind dit belaglik en aanmatigend dat 'n Christen hóm wil leer wat om te glo en te dink.
Tog is die grootste struikelblok teen die ingang van die evangelie by Moslems en Jode nie hulle taaie verset en vooroordeel nie, maar die louheid, ongehoorsaamheid en liefdeloosheid van Christene.
Wat moet ons doen?←⤒🔗
Daar is een ligpunt: Vir hierdie saak is nie geld nodig nie, net Geesvervulde Christene. Dis nie nodig om 'n sendeling te beroep en hom na die Moslems te stuur nie. Dis net 'n manier om jou eie verantwoordelikheid af te skuif. Want jy, geagte leser, is deur God na jou Moslembuurman gestuur. Jy, en niemand anders nie, moet Christus na hom toe bring.
Nou wil ek jou vra: wat het jy al gedoen om Christus na hom toe te bring? Of het jy nog net by hom gekoop, oor sy bestaan en teenwoordigheid in jou vaderland gekla, en hom as 'n bedreiging vir jou behandel? As dit jou houding is, is dit jou eie skuld dat jou nageslag dalk Moslems gaan wees, want jy bedroef die Heilige Gees van God. Wat sal jy maak as 'n Moslem Sondag langs jou in die kerk kom sit om van Christus te hoor? Sal jy hom skeef aankyk en hom onwelkom laat voel, of sal jy hom met hartlike liefde verwelkom?
Hoe moet ons gaan?←⤒🔗
Dit is nodig om iets van die Islam te weet, genoeg om hulle aanvalle teen jou geloof te antwoord, sodat hulle ten minste kan sien jy weet wat jy glo. Maar polemiek is grotendeels onvrugbaar. Jy bring nie argumente na hulle toe nie, jy bring die lewende Christus.
'n Sendeling het tereg gesê: Wanneer jy na Moslems toe gaan, vergeet dan dat hulle Moslems is en onthou dat hulle mense is. Hulle is vaders en moeders wat oor die toekoms van hulle kinders bewoë en bekommerd is. Hulle is 'n weduwee in nood, 'n man wat aan kanker sterf, 'n eensame in die massa; hulle smag na liefde en belangstelling en opregte vriendskap, soos elke ander mens. Gee dit aan hulle! Maak vriende, opreg, met die Moslemgesin. Leer hulle ken, gee hulle jou Christelike gasvryheid, gee hulle jouself. So vertoon jy aan hulle die liefde van die lewende Christus.