Herleefde Gnostiek in die hedendaagse kerk
Herleefde Gnostiek in die hedendaagse kerk
Die oerdwaling uit die Nuwe Testamentiese tydperk - genaamd die Gnostiek - is steeds met ons in vele gedaantes. Onder andere in die sogenaamde “New Age Movement”. Dit was die Gnostiek waarna die Apostel Johannes as die “antichris” verwys het. Onder andere het sekere elemente van die Gnostiek via die 16e eeuse wederdoperse teologie, die tipiese hedendaagse “pinkster-charismatiese-teologie” beïnvloed. Spatsels van hierdie teologie is ook sigbaar op die klere van talle gelowiges uit gereformeerde stal.
Die Gnostiek is ’n Oosterse heidens-filosofiese denksisteem wat in essensie leer dat die mens ten diepste nie ’n gevalle sondaar is nie, maar eintlik ’n “godeseun” en dus oor ’n innerlike goddelike potensiaal beskik. Daarom is die uiterlike liggaamlike lewe nie van soveel nut nie. God se skeppingswerk is ten diepste sleg. Alles wat verband hou met die skepping is die terrein van die duiwel. Wat saakmaak is die “gees” – die innerlike van die mens. Daarom het die Gnostiek die volstrekte vleeswording van Christus verwerp asook Sy maagdelike geboorte - met die argument dat die Seun van God tog onmoontlik deel kon hê aan slegte fisiese menswees. Dit is juis teen hierdie verkeerde-manier-van-dink-oor-Christus wat die Gees deur Johannes so sterk te velde trek (vgl. 1 Joh. 4: 1-6).
’n Voëlvlug oor die kerkgeskiedenis maak dit duidelik dat hierdie Gnostieke denke deurlopend in die kerk kop uitgesteek het. Dit is nie baie moeilik om die historiese lyn te volg nie. Die eerste voorloper van die moderne “Pinkster-teologie”, Montanus (170 n.C.), se uitgangspunt was deurdrenk met die idee dat sy menslike gees en die Heilige Gees één is en dat hy die Gees se attribute in sy gees besit. Hierdie teologie kom nie uit die Skrif op nie, maar uit die Gnostiek.
Voorts het die Konsilies van Konstantinopel (381) en Efese (431) standpunt ingeneem teen die Gnostiese idees van Apollinaris en Nestorius onderskeidelik. Beide het Christus se volkome mensheid betwyfel en die menslike- en goddelike nature van Christus vermeng. Gedurende dieselfde tydperk het Pelagius geleer dat die mens inherent goed is en die erfsonde verwerp. Pelagius is deur die Konsilie van Kartago (431) veroordeel en deur Augustinus beveg.
’n Mens sien ook die Gnostieke gedagtegang in die ontwikkeling van die Roomse Kerk gedurende die vroeë Middeleeue. Nie alleen is die Semi-Pelagianisme (waarvolgens die mens van nature slegs innerlik “siek” is en nie totaal verdorwe nie) aanvaar nie, maar die onskriftuurlike onderskeid tussen die gewone lewe wat “ongeestelik” is en die “geestelike lewe” wat “verhewe” is, het ’n deurslaggewende rol gespeel. Vandaar die kloosterlewe waar ’n mens kon onttrek uit die “gewone lewe”. Tesame hiermee mag die verskynsel van die Mistiek nie buite rekening gelaat word nie. In die Mistiek word die mens se innerlike tot god verhef. Elke mens het ’n “goddelike vonk” in hom en aanskou God deur “innerlike verligting” – dít teenoor die uitwendige Bybel/Woord wat slegs ’n dooie letter is. So gnosties soos kan kom! In die tyd van die Reformasie moes Luther behoorlik wal gooi teen die mistieke idees van Thomas Münster.
Die reformatore moes egter ook stry teen die Wederdopers se siening dat daar ’n diepe kloof is tussen die gewone daaglikse lewe (as terrein van die duiwel) en die “geestelike lewe.” Die “vlees” is immers ondergeskik aan die “gees.” Vandaar die Doperdom se verwerping van die kinderdoop, erfsonde en maagdelike geboorte van Christus. Vir die wederdoper is gewone menswees teenstrydig met geestelikheid. Ten diepste is die mens géés. Hy/sy woon maar net in die liggaam/vlees. Die liggaam, met sy behoeftes en drange, is die bron van sonde, maar die menslike gees is suiwer en onaangeraak deur die sondeval. Daarom geen erfsonde, want die baba se gees is suiwer en nog nie vasgevang in die sondigheid van die liggaam nie. Die Gnostiek op sy beste!
Dit is belangrik om te sien hoe die Wederdopers op ’n Gnostieke wyse oor Christus se mensheid gedink het. Hulle wil niks van aardsheid/geskapenheid in Jesus se mensheid sien nie. Sy menswees is geestelik-goddelik. In Sy menswees deel Hy in die eer en heerlikheid van God. Hy het geen deel aan die skepping nie, want dan het Hy deel aan die sonde. Ook die Mens wat Jesus táns is – ná die hemelvaart – sien die dopers as ’n hemelse goddelike liggaam en nie ’n werklike menslike liggaam van vlees en bloed soos Lukas 24: 39-40 verklaar nie. Hy is ’n goddelike mens. In Hom is God en mens só één dat Hy as mens deel het aan God se mag en krag.
En nou die punt: God en mens kan ook binne in óns EEN word! Jesus maak dit moontlik. Daar moet ’n identifikasie plaasvind tussen ons gees en God se Gees sodat ons as mense deel kry in God se krag, mag en heerlikheid! In wederdoperse sin is dít die wedergeboorte. Ons word daarvan verlos om net gewone mense te wees en ons word mense wat vol is van God self. God en mens word één binne in ons, net soos dit met Jesus die geval is – volgens die Gnostiese wederdoperse dwaling.
Hierdie Gnostiese opvatting is steeds die wortel van die hedendaagse Pinkster-teologie. Enkele weke gelede het ’n Pinkster-teoloog nog weer die leer van die erfsonde openlik tydens ’n radioprogram verwerp terwyl sy gespreksgenote – wat uit gereformeerde stal kom – hom nie kragtig kon weerlê nie. Die oersonde – naamlik die mens se begeerte om soos God te word – bly steeds die wortel van die gnostiek en die inhoud van die Pinkster-teologie waar die mens met God identifiseer en die mens ’n goddelike mens word wat vasgevang is binne die vlees.
Dit het implikasies vir byvoorbeeld sake soos siekte en gebed. Volgens die Pinkster-denke moet die gelowige se aardse liggaam oorwin word deur die innerlike goddelike krag. Siekte is ’n teken van ons swak menslikheid wat oorwin moet word vanuit die innerlike goddelike potensiaal. Gebed word gesien as die meganisme waarmee die goddelike innerlike krag ontsluit word om die swakheid van die vlees te oorwin. Deur middel van hierdie ontsluiting, bemagtig die mens vir God om te doen wat die mens graag wil hê.
Die ware Bybelse leer bring groot bevryding en ware troos. Volgens die Skrif is daar geen teenstelling tussen vlees en gees nie. Óók die menslike gees is deel van die skepping en deur die sondeval totaal verdorwe. Maar die skepping bly altyd die werk van die Heilige Gees. Die gewone arbeid van die mens in die skepping is deel van die werk van die Gees. Mediese uitvindings en dienste is ook God se werk. Geen deel van ons geskape menswees is sleg en hou ’n innerlike goddelike gees gevange nie. Die genesingspraktyke van die mediese wetenskap is nie bedoel om teenoor die kerk se bediening te staan nie. Gebed is ook nie die ontsluiting van God se krag nie. Gebed is geen krag waardeur mense kan bewerk wat hulle graag wil hê nie. Die wedergeboorte beteken ook nie dat die menslike gees met die Heilige Gees identifiseer en hulle één word nie. Volgens die Bybel is dit sonde vir ’n mens om met Gód te identifiseer. Dit is die oersonde (Gen 3:5). Om te beweer dat God se Gees en die mens se gees één word sodat die mens met goddelike krag bó siekte, dood, armoede en gebrek uitstyg, is die mens se oersonde naamlik om homself te wil bemagtig met God se goddelikheid sodat hy méér kan wees as ’n gewone mens in Sy skepping. Om na ’n geestelike eenheid met God te soek, wat ons verhef bó gewone menslikheid, is die oersonde.
Wat is dan die troos van die Evangelie? Wat is die verlossing van Christus gebring het? Hy het – as mens – sonde in ons plek geword ( 2 Kor. 5:21) sodat ons nou in ons gewone menswees deel is van God se genade en liefde. Hy het ons nie van die aardsheid, beperktheid en nietigheid van menswees verlos nie, maar ons in ons nietige menswees laat deel in God se liefde en aanvaarding. In ons siekte en gesondheid, lewe en dood, armoede en rykdom, is ons deel van God se goedheid en guns en sal Hy alles vir ons ten goede laat meewerk (Sondag 10 HK). Siekte is geen mag en krag buite God en teen Sy wil nie. Hy beskik die siekte en integreer dit in my lewe as deel van Sy Vaderlike voorsienigheid. Gebed is die dankbare manier hoe ’n gelowige vanuit die Vader se guns mag leef. Gebed is geen krag-ontsluiting nie en dit bewerk niks. Dit fokus geheel en al op die Vader en beteken om te lewe vanuit Sý perfekte wil. Dit is die rus wat die geloof in Christus meebring en wat in die Skrif vir ons oopgemaak word en waarvan ons gereformeerde belydenis die weerklank is.