Bron: De Reformatie. 3 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Herder en Leraar op die Preekstoel Oor die predikant en prediking

predikant🔗

Onderrig🔗

Prediking is onderrig. Hierdie aspek is altyd gesien as ʼn belangrike kenmerk van die preek. Daar is tye dat mens die man op die kansel by voorbaat as die leraar beskryf. Jy kan verwag dat jy wyser sal word deur die preek. Per slot van rekening is dit waarop onderrig gerig is.

Dit is ook opvallend hoe dikwels daar in die Bybel van onderrig sprake is. Sowel die Ou as die Nuwe Testament noem dit dié weg om in die lewe vir God tuis te raak. Die Here Christus, wat ons hoogste Profeet en Leraar noem, was juis in sy prediking die Meester. En dan werklik in die betekenis van Onderwyser (‘leermeester’, Matthéüs 23:8). Dit gee ons rede om die prediking in die kerk onderrig te noem.

Maar terselfdertyd moet dit duidelik wees dat dit oor ʼn spesiale vorm van onderrig gaan. Jy kan naamlik onderrig ook as blote oordrag van inligting voorstel. Dan gaan dit daaroor dat jy oor ʼn bepaalde onderwerp op hoogte gebring word van die belangrikste wetenswaardighede. Ons ken dié onderrig in die vorm van kursusse en lesse.

Dit is duidelik dat ons in die kerk iets anders kan verwag. Ons woon nie daar ʼn kursus, ook nie ʼn kursus in Bybellees, by nie. Ons kry ook nie daar ʼn les in uitlegkunde nie. Ons hoor daar hoe die God van ons lewe ons met sy Woord aanspreek. Dit beteken dat jy ook iets anders van hierdie onderrig kan verwag. Jy kan immers by die onderrig wat jy in die preek ontvang nooit net ʼn toehoorder wees nie. Jy is van A tot Z met jou hele lewe by die boodskap wat jy daar hoor, betrokke. Dit beteken dat die onderrig van die preek ook die toename in kennis wat daarby hoort, beteken.

Kennis🔗

Die onderrig van die preek is ook gerig op die toename in kennis. Kennis is essensieel vir ware geloof.

Dit is welbekend dat jy op baie verskillende maniere met die begrip ‘kennis’ kan omgaan. Jy kan nadruk lê op feitekennis. In daardie geval is breedvoerige inligting oor name, gebeurtenisse ens. van belang. Iemand anders sien kennis meer binne die raamwerk van jou verstand aktief te gebruik. Dan verwag jy van die preek dat daar ʼn prikkel vir jou denkvermoë sal uitgaan. Al hierdie dinge kan wel van ʼn preek uitgaan, maar dit raak tog nie die wete nie. Met geloof gaan dit immers nie oor formele kennis nie. Dit is nie dieselfde as om ‘op hoogte’ van iets te wees nie. Die kennis van ons geloof het net plek binne die verbondenheid aan God, wat Hy self gegee het. Om Hom te ken, is om Hom te vertrou.

Groei in kennis🔗

Dit het natuurlik belangrike gevolge vir wat ons van die preek kan verwag. Dit gaan dus nie in die eerste plek daaroor of ons iets nuuts hoor, iets wat ons nie vantevore geweet het nie. Afgesien van die feit dat geen predikant aan die eis kan voldoen nie, vergeet so ʼn verwagting dat die kern van die prediking altyd aan ons bekend is, omdat ons Christus ken. Om in die kennis te groei hoef nie eers te beteken dat jy ‘meer weet’ nie, maar dat jy nouer aan Hom verbind word. Jy kan dus van die preek verwag dat jy nie in die eerste plek ʼn referaat of lesing oor ʼn interessante teks, ʼn moeilike Bybelboek of  ʼn omstrede punt in die belydenis sal hoor nie. Maar jy kan verwag dat die preek daarop gerig sal wees om jou verhouding met Christus te verdiep. Die onderrig van die preek kan net in daardie lig bestaan.

Dit wil nie sê dat die predikant dan maar soveel moontlik alle feitekennis en moeilike onderwerpe moet vermy nie. Die bostaande is nie ʼn pleidooi vir minimalisering van die inhoud van die preek nie. Daar gaan wel gereeld stemme op om in die prediking so eenvoudig moontlik te werk te gaan. Maar dit sou beteken dat ons ook in die Bybel moet selekteer. Net aansprekende gedeeltes en die tekste wat maklik verstaan kan word, bly oor. Die Bybel gaan ons bepaald nie daarin voor om moeilike dinge nie te oordink nie.

In die bostaande gaan dit bloot oor binne welke raamwerk die dinge ter sprake kom. Maar binne daardie raamwerk moet ons onsself dan met alle kragte (en dus ook met ons verstand) inspan.

studieboeke

Daarom kan jy van die preekonderrig ook verwag dat moeiliker sake ook aan die orde kom. Anders bly ons kennis vassteek by die a-b-c van die geloof. Dit is die kenmerk van die Hebreërbrief (Hebreërs 6:1). Die skrywer van die brief wil praat (soms lyk dit inderdaad asof hy besig is om te preek eerder as om ʼn brief te skryf) oor Christus as hoëpriester volgens die orde van Melgisedek. Vir sommige mense is dit moeilik. Maar as ons God werklik liefhet, sal ons juis ook hieroor met sy onderrig besig wil wees. Ook dit is belangrik om werklik te groei. Ons moet ons dus nie ʼn valse dilemma voorstel asof egte geloofskennis nie gepaard gaan met toename in insig in die onderrig van die Bybel nie.

Dieselfde geld vir ʼn bepaalde feitekennis. As die preek byvoorbeeld oor Genesis 14 gaan, sal die dominee nie anders kan as om iets oor die aardrykskunde van Kanaän te vertel nie. Dit is selfs moeilik om die kern van daardie hoofstuk sonder aardrykskundige gegewens te verstaan.

Maar die geografiese kennis bewerk in ons gelowige vertroue op God. Ons kan verwag dat die onderrig in die prediking ons wyser maak met betrekking tot alles wat ons lewe voor God betref.

Pastoraal🔗

ʼn Tweede ding wat ons kan vereis, is ʼn pastorale preek. Daarin kom die herderlike element tot sy reg.

Dit gebeur soms dat mense nie goed kan sien hoe onderrig en pastoraat saamloop nie. Dit gebeur selfs dat mense die twee aspekte teen mekaar afspeel. Dit word ook in die hand gewerk wanneer ons die besoeke van die dominee die pastoraat noem. Dit is ʼn vernouing. Ten onregte.

Om herder te wees, beteken dat jy die stem van die goeie Herder wil laat hoor. En waar kan jy dit beter doen as op die kansel? As jy dié element te veel van die onderrig-aspek losmaak, gaan dit beteken dat ons van die preekstoel objektiewe onderrig kry, terwyl die pastoraat dan gedurende die week ʼn persoonlike toespitsing op die omsien na die skape is.

In feite is so ʼn skeiding reeds al nie goed moontlik in die lig van wat hierbo gesê is nie. Maar dit bring ook ʼn kunsmatige verdeling in wat één en dieselfde werk moet wees. Juis die samehang van die beide aspekte sal die preek die beste tot sy reg laat kom.

ʼn Pastorale preek is ʼn preek wat by die winning van harte, spesifiek op die gemeente gerig is. Die hoorders van die preek is dus spesifiek daarby in die oog. Maar dit gebeur net as onderrig en pastoraat ʼn hegte eenheid is. Om pastoraal besig te wees sal die predikant die gemeente werklik moet ken. Dit sal ongetwyfeld sy prediking beïnvloed. Daarom kan jy verwag dat herderskap en leraarskap nie in die preek geskei word nie.

huisbesoek🔗

Vermaan en vertroos🔗

As jy die pastorale faset nader uitwerk, kan jy sê dat die preek moet vermaan en vertroos. Op die oog af lyk dit na ʼn teëstelling, maar dit is dit bepaald nie. (In die Bybel word dikwels selfs dieselfde woord vir albei gebruik!)

Vermaning is immers daarop gerig om nie van die spoor van Christus af te dwaal nie. Vertroosting is daarop gerig om nie die vastigheid in Christus deur verdriet of ander kwellinge kwyt te raak nie. Albei het ten doel om die gemeente by Christus te bewaar.

As ons dit konkretiseer, kan ons in hierdie opsig van die preek verwag dat ons daardeur teen die duiwel bewapen word, toegerus vir ons spesifieke roeping, bemoedig in bestaande node en aanvegtinge.

Die pastorale aspek van die preek beteken dus dat ons ook kan verwag dat ons in die preek duidelike aanwysings sal kry wat kan bydra tot kennis van onsself en ons verhouding tot God en die wêreld rondom ons.

Hieruit alleen al blyk dit dat daar nie skeiding gemaak kan word tussen die onderrigtende en die pastorale aspekte van die preek nie. Die onderrig van die preek kan eers goed tot sy reg kom wanneer dit pastoraal op die gemeente gerig is.

Die pastorale gerigtheid kan die gemeente eers werklik dien wanneer hulle goed onderrig word.

Dit alles vra natuurlik om nader uitgewerk te word en inhoud aan gegee te word. Beide het belangrike gevolge vir die inhoud van die preek. Hierdie keer het dit vir my gegaan oor die aard van die preek. Eers as dié uitgangspunt vasgelê is, kan begin word met nadere konkretisering. Ek hoop om in ʼn volgende artikel dieper hierop in te gaan.