Heidendom met 'n nuwe baadjie aan
Heidendom met 'n nuwe baadjie aan
As 'n mens mooi daaroor dink, is die charismatiese beweging, soos die "oormatige klem op die geestesgawes" in die teologie bekend staan, glad nie 'n nuwe verskynsel nie. Die spore daarvan lê reg deur die twintigste eeu, hier in ons land en op baie ander plekke in die wêreld. Die wortels daarvan gaan nog verder terug - tot in die negentiende eeu, en nog verder. Straks is dit gewortel in die metodisme van die agtiende eeu, wat toe reeds met emosionele opwekkings baie oningeligte Christene op sleeptou geneem het. Veral die metodistiese beskouings oor die doop met die Heilige Gees en oor gebedsgenesing het waarskynlik meegehelp aan die charismatiese bewegings soos ons hulle vandag ken.
Die geestesdoop⤒🔗
In die boekie "Revival" of Reformasie? het prof. PW Buys die metodisme se leer oor die geestesdoop beskrywe. Die "doop met die Heilige Gees" is natuurlik 'n Bybelse uitdrukking, afkomstig uit 1 Korintiërs 12:13. In sy boek Hy wat met die Heilige Gees doop het prof. Floor 'n deeglike studie van hierdie en ander Skrifwoorde oor die "doop met die Heilige Gees" gedoen, en kom dan tot die gevolgtrekking: "Gedoop in of met die Heilige Gees is om gebring te wees onder die heerskappy van Christus, en om saamgevoeg te wees tot die geestelike eenheid van die liggaam van Christus." As iemand aan Christus behoort, het hy die Gees ontvang, is hy met of in die Gees gedoop.
Die metodisme verstaan die doop met die Heilige Gees egter anders. Dit onderskei tussen twee verskillende maniere waarop die Heilige Gees in mense werk. Die eerste, algemene, werking staan in verband met die geloof (naastenby soos prof. Floor se beskrywing hierbo). Alle gelowiges deel in hierdie algemene werking van die Gees. Die metodisme onderskei egter 'n tweede, hoër, werking van die Gees. Dit is naamlik die geestesdoop, wat ontvang word slegs deur hulle wat die Gees as die Pinkstergees leer ken het. Volgens die metodisme ontvang gelowiges deur hierdie geestesdoop die volle vrede en krag van die verlossing. Hierdie tweede "spesiale" doop met die Heilige Gees vind boonop plotseling plaas. Dit is 'n bekering wat gewoonlik met dag en datum aangedui kan word (vgl. prof. Buys in "Revival" of Reformasie?, bl. 57).
Hierdie skeefgetrokke idee van die doop met die Heilige Gees is in werklikheid al so oud soos die berge. Vroeë spore daarvan kom voorin die tweede en derde eeu na Christus, by 'n sekte in Noord-Afrika wat bekendgestaan het as die Montaniste. Aangevoer deur ene Montanus, het hulle sterk klem gelê op die geestesdoop en op godsdienstige ervarings, tot so 'n mate dat dit die Woord en prediking verdryf het. Hierdie sekte met hulle geesdrywery is toe reeds deur die kerk weerlê en bestry.
Die gawes van die Gees←⤒🔗
Vir die charismatiese bewegings is dit belangrik dat die geestesdoop op 'n manier sigbaar word. Die manier waarop dit sigbaar word, sê hulle, is deur die geestesgawes (charismata) wat in die lewe van die mens na vore kom, soos gebedsgenesing en tonge-tale. Hierdie gawes is dan bonatuurlike gawes, wat as bewys dien dat die Heilige Gees op 'n hoër vlak in die persoon werksaam is as in ander "gewone" gelowiges. Vir hierdie siening doen hulle gewoonlik 'n beroep op 1 Korintiërs 12:28-31. Ten onregte, soos hieronder aangetoon word.
As dit by gebedsgenesing (oftewel geloofsgenesing) kom, het die charismatiese bewegings, net soos die metodisme, 'n besondere - en kan ons maar sê - onbybelse siening van siekte en genesing. Volgens hulle is siekte nie die wil van God nie. Prof. Buys haal Andrew Murray hieroor soos volg aan: "Die Heer het baie van ander ly-ding gepraat wat sy dissipels moes duld, maar orals van die siekte as 'n kwaad waarmee die sonde en die Satan te doen het en waarvan die mens behoort vrygemaak te word ... Soos die sonde in die siel is, is die siekte in die liggaam 'n teken van die mag van die Satan."
Wie siek is, is in die greep van Satan. Al manier om dan van die siekte ontslae te raak, is om uit die greep van Satan te kom. Gevolglik grens die optrede van die sogenaamde charismatiese gebedsgenesers dikwels aan demoon-uitdrywing.
Net hulle wat die buitengewone geestesdoop ontvang het, het dan die vermoë om met hulle gebede die werk van Satan in die sieke tot 'n einde te bring. Dit is ook net hulle wat in tale kan spreek, of dit kan uitlê. Deur hierdie buitengewone, bonatuurlike gawes word die geestesdoop in die lewe van gelowiges gemanifesteer. Daarom, wie die gawe van genesing het of in tale kan spreek of dit kan uitlê, is op 'n hoër vlak van omgang met die Heilige Gees as ander gelowiges. Hierdie siening is soos 'n goue draad deur al die charismatiese bewegings gevleg.
Geen rangorde van geestesgawes nie←⤒🔗
Prof. Floor het in sy boek Hy wat met die Heilige Gees doop 'n deeglike studie van 1 Korintiërs 12 gemaak, en kom tot die gevolgtrekking dat die Bybel nie onderskei tussen natuurlike en bonatuurlike gawes nie. Die Bybel ken ook nie so-iets soos 'n rangorde van belangriker ("hoër") en minder belangrike ("laer") gawes nie.
In sy brief aan die Korintiërs vermaan die apostel Paulus die gelowiges juis omdat hulle daar in Korinte met mekaar wou kompeteer oor wie die beste gawes van die Gees ontvang het. In hoofstuk 12 verduidelik Hy aan hulle dat daar nie so-iets soos belangriker en minder belangrike gawes in die kerk van die Here bestaan nie. "Daar is 'n verskeidenheid van genadegawes", skryf hy in vers 14, "maar dit is dieselfde Gees."
Die poging van die destydse gelowiges daar in Korinte om die geestesgawes teen mekaar af te speel of om gelowiges in "hoër" en "laer" klasse in te deel, was dus nie iets om na te volg nie. Hulle onderlinge wedywering, ook ten opsigte van die geestesgawes, was onordelik en verwerplik. Dit het die eenheid van die kerk bedreig en was die gevolg van liefdeloosheid.
Daarom vermaan Paulus hulle ernstig, en skryf in sy brief aan hulle indringend oor die liefde: "Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek 'n klinkende metaal en 'n luidende simbaal geword ..."
Heidense wortels←⤒🔗
Maar waar het die Korintiërs se beheptheid met die idee van bonatuurlike geestesgawes vandaan gekom? Heel waarskynlik van die ou heidense Grieke af. 'n Mens moet onthou dat die gelowiges daar in Korinte meesal Grieke was wat grootgeword het met die Griekse heidense volksgodsdiens van daardie tyd. Hulle het 'n veelgodedom aangehang en het daarom 'n hele rits van afgode vereer, soos onder meer uit Handelinge 17:22, 23 blyk.
Een van hulle afgode het die naam Apollo gehad. Apollo se priesters en priesteresse was saamgetrek by sy tempel in Delfi. Daar by Delfi het Apollo aan hulle 'n waarsêende gees gegee (vgl. Hand. 16:16), wat hulle in staat sou stel om die toekoms te voorspel. Hulle was die fortuinvertellers van weleer. Mense vanoor die hele wêreld het na Delfi toe gestroom en daar, teen betaling, hulle toekoms deur hierdie priesters en priesteresse laat voorspel.
Die priesters en priesteresse het dan 'n punt daarvan gemaak om hulle kliënte te oortuig dat hulle in 'n bonatuurlike verbinding met die gode was.
As "bewys" dat hulle deur die waarsêergees in besit geneem is, het hulle op die grond neergeval, stuiptrekkings gekry en vreemde, onaardse geluide gemaak. Veral die vreemde klanke ("tonge-tale") is beskou as 'n manifestasie daarvan dat die gees van die gode in hulle werksaam is.
In Korinte was daar waarskynlik verskeie lidmate wat vanuit hierdie heidense agtergrond na die Christelike godsdiens oorgekom het. By sulke lidmate het baie ou heidense gedagtes tog nog maar bly vassteek. Byvoorbeeld die idee dat mense in wie die Heilige Gees werksaam is, ook soos daardie priesters en priesteresse van Delfi "aanvalle" moet kry en in allerhande vreemde tale moet begin praat.
Paulus antwoord in hoofstuk 14: Nee, as jy dan in tale wil praat, doen dit in jou binnekamer. Tonge-tale hoort in werklikheid nie in die erediens nie, want, sê hy in vers 22, dit is 'n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges. 'n Mens sou kon vra of mense wat ander mense met hulle geestesgawes wil beïndruk, terug is by die heidense praktyke van die priesters van Delfi?
So blyk dit dat die charismatiese bewegings se oormatige en eensydige beklemtoning van geestesgawes baie ver teruggevoer kan word. In Suid-Afrika gaan dit terug tot in die agtiende en negentiende eeue. In die vroeë kerk vind ons dit terug by die Montaniste van Noord-Afrika. In die tyd van die apostels het dit kop uitgesteek by die gemeente in Korinte.
In werklikheid is dit gewortel in die ou heidense godsdienste van die Grieke, so ver terug as die derde en vierde eeu voor Christus.
'n Nuwe verskynsel? Nee, 'n ou-ou dwaling wat maar net 'n nuwe baadjie gekry het.