Habakuk 3: Nogtans
Habakuk 3: Nogtans
Dit is opvallend hoedat in tye van groot onsekerheid die boodskap van Hábakuk 3 volgehoue aandag ontvang en telkens nuwe betekenis kry. Daar word tans baie oor hierdie besondere gedeelte gepreek en die mooi beryming daarvan (Sb 14:2) word in eredienste ook dikwels gesing.
Dit is begryplik waarom. Die (byna onbekende) profeet Hábakuk leef in ’n tyd toe Israel as volk van God en Jerusalem as Godstad deur die Babiloniese wêreldmag met ondergang bedreig is. Die groot ineenstorting van die samelewing is voor die deur en die ballingskap na ’n ver land om die draai.
Hábakuk sien wat kan gebeur: die vyeboom wat nie meer bot nie, die druiwestokke gestroop, die olyfoes misluk, die kleinvee weg en die beeskrale leeg.
Hábakuk vertolk die gevoel van ’n Job wat alles verloor het, sy besittings, sy kinders, sy gesondheid – maar nogtans ... bly glo het.
Dis in omstandighede van totale ineenstorting en ineenploffing van die samelewing dat Hábakuk sy nogtans-lied sing en sy nogtans-geloof bely. “Nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.” Dit wil gedoen wees!
In hierdie uiterste noodtoestand is Hábakuk se enigste ligpunt, sy enigste ruspunt, die Here alleen. Nié die mure om Jerusalem, nié die weermag van die koning, nie toekomsvoorspellers nie, net die Here alleen. Net Hý versterk, net Hý verlos, Hy alleen – selfs al moet dit (uiteindelik) ook deur die oordeel heen.
In die lig van die Nuwe Testament kry hierdie nogtans-lied van Hábakuk natuurlik nuwe betekenis. Dit is ’n wekroep om die koms van Jesus Christus, ons enigste Verlosser, en na die Heilige Gees wat ons sterk maak en ons krag gee. Dit is ’n roep na Christus wat ons van die bose magte vry maak, en na die Gees wat ons lewe nuut maak.
Vandaar die gewildheid van hierdie lied van Hábakuk vandag. Christene sing dit midde-in ’n wêreldsamelewing wat van alle kante bedreig word. Hulle sing dit in die aangesig van die gevaar van ’n altyd dreigende kernoorlog wat alle lewe op aarde kan vernietig; hulle sing dit in ’n wêreld waar die ekologiese versteuring onrusbarende afmetings aanneem en alle lewe op aarde bedreig; hulle sing dit terwyl daar sprake is van die wêreldekonomie wat tuimel en grondstowwe wat uitgeput raak.
Hulle sing dit ook in ’n land soos Suid-Afrika waar die vlakke van geweldsmisdaad al die vorm van ’n mini-oorlog aanneem en waar 50 mense per dag vermoor word; waar talle mense aan vigsverwante siektes sterf, 700 per dag; waar beurtkrag aan die orde is, dienstelewering verswak, korrupsie en magsmisbruik toeneem, onderwys- en regsisteme knak, sakeondernemings vou, mense op plase, stede en in townships vermoor word, kapings en transitorooftogte toeneem ... Hulle sing hierdie lied terwyl dit voel of die pilare van die samelewing verkrummel.
Nié dat hierdie lied hulle geestelik verlam en op non-aktiwiteit plaas nie, nee, hulle werk, elke dag, so hard as wat hulle kan. Hulle kritiseer en protesteer – op verantwoordelike wyse. Hulle bou aan die samelewing en rig orals klein tekens op van God se komende koninkryk, God se nuwe wêreld wat reeds in hierdie ou stukkende wêreld begin vorm aanneem. Hulle weet dat die oorwinning uiteindelik nie aan die bose magte behoort nie maar aan Jesus Christus, die gekruisigde en opgestane Here.
Hulle verwag ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde waar alles reg en mooi en skoon is. Al moet dit ook deur die laaste oordeel heen. Héén. Hulle weet dat die groot wêrelddrama van oorloë en hongersnode en aardbewings en mishandeling geboortepyne is van die inbraak van God se nuwe ryk in ’n ou wêreld (Matt 24:3-10).
Hulle sing hulle nogtans-lied, soos Hábakuk dit gedoen het, maar nou aangevul met nuwe woorde, soos byvoorbeeld:
Al sou dan selfs die bose magte toeslaan,
al sou selfs alles om my heen vergaan;
die son verdof, die lewensvreugde wegkwyn,
die ganse skepping sug, te gronde gaan –
nóg sal ek juig in Christus, Heer en God!
U maak my sterk, oorwin die dood.
U maak die hemel nuut die aarde vry.
In U, o God, verbly ek my!