Goeie Vrydag: Van Golgotha na die Leë Graf
Goeie Vrydag: Van Golgotha na die Leë Graf
Met Goeie Vrydag gaan staan die kerk weer stil by Golgota. Nie net om terug te dink aan wat daar gebeur het nie, maar ook — en veral — om te dink aan waarom dit gebeur het. En waartóé. Wat het daar gebeur? Jesus Christus, die Seun van die Allerhoogste God, het daar aan die kruis gesterwe. Waarom? Om die prys vir ons sondes te betaal. Waartoe? Sodat ons nou voor God vry van skuld kan wees en die ewige heerlikheid by Hom kan binnegaan.
Die vraag is egter of die wat? of die waarom? van Golgota, asook die waartoe?, na byna 2000 jaar nog enige indruk op die mens maak.
Jesus is Werklik Gekruisig⤒🔗
Volgens Rudolf Bultmann, die groot Duitse teoloog van die eerste helfte van ons eeu, is wat op Golgota gebeur het vir die moderne mens irrelevant. Volgens hom maak dit aan ons weinig saak of Jesus destyds werklik gekruisig is of nie. Dié stelling van Bultmann was 'n akademiese stelling — een wat ons natuurlik vanuit die Gereformeerde teologie verwerp. Die gevaar bestaan egter dat ons sy stelling op akademiese vlak verwerp, maar dit in praktyk aanhang.
'n Mens kan inderdaad met die belydenis van Christus se kruisdood op jou tong, tog so lewe asof Golgota nooit daar was nie. Met sy bloed aan die kruis het Jesus Christus ons losgekoop van 'n sondebestaan. Ons lewe moet dus nou anders wees as dié van die goddelose wêreld.
As ons, die losgekooptes van Christus, dan op dieselfde plekke gesien word as hulle wat sonder Christus is, dan gee ons te kenne dat Golgota geen verskil maak nie. As ons dieselfde dinge of nog erger dinge doen as hulle wat Christus verwerp, dan tree ons op asof Jesus nooit gekruisig is nie. Nog erger: as ons begin saamfluister in die reënboogkoor wat roep dat alle godsdienste eintlik maar gelyk is, dan maak ons of Christus se kruisdood irrelevant is!
Goeie Vrydag is daar om die kerk weer te herinner dat die kruis van Christus vir die mens onbeskryflik belangrik is. Sy dood is vir ons van lewensbelang. Dit moet ons besef en bely en beleef, nie net op Goeie Vrydag nie, maar elke dag van ons bestaan.
Vir ons Sondes Gekruisig←⤒🔗
Op Goeie Vrydag dink ons nie net aan wat op Golgota gebeur het nie. Ook die waarom van Golgota staan ons helder voor die gees: Christus het daar aan die kruis in Godverlatenheid gesterwe om ons sondeskuld voor God te betaal. Daarom is Goeie Vrydag 'n dag waarop ons weer besef hoe groot ons sondeskuld voor God is.
Op Goeie Vrydag is daar dan geen plek vir mensverheerliking nie. Die humanistiese idee van die basiese goedheid van die mens trek 'n streep deur die waarom van die kruisdood van Christus. As die mens op enige manier self sy sonde kon oorkom, dan was dit totaal onnodig dat Jesus gekruisig moes word.
Daarom is sondebesef deel van elke gelowige se lewe — maar by sondebesef durf ons nie vassteek nie. Want dan kom daar 'n skuldpsigose oor ons wat ons tot moedeloosheid en selfs tot wanhoop oor ons sondes drywe.
Ons moet vorder tot die besef dat Christus met sy bloed aan die kruis ons sondes voor God iets van die verlede gemaak het. Nee, meer as dit: Hy het dit uitgewis asof dit nooit daar was nie!
Gesterwe om Weer te Lewe←⤒🔗
Op Goeie Vrydag mag ons egter nie net by die wat en die waarom bly vassteek nie. Ons moet uitkom by die waartoe van Christus se kruisdood. Die Golgotagebeure eindig immers nie by Jesus se begrafnis nie. Dit het 'n asembenemende einde: die oop graf. Jesus Christus was dood, maar Hy het opgestaan en Hy leef. Hy het dus gesterwe juis om die dood te oorwin.
'n Mens se verstand is te klein om die wondergebeure van Jesus se opstanding klein te kry. Daarom het die mens nog altyd moeite gehad om dit te aanvaar. Jesus se kruisdood en begrafnis kan verstaan word. Ons leef van dag tot dag met dood en begrafnis saam. Maar die opstanding?
Die dissipels self kon dit kwalik glo. Die opgestane Jesus moes hulle eers oortuig (Luk. 24:13-35; Joh. 20:19-31). Die Ateners op die Areopagus het Paulus daaroor uitgelag (Hand. 17:32). In die gemeente van Korinte was daar selfs lidmate wat sy opstanding maar net nie wou aanvaar nie (1 Kor. 15:12).
Ook die moderne mens het allerhande maniere uitgedink hoe om by die feit van Jesus se opstanding verby te kom: sy opstanding was net simbolies; of: sy opstanding is deur die vroeë Christene gefabriseer om hulleself ná Jesus se dood te troos; of: Jesus staan eintlik maar net op in die harte van die gelowiges. Vir ons geld egter steeds die woorde van die apostel Paulus in 1 Korintiërs 15:17: "As Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos; dan is julle nog in julle sondes".
Daarom staan die kerk nie stil by Goeie Vrydag nie. Vanuit Goeie Vrydag leef ons na opstandingsondag toe. Vanuit Golgota na die leë graf. Vanaf die Gekruisigde na die Opgestane. Daarin het ons 'n onbeskryflike troos. Want die opstanding van Christus, so bely ons in Sondag 17 van die Kategismus, is vir ons 'n betroubare waarborg van óns salige opstanding.
Die saligheid wat vir ons in ons opstanding voorlê, is so groot dat alle pogings van die mens om vir homself hemel op aarde te skep, belaglik word. Die heerlikheid wat ons in die opgestane Christus sal beërwe, is 'n allesoortreffende heerlikheid. Ook die moeite en verdriet wat in hierdie lewe oor ons kom, lyk soos niks in vergelyking met die heerlikheid wat eendag in die opstanding aan ons geopenbaar sal word (Rom. 8:17).
Wanneer sal dit gebeur? Ons weet nie. Ons weet net dat, selfs na 2000 jaar, die werklikheid van ons opstanding steeds gewaarborg is in die opstanding van ons Here Jesus Christus.