Godsdiensregte
Godsdiensregte
Die godsdienstige toneel in die sogenaamde nuwe Suid-Afrika beloof om totaal anders daar uit te sien as dié waaraan ons tot nog toe gewoond was. Die jongste aanduiding hiervan is die Konsepverklaring oor die regte en verantwoordelikhede van godsdienstige mense wat deur die Suid-Afrikaanse Konferensie vir Godsdiens en Vrede opgestel is. Dit is nie die eerste keer dat hier te lande so 'n uitspraak oor menseregte op godsdienstige terrein gemaak word nie. Sulke uitsprake het oor die afgelope jaar of wat deel van die Suid-Afrikaanse scenario geword.
Oor die algemeen gaan hierdie verklarings en uitsprake oor sake soos die verhouding tussen owerheid en godsdiens, tussen onderwys en godsdiens en tussen godsdiens en godsdiens. Opvallend is dat al die verklarings van die standpunt uitgaan dat geen godsdiens bo 'n ander gestel mag word nie en veral dat die reg van die mens om die godsdiens van sy eie keuse te beoefen, in geen opsig aangetas mag word nie. Dit is natuurlik 'n vraag of bogenoemde standpunt dié van godsdiensvryheid of dié van godsdiensgelykheid is. Oor die antwoord op hierdie vraag bestaan daar groot verskil van mening en is die laaste woord nog nie gespreek nie.
Ewe belangrik is die vraag: wie word volgens hierdie standpunt as "onaantasbaar" beskou? God en sy heilige reg om gedien te word? Of die mens en sy "reg" om te dien wie hy wil? Dit wil voorkom of uitsprake oor godsdiensvryheid in die jongste tyd deurgaans die mens en sy reg as onaantasbaar beskou. Hierteenoor moet ons duidelik stel: dit is nie die mens en sy reg wat onaantasbaar is nie, maar die almagtige God en sy reg wat Hy in sy heilige Woord aan ons openbaar!
Dit beteken dat ons in die beoordeling van elke saak, ook die verhouding tussen owerheid en godsdiens, tussen onderwys en godsdiens en tussen godsdienste onderling, nie moet vra na wat die mens opeis nie, maar na wat God in sy Woord van ons eis.
Om maar net enkele voorbeelde te noem: natuurlik kan 'n mens niemand voor die punt van 'n swaard of op enige manier tot 'n bepaalde geloofsoortuiging dwing nie. Geloof is 'n saak van die hart en word alleen deur God in die harte van mense gelê deur die verkondiging van sy Woord (Rom. 10:9-17). Natuurlik kan die heidendom en die afgodery nie met geweld of met wetgewing bestry word nie. Die gelowige se wapen is die evangelie van Jesus Christus (Ef. 6:10-20). Daarom mag die Christen nooit probeer om die valse godsdiens met geweld of met wetgewing of met onwaarhede of met watter denkbare middel ook al, anders as die evangelie van Jesus Christus, te bestry nie. Nie omdat die mens die reg tot vrye godsdiensbeoefening het nie, maar omdat God ons in sy Woord daartoe beveel!