God se pad uit die krisis
God se pad uit die krisis
"Dit is klaar met my! Alles waarvoor ek al die jare gewerk het, het in duie gestort! Ek het geen toekoms nie!" So maal dit straks in die gedagtes van die bankrot sakeman, van die huiseienaar wat uiteindelik sy sleutels aan die bouvereniging moet gaan teruggee; so rol dit oor die lippe van die afbetaalde amptenaar, die teleurgestelde politieke ondersteuner, die ontnugterde volksman, die ouer by die oop graf van 'n enigste kind ... Feitlik 'n leeftyd se energie en toewyding is gebruik om die kind groot te maak, om die onderneming te vestig, om politieke ideale te verwesenlik, om 'n loopbaan op te bou – en in 'n oogwink is alles daarmee heen. Vorentoe lyk alles leeg en doelloos. Miskien is die beste tog maar handdoek ingooi en wag vir die dood!
Die worsteling met gevoelens van hierdie aard is uitstekende teelaarde vir depressie. Boonop is dit niks nuuts by die mens nie. Depressiewe gedagtes van "ek-het-misluk" of "my-saak-het-gefaal" is van die begin af deel van die mens se sondige bestaan. In 1 Konings 19 lees ons van 'n Godsman wat ook met sulke gevoelens geworstel het. Dit was die profeet Elia.
As profeet van die Here het Elia sy hele lewe daaraan toegewy om die goddeloosheid in Israel teë te werk en die volk na die diens van die Here terug te bring. Hy het ook pragtige oomblikke van sukses beleef. Dink maar aan die gebeure op die berg Karmel, waar die volk na die nederlaag van die Baäl-profete uitgeroep het: "Die HERE, Hy is God!" Maar mettertyd het sake vir Elia begin skeefloop. In plaas daarvan dat die diens van die Here toegeneem het, het dit afgeneem. Die bose koningin Isébel het die profete van God vervolg en ook Elia moes vir sy lewe vlug. Elia se ontnugtering en teleurstelling is hoorbaar in sy woorde (1 Konings 19:10,14): “Ek het my hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring."
Die toedrag van sake het Elia so neerslagtig gemaak dat hy onder 'n besembos gaan sit en gesê het (v. 4): "Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie."
Die versugting van Elia teenoor die Here gryp 'n mens aan. Maar nog meer aangrypend is die antwoord wat die Here aan Elia gegee het. Die Here het Elia op twee maniere geantwoord: eerstens in 'n gesig (verse 11 tot 13) en tweedens in 'n opdrag (verse 15 tot 18).
Oor die gesig waarin die Here by Elia verbygegaan het, sou 'n mens baie kon sê. Kortliks was die betekenis van die gesig dat God vir Elia daarin gewys het dat die werk van God nie noodwendig in die groot en skouspelagtige dinge gesoek moet word (soos die stormwind, die aardbewing of die vuur) nie, maar dat God dikwels ongemerk, soos die gesuis van 'n sagte koelte, werk. Deur die gesig het God Elia dus tot selfondersoek beweeg: Elia, het jou vertroue op die God van wonders nie dalk met verloop van tyd verander in 'n vertroue op die wonders van God nie? En nou dat daar nie wonders is nie, nou stort jou hele wêreld in duie?! Vertrou daarom op God self, op die Almagtige, selfs al lyk dit vir jou of sake buite beheer raak.
By wyse van die gesig het God Elia dus tot selfondersoek gelei. Daarna gee God verdere opdragte aan Elia, om hom tot optrede te lei. Hy sê (vers 15): ''Gaan terug na Damaskus...", en dan gee Hy aan Elia 'n reeks opdragte wat hy as profeet moet gaan doen. By die opdrag kom ook die trooswoord (vers 18): "Maar Ek sal seweduisend in Israel laat oorbly wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie."
Die Here se antwoord aan die neerslagtige Elia is dus: Moenie langer sit en tob oor hoe sake vir jou skeefgeloop het nie en hoe duister die toekoms vir jou lyk nie. Voer jy net jou opdrag uit! En vertrou op die Here dat Hy uiteindelik die regte afloop aan sake sal gee. Ongemerk, sonder dat jy dit raakgesien het, het God steeds seweduisend in sy diens bewaar!
Daarmee het die Here ook aan elkeen van ons wat in sak en as sit, geantwoord: Ondersoek jouself! Bekeer jou van vertroue op verkeerde gode! Vertrou op God alleen! Bid en glo dat die afloop van sake uiteindelik in die hand van die Here is en dat Hy sake uiteindelik ten beste sal laat afloop. En gaan jy dan uit en doen wat God jou in die hand gee om te doen! Vervul jou roeping!
Wie immers op iets of iemand anders as God vertrou, is soos die dwase man wat sy huis op sand gebou het. So iemand is verslae as die storms kom en alles wat hy opgebou het, dan inmekaar tuimel. Hy begin twyfel aan die almag van God en spoedig is hy soos 'n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word (Jakobus 1:6). So iemand sal nie kans sien om weer te begin bou nie, en sal glo dat daar vir hom nie meer 'n toekoms is nie. Tensy hy natuurlik besef waar hy gefouteer het. Dan sal hy weer begin bou – op die regte fondament van Godsvertroue.
Wie dan sy werk met alle vertroue op God aanpak, is geanker op vaste rots. Terugslae sal nie sy hele lewe laat intuimel nie. Hy sal bereid wees om die grootste gevaar te trotseer, om die grootste vernedering te deurstaan, om die grootste terugslae te oorkom, om altyd weer voor te begin.
- Josef het uit sy drome geweet dat God hom vir koninklike mag bestem het. Tog het sy lewenspad van die put in Kanaän na die tronk in Egipte geloop. Maar selfs as vergete gevangene het hy nie tou opgegooi nie. Vir hom was sy tien jaar in die tronk nie nederlaag nie, maar loutering. Met die hart vertrouend op God het hy gedoen wat sy hand gevind het om te doen. En uiteindelik het God die uitkoms gegee. Lees maar weer Genesis 39 en 40.
- Hierdie Godsvertroue het Dawid as vlugteling voor Saul daartoe gebring om – vasgekeer in die spelonk – tot God te bid, Hom by voorbaat vir die uitkoms te dank, en om selfs die nuwe dag te wou wakker sing (Psalm 57). God het uitkoms gegee. Hy het Dawid in die geleentheid gestel om die slip van Saul se mantel af te sny, en so het Hy Saul se gesindheid verander.
- Hierdie Godsvertroue het Paulus en Silas aangespoor om selfs in die tronk in Filippi te bid en ten aanhoor van die ander gevangenes, lofliedere tot eer van God te sing. Wat hulle voor die hand was, het hulle gedoen, met vertroue op God. En die uitkoms het Hy ook gegee (Handelinge 16:25).
Ons sou saam met die skrywer van Hebreërs die hele ry van gelowiges kon deurgaan, wat almal op God vertrou het. Hulle het die grootste terugslae deurleef, en gelouter anderkant uitgekom. Hulle het volhard waar dit vir die mens sinneloos gelyk het, maar omdat hulle op die fondament van Godsvertroue gestaan het, was hulle onbeweeglik vas.
In die krisis moet ons dus vir onsself sê: Hierdie krisis is nie my einde nie. Dit is slegs 'n donker diepte van beproewing waardeur God my lei. Ek verheug my selfs daaroor, want uit die beproewing kom loutering (Jakobus 1:2). Dit beteken dat God wil hê dat ek, my huis, my volk, my medegelowiges sterker anderkant moet uitkom – sterker in die geloof.
Hierdie loutering begin dan by selfondersoek: Is al my vertroue werklik en opreg op God gerig? Is dit nie dalk so dat my sakeonderneming, of my huis, of my politieke situasie, of my loopbaan, of my volksbestaan, of my kinders, of wat ook al die ganse basis van my bestaan geword het nie? Sodat, wanneer iets daarvan sou wegval, die bodem uit my hele bestaan wegval nie? Belangrik soos al hierdie dinge ook mag wees – en elkeen daarvan is ontsaglik belangrik, want dit is gawes van God wat Hy vir ons gee om te benut en te koester en in sy diens te gebruik – mag ons nooit die gawe belangriker maak as die Gewer daarvan nie. Vertrou alleen op God, die Gewer van alles wat goed is.
En wees getroos: God gee inderdaad. Selfs al lyk die uur vir ons donker, werk God ongemerk, met groot krag. Al sien ons dit nie raak nie, is daar die seweduisend wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie. Maar dit beteken nie dat ons nou maar agteroor moet sit en Gods water oor Gods akker moet laat loop nie. Getroos met die stil-werkende krag van God, het ons elkeen 'n taak om te verrig. In die krisis word ons gelouter, word ons getroos, maar is ons ook geroep. Daarom moet ons elkeen onsself in die krisis afvra: Wat kan en wat moet ek onder omstandighede doen? As dit lyk of daar geen uitweg is nie – bid, en God sal die pad vir jou aanwys. Miskien is dit nie die pad wat jy graag sou wou volg nie, maar vertrou op God dat Hy uiteindelik die beste pad sal aanwys. Die uitkoms is dalk nader, of elders, as wat jy of ek dink. Maar daar is 'n pad uit. God se pad. Loop dan, kop omhoog, beginselvas, met alle vertroue op God, voluit op daardie pad!