Geroepe Heiliges
Geroepe Heiliges
Die apostel Paulus skryf aan die gemeente in Rome. Sy brief is gerig aan die ‘geliefdes van God, geroepe heiliges, wat in Rome is’ (Rom. 1:6). Ook sy brief aan die gemeente van Korinte skryf hy aan ‘geroepe heiliges’ (1 Kor. 1:2). Dit is ʼn aanspraak wat die gelowiges as heiliges (geroepenes van God) beskryf, maar ook as mense wat geroep is om aan Jesus Christus te behoort, soos wat Paulus hulle ook noem.
Daarmee sê die apostel iets wat fundamenteel is vir die gemeente van die Here Jesus. Daaroor wil ek graag hierdie keer iets skrywe.
Inisiatief⤒🔗
Die gemeentes in Rome en in Korinte bestaan uit ‘geroepe heiliges’.
Dit kan van elke gemeente van Christus gesê word. Dit sê iets oor die inisiatief waaruit die kerk gebore is. Die kerk is nie die produk van menslike kreatiwiteit of menslike aktiwiteit nie. Dié indruk kan mens vandag wel kry. Daar word vandag in die kerk baie aandag aan ‘menslike aktiwiteit’ gegee. ʼn Mens sien hoedat mense die inisiatief neem om ʼn gemeente te stig. Of jy word ʼn lidmaat van ʼn gemeente van jou eie keuse.
Dit wil voorkom asof die kerk ontstaan deur mense wat hulle saamvoeg vanweë die geloof waaroor hulle beskik, om dit te bely, en (wat vandag baie aandag kry) om die belewing van die geloof, wat die mense met mekaar deel, saam te vier. Maar die kerk is geen inisiatief van mense nie. Die Skrif praat oor heiliges, nl. mense wat deur God in Christus Jesus afgesonder en geroep is om aan Hom te behoort. Vanweë die afsondering van die wêreld om aan die Here God te behoort, word hulle ‘heiliges’ genoem. Dit kom nie uit hulleself voort nie. Hulle is ‘geroepe heiliges’. Die inisiatief kom van God af.
Dit sien ons keer op keer in die Skrif. Dit is byvoorbeeld te sien as ons let op die eerste dissipels van die Here Jesus. Christus roep hulle om hulle tot vissers van mense te maak. Toe Hy gesê het: ‘kom agter My aan’ (Mat. 4:14), los hulle hul nette net so om Hom te volg. Hy roep hulle (vers 20). As Hy dít nie gedoen het nie, sou hulle ongetwyfeld as visser op die meer van Galilea bly werk het. Die Here neem die inisiatief. So was dit ook met dié dissipels wat op ʼn ander manier agter die Here sou aankom. Nataniël kom na die Here toe op grond van wat Filippus vir hom gesê het. Maar vir hom geld ook wat die Here later sou sê: “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra...” (Joh. 15:16). Wat die gang van sake, waardeur die dissipels vir Jesus gevolg het, ook al was, die inisiatief het vir almal ten diepste nie by hulleself nie, maar by die Here wat hulle geroep het, gelê.
Die inisiatief om die Here te volg kom nie eers nou by die twaalf dissipels van God af nie. Abraham is die vader van alle gelowiges. Hy het in die ou stad Ur in Mesopotamië gewoon. Hy sou ongetwyfeld daar bly woon het as dit nie was dat die Here vir hom gesê het: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af, na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys” (Gen. 12:1-3). Ons lees in die Bybel dat die Here dit vir hom gesê het. Tog was dit meer as alleen maar net ‘sê’. In Hebreërs 11:8 lees ons: “Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang”. Hierdie ‘sê’ van die Here was méér as net ‘sê’. Dit was ʼn roep. Dit was ʼn ‘sê’ wat gehoor moes word en waaraan gehoor gegee moet word. So lê die Here self ʼn verband tussen Hom en ons vader (Abraham) in die geloof.
So het dit ook gegaan met die nageslag van Abraham. Toe Israel vir ʼn lang tyd in Egipte gewoon het en daar verdruk is, word hulle deur die Here uit die slawerny verlos. Die Bybel vertel breedvoerig hoe die Here dit gedoen het. Die geskiedenis is bekend. Eeue later sê die profeet Hosea oor hierdie aangrypende geskiedenis: “Toe Israel nog ʼn kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep” (Hos. 11:1). Hosea vat die hele groot bevrydingsoperasie saam as ʼn ‘roep’ van God. As Hy nie ingegryp het nie, het Abraham se nageslag slawe in Egipte gebly. Maar die Here het geroep. Hy het die inisiatief geneem, en dit was ʼn inisiatief wat indruk gemaak het. God roep met effektiewe kragdadigheid.
Nuwe Verbond←⤒🔗
Die geskiedenis van Abraham en dié van Israel speel af in die tyd van die ou verbond. In die nuwe verbond is dit, met betrekking tot die roeping van God, nie anders nie. Dit was aan die inisiatief van die Here te danke dat die eerste dissipels tot vissers van mense gemaak is. Hy stuur hulle uit onder Israel (Luk. 6:12v). Later stuur Hy hulle om al die volke Sy dissipels te maak (Mat. 28; Mark. 16; Luk. 24). Die sending na die volke word ook as roeping getipeer. Dit het Petrus byvoorbeeld gedoen in sy toespraak op Pinksterdag. Hy praat dan oor die Heilige Gees wat die Here in die nuwe verbond sou gee, ʼn belofte wat Hy op Pinksterdag vervul het. Oor dié belofte sê Petrus aan die Jode wat daar bymekaargekom het:
Want vir julle is die belofte en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, soveel as wat God daartoe sal roep.
Die mense sal deel in die onmisbare en kosbare gawe van die Heilige Gees, omdat die Here God vir hulle daartoe geroep het. Dit gebeur nie omdat die mens gekies het om die Heilige Gees te ontvang nie of dat hulle hulself oopstel vir die Gees van God nie. Dit gebeur omdat die Here self hulle daartoe geroep het. Dit is die roeping wat by Pinkster hoort. Daarmee is hulle fundamenteel vir die kerk van die nuwe verbond.
In die lig hiervan maak dit baie sin dat Paulus sy briewe rig aan die ‘geroepe heiliges’. Dit beteken dat deur God se eie inisiatief allerhande verskille wat daar tussen mense bestaan, oorkom word. So kan Paulus die gemeente in Korinte as ‘geroepe heiliges’ en as ‘geroepenes van Jesus Christus’ beskryf, en later in hierdie brief skrywe hy dat Christus die krag en die wysheid van God is ‘vir hulle wat geroepe is, Jode sowel as Grieke’ (1 Kor. 1:24). Die roeping van God oortref die onderskeid tussen Jood en heiden. Die apostel relativeer in 1 Kor. 7 die feit of ʼn mens besny is of nie vanuit die roeping van God.
As iemand reeds besny was toe God hom geroep het, moet hy die teken van sy besnydenis nie ongedaan probeer maak nie. As iemand ʼn onbesnedene was toe hy geroep was, moet hy hom nie laat besny nie. Dit kom nie daarop neer of iemand besny is of nie, maar wel of hy die gebooie van God onderhou.1 Kor. 7:18-19
Ook die maatskaplike verskil tussen slaaf en heer word deur die roeping van die Here oorbrug. “ʼn Slaaf wat deur die Here geroep is, is immers ʼn vrygemaakte van die Here. Net so ook is ʼn vry man wat deur die Here geroep is, nou ʼn slaaf van Christus. Julle is vrygekoop en die prys is betaal; moet dan nie slawe van mense wees nie” (1 Kor. 7:22-23). Die roeping waarmee God ons geroep het, bring ʼn nuwe soort gemeenskap tot stand. Daarin gee die verskille wat tussen mense bestaan, geen skeiding meer nie. So kon Paulus in Ef. 2 benadruk dat die Jode en die heidene in één Gees toegang tot die Vader het, as vrug van die vrede wat Christus bewerk het. God het met sy roeping die inisiatief geneem vir ʼn nuwe gemeenskap, nl. sy kerk.
Hemels←⤒🔗
Die Skrif vertel ons nie op watter manier die Here God vir Abraham uit Ur geroep het nie. Het God regstreeks vanuit die hemel met Abraham gepraat? Het Hy hom in ʼn droom geroep? Het Hy ʼn engel gestuur? Ons weet nie. Hoe die Here sy volk uit Egipte bevry het, word wel in die Skrif volledig vertel. Hy het vir Moses en Aäron daarby ingeskakel. Hulle moes die volk uit Egipte gelei het. Hy het hulle tot sy dienaars gemaak. Die Here Jesus het dieselfde gedoen toe Hy sy leerlinge apostels gemaak het. Mense word ingeskakel om andere te roep. Dit is dan ook nie vreemd nie dat die Bybelboek Handelinge die naam gekry het van “Handelinge van die Apostels”. Intussen laat dié boek wel sien dat dit die Here God self is wat deur sy Gees die apostels en hul medewerkers ingeskakel het, soos die uitsending van Paulus en Barnabas dit aantoon in Hand. 13. Dít het Hý gedoen. Trouens, was dit nie alreeds te sien by Moses nie? Toe hy uit eie beweging vir sy volksgenote in die bres getree het, moes hy vlug en veertig jaar wag totdat die Here hom geroep het. Alle menslike aktiwiteit laat sien dat dit die Here is wat in en deur hulle werk. Hy roep sy gemeente. Paulus skryf oor ‘God deur wie hulle geroep is’ (1 Kor. 1:9; 7:15, 17), en God wat jou roep (Gal. 5:8; 1 Tes. 4:7; 5:24; 2 Tes. 2:14). Petrus het ook gepraat van ‘Hy, wat jou geroep het’ (1 Pet. 1:15), wat jou ‘uit die duisternis geroep het ‘ (2:9), ‘wat jou in Christus geroep het’ (5:10) en wat jou ‘geroep het deur sy heerlikheid’ (2 Pet. 1:3). Ons lees van die ‘roeping van God’ wat onherroeplik is (Rom. 11:29), die ‘prys van die roeping van God’ (Fil. 3:14). En as Paulus praat oor ‘sy roeping’ (Ef. 1:18) of ‘die roeping waarmee julle geroep is’ (Ef. 4), dui dit ook op die Here wat sy gemeente geroep het.
Dit is duidelik dat die apostels gedink het aan ʼn roepstem van God wat op die aarde weerklink het. Sy doelwit was immers die verkondiging van die evangelie deur hulleself.
Maar al is dit mense deur wie die verkondiging van die evangelie begin moes word, was dit nie minder die roeping van God nie. Hulle klink asof ‘van onder af’, maar hulle is ‘van bo-af’ (Fil. 3:14).
Hulle gaan uit op die aarde maar dit is ʼn ‘hemelse roeping’ (Heb. 3:1). Die skrywer van die Hebreërbrief kom later op die hemelse karakter van hierdie roeping terug, as hy die gelowiges aanspoor om ‘Hom wat spreek’ nie af te wys nie en ons nie af te skei van ‘Hom wat uit die hemel (spreek) nie’ (Heb. 12:25). In die Evangelie hoor ons die Here wat vanuit die hemel spreek. Dit is en bly die roeping van God. Menslike prediking en God se genade lê op dieselfde lyn, soos wat Paulus die Galasiërs verwyt het dat hulle hul so vinnig afgeskei het van ‘dié (Paulus) wat julle, deur die genade van Christus geroep het’ (Gal. 1:6; 5:8, 13).
Kragtig←⤒🔗
Die inskakeling van mense by die verkondiging van die Evangelie, doen dus geen afbreuk aan die hemelse karakter daarvan nie. Ons het al gesê dat Hosea die woord ‘roeping’ gebruik het om in één woord die effektiewe bevrydingsoperasie saam te vat, waardeur die Here sy volk uit Egipte verlos het. Die Here roep nie in die lug nie. As Hy roep, gebeur daar iets. Sy Woord keer nie leeg terug nie. Dit doen wat God behaag (Jes. 55:6-11). Sý roeping werk uit. Dit is effektief.
Van Abraham lees ons dat hy in God geglo het ‘wat die dooies lewendig maak en dit wat nie is nie tot aansyn roep’ (Rom. 4:17). Paulus skryf dit met die oog op die belofte wat die Here oor die nageslag gedoen het. In die geloof van Abraham was die geboorte van sy nageslag – so onmoontlik as wat dit menslik gesien was – verbind aan die roeping van Here. Sý roeping is ʼn skeppende spreke. Hy het gespreek en dit was daar. Hý gebied en dit staan daar (Ps. 33). Hy ken die sterre by name (Ps. 147, vgl. Jes. 40:26). Wat nie bestaan nie, ontstaan deurdat die Here dit oproep. Sy volk was daar sonder dat die skeppende roeping van die Here daar was. Dit is by die geboorte van Isak al duidelik. Ook later word daaraan herinner dat die Here sy volk geskape het (Mal. 2:10). Hy is die Maker en Formeerder van Israel (bv. Jes. 44:2). Dit is ʼn groot bemoediging as Jesaja sê:
So sê die Here wat jou gemaak het, Hy wat jou gevorm het in die moederskoot en jou nou nog help: Moenie bang wees nie want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep, jy is Myne.
En die Here sal sorg dat sy volk nooit deur die riviere weggespoel word waardeur hulle moet gaan nie, en nie verbrand sal word deur die vuur nie. Die skeppende krag waarmee die Here sy volk geroep het en hulle uit die ballingskap teruggebring het, hou die elemente van God se eie skepping in toom. So noem die Here in Jes. 48 vir Israel ‘my geroepene’ en Hy volg direk met die herinnering aan sy almag:
Ek is dieselfde, Ek is die eerste en Ek is ook die laaste; ook het My hand die aarde gegrondves en My regterhand het die hemele uitgebrei. Roep Ek hulle, staan hulle daar tesame.
Die Here wat skeppend die hemele roep, het ook vir Israel geroep en hulle daardeur geskape.
Die apostel Paulus noem die skeppende spreke van die Here met die oog op die geloof in die Here Jesus. So spreek Paulus oor homself as dienaar van Christus. Hy verkondig dié Christus, ‘want die God wat gesê het: laat die lig skyn uit die duisternis, het dit in ons harte laat skyn, om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Christus’ (2 Kor. 4:6). Die ‘ken’ van God deur die geloof in Christus is te danke aan die skeppende spreke van God. Die apostel sê dit van homself, maar só is dit by elke mens wat tot geloof in Christus gekom het.
In die evangelie hoor ons die skeppende spreke. Dit noem Paulus die ‘krag van God tot behoud’ (Rom. 1:17). Christus is die krag en die wysheid van God (1 Kor. 1:24). So kan Paulus ook skrywe oor die werking van die Woord van God. Dit is die lewende en die blywende Woord. Hy noem dit ‘die saad waaruit ons weergebore is’. Dit is die saad, die Woord, waardeur ons tot die geloof gebring is. Hy dui dan gewoon op die evangelie. Eers praat hy oor ‘gehoorsaamheid aan die waarheid’ waardeur ons siele gereinig is (1 Pet. 1:22v). Die waarheid is niks anders nie as die Woord wat aan ons verkondig is.
Dieselfde kry ons te hore van die apostel Jakobus. Hy praat van die Here God as die bron van alle goeie gawes en geskenke. Daarom noem hy Hom ook die Vader van die lig. Hy is die oorsprong, die begin, die Skepper, deur wie alle lig en alle dinge bestaan. Die Vader het ons, volgens Sy Raadsbesluit, voortgebring deur die Woord van die waarheid, om in ʼn sekere sin ‘eersteling te wees onder sy skepsele’ (Jak. 1:18). Ook hier hoor ons van ʼn woord van God wat iets voortbring, ʼn skeppende woord. Dit was die gemeente wat daardeur voortgebring is.
In ooreenstemming hiermee praat ons in ons belydenis oor die betekenis van die verkondiging van die evangelie. Ons bely in Sondag 7 en in Sondag 25 van die Kategismus dat die Heilige Gees, deur die prediking van die evangelie die geloof in ons harte werk.
In die eerste hoofstuk van die Dordtse Leerreëls sê ons dat die Here verkondigers van die evangelie stuur na wie Hy wil en wanneer Hy wil, om mense tot geloof te bring (DL. 1,1-5).
Die Here het besluit om sy uitverkorenes ‘met krag tot die gemeenskap met Christus te roep en te trek deur sy Woord en Gees’ (DL. 1,7). In hoofstuk III/IV kom die Leerreëls na hierdie krag van God terug. Daar word erken dat die geloof enkel en alleen die werk van God se krag is. God laat sy uitverkorenes nie alleen die evangelie deur middel van die prediking hoor en hulle verstand deur die Heilige Gees so sterk verlig, dat hulle goed begryp en onderskei wat God se Gees hulle wil leer nie. Hy dring ook deur tot in die diepste van die mens met die kragtige werking van dieselfde Gees wat die weergeboorte werk (III/IV,11).
Die volgende artikel benadruk dat daar by hierdie werk geen sprake van die verdeling van die werk tussen God en die mens is nie, sodat die geloof tog vir ʼn deel aan onsself te danke sou wees.
God bring die weergeboorte nie tot stand deur alleen te laat preek of ʼn appèl op ons te doen nie. Dit geskied nie op so ʼn manier dat die mens, wanneer God sý deel van die werk voltooi het, nog steeds by magte is al dan nie, om weer gebore en bekeer te word. Nee, dit is ʼn volstrekte bonatuurlike, baie kragtige en tegelykertyd ʼn baie liefdevolle, wonderbare, verborge en onuitspreeklike werking. Dit is volgens die getuienis van die Skrif, wat ingegee is deur dieselfde God wat dit bewerk, nie minder kragtig as Sy werk by die skepping of die opwekking van die dooies nie (III / IV,12). Hier klink die geloof van Abraham: ‘God wat die dooies lewend maak en dit wat nie is nie, tot aansyn roep!’ God roep vanuit die hemel sy kerk, met effektiewe krag!
Die verkondiging van die evangelie is ook fundamenteel vir die kerk! Sonder die hemelse roeping, sonder die kragtige skeppende spreke van God, sou hulle nie eers bestaan het nie, en net so min bly bestaan het!
Verkiesing←⤒🔗
Jakobus sê dat die Here ons ‘volgens sy raadsbesluit’ voortgebring het, deur die woord van die waarheid. Die roeping van God kom uit sy planne voort.
Paulus rig sy brief aan die geroepe heiliges in Rome. Dié adres weerklink later opnuut in sy brief. In Romeine 8 sê hy dat God alle dinge ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, dié wat volgens sy voorneme geroep is. Hy wys op ʼn verband tussen die roeping en die voorneme van God. Die voorneme van God noem hy ʼn ‘tevore ken’ (‘dié wat Hy vantevore geken het’). Tegelyk is dit méér as dat God alleen vantevore geweet het wie syne sou wees. Op dié manier vernou die Remonstrante die raadsbesluit van die Here. Dit was nie meer dan dat Hy vooraf alles geweet het nie. Maar Paulus noem die ‘vooraf ken’ ook ʼn ‘vantevore bestemming’ (die ‘het Hy ook vantevore bestem tot gelykvormigheid aan die beeld van sy Seun’, Rom. 8:29). Aan die gemeente in Efese gebruik Paulus dieselfde bewoording. Ons lees oor ‘die erfdeel waartoe ons vantevore bestem was’ (Ef. 1:11), en oor die ‘voorneme van Hom wat in almal werk na die raad van sy wil’ (id).
Die voorneme is ʼn vantevore-bestemming. Só gaan die ‘tevore’ ook werklik vóóraf. Dit gaan alle dinge vooraf. ‘Hy het ons immers in Christus uitverkies vóór die grondlegging van die wêreld. In liefde het Hy ons tevore daartoe bestem om as sy kinders aangeneem te word’ (Ef. 1:4v). Steeds klink die ‘tevore’ op, wat ons terugvoer tot vóór die skepping van die wêreld. Dit openbaar aan ons die wonderlike geheimenis van die beslissing wat alle dinge voorafgaan, die bestemming, keuse en kennis van God. Dit is die voorneme wat die Here deur die hemelse, kragdadige roep van die evangelie uitvoer. ’Dié wat Hy tevore bestem het, dié het Hy ook geroep, en dié wat Hy geroep het, dié het Hy ook regverdig; en dié wat Hy regverdig het, dié het Hy ook verheerlik.’ Dit is die kostelike woorde in Rom. 8:30 waarin Paulus wys op die vaste gang van God se genade: vanaf Sy planne tot die heerlikheid van Christus. Op hierdie weg neem Hy ons saam deurdat Hy ons kragtig roep en effektief tot geloof bring.
Die kerk kom dus voort uit die verkiesende voorneme van God, en nie uit die keuse en wil van die mense nie. Dit blyk ook daaruit dat nie elkeen wat geroep word tot geloof kom nie.
Die roeping van die evangelie werk nie die geloof outomaties nie. Die Here roep in volle erns. Wat Hy sê bedoel Hy met alle erns (DL. III/IV,8). Maar dit is deur ons eie skuld dat ons die evangelie nie glo nie, of dat ons, nadat ons dit eers aanvaar het, dit tog weer afkeur. (III/IV,9). Daaroor is nog baie meer te sê, maar ons los dit vir eers. Dit onderstreep egter soveel te meer dat die kerk nie die werk van mense is nie.
Slot←⤒🔗
Oor die roeping van God is daar meer te sê. Ons kyk nie nou na ʼn leefstyl wat by die roeping pas nie (Ef. 4:1) en dat ons ons roeping en verkiesing moet bevestig nie (2 Pet. 1:10).
Die kerk is geroep om vry te wees en om daarom nie goddeloos te lewe nie (Gal. 5:3).
Die Here het sy volk uit die duisternis geroep tot sy wonderbare lig, om sy dade te verkondig (Jes. 44; 1 Pet. 2:9; 1 Tes. 1:8 ens.). Dit wys op die missionêre taak van die kerk. Waaroor dit nou vir my gaan, is dat die kerk uit geroepe heiliges bestaan. Dit is mense wat by die kerk behoort en vir die kerk gegee word. Tog kom dit nie op uit die wil, die keuse van mense nie. Ewemin is die kerk se ontstaan te danke aan die effektiwiteit van menslike arbeid. Dit is die roeping van God waardeur die kerk ontstaan en bestaan. Deur sy eie roeping skep die Drie-enige God self ʼn heilige volk. Hy doen dit deur die krag van sy Gees, wat ons roep met die evangelie van die Seun, om uitvoering te gee aan die verkiesende voorneme van God die Vader.