Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Gereformeerdes is Fundamentalisties, of Hoe?

Skroewe

Gereformeerdes moes in die verlede hulleself dikwels verdedig teen die aantyging dat hulle fundamentalisties is. Ons verdediging was nog altyd: ons is wel fundamenteel, maar fundamentalisties wil ons nie wees nie. Ons kon altyd sê: Mense moet hulle nie blind staar teen die paar ooreenkomste wat daar tussen Gereformeerde en fundamentalistiese beskouings bestaan nie. Hulle moet ook die verskille raaksien.

Ooreenkomste en Verskille🔗

Dit is wel so dat die fundamentalisme bepaalde beskouings met Gereformeerdes deel. Soos ons, is die fundamentalis ook oortuig dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is en dat alles wat daarin opgeteken is, met Goddelike gesag spreek. Saam met die fundamentalis aanvaar ons die waarheid van die maagdelike geboorte van Christus, dat Hy dood was en op die derde dag liggaamlik opgestaan het en opgevaar het na die hemel.

Boonop het Gereformeerdes en fundamentaliste 'n gemeenskaplike "vyand" in die modernisme met sy Skrifkritiek en skeptisisme.

Maar gedeelde oortuigings en gemeenskaplike opponente beteken nog nie dat 'n mens Gereformeerdes en fundamentaliste in dieselfde kraal kan jaag nie. Daarvoor is daar teveel verskille. Om maar net enkeles op te noem:

  • Gereformeerdes is oortuig dat, hoewel alles in die Bybel eweveel gesag het, alles nie op dieselfde manier verstaan kan word nie; ons moet die historiese Boeke anders lees as die digterlike Boeke; die profesieë anders as die sendbriewe. Saam met die eenheid van die Bybel moet ons rekening hou met die wonderlike verskeidenheid van die Skrifopenbaring.

  • Die fundamentalisme daarenteen, is daarvoor bekend dat dit elke Bybeldeel bloot op sigwaarde wil neem. Dit steek vas by "Daar staan geskrywe..." sonder om in ag te neem binne watter verband dit daar geskrywe staan en of dit wat daar geskrywe staan, werklik bedoel is om net so letterlik te verstaan.

  • Gereformeerdes lees die Bybel binne sy historiese verband. Die Bybelboeke is tog deur mense in die geskiedenis geskrywe — so geïnspireer deur die Heilige Gees van God.  Daardie mense het geskrywe in die taal van hulle tyd, het gebruik gemaak van die beelde en begrippe van hulle tyd en het ook die dinge wat hulle geskrywe het, toegespits op die problematiek van hulle tyd. As ons nie met die historiese gerigtheid van die Bybelboeke rekening hou nie, kan ons dit maklik verkeerd verstaan.

Die fundamentalisme is egter daarvoor bekend dat hulle juis die Bybel as 'n bo-historiese Boek wil lees. Asof dit wat daar staan net sowel in ons eie tyd geskryf kon gewees het. Vir die fundamentalis is elke verklaring wat die historiese gerigtheid van die Bybel in ag neem niks anders nie as verdraaiing van die Bybel.

Bybel

So is daar nog 'n hele paar grondige verskille tussen Gereformeerdes en fundamentaliste. Wie by hierdie verskille verbykyk, maak maklik die fout om egte Gereformeerde oortuigings en beskouings as fundamentalisties te bestempel. Tot so 'n mate dat Gereformeerdes, uit vrees vir die fundamentalisme-etiket, soms huiwerig is om openlik die Bybel as Woord van God te erken, of die onfeilbare gesag van die Bybel, of om sterk standpunt in te neem oor die sondige natuur van die mens of die uitverkiesing of die verbond.

Daarom is dit nodig om dit weer bo alle twyfel te stel: die Gereformeerde godsdiens is nie fundamentalisties nie.

'n Nuwe Definisie van Fundamentalisme🔗

Maar in die afgelope paar jaar het die saak ietwat ingewikkelder geraak. Pas het ons ons Gereformeerde oortuigings teen die fundamentalisme afgeskans, toe loop ons ons teen 'n nuwe definisie van Fundamentalisme vas. Dit laat 'n mens dink aan die komiese kantoorspreuk: net toe ons al die antwoorde ken, toe verander hulle die vrae. So is daar nou weer 'n veranderde definisie van die Fundamentalisme waarteen Gereformeerdes hulle moet verskans.

'n Fundamentalis word naamlik in die jonger literatuur beskryf as iemand wat dink dat hy of sy by die vaste waarheid uitgekom het. Hierdie nuwe definisie verklap sterk invloed vanuit die postmodernisme met sy siening dat daar nie so-iets soos 'n vaste waarheid bestaan nie.

Hiervolgens is fundamentalisme die fout om te dink dat daar 'n vaste waarheid bestaan waarby iemand kan uitkom. Dit sou beteken dat jy 'n fundamentalis is —

  • As jy die Christelike godsdiens as die enigste ware godsdiens beskou — daar kan mos nie so-iets soos "die ware godsdiens" bestaan nie!

  •  As jy dink dat die Gereformeerde belydenis-skrifte die waarheid bevat — dit kan hoogstens jóú siening van die waarheid wees!

  • As jy daarop staan dat mense wat van die Gereformeerde belydenis afdwaal onder tug geplaas moet word — hoe kan jy jou standpunt op 'n ander wil afdwing?

  • As jy dink dat daar so-iets soos die regte uitleg van die Bybel bestaan — alle uitleg is mos maar relasioneel tot die mens en sy omgewing!

  • As jy in die prediking wil hoor: "So sê die Here" — in die preke hoor ons mos niks meer nie as die dominee se opinie oor wat die Here sê!

Anker

Die gevaar van hierdie nuwe definisie is dat dit Gereformeerdes, uit vrees vir die fundamentalisme-etiket, ook van hierdie ankers van hulle godsdiens sal laat terugdeins. En dit mag nie. Want anders het ons opponente in hulle doel geslaag. Dan is ons geloof op losse skroewe en is ons ons geloofsekerheid kwyt.

Daarom word dit van ons gevra om in die aangesig van hierdie nuwe aantygings onomwonde te sê: As dit die definisie van fundamentalisme is — nou ja, dán is fundamentalisme 'n absolute voorvereiste vir Gereformeerd-wees.

Die gevaar van hierdie nuwe definisie is dat dit Gereformeerdes, uit vrees vir die fundamentalisme-etiket, van die ankers van hulle godsdiens sal laat terugdeins.