Bron: Die Kerkblad, 2007. 3 bladsye.

Gereformeerde spiritualiteit

hande

Daar is die afgelope aantal jare baie besin en geskryf oor die betekenis van die begrip spiritualiteit, ook spesifiek wat “gereformeerde spiritualiteit” betref.

“Spiritualiteit” is ’n veelkleurige begrip en neem in verskillende kerktradisies verskillende vorme aan. So word byvoorbeeld verwys na die meer sakramentele spiritualiteit van die Rooms-Katolieke Kerk, die meer mistieke spiritualiteit van die Oosterse Kerk, die meer ervaringspiritualiteit van die Charismatiese kerke en die meer nugtere spiritualiteit van die gereformeerde tradisie.

Die begrip word gewoonlik in verband gebring met vroomheid en godsvrug – wat die Grieke eusebeia en die Romeine pietas noem (kyk 1 Tim 4:8; 2 Pet 1:6-7). Dit sluit sake in soos lewensbeskouing, lewenshouding en lewenswandel; ’n lewe in die binnekamer maar ook in die buitekamer; die mens se innerlike maar ook sy uiterlike; ’n lewe in afhanklikheid van God, in navolging van Christus, onder leiding van die Gees en in die lig van die Woord; in kort, ’n lewe voor die aangesig van God, maar ook voor die aangesig van mense (2 Kor 8:21).

’n Mens se spiritualiteit raak al sy verhoudings waarin hy staan; hier mag niks uitgesluit word nie. Dit geld onveranderd ook vir wat genoem word “gereformeerde spiritualiteit”.

Die mens se verhouding tot God🔗

Allereers moet hier verwys word na die gelowige se verhouding tot God. In die Ou Testament staan die gedagte van die vrees van die Here, of (wat ek persoonlik verkies om te noem) die ontsag vir die Here, sentraal. Wél is daar ook sprake van liefde tot God (Deut 6:5), maar die tema van “ontsag vir God” ontvang ’n besondere klem.

In die Nuwe Testament kom hierdie gedagte ook na vore – dink aan Hebreërs 12:28-29 – maar Jesus fokus in sy samevatting van die Wet op die liefde tot God (Matt 22:37). God is Iemand vir Wie ons as sy kinders bo alles en met alles moet liefhê. Dit is ’n dikwels onderbeklemtoonde aspek van ’n godvrugtige lewe: Ek moet daartoe kom om God waarlik lief te hê met my hele hart, siel en verstand.

Ons liefde vir God word natuurlik deur Jesus Christus bemiddel en is alleen moontlik vanweë die versoeningswerk van Christus deur sy kruis en opstanding. Daarom behoort die navolging van Christus, wat iets anders is as nabootsing, ’n onmisbare plek in ’n godvrugtige lewe in te neem. Christus moet al hoe meer in my gestalte aanneem, sodat ek al hoe meer sy beeld vertoon, sodat dit uiteindelik nie meer ék is wat lewe nie, maar Christus in my. Of soos Luther gesê het: “Ons moet vir mekaar ’n christus word.” Dit is jammer dat die aspek van navolging, wat vir Calvyn een van die drie kenmerke van die Christelike lewe uitmaak, in die latere gereformeerde tradisie onderbeklemtoon is.

kruis

Christus kan egter nie in my gestalte aanneem sonder die werk van die Heilige Gees nie. Dit is die Gees wat ons gesindheid dié van Christus laat word en ons lewe ombuig om in die spore van Christus te volg. Sonder die werk van die Heilige Gees in ons kan ons Christus nie entoesiasties (d.w.s. begeesterd) navolg nie.

Juis omdat ons deur die Gees gelei word, sal ons met die Bybel as Woord van God erns maak. Skriflesing, Skrifstudie en Skrifoordenking van sowel die Ou as Nuwe Testament vorm ’n onmisbare element van ’n godvrugtige lewe.

En omdat ons in dit alles met die lewende God te doen het, sal gebed die belangrikste deel van ons dankbaarheid uitmaak. Die aanroep en inroep van God, die lof en dank aan Hom, die Skepper en Herskepper, is die asemhaling van die siel. Wie nie bid nie, is nie bekeer nie.

Die mens se verhouding tot sy medemens🔗

’n Godvrugtige lewe word ook sigbaar in ons verhouding tot ons medemens, ons naaste, ook ons verre naaste, selfs ons vyande. Christene is mense wat alle mense liefhet, van watter ras of geslag, kultuur of oortuiging hulle ook al mag wees (2 Pet 1:7). Die mees besondere kenmerk van Chris­tene is dat hulle selfs bereid is (en behoort te wees) om hulle vyande lief te hê (Matt 5:43-48). Wie sy opponent, selfs sy vyand, nie liefhet nie, lewe nie godvrugtig nie.

Liefde vir die medemens gaan natuurlik in die eerste plek uit na die medebroer en -suster, as individu maar ook as gemeente/kerk. ’n Gemeente waar die liefde vir mekaar nie na buite uitstraal nie, besit geen werfkrag nie en het in vormdiens vasgeval.

Dit geld vir alle verhoudings in ’n gemeente: van lidmate onderling teenoor mekaar, van diakens, ouderlinge en predikante teenoor mekaar en teenoor die gemeente, en die gemeente teenoor hulle; van lidmate van een gemeente teenoor lidmate van ’n buurgemeente; van klassisgangers en van sinodegangers. Veral in tye van meningsverskil en spanning is die onderlinge verhoudings van predikante teenoor mekaar van groot betekenis. Indien hulle mekaar meer as opponente as broers in Christus beskou en benader, as daar van onderlinge liefde min sigbaar is, stel hulle aan lidmate ’n swak voorbeeld, van wie hulle verwag om mekaar in liefde te behandel.

As die liefde vir mekaar, en vir Christus, in ’n kerk verdwyn, al is alles verder formeel in orde, sal Christus die lamp van sy staanplek verwyder (Openb 2:1-6).

Die mens se verhouding tot homself🔗

Al word daar in die Groot Gebod nie na selfliefde verwys nie, en al is daar groot gevare aan oordrewe selfliefde (ten koste van die naaste) verbonde, beteken dit nie dat die Bybel iets soos selfsorg en verantwoordelikheid vir die eie persoon uitsluit nie. Elke Christen wat godvrugtig lewe, se persoon­like lewenstyl sal die kenmerke moet vertoon van die lewenstyl van Christus: nederig, diensbaar, vriendelik, hulpvaardig en offervaardig. Hy/sy sal hom/haar weerhou van oormatige eet of drink, van rook, van geldgierigheid, korrupsie, omkopery, onsedelikheid en magsmisbruik. So iemand besef dat hy/sy elke moment van sy/haar lewe voor die aangesig van God lewe en eenmaal van elke gedagte, woord en daad verantwoording moet doen (2 Kor 5:10).

geld

Dit alles beteken natuurlik nie dat ’n Christen niks in die lewe mag geniet nie, en dat daar geen ruimte vir uitbundigheid mag wees nie. Plesier, genot en uitbundigheid mag daar wel wees (Pred 3:13, 9:9; 1 Tim 6:17), maar dan altyd binne die grense van verantwoordelike vryheid. Genot mag nie in genotsug ontaard nie (2 Tim 3:4).

Die mens se verhouding tot die natuur🔗

Iets wat in die verlede in die gereformeerde spiritualiteit (en ook daarbuite) weinig of geen aandag ontvang het nie, is die mens se verhouding tot die natuur – ’n aspek wat in belangrikheid toeneem namate die ekologiese versteuring al hoe groter afmetings aanneem. Sedert die tagtigerjare van die vorige eeu het die mensdom begin om méér van die aarde se hulpbronne te gebruik as wat die aarde kan produseer, en teen die jaar 2050 sal die mense twee maal meer hulpbronne gebruik as wat die aarde kan lewer.

Die mensdom is holderstebolder op pad na sy eie vernietiging as hy met sy uitputting van die aardbronne en vernieling van die omgewing ongestoord voortgaan. Die tyd vir aksie om God se goeie skepping te bewaar en te herstel, is nóú, nie later nie.

Tydens ’n onlangse besoek aan Amsterdam was ek verstom om op ’n Sondagoggend die omvang van die rommelstrooiery van die vorige Saterdagaand te sien. Gelukkig het die stadsvaders voorsiening gemaak vir vinnige skoonmakers en teen tienuur die oggend was die stad weer opgeruim en skoongevee.

straatveër

Christene bely dat God uiteindelik die aarde nuut maak, maar ons mag hierdie verwagting nie gebruik om ons huidige verantwoordelikheid te ontsnap nie. As God se rentmeesters moet ons omsigtig en met sorg met die natuur omgaan, dit oppas en bewaar en alle onnodige natuurskending, omgewingsbesoedeling en rommelstrooi teenstaan. Ook híérdie benadering moet al hoe meer deel begin vorm van ons gereformeerde, ons Christelike, spiritualiteit.

Gereformeerde spiritualiteit: dit dui op ’n lewe in gemeenskap met God, agter Christus aan, vernuwe deur sy Gees en Woord, ’n lewe van gebed; ’n lewe van liefde vir alle mense en in besonder vir medegelowiges; ’n lewe van persoonlike verantwoordelikheid en ’n goeie gewete; ’n lewe van sorg vir God se goeie aarde, met alles wat dit omvat.

Is dit nie ’n té idealistiese beeld van ’n godvrugtige lewe nie? Dit is. Ons kan nie eers by benadering daarmee ’n begin maak as God dit nie in sy genade aan ons skenk nie. Uiteindelik is ’n godvrugtige lewe nie ’n goeie werk van ons kant nie, maar ’n geskenk van God, ’n gawe van sy Gees, waarvoor ek elke dag opnuut moet bid – en dank.