Gereformeerd in charismatiese kleed
Gereformeerd in charismatiese kleed
Deesdae kom ‘n mens dit dikwels teë dat sommige gemeentes - van histories-gereformeerde kerke - hul eredienste op ‘n pinkster-charismatiese wyse inklee en tóg daarop aanspraak maak dat hulle steeds gereformeerd is. Daarmee word bedoel dat die eredienste op die tipiese patroon van die Pinkster- en Charismatiese kerke geknip word wat betref die tipe liedere wat gesing word (o.a. sogenaamde “praise and worship” – wat ook al weer ‘n geykte patroon geword het en waar lidmate geleer word hóé daar nou éíntlik aanbid moet word – gewoonlik met ‘n voorsanger wat tussen die liedere sy/haar eie prekies prewel), die tipe musiek en instrumente, aanbidding met liggaamsgebare (o.a. ‘n gewuif met die hande en ‘n gewikkel van die lywe en selfs danspassies), vrye liturgiese orde (soms géén orde) ensovoorts. Hierby kan gevoeg word die manifestering van die “gawes van die Gees” soos tale en profesie. Dit gaan dus oor die uiterlike inkleding van die eredienste. Skynbaar kan hierdie uiterlike vorm met gemak geskei word van die teologie – dit wat inhoudelik bely, gepreek en geglo word. Hiervolgens is dit dus moontlik om uiterlik pinkster-charismaties te wees, maar innerlik steeds in belydenis en prediking volmondig aan die gereformeerde belydenis (die volledige inhoud van die Drie Formuliere van Eenheid) vas te hou. Dit gaan mos maar net oor ‘n ander soort “spiritualiteit-tipe” (persoonlike voorkeure) binne die kerk vir wie ruimte gemaak moet word – so word beweer. Dit gaan glad nie oor ‘n verloëning van die reformatoriese (en dus Bybelse) geloof nie. Vorm en inhoud kan met gemak van mekaar geskei word. Ons behou die gereformeerde inhoud, maar gee dit net ‘n pinkster-charismatiese vorm. Dit klink egter na ‘n kontradiksie in terme. Is dit?
My oortuiging is dat vorm en inhoud nie geskei kan word nie. Op goeie gronde. Die tipiese charismatiese vorm van erediens verraai onteenseglik die inhoud van dit wat geleer en geglo word. Die twee gaan hand aan hand. Wie die inhoudelike verstaan, sal onmiddellik verstaan waarom die uiterlike vorm is wat dit is. Ten einde die inhoud van die charismatiese kerke se teologie te verstaan, moet ‘n mens sien wat die historiese wortels van die Pentekostalisme (waaronder die charismatiese beweging ressorteer) is. Uit watter bron kom hierdie beweging? Dit verg nie veel moeite om die lyn deur die geskiedenis te volg nie. Dit is ‘n lyn wat teruggevoer kan word so ver as die jaar 170 toe Montanus charismatiese teenkerke geskep het. Toe volg die Donatiste in die vyfde eeu. In hierdie twee bewegings het die latere Anabaptisme sy wortels, wat weer uitlopers gehad het na die Piëtisme, die Evangelical Awakening, die Herlewings- en Heiligheidsbewegings en die Metodisme.
Die Metodisme was die direkte moeder waaruit die Pentekostalisme gebore is. Leerstellig staan die Pentekostalisme baie naby aan die Wesleyaanse Metodisme. John Wesley was ‘n uitgesproke Arminiaan met sy klem op die vrye wil van die mens, voorwaardes waaraan die mens moet voldoen om gered te word en die “doop met die Heilige Gees” te ontvang en ook perfeksionisme. Die saligheid is binne die mens se bereik as hy net vroom genoeg daarvoor kan aspireer. ‘n Mens moet die Here dramaties aanneem. Die mens se beslissing en beslissingsdatum haak die knoop finaal deur. Daarom moet mense tot oorgawe gedryf word met die suggestie dat vorige oorgawes nie goed genoeg was nie. Die gewig lê op die méns. Die mens se “antwoord” word ‘n roepstem waarop Gód uiteindelik moet antwoord! God red die bekeerde mens wat sy/haar sondes afgelê het. Terwyl daar na die kruis verwys word, word daar stip na die méns (se reaksie) gekyk. Die éíntlike beslissing val op die terrein van die vrome belewing. In die sentrum van hierdie denke staan die mens. Die fokus val op die mens wat tot bekering kom, sondes oorwin, ‘n heilige oorwinningslewe het, ‘n volle oorgawe gemaak het, toegewyd is, die gawes van die Gees besit, entoesiasties is, oorloop van vreugde en ervaring. Die individualisme staan op die voorgrond. Die honger na ervaring, belewing, die spektakulêre en buitengewone is opvallend. ‘n Mens sou die tipies-charismatiese teologie kon noem ‘n theologia gloriae – ‘n teologie van triomfalisme. Dit gaan oor sukses en dit vergestalt die egte Nuwe Testamentiese Christendom. ‘n Oorwinningslewe word aan mense gebied waarvan gereformeerde kerke skynbaar nie kan droom nie.
Die uiterlike vorm van aanbidding in die Charismatiese kerke ondersteun hierdie inhoudelike triomfalisme. Oënskynlik lyk dit of die uiterlike vorm van charismatiese eredienste alle klem op God plaas. Van nader beskou word dit egter duidelik dat dit tog ten diepste oor die mens gaan. Die vormgewing van hierdie tipe aanbidding vestig juis die aandag op die mens terwyl dit ongetwyfeld die intensie het om dit op God te plaas. Hoe het Calvyn nou weer bygeloof gedefinieer? (Institusie 1:12:1). “Bygeloof verleen aan Hom die hoogste plek, maar omring Hom met ‘n skare minder belangrike gode.” Dit is die misleidende bedrog van die bygeloof. Dit bedrieg ons met skelmstreke. Aldus Calvyn. Natuurlik is die opregbedoelde uitgangspunt om aan God die hoogste plek te gee. Maar daar moet iets bykom: die mens - geklee in triomfalisme. Die plus is noodsaaklik. Sodoende word die geloof verander na bygeloof. In bygeloof word daar gewerk met die polêre skema van: God se kant, mens se kant. God en mens is mede-aandeelhouers. Ek ontvang namate ek gee. Ek kry omdat ek doen. Ek maak Jesus my eie en verkry God as besitting. Ek plaas vir Jesus op die troon van my hart en sit só vir God waar ek Hom wil hê. Hoe meer die mens één word met God en homself met God identifiseer en in God inleef en “intimiteit” met God geniet, hoe meer seën volg daar. Geloof gaan ten diepste – binne charismatiese denke – oor ‘n identifisering met die Godheid van Christus. En dit terwyl mens en God nie één kan/mag word nie. Die verlange om as mens eie te wees met die persoon van God was juis die oersonde (Gen 3: 3-6) en is steeds ‘n heidense konsep. Dit is egter die hartklop van die theologia gloriae en alle bygeloof.
Die gereformeerde geloof word uiterlik vergestalt in ‘n totaal ander manier van aanbidding en erediensinkleding wat verband hou met wat genoem kan word ‘n theologia crusis. ‘n Teologie van die kruis. Die kruis is die mens se bankrotverklaring. In die gereformeerde geloof word daar weinig meer aan die mens beloof as dat hy/sy op God se genade kan reken. Die gelowige is simul justus et peccator – tegelyk geregverdig én sondaar. Terwyl ek stik aan die sterwe van die ou mens, val ek oor die lomp voetjies van die nuwe. Natuurlik ken die gereformeerde gelowige ook diepe vreugde en blydskap. Hoe kan ‘n mens die grootste van alle genadeboodskappe onaangeraak aanhoor? Hoe kan jy met droë oë hoor dat jou ewige helse doodvonnis ter syde gestel is op Golgota? Maar ons vreugde voor God kan nooit uitbundig en voor op die wa wees nie. Want dit het die kruis gekos om ons vreugde terug te bring. Dit is ‘n soort verslae vreugde – die vreugde van verloste sondaars wat ongelukkig steeds sondaars is, al gee hulle nie meer vrye teuels aan hul sondige drifte nie. Die triomfalisme is ingeperk. Die gereformeerde se vreugde is soortgelyk aan dié van Josef se broers toe Josef vir hulle sê dat hy Josef is. Ja, by die rugby klap gelowiges hande en stamp voete, maar dáár gaan dit oor inter-menslike spel.
Die gereformeerde manier van erediens hou, hou verband met die diepste intensie van die evangelieboodskap, naamlik die a-polêre fokus op God alleen. God en mens is nie mede-aandeelhouers nie. Geloof beteken nie ‘n identifisering met Jesus as God nie. Dit is bygeloof. In geloof aanvaar die mens dat die Vader hom/haar deur Sy Gees ingesluit het by Jesus as Mens in die hemel en dat hy/sy daarom aan Sy geregtigheid deel het. Die geloof doen nie iets met God nie. Die geloof aanvaar wat God sê Hy gedoen het – dat Hy my ingesluit het by Sy Seun se heilswerk op Golgota. God red nie gelowiges of bekeerdes of wedergeborenes nie. Hy red sóndaars (Rom. 5:10). Dít glo ons. Sy redding skep die geloof. Dit is nie ‘n beloning vir geloof nie. Die wonder is nie dat ons Hom liefhet nie, maar dat Hý óns liefhet. Die roem is uitgesluit. Honderd persent. Dit is só oorstelpend heerlik dat ons – pleks van voetestamp – eerder hakkel en stamel en nie woorde het nie. Daarom swyg sommige gelowiges geheel en al en laat liewer hul dade spreek.
Daar kan geen twyfel wees nie: die uiterlike vorm van charismatiese aanbiddingstyl in sommige gereformeerde kerke verraai die feit dat hierdie kerke se teologie ten diepste verander het. Die vorm verraai die inhoud. Onteenseglik het daar ‘n grondverskuiwing plaasgevind wat betref die inhoud van dit wat geglo, gepreek en bely word. Die regstelling kan slegs plaasvind indien die ware evangelie – die evangelie van genade – met begrip en verwondering herontdek word. Dit is reformasie. Wanneer die inhoud suiwer is, sál die vorm daarby aanpas.