Geloof en Kennis
Geloof en Kennis
Ons glo dat kennis deel is van die aktiwiteit van ons geloof. Daar is altyd diegene wat geloof van kennis wil skei, en geloof sien as ʼn “blinde’ aanvaarding of vertroue. Dit is deesdae besonder algemeen.
Die Rooms Katolisisme het altoos geleer dat geloof en kennis geskei kan word, in besonder in sy leer oor vanselfsprekende geloof (geloof sonder intellektuele inhoud). Dit, volgens Rome, is die geloof van die meeste, of baie, leke.
Dit word ook in deur modernisme en neo-ortodoksie en deur die charismatiese en ander teen-leerstellige bewegings geleer. Hulle ontken nie openlik dat geloof kennis insluit nie, maar skei geloof en kennis deur die leer en leerstellings af te breek en te misken.
Dit is ongelukkig genoeg ook die neiging by sommige Gereformeerde teoloë en dosente. Hulle ontken ook nie uitdruklik dat geloof kennis is nie, maar kom nietemin daarby uit deur die bevordering van paradokse en teenstrydighede in hulle teologie.
Hierdie is die mense wat sê dat God alle mense liefhet in die evangelie, maar nie in sy uitverkiesing nie; dat Hy in sy geopenbaarde wil alle mense wil verlos, maar in sy verborge wil nie alle mense wil verlos nie; dat Hy welmenend verlossing aan almal aanbied, maar nie aan almal geloof wil skenk nie. Sulke praatjies is irrasioneel en ‘onverstandelik’. Niemand kan sulke teenstrydighede verstaan nie. Dit kan net as vanselfsprekend aanvaar word, waardeur geloof nie ʼn saak van kennis is nie, maar ʼn blindelingse sprong!
Die teëstand teen kennis en die leer, is ook strydig met die Skrif. In Johannes 17:3 definieer Jesus geloof as kennis van die enige waaragtige God en Jesus Christus wat Hy gestuur het. Hierdie kennis, sê Jesus, is die ewige lewe – nie vertrou nie, maar ken.
In 2 Timótheüs 1:12 praat Paulus van sy geloof as ʼn “oortuiging”, maar sê ook dat hy oortuig is nádat hy “geweet” het. Dit is inderdaad onmoontlik om oortuig te wees dat Christus ons kan bewaar, tensy ons weet dat Hy die eniggebore Seun van God is, die Een wat in die vlees gekom het, wat aan die kruis vir ons sonde gely en gesterf het.
Ons mag die kennis nie minag nie. In sigself is kennis sonder wins; dit moet gepaard gaan met vertroue. Maar die Skrif maak dit nietemin duidelik dat kennis vir ons goed is. In 2 Korinthiërs 4:6, 7 word “die verligting . . . van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus” ons skat genoem (lees ook Luk. 1:77; Ef. 1:17; Fil. 3:8; Kol. 2:3; 2 Pet. 1:2,3). Daar is geen vertroue inonkunde nie.
Geloof sonder kennis is waarlik ʼn sprong in die duister. Maar God is nie in die duisternis nie. Hy woon in die lig. Ons Here Jesus Christus kan nie met ʼn sprong in die duister gevind word nie. Hy is die Lig van die wêreld (Joh. 9:4) en om in Hom te glo moet ons na die lig kom. Daardie lig is die lig “vandie kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus” (2 Kor. 4:6).