Geborgenheid
Geborgenheid
⤒🔗
Pyn←⤒🔗
Woedend smyt sy haar fiets teen die muur. Hulle sien haar vir eers nie weer by die Bybelstudievereniging nie. Sy het heel bewustelik haar vraag gevra. Maar niemand het daarop ingegaan nie. Ja, iemand het ’n grappie daaroor gemaak. Sy het nie mooi gehoor wat daar presies gesê is nie. Maar in één hoek het almal begin lag. Dit het haar nog die meeste seer gemaak. Die res van die aand het sy maar geswyg. Met trane brandend agter in haar oë. Sy het geweet dat sy definitief in trane sou uitbars as sy nog iets sou moes sê. Hopelik het niemand dit gesien nie. Na die tyd het sy so vinnig as moontlik weggesluip. In ’n rekordtyd het sy met haar fiets huistoe gery.
Praat←⤒🔗
Hulle het gepraat oor ’n paar wette uit die Ou Testament. Oor hoe jy jou in dié tyd moes voorberei op die ontmoeting met God. Skielik het dit haar laat dink aan dié Saterdagaand. Vir haar was dit regtig moeilik gewees. ’n Hele paar leeftydsgenote het lekker gaan stap. Of by vriende gaan kuier. In elk geval het hulle baie laat in die bed gekom. En dan kla hulle dat hul sukkel om hul gedagtes by die preek te hou. Soms het sy saam gepraat. Maar agterna het sy telkens onvoldaan daaroor gevoel.
Sy het dit heel versigtig geopper. Veral omdat sy geweet het dat dit by sommiges ook sleg gegaan het op Saterdagaande. Jy kon seker net sowel by vriende televisie kyk. Sy wou niemand seermaak nie. Sy wou vir ’n slag net oop en eerlik daaroor praat. Of ander dit ook so beleef. Hoe kan mens, as jeug van God, mekaar nie miskien hierin help nie.
Sy het baie kwesbaar gevoel. Sy was glad nie so ’n groot prater nie, en definitief nie op Bybelstudie nie. Niemand het ernstig daarop ingegaan nie. Terwyl sy verseker geweet het dat ander ook met hierdie probleem worstel. Dit het amper gelyk of hulle in die groep bang was om iets van hulleself te wys. So ‘n (sogenaamde) snaakse opmerking was natuurlik ’n goeie skuilplek vir hulle. Lekker veilig. Maar wel ten koste van haar.
Nie Verstaan←⤒🔗
Sy word alweer bietjie rustiger. Noudat sy daaroor nadink, kom sy agter dat dit meer gereeld voorkom. Eintlik gaan daar baie dinge stukkend tussen mense. Al kom jy baie goed met mekaar oor die weg, dan nog steeds. Dit het sy in haar verhouding agtergekom. Haar vorige vriend, sy was mál oor hom. Maar hulle kon nie regtig met mekaar praat nie. Stadig maar seker het hulle uitmekaar gegroei. Amper teen hulle wil. Met Karel is dit gelukkig heel anders. Af en toe is daar nog steeds misverstande. Daardie tye waarop sy regtig nie verstaan word nie. Sulke tye kan sy skielik baie alleen voel, ook al loop hulle fisies naby aan mekaar.
Hoe moet dit dan nie wees by mense wat mekaar maar net oppervlakkig ken nie! In die kerk byvoorbeeld. As dit in die kerk net so gaan soos vanaand by Bybelstudie, dan moet baie mense hulle teen opbegrip vasloop. En soms baie alleen wees.
Dit het haar al opgeval, hoe gemaklik mense hulle oordeel gereed het. Hoe min mense hulle inspan om regtig agter te kom wat iemand besiel. Miskien is dit dít wat haar vanaand die meeste teleurgestel het. Dit het gelyk of niemand belangstelling gehad het vir wat háár besig hou nie. Ja, dit was die probleem. Die egoïsme. Die so-op-jouself-gerig wees. Die onvermoë of die onwilligheid om regtig te luister. Agter haar woede het ’n skreiende verdriet skuil gegaan.
Angs←⤒🔗
Skielik moet sy dink aan die sondeval. Toe is dit alles veroorsaak. Mens sien dit al by Adam en Eva. Die angs om jouself te ontbloot voor ander. Blykbaar het hulle al klaar nie meer veilig gevoel by mekaar nie. Hulle praat hul eie paadjie skoon, ook al gaan dit ten koste van ’n ander.
Dit is vir haar heel “herkenbaar”. Sy is nie so ’n prater nie, deurdat sy haarself baie moeilik toevertrou aan ’n ander. En dit is ook nie in haar aard om dit met ’n gebabbel te verbloem nie. Haarskerp voel sy by ander aan dat al die woorde en gevatte grappies net ’n masker was. Vanaand ook: sy het gewaag om kwesbaar te wees, maar ander het misbruik daarvan gemaak. Net omdat hulle te bang was om hulle binnekant te laat sien. Haar teleurstelling vloei effens weg.
Dit het natuurlik te make met die gevolge van die sonde. Die ander moes tog ook dieselfde moeites as sy in hulle binneste gehad het. Anders het jy mos nie nodig gehad om jouself so te beskerm nie? Miskien kies hulle nie eers bewustelik die houding nie. Miskien was dit verleentheid. Moontlik probeer hul maar net ’n houding aanneem waarby hulle by die groep inpas. Met die meeste van hulle kom sy goed oor die weg, maar dit lyk amper asof hulle anders optree in die groep as wie hulle in werklikheid is.
Verlange←⤒🔗
Sulke oomblikke kon sy heel intens verlang na die nuwe aarde. Dan was dit alles verlede tyd. Dan hoef jy nie meer heel versigtig te begin oor ’n ontmoeting met God nie — omdat dit moeilik vir jou is, omdat dit so buite jou lewe bly staan. Vir almal sal dit dan die normaalste saak van die wêreld wees dat jy so intens daarmee besig is.
Sy kon ook baie daarna verlang dat alle mense mekaar sommer net so sal verstaan. Soms selfs sonder om ’n woord te wissel. ’n Blik van herkenning. ’n Oogknip van verstandhouding. Of ’n begrypende skouerkloppie.
Iewers het sy gelees dat jy daar mekaar se siel sal kan lees. Jy sal daar durf wees presies soos jy is, oop en bloot. Sy kan nie nou daaraan dink nie. Dat alle mense dadelik met die eerste oogopslag weet wat in jou diepste binnekant leef. Stel jou voor! Sy breek sommer in angssweet uit. Haar gedagtes, haar fantasieë, haar gevoelens, haar tekortkominge. Selfs teenoor God is dit vir haar al baie moeilik.
En daar sien ’n mens maar weer net: Sy ervaar self probleme daarmee. Die skaamte. Die oomblik as iemand anders in beeld kom, die afwerende reaksie. Ter selfbeskerming.
Veilig←⤒🔗
Wonderlik eintlik, dat die Here dit alles reeds van haar weet. En tog hou Hy net so van haar, soos sy inmekaar gesit is. Dit is nie heeltemal so ’n gewone saak nie, dit verstaan sy. Soms voel sy enorm veilig by God. Al veg die gevoel van geborgenheid en van angs gereeld vir voorrang.
Eintlik was dit al ’n voorbode van eendag. Die gevoel van regtig veilig voel by God, dit moet op die nuwe aarde heeltemal volmaak wees. Haar verhouding met Karel kry skielik vir haar ’n ekstra dimensie: daar sien jy weer iets van die paradys terug. Iets van die harmonie tussen ’n man en ’n vrou, wat veilig voel bymekaar. Wat dit waag om kwesbaar te wees voor ’n ander. Sonder die angs dat daar dadelik misbruik van gemaak sal word. Nee, sy was nugter genoeg om te besef dat daar dan nog gereeld misverstande sou intree. Hulle was nog onderweg. En die pad stap hulle sáám, gelukkig maar!
Voorbode←⤒🔗
Sy voel ’n milde, rustige gevoel deur haar stroom. Die sonde het baie harder toegeslaan as wat sy ooit besef het. Alle kommunikasie tussen mense het geweldig daaronder gelei. Kommunikasie, dit het iets te make met gemeenskapsoefening. Saam wees. Saam leef. Saam praat. Sonder steurings en misverstande. Haar verlange groei. Dit gaan iets wonderliks wees, op die nuwe aarde. Miskien is elke goeie kontak en goeie gesprek al ’n voorbode. Juis in die kerk. As sy nou sou probeer om iets daarvan uit te straal? Luister ... Regtig aandag gee ... Kwesbaar durf wees ... Gewoon ander iets laat proe van later...
Volgende keer sal sy gewoon weer Bybelstudie toe gaan. Dit begin vir haar amper ’n uitdaging raak.
Kom, sy moet haar fiets nog in die skuur bêre. Fluitend loop sy agterdeur toe.