Bron: Kerk en Woord. 6 bladsye.

Gebedsgenesing

rystoel🔗

Wie genees regtig?🔗

Siek wees. Pyn hê. Jou werk nie meer kan doen nie. Vereensaam. Onsekerheid oor hoe nou verder. Angs as alles daarop dui dat dit ongeneeslik is. Die gedagte om afskeid te neem van mense wat jy lief het. Nie meer deel kan wees as jou kinders trou of ook ouers word nie.

Jy wil dit nie so hê nie. Jy wil gesond wees en lewe! En dan hoor jy dat daar mense is, Christene, wat genesing belowe. Wat genesing bied deur handoplegging en gebed. Met ’n beroep op die Bybel. En in die Naam van Jesus. Jy word daarheen uitgenooi. Dit kos niks. As jy al soveel raad probeer volg het. En niks het gehelp nie.

Wat moet ek dan doen? Miskien moet ek gaan. Waarom ook nie? Ek sou so graag gesond word… Is daar ’n Bybelse antwoord op?

Neem ons die Here ernstig op as die God wat “al u ongeregtighede vergeef en al u krankhede genees” (Ps 103:3)? Al dergelike vrae word al meer gestel.

Op allerlei maniere trek genesing deur gebed aandag. Rugbyspelers gaan Nigerië toe daarvoor. Ook gereformeerde kerkrade kry hieroor navrae van gemeentelede. En daar is ’n toenemende vraag na boeke oor dié onderwerp.

’n Vraag wat by alle bespreking daaroor maklik vergeet word, is: wat beteken dit vir die sieke self? Gee dit vir hulle hoop? Of maak dit hulle juis onseker? Daar is dus by hierdie vrae ’n saaklike én ’n pastorale kant. As ek eers ingaan op die saaklike kant probeer ek om die pastorale nie te vergeet nie.

Bybel en ervaring🔗

Dit is belangrik om in die besinning oor gebedsgenesing by die Bybel te begin en ervarings daaraan te toets. Want dikwels word die omgekeerde pad bewandel. Verhale oor wonderlike genesing moet die boodskap bewys. Want wonderlike genesingsverhale kom in alle godsdienste voor. Nie net Moses het wondere en tekens gedoen nie, maar ook geloofsgenesers doen allerlei wonders. Maar hulle staan duidelik in diens van God se teëstander.

Dan het ek nog niks gesê oor hoe betroubaar getuienisse oor wonderlike genesings eintlik is nie. Wie die literatuur daaroor lees, kan nie anders as tot die gevolgtrekking kom dat heelwat gevalle van christelike gebedsgenesing terug te voer is na illusie en suggestie nie. Dat organiese kwale slegs deur gebed genees kan word, blyk selde of nooit volgens mediese dokumentasie aanduibaar te wees nie. Daar is dan geen sprake van werklike genesing nie, maar slegs van tydelike wegval van pyn of om tydelik tot meer in staat te kan wees.

Die persoon van die gebedsgeneser en die sfeer en opset van die manipulasie van ’n genesingsdiens kan buitengewone sielkundige prosesse by mense oproep. Die gees oefen invloed uit op die liggaam sodat ’n bepaalde gemoedstoestand vir ’n rukkie tot meer in staat blyk as andersins. Naas psigosomatiese siektes is daar ook psigosomatiese genesing.

gebedsgenesing🔗

Genesing verwag🔗

Tog is dit onjuis om alle getuienisse van wonderlike genesing by voorbaat met sielkundige verklarings af te maak. In die eerste plek omdat God die Almagtige is. Waarom sou ons nog bid om genesing van siekes as ons ’n mediese wonder van die Here uitsluit? Die Bybel gee genoeg voorbeelde van wonderlike genesings. Maar in die tweede plek: ons moet ook terdeë rekening hou met die mag van God se teëstander.

Christus het duidelik aangekondig dat daar “valse profete en valse christusse” sal opstaan wat groot tekens en wonders sal doen (Matt 24:4). En Paulus skryf dat die wettelose mens daar sal wees “volgens die werking van die Satan, met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” (2 Tess. 2:9).

Wie dit ernstig neem, moet beslis rekening met die moontlikheid hou van wonderlike genesing deur bemiddeling van mense wat wel bepaalde kragte het, maar daarom nog nie betroubaar hoef te wees nie. Dit is dus nie goed om die egtheid van ervaring van genesing te meet en so tot die gevolgtrekking te kom oor die betroubaarheid van die gebedsgeneser nie.

Dit is baie beter om dit wat gebedsgenesers beweer, te toets aan die Bybel. Bogenoemde waarskuwings maak die toets ook noodsaaklik! Wat sê die Bybel oor siekte en genesing? Wie hom daaraan hou, mag betroubaar heet.

Ou Testament🔗

Die Ou Testament stel dat gesondheid en siekte van God kom. “Ek maak dood en Ek maak lewend, Ek het verbrysel en Ek genees, en daar is niemand wat uit My hand red nie” (Deut. 32:39).

Ook die belydenis van Job en sy siekte is veelseggend. “Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie?” (Job 2:10). Daar kan meer tekste aangehaal word. Die aantal wonderlike genesings is nie groot nie. In die hele Ou Testament – tog ’n periode van duisende jare – lees ’n mens maar ongeveer tien keer van ’n wonderlike genesing deur God self. In vier gevalle gaan dit oor vroue wat eers geen kinders kan kry nie. Verder is daar die geskiedenis van die koper slang.

Daarnaas kom daar ’n paar genesings voor (selfs opwekking uit die dood) op die gebed van mense. Byvoorbeeld Elia wat bid vir die seun van die weduwee van Sarfat. Elisa bid vir die seun van ’n Samaritaanse vrou. Die siek koning Hiskia kry op sy gebed 15 jaar verlenging van sy lewe. So is daar nog enkele voorbeelde. Tog kom daar in die Ou Testament maar sporadies wonderlike genesings voor.

Kom siekte van die duiwel?🔗

Daar is mense wat as volg redeneer: Siekte kom van die duiwel, maar Christus het die duiwel oorwin en dus sal elkeen wat waarlik in Christus glo, deel in Sy oorwinning en dus herstel.

Wat Christus vir ons verwerf het, sal ook onmiddellik volkome gebeur. Wie dan siek bly, is nog steeds deur die Satan gebonde en in sy mag. So iemand glo nie genoeg nie.

In hierdie redenasie is daar wel waarheidsmomente. Nie die Here God het mense so gemaak dat hulle byvoorbeeld hewig aan asemhalingsprobleme ly nie. Alles wat die lewe stukkend maak en verniel, maak nie deel uit van God se goeie skepping nie. Hy het geen siektekieme en kankerselle geskape nie. Daarom moet ’n mens tereg ’n afkeer van dergelike redenasies hê. Daarin word God immers byna voorgestel as ’n sadis en dit neig na Godslastering.

Die werklikheid is dat ons mense deur die sondeval self die deur wyd oopgemaak het vir Satan, die groot vernieler. Ons voel elke dag die gevolge van die vloek wat ons oor onsself gebring het. Nie net in siekte nie, maar ook in ongelukke, aardbewings, menslike faling en nie te vergeet nie: sterwe.

siek man

Diegene wat redeneer dat siekte die gevolg van ongeloof is, moet konsekwent wees en ook sê dat sterwe die gevolg van ongeloof is. Christus het immers die dood oorwin? Tog is die dood vir ’n Christen ’n realiteit.

Nie swart-wit🔗

Siekte – met alle ander ellende – kom inderdaad van die duiwel. Maar daarmee is alles nie gesê nie. ’n Gebedsgeneesheer redeneer swart-wit. ’n Mens is óf in die mag van die duiwel (hy maak jou siek) of in die mag van God (Hy genees). Hy vergeet dat God die Almagtige is, en dat alle dinge (dus ook siekte, onvrugbaarheid, armoede) nooit buite Hom omgaan nie en uiteindelik uit sy hand kom.

Maar nie altyd regstreeks nie. Soms indirek, naamlik deur middel van die duiwel. Dan laat die Almagtige die teuels waaraan die duiwel vassit, ’n oomblik slap hang. Hy doen dit met ’n doel, volgens ’n plan wat slegs regverdig kan wees, maar vir ons meestal onbekend en onbegryplik is.

Dit was die duiwel wat vir Job – in sy tyd die mees opregte gelowige ter wêreld – geslaan het met sy afskuwelike swere van kop tot tone, maar nadat God hom die ruimte daarvoor gegee het (Job 2:6, 7). Dit beteken egter nie dat Job dus nie langer in die mag van God was nie. Daarin vind Job juis sy houvas: sou ons die goeie van God aanneem en die kwade nie? Job noem nie eers die duiwel nie!

Wanneer Paulus van ’n engel van die Satan vuisslae kry, bid hy tot God! Want God het hom die doring in sy vlees gegee. Paulus word egter nie verlos nie, God antwoord: “My genade is vir jou genoeg” (2 Kor. 12:7, 8). Tog sal ’n gebedsgeneser nie wil beweer dat Paulus deur die Satan gebind was nie!

Jesus🔗

Terwyl in die Ou Testament wonderlike genesings slegs sporadies voorkom, laat die optrede van die Here Jesus ’n heelwat ander beeld sien. Hy genees, sekerlik aan die begin van sy openbare optrede, baie mense. Van alle kante het hulle toegestroom. En Hy genees dan elkeen wat ernstig siek is.

Daaruit spreek eerstens Sy groot ontferming, sy groot bewoënheid met siek mense. “En toe Jesus uitgaan, het Hy ’n groot skare gesien en innig jammer vir hulle gevoel, en Hy het hulle siekes gesond gemaak” (Matt. 14:14).

In die tweede plek is die genesings tekens van God se komende Koninkryk. Deur sy genesing laat Jesus sien: mense, só gaan dit weer word! Aanstons, as die duiwel, die sonde en die gevolge daarvan heeltemal uit die weg geruim is en God se ryk in volle glorie gevestig word.

Hoe het Jesus genees?🔗

Die manier waarop Jesus te werk gegaan het by die genesing van mense, toon ’n aantal kenmerke:

  1. Jesus het dikwels tydens onbeplande geleenthede genees. Twee blinde mans wat “toevallig” naby is as Jesus verby kom, vra om medelye en word genees (Matt. 9:27). Dit gebeur onderweg. Daar is niks gereël of georganiseer nie.
  2. Die genesing volg skielik, volledig en blywend.
  3. Jesus se genesing is so duidelik dat niemand daaraan kan twyfel nie. Ook sy teenstanders kan nie die wonderlike daarvan ontken nie (Joh. 11:47).
  4. Jesus hoef nie self liggaamlik aanwesig te wees nie (die kneg van die hoofman, die dogter van die Kananese vrou). Vergelyk daarmee die praktyk van die hedendaagse geloofsgenesers.

gebedsgeneser

Kyk nou wat gebeur met genesingsdienste. Hulle word nadruklik georganiseer en daar word baie reklame gemaak.

Die genesing is selde onmiddellik. Dikwels kry die sieke te hore dat dit geleidelik gaan. As dit nie gebeur nie, word as oorsaak gesien dat hy nie genoeg glo nie. En helaas is daar te veel getuienisse van tydelike oplewing waarna die sieke weer terugval in sy kwaal. Die genesing is selde onteenseglik duidelik. Mediese dokumentasie ontbreek meestal.

By genesingdienste is die persoon van die gebedsgeneser absoluut belangrik. Jy is op hom aangewese; sy gebed en sy handoplegging moet dit alles doen. Ten spyte daarvan dat slegs Jesus genees.

Moet ons doen wat Jesus gedoen het?🔗

’n Gebedsgeneser beweer dat ons moet doen wat Jesus aan ons opgedra het: “Lê hande op siekes en dryf bose geeste uit.” Dergelike uitsprake kom ’n mens baie teë by gebedsgenesers.

Maar het Jesus dit wel aan ons opgedra? Die tekste wat hulle hierby aanhaal, betref opdragte wat duidelik gerig was aan die adres van die twaalf en aan die sewentig apostels. Jesus het aan hulle die opdrag en die bevoegdheid gegee om die koms van God se Ryk bekend te stel.

Dit was al lank voor sy dood aan die kruis. Eerstens het Hy uit ’n groep van dissipels twaalf uitgekies. Hy het hulle apostels genoem. En Hy het ook aan hulle 'n duidelike opdrag gegee: Moenie na heidene toe gaan nie, selfs nie na Samaritane nie, maar na die Jode. “En gaan preek en sê: die Koninkryk van die hemele het naby gekom. Maak siekes gesond, reinig melaatse, wek dooies op, dryf duiwels uit” (Matt. 10:7,8 vergelyk Mar. 3:13-15, Luk. 6:13)

Later, op sy laaste reis na Jerusalem (Luk 10:1-24) stel Hy nog 70 aan. Met byna dieselfde opdrag (“En maak die siekes gesond wat daarin is”). Die 70 het later teruggekom. Hulle het entoesiasties verslag gelewer: “Here, ook die bose geeste het hulle aan ons onderwerp in U Naam”. En Jesus antwoord: “Ek het julle mag gegee om op slange en skerpioene te trap en teen die hele leërmag van die vyand en niks sal julle enige kwaad doen nie.”

Met die evangelie die wêreld in🔗

Daar was dus twee groepe – in totaal meer as 80 apostels (vergelyk ook 1 Kor. 15:5 ev). Hulle het al lank voor Pinksterdag die opdrag gekry. Hulle moes gaan preek. En hulle het daarmee saam die bevoegdheid gekry om tekens te doen: siekes genees, bose geeste uitdryf. Dus: prediking saam met tekens!

Dieselfde opdrag herhaal Jesus later aan die adres van die elf apostels in Markus 6:15-20. Met dié verskil dat hulle toe tot die hele wêreld, die hele skepping moet gaan preek. En waar mense tot geloof kom, sal tekens volg. Onder meer: Op siekes moes hulle die hande lê en hulle sal genees word.

Dr. J. van Bruggen vestig die aandag op die presiese formulerings en op die feit dat hierdie profesie dui op die opmars van die evangelie wat vir die eerste keer die wêreld ingaan. Daar staan: “hierdie tekens sal die gelowiges volg”. Dit is nie dieselfde as: alle gelowiges sal hierdie tekens kan doen nie. Dit is nie tekens van die gelowiges nie, maar tekens by die goeie nuus. Die goeie nuus wat onderweg is. Dit het te make met onderweg-wees. Die tekens volg en bevestig die Woord, telkens wanneer dit nuwe gebiede bereik. So staan dit ook letterlik in vers 20: “Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die Woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het.”

apostels🔗

Tekens van die apostels🔗

Aan wie gee Jesus dus hierdie opdragte en beloftes? Aan die groepie manne wat daar staan. En miskien geld dit ook vir die ander 70 apostels. Dit is wel baie opmerklik dat die wonders en tekens veral deur die hande van die apostels gedoen word (sien byvoorbeeld Hand. 4:29, 30, 33; 5:12).

Paulus praat in 2 Kor. 12:2 selfs oor die tekens van ’n apostel. Hy wys daarop dat hyself as apostel tekens, wonders en kragte in Korinthe gedoen het. As teken van sy apostelskap. Dit is sy legitimasiebewys: ek is ware apostel van Christus. Nou gebruik voorstanders van genesingswonders juis ’n teks soos Markus 16 om te sê: dit moet vandag nog gebeur. Ook vandag moet die krag van God blyk deur wonders en tekens. God gee immers hierdie opdrag aan ons.

Maar dit is ’n tipiese veralgemening van gebeurtenisse en opdragte uit die Bybel. En dit volgens die klank en aanhaling van Bybeltekste. Jy mag op grond van hierdie woorde nie sommer sê dat God vandag ook belowe om aan die gelowiges tekens te gee nie. En dat gelowiges vandag ook bose geeste uitdryf, in tale spreek, slange vashou, iets dodeliks drink en siekes genees nie. Waarom nie? Omdat dit Here dit nie vandag meer kan doen nie? Natuurlik nie. Die Here is altyd by magte om alles te doen, by elkeen, en op elke manier wat Hy maar wil. Maar ons mag nie van die duidelik geadres­seerde belofte in Markus 16:17-18 ’n algemene opdrag maak wat geld vir alle Christene van alle tye nie.

Dit gaan hier oor ’n belofte van tekens by die aankoms van die Evangelie by heidene. Dit mag ’n mens seker nie verander in ’n kenmerk vir latere Christene in ’n gevestigde kerk nie. Miskien sou jy vandag nog kan dink aan situasies waarin die Woord van God vir die eerste keer êrens aankom, byvoorbeeld in sendingsituasies. Of in die proses waarin ’n Moslem tot geloof in Christus kom.

Aankoms en vervolg🔗

Die aankoms van die goeie nuus van Christus word dus vergesel en benadruk deur tekens. Die apostels doen tekens en wonders in Jerusalem en Judea. Veral Petrus en Paulus, maar ook Stefanus en Fillipus. Byna altyd staan die tekens en wonders in die lig van die eerste aankoms en verbreiding van die evangelie.

Maar later word dit anders. Die mag om te genees bly byvoorbeeld nie oral en altyd toepasbaar nie. Later kan Paulus nie vir Epafroditus genees nie. En Trofimus moet hy siek in Miléte agterlaat. Timóteüs het ’n swak gesondheid en was dikwels siek. Paulus het wyn vir hom voorgeskryf in verband met sy maagprobleem (1 Tim. 5: 23). Hy verwys hom dus nie na iemand in die gemeente wat hom sou kan genees nie!

Ook Paulus was self siek, dit nogal terwyl hy die Evangelie verkondig (Gal. 4:13, 14). In die latere briewe lees ons nie van buitengewone wonders, tekens of genesings nie. As daar wel was, dan sou daar tog seker oor geskryf gewees het? Ook lees mens in geen enkele brief van die opdrag aan siekes om hulp te soek by iemand wat die gawe van genesing het nie.

dokter en medisyne🔗

God genees🔗

Uit die voorafgaande kan ons tot die gevolgtrekking kom dat die Here God alle mag het om mense te genees. Christus het dit baie gedoen, as onderstreping van die Woord, as teken van die komende Koninkryk. Hy kan dit nou nog doen. Meestal met gebruikmaking van dokters en medisyne. Sy genesende mag sluit die gebruik van medisyne nie uit nie (dink aan Paulus se resep vir Timóteüs). En soms genees die Here mense deur wat ons vandag ’n mediese wonder sou noem.

Maar hoe dan ook, altyd as iemand gesond word, is dit God se geskenk. Christus het baie mense genees. Maar Hy beloof nie om ewe veel te genees nie.

God is Almagtig maar ook soewerein: Hy bepaal of en wanneer iemand wel sal genees of nie. Mediese wonders is wonders en dus uitsonderings. Daar is nie ’n algemeen geldige belofte in die Bybel dat siek gelowiges volgens hul geloof en gebed meteens sal genees nie.

Die God van alle genade roep gelowiges na sy ewige heerlikheid na ’n kort tyd van lyding. Onderweg daarna sug en kreun die skepping in al sy vorme (Rom. 8:22). Ook God se kinders wat die Gees ontvang het, sug byvoorbeeld onder siekte. Maar deur Christus is hulle seker van hul genesing en vol verwagting sien hulle uit na die verlossing van hul liggaam.