4 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Gaan as Geroepene Oor die roeping tot die amp

telefoon op strand

Dit is byna weer sulke tyd: die kerkraad deel ons mee dat daar ʼn aantal nuwe ouderlinge en diakens nodig is. Broeders tree af. Hulle ampstyd is om. Ons het ʼn reëling vir die vulling van die vakatures. ʼn Verkiesing. Die reël word gevolg dat ons bepaalde broeders onder die aandag van die kerkraad kan bring. Die kerkraad hou daarna ʼn lys met kandidate aan ons voor. Daaruit kies ons die benodigde aantal. Dan gaan die kerkraad oor tot ... Ja, tot wat? Gaan hulle die gekose broeders ‘roep’ of ‘benoem’? Hoe formuleer hulle hul besluit?

Is daar ʼn verskil tussen geroep word en benoem word? In al twee gevalle word jy immers as ouderling of diaken aangestel? Ja, dit is waar. Een kerkraad roep, die ander benoem. Al twee bedoel dieselfde. Tog gebruik ons in ons kerklike taalgebruik ‘roep’ en nie ‘benoem’ nie. Is dit nie die beste om in die formulering van die kerkraadsbesluit hierby aan te sluit nie? Nie net ter wille van vorm nie, maar veral ook sodat dit vir die gemeente duidelik kan wees?

Hoe die kerk daarvan praat🔗

Wanneer nuwe ampsdraers bevestig word, is die eerste vraag waarop hulle ‘Ja’ antwoord: ‘Is u in u hart daarvan oortuig dat u wettig deur die gemeente van God en daarom deur God self tot hierdie heilige diens geroep is?’ (Formulier vir die bevestiging van ouderlinge en diakens).

Ek kursiveer ʼn paar woorde. Hulle dui presies aan wat ons volgens die Woord van God oor die ampte bely. Dit gaan oor ʼn diens in die gemeente waartoe jy deur God geroep word. Dit gebeur deur roeping deur die gemeente. Roep die kerkraad, met die medewerking van die gemeente, tot die ampsdiens, dan hoor ons God self daarin roep. Prof. Trimp noem dit ‘die kern van die ampsverbintenis’. God roep. Maar Hy gebruik daarvoor die middel van die gemeente en die kerkraad.

Ook die kerkorde gaan oor die roeping. In artikels 3, 4 en 5 waar dit oor predikante gaan, en in artikels 22 en 24 oor ouderlinge en diakens. Hierin volg die Kerkorde ons belydenis. Artikel 31 van die Nederlandse Geloofsbelydenis gaan oor die ‘wettige verkiesing deur die kerk’ en ‘deur God geroep word’. Bymekaar in dieselfde paragraaf, al twee tegelyk. Begin jy jou ampsdiens, gaan jy geroepe. Geroepe deur God. Deur die middel van roeping deur kerkraad en gemeente. (ʼn Predikant word beroep volgens ʼn afsonderlike reëling. Neem hy die beroep aan, antwoord hy ‘Ja’ op presies dieselfde vraag as in die geval van ouderlinge en diakens).

Roep🔗

Waarom die voorkeur aan roep bo benoem, as dieselfde bedoel word? Roep het net meer erns as benoem. Van ʼn benoeming kan jy, om dit so te stel, makliker wegkom as van ʼn roeping. Word jy deur die kerkraad as lid van ʼn kommissie benoem, kan jy sonder te veel gewetensbeswaar ‘nee’ sê. Daar is ander wat die werk kan doen. Jy bedank die benoeming.

roep met megafoon

Roep die kerkraad jou tot die amp van ouderling of diaken, is dit nie so maklik om dit opsy te skuif nie. Hier moet meer oorweeg word. Uiteindelik is dit God wat roep, sê die bevestigingsformulier; deur middel van sy gemeente, maar dit is Hyself wat broeders tot hierdie heilige diens in die gemeente roep en aanstel. Word jy deur die kerkraad en gemeente geroep, is dit ʼn gewigtige saak waarmee jy ernstig in jou gewete en in gebed moet omgaan. Voor die aangesig van God. Jy moet eventueel kan sê dat jy oortuig is dat God self jou geroep het. Dit gaan dus oor ʼn hoë roeping waarby jy nie ligtelik kan verbygaan nie.

Ontheffing🔗

Die gevolg is dat die kerkraad ook nie maklik ontheffing van die roeping kan verleen wanneer ʼn geroepene daarvoor vra nie. Dit kan by uitsondering gebeur. Die redes wat aangevoer word, moet so swaar weeg dat dit voor God verantwoord kan word dat die roeping nie voortgesit kan word nie. Mens kom ook nie tot so ʼn besluit sonder dat jy as geroepene én as kerkraad by die Here om innerlike oortuiging gebid het nie.

Ek wil graag aandag vestig op hierdie punt. Ek kry naamlik die indruk dat kerkrade versoeke vir ontheffing sonder meer toestaan. Ek hoor dit van ander en ek merk dit in my eie omgewing. Hoe moet jy met so ʼn (versoek vir) ontheffing omgaan as die roeping met soveel erns gekom het?

Dit sou beter wees om versoeke vir ontheffing sover moontlik te voorkom. Ek dink dat dit moontlik is as die kerkraad in die voorbereiding sy werk so sorgvuldig moontlik doen.

Kriteria🔗

Hoe kan dit gedoen word? Kom ons gaan die verloop van sake ʼn slag na. Wanneer die kerkraad ʼn lys met kandidate saamstel, gebruik hy twee kriteria waarop al die oorwegings gegrond is. Aan die hand van dié kriteria stel die kerkraad vas of  ʼn broeder voorgestel, verkies en geroep kan word. Is die gevolgtrekking positief, kom die naam van die broeder op die lys wat aan die gemeente voorgehou sal word. So kom die lys van kandidate tot stand.

Die twee kriteria is geskiktheid en beskikbaarheid. Eerstens oorweeg die kerkraad of  ʼn broeder die gawes vir die amp ontvang het. Dus of hy geskik is. Daar word gekyk na wat die Skrif daaroor sê (onder meer Skrifgedeeltes soos 1 Timótheüs 3:1-13 en Titus 1:5-10). Die bevestigingsformulier word ook hier bygebring.

Ons kan die kerkraad ʼn diens bewys deur die name van bepaalde broeders met goeie motivering voor te lê. Die ondertekende voorstelle waarvoor gevra word, is beslis nie ʼn blote formaliteit nie. Ons kan gerus meer werk daarvan maak. Hulle dra gewig. Ons moet nie te maklik dink: die kerkraad weet dit al, nie.

Wanneer ʼn broeder blyk geskik te wees, dan word gekyk na beskikbaarheid. Is daar op die oomblik dinge wat in die pad staan? Persoonlike probleme? Is daar maatskaplike verhindering? Kan hy, wat sy gesin betref, in die amp dien? As daar nie belemmerings is nie, of as hulle nie deurslaggewend is nie, dan kan die kerkraad met oortuiging besluit dat hierdie broeder eventueel geroep kan word.

Met oortuiging. Dit is van groot belang. Is die oortuiging nie daar nie en die broeder word op die lys van kandidate geplaas, byvoorbeeld om dit moontlik te maak om ʼn tweetal te voor te hou, dan is dit nie ʼn sorgvuldige besluit nie. Sowel die geskiktheid as die beskikbaarheid moet duidelik vas staan. Dán kan die broeder eventueel met oortuiging geroep word.

Vroegtydige en goeie oorleg met eventuele kandidate is daarvoor nodig. Die wyksouderling sal met die moontlike kandidaat bespreek of hy beskikbaar is en of hindernisse uit die weg geruim kan word. Kan hiervoor hulp aangebied word?

Laat die wyksouderling ernstige gesprek met die betrokkene daaroor voer. Desnoods ʼn paar keer. By die samestelling van die lys van die name moet mens weet wat die feite is. Dit is beslis nie genoeg om ʼn broeder in die verbygaan te vra wat hy ‘van die amp’ dink nie. Jy loop die risiko om later verras te word met feite waarvan jy moes geweet het. As afgekondig word: ‘Die kerkraad het, na oorweging van redes wat aangevoer is, broeder X onthef van die roeping’, dan dink ek altyd: het die kerkraad dan nie by die opstel van die lys vir verkiesing, van die redes geweet nie of het hulle dit nie behoorlik oorweeg nie?

twee mans gesels

Die moontlikheid bestaan seker dat daar intussen ʼn rede vir ontheffing opgeduik het waarvan die kerkraad nie geweet het nie. Of die broeder het ʼn saak liefs vir homself gehou. Of  ʼn broeder kan ondanks baie stryd en gebed nie sy twyfel oorkom, en nie tot innerlike oortuiging kom dat hy moet voortgaan nie. Ondanks baie gebed bly die vrymoedigheid ontbreek. Maar ontheffing moet ʼn hoë uitsondering bly as ons nie afbreuk wil doen aan die erns van die roeping nie.

Terugdeins van die roeping?🔗

‘Na oorweging van redes.’ Wat kan jou weerhou om, as jy geskik is, jouself beskikbaar te stel?

Om te begin, ampswerk is moeilik. Ons hoef dit nie te ontken nie. Ouderling of diaken wees, is nie ʼn kleinigheid nie. Dit verg baie van jou. Jy dra ook groot verantwoordelikheid. Daar is heelwat te doen. Enige kerkraadslid kan jou daarvan vertel. Wanneer jy dit besef, merk jy miskien by jouself dat jy nie die eerlike ‘begeerte na ʼn opsienersamp’ het nie (1 Timótheüs 3:1). Dit skrik jou af.

Iemand kan van die amp terugdeins as hy eerder sukses in sy maatskaplike loopbaan wil bevorder. Ek bedoel nie opleiding of ’n kursus wat jy agter die rug moet kry nie, maar iemand wat die gevoel het dat ampswerk in die gemeente ‘nie vir hom’ is nie, en liefs aan ander oorgelaat moet word.

Vir ander is die ampswerk in die kerk nie so sinvol nie. Ons moet as kerke juis na buite beweeg met die evangelie. Gemeentelede moet self vir mekaar sorg. Die swaar ampswerk is eintlik ’n verkeerde gebruik van energie.

Nog ander dink dat jy as ouderling of diaken te veel moet doen. Geestelike leiding aan die gemeente verg alles van jou en dan is daar nog bestuurs-rompslomp ook. Lang kerkraadsvergaderings met eindelose en nuttelose besprekings. Jy kom nie voldoende by die kern van die taak nie. Dit veroorsaak frustrasie.

ʼn Ander broeder twyfel weer aan homself. Hoe kan die kerkraad en gemeente my geskik vind vir die amp? Ék, ouderling? Ék, diaken?

Dit is van belang om sulke oorwegings betyds te opper en hulle dan nie in die wind te slaan nie. Daar is tog baie oor amp en ampswerk te sê? Vanuit Christus, die groot en magtige herder van die skape?

Menige kerkraad en gemeente worstel met die probleem van ʼn tekort aan broeders wat wel geskik, maar nie beskikbaar is nie. Die probleem is niks nuuts nie. Wat doen ons nou?

Bid en werk in die geloof🔗

Gebed staan voorop. Van God bid om vervul te wees met sy Gees. Bid vir wat ons beloof is. Ons kan nie oplossings ‘organiseer’ nie.

Naas gebed ook werk. Onderrig en toerusting deur prediking, kategese en pastoraat. Duidelik maak waarom die Here gawes vir die amp gee en draers van die amp nodig is. Die bevestigingsformuliere begin daarmee. Dis jammer as ons dit dalk net een keer per jaar hoor.

Dan ook: begin tydig met die werk. Dit is uitstekend dat daar vir diegene wat vir die eerste keer ampsdraers word, toerustingskursusse gegee word, deur die plaaslike kerk of in klassisverband. Sulke kursusse voorsien duidelik in ʼn behoefte. Maar waarom sou ons nie die hele gemeente toerus nie, veral as die ampte onder soveel druk is? Dit gaan tog ons almal aan?

mans studeer

Toerusting is ʼn manier om die gawes wat die Gees gegee het, te ontwikkel. Ook by toekomstige ampsdraers. Dit gee geleentheid om bedenkinge teen die ampsdiens te bespreek en weg te neem, sonder om onder die druk van ʼn kandidatuur te wees; of selfs van ʼn roeping.

Gebruik al die gawes van die Gees🔗

Dit is belangrik dat ons ruimte skep vir ampsdraers om met die geestelike leiding van die gemeente besig te wees. Hoe meer ruimte hulle daarvoor het, hoe beter. Daar is meer mense met die gawe om te bestuur en te organiseer. Bestuur- en ander sake word, veral in groter gemeentes aan kommissies gedelegeer, terwyl die kerkraad die finale verantwoordelikheid dra. In die lêers van die kerkraad kry jy dan van alles, oor bestuursplanne, reëlings en opdragte aan kommissies.

Die Gees gee ook ander gawes om te dien, al is jy nie ʼn ampsdraer nie. Hendriks het eens gesê: ‘Daar is in die gemeente ʼn bonte verskeidenheid van gawes.’ En ons kan hom met oortuiging nasê: ‘Ampsdraers moet nie alles in die gemeente doen nie.’ In pastoraat en diakonaat kan die ouderlinge en diakens, en ook die predikante, baie hulp gebruik. Hulp van gemeentelede wat daarvoor gawes ontvang het.

Ons kan aan vorms van sulke hulp dink. Naas die kerklike werker wat daarvoor opgelei is, is daar altyd in die eie gemeente die ‘vrywilligers’ wat nodig is.

Ek sluit af met nog ʼn opmerking van Hendriks: ‘Ampsdraers dien sodat die geméénte kan dien.’ En ek wil hier byvoeg: en as die geméénte dien, dan sal die roeping tot die ampte al minder ʼn probleem wees.