2 bladsye. Vertaal deur Nic Coetzee.

Floreer op Universiteit As Christen op universiteit

universiteit

Universiteit verteenwoordig ʼn mynveld van versoekings vir die Christelike student. Dit is dikwels die eerste keer dat ʼn persoon wat grootgeword het in ʼn vroom huis onder die invloed kom van sowel professore met sekulêre agendas asook klasmaats met immorele ambisies. Invloede wat die karakter besoedel mag selfs by baie Christelike universiteite gevind word, waar vryheid (van Ma en Pa) kan lei tot eksperimentering met sonde, wat moontlik mag dui op ʼn onbekeerde toestand.

Maar universiteit bied ook ʼn ongelooflike geleentheid vir ongeëwenaarde spirituele en intellektuele groei. Hoe kan ʼn Christen floreer op universiteit in plaas daarvan om te eksperimenteer met sonde of sy geloof te verwerp? Eerstens, deur nie te onderhandel oor Christelike sedes nie (Ef. 5:3-11). Deur vriende te maak met nie-Christene of mense wat grensgeval-Christene is beteken nie dat jy aan aktiwiteite moet deelneem wat God sal mishaag nie, of jou gewete sal besoedel nie. Tweedens, deur God met jou verstand lief te hê – om te probeer om die bes moontlike student te wees volgens die gawes wat aan jou toevertrou is, deur jou Godgegewe talente so vrugbaar moontlik te ontwikkel ten einde jou voor te berei vir die beroep waarin jy die Here gaan dien nadat jy gegradueer het. Intussen is student-wees ook ʼn beroep, en ʼn student se werk is in wese goed en ʼn gawe van God. Doen moeite in hierdie tydperk van voorbereiding. Derdens, om daarna te streef om te groei in vroomheid in ʼn gemeenskap wat jou ywerig aanmoedig om sonde af te sterf (Rom. 6:12-14; Heb. 12:1-2), om kinderagtigheid te vermy, en om “groot dinge van God te verwag en groot dinge aan te pak vir God” (William Carey). Kortweg, universiteit moet die wegspringplek wees om alles te bereik wat saamgaan met verantwoordelike Christelike volwassenheid.

Christene in sekulêre universiteite wonder dikwels tot watter mate hulle van nie-Christelike professors kan leer. Omdat hulle nie wil saamsmelt met die wêreldse patroon nie, mag dit wees dat hulle min waarde aan hierdie akademici sal toeken, en groter klem sal laat val op Christelike verhoudings en gemeenskapsorganisasies op die kampus. Maar as ons Daniël en Josef as voorbeelde neem, is dit moontlik (en aanbevelingswaardig) om selfs in vyandige omgewings uit te blink (Dan. 1:20; Gen. 39:2). Omdat God se algemene genade aan almal gegee word, het nie-Christelike professors ook ruim ervaring in hul onderskeie dissiplines. Luister na hul lesings en voltooi ywerig hul werkopdragte. Leer van hulle, maar weeg ook terselfdertyd hul filosofiese uitgangspunte. In dié mate wat jy in hul klasse uitblink, sal jy nie net hul respek verwerf nie, maar ook dié van ander in jou gekose studieveld.

As ʼn beginner op universiteit het ek filosofie gekry by ʼn ateïs. Nadat ek in my eerste eksamen ʼn B-simbool gekry het, het ek die professor gaan sien en hom gevra hoe ek beter kan doen. Hy het my toe geleer om verskillende filosofiese perspektiewe saam te voeg, en bondig en regverdig die opponent se gesigspunt te stel voordat mens dit weerlê. Sy raad het my tot vandag toe ʼn beter denker, debatteerder en skrywer gemaak.

studente

Nie-Christelike eweknieë gee jou ook die geleentheid om ware Christelike verdraagsaamheid uit te oefen. Die sentimentele verdraagsaamheid van vandag vereis dat harmonie in verhoudings slegs verkry kan word as die waarheid relatief is: wat waar is vir my hoef nie vir jou waar te wees nie. Slegs dan sal ons met mekaar oor die weg kom. Maar bybelse verdraagsaamheid behels dat ons ander met liefde en respek moet behandel, al is ons oortuig dat hulle ʼn fout maak. Waarheid bly objektief, absoluut, en buite onsself. Ons kan saam met nie-Christene eet, aan sport deelneem, en studeer, en geëer en geseën word deur die imago Dei in hulle; maar dan ook, wanneer die geleentheid hom voordoen, ywerig nie-Christelike oortuigings afwys (van materialisme tot amorfe spiritualiteit) en vriendelik ons argumente ten gunste van die Christelike geloof oordra.

Die akademiese wedywering op universiteit vertoon die eienskappe van die gelykenis van die talente (Mat. 25:14-30), en dit kan onnodige spanning vir baie veroorsaak. Dit lyk asof party vyf talente het, ander twee, ander een. Joe kry sonder veel moeite A’s in rekeningkunde en fisika, terwyl Jason baie hard moet werk om B’s te kry. Onregverdig? Nee, niemand het iets wat hy nie ontvang het nie (1 Kor. 4:7), en elke talent wat ons het, moet vrugbaar benut word vir die diens van God en ons naaste. Verder help ons uiteenlopende vlakke van begaafdheid ons om ons roeping te onderskei. Deur te druip in ingenieurswese mag God se manier wees om jou te lei tot ʼn vrugbare beroep in rekeningkunde of besigheid. Ons werk coram Deo (vir God) en nie vir mense nie (Kol. 3:23; 1 Kor. 10:31), dus is ons vry om ons te verbly daarin dat God ander mense op ander (en somtyds beter) maniere begiftig as vir ons. Om lief te hê is om op te hou om jaloers na bo te kyk en hoogmoedig na onder te kyk. Verder, om te leer van beter studente en om swakker studente te help, is beide ʼn manier om hulle te eer en ʼn manier om jou eie bekwaamheid te verbeter.

Laastens, beveg werkverslawing met ʼn goddelike uitsig op ontspanning. ʼn Mate van ontspanning is noodsaaklik. Maar om die misbruik daarvan te voorkom moet dit doelbewus, beperk en genesend wees. Ons moet dit benader met God-afhanklike dank – ʼn erkenning dat ons van ons arbeid mag rus want slegs God is oneindig (Ps. 12:4-8). In rus aanvaar ons nederig ons beperktheid. Maar net so belangrik, die houding wat ons moet aanleer ten opsigte van vrye tyd is dat dit dankbaarheid teenoor God se gawe van werk insluit – selfs die voorbereidende werk op universiteit.

Vriend, mag jou ervaring op universiteit jou voorthelp tot volle, God-beheerde volwassenheid.