Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Evangelisasie - Geen Eksentrieke Stokperdjie, maar Lewensaar

droogte

Die sewe vet jare vir die Afrikaanse kerke is verby. Getalle krimp. Geld word om en om gedraai. Ons hoor troosspreuke: ons is klein genoeg om om te gee, groot genoeg om ‘n verskil te maak. Ander laat doemwoorde vlieg: teen die huidige maer-word-tempo van die kerk sal daar nie gereformeerdes oor wees om die wederkoms te sien nie — al sou dit binne drie of vier dekades wees.

In die dae van Josef het die Here droogte gestuur, sodat sy heilsplan volvoer sou kon word. Reën en droogte, so bely ons, kom uit die hand van die Here ons ten goede. Die maer jare van die kerk word veral ekonomies bedoel. Die effek van die sogenaamde regstellende beleid word al hoe meer sigbaar — en dit het ‘n invloed op die kerke. Die volgende geslag gaan heel waarskynlik ‘n arm geslag wees, met hier en daar ‘n uitsondering. Natuurlik is daar baie ander redes waarom die kerkkas maerder word. Maar hoe sake ook al staan: die volop jare van die verlede is vir eers verby vir die kerk. Maar moet hierdie vooruitgesiene gelddroogte noodwendig ‘n geloofsdroogte meebring - of nog erger - in stand hou?

Sou ons die gelddroogte uit die hand van God ontvang, moet ons onsself afvra wat wil U ons hiermee leer, Here? Wil die Here nie vir ons — en weer veralgemeen ons ‘n bietjie — op ‘n sielsdroogte wys nie? Laat ons die spieël optel van ‘n deursnee gereformeerde gemeente en dan vra ons onsself af of ons nie droogdors geword het nie.

Die Huidige Stand van Sake🔗

Die gemeente moet ‘n dominee hê. Dominee moet die voorman wees. Hy moet besig wees met baie dinge, hy moet besig lyk, want die gemeente moet glad loop. Sy hand moet in alles gesien kan word. ‘n Dominees-kerk. Die besturende direkteur van ‘n geestelike klub. Hy moet hand bysit by die fondsinsameling. Hy moet gaan troos. Hy moet gaan raas. En ‘n mooi preek kom handig te pas. Met ons dominee en sy kerk gaan dit ... wel, wel. Hy lyk so moegerig. En die kerk groei nie eintlik in getalle nie. So af en toe trou iemand van elders af in die kerk in. Nou en dan spoel ‘n grensgeval oor. Hier en daar ‘lig iemand sy attestaat na ‘n ander predikant toe’, omdat hy nie hou van sy nuwe dominee se manewales nie, of omdat die tug so bietjie brand (by die kerkraad wat moeg is om ramings vir dooie hout oor te betaal Potchefstroom toe).

Maar laat ons die kerk nie as karikatuur voorstel nie. Die evangelie word op talle plekke nog suiwer gepreek. Daar is diep gelowiges wat ‘n pad saam met die Here in die gemeentes loop. Daar is plekke waar die amp van die gelowige vol in die blom staan. Maar dit is die uitsondering. Die reël is ‘n hiërargiese-dominees kerk (en moet maar nie te verbaas wees as die herders self die tafel so dek nie, want die stoel — al het dit nou baie op die pligstaat geskryf — sit na ‘n ruk al te lekker en daar is baie byvoordele). Sou dit ver uit die kol wees as ons die deursnee gereformeerde gemeente tipeer as ‘n predikantskerk met ‘n instandhoudingsmodel as grondslag? En is dit nie juis dit wat die huidige droogte opgeroep het nie?

Redes🔗

Gereformeerde kerke wat evangelisasie doen as ‘n lewensaar is maar dun gesaai. Daar is dié wat evangelisasie doen, maar dan is dit ‘n aksie van ‘n paar entoesiaste. Party gemeentes wat groei het sulke ongereformeerdhede ingebring dat die suiwere leer, diens en tug haas nie meer sigbaar is nie. Soos ‘n vorige kollega vir my eenkeer gesê het: Ek sien nie kans om die heidene in ons erediens in te bring nie. Die liturgie is só te vreemd. Die oplossing? ‘n Heel charismatiese tweede diens naas (eintlik teenoor) die ‘normale’ gereformeerde liturgie. En dan word daar nogal pertinent gesê ‘word die kategismus nie gelees’ nie. Is dit waarin ons vasgevang sit? Dat die hemelse droogte ons dwing om ons instandhouding van dominees- kerke aan te pas, maar dat ons nie weet hoe om dit te doen én nog gereformeerd te bly nie?

kansel Bybel

Kan die Gereformeerde Kerk Groei?🔗

Die vraag hang daarmee saam of ons nog onsself sien as die ware kerk. Die ware kerk van Christus sal groei. Christus self versamel sy kudde. Die punt is egter of ons as kerkverband Christus hierin gehoorsaam volg as medearbeiders, en of ons Hom teenstaan in sy versamelwerk.

Natuurlik kan die Gereformeerde Kerk as ware kerk groei. Maar dan moet ons doen wat ons glo. Met ons papiere skeel daar niks. Ons belydenis is reg. Met ons hart en ons hande skort daar egter baie.

Evangelisasie en Uitverkiesing🔗

Het ons nie die Dordtse Leerreëls begrawe nie? In dié sin dat ons die uitverkiesing verkeerd verstaan? Ons bely dat die Here sê: ‘Jakob het ek liefgehad en Esau het ek gehaat’. Is dit nie so dat die uitverkiesing nie meer vir ons ‘n jubellied is nie, maar ‘n verkoelings yskas wat redeneer: die Here het my darem gekies, maar God is so almagtig en sy uitverkiesing en verwerping heeltemal onveranderd (wat dit is), dat ek daar niks aan kan doen nie? As iemand uitverkies is, sal God tog self sorg dat die mens hemel toe gaan? Hy sal nou wel dalk nie vooraf ‘n draai in die Gereformeerde Kerk maak nie, maar wat maak dit saak? Ek en my huis, ons gaan hemel toe.

Is so ‘n verkeerde verstaan van die uitverkiesing nie ‘n skreiende onderskatting van God se oordeel nie? Is dit nie matelose ondankbaarheid nie? Verstaan die gereformeerde instandhoudings-predikantskerk nog die diepte van genade? Sidder ons nog vir God se oordele? Ons vra vir die Here: help die kerk — maar eintlik bedoel ons dalk: help met die kerkgeld! Bring die Here ons nie in die geld-armoede sodat ons ons geestelike armoede kan besef nie? Geestelike armoede wat blyk uit gebrek aan ywer. En ‘n skandalige gebrek aan gehoorsaamheid as dit kom by die slotverse van Matteus 28.

Inkeer🔗

As die kerkorde op Skrifgronde die hiërargie in die kerk as sonde beskryf, moet ons alles in die stryd werp om dit wat die amp van die gelowige ondergrawe — soos predikante wat indring in die ampte van diakens en ouderlinge — teen te staan. Ons moet ons huidige instandhoudingsmodelle omruil vir diensbare uitbreidingsbedieningsmodelle. Wat dit behels is dat die dienskneg gestalte van Jesus Christus sigbaar gestalte moet kry in die bediende van die Woord. Hier behoort bedienaars self die hand in eie boesem te steek. Kerkrade behoort te vra: vra ons nie meer van ons predikant as wat Christus van hom vra nie? Dikwels bid predikante om meer krag vir die moeilike werkslas van die bediening, maar God gee jou nie krag om ander se werk te doen nie. Gemeentes self moet hierdie dienskneggestalte aanleer en uitstraal. Die punt van belang is dat die hele gemeente, as liggaam van Christus, betrek moet wees by die uitbreiding van die gemeente.

Dienskneg

Om dit te bereik moet daar selfondersoek gedoen word na die mate waarin ons sending sien as wesenlik deel van die kerk: die ware kerk se roeping. Met hart en mond en hande. Ons belydenis sê dit, maar ons belydenisdaad loënstraf dit dikwels. Die groei van die gereformeerde kerk deur middel van evangelisasie is al wat hierdie droogte gaan breek. Die Here is besig om hard met ons te praat. Het ons genoeg eerlikheid om ons te bekeer van ongehoorsaamheid as kerk en kerkverband oor evangelisasie?