Engele (3) – Diakens en Leerlinge
Engele (3) – Diakens en Leerlinge
Die diens van die engele is – soos ons gesien het – in die eerste plek op God gerig. Hulle dien Hom met die krag van helde. Maar hulle diens is ook op mense gerig. Daardie mense wat deur genade weer met God versoen is; verlore seuns wat teruggekom het. Wanneer die engele teen God se vyande stry, is dit nie net om vir God se eer en saak op te kom nie, maar terselfdertyd ook om God se kinders te beskerm. As die engele God dien as sy boodskappers en die verkondigers van sy Woord, dan dien hulle daarin gelyktydig ook God se kerk, wat deur hulle God se Woord hoor.
Diakens⤒🔗
Hiermee saam is daar nog ʼn ander paar dinge waarin die engele hulle "wat die saligheid gaan beërf" bedien. So word hulle aangedui in Hebr. 1:14. Ons het al voorheen na hierdie teks gekyk. Daar word die engele ook genoem “geeste in diens van God", “liturgiese geeste", koningsdienaars.
Hierdie gewillige geeste verrig naas hulle koninkryksdiens, nog ʼn diens. Hulle word uitgestuur tot “diens” van hulle wat die saligheid beërwe. Waar daar nou weer die woord “diens” gebruik word, word daar hierdie keer ʼn ander diens bedoel. Nie “liturgie” of koningsdiens nie, maar “diakonie”; diens aan mense wat hulp nodig het. Kom ons noem die engele sommer diakens.
Dit dui dus ʼn ander soort werk aan. Diakens staan die arm en behoeftige gemeentelede by. Hulle het ʼn taak waar daar nood is en waar mense hulp nodig het. Engele is blykbaar ook helpers; helpers in die nood.
Diegene aan wie die hulp verleen word is hulle “wat die saligheid gaan beërf”, erfgename. Hulle het egter nog nie die erfenis ontvang nie. Terwyl dit nog die geval is, is hulle dikwels arm en behoeftig. Hulle word meermale in die Bybel beskryf as nooddruftig.
Hulle is arm. Maar tog ryk. Daar is ʼn erfenis wat wag. Dit is veilig daar. Dit word onverganklik, onbesmet en onverwelklik bewaar in die hemel (1 Petr. 1:4). Dit word bewaar vir die erfgename. Intussen word die erfgename ook bewaar vir die erfenis, en by hierdie bewaring het die engele as God se diakens ʼn taak.
Beskerming←⤒🔗
Wat val onder die diakonale taak van die engele? Gen. 28:12, 15 praat oor die beskerming wat hulle bied, ook aan Jakob. Beskerming word ook gebied aan Elisa en sy dienskneg as hulle hulle in Dotan bevind wat deur die Siriërs beleër is (2 Kon. 6:16, 17). In Psalm 34:8 word daar gepraat van die Engel van die Here wat sy laer opslaan rondom dié wat die Here dien. In Psalm 91 word daar ʼn hele gedeelte gewy aan die beskerming en die hulp wat God se kinders van die engele ontvang.
Op grond hiervan en soortgelyke plekke in die Skrif sê Calvyn: So voorsien God dan beslis in ons swakheid, as Hy vir ons sulke helpers gee om saam met ons die satan te weerstaan en wat hulle op allerhande maniere bearbei om ons te onderhou en te beskerm. Calvyn is reg. Dit blyk ook uit wat Jesus in Matt. 18:10 sê van die engele en die “kleintjies”. Die “kleintjies” word baie spesiaal aan die sorg van die engele toevertrou. Dit wil nie sê dat elkeen van God se kinders ʼn aparte beskermengel het nie. Alle engele is beskermengele vir al God se kinders.
So lank as wat God se kinders hier op die aarde is en vir die erfenis moet wag, word hulle veilig bewaar. As die einde van hulle lewe naderkom, dan verrig die engele weer ʼn baie besondere diakonale taak. Hulle is teenwoordig as die erfgename sterf. Die oomblik wanneer die erfgenaam sterf, bring hulle die siel hemel toe (Luk. 16:22).
Moet ons hierdie woorde van Jesus sien as beeldspraak en dit nie letterlik opneem nie? Wat jy ook al verder hiervan dink, vir my was die gedagte dikwels tot troos gewees. In my verbeelding het ek al ʼn keer in die sterfkamer van ʼn kind van God die engele gesien staan en wag vir die oomblik wanneer hulle hulle werk kon doen. Voordat die pasiënt “uitgelê” word en die begrafnisondernemer sy werk doen. Hulle het die erfgenaam huis toe gebring, al was die erfgenaam nie belangriker as Lasarus wat net honde as geselskap gehad het nie.
Die bymekaarmaak en huis toe bring is ook die diakonale werk van die engele op die dag van Jesus se wederkoms (Matt. 13:39, 24:31). Dit is ʼn troosvolle gedagte. Dan sal die grafte oopgaan, ook die van die erfgename. Probeer dit vir jou voorstel as jy kan. Dalk kyk die opgestane erfgename dan verbaas om hulle rond en weet nie wat hulle moet doen nie? Wees gerus. Daar is mos weer ʼn diaken byderhand en hy ken die pad na die Huis toe.
Leerlinge←⤒🔗
Na alles wat die engele doen in die koninkryksdiens aan God en in die diakonale diens aan God se kinders, wys die Bybel ons op nog ʼn ander aspek. Engele tree meermale op as boodskappers by wie die mense kan leer. Maar dit geld ook omgekeerd. Daar is ook dinge wat die engele nie weet nie, maar wat hulle graag wil weet. Dinge wat betrekking het op God en sy werk. Sy saligmakerswerk. Hulle weet baie daarvan. Hulle kon ook baie kere daaroor praat. In die Kersnag, op Paasmôre. Maar – ons het dit al voorheen genoem – as dit Pinkster word, swyg hulle. Hoekom? Omdat daar dan in God se heilswerk iets gebeur wat hulle nie ten volle verstaan nie. Dan is daar mense wat meer insig daarin het as hulle. Nou is dit die mense se beurt. Baie mense in Jerusalem luister na die boodskap wat Petrus bring, maar die engele luister ook.
Hoekom is dit so? Op Kersdag en met Paasfees en op die dag van die hemelvaart gaan dit oor die verwerwing van die heil. Die engele het dit sien gebeur en was bly daaroor. Maar met Pinkster gaan dit oor die toepassing van die heil en die engele staan persoonlik daar buite. Hoe naby hulle ook al daarby betrek word, hulle het nie ondervinding daarvan nie.
Hulle weet baie van God. Hulle weet dat Hy regverdig is en barmhartig en almagtig en alwetend en nog meer. Maar wat dit beteken dat Hy ook genadig is, weet hulle nie. Hulle het mos nie genade nodig nie. Dit is nie nodig dat dit aan hulle betoon word nie. Dit is net onwaardige sondaars wat genade nodig het. En dit is die engele nie.
Maar hulle wil soveel moontlik daarvan weet. Hulle het hulle God lief. So lief dat hulle alles van Hom wil weet. Daarom hou hulle Hom noukeurig dop as Hy genade bewys.
Verstaan jy hoekom die gesigte van die engelfigure wat op die ark se versoendeksel geplaas moes word, moes afkyk op die deksel (Eks. 25:20)? Petrus verwys hierna as hy sê dat daar dinge is waarin selfs engele begerig is om insig te kry (1 Pet. 1:12). Die bloed van versoening is op daardie versoendeksel gesprinkel, die bloed waardeur versoening tot stand gekom het. Deur daardie bloed kon God die sondaar weer in guns aansien. Daardie bloed bedek die skuld. Daardie bloed verklaar die geheim dat God onverdiende guns bewys aan hulle wat onwaardig is. Daarom was die engele ook betrokke by alles wat Christus kom doen het. By die offer wat Hy gebring het en die bloed wat Hy vergiet het. En toe Hy al sy werk volbring het – die engele het gesien dat God daarmee tevrede was – en Hy weer na die hemel teruggekeer het, het ook die engele Hom verwelkom.
God se vreugde – hulle vreugde←⤒🔗
Nog iets waarby hulle baie betrokke is, is wanneer die werk van Christus begin vrugte dra in ʼn sondaar se lewe en as die mens hom tot God bekeer. Hulle sien dan die vreugde op God se gesig oor ʼn sondaar wat teruggekom het, en om dit te sien verskaf aan hulle ook vreugde. God se vreugde is ook hulle vreugde (Luk. 15:10).
Hulle taak is nog nie klaar nie. Hulle kry telkens nuwe opdragte. Hulle maak die tronkdeur oop sodat Petrus en Johannes kan vry uitkom (Hand. 5:12). Nog ʼn keer bevry hulle vir Petrus (Hand. 12:7-11). Hulle gee Cornelius opdrag om vir Petrus te ontbied (Hand. 10:6). Hulle bemoedig Paulus tydens ʼn vreesagtige seereis (Hand. 27:23). En nog baie ander opdragte.
Maar terselfdertyd wil hulle ook leer en te wete kom hoe, deur die werk van die Here, die sondaars deel word van die heil. Van wie moet hulle dit leer? Wie vertel vir hulle wat die “ryke verskeidenheid van sy wysheid” is (Ef. 3:10)? Die gemeente het so baie van die engele ontvang en geleer. Nou wil die engele graag van die gemeente iets terugontvang. Hulle sien daarna uit dat die gemeente – die erfgename – die ryk verskeidenheid wysheid van God moet vertoon. Hulle luister as daar in die gemeente daaroor gepraat word. As daaroor gesing word. As die erfgename onder mekaar daaroor praat. Hulle wil ook graag sien dat die wysheid van God in die gedrag van die gemeente sigbaar word in ʼn heilige lewenswandel. Soos wat hulle self ook wandel. Daarom is hulle in ons kerkdienste teenwoordig. Wat hoor hulle? Wat sien hulle? Het hulle rede tot blydskap? Of gebeur daar dinge wat hulle hartseer maak? Beteken “ter wille van die engele” uit 1 Kor. 11:10 iets in hierdie verband? Vloei daar nie uit hierdie woorde van die apostel gevolge voort wat betref ons gedrag en ons kleredrag wanneer ons kerkdienste bywoon nie?