4 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Een is Drie, Drie is Een

Die leer oor die Drie-eenheid lyk soos ʼn raaisel. Maar die Bybel is kennelik so duidelik dat jy as Christen nie sonder dié leer kan wees nie.

Ons gaan in hierdie Bybelstudie kyk na die teks van die Geloofsbelydenis van Atanasius (GvA). Die eerste twee artikels lui soos volg:

  1. Vir elkeen wat salig wil word, is dit in die eerste plek nodig dat hy die algemene geloof moet vashou.
  2.  As iemand dit nie heeltemal en ongeskonde bewaar nie, sal hy sonder enige twyfel ewig verlore gaan.

Die kerkgeskiedenis bevestig dit. Waar die kerk en die teologie suiwer op die Woord van God gegrond bly, daar leef die geloof in God Drie-enig. Waar kerke en teoloë daardie Woord loslaat, daar word die geloof in die Drie-eenheid losgelaat. Ons sien dit die duidelikste in die vrysinnige protestantisme in Europa. In die agtiende eeu het teoloë begin twyfel aan die onfeilbaarheid, en dus die betroubaarheid, van die Bybel. Die Duitser G. E. Lessing (1729-1781) het geskryf dat die evangelies nie as geskiedenis betroubaar is nie. Jesus was net ʼn mens, en nie God self nie. In die negentiende eeu word dit die oorheersende beskouing in Duitsland en ook in Nederland. Die gevolg is die verdwyning van die geloof in die Drie-eenheid in groot dele van die hervormde kerk (om van die kleiner vrysinnige kerke soos die doopsgesindes en Remonstrante nie te praat nie). Ons sien hier hoedat iemand se geloof in Jesus direk gekoppel is aan sy geloof in God. As jy die goddelikheid van Jesus ontken, sal jy ook die Drie-eenheid ontken.

Onmisbaar om gered te word🔗

“Sonder enige twyfel ewig verlore gaan” as jy nie in die Drie-eenheid glo nie, klink radikaal en hard. Daar is in die kerk kinders, jongmense, sterk én swak broeders en susters wie se geloof nie ‘optimaal’ is nie. Maar in die historiese konteks van die vroeë kerk word elke volwasse Christen voor die keuse gestel. Vír of téén die openbaring van God oor Homself as Vader, Seun en Gees. Vir of teen wat die Bybel oor die persoon van Jesus sê. Ook in die tyd van die vroeë kerk was geestelike leiers bewus dat dit hulle taak was om pastoraal met die kudde om te gaan. Die waarskuwing aan die begin van hierdie belydenis het ʼn diep pastorale strekking: mense, pas op dat jy bly glo wat God gespreek het, dat jy bly glo in sy openbaring van Homself as Drie-enige God! En dié waarskuwing het ons vandag nog nodig.

Één en tog ook drie🔗

Die GvA gaan dan verder:

3. Die algemene geloof is: Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid eer;

4. sonder om die persone te vermeng of die wese te deel.

5. Want die Persoon van die Vader is 'n ander, dié van die Seun is 'n ander, dié van die Heilige Gees is 'n ander.

6. Tog het die Vader en die Seun en Heilige Gees een Godheid, gelyke eer en gelyke ewige heerlikheid.

Die gronde vir hierdie gedagte dat die drie Persone van God één is, maar met hulle eie eienskappe, ontdek mens in die Bybel. Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) sit dit in artikel 8 so uiteen:

“Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in 'n enige God, een enige wese, in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat in werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat Hulle nie met mekaar deel nie. Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge (Efesiërs 3:14,15). Die Seun is die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader (Spreuke 8:22-31; Johannes 1:14; 5:17-26; 1 Korintiërs 1:24). Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan (Johannes 15:26)”.

Hulle is al drie God self, ongeskape (GvA 8), onmeetlik (9), ewig (10), almagtig (13), God (15) en Heer (17). Dit is nie drie ongeskapenes, onmeetlikes, ewiges, almagtiges, gode en here nie, maar één ongeskape, onmeetlike, ewige, almagtige Goddelike Heer (11, 12, 14, 16, 18). Dit klink miskien bietjie skematies en wiskundig, maar gee duidelik weer wat die Skrif oor God openbaar. Elke term kom direk uit die Bybel. God is Skepper van alles, dus self ongeskape (Jesaja 40:26), Hy is onmeetlik (Jesaja 40:13), ewig (Psalm 90:2), almagtig (Genesis 17:1), Goddelik (dus die enige HERE, Deuteronomium 6:4), Here (Amos 3:13). Lees ook NGB, artikel 1 met verdere skrifverwysings.

’n Skematiese uiteensetting van die waarhede van die GvA is dalk vir ons nuttig. Ons is immers mense wat soms hulpmiddels nodig het!

PICTURE
 🔗

Die Geloofsbelydenis van Athanasius in ʼn voorstelling🔗

[Pater = Vader;  Filius = Seun;  Spiritus Sanctus = Heilige Gees;

Non est = is nie;  Est = is;  Deus = God]

Nie net die Goddelikheid van die Drie-eenheid is in die Skrif duidelik nie, maar ook hulle eienskappe. Deur goed te luister na hierdie openbaring praat die GvA oor God in sy diversiteit:

21. Die Vader is deur niemand gemaak of geskep of gegenereer nie;

22. die Seun is deur die Vader alleen nie gemaak of geskep nie, maar gegenereer;

23. die Heilige Gees is deur die Vader en die Seun nie gemaak of geskep of gegenereer nie maar gaan van Hulle uit.

Weereens is die terminologie direk aan die Skrif ontleen. Ons sien dat God onderskeidend spreek oor Homself. Ons moet ‘die Eenheid in die Drieheid’ en die ‘Drieheid in die Eenheid’ eer (27)! Met opnuut die waarskuwing dat dit ’n heilige eis is (28)!

Jesus: God en mens🔗

Die waarskuwing aan die begin en die einde van die gedeelte oor die Drie-eenheid word herhaal aan die begin van die gedeelte oor die vleeswording van Jesus:

29. Maar vir die ewige saligheid is dit nodig dat hy getrou aan die menswording van ons Here Jesus Christus moet glo.

Mens hoor in bepaalde kringe dikwels die uitdrukking: glo net aan Jesus as jou verlosser en jy is gered! Dit is waar, maar watter Jesus word bedoel? Die duiwel is ook besig met verspreiding van leuens oor Jesus. Paulus skryf in 2 Korintiërs 11 oor skynapostels wat “’n ander Jesus verkondig” as die Jesus wat hy preek (vs. 4). Toe en nou het die kerk die taak om in die ware Jesus van die Woord van God te bly glo en Hom alleen te verkondig in die wêreld. Die GvA help ons in dié lewensbelangrike taak.

30. So is die opregte geloof dan: Ons glo en bely dan dat ons Here Jesus Christus, die Seun van God, tegelykertyd God én mens is.

31. Hy is God uit die Wese van die Vader, voor alle tye gegenereer, en mens uit die wese van sy moeder, in die tyd gebore;

32. volkome God, volkome mens.

Hier word ’n term gebruik wat nie direk uit die Bybel kom nie: die Latynse woord vir ‘wese’, substantia. In die vierde eeu het Ariane en semi-Ariane gekla dat terme in Grieks en Latyn gebruik word wat nie Bybels is nie en dus onwaar is. Maar Atanasius in die Ooste, en later Ambrosius en Augustinus in die Weste, het altyd geantwoord dat, hoewel bepaalde terme nie direk in die Bybel voorkom nie, die inhoud van sulke terme sekerlik Bybels kan wees. En in hierdie geval is dit so. Hulle het die Griekse term vir ‘wese’, ousia (uitgespreek: oesia), in die Geloofsbelydenis van Nicea gebruik en die Latynse term substantia om te spreek oor die wesenlike van God en mense. Dit wat van God God maak, is sy ousia, sy substantia, sy identiteit. Hulle werk met die Bybelse gedagte dat God God bly, Skepper van ewigheid tot ewigheid, terwyl die mens mens bly, geskape in die tyd, altyd skepsel. En Jesus is albei. Hy was en bly God, God die Seun, maar deur sy vleeswording het Hy ware mens geword. Hy het die wesenlike van mens-wees van sy moeder, Maria, gekry. Dit is die hart van die evangelie van redding.

Salig deur goeie werke?🔗

Byna aan die einde van die belydenis lees ons:

41. By sy koms sal alle mense, met hulle liggame, opstaan

42. en van hulle eie werke rekenskap gee.

43. En die wat goed gedoen het, sal in die ewige lewe ingaan, maar die wat sonde gedoen het, in die ewige vuur.

As mens net hierdie sinne lees, kry jy die indruk dat nie jou geloof nie, maar jou werkheiligheid die middel tot ewige saligheid is. Maar in die konteks is dit duidelik dat dit nie die bedoeling is nie. Die GvA sê dat geloof in God Drie-enig en in Jesus as God en mens, nodig is om vir ewig gered te word. Want Jesus Christus is de Seun van God wat ter wille van ons saligheid gely het (38). Die agtergrond van die GvA maak dit onmoontlik dat die skrywers redding op grond van goeie werke sou wou propageer.

Hierdie gedagte is eintlik dieselfde as wat ons in Heidelbergse Kategismus, Sondag 24 in antwoord 64 kry: “…dit is onmoontlik dat 'n mens wat deur 'n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie.”