Ds. Dirk Postma en Sy Prediking
Ds. Dirk Postma en Sy Prediking
In die Gereformeerde erediens neem die bediening van die Woord 'n sentrale plek in. God die Heilige Gees werk deur die verkondiging van die evangelie die saligmakende geloof en lei die ware gelowiges op die pad van geloofsgroei en heiligmaking. Die eerste merkteken van die ware Kerk van Christus is dan ook die suiwere bediening van die Woord.
Waar die stigting van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika as 'n daad van reformasie gesien word, is dit daarom baie belangrik om die vraag te beantwoord of die prediking van die Woord ook weer in Skriftuurlike bane gelei is. Die prediking van die eerste predikant van die GKSA, ds. Dirk Postma, werp hierop besondere lig.
Deformasie van die 19e Eeu⤒🔗
Die prediking van die 19e eeu is sterk beïnvloed deur strominge soos die Rasionalisme en Supranaturalisme. "Dit was 'n uit die mens gekonstrueerde godsdiens wat die geopenbaarde waarhede van Gods Woord gedaag het voor die regbank van die rede en wat die skerp kante van die belydenis oor verkiesing, verwerping, erfsonde, versoening, regverdigmaking deur die geloof, probeer afslyp het" (Van der Vyver). Die tydsgees van die Franse Rewolusie met sy gelykskakelingskreet het verder bygedra tot 'n algemene versoeningsleer en herlewing van die Remonstrantisme.
Die Prediking in Suid-Afrika←⤒🔗
Die dwaalleer wat neerslag gevind het in die prediking, was nie beperk tot die kerke in Europa nie. Dit is ook al hoe meer gehoor van preekstoele in Suid-Afrika. Die bekende teoloog van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, T.N. Hanekom, het daarop gewys dat die prediking van die uiterste liberaliste in diens gestaan het van die leuen tot ondermyning van die gesag en waarheid van Gods Woord. 'n Ander predikant (D.P.H. Huet) verklaar dat daar volgens hom by die 'Afgescheidenes' 'n sluimerende gevoel van gemis aan Calvinistiese prediking was, en dat hulle deur vas te hou aan die Bybel met kanttekeninge en die ou Calvinistiese leer, die Gereformeerde Kerkleer bewaar het wat op talle plekke geheel en al verlore gegaan het. Verder het H.D.A. du Toit tot die gevolgtrekking gekom dat die Skotse predikante die uitverkiesingsleer van die kansel verswyg het.
Beswaar en Versugting van die Gereformeerde Vaders←⤒🔗
Dit is 'n bekende feit dat die besware van die Gereformeerde vaders nie beperk was tot die dwaalleer wat in die evangeliese gesange na vore gekom het nie. Hulle het ook ernstige besware gehad teen die prediking. Aan die een kant was daar die prediking van die liberaliste, onder wie die bekende ds. T.F. Burgers wat vraag en antwoord 60 van die Heidelbergse Kategismus openlik verwerp het. Aan die ander kant was daar die Metodiste onder wie dr. Andrew Murray die bekendste was. Hy het die dwaalleer verkondig dat Christus vir alle mense gesterf het, asook die Remonstrantse dwaling oor die vrye wil van die mens. Teen hierdie agtergrond hoor ons die versugting van die ware gereformeerdes:
Reeds jaren voordat vader D. Postma in het land kwam, waren onze oude menschen bezwaard omtrent de leer der zaligheid die in die Kerk verkondigd werd. Gingen zij ter kerk dan hoorden zij in de prediking dat een mensch een eigen wil ter zaligheid heeft. Zij misten in de prediking de zuivere predestinasie of uitverkiezingsleer.
Die Prediking van Ds. Postma←⤒🔗
Dit is onmoontlik om in die bestek van 'n enkele artikel reg te laat geskied aan al die fasette van ds. Postma se prediking. Daarom word volstaan met enkele gedagtes op grond van die een gepubliseerde preekbundel wat deur ds. Postma jr. uitgegee is.
Formeel←⤒🔗
Vandag se hoorders sou dit moeilik gevind het om na 'n preek van ds. Postma te luister. Sy preke was lank, gewoonlik met 'n voorafspraak (gedagtes oor 'n ander Skrifgedeelte as die teks van die preek) en tussensang. Daarby was sy preke baie analities, met talle onderafdelings. Elke preek was 'n leerrede in die ware sin van die woord. In dié opsig was hy 'n kind van sy tyd en vertoon sy preke die tipiese patroon van die prediking van die 19e eeu.
Ds. Postma het die geweldige eise beklemtoon wat aan die prediker self gestel word. "… welk een zegen voor de gemeente, wanneer de leeraar is een wedergeboren mensch, en door den Heiligen Geest zelven geheiligd tot dat werk."
Die prediking self is vir hom die gesagvolle bediening van die Woord van God. Die prediker 'spreke altoos de woorden Gods.'
Inhoudelik←⤒🔗
Teenoor die dwaalleer van die 19e eeu was die inhoud van ds. Postma:
Troos van die Uitverkiesing←↰⤒🔗
Teenoor die dwaalleer dat Christus vir alle mense gesterf het en teenoor se prediking 'n kragtige terugkeer na die suiwere bediening van die Woord van God. Voor die voet getuig dit van grondige eksegese en indringende studie en meditasie.
Bevinding←↰⤒🔗
So beklemtoon hy teenoor die koue rasionalisme en liberalisme die ware Calvinistiese vroomheid, of bevinding. In 'n preek uit Lukas 2:8-12 vra hy by wyse van toepassing die vraag: "Is dezelve ons al tot blijdschap geworden?" En in 'n preek oor Jesaja 53:11 verklaar hy dat ons Christus nie alleen verstandelik moet ken volgens die Skrifte nie, maar Hom ook moet ken deur bevinding. Hy word nooit moeg om die persoonlike geloofsverhouding met Christus te beklemtoon nie.
Hierdie bevindelikheid verskil egter radikaal van die mensgesentreerde piëtisme wat in ons tyd weer al hoe meer gehoor word. Nooit het hy die volgorde van die 'indikatief' en die 'imperatief' van die Woord omgekeer of skeefgetrek nie. Die appèl wat onvermoeid van sy prediking uitgegaan het tot geloof en bekering, vloei altyd voort uit die heilsindikatief van Christus se verlossingswerk. So verklaar hy in 'n nabetragtingspreek die vermaning uit 1 Petrus 4:1-5 dat ons volgens die wil van God moet leef, alleen in die verband met hoofstuk 3:18 — "Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring…" "Petrus heeft dezen brief geschreven om door de leer der genade van Jezus Christus de gemeente in het geloof op te bouwen en te versterken, en om haar ten gevolge dezer verlossende liefde ernstig op te wekken tot godzaligheid en eenen heilige wandel." En later in dieselfde preek stel hy dit in die duidelikste taal: "…want de geloovigen ook maar alleen kunnen zich deze genade toeëigenen." Teenoor die Remonstrantse prediking van die vrye wil van die mens, het ds. Postma die Bybelse waarheid gepreek dat die gevalle sondaar vergewing uit genade alleen ontvang sonder enige verdienste. So stel hy dit in 'n preek uit Jesaja 43:25 — "En hoe begrijpen wij die goedheid Gods! Naar zijn Woord: Als een eeuwig vrijmachtig welbehagen, genomen in liefde.
Dit hang ten nouste saam met die feit dat die leer van die uitverkiesing (die hart van die kerk) wat in die prediking van dr. Andrew Murray en die ander metodistiese predikers geheel ontbreek het of verdraai is, soos 'n goue draad deur die prediking van ds. Postma loop. En hy hanteer dit nie as 'n dorre teologiese waarheid nie, maar as die heerlike Bybelse waarheid tot troos en blydskap van die ware gelowiges. In die verklaring van 1 Tessalonisense 1:4, 5a stel hy dit soos volg:
En dat wij, mijne hoorders! vooral een zuiwer begrip van roeping en verkiezing hebben. De roeping uitwendig door het woord, geschiedt aan allen, die het hooren, maar moest men het van den mensch zelven verwachten, dan kwam niet één mensch tot de zaligheid; maar God heeft naar zijn vrijmachtig welbehagen, naar zijne eeuwige zondaarsliefde toch eenigen uitverkorenen, die Hij door almachtige genade toebrengt, en dus ook inwendig roept. De leer der uitverkiezing dus voorgedragen kon geene ergernis geven, maar moet ons opleiden om Gods genade te verheerlijken.
Verbondsprediking←↰⤒🔗
Ds. Postma se prediking kan ook bestempel word as Skriftuurlike verbondsprediking. By die dood van sy eie 12-jarige dogter is die waarheid van die verbond sy heerlike troos en neem hy as teks Jesaja 59:21;
Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê die HERE: My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die HERE, van nou af tot in ewigheid nie.
'n Preek uit Eksodus 19:5-8 het die volgende indeling: God se belofte; God se eis; die plegtige voorstelling van die verbond die ongedwonge antwoord van die volk.
Samevatting←⤒🔗
Volgens ds. Postma se eie mededeling is hy oortuig van sy roeping om na Suid-Afrika te kom, toe hy vasgehou het aan die waarheid van "Gods Zoon voor ons in de beeste krib, Gods Zoon voor ons op het kruis". Hierdie waarheid is in kort ook die inhoud van sy prediking, nl. dat die bloed van Jesus Christus reinig van alle sonde. Hierdie prediking het gekom as die ware voedsel vir hongerige siele, die Brood van die lewe, sodat ons hulle hoor sê:
Het was voor ons heerlijk om nu voor de eerstemaal het blijde Evangelie op Dordtsch Gereformeerde wijze te hooren verkondigen." Hulle het daarin gehoor die "zuivere waarheid van het Evangelie der genade.
Mag God deur sy Gees ons daartoe help dat die prediking in die Gereformeerde Kerke steeds dié stempel dra.