Dit Glo Ons Oor die funksie van die belydenisgeskrifte
Dit Glo Ons Oor die funksie van die belydenisgeskrifte
Vir baie evangeliesgesinde Christene is die hele idee van belydenisskrifte, daardie vaste stel woorde wat sekere kerke deur die eeue heen gebruik het om presiese uitdrukking te gee aan die Christelike geloof, instinktief verdag. Sulke mense glo dat die idee van buite-bybelse gesaghebbende geloofsbelydenisse die wese aantas van hulle geloof dat die Bybel die unieke openbaring van God is, die volledige en voldoende grond van ons kennis van Hom is, en die oorheersende gesag in geloofsake is.
Geloofsbelydenisse kan sekerlik op ʼn wyse gebruik word wat die ortodokse Protestantse gesigspunt van die Bybel kan ondermyn. Beide die Rooms-Katolieke en Oosterse Ortodokse kerke gee ʼn sodanige gesag aan die verklaring van die institusionele kerk dat dit lyk asof die kerk se geloofsbelydenisse hul gesag aflei van die kerk se goedkeuring, eerder as dat dit ooreenstem met die onderrig van die Skrif. Evangeliesgesindes is reg wanneer hulle enigiets wat na so ʼn houding ruik, probeer vermy. Tog wil ek beweer dat geloofsbelydenisse ʼn nuttige funksie in die lewe van die kerk en in die lewe van individuele gelowiges behoort te vervul.
Eerstens: Christene sonder geloofsbelydenis bestaan eenvoudig nie. Om te verklaar dat iemand “geen geloofsbelydenis behalwe die Bybel” het nie, is ʼn geloofsbelydenis op sigself, want die Bybel druk dit nêrens so uit nie. Dit is ʼn buite-bybelse formulering. In werklikheid is daar slegs twee tipes Christene: dié wat eerlik daaroor is dat hulle ʼn geloofsbelydenis het, en dié wat ontken dat hulle ʼn geloofsbelydenis het (maar nogtans een het). As jy enige Christen vra wat hy glo, en hy daaroor nadink, sal hulle nie bloot bybelse tekste aanhaal nie, maar hulle sal eerder vir jou ʼn opsomming gee van wat hulle sien as die Bybelse onderrig in ʼn stel woorde wat, tot ʼn mindere of meerdere mate, buite-bybels is. Alle Christene het geloofsbelydenisse – ʼn stel woorde - wat kortliks groot bybelse leerstellings omvat. Niemand moet ooit geloofsbelydenisse sien as onafhanklik van die Skrif nie; hulle is geformuleer in die konteks van intensiewe bybelse eksegese, en is afhanklik van God se unieke openbaring in en deur die Skrif.
Gegewe hierdie feit, is die tweede punt dat sommige Christene geloofsbelydenisse het wat oor eeue heen deur die kerk getoets en aangepas is, terwyl ander belydenisse het wat hul leraar opgemaak het, of wat hulle self saamgestel het. Daar is geen rede dat laasgenoemde ondergeskik aan die eerste is nie; maar omdat daar geen rede is om die wiel weer uit te vind nie, is dit onverstandig om ons rug te draai op die gesonde formulerings wat oor honderde jare heen ʼn goeie taak verrig het om alle aspekte van die Christelike geloof uit te druk, en van plek tot plek en van geslag tot geslag oorgedra is nie. As jy byvoorbeeld die Geloofsbelydenis van Nicea wil afwys, mag jy dit natuurlik doen, maar jy sal minstens moet probeer om dit te vervang met ʼn formulering wat net so doeltreffend sal werk vir baie mense oor die volgende 1,500 jaar. As jy dit nie kan doen nie, is die paslike reaksie dus waarskynlik beskeidenheid en dankbaarheid, eerder as om bestaande formulerings aan te val.
Derdens gee die belydenisskrifte van die kerk vir ons ʼn kontinuïteit met die kerk van die verlede. Soos bo genoem, is dit nie nodig om die Christendom elke Sondag te herontwerp nie, en in ʼn teen-geskiedkundige, toekomsgerigte tyd soos ons sʼn, kan ons nie ʼn meer teen-kulturele skuif maak as om ons selfbewus te identifiseer met so baie broers en susters wat ons voorafgegaan het nie. Verder is Protestante verdedigbaar trots op die feit dat elke gelowige die reg het om die Skrif te lees en om direkte toegang tot God in Christus te hê, maar ons moet steeds erken dat die Christendom eerstens ʼn gemeenskaplike godsdiens is. In die geskiedenis het God se werking altyd deur die kerk plaasgevind. Die bydraes van individuele Christene was groot, maar dit is maar min in vergelyking met God se groot werk in en deur die kerk as geheel. Dit is net so waar vir teologie as vir enige ander area. Die insigte van individuele leermeesters en teoloë oor die eeue heen was diepgaande, maar niks kom by die gemeenskaplike wysheid van die godvresendes, tesaam in groot rade en vergaderings in die geskiedenis van die kerk nie.
Dit bring my by die vierde punt: Geloofsbelydenisse fokus gewoonlik op wat beduidend is. Die vroeë belydenisse, soos die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Geloofsbelydenis van Nicea, is baie kompak en handel oor die noodsaaklike. Maar dit geld ook vir die meer omvattende belydenisse, soos die Lutherse Augsburg-geloofsbelydenis of die Westminster Geloofsbelydenis. Inderdaad, as mens na die leerstellinge kyk wat deur hierdie belydenisse gedek word, is dit moeilik om te sien wat uitgelaat kan word sonder om iets sentraal en beduidend weg te laat. Steeds is dit nie volledige stellings van geloof nie, dit is steeds ʼn opsomming van die vernaamste punte. Hulle is besonder bruikbaar.
Om bogenoemde redes behoort Evangeliesgesindes die groot geloofsbelydenisse lief te hê. Tog moet ons dit tenslotte navolg in soverre dit met die Skrif ooreenkom, maar dit sal sekerlik dwaas en dwarstrekkerig wees om een van die hoofmaniere waarop die kerk oor die jare heen met moeite haar geloof oorgedra het, te verwerp.