Bron: Kompas. 5 bladsye.

Die Woord van kansel na kerkbank

preekstoel

Tot watter mate bepaal die gehoor die verkondiging van die evangelie? Moet die Blye Boodskap verskillend verkondig word in ʼn gevestigde gemeente en in ʼn sendinggemeente? Of is die boodskap dieselfde, maar moet net die vorm van verkondiging anders wees? Kan jy enige preek maar oral hou? Prof GH Visscher van die Canadian Reformed Churches (CanRC) het op 8 September 2006 ʼn referaat hieroor gehou op ʼn aand van die Teologiese Kollege van die CanRC. Ons neem dit graag gedeeltelik in ʼn vertaalde vorm oor.

Die Bybelse model🔗

Daar is verskillende benaderings tot prediking, maar ek stel voor om dit te benader op grond van wie die gehoor is. As almal beskou word as verdoem en volhardend in sonde, sal dit ʼn sekere tipe prediking tot gevolg hê. Daarteenoor, as almal as gered beskou word, sal dit weer die inhoud en toon van die prediking bepaal.

Terwyl ek besig was met ʼn studie van die laaste deel van Romeine 4, is ek aangegryp deur die verhaal van Abraham. Hierdie hoofstuk handel oor regverdigmaking deur geloof vir beide Jood en onbesnedene. Paulus meld hier dat Abraham ten volle daarvan oortuig is dat dit wat hy nie kan nie, God wel kan doen. Vir Abraham is geloof ʼn saak van vertroue op die beloftes van God, om te glo in die krag van God om te doen wat hy, Abraham, nie kan doen nie. Paulus sê dat Abraham geweet het dat beide sy liggaam en Sara se moederskoot reeds “verstorwe” was en tog het hy “nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee en was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het. Daarom is dit hom ook tot geregtigheid gereken.” (Romeine 4:20-22).

Dit is dus duidelik dat geloof die beloftes en die krag van God omsluit. Dit is ʼn baie belangrike punt, omdat Abraham, volgens Paulus, die vader is van alle gelowiges, beide Jood en onbesnedene. Die een Woord van God vir alle gelowiges is om “te wandel in die voetstappe van die geloof van ons vader Abraham…” (4:12). Om te lewe in geloof en om God in te sluit in ons hele lewe – dit is waaroor die Christelike lewe gaan. Wat opval by Abraham is dat dit nie hy is nie, maar God wat alles doen. En dit is die punt wat ons moet raaksien. In die briewe van Paulus het ons, na my mening, ʼn model van hoe die predikant sy gemeente moet beskou. Elke erediens moet dus soos ʼn brief van Paulus wees.

Proklamasie🔗

Preke is nie geadresseer aan potensiële lidmate van die gemeente nie. Preke is ook nie net geadresseer aan ʼn deel van die gemeente waarvan ons dink dat hulle glo nie. Dit is ʼn oproep, ʼn proklamasie aan die gemeente wat God as God en Jesus Christus as Redder en Heer, deur die krag van die Heilige Gees, bely. Let op hoe Paulus met die gemeente in Korinthe praat. Ek vermoed dat as enige predikant ʼn gemeente soos die Korinthiërs moes bedien, hy die vraag sou vra: “Glo julle of glo julle nie? Is julle deel van die Christelike gemeenskap of nie?” Ons sou hulle oproep tot geloof en bekering!

voetstappe

Maar dit is opvallend dat dit nie Paulus se benadering is nie. Hy begin hierdie brief, hoofstuk 1, as volg: “Ek dank my God altyd oor julle vir…” (1:4). En op ʼn pastorale wyse dring hy daarop aan dat daar ʼn einde moet kom aan verdeeldheid (hfst. 1), dat die geharde sondaar uitgedryf moet word (hfst. 5), dat verskille intern besleg moet word (hfst.6), ens. Hierdie is ʼn patroon wat sigbaar is deur al sy briewe. Die aangryping van positiewe dinge, die waardering dat hulle ʼn nuwe liggaam is in Jesus Christus en die erkenning van die teenwoordigheid van die Gees, wat voortgaan met die vernuwing van die gemeentes en van almal wat glo. Hy is voortdurend besig met die vraag: wat beteken dit om aan hierdie familie te behoort? Hoe lyk die familielede? Hy is besig met die vraag: leef ons uit Christus Jesus? Deur die krag van die Heilige Gees? En hoekom volg Paulus hierdie benadering? Omdat hy hulle werklik sien in Christus en as die gemeente van Christus.

Wysheid van God🔗

Hier kan ons dink aan die woorde van Paulus in 1 Korinthiërs 1:30, waar hy praat van ons Here Jesus Christus “wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing”. In plaas daarvan dat hy hulle berispe oor hul gebrek aan geloof, probeer Paulus hulle oortuig dat, ten spyte van hul eenvoudige roeping (vs. 26), hulle reeds ware wysheid in Christus besit. Hy definieer die wysheid in terme van geregtigheid, heiligmaking en verlossing. Dit is nie die ouderdom of kreatiwiteit van mense wat wysheid bepaal nie. Dit is ook nie Paulus se eie welsprekendheid wat hulle wys sal maak nie. Wysheid is die werk van God in Christus.

Paulus gebruik hierdie drie metafore om te probeer verduidelik wat die diepte en breedte is van God se kinders, in Jesus Christus. Hulle regverdigheid is deur geloof in Christus. Hulle verlossing is deur die een Saligmaker, Jesus Christus. Maar ook hulle heiligmaking, waar dit lyk asof Paulus veral hulle staat van heiligheid bedoel, d.w.s. hulle nuwe status as geheiligde gelowiges, as heilige gemeente. Net soos Israel word die nuwe volk van God afgesonder in Christus en opgeroep om daagliks ʼn nuwe lewe te lei totdat dit volmaak sal word op die dag van die wederkoms.

Dit kan duidelik gesien word in 1 Korinthiërs 6, waar Paulus die Korinthiërs herinner aan hulle vorige lewe as hoereerders, afgodedienaars, egbrekers, ens.:

En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, julle is geheilig, julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.1 Korinthiërs 6:11

Juis omdat dit alles van God is in Christus deur die Heilige Gees, huiwer Paulus nie om te suggereer dat hulle geloof nie genoeg is of dat hulle status bevraagteken kan word nie, maar hy moedig hulle voortdurend aan om deur die Heilige Gees te wees wat hulle in Christus is.

Dit word voortdurend herhaal: die bevelende taalvorm is gebaseer op die aanwysende taalvorm. Juis omdat hulle in Christus is, moet hulle ʼn lewe in Christus lei. Juis omdat hulle heilig is, moet hulle heilig wees. Juis omdat hulle verlos is van sonde, moet hulle nie meer die sonde oor hulle laat heers nie. As Paulus die volk van God in Romeine 6 so nadruklik vertel dat hulle hulself dood vir die sonde en lewend tot God in Jesus Christus moet beskou, moet die prediker hulle dan nie help om ook uit hierdie wonderlike realiteit te leef nie?

Regverdigheid🔗

Wat in gedagte gehou moet word, is dat nog nie alles gesê en gedoen is as ons tot geloof gekom het, of dat dit op ʼn manier bewys kan word dat ons die ware geloof het nie. Alhoewel ons natuurlik hierdie verwerfde regverdigheid van ons Here Jesus Christus benodig, werk Hy, wat ons wysheid, regverdigheid en heiligheid is, voortdurend in ons deur sy Gees. Op hierdie manier word ons veranderde, hernude mense, wat ook die vereistes van die wet vervul (Sondag 32). Dit is opvallend dat dwarsdeur die boek Korinthiërs die oplossing vir elke probleem of uitdaging wat die gemeente ondervind, gevind word deur die ondersoek na wat dit beteken om in Christus te wees en om voort te gaan om hernuwe te word deur die werk van die Gees van Christus. In hoofstuk 2 lees ons dat die prediking nie net oorredende woorde van menslike wysheid is nie, maar ʼn vertoning van die krag van die Gees.

regsaak

En in die hoofstukke wat hierna volg, word dit prakties toegepas: die verdeeldheid in die kerk is afkeurenswaardig, want Christus word verdeel (1:13) en die tempel van die Heilige Gees word vernietig (3:16, 17). Die sedelose man van hoofstuk 5 moet uitgeban word, want hulle is werklik die gemeente van Christus. Regsake moet ook nie tussen gemeentelede voorkom nie, want in Christus is hulle die heiliges wat eendag die wêreld sal oordeel (6:2). Seksuele immoraliteit is ontoelaatbaar, juis omdat hul liggame “lede van Christus” (6:15) en “tempels van die Heilige Gees” (6:19) is. Vraagstukke oor die huwelik en ongetroudes word behandel aan die hand daarvan dat hierdie persone almal aan die Here behoort (7:17, 32, 33, 39).

Elke prediker sal daarby baat vind om die briewe van Paulus (of ander Nuwe Testamentiese skrywers) te lees en daaroor te besin of hulle wel die gemeente so aanspreek. Dit is wel waar dat dit briewe is en nie preke nie, maar diegene wat hulle noukeurig lees, sal geen twyfel daaroor hê nie dat Paulus die gemeente ook so in die prediking sou aangespreek het. Die beginsels is dieselfde. Hulle is nie net in Adam nie, hulle is ook in Christus.

Hulle het alles in Christus. Dus: seëninge en groei en sterkte sal na hulle kom, nie deur menslike welsprekendheid, nie deur die krag of die slinksheid van mense nie, maar in Christus, deur die teenwoordigheid en krag van die Gees.

Daar is ʼn geweldige dinamika omtrent die lewe in Christus deur die Gees, wat vir ons dikwels moeilik aanvaarbaar is. Maar juis omdat die Here Jesus Christus en die Heilige Gees persone is wat in ons leef (1 Korinthiërs 3; Romeine 8:23), wat treur (Efésiërs 4:30) en wat uitgeblus kan word (1 Thessalonicense 5:19), moet die persoon wat in Christus is, herinner word aan die uitdagings van hierdie dinamiese verhouding.

Die boek Handelinge🔗

ʼn Mens kan dit wat Paulus in sy briewe skryf, vergelyk met dit wat hy in Handelinge verkondig. Hy is altyd wat beskryf kan word as “gehoorsensitief”. En so moet ʼn predikant ook “gehoorsensitief” wees. Die gemeente van Christus kan nie op dieselfde wyse toegespreek word as ʼn samekoms van mense wat geïnteresseerd is, maar (nog) nie glo nie. Selfs in ʼn byeenkoms waar beide groepe teenwoordig is, kan ʼn prediker nie so te sê dieselfde “kwas” gebruik en hulle in dieselfde terme toespreek nie.

Om dit duidelik te stel: om herhaaldelik op ʼn Sondag die kerk te verlaat en te wonder of ek op die rand van ongeloof leef oor dit wat ek in myself sien, is ʼn ontmoedigende manier van leef. Maar om die gebou te verlaat met die vaste oortuiging dat God ons in Christus liefhet en om uitgedaag te voel om te leef in Christus deur die Gees van God, dit is opheffend en behaaglik. Dit is wat ons nodig het, en ek is daarvan oortuig dat dit ook Paulus se manier van prediking was.

Opheffend en behaaglik🔗

Ons kan ook verwys na die Dordtse Leerreëls, hoofstuk 2, art. 5. Hier word nie gesê dat dit die oproep tot geloof en bekering is wat die fokus van die prediking moet wees nie, maar dit is die belofte van die evangelie wat verkondig moet word. Die belofte van die evangelie is dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie sal vergaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Hierdie belofte moet universeel en sonder onderskeiding verkondig word aan alle volke en mense aan wie God, in sy groot genade, die evangelie stuur, tesame met die opdrag tot geloof en bekering. En hierdie belofte sluit ook die kragtige werk van die Gees in; Hy gee alles wat ons nodig het om te glo en in geloof te wandel. Dit is die belofte van die evangelie wat verkondig en aangegryp moet word: en dit herinner weer aan die tema in Romeine 4 – Abraham wat aan die belofte van God vasgehou het. Die God wat kan en wil doen wat Abraham nie kon doen nie (4:13, 14, 16 en 20)!

jong mense🔗

Kinders ook🔗

Ons kinders en jeug word hierby nie uitgesluit nie. Alhoewel hulle beslis daaraan herinner moet word om in geloof te wandel en die beloftes van God aan te gryp, besef Paulus dat hulle die saligmaking, die staat van heiligheid in Christus, besit (1 Korinthiërs 7); en in Efésiërs 6:1 en 4 spreek hy hulle ook toe as lede van die gemeente. Verbondskinders is nie in die gemeenskap omdat hulle glo nie, maar juis omdat hulle deel is, moet hulle glo en tot volwassenheid groei in Christus deur die krag van sy Gees. Daar is niks outomaties hieromtrent nie. Vir kinders, vir tienderjariges en vir volwassenes, word geloof en bekering daagliks benodig.

Dwarsdeur al hierdie dinge moet ons altyd die woorde van die doopformulier onthou:

Net soos ons kinders, sonder dat hulle dit weet, aan die verdoemenis in Adam deel het, so word hulle, sonder dat hulle dit weet, weer in Christus tot genade aangeneem.

Ons vertrou ook dat, soos hulle volwasse raak, daar gesprekke sal wees oor geloof en waar hulle tuishoort. Dit is egter nie omdat hulle buite staan nie, maar juis omdat hulle deel is van die gesin van Christus, en sy Gees net so veel aan hulle beloof word as aan die volwassenes (Sondag 27, antw. 74). Weer eens het dit te doen met die belofte. En die belofte handel nie net oor die toekoms nie: dit dring die teenwoordige tyd binne en beloof ook aan hulle krag en seën as hulle wandel in die paaie van geloof.

Heilshistories🔗

Hierdie, so lyk dit, is ʼn betekenisvolle oplossing vir die heilshistoriese vraag. Dit is dikwels moeilik om te weet wat die regte heilshistoriese benadering in ʼn preek is. ʼn Teks sê mos self alles? Maar wat ook al die Skrifgedeelte is wat bespreek word, die predikant praat nie met die Israeliete uit die dae van Dawid nie (en ook nie met die Filistyne uit die dae van Dawid nie!) of met die Jode in die dae van Jesus nie. Hy praat met ʼn gemeente wat gekoop is met die bloed van Jesus Christus en wat vandag probleme ondervind om eer aan God te gee.

Dit is ʼn stewige dosis antimoralisme. Moralistiese Woordverkondiging sal mense sonder twyfel beter laat optree. Alle etiese onderwysings, alle bevordering van godsdienstige waardes, of dit nou Christelik of Boeddhisties is, sal waarskynlik ʼn positiewe invloed hê. Maar dit is slegs die Here Jesus Christus en die Gees van God wat verharde harte kan sag maak en hardkoppige sondaars kan verander in nuwe skepsels wat toegewy is aan God en sy glorie. Moralistiese prediking sal slegte mense beter maak, maar die regte Woordverkondiging in die sterkte van Christus en sy Gees maak dooie mense lewend en ou mense nuut!

Dit lyk vir my die antwoord op die aanklag is dat ons prediking te objektief is, dat ons die brein aanspreek en nie die hart nie. Hierdie aanklag is nie heeltemal ongegrond nie. Na aanleiding van wat Paulus sê, moet ons nie net akademiese lesings gee wat beoordeel gaan word op grond van hoeveel interessante insigte dit bevat nie. Kragtige prediking geskied net as ʼn Geesvervulde man van God op ʼn duidelike en aangrypende wyse God se Geesgeïnspireerde openbaring in die Skrifte aan ʼn Geesverligte gemeente uitlê. En dit is “bevindelik” in die goeie betekenis van die woord – dit dring ons harte binne en in die wonderlike realiteit van God en sy Gees wat in ons woon en daag ons uit om te wees wat ons in Christus is, alleen uit genade.

Dr C Trimp verwys na dr H Bavinck om die punt te maak dat ons nie ons geloof op eie ervarings moet fundeer nie, aangesien ons innerlike lewe, aan hierdie kant van die graf, altyd onvolmaak sal wees. Dr Trimp skryf as volg:

In geeneen van die twaalf artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis is ek in staat om ‘ek glo’ te vervang met ‘ek ervaar’ nie. Ervarings het die reg om te bestaan en kan nie losgemaak word van godvresendheid nie. Daar kan baie voorbeelde in die Bybel gevind word, veral in die Psalms, waar gevoelens beskryf word soos hulle werklik moet wees.

Bavinck voeg hieraan toe dat dit egter altyd die Woord van God is wat hierdie geloofservarings teweegbring. Hierdie ervarings gaan nooit geloof vooruit nie, maar vergesel en volg dit. Dit kan ook nooit die fondament vir geloof wees nie.

Ondersoek jouself🔗

Paulus roep die gemeente in 2 Korinthiërs 13 op om hulself te ondersoek. Dit is nie ʼn oproep om te soek vir sekerheid van geloof in ervarings nie, maar ʼn oproep om ons hart en lewe te ondersoek om te sien of ons enige bewys kan vind van hierdie Christus en sy Gees wat in ons woon. Weerklink die evangelie in ons? Maak dit enige verskil aan ons lewens? Dink jou in dat daar ʼn gas in jou huis is en jy skenk geen aandag aan hom nie.

Uiteindelik sal hy die deur vind en weggaan. Ons het ook geëerde gaste wat in ons woon. Bring dit nie geweldige uitdagings mee nie? Maar as ons hulle ignoreer, wat sal die gevolg wees?

Ons kan dus sien dat ons stryd as Christen nie soseer daaroor gaan dat ons nie glo nie. Die vraag is: hoe lyk hierdie geloof? Hoe leef ek met hierdie geëerde gaste in my? Wat is die daaglikse uitdagings en gevolge van ons wonderlike posisie in Christus? Dit is waar die kansel telkens weer die kerkbank te hulp moet kom.

Mag die Here almal seën wat deur Hom geroep is tot hierdie geweldige taak.