Bron: Die Kerkblad, 2009. 3 bladsye.

Die Woord op Skrif Oor die Waarde van die Bybel en Bybelvertaling

verskillende Bybelvertalings🔗

Geen Onbekende God nie🔗

“Aan ’n onbekende god,” het die Ateners van ouds op een van hulle altare geskryf (Hand 17:23). Nie omdat God werklik onbekend is nie. Van die begin af het Hy Homself immers bekendgemaak deur dit wat Hy doen ­deur sy werke in die skepping (Rom 1:19). Maar tog het die Ateners Hom nie geken nie, want, soos alle mense, was hulle deur sonde verblind. Vir hulle was die enigste ware God, wat deur sy werke lewend en kragtig voor hulle afgeteken staan, ’n onbekende god.

Hulle het God nie geken nie. Maar in sy genade het God hulle onkunde oorgesien en Homself nog verder aan hulle bekendgemaak. Wat Hy gedoen het, is dat Hy sy dienaar Paulus gestuur het om sy Woord aan hulle te bring. Die waarheid wat hulle nie wou insien nie, moes hulle nou ondubbelsinnig hoor: God is nie ’n veraf, onbekende God nie. Nee, Hy is die lewende God, in Wie ons ook lewe (Hand 17:23-29).

Watter wonder! Watter genade! God stuur sy Woord sodat mense nie in hulle onkunde verlore sal gaan nie, maar Hom kan ken soos hulle Hom van die begin af moes geken het; en sodat hulle Hom daarom sal eer met die eer wat Hom toekom en sal dien met die gehoorsaam­heid wat aan Hom as Here verskuldig is (Hand 17:30). So het God sy Woord deur Paulus na die Ateners toe gestuur, en na die Korinthiërs en die Filippense, en na baie ander begenadigde mense van daardie tyd. Desge­lyks het ook baie ander mense op ander plekke en tye, in die Ou en die Nuwe Testament, die Here se Woord gehoor wat apostels en profete in opdrag van die Here aan hulle gebring het.

God maak Homself ook op Skrif Bekend🔗

En nou, bý dié wonder nog ’n verdere wonder: God het aan die apostels en profete opdrag gegee om die woorde wat Hy hulle gegee het, nie net uit te spreek nie, maar dit ook neer te skryf. Aan die apostel Johannes het Hy gesê (Openb 1:19): “Skryf die dinge op wat jy gesien het, wat is sowel as wat gaan gebeur.” Reeds in die Ou Testament het Hy vir Jesaja gesê (30:8): “Skryf dit (d.i. my woorde) op in ’n boek, dat dit kan bly vir later dae, vir altyd, tot in ewigheid.”

Vir altyd, tot in ewigheid. God het sy Woord op skrif laat stel sodat dit beskikbaar kan bly vir die mensegeslagte wat sou volg, deur die eeue. So het dit gekom dat ons vandag steeds God se Woord op skrif het. Dit is die 39 boeke van die Ou Testament en die 27 boeke van die Nuwe Testament saam één Boek: die Bybel.

Hierdie Boek bevat meer as net geskrewe geskiedenis. Dit leer ons nie net van die dinge wat God in die verlede gedoen en gesê het nie. Nee, elke keer as ons die Bybel oopmaak en dit lees, hoor ons daarin die stem van God wat met ons praat. “Die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard,” sê Hebreërs 4:12. Hy is nie net die God van die verre verlede nie, maar Hy is ook die Here en God oor ons lewens hier en nou. Hy regeer in ewigheid oor alles en almal. Hy is die Koning voor Wie ons in dankbare gehoorsaamheid moet buig en wat ons met hart en siel en verstand moet liefhê en eer.

Satevertaling

In die Bybel Leer God ons om Onsself te ken🔗

Verder het God die Bybel gegee sodat ons daarin die waarheid oor onsself kan leer ken. Van nature is die mens immers nie in staat om homself te sien soos hy is nie. In ons eie oë is ons foutloos. Die fout lê altyd el­ders, by ander! En solank ons vir ons eie foute en vir ons eie sonde blind is, stap ons ook blindelings aan na die afgrond van die verdoemenis. Wie nie sy eie sonde en ellende besef nie, besef ook nie dat hy verlossing nodig het nie, bely ons in Sondag 1 van die Kategismus. Maar in sy grote genade maak God in sy Woord die waarheid oor ons eie sonde aan ons bekend. Hebreërs 4:12 sê: “Die woord van God dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.”

Maar, dank die Here, in sy Woord maak die Here nie net ons oë oop om ons eie sonde raak te sien nie. Hy maak ons oë ook oop vir sy genade. Sy Woord het Hy immers ook vir ons laat opteken as ’n Verbondsboek. Hy maak daarin aan die gelowiges bekend dat Hy ons van die begin af uitverkies het tot die saligheid. Nog voor ons geboorte het Hy ons lewensdae opgeskrywe (Ps 139:16). En Hy roep ons elkeen tot die heerlikheid wat Jesus Christus aan die kruis vir ons verwerf het (2 Tess 2:14).

In ’n artikel in Die Kerkblad van 16 Augustus 1933 vat Totius dit alles pragtig saam: “Die Bybel bring ons vanaf die paradyspoort tot by die poorte van die Nuwe Jerusa­lem, die evangelie, die blye boodskap tot saligheid wat God gestuur het. Die Bybel is vir ons die Godsopenbaring wat ons leer hoe om God te dien en te eer en hoe om die pad deur die woestyn na die ewige lewe te vind. Anders was ons totaal verdwaald en verlore, en het geen mens op aarde raad geweet nie.”

Die Bybel in Afrikaans🔗

In die Bybel klink die blye evangelie deur die eeue op vir elke geslag, elke volk en nasie op om te hoor. Sodat almal hierdie evangelie reg kan verstaan en dit in die geloof kan omhels, moet hulle dit in hulle eie taal hoor. Hiervan was die talewonder by die uitstorting van die Heilige Gees ’n duidelike aanduiding, sodat al die om­standers daardie dag met verbasing uitgeroep het (Hand 2:11): “Ons hoor hulle dan in ons eie taal oor die groot dade van God praat!”

In ons eie taal. Hierdie wonder het nog verder gereik. Die apostels en die profete het die Bybel in die tale van hulle tyd neergeskryf: die Ou Testament in Hebreeus en Aramees, en die Nuwe Testament in Grieks. Daar was egter baie mense wat hierdie tale nie goed geken het nie. Dit het beteken dat die Bybel kort voor lank in ander tale vertaal moes word, in tale soos Latyn, Siries en Kopties. Vandag is daardie ou vertalings aan ons bekend deur heelwat ou manuskripte wat bewaar gebly het. Met die jare het al meer vertalings nodig geword, sodat die Bybel vandag al in letterlik duisende verskillende tale vertaal is. Ook in Afrikaans.

Die eerste geslaagde Afrikaanse vertaling van die Bybel het in 1933 verskyn. Soos die meeste vertalings van daardie tyd, was dit ’n vertaling wat probeer het om die presiese bewoording van die oorspronklike tale so na as moontlik in Afrikaans na te volg. Dit is in 1953 taalkundig hersien, en staan vandag bekend as die 1933/53-ver­taling, hoewel baie mense daarna verwys as die “ou vertaling”. As ’n mens egter op die geskiedenis terugkyk, sien jy dat die 1933/53-vertaling glad nie so “oud” is as wat dit voel nie. Vir die eerste 75 jaar van die Gerefor­meerde Kerke in Suid-Afrika – van 1859 tot 1933 ­was die Nederlandse Statevertaling maar die Bybel waaruit in die kerke gelees en gepreek is. Dit is eers maar vir die laaste 75 jaar so op die halfpadmerk van ons bestaansgeskiedenis – dat ons met ’n Afrikaanse vertaling, dié van 1933/53, die pad saam loop.

Die tweede Afrikaanse vertaling van die Bybel het in 1983 verskyn. Anders as die 1933/53-vertaling, was die 1983-vertaling nie soseer daarop ingestel om die presiese be­woording van die oorspronklike teks te behou nie, maar eerder om die betekenis daarvan duidelik in Afrikaans oor te dra. In 2004 het die kerke in samewerking met die Bybelgenootskap besluit om ’n derde Afrikaanse ver­taling van die Bybel aan te pak. Hierdie nuwe vertaling is weer, soos die 1933/53-vertaling, daarop gemik om die manier waarop dinge in die oorspronklike tale gestel is, in Afrikaans weer te gee. Die vertaling word beplan om teen 2013 voltooi te word.

Afrikaanse Bybel

Watter wonderlike skat het ons nie in die Afrikaanse verta­ling ontvang nie! Om die groot dade van God in Afri­kaans aan te hoor, dra die wonder van Pinkster ook in ons harte in. Om God in ons eie taal met ons te hoor praat, is om die warmte van sy liefde en sy nabyheid persoonlik te beleef. In ons eie taal is die snykante van die swaard des te skerper, sodat die Gees daarmee nog kragtiger tot in ons diepste wese kan deurdring. Kortom: Met sy Woord in ons eie taal is God nie vir ons ’n onbe­kende God nie, maar die God wat in die geloof kan omhels as ons Here en ons God.

Nie net vir die persoonlike geloof nie, maar ook vir die bestaan van die kerk, is dit van onbeskryflike belang om God se Woord in ons eie taal te hê. Van die Reformasie af dra ons immers die oortuiging met ons saam dat die manier waarop die kerke ingerig word, van begin tot einde moet berus op dit wat God in sy Woord aan ons leer. Dit geld ook vir die eredienste, die sakramente, die tug en die kerklike regering oor die algemeen. Ons kan sê dat die geskiedenis van die Gereformeerde Kerke oor die afgelope 150 jaar ’n geskiedenis was van worsteling van gelowiges wat vanuit hulle menslike swakheid in die krag van die geloof probeer het om in hulle kerkwees getrou te bly aan dit wat die Here in sy Woord aan ons leer, sy Naam ter eer.

En nou, die Pad Vorentoe Saam met die Woord🔗

Met hierdie selfde strewe en vertroue kan ons as Gerefor­meerde Kerke die volgende skof van ons bestaansgeskie­denis hier in Suid-Afrika aanpak. Ons God is geen onbe­kende God nie. Hy is ons God wat helder, duidelik en verstaanbaar met ons praat in sy Woord. Sy Woord het Hy ook aan ons in ons eie taal gegee. Eersdaags het ons dit ook in ’n derde Afrikaanse vertaling. Ons roeping en taak is om te hou by sy Woord en die waarheid daarvan te erken en te bely.

Om so aan die Bybel as God se ewige, onveranderlike Woord vas te hou, gaan in die komende jare buitenge­wone toewyding van ons verg. Die tydsgees waarmee ons te doen het, eis immers 'n ander siening van de Bybel. Die postmodernisme propageer die beskouing dat die Bybel (en alle ander geskrifte) geen vaste, onveran­derlike betekenis het nie. Hiervolgens berus elkeen se verstaan van die Bybel maar net op eie insigte en is dit onmoontlik om in die Bybel te verneem wat God sê. In sy uiterste vorm gaan die postmodernisme nog verder as dit. Maar vir die doeleindes van hierdie artikel is dit genoeg om te sê dat die gees van ons tyd daarop gemik is om God die swye te probeer op lê.

Daarom rus daar op die huidige en komende geslag van Gereformeerdes ’n dure plig nog meer as tevore – om die waarheid en gesag van God se Woord te handhaaf en te verkondig. En dit kan ons alleen doen solank ons self vanuit die krag van die Here se Woord leef en Hom daaruit as ons persoonlike God en Here ken en bely.

Met sy Woord en Gees in ons kan ons optree, soos Paulus aan Timótheüs skrywe (1 Tim 3:15), as gemeente van die lewende God en as ’n pilaar en grondslag van die waarheid. Dit kan ons alleen doen as die woorde van Psalm 119:19 (berym) in ons harte lewe:

HEER, U is my deel op aarde,
en U woord is my die skat
wat U aan my toebetrou het
op die lange pelgrimspad.