Die wil van God se bevel en die wil van God se besluit
Die wil van God se bevel en die wil van God se besluit
Ons het die waarheid dat God net een wil met betrekking tot saligmaking en verdoemenis het. Hy kan nie (in die evangelie) die saligheid van die mens wil én (in sy predestinasie) dit nie wil nie.
Tog kan daar in die sprake oor die wil van God, ʼn wettige onderskeid gemaak word. Die Skrif gebruik die woord wil nie alleen om na God se besluite te verwys nie, maar ook na sy bevele. Hoewel in ʼn ander sin, is sy bevele ook sy wil vir ons lewe. In sy besluite wil God bepaalde dinge vir ons lewe in dié sin dat Hy vrymagtig bepaal. In sy wet wil Hy ook sekere dinge vir ons, maar dan in die sin dat Hy hulle beveel. In Efesiërs 1:5 word gepraat van die wil van sy besluit, in Matthéüs 7:21 van die wil van sy bevel. God se besluite is wat Hy Hom voorneem om te doen, sy bevele openbaar wat die mens behoort te doen. Die wil van sy besluit sluit alles in wat God voorverordineer het en wat ooit sal gebeur. Die wil van God se bevel openbaar wat die mens behoort te doen en te wees.
Hierdie onderskeid word soms gebruik ter verdediging van die gedagte dat God twee teenstrydige wille het: dat hy beveel (wil) dat almal wat die evangelie hoor in Jesus Christus moet glo, terwyl Hy besluit (gewil) het dat sommige nie sal glo nie. Ons glo dat dit ʼn blote spel met woorde is, want alhoewel die woord wil in albei gevalle gebruik word, is bevel en besluit twee verskillende dinge. In die geval van sy besluit verwys die woord wil na wat God in ewigheid verordineer het. In die geval van sy bevel verwys die woord na wat vir Hom welgevallig is. Dié twee dinge is nie dieselfde nie, maar daar is ook geen teenstrydigheid tussen hulle nie. Dit mog waar wees dat God beveel wat Hy nie besluit het nie, maar ook dan is daar geen konflik nie. Waarom nie? Omdat bevel nie ʼn leë woord is nie, maar iets wat God gebruik om sy besluit te vervul.
Om dit duideliker te stel: Wanneer God iemand beveel om te glo, word daardie persoon onweerstaanbaar in saligmakende geloof deur die bevel na Christus getrek (Joh. 6:44), óf dit verhard hom in sy ongeloof (Rom. 9:18; 2 Kor. 2:15, 16) en word daardeur wat God besluit het, vervul. Daar bestaan hoegenaamd nie ʼn teenstrydigheid nie.
Daar is ook geen teenstrydigheid in die praktyk nie. Wanneer ons met die eise van die evangelie gekonfronteer word, is dit vir ons net nodig om te weet dat God van ons geloof eis. Ons moet glo of verlore gaan. Wat Hy besluit gaan ons nie aan en mag ons nie aangaan wanneer ons sy regverdige bevele betrag nie. Ons leef na sy bevel, nie na sy besluit nie.
Wanneer ons na troos en versekering soek, gaan God se besluit ons nie aan nie. Dan moet ons besef dat geloof en gehoorsaamheid die vrug van God se besluit van uitverkiesing is, en geloof, bekering en heiligheid die bewys van ons verkiesing.