Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Die waarheid nuut interpreteer?

“Wat beteken dit om Gereformeerd te wees?" - dit is die vraag wat gedurende die afgelope jare (veral sedert 1994) in alle dringendheid deur meerdere kerkverbande, predikante en kerklidmate gevra word. Ook onder predikante en lidmate wat ons as "verontrustes" sou wou beskryf in kerkverbande wat hoe langer hoe meer die weg van God se Woord verlaat. Maar ook by hulle wat tevrede en gemaklik voel in ’n kerkverband waar geloofsoortuigings van uiteenlopende en weersprekende aard, gehandhaaf word. Opmerklik genoeg word juis die naam "Gereformeerd" met vrymoedigheid aangeneem deur húlle wat alles teëstaan en weerspreek wat histories as gereformeerd geken en geglo is.

Identiteit🔗

Reeds in April 2002 verwoord die moderatuur van die sinode van die N.G. Kerk Wes- en Suid-Kaap die soeke na identiteit binne die NG Kerk in ‘n herderlike skrywe. Volgens die moderatuurslede, en ons het geen rede om hulle hierin te betwyfel nie, word daar oor die kwessie van identiteit binne die N.G. Kerk baie gepraat en geskryf. In 2004 duur hierdie soeke voort. Saam met die besinning oor die karakter van die erediens, is dit die "nommer een kwessie". Erediens en identiteit het natuurlik alles met mekaar te doen en daarom is ons in elk geval saam met hulle oortuig van die belang van die onderwerp.

Slegte teken?🔗

Is dit ’n slegte teken dat mense besin oor hulle kerklike identiteit? Nee, veral nie as dit gebeur vanuit ’n posisie van vertroue en bestendigheid nie. Besinning is ook altyd nodig om verantwoording af te lê teenoor ander oor die sekere hoop wat daar in ons is. Die kerke in Suid-Afrika (en veral die NG Kerk) het die afgelope 10 jaar ’n oorgangsfase beleef en dit gee – volgens sommige - aan die kerk kans om die eie identiteit te herontdek en te herformuleer met die oog op die uitdagings wat wag. Hierdie herontdekking is volgens sommige nodig om die huidige onsekerhede oor wat die gereformeerde identiteit is, weg te neem.

Altyd reformeer🔗

Volgens sommige kerkleiers is dit nou die tyd vir die kerk om sy gereformeerde identiteit duidelik te herbevestig as vertrekpunt van kerklike nadenke. Volgens dr. Coenie Burger is juis die gereformeerde geloof by uitstek geskik vir die soort proses waarin die NG Kerk hom tans bevind binne die breëre kerklike toneel in Suid-Afrika. (2001. Ons weet aan wie ons behoort. Lux Verbi) En waarom dan juis? Want Gereformeerdes het nooit aangekom of klaar gedink oor die waarheid nie - ons moet altyd bereid wees om weer te leer, weer te dink en te bly reformeer.(vgl. p. 23). Die geloofshouding van die ware gereformeerdes word verwoord in die spreuk "altyd reformeer" (semper reformanda) wat gedurig weer die gelowige oproep tot ’n bly by die waarheid en bekering tot die waarheid wat ons ken in Christus. Nou dreig daar ’n gevaar: om die waarheid self as veranderbaar voor te stel. Nee, nie die waarheid moet verander nie, maar die gelowige en /of die ongelowige. Van ons word elke keer opnuut geloof en bekering gevra en nié die verantwoordelikheid om die waarheid nuut te verwoord nie. Ons moet deur dieselfde waarheid wel nuut gemaak word en daarom moet óns altyd reformeer. Nie die waarheid nie.

Waarheid met ’n oop einde?🔗

Beteken dit alles dat die waarheid ’n oop einde het? Kan die "altyd reformeer" (semper reformanda) van die gereformeerde geloof regstreeks betrek word op die waarheid wat geherinterpreteer moet word? Indien dít die geval is, is dit nie meer die gereformeerde teologie of geloof nie, maar juis presies sy teenoorgestelde, nl. die mens wat ’n waarheid vir homself geword het. In die woorde van die herderlike skrywe van April 2002 : "Ons glo dat ons ’n lewende God dien wat ons in ’n nuwe situasie sy Woord nuut laat lees en ons kan help om ou waarhede op ’n nuwe manier te ontdek en op ’n vars manier verwoord". Sou dit beteken dat gereformeerdheid ’n keuse vir ’n waarheid met ’n oop einde is? Dit het met gereformeerdheid/christelikheid niks meer te doen nie.

Hier staan ek, ek kan nie anders nie ; so help my God!🔗

Op allerlei terreine word daar gevra na die identiteit van die ware gereformeerdheid in Suid-Afrika. Dit is ’n mooi ontwikkeling. Laat ons aktief hierin meeleef. Laat ons bemoedig word om te bly in die waarheid wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Hierdie waarheid is nie soek nie. Die sondaars is soek. Weg van die waarheid en daarom in die duisternis oor hulle identiteit. Ons wil almal aanmoedig om nie die waarheid nuut te probeer maak nie. Die waarheid hoef nie gereformeer te word nie. Die mens wel! En laat ons almal gedurig maar weer reformeer (bekeer) tot die waarheid in Christus Jesus.

Daar is niks in die waarheid wat ons hoef te herroep nie. Van Luther is op die Ryksdag van Worms ook gevra om in ’n nuwe konteks sy waarheid te herroep en dit te laat met ’n "oop einde". Hy antwoord egter : 'As ek …sou herroep, moet ek my skaam, want ek sou die deur oopmaak vir nog meer tirannie en goddeloosheid…wanneer ek nie oortuig word deur die getuienis van die Skrif nie…herroep ek niks nie, want dit is gevaarlik en onjuis om iets teen die gewete te doen…God help my, amen. Hier staan ek, ek kan nie anders nie". Wát van die waarheid wat ons bely, moet ons op ’n nuwe manier ontdek en op ’n vars manier verwoord? Laat ons dit maar eers hoor vanuit die Skrif. Na die Skrif wil ons altyd weer luister. Nie na goedkoop slagspreuke dat die waarheid op ’n nuwe manier ontdek moet word nie. Na die Skrif luister ons graag as mense wat reeds gekom het tot die kennis van die waarheid. As kinders van ons hemelse Vader na wie se stem ons graag luister om die dieptes en hoogte van sy liefde vir ons beter te leer ken. Sodat ons, ons altyd weer tot Hom kan keer uit genade.