Die Vloek van Antisemitisme
Die Vloek van Antisemitisme
Oor hierdie verskynsel wat sedert onlangs weer telkens gesien word, skryf prof. W van ‘t Spyker in De Wekker van 18 Mei 1990 die volgende:
Presies ’n halwe eeu na die Tweede Wêreldoorlog steek antisemitisme weer sy kop uit oral in die Westerse wêreld. Dit is daar in die Sowjetunie, dit was reeds daar in Oos- en Wes-Duitsland. En nou kom dit op ’n Iasterlike wyse uit die nag in Frankryk te voorskyn, waar grafte van Joodse mense geskend word en winkels behang word met hakekruise. Op die dag waarop Rotterdam die verskriklike bombardement van 50 jaar gelede herdenk, het duisende in Frankryk opgestaan om te protesteer teen dié monster wat springlewendig en lewenskragtig soos nooit tevore nie, die kloue uitsteek.
Is antisemitisme die vrug van weelde en oordaad, wat in die gemeenskap so duidelik aanwesig is, maar tog vir so baie onbereikbaar is? Of is dit ’n probleem wat saamgaan met die krisis in die Westerse kultuur, ’n teken van nog groter rampe wat ons te wagte kan wees? Is dit ten diepste, soos al dikwels gesê is, ’n religieuse verskynsel, waarin religie hom verset teen religie, die mens teenoor die goddelike verkiesing stel en só aan die ergernis oor die genade uiting gee?
Hoe taai moet die antisemitisme wees, dat dit na soveel inligting oor die verskrikkinge van die oorlog, die gaskamers loën en as Joodse propaganda afmaak? Hoe ongeneeslik moet dit wees, dat dit na soveel lange eeue waarin die Jode vervolg is, nog steeds haat spuug en slagoffers soek?
Antisemitisme is Antichristelik⤒🔗
Vir jare lank is antisemitisme beskou as die wrange vrug van Christenhaat teen die vervolgers van hul Heiland. Dit sou die uitvloeisel gewees het, deur die eeue heen, van die volksverklaring – gevoed deur die kerk – van die teks: “Sy bloed kom oor ons en oor ons kinders.” Die feitelikheid van dié bewering kan nie ontken word nie – die juistheid daarvan nog minder. In elk geval, in soverre mens die Christenheid as sodanig aanspreek oor dié kwaad.
Hoe Christelik was die Weste gewees? Hoeveel heidendom het verskuil gebly agter ’n Christelike maskerade, wat slegs moes dien om die onbekeerlikheid van ’n hart te bedek? Nasionalisme kan ’n bron van krag wees. Dit kan egter, wanneer dit nie geheilig word nie, die donker kelder word waarin die heidendom hom terugtrek. Dit is wat in die Weste gebeur het. Daarom moet mens die Christendom nie altyd aanspreeklik hou vir antisemitistiese verskynsels nie. Vandag minder as ooit.
As antisemitisme ’n produk was van die Christendom, sou Europa vandag meer Christelik moes wees as ooit. Die golwe van Jodehaat het selfs kerkhowe in Israel nie gespaar nie, waar grafte ook onlangs geskend is. Europa is egter allermins Christelik – minder as ooit. Europa is sonder God, sonder gebod, sonder hoop. Europa kan maar net sowel hom regmaak en versier vir die Antichris. ’n Teken daarvan is dié gebeurtenisse, wat baie laat asem ophou.
Christelike Verontwaardiging←⤒🔗
Sou ek nie dié haat wat U haat nie? – dit is die woorde van die psalm wat spreek oor die intimiteit van die menslike lewe wat voor Gods oog gebore word. Respek vir die lewe as lewe self, as gawe van God, het verdwyn. Eerbied vir God het verdwyn.
En die antichristendom laat sy gelaat sien, wanneer dit in die nag wegskuil, waarin dit die grafte van die dooies verniel. Dit is die haat teen die lewendes, dit is die onmag ten opsigte van die lewe self, dit is die afkeer van Hom, wat Homself aan Israel geopenbaar het as die Lewende, en wat Hom in Christus laat ken het as die Lewe self.
Die antisemitisme keer hom teen God self as die Lewensbron. En daarom is dit ’n teken van goddeloosheid, wat nooit genoeg bestry kan word nie, gehaat en verdelg waar dit ook al openbaar. Sou ek nie dié haat wat vir U haat nie? Ek haat hulle met ’n volkome haat; vyande is hulle vir my! (Ps. 139). Dié woorde moet bly staan. Vir die antisemiete. Maar dan ook die woorde wat daarop volg:
Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!