1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Vernederde Staat en die Verhoogde Staat van Christus

Goed Gereformeerde teologie sluit gewoonlik ʼn bespreking van die twee state van die Middelaar, Jesus Christus, in. Die Westminster Kort Kategismus, byvoorbeeld, sê: “As ons Verlosser beklee Christus die ampte van Profeet, Priester en van Koning in beide sy vernederde en verhoogde staat”.1 Wat is hierdie staat van vernedering en staat van verhoging?

Die woord staat beteken regsstatus — dat iemand in die oë van die gereg skuldig of onskuldig is. Hier staan dit in verband met die werk van Christus. Tydens die eerste deel van sy werk, in sy staat van vernedering, was sy regsstatus voor God dié van ʼn skuldige sondaar. Tydens die tweede deel, in sy staat van verhoging, is sy regsstatus dié van iemand wat voor God geregverdig is.

In die staat van vernedering — van sy geboorte tot sy dood — is Jesus voor God skuldig geag. In die staat van verhoging, wat sy opstanding, sy hemelvaart, sy heerlikheid aan die regterhand van God en sy wederkoms met die gerig, insluit, word Hy gereken as geregverdig, of onskuldig.

Christus het self nooit enige onreg gepleeg nie en dit was nooit nodig dat Hy persoonlik geregverdig moes word nie, maar as die Draer van die sonde, op wie die Here al óns ongeregtighede gelê het (Jes. 53:6), is Hy gereken en behandel soos ʼn skuldige sondaar. Daarom moes Hy om ons ontwil die volle straf vir die sonde ly, waarna Hy, ook om ons ontwil, behandel is as iemand wat geregverdig en sonder skuld is.

Jesaja 53 wys hierop wanneer dit sê dat Hy: “saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra . . . het” (vs. 12). Christus self sê in Psalm 69:6: “O God, U weet van my dwaasheid, en my skuldige dade is vir U nie verborge nie” — nie as iemand wat persoonlik enige sonde gehad het nie, maar as die een wat ons oortredinge gedra het.

Omdat Christus “saam met die oortreders getel was” was Hy ook “deur God geslaan en verdruk” (Jes. 53:4. Dit het die Here, as die Regter, behaag “om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak” (vs. 10). In sy lyding, sy verhoor en in sy dood aan die kruis is Hy deur sy eie Vader behandel asof Hy self die sondaar was wie se plek Hy geneem het, sodat Hy eindelik uitgeroep het: “My God, My God, waarom het U My verlaat?”

As die Draer van die sonde moes Christus geregverdig word, nie om sy eie ontwil nie, maar ter wille van ons, wie se sonde Hy gedra het. Die Woord praat hiervan in Jesaja 53:11 waar Hy die Regverdige Kneg van die Here genoem word. Regverdigheid is dieselfde as geregtigheid. Hy het vir ons geregtigheid geword (1 Kor. 1:30). 

Dit is die hart van die evangelie en een van die wonderlikste waarhede van die Skrif: dat die Seun van God, om ons ontwil, gewillig was om saam met die oortreder getel te word (Jes. 53:12), en dat sy eie Vader Hom dienooreenkomstig behandel het sodat ons verlos kon word. Waarlik ʼn wonderbare Verlosser! Hoe wonderlik is die liefde wat Hom gestuur het!

Endnotes🔗

  1. ^ Die Shorter Catechism of the Westminster Confession of Faith, Antwoord 23.